Gesinsprobleme—’n teken van die tye
GESINSPROBLEME—baie mense beskou dit as ’n teken dat die tradisionele reëls vir die huwelik en ouerskap uitgedien is. Ander beskou dit as die gevolg van politieke, ekonomiese en sosiale veranderinge. Ander weer sien dit as net nog ’n gevolg van moderne tegnologie. Die probleme waarmee gesinne vandag worstel, dui in werklikheid op iets van veel groter belang. Let op die Bybel se woorde in 2 Timotheüs 3:1-4:
“Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.”
Dring hierdie woorde nie deur tot die kern van vandag se probleme nie? Dit is duidelik dat die probleme in die hedendaagse gesin ’n direkte gevolg is van die toestande wat volgens profesieë in die laaste dae van hierdie wêreld sou plaasvind. En daar is oortuigende bewys dat hierdie tydperk van benoudheid in die jaar 1914 begin het.a Sedertdien is die invloed van die bomenslike geesskepsel Satan die Duiwel veral dodelik.—Mattheüs 4:8-10; 1 Johannes 5:19.
Satan is sedert 1914, met “groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het”, tot die omgewing van die aarde beperk (Openbaring 12:7-12). Aangesien Satan ’n geswore vyand is van die God “van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang”, is dit hoegenaamd verbasend dat die aarde ’n gevaarlike plek vir gesinne geword het? (Efesiërs 3:15). Satan is vasbeslote om die ganse mensdom van God te vervreem. Kan hy dit op ’n beter manier doen as om gesinne te teister met probleme?
Dit sal meer as die slim teorieë van aanmatigende kenners verg om gesinne teen so ’n bomenslike aanval te beskerm. Nogtans sê die Bybel aangaande Satan: “Ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11). Dit bied ’n mate van beskerming as ons kennis dra van spesifieke maniere waarop hy sy aanval loods.
Geld en werk
Ekonomiese druk is een van Satan se kragtigste aanvalswapens. Hierdie is “swaar tye” of, soos die Revised Standard Version 2 Timotheüs 3:1 weergee, “spanningsvolle tye”. In ontwikkelende lande veroorsaak probleme soos werkloosheid, lae lone en ’n tekort aan die basiese benodigdhede dat gesinne baie ontberinge ly. Maar selfs in die betreklik welvarende Verenigde State eis ekonomiese druk sy tol. ’n Amerikaanse opname het aan die lig gebring dat geld een van die vernaamste oorsake van gesinskonflik is. Die boek Secrets of Strong Families verduidelik dat die “tyd, aandag [en] energie” wat daaraan bestee word om die eise van sekulêre werk die hoof te bied, ook ’n “subtiele vyand” kan wees wat die huweliksverbintenis verswak.
Omstandighede het ’n rekordgetal vroue gedwing om die arbeidsmark te betree. Die skrywer Vance Packard sê: “In Amerika vandag het die ma’s van ten minste ’n kwart van die babas en kleuters onder drie jaar die een of ander sekulêre werk.” Om na die nimmereindigende behoeftes van klein kindertjies sowel as na ’n werk om te sien, kan ’n moordende, uitputtende stryd wees—met ’n negatiewe uitwerking op die ouers sowel as die kinders. Packard voeg by dat “etlike miljoene kinders vandag goeie sorg in hulle vroeë jare ontsê word” as gevolg van ’n tekort aan voldoende kindersorg in die Verenigde State.—Our Endangered Children.
Die werkplek self ondermyn dikwels die harmonie van die gesin. Baie werknemers raak betrokke by ongeoorloofde verhoudings met werkmaats. Ander weer raak vasgevang in die sinlose strewe na sukses en bevorder hulle loopbaan ten koste van hulle gesinslewe. (Vergelyk Prediker 4:4.) Een man se aandag is so deur sy werk as ’n verkoopsverteenwoordiger in beslag geneem dat sy vrou haarself as ’n “de facto enkelouer” beskryf het.
Verswakte huweliksbande
Die huweliksinstelling self het ook onder die aanslag deurgeloop. Die boek The Intimate Environment sê: “In die verlede is verwag dat ’n egpaar getroud sou bly tensy een van die huweliksmaats ’n growwe sonde teen die huwelik pleeg—egbreuk, wreedheid of uiterste verwaarlosing. Deesdae is die doel van die huwelik vir die meeste mense persoonlike vervulling.” Ja, die huwelik word gebruik as ’n teenmiddel vir ongelukkigheid, verveeldheid of eensaamheid—nie as ’n lewenslange verbintenis met ’n ander persoon nie. Die klem word vandag gelê op wat jy uit die huwelik kan kry, nie op wat jy daarin sit nie. (Vergelyk Handelinge 20:35.) Hierdie “groot verandering in die waardes wat die huwelik omring” het huweliksbande grootliks verswak. Wanneer persoonlike vervulling hulle bly ontwyk, neem egpare dikwels hulle toevlug tot ’n egskeiding as ’n vinnige oplossing.
Mense in hierdie “laaste dae” word profeties in die Bybel beskryf as “mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timotheüs 3:4, 5). Baie kenners meen dat die afname in godsdiens ’n rol gespeel het in die ondermyning van die huwelik. In haar boek The Case Against Divorce het dr. Diane Medved geskryf: “Volgens die meeste godsdienste het God gesê dat die huwelik permanent moet wees. Wanneer jy nie seker is oor God se bestaan nie of nie in Hom glo nie, doen jy wat jy wil.” Met die gevolg dat egpare nie na ware oplossings soek wanneer hulle huweliksprobleme het nie. “Hulle beëindig die huwelik sommer daar en dan.”
Aanslag op jongmense
Kinders wankel onder die druk van vandag. Skokkende getalle kinders word wreed deur hulle eie ouers geslaan en mondelings of seksueel mishandel. Miljoene ander word deur egskeiding van die liefdevolle invloed van twee ouers beroof, en die pyn wanneer ouers skei, word gewoonlik lewenslank gevoel.
Jongmense word met kragtige invloede bestook. Teen die tyd dat ’n gemiddelde Amerikaanse tiener 14 jaar oud is, sal hy al 18 000 moorde en tallose ander vorme van geweld, ongeoorloofde geslagsomgang, sadisme en misdaad gesien het bloot deur televisie te kyk. Musiek oefen ook ’n groot invloed op jongmense uit, en baie liedjies se inhoud is verskriklik suggestief, seksueel eksplisiet of selfs satanies. Skole stel jongmense bloot aan teorieë soos evolusie wat geloof in God en die Bybel ondermyn. Portuurdwang hits baie aan om by voorhuwelikse seks en alkohol- of dwelmmisbruik betrokke te raak.
Die wortel van gesinsprobleme
Die aanslag teen gesinne is gevolglik omvangryk, en dit kan verwoestend wees. Wat kan gesinne help om staande te bly? Gesinsvoorligter John Bradshaw stel voor: “Ons reëls vir ouerskap is die laaste 150 jaar nie ernstig bygewerk nie. . . . Ek is oortuig daarvan dat die ou reëls nie meer werk nie.” Maar meer mensgemaakte reëls is nie die oplossing nie. Jehovah God is die Insteller van die gesin. Hy weet beter as enigiemand anders watter belangrike rol die gesinslewe in ons persoonlike geluk speel en wat dit verg om ’n gesin gelukkig en sterk te maak. Behoort dit ons te verbaas dat sy Woord, die Bybel, die oplossing vir gesinsprobleme voorsien?
Daardie ou boek verduidelik wat met die gesinslewe verkeerd geloop het. Die eerste mensepaar, Adam en Eva, is in ’n pragtige tuin geplaas en ’n lonende uitdaging gegee om die aarde in ’n wêreldwye paradys te omskep. God het bepaal dat Adam die hoof van die gesin moes wees. Eva moes met sy hoofskap saamwerk as sy “helper” of “komplement”. Maar Eva het teen hierdie reëling in opstand gekom. Sy het haar haar man se hoofskap toegeëien, en sy was ongehoorsaam aan die enigste verbod wat God daargestel het. Daarna het Adam afstand gedoen van sy hoofskap en hom by haar in hierdie opstand aangesluit.—Genesis 1:26–3:6.
