Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 9 bl. 80-89
  • Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT IS DIE “GEES” IN MENSE?
  • “TOT STOF SAL JY TERUGKEER”
  • HY “HET GAAN RUS”
  • “ALMAL WAT IN DIE GEDENKGRAFTE IS”
  • ’N OPSTANDING—WAAR?
  • ’n Gewisse hoop
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Die enigste oplossing!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Lewe ná die dood—Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 9 bl. 80-89

Hoofstuk 9

Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?

1. Hoe voel mense wanneer ’n dierbare sterf?

“’N MENS ly wanneer ’n dierbare sterf, want met die dood staan jy iemand af aan iets onbekends wat die verstand te bowe gaan.” Dit is wat ’n seun gesê het toe sy vader, en kort daarna sy moeder, gesterf het. Sy pyn en gevoel van groot verlies het hom laat voel asof hy “emosioneel verdrink”. Miskien het jy al op soortgelyke wyse gely. Jy het dalk gewonder waar jou dierbares is en of jy hulle ooit weer sal sien.

2. Watter verwarrende vrae ontstaan oor die dood?

2 Vir party bedroefde ouers is daar gesê: “God pluk vir hom die mooiste blomme om hemel toe te neem.” Is dit werklik so? Het ons afgestorwe dierbares na ’n geesteryk gegaan? Is dit wat party nirwana noem en wat beskryf word as ’n geluksalige toestand waar jy vry van pyn en begeerte is? Het ons dierbares deur ’n poort na onsterflike lewe in ’n paradys gegaan? Of is die dood, soos ander beweer, die begin van nimmereindigende foltering vir diegene wat teen God oortree het? Kan die dooies ons lewe beïnvloed? As ons juiste antwoorde op sulke vrae wil verkry, moet ons God se Woord, die Bybel, raadpleeg.

WAT IS DIE “GEES” IN MENSE?

3. Watter mening het Sokrates en Plato oor die dooies gehuldig, en hoe raak dit mense vandag?

3 Die eertydse Griekse filosowe Sokrates en Plato het beweer dat daar iets inherent onsterfliks in die man en die vrou moet wees—’n siel wat by die dood voortlewe en nooit werklik sterf nie. Miljoene dwarsoor die wêreld glo dit vandag. Hierdie opvatting veroorsaak dikwels net soveel vrees vir die dooies as besorgdheid oor hulle welsyn. Die Bybel leer ons iets heel anders oor die dooies.

4. (a) Wat sê Genesis vir ons oor die siel? (b) Wat het God in Adam geplaas om hom te laat lewe?

4 Wanneer ons die toestand van die dooies ondersoek, moet ons onthou dat ons oorspronklike vader, Adam, nie ’n siel gehad het nie. Hy was ’n siel. In ’n ontsagwekkende skeppingsdaad het God die mens—die siel—uit die grondstowwe van die aarde gevorm en toe “die asem van die lewe” in hom geblaas. Genesis 2:7 sê vir ons: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Adam se lewe is deur asemhaling onderhou. Maar toe God die asem van die lewe in Adam geplaas het, het dit meer behels as net die inblaas van lug in ’n man se longe. Die Bybel praat van “die lewensgees”, of “die lewenskrag” (NW), wat in aardse lewende skepsele werksaam is.—Genesis 7:22.

5, 6. (a) Wat is “die lewenskrag”? (b) Wat gebeur wanneer die “gees” wat in Psalm 146:4 gemeld word, ophou om die liggaam aan die lewe te hou?

5 Wat is “die lewenskrag”? Dit is die lewensvonk wat God in die lewelose liggaam van Adam gesit het. Hierdie krag is toe deur die asemhalingsproses onderhou. Maar wat is die “gees” wat in Psalm 146:4 gemeld word? Daardie vers sê van iemand wat sterf: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Wanneer die Bybelskrywers die woord “gees” op hierdie manier gebruik het, het hulle nie ’n onstoflike siel in gedagte gehad wat voortlewe nadat die liggaam sterf nie.

