Die Bybelse beskouing
Selfmoordslagoffers—Sal hulle opgewek word?
DIE tragiese nuus van ’n selfmoord sluit nie ’n hoofstuk in die lewe van familie en vriende af nie; dit begin ’n hoofstuk—’n hoofstuk van gemengde gevoelens van jammerte en woede, hartseer en skuldgevoelens. En dit laat die vraag ontstaan: Is daar enige hoop vir ons vriend of vriendin wat sy of haar eie lewe geneem het?a
Hoewel selfmoord nooit geregverdig, nooit reg, is nie, het die apostel Paulus wel ’n pragtige hoop selfs vir sommige onregverdiges gebied. Soos hy vir ’n Romeinse geregshof gesê het: “[Ek het] ’n hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.”—Handelinge 24:15.
Baie teoloë verwerp nietemin al lank enige gedagte dat die opstanding van die onregverdiges hoop kan bied vir diegene wat selfmoord pleeg. Waarom?
Teoloë weerspreek die opstandingshoop
William Tyndale het ’n deel van die probleem in die voorwoord van sy 16de-eeuse Bybel genoem: “Deur afgestorwe siele in die hemel, die hel, of die vaevuur te plaas, vernietig ’n mens die redenasie waarmee Christus en Paulus die opstanding bewys het.” Ja, geestelikes het eeue gelede ’n onbybelse idee bekendgestel: onsterflike siele wat die liggaam by afsterwe verlaat en reguit hemel, vaevuur, Limbus of hel toe gaan. Daardie idee het met die Bybel se duidelike leer van ’n toekomstige opstanding gebots. Soos Baptistepredikant Charles Andrews gevra het: “Watter nodigheid is daar vir enigiets meer indien die siel alreeds salig in die hemel is (of as dit alreeds met reg in die hel braai)?” Hy het bygevoeg: “Hierdie teenstrydigheid is iets wat Christene deur die eeue heen en tot vandag toe kwel.”
Een gevolg van dié dwaalteologie was dat “die kerk selfmoord sedert Augustinus se tyd [354 - 430 G.J.] as ’n sonde veroordeel”, sê Arthur Droge in die Bible Review van Desember 1989, “’n sonde waarvoor daar geen verlossing is nie, net soos afvalligheid en owerspel”.
Die streng uitspraak “waarvoor daar geen verlossing is nie”, of sonder hoop oorgelewer aan die helse vuur, het die argument dat mense by afsterwe geoordeel word tot sy wankelrige uiterste gevoer. Die National Catholic Reporter erken: “Twee van die grootse kerkleraars het teen selfmoord uitgevaar—Augustinus het dit as ‘verfoeilike en verdoemenswaardige sonde’ gebrandmerk en Thomas van Aquino het gesê dat dit ’n doodsonde [onvergeeflike sonde] teen God en die gemeenskap is—maar nie alle geestelikes was dit daarmee eens nie.”
Gelukkig kan ons sulke “innerlike teenstrydigheid” vermy deur twee verenigbare Bybelwaarhede te aanvaar. Ten eerste, “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Ten tweede, die ware hoop vir dooie siele (mense) is dat hulle weer sal lewe deur “’n opstanding . . . van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Wat kan ons dan redelikerwyse verwag vir mense wat selfmoord pleeg?
’n Onregverdige wat opgewek sal word
Jesus het vir ’n misdadiger wat ter dood veroordeel was, gesê: “Jy [sal] saam met My in die Paradys wees.” Die man was onregverdig—’n wetsoortreder pleks van ’n radelose selfmoordslagoffer—wat reguit erken het dat hy skuldig was (Lukas 23:39-43). Hy het nie die hoop gehad om hemel toe te gaan om saam met Jesus te regeer nie. Die Paradys waarin hierdie dief dus kon hoop om weer te lewe, sal die pragtige aarde onder die heerskappy van Jehovah God se Koninkryk wees.—Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 21:1-4.