Die vernietigende gevolge van hierdie afwyking van God se reëling was onmiddellik duidelik. Omdat hulle nie meer rein en onskuldig was nie, het Adam en Eva met skaamte en ’n skuldgevoel gereageer. Adam, wat sy vrou vroeër in vurige, poëtiese taal beskryf het, het nou kil na haar verwys as ‘die vrou wat u my gegee het’. Daardie aanmerking was maar net die begin van huweliksongeluk. Adam se vergeefse pogings om sy hoofskap terug te kry sou daartoe lei dat hy ‘oor haar sou heers’. Op haar beurt sou Eva se ‘begeerte’ na haar man wees, waarskynlik op ’n oordrewe of ongebalanseerde manier.—Genesis 2:23; 3:7-16.
Dit verbaas ons dus nie dat die onenigheid in Adam en Eva se huwelik ’n skadelike uitwerking op hulle nageslag gehad het nie. Hulle oudste seun Kain het ’n koelbloedige moordenaar geword (Genesis 4:8). Lameg, ’n afstammeling van Kain, het tot die agteruitgang van die gesinslewe bygedra deur die eerste poligamis te word (Genesis 4:19). Adam en Eva het dus nie net ’n erfenis van sonde en die dood agtergelaat nie, maar ’n siek gesinspatroon wat sedertdien die lot van die mensdom is. Gedurende hierdie laaste dae het gesinsverdeeldheid ’n hoogtepunt bereik.
Gesinne wat gedy
Maar nie alle gesinne knak onder vandag se druk nie. Een man bly byvoorbeeld saam met sy vrou en twee dogters in ’n klein gemeenskap in die Verenigde State. Hoewel daar by baie van hulle bure ’n generasiekloof tussen ouers en hulle kinders is, is dit nie die geval met hom en sy vrou nie, en hulle is ook nie bekommerd dat hulle dogters dalk met dwelms of seks eksperimenteer nie. Op Maandagaande, wanneer ander jongmense vasgenael sit voor die TV, sit hulle hele gesin om die eetkamertafel vir ’n Bybelbespreking. Hy verduidelik: “Maandagaand is ons spesiale aand om bymekaar te wees en te gesels. Ons dogters het die vrymoedigheid om oor hulle probleme met ons te praat.”
Aan die ander kant is daar ’n enkelouer in die stad New York wat ook ’n buitengewoon hegte gesinslewe met haar twee dogters geniet. Wat is haar geheim? “Ons skakel nie die TV voor die naweek aan nie”, verduidelik sy. “Ons het ’n daaglikse bespreking van ’n Bybelteks. Ons sit ook een aand in ’n week opsy vir ’n gesinsbespreking van die Bybel.”
Albei gesinne is Getuies van Jehovah. Hulle pas die raad vir gesinne toe wat in die Bybel uiteengesit word—en dit werk. Tog is hulle nie uitsonderlik nie. Daar is honderdduisende gesinne wat net soos hulle goeie resultate behaal deur die reëls vir die gesinslewe toe te pas wat in daardie boek gevind word.b Wat presies is daardie reëls? Hoe kan jy en jou gesin daarby baat vind? In antwoord hierop nooi ons jou om die artikels te lees wat op die volgende bladsy begin.
[Voetnote]
a Vir verdere bewys dat die laaste dae in 1914 begin het, sien hoofstuk 18 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Deur middel van ’n gratis tuisbybelstudie verleen Jehovah se Getuies persoonlike hulp om Bybelbeginsels in die gesin toe te pas. Jy kan met hulle in aanraking kom deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.
[Prent op bladsy 4]
In ontwikkelende lande veroorsaak slegte ekonomiese toestande baie probleme vir gesinne
[Erkenning]
U.S. Navy photo
[Prent op bladsy 7]
Deur Bybelbeginsels toe te pas, kan baie gesinne die druk van vandag weerstaan