6 Die “gees” wat die mens by die dood verlaat, is die lewenskrag wat sy oorsprong by ons Skepper het (Psalm 36:10; Handelinge 17:28). Hierdie lewenskrag het nie enige van die eienskappe van die skepsel wat daardeur aan die lewe gehou word nie, net soos elektrisiteit nie die eienskappe aanneem van die toerusting wat dit van krag voorsien nie. Wanneer iemand sterf, hou die gees (lewenskrag) op om die liggaamselle aan die lewe te hou, net soos ’n lig uitgaan wanneer die elektrisiteit afgeskakel word. Wanneer die lewenskrag ophou om die menseliggaam te onderhou, sterf die mens—die siel.—Psalm 104:29, NW; Prediker 12:1, 7.

“TOT STOF SAL JY TERUGKEER”

7. Wat sou met Adam gebeur as hy aan God ongehoorsaam sou wees?

7 Jehovah het duidelik gesê wat die dood vir die sondaar Adam sou beteken. God het gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Waarheen sou Adam terugkeer? Na die grond, na die stof waaruit hy geskep is. By die dood sou Adam eenvoudig ophou bestaan!

8. As siele, in watter opsig is daar nie ’n voorkeur van mense bo diere nie?

8 In hierdie opsig verskil die mens se dood nie van dié van die diere nie. Ook hulle is siele, en dieselfde gees, of lewenskrag, hou hulle aan die gang (Genesis 1:24, NW; Psalm 74:19). In Prediker 3:19, 20 sê die wyse man Salomo vir ons: “Soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem [gees, NW], en ’n voorkeur van die mens bo die veediere is daar [in die dood] nie; . . . alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.” Daar is ’n voorkeur van die mens bo die diere in die opsig dat hy na God se beeld geskep is en die eienskappe van Jehovah weerspieël (Genesis 1:26, 27). Maar by die dood keer mense sowel as diere na die stof terug.

9. Wat is die toestand van die dooies, en waarheen gaan hulle?

9 Salomo het verder verduidelik wat die dood beteken deur te sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.” Ja, die dooies weet absoluut niks nie. Met die oog hierop het Salomo gemaan: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [Sjeool, NW] waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5, 10). Waarheen gaan die dooies? Na Sjeool (Hebreeus, sjeʼoolʹ), die gemeenskaplike graf van die mensdom. Ons afgestorwe dierbares is nie bewus van enigiets nie. Hulle ly nie, en hulle kan geen invloed op ons uitoefen nie.

10. Waarom kan ons sê dat die dood nie finaal hoef te wees nie?

10 Moet ons almal en ons dierbares net ’n paar jaar lewe en dan vir ewig ophou bestaan? Nie volgens die Bybel nie. Toe Adam in opstand gekom het, het Jehovah God onmiddellik reëlings ingestel om die verskriklike gevolge van die mens se sonde ongedaan te maak. Die dood was nie deel van God se voorneme vir die mensdom nie (Esegiël 33:11; 2 Petrus 3:9). Die dood hoef gevolglik nie vir ons en ons dierbares finaal te wees nie.

HY “HET GAAN RUS”

11. Hoe het Jesus die toestand van sy afgestorwe vriend Lasarus beskryf?

11 Dit is Jehovah se voorneme om ons en ons afgestorwe dierbares van die Adamitiese dood te red. Daarom sê God se Woord dat die dooies slaap. Toe hy byvoorbeeld gehoor het dat sy vriend Lasarus gesterf het, het Jesus Christus vir Sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” Aangesien die dissipels nie dadelik die betekenis van hierdie woorde gesnap het nie, het Jesus reguit gesê: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11, 14). Jesus het toe na die dorp Betanië gegaan, waar Lasarus se susters Marta en Maria oor hulle broer se dood getreur het. Toe Jesus vir Marta sê: “Jou broer sal opstaan”, het sy geloof uitgespreek in God se voorneme om die uitwerking van die dood op die mensdom ongedaan te maak. Sy het gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.”—Johannes 11:23, 24.

12. Watter hoop het die bedroefde Marta aangaande die dooies gehad?

12 Marta het niks gesê oor ’n onsterflike siel wat ná die dood elders voortlewe nie. Sy het nie geglo dat Lasarus reeds na die een of ander geesteryk gegaan het om sy bestaan voort te sit nie. Marta het geloof in die wonderlike hoop op ’n opstanding uit die dode gehad. Sy het verstaan, nie dat ’n onsterflike siel die liggaam van Lasarus verlaat het nie, maar dat haar afgestorwe broer ophou bestaan het. Die opstanding van haar broer sou die oplossing daarvoor wees.