Waarom sal God hierdie misdadiger opwek? Sodat Hy sy vorige sondes genadeloos teen hom kan hou? Allermins, want Romeine 6:7, 23 sê: “Hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde”, en “die loon van die sonde is die dood”. Hoewel sy vorige sondes hom kwytgeskeld is, sal hy steeds die losprys nodig hê om hom tot volmaaktheid te verhef.
Teoloog Albert Barnes was derhalwe verkeerd en misleidend toe hy beweer het: “Diegene wat gesondig het, sal opgewek word om veroordeel, of verdoem te word. Dit sal die doel wees waarmee hulle opgewek word; dit sal die enigste oogmerk wees.” Hoe benede die waardigheid tog van ’n God van geregtigheid en liefde! ’n Opstanding tot die lewe op ’n paradysaarde sal hierdie gewese misdadiger (en ander onregverdiges) eerder ’n gulde geleentheid bied om geoordeel te word volgens wat hulle na hulle opstanding doen.—1 Johannes 4:8-10.
God se barmhartigheid
Die verbysterde vriende van ’n selfmoordslagoffer kan dus getroos word deur die wete dat “Jehovah barmhartigheid getoon [het] teenoor die wat hom vrees. Want hy weet baie goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:10-14, NW). Net God kan ten volle verstaan watter rol geestesiekte, uiterste stres, selfs genetiese gebreke, in ’n “selfmoordkrisis” speel, wat, soos die National Observer gesê het “nie ’n lewenslange karaktertrek [is] nie [maar] dikwels ’n geval van slegs ’n paar minute of ure”.—Sien Prediker 7:7.
Iemand wat sy eie lewe neem, ontsê homself weliswaar die geleentheid om berou te hê oor sy selfmoord. Maar wie kan sê dat die een wat tot selfmoord gedryf is nie tot inkeer sou gekom het indien sy noodlottige poging gefaal het nie? Trouens, sommige berugte moordenaars het verander en God se vergifnis gedurende hulle leeftyd verkry.—2 Konings 21:16; 2 Kronieke 33:12, 13.
Omdat Jehovah dus “’n losprys vir baie” betaal het, het hy die reg om barmhartigheid te betoon, selfs aan sommige selfmoordenaars, deur hulle op te wek en hulle die kosbare geleentheid te gee om ‘tot inkeer te kom en hulle tot God te bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas’.—Mattheüs 20:28; Handelinge 26:20.
Die verantwoordelike, skriftuurlike beskouing van lewe
Lewe is ’n gawe van God, nie iets wat misbruik of deur ’n mens self beëindig kan word nie (Jakobus 1:17). Die Skrif moedig ons dus aan om onsself nie as onsterflike siele te beskou nie, maar as kosbare skeppinge van die God wat ons liefhet, wat bly is dat ons lewe en wat met vreugde uitsien na die tyd van die opstanding.—Job 14:14, 15.
Liefde versterk ons besef dat selfmoord—hoewel ’n mens jou eie laste ontduik—geliefdes wat agterbly net met meer probleme oorlaai. Sover dit die persoon aangaan wat oorhaastig sy eie lewe geneem het, kan ons as mense nie oordeel of hy ’n opstanding sal kry of nie. Hoe laakbaar was sy gedrag? Net God “deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Maar ons kan vertrou dat ‘die Regter van die ganse aarde sal doen wat liefdevol, regverdig en reg is’!—Genesis 18:25.
[Voetnoot]
a Hierdie artikel het diegene wat selfmoordslagoffers oorleef in gedagte. Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1983, bladsye 3-11 en Ontwaak! van 8 Desember 1981, bladsye 5-12 vir ’n breedvoeriger bespreking van die onderwerp van selfmoord.
[Foto-erkenning op bladsy 22]
Kollektie Rijksmuseum Kröller-Müller, Otterlo