-
Hulle het dit vermaak genoemOntwaak! – 1997 | Mei 22
-
-
Hulle het dit vermaak genoem
DAAR was groot opgewondenheid in die amfiteater. Tienduisende het vir een van antieke Rome se opwindendste skouspelle bymekaargekom. Vlae, rose en kleurvolle muurtapyte het die arena vrolik versier. Fonteine het geparfumeerde water uitgespuit, wat die lug met aangename geure gevul het. Die rykes was uitgedos in hulle spoggerigste klere. Tussendeur die geklets van die skare was daar harde gelag, maar die ligsinnigheid van hierdie skare het die afgryslikheid weerspreek van wat binnekort sou gebeur.
Kort voor lank het die onheilspellende geskal van die tubæ twee gladiators die teken gegee om te kom veg. Die skare was histeries terwyl die vegters mekaar met genadelose barbaarsheid aangeval het. Die gekletter van hulle swaarde kon amper nie bo die toeskouers se oorverdowende gejuig gehoor word nie. Skielik, met ’n vinnige beweging, het die een vegter sy teenstander platgeslaan. Die lot van die neergeslane gladiator was nou in die hande van die toeskouers. As hulle met hulle sakdoeke gewaai het, sou hy lewe. Met ’n enkele gebaar met hulle duime het die toeskouers—vrouens en meisies inkluis—die doodslag beveel. Oomblikke later is die lewelose liggaam van die arenavloer afgesleep, die bloeddeurweekte grond met grawe omgeskoffel, vars sand gestrooi en het die skare hulle vir die res van die bloedbad gereedgemaak.
Vir baie wat in antieke Rome gewoon het, was dit vermaak. “Nie eens die strengste moraliste het enige beswaar gemaak teen hierdie genot wat mense uit bloedvergieting geput het nie”, sê die boek Rome: The First Thousand Years. En die gladiatorspele was net een vorm van verdorwe vermaak wat Rome aangebied het. Lewensgetroue seeslae is ook uitgevoer vir die vermaak van bloeddorstige toeskouers. Selfs openbare teregstellings is gehou, waartydens die veroordeelde misdadiger aan ’n paal vasgemaak en deur uitgehongerde wilde diere verskeur is.
Vir diegene wie se smaak minder bloeddorstig was, het Rome verskeie verhoogstukke aangebied. Tydens die mimieke—kort opvoerings oor die alledaagse lewe—“was egbreuk en buite-egtelike verhoudings die hooftemas”, het Ludwig Friedländer, in Roman Life and Manners Under the Early Empire, geskryf. “Die taal was vol vulgêre uitdrukkings en die humor was grof, en hulle het voortdurend gesigte getrek, vuil gebare gemaak en, bowenal, eienaardige danse op fluitmusiek uitgevoer.” Volgens The New Encyclopædia Britannica “bestaan daar bewyse dat daar in die tyd van die Romeinse Ryk in werklikheid egbreuk op die mimiekverhoog gepleeg is”. Friedländer het die mimiek tereg “die mees onbeskaamde van al die klugspele [genoem] wat onsedelikheid en onbetaamlikheid betref”, en hy het bygevoeg: “Die wellustigste tonele is die hardste toegejuig.”a
Wat van vandag? Het die mens se smaak verander wat vermaak betref? Beskou die getuienis wat in die volgende artikel bespreek word.
-
-
Wat het met vermaak gebeur?Ontwaak! – 1997 | Mei 22
-
-
Wat het met vermaak gebeur?
HOE kon die eertydse Romeine, wat oënskynlik die toppunt van hulle kultuur bereik het, die pyn van hulle medemens as vermaak beskou? “Die enigste verklaring is die drang na nuwe en kragtiger stimulante”, skryf Gerhard Uhlhorn in The Conflict of Christianity With Heathenism. “Omdat daar ’n oorvloed van elke denkbare soort vermaak was, het mense ’n opwinding gesoek . . . wat hulle nêrens anders meer gevind het nie.”
Vandag openbaar baie mense ’n soortgelyke “drang na nuwe en kragtiger stimulante”. Hulle kom dalk weliswaar nie byeen om werklike slagtings en onsedelikheid te sien nie. Maar hulle keuse van vermaak openbaar ’n soortgelyke beheptheid met geweld en seks. Beskou ’n paar voorbeelde.
Rolprente. In die laaste jare het rolprentvervaardigers “’n voorkeur vir verdorwenheid” getoon, beweer die rolprentresensent Michael Medved. “Die boodskap in die rolprentbedryf”, voeg hy by, “is blykbaar dat die uitbeelding van wreedheid en kranksinnigheid ernstiger oorweging en groter outomatiese respek verdien as enige pogings om edelheid of goedheid uit te beeld.”
Mededinging met die televisie het rolprentvervaardigers gedwing om feitlik enigiets te doen om mense na die bioskoop te lok. “Ons het rolprente nodig wat tande het, wat kras is, wat uitstaan bo alles wat mense op TV sien”, sê die voorsitter van ’n rolprentateljee. “Dis nie asof ons tot bloed en geweld en [vuil] taal verbind is nie, maar dit is wat jy vandag nodig het om ’n rolprent vry te stel.” Trouens, baie word nie eers meer deur die mees onverbloemde rolprentgeweld geskok nie. “Mense word immuun teen die effekte”, sê rolprentregisseur Alan J. Pakula. “Die dodetal het vervierdubbel, die ontploffingskrag neem toe met die megaton en hulle raak afgestomp. Hulle het ’n onversadigbaarheid vir growwe sensasie ontwikkel.”
Televisie. Openlike uitbeeldings van seks op TV is nou algemeen in baie wêrelddele, onder meer Brasilië, Europa en Japan. Die gemiddelde TV-kyker in Amerika word in een jaar aan ongeveer 14 000 sekstonele of verwysings na seks blootgestel. “Daar is geen aanduiding dat die toename in seksuele temas en eksplisietheid gaan afneem nie”, sê een navorsingspan. “Onderwerpe soos bloedskande, sadomasochisme en bestialiteit wat voorheen taboe was, het water op die spitstydmeul geword.”
Volgens die boek Watching America is daar ’n rede vir televisie se permissiewe malheid. Dit sê: “Seks verkoop. . . . Namate die netwerke en produksiemaatskappye uitgevind het dat hulle meer kykers vermaak as wat hulle ontstel, het hulle die verkoopspotensiaal van hulle produk geleidelik verhoog deur toe te laat dat meer en meer taboes op al hoe eksplisieter maniere geskend word.”
Videospeletjies. Die betreklik onskuldige era van Pac-Man en Donkey Kong het plek gemaak vir ’n nuwe era van afskuwelik sadistiese speletjies. Volgens professor Marsha Kinder is hierdie speletjies “erger as TV of ’n rolprent”. Hulle dra “die boodskap oor dat ’n mens slegs deur geweld beheer in ’n situasie kan kry”.
As gevolg van openbare besorgdheid plaas ’n vername vervaardiger in die Verenigde State nou ouderdomsbeperkings op hulle videospeletjies. ’n “MA-17”-ouderdomsbeperking—wat aandui dat die “volwasse” speletjie ongeskik is vir diegene onder 17—sluit dalk intense geweld, seksuele temas en vloektaal in. Maar sommige is bang dat ’n ouderdomsbeperking wat aandui dat ’n speletjie vir “volwassenes” is dit net aanlokliker sal maak. “As ek 15 was en ’n MA-17-etiket gesien het”, sê ’n jong videospeletjie-entoesias, “sou ek daardie speletjie kry, al kos dit ook wat.”
Musiek. ’n Tydskrif wat die inhoud van gewilde musiek noukeurig ondersoek, beweer dat daar teen die einde van 1995 slegs 10 van die 40 beste albums was wat nie vloektaal of verwysings na dwelms, geweld of seks gehad het nie. “Die musiek wat vir preadolessente beskikbaar is, is uiters skokkend, baie daarvan is niks anders as nihilisties nie”, berig die St. Louis Post-Dispatch. “Die [musiek] waarvan party adolessente hou, is vol woede en wanhoop en moedig gevoelens aan dat die wêreld en die luisteraar persoonlik verdoem is.”
Dit lyk of death metal, “grunge”-rock en “gangsta”-rap geweld verheerlik. En volgens ’n berig in die San Francisco Chronicle “voorspel baie van hierdie bedryf se ingeligtes dat die skokkendste groepe al hoe gewilder word”. Liedjies wat woede en die dood verheerlik, is nou gewild in Australië, Europa en Japan. Party groepe het weliswaar ’n positiewer boodskap probeer oordra. Maar, sê die Chronicle: “Die getuienis dui daarop dat daar nie juis ’n mark vir onskuld is nie.”
Rekenaars. Hulle is waardevolle instrumente met talle positiewe gebruike. Maar hulle is ook al deur sommige gebruik om onbetaamlike materiaal te versprei. Die tydskrif Maclean’s sê byvoorbeeld dat dit “prente en teks [insluit] oor net mooi alles, van vreemde fetisje tot prostitusie tot pedofilie—materiaal wat baie volwassenes sal skok, om nie eers te praat van hulle kinders nie”.
Leesstof. Talle gewilde boeke is vol seks en geweld. ’n Onlangse gier in die Verenigde State en Kanada word “skokfiksie” genoem—afskuwelike bangmaakstories wat gemik is op kinders, van wie sommige maar agt jaar oud is. Diana West het in die New York Teacher geskryf en beweer dat hierdie boeke “jong kindertjies ongevoelig maak en die ontwikkeling van die verstand belemmer selfs voordat dit begin ontwikkel het”.
Baie strokiesverhale wat in Hongkong, Japan en die Verenigde State gepubliseer word, bevat “kragtige en wrede oorlogstemas, kannibalisme, onthoofding, satanisme, verkragting en vloektaal”, berig ’n studie deur die Nasionale Vereniging teen Televisiegeweld (NCTV). “Die intensiteit van die geweld en vernederende seksuele materiaal in hierdie tydskrifte is skokkend”, sê dr. Thomas Radecki, navorsingsdirekteur van NCTV. “Dit toon hoe ongevoelig ons onsself toegelaat het om te word.”
Ons moet versigtig wees
Dit is duidelik dat vandag se wêreld gefassineer is met seks en geweld, en dit word in die vermaaklikheidsbedryf weerspieël. Die situasie kom ooreen met dié wat deur die Christenapostel Paulus beskryf is: “Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met gierigheid elke soort onreinheid te bedryf” (Efesiërs 4:19). Vandag soek baie mense tereg na iets beters. Wat van jou? Indien jy na iets beters soek, sal jy bly wees om te weet dat jy heilsame vermaak kan vind, soos die volgende artikel sal toon.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Televisie kan gevaarlik wees
TELEVISIE het in 1939, by die wêreldtentoonstelling in New York, sy openbare debuut in Amerika gemaak. Een joernalis wat teenwoordig was, het sy bedenkinge oor die toekoms van hierdie nuwe toestel uitgespreek. “Die probleem met televisie”, het hy geskryf, “is dat mense moet sit en die heeltyd stip na ’n skerm moet kyk; die gemiddelde Amerikaanse gesin het nie tyd daarvoor nie.”
Hoe verkeerd was hy tog nie! Trouens, daar is al gesê dat teen die tyd dat die gemiddelde Amerikaner skool verlaat hy 50 persent meer tyd voor die TV deurgebring het as voor ’n onderwyser. “Kinders wat baie televisie kyk, is aggressiewer, meer pessimisties, weeg meer, is minder verbeeldingryk, minder empatiek en is swakker leerlinge as kinders wat minder televisie kyk”, beweer dr. Madeline Levine in haar boek Viewing Violence.
Haar advies? “Kinders moet geleer word dat die televisie, net soos elke ander toestel in die huis, ’n spesifieke doel het. Ons laat nie die haardroër aan nadat ons ons hare drooggemaak het nie, of die broodrooster aan nadat die brood gerooster is nie. Ons weet presies waarvoor hierdie toestelle gebruik word, en ons weet wanneer om hulle af te sit. Ons kinders het soortgelyke opleiding nodig wat die televisie betref.”
[Venster/Prente op bladsy 7]
Vermaak regoor die wêreld
Ontwaak! het sy medewerkers in verskillende wêrelddele gevra om die tendense in vermaak in hulle omgewing te beskryf. Die volgende is ’n paar van hulle kommentare.
Brasilië: “TV-programme het meer en meer verdorwe geword. Maar omdat baie ouers sekulêre werk doen, word kinders dikwels alleen gelaat om hulleself met die TV te vermaak. CD-ROM’s met okkultetemas en videospeletjies waarin naakte geweld uitgebeeld word, is gewild.”
Tsjeggiese Republiek: “Sedert die val van Kommunisme word die land oorstroom met vermaak wat nooit voorheen hier gesien is nie, waaronder Westerse TV-programme en pornografiewinkels. Jongmense besoek dikwels disko’s, biljartklubs en kroeë. Buitensporige advertensies en portuurdwang oefen dikwels ’n sterk invloed op hulle uit.”
Duitsland: “Ongelukkig is baie ouers te moeg om vermaak vir hulle kinders te reël, en daarom maak die jongmense dikwels op mekaar staat om pret te hê. Party sonder hulle af en speel rekenaarspeletjies. Ander woon danspartytjies by wat die heelnag duur en raves genoem word, waar dwelms vryelik beskikbaar is.”
Japan: “Strokiesverhale is ’n gunstelingtydverdryf vir jongmense en volwassenes, maar hierdie verhale is dikwels vol geweld, onsedelikheid en vloektaal. Dobbelary is ook algemeen. ’n Ander verontrustende tendens is dat sommige jong meisies alom geadverteerde telefoonklubs opbel wat dienste lewer aan mans met onsedelike oogmerke. Sommige bel net vir die grap, terwyl ander sover gaan om afsprake te maak teen betaling, wat in sommige gevalle tot prostitusie lei.”
Nigerië: “Ongekontroleerde videoteaters versprei oor Wes-Afrika. Mense van enige ouderdom, insluitend kinders, het toegang tot hierdie tydelike pondokke. Pornografiese en bangmaakvideo’s is algemeen. Daarbenewens vertoon plaaslik vervaardigde films op TV dikwels spiritisme.”
Suid-Afrika: “Raves floreer hier, en dwelms is dikwels geredelik beskikbaar by hierdie geleenthede.”
Swede: “Kroeë en nagklubs is baie gewild in Swede, en dikwels stroom misdadigers en dwelmsmouse na sulke plekke. Die vermaak wat op die televisie en video’s aangebied word, is vol geweld, spiritisme en onsedelikheid.”
-
-
Jy kan heilsame vermaak vindOntwaak! – 1997 | Mei 22
-
-
Jy kan heilsame vermaak vind
DIE Bybel veroordeel nie die genot wat met vermaak gepaardgaan nie, en dit sê ook nie dat ontspanning ’n verkwisting van tyd is nie. Inteendeel, Prediker 3:4 sê dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd om van vreugde rond te spring”.a God se volk in eertydse Israel het verskillende vorme van vermaak geniet, onder andere musiek, dans en speletjies. Jesus self het ’n groot huweliksfees en, by ’n ander geleentheid, “’n groot onthaal” bygewoon (Lukas 5:29; Johannes 2:1, 2). Die Bybel is dus nie teen plesier gekant nie.
Maar aangesien baie van vandag se vermaak gedrag verheerlik wat God mishaag, ontstaan die vraag: Wat kan jy doen om te verseker dat die standaarde waarvolgens jy vermaak kies heilsaam bly?
Wees selektief
Christene sal deur Bybelbeginsels gelei wil word wanneer hulle hulle vermaak kies. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld geskryf: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). En Paulus het aan die Kolossense geskryf: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug . . . Verwyder . . . al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies.”—Kolossense 3:5, 8.
Dit is duidelik dat baie van die vermaak wat vandag beskikbaar is hierdie geïnspireerde raad skend. ‘Maar ek sal nooit die dinge doen wat ek op die skerm sien nie’, maak party dalk beswaar. Dit is miskien so. Maar selfs as jou vermaak nie toon watter soort persoon jy gaan word nie, openbaar dit dalk iets oor die soort persoon wat jy alreeds is. Dit kan byvoorbeeld toon of jy onder diegene is wat “geweld liefhet” of wat met ‘hoerery, geslagslus, hebsug en onwelvoeglike praatjies’ behep is en of jy onder diegene is wat waarlik ‘die kwaad haat’.—Psalm 97:10.
Paulus het aan die Filippense geskryf: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.
Maar beteken hierdie teks dat elke rolprent, boek of TV-program waarin ’n verhaal oor die een of ander onregverdigheid, miskien ’n misdaad, handel outomaties sleg is? Of word alle komedies uitgesluit omdat hulle nie “van ernstige belang” is nie? Nee, want die konteks toon dat Paulus nie vermaak bespreek het nie, maar die oordenkinge van die hart, wat toegespits moet wees op dinge wat Jehovah behaag (Psalm 19:15). Wat Paulus gesê het, kan ons nietemin help wanneer ons vermaak kies. Deur gebruik te maak van die beginsel in Filippense 4:8 kan ons ons afvra: ‘Gee my keuse van vermaak daartoe aanleiding dat ek oor dinge dink wat nie kuis is nie?’ Indien wel, dan moet ons aanpassings maak.
Maar wanneer Christene vermaak kies, moet hulle ‘hulle redelikheid aan alle mense bekend laat word’ (Filippense 4:5). Daar is natuurlik uiterstes in vermaak wat vir ware Christene beslis ongepas is. Buiten dit moet elkeen die saak noukeurig oorweeg en besluite neem wat hom met ’n skoon gewete voor God en die mens sal laat (1 Korintiërs 10:31-33; 1 Petrus 3:21). Dit sal verkeerd wees om ander oor kleinighede te oordeel of om eiemagtige reëls neer te lê wat voorskryf wat ander moet doen.b—Romeine 14:4; 1 Korintiërs 4:6.
Ouers se rol
Ouers speel ’n kritieke rol wat vermaak betref. Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Ouers het dus ’n verpligting om nie net materieel nie, maar ook geestelik en emosioneel vir gesinslede te sorg. Dit sal insluit dat hulle vir heilsame ontspanning voorsiening moet maak.—Spreuke 24:27, NW.
Soms word hierdie faset van die gesinslewe verwaarloos. “Ongelukkig”, sê ’n sendeling in Nigerië, “meen sommige ouers dat ontspanning ’n verkwisting van tyd is. Gevolglik word party kinders aan hulleself oorgelaat, en hulle vind die verkeerde soort vriende en die verkeerde soort pret.” Ouers, moenie toelaat dat dit gebeur nie! Maak seker dat julle kinders heilsame ontspanning geniet wat hulle werklik verkwik.
Maar ons moet versigtig wees. Christene moet nie soos baie mense van vandag word wat “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” is nie (2 Timoteus 3:1-4). Ja, vermaak moet op sy plek gehou word. Dit moet ons verkwik—nie ons lewe oorheers nie. Kinders sowel as volwassenes het dus nie net die regte soort vermaak nodig nie, maar ook die regte hoeveelheid daarvan.—Efesiërs 5:15, 16.
Geniet ander bedrywighede
Baie van die gewilde vermaak leer mense om eerder passief as aktief te wees. Neem televisie as voorbeeld. Die boek What to Do After You Turn Off the TV sê: “Die blote aard van [televisie] leer ons om passief te wees: Vermaak, en selfs onderrigting, word iets wat ons moeiteloos ontvang, dit is nie ons aktiewe skepping nie.” Daar is natuurlik plek vir selfs passiewe vermaak. Maar as dit te veel van ’n mens se vrye tyd in beslag neem, ontneem dit jou van opwindende geleenthede.
Die skrywer Jerry Mander, wat sê dat hy “’n lid van die pre-TV-generasie” is, beskryf die tye van verveeldheid wat hy af en toe in sy kinderdae ondervind het: “Dit het met ’n angstigheid gepaardgegaan”, sê hy. “Dit was uiters onaangenaam, so onaangenaam dat ek uiteindelik besluit het om op te tree—om iets te doen. Ek het ’n vriend gebel, buitentoe gegaan. Ek het met ’n bal gaan speel. Ek het gelees. Ek het iets gedoen. Wanneer ek terugkyk, beskou ek daardie tyd van verveeldheid, waarin ek ‘niks gehad het om te doen nie’, as die desperate situasie waaruit skeppende bedrywighede voortspruit.” Vandag, sê Mander, gebruik kinders die TV as ’n kitsoplossing vir verveeldheid. “Die TV elimineer die angstigheid sowel as die kreatiwiteit wat daaruit mag voortvloei”, voeg hy by.
Baie het dus ontdek dat bedrywighede wat eerder deelname vereis as passiwiteit lonender kan wees as wat hulle gedink het. Sommige het gevind dat dit hulle genot verskaf om hardop saam met ander te lees. Ander beoefen stokperdjies, soos om ’n musiekinstrument te bespeel of ’n prent te skilder. Dan is daar geleenthede om heilsame gesellighede te reël (Lukas 14:12-14).c Buitelugontspanning hou ook voordele in. ’n Ontwaak!-medewerker in Swede berig: “Party gesinne gaan kamp of gaan vang vis, of gaan op uitstappies in die woud, gaan roei in kano’s, gaan stap in die berge, ensovoorts. Die kinders geniet dit terdeë.”
Die teenwoordigheid van verderflike elemente in vermaak moet ons nie verbaas nie. Die apostel Paulus het geskryf dat mense van die nasies “in die nutteloosheid van hulle verstand wandel” (Efesiërs 4:17). Ons kan dus tereg verwag dat baie van die dinge wat hulle vermaaklik vind “die werke van die vlees” sal bevredig (Galasiërs 5:19-21). Christene kan hulleself egter oplei om goeie besluite te neem met betrekking tot die gehalte en hoeveelheid van hulle vermaak. Hulle kan ontspanning ook ’n gesinsaangeleentheid maak en kan selfs nuwe bedrywighede op die proef stel wat verkwikkend sal wees en jare lank nog met vreugde onthou sal word. Ja, jy kan heilsame vermaak vind!
-