“Leer ons bid”
‘Een van sy dissipels sê vir Hom: Here, leer ons bid.’—LUKAS 11:1.
1-3. (a) Waarom wou Jesus se dissipels onderrig oor gebed hê? (b) Watter vrae ontstaan oor gebed?
PARTY mense het die gawe om mooi te sing. Ander het natuurlike talent as musikante. Maar om hulle volle potensiaal te ontwikkel, het selfs hierdie sangers en musikante onderrig nodig. Dit is ook die geval met gebed. Jesus Christus se dissipels het besef dat hulle onderrig nodig het sodat God hulle gebede sal verhoor.
2 Jesus het gewoonlik alleen in gebed na sy Vader gegaan, soos hy ’n hele nag lank gedoen het voor hy die 12 apostels gekies het (Lukas 6:12-16). Hoewel hy sy dissipels ook aangespoor het om alleen te bid, het hulle gehoor hoe hy in die openbaar bid en gesien dat hy nie soos die godsdiensgeveinsdes was wat gebid het sodat mense hulle kon sien nie (Mattheüs 6:5, 6). Dit is dan logies dat Jesus se volgelinge sy gevorderde onderrig oor gebed wou hê. Gevolglik lees ons: “Toe Hy op ’n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes [die Doper] ook sy dissipels geleer het.”—Lukas 11:1.
3 Hoe het Jesus geantwoord? Wat kan ons uit sy voorbeeld leer? En hoe kan ons baat vind by sy onderrig oor gebed?
Lesse vir ons
4. Waarom moet ons ‘sonder ophou bid’, en wat beteken dit?
4 Ons kan baie uit Jesus se woorde en voorbeeld as ’n man van gebed leer. Een les is dat as dit vir God se volmaakte Seun nodig was om gereeld te bid, dit baie nodiger is dat sy onvolmaakte dissipels hulle tot God wend vir leiding, vertroosting en geestelike onderskraging. Daarom moet ons ‘sonder ophou bid’ (1 Thessalonicense 5:17). Dit beteken natuurlik nie dat ons altyd letterlik op ons knieë moet wees nie. Ons moet eerder voortdurend ’n biddende gesindheid hê. Ons moet ons in alle aspekte van die lewe tot God wend vir leiding sodat ons met insig kan optree en altyd sy goedkeuring kan wegdra.—Spreuke 15:24.
5. Wat kan inbreuk maak op die tyd wat ons aan gebed moet wy, en wat moet ons daaraan doen?
5 In hierdie “laaste dae” kan baie dinge inbreuk maak op die tyd wat ons in gebed moet deurbring (2 Timotheüs 3:1). Maar as huislike bekommernisse, sakeprobleme, ensovoorts ons verhinder om gereeld tot ons hemelse Vader te bid, is ons te beswaar met die sorge van hierdie lewe. So ’n situasie moet sonder versuim reggestel word, want as ’n mens gebed nalaat, lei dit tot verlies van geloof. Ons moet ons sekulêre verpligtinge verminder of die sorge van die lewe teëwerk deur ons hart ernstiger en herhaaldelik tot God te wend vir leiding. Ons moet ‘waaksaam wees met die oog op gebede’.—1 Petrus 4:7, NW.
6. Watter gebed gaan ons nou bestudeer, en met watter doel?
6 Jesus het sy dissipels in die sogenaamde modelgebed geleer hóe om te bid, nie woordeliks wat hulle moet sê nie. Lukas se verslag verskil effens van Mattheüs s’n, want dit beskryf ’n ander geleentheid. Ons sal hierdie gebed bestudeer as ’n voorbeeld van die aard van ons gebede as Jesus se volgelinge en Getuies van Jehovah.
Ons Vader en sy naam
7. Wie het die voorreg om Jehovah “onse Vader” te noem?
7 “Onse Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 6:9; Lukas 11:2). Aangesien Jehovah die mens se Skepper is en in die hemel woon, is dit gepas dat ons hom as “onse Vader wat in die hemele is” aanspreek (1 Konings 8:49; Handelinge 17:24, 28). Die gebruik van die woord ‘ons’ erken dat ander ook ’n hegte verhouding met God het. Maar wie het die onbeperkte voorreg om hom hulle Vader te noem? Alleenlik toegewyde, gedoopte persone in sy familie van aanbidders. As ons Jehovah “onse Vader” noem, toon dit dat ons geloof het in God en dat ons besef dat die enigste grondslag vir versoening met hom volle aanvaarding van Jesus se lofprysoffer is.—Hebreërs 4:14-16; 11:6.
8. Waarom moet ons daarna hunker om tyd in gebed tot Jehovah deur te bring?
8 Hoe na moet ons tog aan ons hemelse Vader voel! Ons moet ’n begeerte hê om tyd in gebed tot God deur te bring soos kinders wat nooit moeg word om na hulle vader te gaan nie. Diep dankbaarheid vir sy geestelike en materiële seëninge moet ons beweeg om hom te dank vir sy goedheid. Ons moet geneig wees om die sorge wat ons beswaar op hom te werp omdat ons vertrou dat hy ons sal onderskraag (Psalm 55:23). As ons getrou is, kan ons seker wees dat alles uiteindelik goed sal afloop omdat hy vir ons sorg.—1 Petrus 5:6, 7.
9. Waarvoor vra ons as ons bid dat God se naam geheilig word?
9 “Laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9; Lukas 11:2). Die woord “Naam” verwys dikwels na die persoon self, en “om te heilig” beteken “om heilig te maak, as iets gewyds af te sonder of te beskou”. (Vergelyk Openbaring 3:4, NW.) ’n Gebed vir die heiliging van God se naam is dus in werklikheid ’n versoek dat Jehovah optree om homself te heilig. Hoe? Deur al die oneer wat ooit op sy naam gebring is te verwyder (Psalm 135:13). Met daardie doel voor oë sal God goddeloosheid verwyder, homself verheerlik en die nasies laat weet dat hy Jehovah is (Esegiël 36:23; 38:23). As ons hunker om daardie dag te sien en Jehovah se majesteit werklik waardeer, sal ons hom altyd met die eerbiedige gees nader wat geïmpliseer word deur die woorde “laat u Naam geheilig word”.
God se Koninkryk en sy wil
10. Wat bedoel ons wanneer ons bid dat God se Koninkryk kom?
10 “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10; Lukas 11:2). Die Koninkryk wat hier bedoel word, is die soewereine heerskappy van Jehovah, soos dit uitgeoefen word deur die hemelse Messiaanse regering in die hande van Jesus Christus en sy ‘heilige’ metgeselle (Daniël 7:13, 14, 18, 27; Jesaja 9:5, 6; 11:1-5). Wat bedoel ons as ons bid dat dit moet “kom”? Dit beteken dat ons vra dat God se Koninkryk teen alle aardse teenstanders van goddelike heerskappy sal kom. Nadat die Koninkryk ‘alle aardse koninkryke verbrysel het en daar ’n einde aan gemaak het’, sal dit die ganse aarde in ’n aardwye paradys omskep.—Daniël 2:44; Lukas 23:43, NW.
11. Wat sal ons doen as ons graag wil sien hoe Jehovah se wil dwarsdeur die heelal geskied?
11 “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Dit is ’n versoek dat God sy voorneme met die aarde sal uitvoer, wat onder andere beteken dat hy sy vyande sal verwyder (Psalm 83:10-19; 135:6-10). Trouens, dit gee te kenne dat ons graag wil sien hoe die goddelike wil dwarsdeur die heelal gedoen word. As dit in ons hart is, sal ons altyd Jehovah se wil na ons beste vermoë doen. Ons kan nie eerlik so ’n versoek doen as ons nie hard probeer om God se wil in ons geval te laat geskied nie. As ons so bid, moet ons dus sorg dat ons nie dinge doen wat strydig met daardie wil is nie, soos om ’n ongelowige die hof te maak of in wêreldse weë te verval (1 Korinthiërs 7:39; 1 Johannes 2:15-17). Ons moet eerder altyd hierdie vraag in gedagte hou: ‘Wat is Jehovah se wil in hierdie saak?’ Ja, as ons God met ons hele hart liefhet, sal ons sy leiding in alle aspekte van die lewe soek.—Mattheüs 22:37.
Ons daaglikse brood
12. Watter goeie uitwerking het dit op ons as ons net om “daaglikse brood” vra?
12 “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheüs 6:11). Lukas se verslag lui: “Gee ons ons brood vir die dag na die dag se vereiste” (Lukas 11:3, NW). As ons God vra om die nodige “daaglikse” voedsel te voorsien, bou dit geloof in sy vermoë om dag na dag in ons behoeftes te voorsien. Die Israeliete moes “die dagmaat van elke dag” van die manna insamel, nie genoeg vir ’n week of meer nie (Exodus 16:4). Hierdie gebed vra nie om lekkernye en oorvloedige kosvoorrade nie, maar vra dat ons daaglikse behoeftes bevredig word soos hulle ontstaan. As ons net ons daaglikse brood vra, help dit ons ook om nie hebsugtig te word nie.—1 Korinthiërs 6:9, 10.
13. (a) Wat word in breë sin bedoel wanneer ons om daaglikse brood vra? (b) Wat moet ons gesindheid wees, al werk ons hard en het ons dit maar skraps?
13 In breë sin toon die feit dat ons om ons daaglikse brood vra dat ons nie onafhanklik voel nie, maar dat ons voortdurend op God vertrou vir voedsel, drank, klere en ander lewensbenodigdhede. As toegewyde lede van sy familie van aanbidders, vertrou ons ons Vader, maar ons sit nie ledig en wag dat hy wonderdadig vir ons moet voorsien nie. Ons werk en gebruik watter middele ons ook al tot ons beskikking het om kos en ander lewensbenodigdhede te kry. Maar dit is gepas dat ons God in gebed dank omdat ons agter hierdie voorsienings die liefde, wysheid en mag van ons hemelse Vader sien. (Handelinge 14:15-17; vergelyk Lukas 22:19.) Ons vlytigheid het moontlik welvaart tot gevolg. Maar al werk ons hard en het ons dit maar skraps moet ons dankbaar en tevrede wees (Filippense 4:12; 1 Timotheüs 6:6-8). Trouens, ’n godvrugtige persoon met eenvoudige kos en klere kan baie gelukkiger wees as iemand wat materieel voorspoedig is. Daarom moet ons nie moedeloos raak as ons min het weens omstandighede buite ons beheer nie. Ons kan nog altyd geestelik ryk wees. Ja, ons hoef nie arm te wees wat geloof, hoop en liefde vir Jehovah betref nie, en ons rig ons lof en dank en hartgrondige gebed tot hom.
Ons skulde vergewe
14. Vir watter skulde vra ons vergifnis, en wat wend God ten behoewe daarvan aan?
14 “En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheüs 6:12). Lukas se verslag toon dat daardie skulde sondes is (Lukas 11:4). Oorgeërfde sondigheid veroorsaak dat ons nie alle dinge volgens ons Vader se volmaakte wil doen nie. In sekere mate is hierdie tekortkominge dan ons skulde, of verpligtinge teenoor God, vandat ons begin het om ‘deur die Gees te lewe en te wandel’. (Galasiërs 5:16-25; vergelyk Romeine 7:21-25.) Ons het hierdie skulde omdat ons onvolmaak is en nie nou ten volle aan God se standaarde kan voldoen nie. Ons het die voorreg om te bid dat hierdie sondes vergewe word. Gelukkig kan God die waarde van Jesus se losprysoffer ten behoewe van hierdie skulde, of sondes, aanwend.—Romeine 5:8; 6:23.
15. Watter gesindheid moet ons hê teenoor nodige dissipline?
15 As ons van God verwag om ons skulde, of sondes, te vergewe, moet ons berouvol wees en bereid wees om dissipline te ontvang (Spreuke 28:13; Handelinge 3:19). Omdat Jehovah ons liefhet, gee hy ons die dissipline wat ons persoonlik nodig het sodat ons ons swakhede kan regstel (Spreuke 6:23; Hebreërs 12:4-6). Ons kan natuurlik bly wees as ons vind dat ons soveel in geloof en kennis gegroei het dat ons hart dit so volkome eens is met God se wette en beginsels dat ons nooit met opset sondig nie. Maar sê nou ons merk ’n mate van opsetlikheid in ons oortredings? Ons behoort diep gekwel te wees daardeur en moet ernstig om vergifnis bid (Hebreërs 10:26-31). As ons die raad toepas wat ons ontvang, sal ons ons optrede gou regstel.
16. Waarom is dit voordelig om God te bly vra om ons sondes te vergewe?
16 Dit is voordelig om God gereeld te vra om ons sondes te vergewe. As ons dit doen, hou dit ons sondigheid voor ons en behoort dit ons nederig te hou (Psalm 51:5, 6, 9). Dit is nodig dat ons hemelse Vader ons “sondes . . . vergewe en ons van alle ongeregtigheid . . . reinig” (1 Johannes 1:8, 9). As ons ons sondes in gebed meld, help dit ons bowendien om hard daarteen te stry. Ons word sodoende ook voortdurend herinner aan hoe nodig ons die losprys en die waarde van Jesus se vergote bloed het.—1 Johannes 2:1, 2; Openbaring 7:9, 14.
17. Hoe help dit ons in ons verhouding met ander as ons om vergifnis bid?
17 As ons om vergifnis bid, help dit ons ook om genadig, medelydend en edelmoedig te wees teenoor die wat ons skuldenaars is in groot of klein sake. Lukas se verslag sê: “Vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is” (Lukas 11:4). Trouens, ons kan net deur God vergewe word as ons reeds “ons skuldenaars [mense wat teen ons sondig] vergewe” het (Mattheüs 6:12; Markus 11:25). Jesus het bygevoeg: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Mattheüs 6:14, 15). Die feit dat ons om vergifnis van ons sondes bid, behoort ons te beweeg om ander te verdra en te vergewe. Die apostel Paulus het geskryf: “Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:13; Efesiërs 4:32.
Versoeking en die Bose
18. Waarom moet ons God nooit die skuld gee as ons versoek en beproef word nie?
18 “En lei ons nie in versoeking nie” (Mattheüs 6:13; Lukas 11:4). Hierdie woorde impliseer nie dat Jehovah ons versoek sodat ons sonde sal doen nie. Die Skrif sê soms dat God dinge doen of veroorsaak wanneer hy dit bloot toelaat. (Rut 1:20, 21; vergelyk Prediker 11:5.) Maar “God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 1:13). Ons moet ons hemelse Vader dus nooit die skuld gee as ons met slegte dinge versoek en beproef word nie, want Satan is die Versoeker wat probeer om ons teen God te laat sondig.—Mattheüs 4:3; 1 Thessalonicense 3:5.
19. Hoe kan ons aangaande versoeking bid?
19 Deur die versoek: “Lei ons nie in versoeking nie”, vra ons Jehovah in werklikheid om nie toe te laat dat ons swig wanneer ons in die versoeking kom of onder druk verkeer om ongehoorsaam aan hom te wees nie. Ons kan ons Vader smeek om ons voetstappe te rig sodat geen versoeking wat te swaar is vir ons oor ons sal kom nie. Paulus het in hierdie verband geskryf: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Ons kan bid dat Jehovah ons sal lei sodat ons nie bo ons kragte versoek word nie en dat hy die uitkoms sal gee wanneer ons erg in die nood is. Versoekings kom van die Duiwel, ons sondige vlees en die swakhede van ander, maar ons liefdevolle Vader kan ons lei sodat ons nie oorweldig word nie.
20. Waarom moet ons bid om van “die Bose” verlos te word?
20 “Maar verlos ons van die Bose” (Mattheüs 6:13). God kan beslis voorkom dat Satan, “die Bose”, ons oormeester (2 Petrus 2:9). En dit was nog nooit nodiger om van die Duiwel gered te word as nou nie, want hy het “groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Ons is nie onbewus van Satan se planne nie, maar hy is ook nie onbewus van ons swakhede nie. Dit is dus nodig dat ons tot Jehovah bid om ons uit die kloue van die leeuagtige Teenstander te hou. (2 Korinthiërs 2:11; 1 Petrus 5:8, 9; vergelyk Psalm 141:8, 9.) Byvoorbeeld: As ons wil trou, sal ons Jehovah dalk moet vra om ons te verlos van Satan se sette en die versoeking om verhoudings met wêreldse mense aan te knoop wat kan lei tot onsedelikheid of ongehoorsaamheid aan God deur met ’n ongelowige te trou (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korinthiërs 7:39). Hunker ons na rykdom? Dan sal gebed nodig wees om ons te help om die versoeking te weerstaan om te dobbel of bedrog te pleeg. Satan is gretig om ons verhouding met Jehovah te vernietig, en sal enige wapen in sy arsenaal van versoekings gebruik. Mag ons dus voortdurend tot ons hemelse Vader bid, wat nooit die regverdiges verlaat wanneer hulle versoek word nie en wat verlossing van die Bose voorsien.
Gebed bou geloof en hoop
21. Hoe is ons bevoordeel deurdat ons vir die Koninkryk bid?
21 Dit verskaf ons hemelse Vader, wat ons van die Bose verlos, groot vreugde om ons oorvloedig te seën. Maar waarom het hy so lank toegelaat dat sy geliefde volk bid: “Laat u koninkryk kom”? Wel, deur die jare heen is ons begeerte en waardering vir die Koninkryk vergroot omdat ons so gebid het. Sulke gebede herinner ons aan hoe dringend nodig hierdie welwillende hemelse regering is. Dit hou ook die hoop van lewe onder Koninkrykregering voor ons.—Openbaring 21:1-5.
22. Wat moet voortdurend ons gesindheid teenoor gebed tot ons hemelse Vader, Jehovah, wees?
22 Gebed bou ongetwyfeld geloof in Jehovah op. Ons band met hom word versterk wanneer hy ons gebede verhoor. Laat ons dus nooit moeg word om ons daagliks met lof, danksegging en smeking na hom te wend nie. En mag ons dankbaar wees vir Jesus se praktiese antwoord op sy volgelinge se versoek: “Here, leer ons bid.”
Onthou jy?
◻ Watter lesse kan ons uit Jesus se woorde en voorbeeld as ’n man van gebed leer?
◻ Waarvoor moet ons aangaande ons hemelse Vader en sy naam bid?
◻ Waarvoor vra ons as ons bid dat God se Koninkryk moet kom en sy wil op aarde moet geskied?
◻ Waarvoor vra ons as ons bid om ons daaglikse brood?
◻ Wat bedoel ons wanneer ons bid dat ons skulde vergewe moet word?
◻ Waarom is dit noodsaaklik om te bid oor versoeking en verlossing van Satan, die Bose?
[Prent op bladsy 16]
Jesus se volgelinge het hom gevra om hulle te leer bid. Weet jy hoe ons by sy instruksies oor gebed baat kan vind?