13. Watter godgegewe mag het Jesus, en hoe het hy hierdie mag getoon?

13 Jesus Christus is die een wat deur Jehovah God die mag gegee is om die mensdom los te koop (Hosea 13:14). Daarom het Jesus op Marta se verklaring geantwoord: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:25). Jesus het sy godgegewe mag in hierdie opsig getoon toe hy na die graf van Lasarus, wat al vier dae dood was, gegaan het en hom opgewek het (Johannes 11:38-44). Stel jou net die vreugde voor van dié wat hierdie of ander opstandings gesien het wat deur Jesus Christus verrig is!—Markus 5:35-42; Lukas 7:12-16.

14. Waarom is die opstanding en die gedagte van ’n onsterflike siel onverenigbaar?

14 Dink vir ’n oomblik hieroor na: As ’n onsterflike siel die dood oorleef, sou niemand opgewek, of tot die lewe herstel, hoef te word nie. Trouens, dit sou glad nie ’n goedhartige daad wees om iemand soos Lasarus weer tot onvolmaakte lewe op die aarde op te wek as hy reeds ’n wonderlike hemelse beloning verkry het nie. Die Bybel gebruik in werklikheid nooit die uitdrukking “onsterflike siel” nie. Die Skrif sê eerder dat die sondige mensesiel wel sterf (Esegiël 18:4, 20). Die Bybel wys dus op die voorsiening van ’n opstanding as die ware oplossing vir die dood.

“ALMAL WAT IN DIE GEDENKGRAFTE IS”

15. (a) Wat beteken die woord “opstanding”? (b) Waarom sal dit nie vir Jehovah God moeilik wees om mense op te wek nie?

15 Die woord wat Jesus se dissipels vir “opstanding” gebruik het, beteken letterlik “om op te rig” of “om op te staan”. Dit is om uit die lewelose toestand van die dood opgerig te word—om as ’t ware op te staan uit die gemeenskaplike graf van die mensdom. Jehovah God kan iemand maklik opwek. Waarom? Omdat Jehovah die Bron van die lewe is. Mense kan vandag die stemme en beelde van mans en vroue op videobande opneem en hierdie opnames speel nadat die mense gesterf het. Dan kan ons almagtige Skepper tog sekerlik die besonderhede van enigiemand onthou en dieselfde persoon opwek en hom of haar ’n nuwe liggaam gee.

16. (a) Watter belofte het Jesus omtrent almal in die gedenkgrafte gemaak? (b) Wat sal bepaal watter opstanding ’n persoon sal kry?

16 Jesus Christus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het tot ’n opstanding van oordeel” (Johannes 5:28, 29). Almal wat in Jehovah se geheue is, sal opgewek en in sy weë onderrig word. Vir dié wat in ooreenstemming met die kennis van God handel, sal dit ’n opstanding van die lewe wees. Maar dit sal ’n opstanding van veroordeling wees vir dié wat God se leringe en heerskappy verwerp.

17. Wie sal opgewek word?

17 Diegene wat as Jehovah se knegte ’n regverdige weg gevolg het, sal natuurlik opgewek word. Trouens, die opstandingshoop het talle versterk toe die dood hulle in die gesig gestaar het, selfs in gevalle van hewige vervolging. Hulle het geweet dat God hulle kon opwek (Matteus 10:28). Maar miljoene mense het gesterf sonder om te toon of hulle God se regverdige standaarde sou naleef. Ook hulle sal opgewek word. Die apostel Paulus het met vertroue in Jehovah se voorneme in hierdie verband gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees.”—Handelinge 24:15.

18. (a) Watter visioen van die opstanding het die apostel Johannes ontvang? (b) Wat word in “die poel van vuur” vernietig, en wat simboliseer hierdie “poel”?

18 Die apostel Johannes het ’n opwindende visioen gesien van verresenes wat voor God se troon staan. Johannes het toe geskryf: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en hulle is individueel volgens hulle dade geoordeel. En die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur” (Openbaring 20:12-14). Dink net daaraan! Al die dooies wat in God se geheue is, het die vooruitsig om uit Hades (Grieks, haiʹdes), of Sjeool, die mensdom se gemeenskaplike graf, verlos te word (Psalm 16:10, NW; Handelinge 2:31). Hulle sal ’n geleentheid hê om deur hulle dade te toon of hulle God sal dien. Dan sal “die dood en Hades” geslinger word in wat “die poel van vuur” genoem word, wat, net soos die uitdrukking “Gehenna”, algehele vernietiging simboliseer (Lukas 12:5). Die gemeenskaplike graf van die mensdom sal dan leeg wees en sal ophou bestaan wanneer die opstanding voltooi is. Hoe vertroostend is dit tog om in die Bybel te leer dat God niemand folter nie!—Jeremia 7:30, 31.

’N OPSTANDING—WAAR?

19. Waarom sal party mense tot lewe in die hemel opgewek word, en watter soort liggaam sal God hulle gee?

19 ’n Beperkte aantal mans en vroue sal tot lewe in die hemel opgewek word. As konings en priesters saam met Jesus sal hulle ’n aandeel daaraan hê om al die gevolge van die dood wat die mensdom van die eerste mens, Adam, geërf het ongedaan te maak (Romeine 5:12; Openbaring 5:9, 10). Hoeveel gaan God hemel toe neem om saam met Christus te regeer? Volgens die Bybel slegs 144 000 (Openbaring 7:4; 14:1). Jehovah sal elkeen van hierdie verresenes ’n geesliggaam gee sodat hulle in die hemel kan lewe.—1 Korintiërs 15:35, 38, 42-45; 1 Petrus 3:18.

20. Wat sal die gehoorsame mensdom, met inbegrip van die verresenes, ondervind?

20 Die oorgrote meerderheid van dié wat gesterf het, sal op ’n paradysaarde opgewek word (Psalm 37:11, 29; Matteus 6:10). ’n Deel van die rede waarom party tot lewe in die hemel opgewek word, is om God se voorneme met die aarde te vervul. Jesus Christus en die 144 000 in die hemel sal die gehoorsame mensdom geleidelik terugbring na die volmaaktheid wat ons oorspronklike ouers weggegooi het. Dit sal verresenes insluit, soos Jesus aangedui het toe hy vir die sterwende man wat langs hom aan ’n paal gehang het, gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:42, 43.

21. Wat sal volgens die profeet Jesaja en die apostel Johannes met die dood gebeur?

21 Die dood, wat vandag soveel tevergeefsheid tot gevolg het, sal op die Paradysaarde uit die weg geruim word (Romeine 8:19-21). Die profeet Jesaja het gesê dat Jehovah God ‘die dood vir ewig sal vernietig’ (Jesaja 25:8). Die apostel Johannes is ’n visioen gegee van die tyd wanneer die gehoorsame mensdom vry van pyn en die dood sal wees. Ja, “God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1-4.

22. Watter uitwerking het kennis omtrent die opstanding op jou?

22 Die Bybel se duidelike leringe ruim verwarring oor wat met die dooies gebeur uit die weg. Die Skrif sê duidelik dat die dood die “laaste vyand” is wat vernietig sal word (1 Korintiërs 15:26). Watter krag en vertroosting kan ons tog uit kennis omtrent die opstandingshoop put! En hoe bly kan ons tog wees dat ons afgestorwe dierbares wat in God se geheue is uit die slaap van die dood wakker sal word om al die goeie dinge te geniet wat hy in die vooruitsig stel vir dié wat hom liefhet! (Psalm 145:16). Sulke seëninge sal deur God se Koninkryk teweeggebring word. Maar wanneer sou dit begin heers? Kom ons kyk.

TOETS JOU KENNIS

Wat is die gees in mense?

Hoe sou jy die toestand van die dooies beskryf?

Wie sal opgewek word?

[Prent op bladsy 85]

Net soos Jesus Lasarus uit die graf geroep het, sal miljoene opgewek word

[Prent op bladsy 86]

Daar sal vreugde heers wanneer ‘God die dood vir ewig vernietig’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel