Hoofstuk 22
Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
Terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog aan die gang was, was Jehovah se Getuies besig om vir groter bedrywigheid in die naoorlogse era te beplan. Die verslag op bladsye 462 tot 501 verskaf fassinerende besonderhede oor wat in werklikheid tussen 1945 en 1975 gebeur het namate hulle getalle toegeneem het, hulle in baie meer lande begin preek het en hulle God se Woord deegliker as ooit tevore aan ander verkondig en geleer het.
DIE meeste van die Wes-Indiese Eilande is teen 1945 op die een of ander manier met die Koninkryksboodskap bereik. Maar ’n deegliker getuienis moes gegee word. Sendelinge wat by die Gileadskool opgelei is, sou ’n belangrike rol speel.
Sendelinge brei die getuieniswerk op die Wes-Indiese Eilande uit
Teen 1960 het hierdie sendelinge op 27 Karibiese eilande of eilandgroepe gedien. Die helfte van hierdie plekke het geen gemeente van Jehovah se Getuies gehad toe die sendelinge daar aangekom het nie. Die sendelinge het tuisbybelstudies met belangstellendes begin hou en gereelde vergaderinge georganiseer. Waar daar reeds gemeentes was, het hulle die plaaslike verkondigers waardevolle opleiding gegee. Gevolglik het die gehalte van die vergaderinge en die verkondigers se bekwaamheid in die bediening verbeter.
Die vroeë Bybelstudente het die getuieniswerk reeds voor die Eerste Wêreldoorlog in Trinidad gedoen, maar ná die koms van die Gileadsendelinge in 1946 is die hou van tuisbybelstudies met belangstellendes ’n kragtige stoot gegee. Toe die eerste sendeling in Jamaika aangekom het, was die verkondiging van die goeie nuus al bykans ’n halwe eeu aan die gang en was daar reeds duisend plaaslike Getuies; maar hulle was bly om hulp te ontvang om dié met meer geleerdheid, veral in die voorstede van die hoofstad, te bereik. Daarenteen was daar in Aruba reeds heelwat getuieniswerk in die Engelssprekende gemeenskap gedoen, en daarom het die sendelinge hulle aandag op die inboorlingbevolking toegespits. Almal moes die goeie nuus hoor.
Om seker te maak dat mense op al die eilande in hierdie deel van die aarde die geleentheid kry om van God se Koninkryk te hoor, het die Wagtoringgenootskap in 1948 die 18-meterskoener Sibia as ’n drywende sendinghuis toegerus. Die bemanning is aangewys om die Koninkryksboodskap na al die Wes-Indiese Eilande uit te dra waar niemand besig was om die goeie nuus te verkondig nie. Gust Maki was die kaptein, en Stanley Carter, Ronald Parkin en Arthur Worsley het hom vergesel. Hulle het by die buitenste eilande van die Bahamagroep begin en toe gepreek terwyl hulle in ’n suidoostelike rigting deur die Benedewindse Eilande en die Bowindse Eilande gevaar het. Watter uitwerking het hulle besoeke gehad? Op St. Maarten het ’n sakeman vir hulle gesê: “Die mense het nooit oor die Bybel gepraat nie, maar vandat julle hier is, praat almal oor die Bybel.” Later is die Sibia deur ’n groter boot, die Light, vervang. Daar was ook veranderinge ten opsigte van die bemanning. Binne ’n dekade is die spesiale werk voltooi wat met behulp van hierdie bote gedoen is, en verkondigers van die goeie nuus op land het die werk voortgesit.
Getuieniswerk word eers in die groter stede gedoen
Net soos op die Wes-Indiese Eilande, was daar ook in Sentraal- en Suid-Amerika in baie gebiede mense wat reeds van die Wagtoringgenootskap se publikasies gehad het voordat sendelinge van die Gileadskool daar aangekom het. Beter organisasie was egter nodig om almal met die goeie nuus te bereik en opregtes te help om ware dissipels te word.
Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, was daar honderde Getuies van Jehovah in Argentinië en Brasilië; sowat drieduisend in Mexiko; ’n paar gemeentetjies in Brits-Guiana (nou Guyana), Chili, Nederlands-Guiana (nou Suriname), Paraguay en Uruguay, en ’n handjievol verkondigers in Colombia, Guatemala en Venezuela. Maar wat Bolivia, Ecuador, El Salvador, Honduras en Nicaragua betref—die bedrywigheid van Jehovah se Getuies is nie op ’n permanente grondslag gevestig tot sendelinge wat by die Gileadskool opgelei is daar aangekom het nie.
Die sendelinge het hulle aanvanklik op die digs bevolkte gebiede toegespits. Dit is opmerklik dat die apostel Paulus in die eerste eeu baie van sy predikingswerk in stede langs die hoofroetes in Klein-Asië en in Griekeland gedoen het. In Korinthe, een van die belangrikste stede van eertydse Griekeland, het Paulus 18 maande lank God se Woord aan ander geleer (Hand. 18:1-11). In Efese, ’n kruispad vir reis en handel in die antieke wêreld, het hy die Koninkryk van God meer as twee jaar lank verkondig.—Hand. 19:8-10; 20:31.
Net so het Edward Michalec en Harold Morris, sendelinggegradueerdes van die Gileadskool, nie die plek met die lekkerste klimaat uitgesoek toe hulle in 1945 in Bolivia aangekom het nie. Trouens, hulle het hulle eers toegespits op die hoofstad La Paz, wat in die Andes op ’n hoogte van byna 3 700 meter geleë is. Nuwe aankomelinge sukkel om teen hierdie hoogte met die steil strate op te loop; hulle hart klop dikwels asof dit by hulle keel wil uitspring. Maar die sendelinge het baie mense gevind wat in die boodskap van die Bybel belangstel. Daar in die hoofstad was dit niks ongewoons dat mense vir hulle sê nie: “Ek is ’n apostoliese Rooms-Katoliek, maar ek hou nie van die priesters nie.” Binne net twee maande het die twee sendelinge 41 tuisbybelstudies gehad.
Namate meer sendelinge gekom en die aantal plaaslike Getuies toegeneem het, is aandag gedurende die volgende dekade aan ander Boliviaanse stede geskenk: Cochabamba, Oruro, Santa Cruz, Sucre, Potosí en Tarija. Daarna kon meer aandag aan kleiner stede en dorpe asook aan die plattelandse gebiede geskenk word.
In Colombia het die sendelinge eweneens in 1945 georganiseerde predikingswerk in die hoofstad, Bogotá, en die volgende jaar in die kusstad Barranquilla begin doen. Daarna is aandag gaandeweg aan Cartagena, Santa Marta, Cali en Medellín geskenk. Meer mense kon in ’n kort tydjie bereik word deur eers in die groter stede te preek. Met die hulp van dié wat die waarheid daar geleer het, sou die boodskap kort voor lank na omliggende gebiede uitgedra word.
As werklik min belangstelling in ’n stad getoon is, is die sendelinge na ander plekke gestuur. Toe daar dus in Ecuador ná drie jaar se werk in die middel-vyftigerjare niemand in die fanatiek godsdienstige Cuenca was wat die moed gehad het om ’n standpunt vir die waarheid in te neem nie, is Carl Dochow na Machala verplaas, ’n stad met verdraagsame, onbevooroordeelde mense. Ongeveer ’n dekade later is die mense van Cuenca egter weer ’n geleentheid gebied. ’n Ander gesindheid het geheers, struikelblokke is oorkom en teen 1992 was meer as 1 200 mense in en om Cuenca Getuies van Jehovah en was hulle in 25 gemeentes georganiseer!
Skaapgeaardes word geduldig gesoek
Dit het baie geduld geverg om mense op te spoor wat waarlik skaapgeaard is. Om hulle in Suriname te vind, het Jehovah se Getuies vir Amerindiane, Chinese, Indonesiërs, Jode, Lebanese en afstammelinge van Nederlandse setlaars gepreek, asook vir oerwoudstamme wat uit Bosnegers bestaan, wie se voorouers weggelope slawe was. Onder hulle is honderde gevind wat werklik na die waarheid gehonger het. Party moes hulle losmaak van diep betrokkenheid by animisme en spiritistiese gebruike. Een van hulle was Paitu, ’n toordokter, wat die boodskap van die Bybel ter harte geneem en toe sy afgode, gelukbringers en toormiddels in die rivier gegooi het. (Vergelyk Deuteronomium 7:25; 18:9-14; Handelinge 19:19, 20.) Hy het hom in 1975 aan Jehovah, die ware God, toegewy.
Baie van Peru se inwoners woon in klein dorpies wat bo in die Andes en in die oerwoud om die boloop van die Amasone versprei lê. Hoe kon hulle bereik word? In 1971 het ’n Getuiegesin van die Verenigde State na Peru gereis om vir hulle sendelingseun, Joe Leydig, te gaan kuier. Toe hulle besef hoeveel dorpies oral in die bergvalleie versteek is, het hulle besorgdheid oor hierdie mense hulle beweeg om iets te doen. Hulle het gehelp om eers een motorwoning te voorsien, en toe nog twee, sowel as veldmotorfietse wat op lang predikingsreise in hierdie afgesonderde gebiede gebruik kon word.
Ten spyte van al die werk was daar in baie plekke blykbaar net ’n paar wat belangstelling in die Bybel se boodskap getoon het. Jy kan jou voorstel hoe die groepie van ses jong sendelinge in Barquisimeto, Venezuela, moes gevoel het toe hulle in die vroeë vyftigerjare, ná ’n hele jaar se ywerige verkondigingswerk, feitlik geen vordering gesien het nie. Hoewel die mense heel vriendelik was, was die meeste van hulle baie bygelowig en het hulle dit as ’n sonde beskou om selfs ’n teks uit die Bybel te lees. Enigiemand wat belangstelling getoon het, is gou deur familielede of bure ontmoedig (Matt. 13:19-21). Maar in die vertroue dat daar wel skaapgeaardes in Barquisimeto moet wees en dat Jehovah hulle op sy bestemde tyd sou insamel, het die sendelinge aangehou om van huis tot huis te gaan. Hoe hartverblydend was dit dus vir Penny Gavette toe ’n bejaarde vrou eendag na haar geluister en toe gesê het:
“Senorita, vandat ek ’n jong meisie was, wag ek al vir iemand om na my deur toe te kom en die dinge te verduidelik wat jy my nou net vertel het. Jy sien, toe ek ’n kind was, het ek altyd die priester se huis skoongemaak, en hy het ’n Bybel in sy biblioteek gehad. Ek het geweet ons mag dit nie lees nie, maar ek was so nuuskierig om te weet waarom nie dat ek dit eendag huis toe geneem het toe niemand my gesien het nie en dit in die geheim gelees het. Wat ek gelees het, het my laat besef dat die Katolieke Kerk ons nie die waarheid leer nie en dus nie die ware godsdiens is nie. Ek was bang om vir enigiemand iets daaroor te sê, maar ek was seker dat die mense wat die ware godsdiens leer eendag na ons dorp toe sou kom. Toe die Protestantse geloof gekom het, het ek aanvanklik gedink dit is hulle, maar ek het gou uitgevind dat hulle baie van dieselfde valshede as die Katolieke Kerk leer. Jy sien, wat jy my nou net vertel het, is wat ek jare gelede in daardie Bybel gelees het.” Sy het gretig ingestem om die Bybel te bestudeer en het een van Jehovah se Getuies geword. Ten spyte van familieteëstand het sy Jehovah tot haar dood getrou gedien.
Dit het baie werk geverg om skaapgeaardes in gemeentes saam te bring en hulle op te lei om aan Jehovah se diens deel te neem. In Argentinië het Rosendo Ojeda byvoorbeeld gereeld ongeveer 60 kilometer van General San Martín, Chaco, gereis om ’n vergadering in die huis van Alejandro Sozoñiuk, ’n belangstellende, te hou. Die reis het dikwels tien uur geduur—party gedeeltes per fiets, ander te voet, en hy moes soms deur water stap wat tot by sy arms gereik het. Hy het vyf jaar lank een keer per maand die reis onderneem en elke keer ’n week in die gebied gebly om daar te preek. Was dit die moeite werd? Hy twyfel nie daaraan nie, aangesien ’n gelukkige gemeente lowers van Jehovah die gevolg was.
Onderrig met lewe in die vooruitsig
In Mexiko het Jehovah se Getuies hulle werk in ooreenstemming met plaaslike wette vir kulturele organisasies gedoen. Die Getuies se doelwit was om meer te doen as net vergaderinge te hou waar toesprake gehou word. Hulle wou hê mense moet soos daardie Bereane in die apostel Paulus se dag wees wat ‘die Skrifte elke dag ondersoek het of hierdie dinge so is’ (Hand. 17:11). In Mexiko, soos in baie ander lande, het dit dikwels beteken dat spesiale hulp verleen moes word aan mense wat geen skoolopleiding gehad het nie, maar wat God se geïnspireerde Woord self wou lees.
Lees-en-skryf-klasse wat deur Jehovah se Getuies in Mexiko aangebied word, het al tienduisende mense daar gehelp om te leer lees en skryf. Mexiko se Departement van Openbare Onderwys waardeer hierdie werk, en in 1974 het ’n direkteur in hulle Algemene Kantoor vir Volksontwikkeling ’n brief aan La Torre del Vigía de México, ’n siviele vereniging wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, geskryf en gesê: “Ek wil hierdie geleentheid gebruik om julle hartlik geluk te wens . . . met die prysenswaardige samewerking wat julle vereniging jaar na jaar tot voordeel van ons volk verleen.”
Terwyl die onderrig wat die Getuies gee mense vir die ewige lewe as onderdane van God se Koninkryk voorberei, verhef dit nou reeds hulle gesinslewe. Nadat ’n regter in El Salto, in die staat Durango, etlike kere huweliksplegtighede vir Jehovah se Getuies behartig het, het hy in 1952 gesê: “Ons sê dat ons sulke goeie patriotte en burgers is, maar Jehovah se Getuies steek ons in die skande. Hulle is ’n voorbeeld vir ons, want hulle laat hoegenaamd niemand in hulle organisasie toe wat konsensueel met iemand saamleef en nie sy verhouding laat wettig nie. En, julle Katolieke, julle lei feitlik almal ’n onsedelike lewe en het nie julle huwelik laat wettig nie.”
Hierdie onderrigtingsprogram help mense ook om in vrede te leer saamleef, om mekaar lief te hê pleks van mekaar te haat en dood te maak. Toe ’n Getuie in Venado, in die staat Guanajuato, begin preek het, het hy gevind dat die mense almal met gewere en pistole gewapen was. Vetes het daartoe gelei dat families uitgewis is. Maar Bybelonderrig het groot veranderinge meegebring. Gewere is verkoop sodat Bybels gekoop kon word. Meer as 150 mense in die gebied het kort voor lank Getuies van Jehovah geword. Hulle het figuurlik gesproke ‘van hulle swaarde pikke gesmee’ en die weë van vrede begin nastreef.—Miga 4:3.
Talle godvresende Mexikane het die dinge wat Jehovah se Getuies hulle uit God se Woord geleer het ter harte geneem. Gevolglik het die paar duisend verkondigers in Mexiko ná die Tweede Wêreldoorlog gou tot 10 000 gegroei, toe 20 000, 40 000, 80 000 en meer namate die Getuies vir ander getoon het hoe om die raad van God se Woord toe te pas en aan ander te leer.
Hulle vergader ondanks teëstand
Namate die aantal Getuies van Jehovah toegeneem het, het hulle egter in die een land na die ander gevind dat hulle dikwels groot struikelblokke moes oorkom om byeenkomste vir Christelike onderrig te hou. In Argentinië het die regering hulle organisasie in 1950 in die ban gedoen. Nietemin het hulle in gehoorsaamheid aan God nie opgehou om te preek of te vergader nie. Reëlings was ietwat meer gekompliseerd, maar byeenkomste is gehou.
Laat in 1953 het broer Knorr en broer Henschel byvoorbeeld Argentinië besoek om ’n byeenkoms te bedien wat landwyd gehou is. Broer Knorr het die land van die weste binnegegaan en broer Henschel het sy besoeke in die suide begin. Hulle het groepe op plase, in ’n vrugteboord, by ’n piekniek langs ’n bergstroom en in huise toegespreek. Hulle moes dikwels ver reis van die een groep na die volgende. Toe hulle in Buenos Aires aangekom het, het hulle op die een dag elkeen programdele op nege plekke en die volgende dag in elf huise behartig. Hulle het altesaam 56 groepe toegespreek, met ’n gesamentlike bywoningsyfer van 2 505. Dit was ’n veeleisende rooster, maar hulle was bly dat hulle hulle broers op daardie manier kon dien.
Terwyl die Getuies in 1955 voorbereidsels getref het vir ’n byeenkoms in Colombia het hulle ’n kontrak aangegaan vir die gebruik van ’n saal in Barranquilla. Maar die burgemeester en die goewerneur het voor druk van die biskop geswig en die kontrak gekanselleer. Met net ’n dag oor het die broers die byeenkoms verskuif en gereël om dit op die perseel van die Genootskap se takkantoor te hou. Nietemin het die eerste aandsessie skaars begin of gewapende polisiemanne het daar opgedaag met bevele om die byeenkoms op te breek. Die broers was vasbeslote om die byeenkoms te hou. ’n Beroep is die volgende oggend op die burgemeester gedoen en dit het gelei tot ’n apologie van sy sekretaris af, en bykans 1 000 mense het die laaste dag van daardie “Triomfantelike Koninkryk”-byeenkoms die Genootskap se perseel stampvol gesit. Ten spyte van die omstandighede is die broers dus met die nodige geestelike raad versterk.
Diens waar hulp nodig is
In Latyns-Amerika, net soos in ander plekke, was die veld groot en was daar ’n groot behoefte aan arbeiders. In 1957 is ryp Getuies van Jehovah, individue sowel as gesinne, by byeenkomste regoor die wêreld aangespoor om dit te oorweeg om na gebiede te verhuis waar hulp nodig is en hulle bediening daar voort te sit. Soortgelyke aansporing is daarna op verskillende maniere gegee. Die uitnodiging is soortgelyk aan die een wat God aan die apostel Paulus gerig het, wat ’n man in ’n gesig gesien het wat hom gesmeek het: “Kom oor na Macedonië en help ons” (Hand. 16:9, 10). Wat was die reaksie op die hedendaagse uitnodiging? Jehovah se knegte het hulle gewillig aangebied.—Ps. 110:3.
Dit verg baie geloof van ’n gesin met klein kindertjies om hulleself te ontwortel, familie en huis en sekulêre werk agter te laat en na ’n heeltemal nuwe omgewing te gaan. Wanneer hulle verhuis, beteken dit dalk dat hulle ’n heel ander lewenstandaard moet aanvaar en in sommige gevalle ’n nuwe taal moet leer. Tog het duisende individuele Getuies en gesinne al verhuis om ander te help om van Jehovah se liefdevolle voorsienings vir die ewige lewe te leer.
’n Aantal Getuies van Jehovah het vinnig gereageer en in die laat vyftigerjare verhuis; ander in die sestigerjare; nog ander in die sewentigerjare. En daar is vandag nog steeds Getuies wat verhuis na gebiede waar hulp nodig is.
Waar het hulle vandaan gekom? ’n Menigte van Australië, Kanada, Nieu-Seeland en die Verenigde State. Baie van Brittanje, Duitsland en Frankryk. Ook onder andere van België, Denemarke, Finland, Italië, Japan, die Republiek van Korea, Noorweë, Oostenryk, Spanje, Swede en Switserland. Namate die aantal Getuies van Jehovah in Argentinië, Brasilië, Mexiko en ander Latyns-Amerikaanse lande toegeneem het, het daar ook uit hierdie lande arbeiders gekom wat gewillig is om in ander lande te dien waar hulp nodig is. In Afrika het ywerige arbeiders eweneens van een land na ’n ander verhuis om met die getuieniswerk te help.
Na watter gebiede het hulle verhuis? Lande soos Afganistan, Maleisië en Senegal en eilande soos Réunion en St. Lucia. Ongeveer 1 000 het na Ierland verhuis, waar party langer as ander gedien het. Baie is Ysland toe ondanks die lang, donker winters daar, en party het daar gebly en het steunpilare in die gemeentes geword en liefdevolle hulp aan nuwelinge verleen. Daar is veral in Sentraal- en Suid-Amerika baie goeie werk gedoen. Ruim 1 000 Getuies het na Colombia verhuis, meer as 870 na Ecuador en oor die 110 na El Salvador.
Harold en Anne Zimmerman was van diegene wat verhuis het. Hulle het reeds as sendelingonderrigters in Ethiopië gedien. Toe hulle egter in 1959 hulle reëlings gefinaliseer het om van die Verenigde State na Colombia te verhuis om die Koninkryksboodskap daar te gaan verkondig, het hulle vier kinders gehad om groot te maak, wat tussen vyf maande en vyf jaar oud was. Harold het vooruitgegaan om werk te soek. Toe hy in die land aankom, het plaaslike nuusberigte hom bekommerd gemaak. ’n Onverklaarde burgeroorlog was aan die gang en daar was grootskaalse bloedvergieting in die binneland. ‘Wil ek regtig my gesin hiernatoe bring om onder sulke toestande te woon?’ het hy hom afgevra. Hy het aan ’n voorbeeld of riglyn in die Bybel probeer dink. Hy het die Bybelverslag onthou van die vreesagtige spioene wat met ’n slegte gerug oor die Beloofde Land na die Israelitiese kamp teruggekeer het (Num. 13:25–14:4, 11). Dit het die saak beklink; hy wou nie soos hulle wees nie! Hy het dadelik gereël dat sy gesin kom. Eers toe hulle net drie dollar oorgehad het, het hy die nodige sekulêre werk gevind, maar hulle het die lewensbenodigdhede gehad. Die hoeveelheid sekulêre werk wat hy deur die jare heen moes doen om sy gesin te onderhou, het gewissel, maar hy het altyd probeer om Koninkryksbelange eerste te stel. Toe hulle oorspronklik Colombia toe is, was daar omtrent 1 400 Getuies in die land. Watter verbasende groei het hulle tog sedertdien gesien!
Dit beteken nie altyd dat ’n mens na ’n ander land toe moet gaan as jy wil dien waar hulp nodig is nie. Duisende individuele Getuies en gesinne het na ander gebiede in hulle eie land verhuis. ’n Gesin in die staat Bahia, Brasilië, het na die dorp Prado verhuis waar daar geen Getuies was nie. Ten spyte van die geestelikes se besware het hulle drie jaar in daardie dorp en die omliggende gebied gewoon en gewerk. ’n Verlate kerkgebou is gekoop en in ’n Koninkryksaal omgeskep. Kort voor lank was daar meer as honderd bedrywige Getuies in die gebied. En dit was net die begin.
In Latyns-Amerika aanvaar al hoe meer liefhebbers van regverdigheid die uitnodiging wat in Psalm 148 opgeteken is: ‘Loof Jehovah! Loof Jehovah van die aarde af, alle volke’ (Vs. 1, 7-11). Ja, teen 1975 was daar lowers van Jehovah in elke land in Latyns-Amerika. Die rapport vir daardie jaar het getoon dat 80 481, wat in 2 998 gemeentes georganiseer was, in Mexiko gedien het. Nog 24 703, in 462 gemeentes, het in Sentraal-Amerika met ander oor Jehovah se koningskap gepraat. En in Suid-Amerika was daar 206 457 mense in 3 620 gemeentes wat Jehovah in die openbaar geloof het.
Die eilande van die Stille Oseaan word bereik
Terwyl die werk in Suid-Amerika vinnig uitgebrei het, het Jehovah se Getuies ook hulle aandag op die eilande van die Stille Oseaan toegespits. Daar lê duisende van hierdie eilande tussen Australië en die Amerikas, en baie van hulle is skaars sigbaar bo die see se oppervlak. Op party van hulle is daar net ’n paar families; op ander tienduisende mense. Vroeg in die vyftigerjare het vooroordeel op amptelike vlak dit vir die Wagtoringgenootskap onmoontlik gemaak om sendelinge na baie van hierdie eilande te stuur. Maar die mense daar moes ook van Jehovah en sy Koninkryk hoor. Dit is in ooreenstemming met die profesie in Jesaja 42:10-12, wat sê: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af . . . Laat hulle aan die HERE eer gee en sy lof in die eilande verkondig!” Daarom is pioniers en kringopsieners wat daarin belanggestel het om die Koninkryksboodskap op die eilande te gaan verkondig in 1951 by ’n byeenkoms in Sydney, Australië, genooi om ’n vergadering met broer Knorr by te woon. Op daardie tydstip het ongeveer 30 aangebied om op die tropiese eilande te gaan preek.
Onder hulle was Tom en Rowena Kitto, wat hulle spoedig in Papoea bevind het, waar daar toe nog geen Getuies was nie. Hulle het hulle werk onder die blankes in Port Moresby begin. Kort voor lank het hulle hulle aande in Hanuabada, die “Groot dorp”, deurgebring saam met ’n groep van 30 tot 40 Papoeas wat na geestelike waarheid gehonger het. Van hulle af het die nuus na ander dorpies versprei. Dit was nie lank nie voordat die Keremas verteenwoordigers gestuur het om te vra dat ’n Bybelstudie met hulle gehou word. Toe het ’n hoofman van Haima kom smeek: “Kom leer asseblief my mense die waarheid!” En so het dit versprei.
Nog ’n egpaar, John en Ellen Hubler, het na Nieu-Caledonië gegaan om die werk daar gevestig te kry. Toe hulle in 1954 daar aankom, het hulle net toeristevisums vir een maand gehad. Maar John het sekulêre werk gekry en dit het hulle gehelp om ’n verlenging te kry. Mettertyd het ander Getuies—altesaam 31—ook soontoe verhuis. Aanvanklik het hulle hulle bediening op die buitegebiede toegespits sodat hulle nie te veel aandag sou trek nie. Later het hulle in die hoofstad, Nouméa, begin preek. ’n Gemeente is gestig. Toe, in 1959, het ’n lid van die Katolieke Aksie ’n belangrike regeringspos gekry. Die Getuies se visums is nie weer hernieu nie. Die Hublers moes die eiland verlaat. Wagtoringpublikasies is verbied. Nogtans het die goeie nuus van die Koninkryk ingang gevind en het die aantal Getuies bly toeneem.
In Tahiti het baie mense belangstelling in die werk van Jehovah se Getuies getoon wanneer broers kort besoeke daar afgelê het. Maar in 1957 was daar geen plaaslike Getuies nie, en hulle werk was verbode en Wagtoringsendelinge is toegang geweier. Agnes Schenck, ’n burger van Tahiti wat toe in die Verenigde State gewoon het, het egter een van Jehovah se Getuies geword. Toe sy, haar man en hulle seun van die behoefte aan Koninkryksverkondigers in Tahiti hoor, het hulle in Mei 1958 per skip van Kalifornië af vertrek. Kort daarna het twee ander gesinne by hulle aangesluit, hoewel hulle net toeristevisums vir drie maande kon kry. Teen die volgende jaar is ’n gemeente in Papeete gestig. En in 1960 het die regering ’n plaaslik georganiseerde vereniging van Jehovah se Getuies erken.
Twee sendelingsusters het op pad terug na hulle toewysing by ’n familielid op die eiland Niue aangegaan sodat hulle die Koninkryksboodskap daar kon verkondig. Die maand wat hulle daar deurgebring het, was baie vrugbaar; baie belangstelling is gevind. Maar toe die volgende intereilandboot kom, moes hulle vertrek. Kort daarna het Seremaia Raibe, ’n Fidjiaan, egter ’n werkkontrak by die Departement van Openbare Werke op Niue gekry en toe al sy vrye tyd gebruik om te preek. Maar weens druk van die geestelikes is broer Raibe se verblyfpermit ná ’n paar maande gekanselleer, en in September 1961 het die Wetgewende Vergadering besluit om nie nog Getuies van Jehovah in die land in te laat nie. Nietemin het die verkondiging van die goeie nuus daar voortgegaan. Hoe? Die plaaslike Getuies het aangehou om Jehovah te dien, hoewel hulle nog betreklike nuwelinge was. Daarbenewens het die plaaslike regering reeds vir William Lovini, wat op Niue gebore is maar in Nieu-Seeland gewoon het, in diens geneem. Waarom was hy gretig om na Niue terug te keer? Omdat hy een van Jehovah se Getuies geword het en wou dien waar hulp nodig is. Teen 1964 het die aantal Getuies daar tot 34 vermeerder.
In 1973 het David Wolfgramm, ’n burger van Tonga, met sy vrou en agt kinders in ’n gerieflike huis in Nieu-Seeland gewoon. Maar hulle het dit agtergelaat en na Tonga verhuis om Koninkryksbelange te bevorder. Van daar het hulle gehelp om die werk uit te brei op die Tonga-eilande, waarvan ongeveer 30 bewoon word.
Dit het baie tyd, werk en geld gekos om die eilande te bereik. Maar Jehovah se Getuies beskou hulle medemens se lewe as kosbaar en ontsien geen moeite om hulle te help om baat te vind by Jehovah se liefdevolle voorsiening vir ewige lewe in sy nuwe wêreld nie.
’n Gesin wat hulle plaas in Australië verkoop en na een van die eilande in die Stille Oseaan verhuis het, het hulle gevoelens soos volg opgesom: “Om hierdie eilandbewoners te hoor sê dat hulle Jehovah leer ken het, om te hoor hoe hulle ons kinders hulle kinders noem omdat hulle hulle vanweë die waarheid so liefhet, om te sien hoe Koninkryksbelange sowel as bywoningsyfers groei, om te hoor hoe hierdie innemende mense sê: ‘My kinders sal net in die Here trou’, en dít met ’n agtergrond van eeue oue tradisies en Oosterse huwelike, om te sien hoe hulle gekompliseerde huweliksituasies regstel en hulle huwelik wettig, . . . om te sien hoe hulle studeer terwyl hulle die beeste langs die pad oppas of ná vermoeiende werk in die ryslande, om te weet dat hulle by die plaaslike winkel en ander plekke praat oor hoe verkeerd afgodediens is en hoe wonderlik Jehovah se naam is, om te hoor hoe ’n bejaarde Indiese moeder jou broer en suster noem en vra of sy saam met jou kan gaan om die mense van die ware God te vertel . . . Dit is alles deel van ’n kosbare beloning wat ons geniet omdat ons die stap gedoen het om die uitnodiging vanuit die Stille Suidsee te aanvaar.”
Dit was egter nie net hierdie eilandbewoners in die Stille Oseaan wat aandag ontvang het nie. Sedert 1964 is ervare pioniers van die Filippyne af gestuur om ywerige sendelinge te ondersteun wat reeds in Hongkong, Indonesië, die Republiek van Korea, Laos, Maleisië, Taiwan, Thailand en Viëtnam bedrywig was.
Druk van familie en die gemeenskap
Wanneer iemand een van Jehovah se Getuies word, aanvaar sy familie en die gemeenskap dit nie altyd as iets waaroor hy self moet besluit nie.—Matt. 10:34-36; 1 Pet. 4:4.
Die meeste van dié wat in Hongkong Getuies van Jehovah geword het, is jongmense. Maar hierdie jongmense ondervind geweldige druk in ’n stelsel wat hoër onderwys en goed besoldigde betrekkings as ’n prioriteit stel. Ouers beskou hulle kinders as ’n belegging wat sal verseker dat hulle in hulle later jare gerieflik sal lewe. Toe die ouers van ’n jong man in Kwoen Tong dus besef het dat hulle seun se Bybelstudie, vergaderingbywoning en velddiens inbreuk op sy geldmakery gaan maak, het hulle hom heftig begin teëstaan. Sy vader het hom met ’n vleisbyl gejaag; sy moeder het in die openbaar op hom gespoeg. Hy is maande lank feitlik sonder verposing uitgeskel. Hy het sy ouers eenkeer gevra: “Het julle my nie vir liefde grootgemaak nie?” En hulle het geantwoord: “Nee, vir geld!” Die jong man het nietemin aangehou om sy aanbidding van Jehovah eerste te stel; maar toe hy die huis verlaat het, het hy ook voortgegaan om sy ouers na sy beste vermoë geldelik te help, want hy het geweet dat dit Jehovah sal behaag.—Matt. 15:3-9; 19:19.
In hegte gemeenskappe kom hewige druk dikwels nie net van die gesin af nie. Fuaiupolu Pele in Westelike Samoa het dit ondervind. Dit is vir die mense ondenkbaar dat ’n Samoaan die gebruike en godsdiens van sy voorvaders sal verwerp, en broer Pele het geweet dat hy tot verantwoording geroep sou word. Hy het hard gestudeer en ernstig tot Jehovah gebid. Toe hy deur die opperhoof van die familie na ’n vergadering by Faleasiu ontbied is, is hy deur ses hoofmanne, drie redenaars, tien pastors, twee teologiese onderrigters, die opperhoof wat gepresideer het en ouer mans en vroue van die familie gekonfronteer. Hulle het hom en ’n ander familielid wat belangstelling in Jehovah se Getuies getoon het, vervloek en veroordeel. ’n Woordestryd het gevolg; dit het tot vieruur in die oggend aangehou. Dit het party van die aanwesiges geïrriteer dat broer Pele die Bybel gebruik, en hulle het geskreeu: “Vat daardie Bybel weg! Los daardie Bybel!” Maar uiteindelik het die opperhoof in ’n flou stem gesê: “Jy het gewen, Pele.” Maar broer Pele het geantwoord: “Verskoon my, meneer, ek het nie gewen nie. Julle het vanaand die boodskap van die Koninkryk gehoor. Ek hoop opreg dat julle daarop sal ag slaan.”
Wanneer daar hewige teëstand van die geestelikes is
Die Christendom se sendelinge het in die negentiende eeu op die eilande van die Stille Oseaan aangekom. Op baie plekke was hulle aankoms vreedsaam; elders was dit deur militêre mag gesteun. In sommige gebiede het hulle die eilande deur ’n ‘eerbare akkoord’ onder mekaar verdeel. Maar daar was ook godsdiensoorloë waarin Katolieke en Protestante teen mekaar geveg het om beheer te verkry. Hierdie godsdienstige “herders”, die geestelikes, het nou elke middel tot hulle beskikking gebruik om Jehovah se Getuies uit te hou uit wat hulle as hulle eie domein beskou het. Partykeer het hulle druk op amptenare uitgeoefen om Getuies van sekere eilande af te verdryf. Ander kere het hulle eiemagtig opgetree.
Op die eiland Nieu-Brittanje, in die dorpie Vunabal, het ’n groep van die Sulka-stam intens in Bybelwaarheid belanggestel. Maar terwyl John Davison een Sondag in 1959 ’n Bybelstudie met hulle gehou het, het ’n groep oproerige Katolieke, onder leiding van die Katolieke kategis, die huis binnegedring en deur hulle geskreeu en geskel die studie stopgesit. Dit is aan die polisie by Kokopo gerapporteer.
Die Getuies het nie die skape verlaat nie, maar die volgende week teruggekeer om aan waarderendes in Vunabal verdere geestelike hulp te verleen. Die Katolieke priester was ook daar, hoewel die dorpsbewoners hom nie genooi het nie, en hy het ’n paar honderd Katolieke van ’n ander stam saamgebring. Nadat die priester hulle opgesweep het, het sy kerklidmate die Getuies gevloek, op hulle gespoeg, hulle met die vuis gedreig en die dorpsbewoners se Bybels opgeskeur, terwyl die priester met gevoude arms gestaan en glimlag het. Dit was duidelik dat die polisie wat die situasie probeer beheer het geskok was. Baie van die dorpsbewoners het ook bang geword. Maar ten minste een van die dorpsbewoners was moedig en het sy standpunt ingeneem vir wat hy geweet het die waarheid is. Nou is daar honderde ander op daardie eiland wat dieselfde gedoen het.
Nie al die godsdiensleraars was Jehovah se Getuies egter vyandiggesind nie. Shem Irofa’alu, in die Salomon-eilande, het ’n opregte pligsbesef gehad teenoor diegene wat na hom opgesien het as hulle godsdiensleier. Nadat hy die Wagtoringgenootskap se boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys gelees het, het hy besef dat iemand vir hom leuens vertel het. Hy en die godsdiensleraars binne sy jurisdiksie het na besprekings met die Getuies geluister, vrae gevra en die tekste in die Bybel nageslaan. Toe was hulle dit eens dat hulle Getuies van Jehovah wil word en het gevolglik die kerke in hulle 28 dorpies in Kninkryksale omgeskep.
’n Bruisende stroom waarheid in Afrika
Veral sedert die vroeë twintigerjare is baie moeite gedoen om mense in alle dele van Afrika die geleentheid te gee om Jehovah, die ware God, te leer ken en by sy liefdevolle voorsienings baat te vind. Toe die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, was daar bedrywige Getuies van Jehovah in 14 lande op die vasteland van Afrika. Nog 14 Afrikalande is toe al ook met die Koninkryksboodskap bereik, maar geen Getuies het in 1945 in hierdie lande bedrywigheid gerapporteer nie. Gedurende die volgende 30 jaar, tot 1975, is die goeie nuus in nog 19 lande in Afrika verkondig. Gemeentes is in byna al hierdie lande, sowel as op omliggende eilande, gestig—’n paar in sommige lande, meer as duisend in Zambië en byna tweeduisend in Nigerië. Hoe is dit teweeggebring?
Die verkondiging van die Koninkryksboodskap was soos ’n bruisende stroom water. In die meeste gevalle vloei water in rivierlope, hoewel dit partykeer die oewers oorstroom; en as iets die rivier versper, vind die water ’n ander pad of bou soveel water en druk op dat die water bo-oor die versperring stroom.
Deur middel van sy gewone organisatoriese kanale het die Wagtoringgenootskap voltydse bedienaars—pioniers, spesiale pioniers en sendelinge—na lande gestuur waar min of geen predikingswerk gedoen was nie. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle mense genooi om ‘die water van die lewe verniet te neem’ (Openb. 22:17). In Noord-Afrika het vier spesiale pioniers van Frankryk byvoorbeeld daardie uitnodiging in 1952 aan die mense van Algerië gerig. Kort voor lank het ’n waarsegster die waarheid daar aangeneem, besef dat sy haar beroep moet laat vaar om Jehovah te behaag en vir haar gewese klante begin getuig (Deut. 18:10-12). Die pioniers het die boek “Laat God waaragtig wees” doeltreffend gebruik om opregtes die verskil tussen die Heilige Bybel en godsdiensoorleweringe te help sien. Dit was so ’n kragtige middel om mense van valse godsdiensgebruike te bevry dat ’n geestelike die boek op sy preekstoel vertoon het en ’n vloek oor die boek en oor die verspreiders, asook die lesers daarvan, uitgespreek het.
In 1954 is ’n sendeling uit Katolieke Spanje gedeporteer omdat hy mense die Bybel geleer het sonder die goedkeuring van die geestelikes; hy en sy pioniermaat het dus die volgende jaar in Marokko gaan preek. Spoedig het ’n gesin van vyf Getuies van Jehovah by hulle aangesluit. Dié gesin is uit Tunisië gedeporteer, waar ’n groot opskudding ontstaan het toe ’n Joodse egpaar Jesus as die Messias aanvaar en ander dadelik van hulle nuwe geloof begin vertel het. Verder suidwaarts is pioniers van Ghana in 1962 na Mali gestuur. Later is Franse pioniers wat in Algerië gedien het ook gevra om in Mali te help. Talle van dié wat later Getuies geword het, het op hulle beurt die voltydse diens betree. In 1966 het agt spesiale pioniers van Nigerië toewysings in Niger aanvaar, ’n yl bevolkte land wat ’n deel van die Saharawoestyn insluit. Burundi is die geleentheid gegee om die Koninkryksboodskap te hoor toe twee spesiale pioniers in 1963 van Noord-Rhodesië (nou Zambië) daarheen gestuur is, gevolg deur vier sendelinge wat by die Gileadskool opgelei is.
In die vroeë vyftigerjare was daar ook sendelinge in Ethiopië. Die Ethiopiese regering het vereis dat hulle ’n behoorlike sendinghuis stig en skoolhou, wat hulle dan ook gedoen het. Maar hulle het daarbenewens die Bybel aan ander geleer, en gou was daar ’n toeloop op die sendinghuis—daar was elke dag nuwes wat kom vra het dat iemand hulle moet help om die Bybel te verstaan. Gedurende die drie dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het 39 lande op die vasteland van Afrika by die hulp van sulke Gileadopgeleide sendelinge baat gevind.
Die waters van waarheid het terselfdertyd na geestelik dorre gebiede oorgevloei as gevolg van Getuies van Jehovah wie se sekulêre werk hulle met ander mense in aanraking gebring het. Getuies van Egipte wie se werk vereis het dat hulle in 1950 na Libië verhuis, het dus in hulle vrye tyd ywerig gepreek. Daardie selfde jaar het ’n Getuie, wat ’n wolhandelaar was, met sy gesin van Egipte na Khartoem, Soedan, verhuis. Hy het ’n gewoonte daarvan gemaak om vir klante te getuig voordat hy met hulle sake doen. Een van die eerste Getuies in Senegal (toe ’n deel van Frans-Wes-Afrika) het in 1951 na dié land gegaan as ’n verteenwoordiger van ’n handelsonderneming. Hy het ook besef wat sy verantwoordelikhede as ’n Getuie van die Allerhoogste is. In 1959 het ’n Getuie in verband met sekulêre werk na Fort Lamy gegaan (nou Ndjamena), in wat later Tsjaad geword het, en hy het die geleentheid gebruik om die Koninkryksboodskap in daardie land te verkondig. In lande wat aan Niger grens, was daar handelaars wat Jehovah se Getuies was; terwyl spesiale pioniers dus van 1966 af in Niger besig was, het hierdie handelaars ook vir mense van Niger gepreek met wie hulle sake gedoen het. En twee Getuies wie se mans in 1966 in Mauritanië gaan werk het, het die geleentheid aangegryp om in daardie gebied te preek.
Mense wat deur “die water van die lewe” verfris is, het dit ook na ander geneem. In 1947 het iemand wat ’n paar vergaderinge bygewoon het, maar nie een van Jehovah se Getuies was nie, byvoorbeeld van Kameroen na Ubangi-Chari (nou Sentraal-Afrikaanse Republiek) verhuis. Toe hy van ’n man in Bangui hoor wat intens in die Bybel belangstel, het hy uit vriendelikheid gereël dat die Wagtoringgenootskap se kantoor in Switserland vir die man ’n boek stuur. Etienne Nkounkou, die ontvanger, was oorstelp van vreugde oor die heilsame geestelike voedsel in die boek, en hy het elke week vir ’n groep ander belangstellendes uit daardie boek gelees. Hulle het met die Genootskap se hoofkwartier in verbinding getree. Namate hulle kennis gegroei het, het daardie studiegroep ook ’n predikingsgroep geword. Hoewel druk van die geestelikes tot ’n regeringsverbod op Wagtoringlektuur gelei het, het hierdie nuwe Getuies met net die Bybel aangehou preek. Mense in daardie land hou baie daarvan om na Bybelbesprekings te luister; gevolglik was daar reeds meer as 500 Getuies toe die verbod op sommige van die Genootskap se publikasies in 1957 opgehef is.
Toe versperrings in die weg geplaas is
Toe versperrings die vloei van lewegewende water gestuit het, het dit gou op ’n ander manier deurgekom. Ayité Sessi, ’n pionier van Dahomey (nou Benin), het in 1949 net ’n rukkie in Frans-Togo (nou Togo) gepreek voor die regering hom uit die land gesit het. Maar die volgende jaar het Akakpo Agbetor, ’n gewese bokser, oorspronklik van Togo, saam met sy broer na sy geboorteland teruggekeer. Aangesien dit sy geboorteland was, kon hy heel vryelik getuig en selfs vergaderinge hou. Hoewel pioniers wat omstreeks 1950 na Fernando Po’o (nou ’n deel van Ekwatoriaal-Guinee) gestuur is ná ’n kort rukkie as gevolg van godsdiensonverdraagsaamheid gedeporteer is, het ander Getuies later werkkontrakte gekry wat hulle in staat gestel het om in daardie gebied te woon. En in ooreenstemming met Jesus se opdrag het hulle natuurlik gepreek.—Mark. 13:10.
Emmanuel Mama, ’n kringopsiener van Ghana, is in 1959 vir ’n paar weke na Bo-Volta (nou Burkina Faso) gestuur en kon baie getuieniswerk in Ouagadougou, die hoofstad, doen. Maar daar het geen Getuies in die land gewoon nie. Vier jaar later het sewe Getuies, oorspronklik van Togo, Dahomey (nou Benin) en die Kongo, na Ouagadougou verhuis en werk gesoek sodat hulle in hierdie gebied kon dien. ’n Paar maande later het ’n hele paar spesiale pioniers van Ghana by hulle aangesluit. Maar die Getuies was nog nie eens ’n jaar daar nie toe hulle in 1964 weens die druk wat geestelikes op die amptenare uitgeoefen het in hegtenis geneem, 13 dae aangehou en toe gedeporteer is. Was hulle pogings die moeite werd? Emmanuel Johnson, ’n inwoner van die land, het geleer waar Bybelwaarheid gevind kan word. Hy het sy studies met Jehovah se Getuies per pos voortgesit en is in 1969 gedoop. Ja, die Koninkrykswerk het in nog ’n land ingang gevind.
Toe aansoek om visums gedoen is sodat Gileadopgeleide sendelinge in die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire) kon dien, het Franse amptenare goedkeuring geweier. Derhalwe is Alfred Shooter in 1950 as ’n pionier van die Goudkus (nou Ghana) na die hoofstad van die Ivoorkus gestuur. Nadat hy hom gevestig het, het sy vrou by hom aangesluit; en ’n paar maande later het ’n sendelingegpaar, Gabriel en Florence Paterson, daar aangekom. Probleme het opgeduik. Op ’n dag is hulle lektuur gekonfiskeer omdat dit nie deur die regering goedgekeur is nie en is die broers beboet. Maar hulle het later hulle boeke in die mark te koop gesien en dit toe teruggekoop en goed benut.
Intussen het hierdie broers talle regeringskantore besoek om permanente visums te probeer kry. Mnr. Houphouët-Boigny, wat later die president van die Ivoorkus geword het, het aangebied om te help. “Die waarheid”, het hy gesê, “het hoegenaamd geen grense nie. Dit is soos ’n groot rivier; dam dit op en dit sal die dam oorstroom.” Toe ’n Katolieke priester en ’n Metodisteleraar hulle in die saak probeer inmeng het, het Ouezzin Coulibaly, ’n regeringsverteenwoordiger, gesê: “Ek verteenwoordig die mense van hierdie land. Ons is die mense en ons hou van Jehovah se Getuies, en daarom wil ons hê hulle moet hier in hierdie land bly.”
Dissipels wat werklik verstaan
Toe Jesus opdrag gegee het dat ‘dissipels van al die nasies gemaak moet word’, het hy ook beveel dat diegene wat dissipels word—dié wat Christus se leringe glo en hulle toepas—gedoop moet word (Matt. 28:19). In ooreenstemming hiermee word daar by die gereelde byeenkomste en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies voorsiening gemaak sodat nuwe dissipels gedoop kan word. Daar word miskien by elkeen van die geleenthede min gedoop. Maar by ’n byeenkoms in Nigerië in 1970 is daar 3 775 nuwe Getuies gedoop. Groot getalle is egter nie die doelwit nie.
Toe daar is 1956 in die Goudkus besef is dat party wat hulle laat doop het nie hulle geloof op ’n vaste grondslag gebou het nie, is ’n reëling daar ingestel om doopkandidate goed te keur. Plaaslike gemeentelike opsieners in die Goudkus is die verantwoordelikheid gegee om persoonlik seker te maak dat elke doopkandidaat juiste kennis van Bybelse grondwaarhede het, dat hy volgens Bybelstandaarde lewe en dat hy die verpligtinge van ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah duidelik begryp. Mettertyd is ’n soortgelyke prosedure wêreldwyd in werking gestel. In 1967 is ’n breedvoerige skets vir die hersiening van Bybelse grondleringe met doopkandidate in die boek “U woord is ’n lamp vir my voet” (in Engels) voorsien. Ná jare se ondervinding is ’n bygewerkte weergawe van daardie skets in 1983 in die boek Georganiseer om ons bediening te vervul gepubliseer.
Is die behoeftes van mense wat min of geen formele skoolopleiding gehad het nie met so ’n reëling in aanmerking geneem?
Daar word werk gemaak van ongeletterdheid
In 1957 het die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur geskat dat ongeveer 44 persent van die wêreldbevolking van 15 jaar en ouer nie kan lees of skryf nie. Daar is berig dat 75 persent van die volwassenes in 42 lande in Afrika, 2 in die Amerikas, 28 in Asië en 4 in die Suidsee-eilande ongeletterd is. Hulle moes nietemin ook die geleentheid gegee word om God se wet te leer ken sodat hulle kon leer om onderdane van sy Koninkryk te wees. Baie wat nie kon lees nie, was skerp van verstand en kon baie onthou van wat hulle gehoor het, maar hulle kon steeds nie self die kosbare Woord van God lees en die gedrukte Bybelstudiehulpe benut nie.
Individuele Getuies het al jare lank mense gehelp wat wou leer lees. Maar in 1949 en 1950 het Jehovah se Getuies in baie Afrikalande lees-en-skryf-klasse in elkeen van hulle gemeentes begin. Die klasse is gewoonlik in Koninkryksale gehou, en in sommige plekke is die hele dorpie genooi om by die program baat te vind.
Waar die regering ’n lees-en-skryf-program aangebied het, het Jehovah se Getuies met graagte daarmee saamgewerk. In baie gebiede moes die Getuies egter hulle eie handleidings opstel en gebruik. Hierdie klasse wat Jehovah se Getuies aanbied, het al tienduisende mense, waaronder duisende vroue en bejaardes, gehelp om te lees en skryf. Danksy die onderrigmetode wat in die kursus gebruik word, het hulle nie net leer lees en skryf nie, maar terselfdertyd die grondwaarhede in God se Heilige Woord geleer. Dit het hulle gehelp om aan die vereistes te voldoen om aan die dissipelmaakwerk deel te neem wat Jesus beveel het. Die begeerte om dit op bekwame wyse te doen, het talle beweeg om ’n doelgerigte poging aan te wend om te leer lees.
Toe ’n huisbewoner in Dahomey (nou Benin), Wes-Afrika, geweier het om na ’n nuwe Getuie te luister omdat dié Getuie nie kon lees nie, het die Getuie hom voorgeneem om daardie probleem te oorkom. Hy het nie net die lees-en-skryf-klasse bygewoon nie, maar het ook op sy eie geoefen. Ses weke later het hy daardie selfde huisbewoner besoek; die man was so verbaas om te hoor hoe hierdie persoon, wat so kort gelede nog ongeletterd was, uit God se Woord vir hom lees dat hy ook belangstelling in die Getuie se boodskap getoon het. Party wat in hierdie lees-en-skryf-klasse onderrig is, word mettertyd selfs reisende opsieners, wat ’n aantal gemeentes het om te onderrig. Dit was die geval met Ezekiel Ovbiagele in Nigerië.
Onderrigting met behulp van rolprente en skyfievertonings
Om diegene wat in die Bybel belangstel, te help om die omvang van Jehovah se sigbare organisasie te besef, is ’n rolprent in 1954 vrygestel. Hierdie film, The New World Society in Action, het ook gehelp om gemeenskapsvooroordeel af te breek.
In wat nou as Zambië bekend staan, moes ’n draagbare kragopwekker dikwels gebruik word om die film te vertoon. ’n Wit seil wat tussen twee bome gespan is, het as ’n projeksieskerm gedien. In die Barotse-provinsie het die opperhoof saam met sy koninklike familie na die film gekyk, en toe wou hy hê dit moet aan die publiek vertoon word. Gevolglik het 2 500 mense dit die volgende aand gesien. Oor ’n tydperk van 17 jaar het meer as eenmiljoen in Zambië die filmvertonings bygewoon. Dié wat dit bygewoon het, was verheug oor wat hulle gesien het. Van nabygeleë Tanganjika (nou ’n deel van Tanzanië) is daar berig dat die skare ná die filmvertoning aanhoudend “Ndaka, ndaka” (Dankie, dankie) uitgeroep het.
Ná die rolprent The New World Society in Action is nog films vrygestel, soos: The Happiness of the New World Society, Proclaiming “Everlasting Good News” Around the World, God Cannot Lie en Heritage. Daar was ook al skyfievertonings met kommentaar wat gehandel het oor hoe prakties die Bybel in ons tyd is, die heidense oorsprong van die Christendom se leerstellings en gebruike en die betekenis van wêreldtoestande in die lig van Bybelprofesieë, sowel as skyfievertonings oor Jehovah se Getuies as ’n organisasie, met ’n besoek aan hulle wêreldhoofkwartier, opwindende byeenkomste in lande waar hulle werk voorheen verbode was en ’n oorsig van hulle hedendaagse geskiedenis. Dit alles het mense help besef dat Jehovah inderdaad ’n volk op die aarde het en dat die Bybel Sy geïnspireerde Woord is.
Die ware skape word geïdentifiseer
In sekere lande het mense wat maar net Wagtoringpublikasies besit het, gesê dat hulle Getuies van Jehovah is of die naam Wagtoring gebruik. Maar het hulle hulle opvattinge en hulle lewenswyse in ooreenstemming met Bybelstandaarde verander? Sou hulle, as hulle die nodige onderrig gegee word, waarlik skaapgeaarde mense wees wat na die stem van die Meester, Jesus Christus, luister?—Joh. 10:4, 5.
Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Suid-Afrika het in 1954 ’n verstommende brief van ’n groep Afrikane by Baía dos Tigres, ’n strafkolonie in die suide van Angola, ontvang. Die skrywer, João Mancoca, het gesê: “Die groep wat in Angola as Jehovah se Getuies bekend staan, bestaan uit 1 000 lede. Hulle leier is Simão Gonçalves Toco.” Wie was Simão Toco? Was sy aanhangers werklik Getuies van Jehovah?
Reëlings is getref dat John Cooke, ’n sendeling wat Portugees kon praat, Angola besoek. Ná ’n lang onderhoud met ’n koloniale amptenaar is broer Cooke toegelaat om João Mancoca te besoek. Broer Cooke het uitgevind dat Simão Toco in die veertigerjare Wagtoringlektuur gekry het toe hy aan ’n Baptistesending in die Belgiese Kongo (nou Zaïre) verbonde was, en hy het sy intieme metgeselle vertel wat hy geleer het. Maar toe het spiritiste die groep beïnvloed, en mettertyd het Simão Toco heeltemal opgehou om die Wagtoringlektuur en die Bybel te gebruik. Pleks daarvan het hy geesmediums geraadpleeg. Sy aanhangers is deur die regering na Angola gerepatrieer en het toe in verskillende dele van die land gaan woon.
João Mancoca was een van Simão Toco se metgeselle, maar João Mancoca het ander probeer oorreed om op te hou om spiritisme te beoefen en om eerder die Bybel te volg. Party van Simão Toco se volgelinge het nie hiervan gehou nie en het João Mancoca valslik by die Portugese owerheid gaan aankla. Gevolglik is João Mancoca en dié wat sy beskouing gedeel het na ’n strafkolonie gestuur. Van daar het hy met die Wagtoringgenootskap in aanraking gekom en nog Bybellektuur bekom. Hy was nederig, geestelik gesind en het intens daarin belanggestel om nou saam te werk met die organisasie waardeur hy die waarheid geleer het. Nadat broer Cooke ure lank Bybelwaarhede met hierdie groep bespreek het, het daar geen twyfel by hom bestaan dat João Mancoca werklik een van die Here se skape is nie. Broer Mancoca bewys dit nou al baie jare lank onder die moeilikste omstandighede.
Onderhoude is ook met Simão Toco en party van sy volgelinge gevoer. Met ’n paar uitsonderings het hulle egter bewys dat hulle nie die skaapgeaarde eienskappe van Christus se volgelinge het nie. Daar was dus op daardie tydstip nie 1 000 Getuies van Jehovah in Angola nie, maar net ongeveer 25.
Intussen het daar in die Belgiese Kongo (nou Zaïre) nog ’n identiteitsverwarring ontstaan. Daar was ’n godsdienstig-politiese beweging wat as die Kitawala bekend gestaan het, maar wat soms ook die naam Wagtoring gebruik het. In party van die lede se huise is publikasies van Jehovah se Getuies gevind, wat hulle deur die pos gekry het. Maar die leringe en gebruike van die Kitawala (onder andere rassisme, ondermyning van gesag om politieke of maatskaplike veranderinge teweeg te bring en growwe geslagsonsedelikheid in die naam van aanbidding) het in geen opsig die leringe en gebruike van Jehovah se Getuies verteenwoordig nie. Tog het sekere gepubliseerde berigte die Wagtoringgenootskap van Jehovah se Getuies met die Kitawala probeer verbind.
Herhaalde pogings deur Jehovah se Getuies om opgeleide opsieners na daardie land te stuur, is deur Belgiese amptenare in die wiele gery. Katolieke en Protestantse groepe was hoog in hulle skik hiermee. Veral van 1949 af is mense in die Belgiese Kongo wat probeer het om die Bybel met behulp van Wagtoringlektuur te bestudeer wreed vervolg. Maar soos een van die getroue Getuies daar gesê het: “Ons is soos ’n sak mieliepitte. Waar hulle ons ook al neem, sal die Woord uitval, een vir een, totdat die reën kom, en hulle sal ons oral sien opskiet.” En dit het ook so gebeur dat die aantal bedrywige Getuies van Jehovah tussen 1949 en 1960 ten spyte van moeilike omstandighede van 48 tot 1 528 toegeneem het.
Die amptenare het gaandeweg besef dat Jehovah se Getuies baie anders as die Kitawala is. Toe die Getuies ’n mate van vryheid gegee is om te vergader, het regeringswaarnemers dikwels melding gemaak van hulle goeie gedrag en ordelikheid. Wanneer daar oproerige optogte vir politieke onafhanklikheid was, het mense geweet dat Jehovah se Getuies nie daarby betrokke is nie. In 1961 is ’n bekwame Getuie-opsiener, Ernest Heuse jr., van België, uiteindelik toegelaat om die land binne te gaan. Danksy ywerige en harde werk was dit moontlik om die broers te help om hulle gemeentes en hulle lewe geleidelik meer in ooreenstemming met God se Woord te bring. Daar was baie dinge wat geleer moes word, en dit het groot geduld geverg.
Omdat die Kitawala gedink het dat dit hulle in ’n gunstige lig sou plaas, het hulle in sommige gebiede lang lyste name gestuur van hulle volgelinge wat as Jehovah se Getuies erken wou word. Broer Heuse het wyslik bekwame broers na hierdie gebiede gestuur om uit te vind watter soort mense hulle is. Hulle het eerder Bybelstudies met individue gehou as om groot groepe te aanvaar.
Mettertyd het dit duidelik geword wie die ware skape is, naamlik diegene wat werklik Jesus Christus as hulle Herder beskou. En daar was baie van hulle. Hulle het weer ander geleer. Deur die jare heen het talle Wagtoringsendelinge van ander lande saam met hulle kom werk om hulle te help om juister kennis van God se Woord op te bou, asook die nodige opleiding te voorsien. Teen 1975 was daar 17 477 Getuies van Jehovah in Zaïre, georganiseer in 526 gemeentes, wat God se Woord verkondig en ander daarin onderrig het.
Die mag van fetisjisme word verbreek
Wes van Nigerië lê die land Benin (voorheen Dahomey), met ’n bevolking wat in 60 etniese groepe verdeel is en sowat 50 tale en dialekte praat. Net soos in die meeste Afrikalande, is animisme die tradisionele godsdiens, en dit gaan met vooroueraanbidding gepaard. In so ’n godsdiensmilieu word mense se lewe deur bygelowigheid en vrees oorheers. Baie wat sê dat hulle Christene is, beoefen ook animisme.
Van die laat twintigerjare tot in die veertigerjare het Jehovah se Getuies van Nigerië baie saad van Bybelwaarheid in Dahomey gesaai deur van tyd tot tyd Bybellektuur daar te gaan versprei. Baie van daardie saad het bloot ’n bietjie water nodig gehad om te ontkiem. Daardie sorg is in 1948 voorsien toe Nouru Akintoundé, wat in Dahomey gebore is en in Nigerië gewoon het, na Dahomey teruggekeer het om as ’n pionier te dien. Binne vier maande het 300 mense gou die waarheid aangeneem en saam met hom aan die veldbediening deelgeneem. Hierdie reaksie het alle redelike verwagtinge oortref.
As gevolg van hierdie bedrywigheid het daar spoedig verontrusting nie alleen onder die Christendom se geestelikes nie, maar ook onder die animiste ontstaan. Toe die sekretaresse van die fetisjklooster in Porto Novo in die waarheid begin belangstel het, het die fetisjleier gesê dat die sekretaresse binne sewe dae sou sterf. Maar hierdie voormalige kloostersekretaresse het ferm gesê: “As Jehovah deur die fetisj gemaak is, sal ek sterf; maar as Jehovah die allerhoogste God is, sal hy die fetisj oorwin.” (Vergelyk Deuteronomium 4:35, NW; Johannes 17:3.) Om te verseker dat sy voorspelling sou uitkom, het die fetisjleier op die aand van die sesde dag allerhande toordery beoefen en toe gesê dat hierdie voormalige kloostersekretaresse dood is. Daar was egter groot konsternasie onder die fetisjaanbidders toe sy die volgende dag in lewende lywe by die mark in Cotonou opgedaag het. Later het een van die broers ’n motor gehuur en met haar deur Porto Novo gery sodat almal self kon sien dat sy lewe. Hierna het baie ander fetisjaanbidders ’n ferm standpunt vir die waarheid ingeneem.—Vergelyk Jeremia 10:5.
Kort voor lank is Wagtoringpublikasies as gevolg van groot godsdiensdruk in Dahomey verbied. Maar die Getuies het in gehoorsaamheid aan Jehovah God aangehou preek, dikwels met net die Bybel. Partykeer het hulle as “straatverkopers” met allerhande goedere die huis-tot-huis-werk gedoen. As die gesprek goed verloop het, het hulle die aandag op die Bybel gevestig en dalk selfs ’n kosbare stuk Bybellektuur uit ’n groot binnesak van hulle kleed gehaal.
Wanneer die polisie dit vir hulle in die stede baie moeilik gemaak het, het hulle in die plattelandse gebiede gepreek. (Vergelyk Mattheüs 10:23.) En wanneer hulle in die tronk gegooi is, het hulle daar gepreek. In 1955 het Getuies wat in die tronk was ten minste 18 belangstellendes onder die gevangenes en tronkbeamptes by Abomey gevind.
Binne net ’n dekade nadat die Dahomiese pionierbroer na sy geboorteland teruggekeer het om te preek, was daar 1 426 in die bediening bedrywig—en dít ondanks die regeringsverbod op hulle werk!
Nog werkers neem deel aan die oes
Dit was duidelik dat daar baie mense regdeur Afrika was wat na die waarheid gehonger het. Die oes was groot, maar die arbeiders was min. Dit was derhalwe vir die broers aanmoedigend om te sien hoe die Here van die oes, Jehovah God, hulle gebede om meer helpers in die geestelike insamelingswerk verhoor.—Matt. 9:37, 38.
Baie lektuur is gedurende die dertigerjare deur reisende pioniers in Kenia versprei, maar min is gedoen om belangstelling aan te kweek. Maar in 1949 het Mary Whittington met haar drie jong kinders van Brittanje af geemigreer om in Nairobi saam met haar man, wat daar werksaam was, te gaan woon. Suster Whittington was skaars ’n jaar gedoop, maar sy het die gees van ’n pionier gehad. Hoewel sy van geen ander Getuie in Kenia geweet het nie, het sy ander in hierdie groot gebied begin help om die waarheid te leer. Ondanks struikelblokke het sy nie opgegee nie. Ander Getuies het ook gekom—van Australië, Brittanje, Kanada, Suid-Afrika, Swede, die Verenigde State en Zambië—mense wat persoonlik gereël het om daarheen te verhuis om die Koninkrykshoop aan die mense te verkondig.
Sendelingegpare is ook gestuur om met die oes te help. Aanvanklik moes die mans sekulêre werk doen om in die land te kon bly, en dus het hulle betreklik min tyd vir die bediening gehad. Maar hulle vrouens was vry om as pioniers te dien. Met verloop van tyd het meer as honderd Gileadopgeleide sendelinge na Kenia gekom. Toe onafhanklikheid in sig was, wat die einde van die apartheid sou beteken wat deur die Britse koloniale regering gehandhaaf is, het blanke Getuies Swahili geleer en vinnig hulle bedrywigheid na die plaaslike swart mense uitgebrei. Die aantal Getuies in hierdie deel van die wêreldveld het vinnig toegeneem.
In 1972 het Botswana ook hulp met die geestelike oes ontvang toe Getuies van Brittanje, Kenia en Suid-Afrika na die groter stede in die land verhuis het. Drie jaar later het Gileadopgeleide sendelinge ook gekom. Die bevolking is egter grotendeels in plattelandse dorpies versprei. Om hulle te bereik, het Getuies van Suid-Afrika deur die Kalahariwoestyn gereis. In afgesonderde gemeenskappe het hulle vir die hoofmanne van dorpies, vir onderwysers en dikwels vir groepe van 10 of 20 waarderende luisteraars gepreek. Een bejaarde man het gesê: “Het julle hierdie hele ent gekom net om met ons oor hierdie dinge te praat? Dit is gaaf van julle, baie gaaf.”
“Bible Brown” het gedurende die twintigerjare kragtige Bybeltoesprake in Liberië gehou, maar daar was heelwat teëstand. Die geestelike oeswerk daar het nie eintlik gevorder totdat sendelinge wat by die Gileadskool opgelei is daar aangekom het nie. Harry Behannan, wat in 1946 gekom het, was die eerste. Baie ander het in die daaropvolgende jare gehelp. Plaaslike Liberiërs het geleidelik by hulle in die werk aangesluit, en teen 1975 was daar meer as duisend lowers van Jehovah.
“Bible Brown” het selfs nog meer verkondigingswerk in Nigerië gedoen. Dit is ’n nasie wat in talle koninkryke, stadstate en maatskaplike stelsels verdeel is en waar die mense meer as 250 tale en dialekte praat. Godsdiens is nog ’n verdelende faktor. Met min takt, maar kragtige skriftuurlike argumente het die vroeë Getuies die geestelikes en hulle valse leerstellings aan die kaak gestel. Toe hulle lektuur gedurende die Tweede Wêreldoorlog verbied is, het die broers met net die Bybel gepreek. Mense wat die waarheid liefhet, het met waardering gereageer. Hulle het uit die kerke bedank, toe van poligamie weggebreek en van hulle toorgoed ontslae geraak, dinge wat die kerke toegelaat het. Teen 1950 het 8 370 Getuies van Jehovah die Koninkryksboodskap in Nigerië verkondig. Teen 1970 was daar meer as tien keer soveel.
Voortdurende regstruikelblokke moes oorkom word sodat geestelike hulp aan belangstellendes in Suid-Rhodesië (wat nou as Zimbabwe bekend staan) gegee kon word. Pogings is reeds van die middel-twintigerjare af aangewend om wetlike erkenning te verkry. In 1932 is pioniers van Suid-Afrika beveel om die land te verlaat en is hulle sonder meer aangesê dat hulle nie daarteen kon appelleer nie. Maar hulle het nietemin geappelleer. Aantygings dat Wagtoringlektuur opruiend is, moes in die howe weerlê word. In die vroeë veertigerjare is broers in die tronk gegooi omdat hulle publikasies versprei het wat die Bybel verduidelik. Eers in 1966 het Jehovah se Getuies in Zimbabwe volle wetlike erkenning as ’n godsdiensorganisasie gekry. Die geestelike oeswerk is meer as 40 jaar onder moeilike toestande gedoen, maar gedurende daardie tyd het moedige werkers meer as 11 000 gehelp om knegte van Jehovah God te word.
’n Getuienis aan goewerneurs en konings
Jesus het geweet dat sy dissipels teëstand in hulle bediening sou ondervind. Hy het vir hulle gesê dat hulle aan “regbanke” oorgelewer en selfs voor “goewerneurs en konings” gebring sou word en dat dit “’n getuienis vir hulle en vir die heidene” sou wees (Matt. 10:17, 18). Jehovah se Getuies het ondervind presies wat Jesus voorspel het, en in ooreenstemming met sy woorde het hulle die geleentheid probeer gebruik om ’n getuienis te gee.
Party amptenare het toegelaat dat vrees hulle daarvan weerhou om goed te doen aan Christus se volgelinge (Joh. 12:42, 43). Llewelyn Phillips het bewys hiervan gesien toe hy in 1948 privaat onderhoude met ’n aantal staatsamptenare in die Belgiese Kongo gevoer het in ’n poging om verligting vir vervolgde Getuies daar te bring. Hy het die leringe en bedrywighede van Jehovah se Getuies aan hierdie manne verduidelik. Maar gedurende die onderhoud het die goewerneur-generaal droefgeestig gesê: “En as ek julle help, wat gaan van my word?” Hy het geweet dat die Rooms-Katolieke Kerk groot invloed in daardie land uitoefen.
Die opperhoof van die Swazi-volk, koning Sobhuza II, het hom egter nie veel gesteur aan wat die geestelikes dink nie. Hy het dikwels met Jehovah se Getuies gesels, het baie van hulle lektuur gehad en was hulle goedgesind. Elke jaar op “Goeie Vrydag” het hy die swart geestelikes na sy koninklike kraal genooi. Hy het hulle laat praat, maar hy het ook een van Jehovah se Getuies gevra om te praat. In 1956 het die Getuie oor die leerstelling van die onsterflikheid van die siel en die eretitels van godsdiensleiers gepraat. Toe hy klaar was, het die opperhoof die geestelikes gevra: “Is hierdie dinge wat Jehovah se getuies hier sê waar of vals? As dit vals is, moet julle sê waarom.” Hulle kon dit nie weerlê nie. By een geleentheid het die opperhoof selfs uitgebars van die lag toe hy die konsternasie van die geestelikes sien oor wat ’n Getuie gesê het.
Die taak om redes by die Getuies te kry vir wat hulle doen, het dikwels op die polisie geval. Getuies het gereeld van die gemeente in Tanger, Marokko, na Ceuta gereis, ’n hawe wat onder Spaanse beheer is hoewel dit op die Marokkaanse kus is. In 1967 het die polisie eenkeer die Getuies aangekeer en hulle twee uur lank ondervra, waartydens ’n uitstekende getuienis gegee is. Op een stadium het twee polisie-inspekteurs gevra of die Getuies in die “Maagd Maria” glo. Toe daar aan hulle verduidelik is dat die Evangelieverslae toon dat Maria ander kinders ná die maagdelike geboorte van Jesus gehad het, en dat hulle Jesus se halfbroers en -susters was, het die offisiere van verbasing na hulle asem gesnak en gesê dat so iets nêrens in die Bybel voorkom nie. Toe Johannes 7:3-5 vir hulle gewys is, het een van die offisiere lank daarna gekyk sonder om ’n woord te sê; toe sê die ander een: “Gee my daardie Bybel; ek sal die teks verduidelik!” Die eerste offisier het geantwoord: “Vergeet dit. Hierdie teks is te duidelik.” Baie ander vrae is gevra en in ’n ontspanne atmosfeer beantwoord. Daarna het die owerheid baie selde met die Getuies se predikingswerk in daardie gebied ingemeng.
Hooggeplaaste staatsamptenare het Jehovah se Getuies en hulle bediening al goed leer ken. Party van hulle besef dat die werk wat die Getuies doen die mense werklik tot voordeel strek. Laat in 1959, toe voorbereidsels vir Nigerië se onafhanklikheid getref is, het die goewerneur-generaal, dr. Nnamdi Azikiwe, versoek dat W. R. Brown as ’n verteenwoordiger van Jehovah se Getuies teenwoordig moet wees. Hy het vir sy Ministersraad gesê: “As al die godsdiensorganisasies soos Jehovah se getuies was, sou ons geen moorde, inbrake, misdaad, gevangenes en atoombomme gehad het nie. Deure sou nie dag in en dag uit gesluit wees nie.”
’n Ryk geestelike oes is in Afrika ingesamel. Teen 1975 was daar 312 754 Getuies wat die goeie nuus in 44 lande op die vasteland van Afrika verkondig het. In nege van daardie lande was daar minder as 50 wat hulle standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem en aan die evangelisasiewerk deelgeneem het. Maar die Getuies beskou almal se lewe as kosbaar. In 19 van hierdie lande was daar duisende Getuies van Jehovah wat aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het. Enorme vermeerderings is in sommige gebiede gerapporteer. In Angola het die aantal Getuies byvoorbeeld tussen 1970 en 1975 van 355 tot 3 055 vermeerder. In Nigerië was daar 112 164 Getuies van Jehovah in 1975. Dit was nie bloot mense wat dit geniet het om Wagtoringlektuur te lees of wat dalk net af en toe vergaderinge by ’n Koninkryksaal bygewoon het nie. Hulle was almal bedrywige verkondigers van God se Koninkryk.
Lowers van Jehovah in die Ooste
Soos in baie ander plekke, het die bedrywigheid van Jehovah se Getuies in die Filippyne ná die Tweede Wêreldoorlog vinnig uitgebrei. Joseph Dos Santos het so gou moontlik ná sy vrylating uit die tronk op 13 Maart 1945 met die Wagtoringgenootskap se kantoor in New York in verbinding getree. Hy wou al die Bybelstudiemateriaal en organisatoriese riglyne hê wat die broers in die Filippyne nie gedurende die oorlog ontvang het nie. Toe het hy gemeentes self besoek om hulle te verenig en te versterk. Daardie selfde jaar is ’n nasionale byeenkoms in Lingayen, Pangasinan, gehou, waar riglyne gegee is oor hoe mense wat na die waarheid honger deur middel van tuisbybelstudies onderrig kan word. Gedurende die daaropvolgende jare is ’n doelgerigte poging aangewend om meer materiaal in die plaaslike tale—Tagalog, Iloko en Cebuano—te vertaal en uit te gee. Die grondslag vir uitbreiding is gelê, en dit het vinnig gekom.
Binne ’n dekade ná afloop van die oorlog het die aantal Getuies in die Filippyne van ongeveer 2 000 tot meer as 24 000 toegeneem. Ná nog 20 jaar was daar ver oor die 78 000 lowers van Jehovah in daardie land.
China was een van die eerste Oosterse lande waarheen sendelinge wat by die Gileadskool opgelei is, gestuur is. Harold King en Stanley Jones het in 1947 in Sjanghai aangekom; Lew Ti Himm in 1949. Die drie Duitse pioniers wat in 1939 daar begin werk het, was daar om hulle te groet. Dit is ’n land waar die meeste mense Boeddhiste is, en hulle het nie gou op Bybelbesprekings gereageer nie. In hulle huise was daar heiligdomme en altare. Spieëls is bokant deure gehang om bose geeste te probeer afskrik. Ingange was versier met rooi bandjies met ‘geluk’-spreuke asook skrikwekkende prente van Boeddhistiese gode. Maar dit was ’n tyd toe groot veranderinge in China plaasgevind het. Onder die Kommunistiese regering is almal verplig om ‘die gedagtes van Mao Tse-toeng’ te bestudeer. Ná hulle sekulêre werk moes hulle lang sessies bywoon waartydens Kommunisme bespreek is. Ten spyte van al hierdie dinge het ons broers besig gebly met die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.
Baie van die mense wat gewillig was om saam met Jehovah se Getuies te studeer, het voorheen deur die kerke van die Christendom kontak met die Bybel gehad. Dit was die geval met Nancy Yuen, ’n kerkwerkster en ’n huisvrou wat waardeer het wat die Getuies haar in die Bybel gewys het. Kort voor lank het sy ywerig aan die huis-tot-huis-werk deelgeneem en self Bybelstudies gehou. Ander vir wie hulle gepreek het, het ’n tipiese Chinese en Boeddhistiese agtergrond gehad en het geen vorige kennis van die Bybel gehad nie. In 1956 is ’n hoogtepunt van 57 verkondigers bereik. Maar daardie selfde jaar is Nancy Yuen, nadat sy ses keer in hegtenis geneem is omdat sy gepreek het, in die tronk gehou. Ander is gevange geneem of gedwing om die land te verlaat. Stanley Jones en Harold King is op 14 Oktober 1958 gevange geneem. Voordat hulle in die hof verskyn het, is hulle twee jaar aangehou. Gedurende daardie tyd is hulle herhaaldelik ondervra. Toe hulle uiteindelik in 1960 voor die hof verskyn het, is hulle albei ’n lang tronkstraf opgelê. In Oktober 1958 is die openbare bedrywigheid van Jehovah se Getuies in China dus met geweld stopgesit. Maar hulle predikingswerk het nooit heeltemal opgehou nie. Selfs in die tronk en in werkkampe was daar maniere om te getuig. Sou meer in die toekoms in hierdie ontsaglike land gedoen word? Dit sou mettertyd bekend word.
Wat het intussen in Japan gebeur? Voor die Tweede Wêreldoorlog was daar net ongeveer honderd Getuies van Jehovah wat daar gepreek het. Baie van hulle het hulle geloof prysgegee toe hulle gedurende die oorlogsjare wreed vervolg is. Hoewel ’n paar hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het, het die georganiseerde openbare predikingswerk tot stilstand gekom. Die verkondiging van Jehovah se Koninkryk in daardie deel van die wêreld het egter herlewe toe Don Haslett, ’n Gileadopgeleide sendeling, in Januarie 1949 in Tokio aangekom het. Sy vrou Mabel het twee maande later by hom aangesluit. Dit was ’n land waarin baie mense na die waarheid gehonger het. Die keiser het sy bewering dat hy ’n god is, teruggetrek. Sjintoïsme, Boeddhisme, Katolisisme en Kjodan (wat uit verskeie Protestantse groepe in Japan bestaan) het almal aansien by die mense verloor omdat hulle die Japannese oorlogspoging, wat in ’n neerlaag geëindig het, gesteun het.
Teen die einde van 1949 was daar 13 sendelinge van die Gileadskool in Japan. Nog het gekom—altesaam meer as 160. Daar was bitter min lektuur om mee te werk. Party van die sendelinge het die outydse Japannees in Hawaii gepraat, maar hulle moes die moderne taal leer. Die ander het ’n paar basiese uitdrukkings geleer, maar moes dikwels hulle Japannees-Engelse woordeboeke gebruik totdat hulle beter vertroud was met hulle nuwe taal. Kort voor lank het die Isjii- en die Mioera-gesin, wat nie hulle geloof gedurende die oorlogsjare prysgegee het nie, met die organisasie in aanraking gekom en weer eens aan die openbare bediening begin deelneem.
Sendinghuise is gaandeweg in Kobe, Nagoja, Osaka, Jokohama, Kioto en Sendai geopen. Van 1949 tot 1957 was die hoofdoelwit om die Koninkrykswerk in die groot stede op Japan se hoofeiland gevestig te kry. Daarna het die werkers in ander stede begin preek. Die veld was ontsaglik groot. Dit was duidelik dat baie pionierbedienaars nodig sou wees om die hele Japan ’n deeglike getuienis te gee. Dit is beklemtoon, baie het toe pioniers geword en daar was ’n wonderlike reaksie op die verenigde pogings van hierdie hardwerkende bedienaars! Gedurende die eerste dekade het 1 390 mense lowers van Jehovah geword. Teen die middel-sewentigerjare was daar 33 480 ywerige lowers van Jehovah dwarsdeur Japan. En die tempo van die insamelingswerk het versnel.
In dieselfde jaar wat Don Haslett in Japan aangekom het, 1949, is die Koninkrykswerk in die Republiek van Korea ook ’n groot stoot gegee. Korea was gedurende die oorlog onder Japannese oorheersing, en die Getuies is genadeloos vervolg. Hoewel ’n klein groepie ná die oorlog vir studie vergader het, was daar geen kontak met die internasionale organisasie totdat Tsjoi Joung-won in 1948 ’n berig oor Jehovah se Getuies in die Amerikaanse Weermag-koerant Stars and Stripes gelees het nie. Die volgende jaar is ’n gemeente van 12 verkondigers in Seoel gevorm. Later daardie jaar het Don en Earlene Steele, die eerste sendelinge van die Gileadskool, daar aangekom. Sewe maande later het nog ses sendelinge gekom.
Hulle het uitstekende resultate geniet—’n gemiddelde van 20 Bybelstudies elk en vergaderingbywoning van tot 336. Toe het die Koreaanse Oorlog uitgebreek. Skaars meer as drie maande nadat die laaste groep sendelinge daar aangekom het, is hulle almal weggestuur na Japan toe. Meer as ’n jaar het verloop voordat Don Steele na Seoel kon terugkeer, en nog ’n jaar voor Earlene by hom kon aansluit. Intussen het die Koreaanse broers standvastig gebly en ywerig gepreek, ten spyte van die feit dat party hulle huise verloor het en baie van hulle vlugtelinge was. Maar nou, met die oorlog agter die rug, is aandag daaraan geskenk om meer lektuur in Koreaans te voorsien. Byeenkomste en die instroming van nog sendelinge het die werk ’n stoot gegee. Teen 1975 was daar 32 693 Getuies van Jehovah in die Republiek van Korea—byna net soveel as in Japan—en daar was potensiaal vir uitstekende groei, aangesien meer as 32 000 tuisbybelstudies gehou is.
Wat was die toedrag van sake in Europa?
Die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa het nie tot algehele vryheid vir Jehovah se Getuies daar gelei sodat hulle hulle Bybelonderrigtingswerk sonder teëstand kon doen nie. Op party plekke het amptenare hulle gerespekteer vir die ferm standpunt wat hulle gedurende die oorlog gehandhaaf het. Maar elders het intense nasionalisme en godsdienstige vyandigheid tot verdere vervolging gelei.
Onder die Getuies in België was daar party wat van Duitsland af gekom het om aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem. Omdat hulle nie die Nazi-regime wou ondersteun nie, het die Gestapo hulle soos wilde diere agtervolg. Maar nou het Belgiese amptenare party van hierdie selfde Getuies daarvan beskuldig dat hulle Nazi’s is en hulle gevange laat neem en toe gedeporteer. Ondanks dit alles het die aantal Getuies wat in België aan die veldbediening deelgeneem het binne vyf jaar ná die oorlog meer as verdrievoudig.
Wie het agter baie van die vervolging gesit? Die Rooms-Katolieke Kerk. Waar die Kerk ook al die mag gehad het, was hy meedoënloos in sy stryd om Jehovah se Getuies uit te wis.
Aangesien hulle geweet het dat baie mense in die Weste die Kommunisme gevrees het, het die Katolieke geestelikes in die Ierse stad Cork in 1948 teëstand teen Jehovah se Getuies aangehits deur gedurig van hulle as “Kommunistiese duiwels” te praat. Toe Fred Metcalfe in die veldbediening besig was, is hy gevolglik deur ’n oproerige skare gekonfronteer wat hom geslaan en geskop en sy Bybellektuur in die straat rondgestrooi het. Gelukkig het ’n polisieman juis toe daar opgedaag en die skare uiteengejaag. Ten spyte hiervan het die Getuies volhard. Nie al die Iere het die geweld goedgekeur nie. Later was selfs party wat daaraan deel gehad het spyt daaroor. Die meeste Katolieke in Ierland het toe nog nooit ’n Bybel gesien nie. Maar met liefdevolle geduld is party gehelp om die waarheid wat mense vrymaak aan te neem.—Joh. 8:32.
Hoewel daar in 1946 maar net ongeveer honderd Getuies in Italië was, het hulle drie jaar later 64 gemeentes gehad—klein maar hardwerkende gemeentes. Die geestelikes was bekommerd. Aangesien die Katolieke geestelikes in Italië nie die Bybelwaarhede kon weerlê wat Jehovah se Getuies verkondig het nie, het hulle druk op staatsdepartemente uitgeoefen om van die Getuies te probeer ontslae raak. Daarom is die Getuiesendelinge in 1949 beveel om die land te verlaat.
Die Rooms-Katolieke geestelikes het herhaaldelik probeer om die Getuies se byeenkomste in Italië te ontwrig of te keer dat hulle gehou word. Hulle het hekelaars gebruik om ’n byeenkoms in 1948 in Sulmona te probeer ontwrig. In Milaan het hulle druk op die polisiehoof uitgeoefen om die permit vir ’n byeenkoms in 1950 by Teatro dell’Arte te kanselleer. In 1951 het hulle weer die polisie sover gekry om toestemming vir ’n byeenkoms in Cerignola te kanselleer. Maar in 1957, toe die polisie beveel het dat ’n Getuiebyeenkoms in Milaan stopgesit word, het die Italiaanse pers beswaar gemaak en is vrae in die parlement geopper. Rome se weekblad Il Mondo van 30 Julie 1957 het prontuit gesê dat die optrede bedoel was “om die aartsbiskop [Giovanni Battista Montini, wat later pous Paulus VI geword het] tevrede te stel”. Dit was algemeen bekend dat die Katolieke Kerk eeue lank die verspreiding van die Bybel in die tale van die gewone mens verbied het. Maar Jehovah se Getuies het aangehou om opregte Katolieke self te laat sien wat die Bybel sê. Die verskil tussen die Bybel en kerkdogma was duidelik. Ondanks die intense pogings van die Katolieke Kerk om dit te voorkom, het duisende die kerk verlaat, en teen 1975 was daar 51 248 Getuies van Jehovah in Italië. Hulle was almal bedrywige evangeliedienaars en het vinnig vermeerder.
In Katolieke Spanje was niemand verbaas dat die geestelikes daar ook druk op sekulêre amptenare uitgeoefen het om Jehovah se Getuies te probeer keer toe hulle georganiseerde bedrywigheid ná 1946 geleidelik weer op dreef gekom het nie. Gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies is ontwrig. Sendelinge is uit die land gesit. Getuies is in hegtenis geneem net omdat hulle die Bybel of Bybellektuur in hulle besit gehad het. Hulle is dikwels tot drie dae in vuil tronke aangehou, dan vrygelaat—en is dan sommer weer in hegtenis geneem, ondervra en in die tronk gegooi. Baie het vonnisse van ’n maand of langer uitgedien. Die priesters het sekulêre owerhede aangespoor om almal wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer op te spoor. Selfs nadat die Wet op Godsdiensvryheid in 1967 aangeneem is, het veranderinge maar stadig ingetree. Nogtans was daar teen 1970, toe Jehovah se Getuies eindelik wetlik erken is, reeds meer as 11 000 Getuies in Spanje. En vyf jaar later was hulle meer as 30 000, elkeen ’n bedrywige evangeliedienaar.
En wat van Portugal? Hier is sendelinge ook beveel om die land te verlaat. Aangehits deur die Katolieke geestelikes, het die polisie die huise van Jehovah se Getuies deurgesoek, hulle lektuur gekonfiskeer en hulle vergaderinge ontwrig. In Januarie 1963 het die bevelvoerder van die Openbare Veiligheidspolisie van Caldas da Rainha selfs ’n skriftelike bevel uitgereik wat die Getuies verbied het om ‘hulle bedrywighede met betrekking tot Skriflesing te beoefen’. Maar die Getuies het nie hulle diens aan God laat vaar nie. Hulle was meer as 13 000 toe hulle in 1974 wetlike erkenning in Portugal gekry het.
In ander dele van Europa het sekulêre owerhede struikelblokke in die weg van die verkondiging van die goeie nuus gelê deur die verspreiding van Bybellektuur as ’n handelsbedrywigheid te klassifiseer, wat onderworpe is aan wette op handelsaangeleenthede. In ’n hele paar kantons van Switserland is verordeninge ten opsigte van smousery toegepas op Jehovah se Getuies se verspreiding van lektuur teen ’n vrywillige bydrae. Terwyl die Getuies hulle bediening voortgesit het, is hulle dikwels in hegtenis geneem en voor die hof gesleep. Toe die sake egter verhoor is, het sommige howe, met inbegrip van die Hoër Hof van die Vaud-kanton, in 1953, beslis dat die bedrywigheid van Jehovah se Getuies nie as smousery beskou kan word nie. Intussen is ’n poging in Denemarke aangewend om die tyd waartydens die Getuies lektuur mag aanbied, te beperk tot die tye wat deur die wet vir winkels bepaal word. Dit moes ook in die hof beveg word. Ten spyte van die struikelblokke het Jehovah se Getuies aangehou om God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom te verkondig.
Nog ’n kwessie wat Jehovah se Getuies in Europa sowel as in ander wêrelddele geraak het, was dié van Christelike neutraliteit. Omdat hulle Christelike gewete hulle nie toegelaat het om by konflikte tussen faksies van die wêreld betrokke te raak nie, is hulle in die een land na die ander tronkstraf opgelê (Jes. 2:2-4). Dit het jong manne weggeneem van hulle gewone huis-tot-huis-bediening. Maar een voordeel was dat regsverteenwoordigers, regters, militêre offisiere en tronkbewaarders ’n deeglike getuienis ontvang het. Selfs in die tronk het die Getuies maniere gevind om te preek. Hoewel die gevangenes in party tronke wreed behandel is, kon die Getuies in die Santa Catalina-gevangenis in Cadiz, Spanje, van hulle tyd gebruik om per brief te getuig. En in Swede het die manier waarop hofsake oor die neutraliteit van Jehovah se Getuies gehanteer is groot publisiteit ontvang. Mense is dus op baie maniere daarvan bewus gemaak dat Jehovah wel getuies op die aarde het en dat hulle streng volgens Bybelbeginsels lewe.
Daar was nog iets wat die Getuies op die voorgrond gehou het. Dit het ook ’n kragtige, positiewe uitwerking op hulle evangelisasiewerk gehad.
Byeenkomste dra by tot die getuienis
Toe Jehovah se Getuies in 1955 ’n internasionale byeenkoms in Parys, Frankryk, gehou het, het televisienuusberigte die hele land die geleentheid gegee om te sien wat plaasvind. In 1969 is nog ’n byeenkoms naby Parys gehou, en dit was duidelik dat die Getuies se bediening vrugbaar was. Daar is 3 619, of ongeveer 10 persent van die gemiddelde bywoningsyfer, by die byeenkoms gedoop. Die gewilde Paryse aandkoerant France-Soir van 6 Augustus 1969 het hieroor gesê: “Wat die geestelikes van ander godsdienste bekommer, is nie die metode wat Jehovah se getuies gebruik om ’n verstommende aantal publikasies te versprei nie, maar eerder die feit dat hulle mense bekeer. Elke getuie van Jehovah staan onder verpligting om te getuig of sy geloof te verkondig deur die Bybel van huis tot huis te gebruik.”
Oor ’n tydperk van drie weke gedurende daardie selfde somer van 1969 is nog vier groot internasionale byeenkomste in Europa gehou—in Londen, Kopenhagen, Rome en Neurenberg. Die byeenkoms in Neurenberg is deur 150 645 uit 78 lande bygewoon. Buiten vliegtuie en skepe was sowat 20 000 motors, 250 busse en 40 spesiale treine nodig om die byeenkomsgangers na daardie byeenkoms te vervoer.
Die byeenkomste het Jehovah se Getuies nie net versterk en toegerus vir hulle bediening nie, maar het ook die publiek die geleentheid gegee om self te sien watter soort mense Jehovah se Getuies is. Toe daar gereël is om in 1965 ’n internasionale byeenkoms in Dublin, Ierland, te hou, is intense godsdiensdruk op amptenare uitgeoefen om die reëlings te kanselleer. Maar die byeenkoms is gehou, en baie huisbewoners in Dublin het byeenkomsgangers gehuisves. Met watter gevolg? “Ons is nie die waarheid omtrent julle vertel nie”, het party van die vroue wat hulle huise oopgestel het ná die byeenkoms gesê. “Die priesters het vir ons leuens vertel, maar noudat ons julle ken, sal ons julle met graagte weer huisves.”
Wanneer mense ’n ander taal praat
In onlangse dekades het Jehovah se Getuies in Europa gevind dat kommunikasie met mense van ander nasionaliteite ’n unieke uitdaging bied. Talle het van een land na ander lande getrek as gevolg van beter werkgeleenthede. Party Europese stede het die setel van groot internasionale instellings geword, met personeellede wat nie almal die plaaslike taal praat nie.
Veeltalige gebied is natuurlik in sommige plekke al eeue lank ’n lewensfeit. In Indië is daar byvoorbeeld 14 hooftale en moontlik 1 000 kleiner tale en dialekte. In Papoea-Nieu-Guinee is daar meer as 700 tale. Maar die Getuies in Luxemburg het veral gedurende die sestiger- en sewentigerjare gevind dat hulle gebied mense van meer as 30 verskillende nasies ingesluit het—en daarna het ten minste nog 70 nasionaliteite daar aangekom. Swede berig dat dit verander het van ’n land met een taal wat deur feitlik almal gepraat is in ’n gemeenskap wat 100 verskillende tale praat. Hoe het Jehovah se Getuies dit te bowe gekom?
In die begin het hulle dikwels net probeer uitvind watter taal die huisbewoner praat en dan lektuur gekry wat hy kon lees. In Denemarke is bandopnames gemaak sodat opregte Turke die boodskap in hulle eie taal kon hoor. Switserland het ’n groot aantal werkers van Italië en Spanje gehad. Die ondervinding wat Rudolf Wiederkehr gehad het om party van hulle te help, is tipies van hoe dinge begin het. Hy het vir ’n Italianer probeer getuig, maar nie een van hulle het eintlik die ander se taal verstaan nie. Wat kon gedoen word? Ons broer het vir hom ’n Italiaanse Wagtoring gegee. Ondanks die taalprobleem het broer Wiederkehr teruggegaan. ’n Bybelstudie is met die man, sy vrou en hulle 12-jarige seun begin. Broer Wiederkehr se studieboek was in Duits, maar hy het Italiaanse eksemplare vir die gesin gebring. Waar woorde ontbreek het, is gebare gebruik. Soms het die jong seun, wat besig was om Duits op skool te leer, as tolk gedien. Die hele gesin het die waarheid aangeneem en dit kort voor lank aan ander begin verkondig.
Maar letterlik miljoene werkers van Griekeland, Italië, Joego-Slawië, Portugal, Spanje en Turkye het na Duitsland en ander lande verhuis. Geestelike hulp kon beter in hulle eie taal verleen word. Spoedig het van die plaaslike Getuies die tale van die buitelandse werkers begin leer. In Duitsland is taalklasse in Turks selfs deur die takkantoor gereël. Getuies in ander lande wat die betrokke taal geken het, is genooi om na plekke te verhuis waar hulp veral nodig was.
Party van die werkers van ander lande het nog nooit met Jehovah se Getuies kontak gehad nie en het werklik na geestelike dinge gesmag. Hulle was dankbaar vir die pogings wat aangewend is om hulle te help. Baie andertalige gemeentes is gestig. Mettertyd het sommige van hierdie buitelandse werkers na hulle tuisland teruggekeer om die bediening voort te sit in gebiede wat nie voorheen ’n deeglike getuienis oor God se Koninkryk ontvang het nie.
’n Ryk oes ten spyte van struikelblokke
Jehovah se Getuies gebruik dieselfde predikingsmetodes dwarsdeur die wêreld. In Noord-Amerika doen hulle die evangelisasiewerk al meer as ’n eeu. Dit is dus nie verbasend dat ’n ryk geestelike oes daar ingesamel word nie. Teen 1975 was daar 624 097 bedrywige Getuies van Jehovah op die Amerikaanse vasteland en in Kanada. Dit was egter nie omdat hulle predikingswerk in Noord-Amerika sonder teëstand gedoen is nie.
Hoewel die Kanadese regering teen 1945 sy verbod op Jehovah se Getuies en hulle wetlike korporasies opgehef het, is die voordele van daardie besluit nie dadelik in die provinsie Quebec geniet nie. In September 1945 het oproerige Katolieke skares Jehovah se Getuies in Châteauguay en Lachine aangeval. Getuies is in hegtenis geneem en van opruiing aangekla omdat lektuur wat hulle versprei het die Rooms-Katolieke Kerk gekritiseer het. Ander is in die tronk gegooi omdat hulle Bybellektuur versprei het wat nie deur die polisiehoof goedgekeur is nie. Teen 1947 was 1 700 sake teen die Getuies aanhangig in die howe van Quebec.
Terwyl spesiale pogings aangewend is om toetssake deur die howe verhoor te kry, is Getuies die opdrag gegee om die evangelie mondelings te verkondig en net die Bybel te gebruik—die Katolieke Douay Version waar moontlik. Voltydse bedienaars van ander dele van Kanada het aangebied om Frans te leer en het na Quebec verhuis om aan die uitbreiding van ware aanbidding daar deel te neem.
Talle opregte Katolieke het die Getuies in hulle huise ingenooi en vrae gevra, hoewel hulle dikwels gesê het: ‘Ek is ’n Rooms-Katoliek en sal nooit verander nie.’ Maar toe hulle self gesien het wat die Bybel sê, het tienduisende van hulle, uit liefde vir die waarheid en weens ’n begeerte om God te behaag, wel verander.
Ook in die Verenigde State was dit nodig om hof toe te gaan sodat Jehovah se Getuies se reg om in die openbaar en van huis tot huis te preek, bevestig kon word. Tussen 1937 en 1953 was daar 59 sulke sake waarby die Getuies betrokke was wat tot by die Appèlhof in Washington, DC, geneem is.
Aandag word aan ontoegekende gebiede geskenk
Die doelwit van Jehovah se Getuies is nie net om ’n deelname aan die verkondiging van die goeie nuus te hê nie, maar om soveel mense as moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik. Daarom het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies elke takkantoor verantwoordelik gemaak vir ’n spesifieke deel van die wêreldveld. Sodra gemeentes in die tak se gebied gestig word, kry elke gemeente ’n deel van die gebied waarin hulle moet preek. Die gemeente verdeel dan daardie gebied in dele op wat aan groepe en individuele bedienaars in die gemeente toegewys kan word. Hulle probeer op hulle beurt om elke huishouding gereeld te besoek. Maar wat van gebiede wat nog nie aan gemeentes toegeken is nie?
In 1951 is ’n lys van al die distrikte in die Verenigde State gemaak om vas te stel watter nie gereeld deur Jehovah se Getuies besoek word nie. Op daardie tydstip was byna 50 persent nog glad nie of net gedeeltelik gedek. Reëlings is getref sodat Getuies hulle bediening gedurende die somermaande of op ander geskikte tye in hierdie gebiede kon voortsit met die doel om gemeentes te stig. Wanneer mense nie tuis was nie, is ’n gedrukte boodskap asook Bybellektuur soms daar gelaat. Bybelstudies is per pos gehou. Later is spesiale pioniers na sulke gebiede gestuur om belangstelling wat gevind is te kweek.
Hierdie bedrywigheid is nie tot die vyftigerjare beperk nie. In lande oor die hele wêreld waar die groot stede ’n getuienis ontvang, maar daar ontoegekende gebied is, word ’n ywerige poging steeds aangewend om mense te bereik wat nie gereeld besoek word nie. In die sewentigerjare het ongeveer 20 persent van Alaska se bevolking in afgeleë dorpies gewoon. Die beste tyd om baie van hierdie mense tuis te vind, is in die winter wanneer die vissersbedryf feitlik tot stilstand kom. Maar dit is wanneer geweldige sneeustorms dit gevaarlik maak om te vlieg. Nietemin moes die Eskimo-, Indiaan- en Aleoetbevolking die geleentheid gegee word om te leer van die voorsiening vir ewige lewe onder God se Koninkryk. Om hulle te bereik, het ’n groep van 11 Getuies oor ’n tydperk van twee jaar met klein vliegtuie na sowat 200 dorpies gevlieg wat oor ’n gebied van 844 000 vierkante kilometer versprei is. Dit is alles deur middel van die vrywillige bydraes van plaaslike Getuies gefinansier.
Benewens sulke predikingsreise is ryp Getuies aangemoedig om dit te oorweeg om na gebiede in hulle eie land te verhuis waar daar ’n groter behoefte aan Koninkryksverkondigers is. Duisende het dit al gedoen. Eugene en Delia Shuster, wat Illinois in 1958 verlaat het om in Hope, Arkansas, te dien, is van dié in die Verenigde State wat dit gedoen het. Hulle bly al meer as drie dekades daar om belangstellendes op te spoor, hulle in ’n gemeente te organiseer en hulle te help om tot Christelike rypheid te groei.
Alexander B. Green en sy vrou het Dayton, Ohio, in 1957 op aansporing van die kringopsiener verlaat om in Mississippi te dien. Hulle is eers na Jackson gestuur en twee jaar later na Clarksdale. Broer Green het daarna op vyf ander plekke gedien. Al hierdie plekke het klein gemeentetjies gehad wat hulp nodig gehad het. Hy het hom onderhou deur skoonmaakwerk, tuinwerk, meubelrestourasie, motorherstelwerk, ensovoorts te doen. Maar hy het hom hoofsaaklik op die verkondiging van die goeie nuus toegespits. Hy het die plaaslike Getuies gehelp om geestelik te groei, saam met hulle gewerk om die mense in hulle gebied te bereik en hulle dikwels gehelp om ’n Koninkryksaal te bou voordat hy weer verhuis het.
Toe Gerald Cain in 1967 in die westelike deel van die Verenigde State ’n Getuie geword het, het hy en sy gesin ’n diep besef gehad van hoe dringend die evangelisasiewerk is. Selfs voordat enige van hulle gedoop is, het hulle planne beraam om te gaan dien waar hulp nodig is. Hulle het vier jaar saam met die Needles-gemeente in Kalifornië gewerk. Hierdie gemeente was verantwoordelik vir ’n gebied wat dele van drie state in die westelike deel van die Verenigde State ingesluit het. Toe gesondheidsprobleme hulle genoodsaak het om te verhuis, het hulle weer ’n plek gekies waar hulp nodig was, en hulle het ’n deel van hulle huis in ’n Koninkryksaal omgeskep. Hulle het verskeie kere daarna verhuis, maar ’n groot oorweging was altyd om te gaan woon waar hulle van die grootste hulp kan wees met die getuieniswerk.
Namate die aantal gemeentes toegeneem het, het daar in sommige gebiede ’n groot behoefte aan bekwame ouere manne ontstaan. Om in hierdie behoefte te voorsien, het duisende ouere manne al aangebied om gereeld (en op hulle eie onkoste) na gemeentes buite hulle gebied te reis. Hulle doen dit drie, vier, vyf of selfs meer keer per week—om aan die vergaderinge van die gemeente en aan die veldbediening deel te neem en ook as herders vir die kudde te dien. Dit is nie net in die Verenigde State nie, maar in El Salvador, Japan, Nederland, Spanje en baie ander lande gedoen. In party gevalle het die ouere manne en hulle gesinne verhuis om in hierdie behoefte te voorsien.
Wat was die resultate? Beskou een land. In 1951, toe reëlings om in ontoegekende gebied te werk vir die eerste keer aangekondig is, was daar ongeveer 3 000 gemeentes in die Verenigde State, met ’n gemiddelde van 45 verkondigers per gemeente. Teen 1975 was daar 7 117 gemeentes en het die gemiddelde aantal bedrywige Getuies in elke gemeente tot byna 80 gestyg.
Daar is ’n baie groter getuienis tussen 1945 en 1975 oor Jehovah se naam en Koninkryk gegee as in al die voorgaande jare.
Die aantal Getuies het wêreldwyd van 156 299 in 1945 tot 2 179-256 in 1975 gegroei. Elkeen van hulle het ’n persoonlike deelname aan die openbare verkondiging van die Koninkryk van God gehad.
In 1975 was Jehovah se Getuies bedrywig in 212 lande (getel volgens hoe die kaart in die vroeë negentigerjare verdeel was). Op die Amerikaanse vasteland en in Kanada het 624 097 hulle bediening uitgevoer. In Europa, met uitsondering van wat toe die Sowjetunie was, was daar nog 614 826. Afrika het die Bybel se boodskap van waarheid van die 312 754 Getuies gehoor wat daar aan die werk deelgeneem het. Mexiko, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika is deur 311 641 Getuies bedien; Asië deur 161 598; Australië en die talle eilande dwarsdeur die wêreld deur 131 707.
Gedurende die 30 jaar tot 1975 het Jehovah se Getuies 4 635 265 939 uur aan die openbare verkondigings- en onderrigtingswerk gewy. Hulle het ook 3 914 971 158 boeke, boekies en tydskrifte by belangstellendes gelaat om hulle te help besef hoe hulle by Jehovah se liefdevolle voorneme kan baat vind. In ooreenstemming met Jesus se bevel om dissipels te maak, het hulle 1 788 147 329 herbesoeke by belangstellendes gedoen, en in 1975 het hulle gemiddeld 1 411 256 gratis tuisbybelstudies met individue en gesinne gehou.
Teen 1975 het die verkondiging van die goeie nuus tot in 225 lande uitgebrei. In meer as 80 lande waar die goeie nuus teen 1945 verkondig is, maar waar daar in daardie jaar geen gemeentes was nie, was daar teen 1975 florerende gemeentes van ywerige Getuies. Van hierdie plekke was die Republiek van Korea met 470 gemeentes, Spanje met 513, Zaïre met 526, Japan met 787 en Italië met 1 031.
Gedurende die tydperk van 1945 tot 1975 het die meeste mense wat Getuies van Jehovah geword het nie bely dat hulle met God se gees gesalf is met hemelse lewe in die vooruitsig nie. In die noordelike lente van 1935 het tot 93 persent van diegene wat aan die veldbediening deelgeneem het die embleme by die Here se Aandmaal gebruik. (Later daardie selfde jaar is die “groot menigte” van Openbaring 7:9 geïdentifiseer as mense wat vir ewig op aarde sal lewe.) Teen 1945 het die aantal Getuies wat daarna uitgesien het om op ’n paradysaarde te woon in so ’n mate toegeneem dat hulle 86 persent van die verkondigers van die goeie nuus uitgemaak het. Teen 1975 was dié wat bely het dat hulle geesgesalfde Christene is minder as ’n half persent van die totale wêreldwye organisasie van Jehovah se Getuies. Hoewel hulle toe in ongeveer 115 lande versprei was, het hierdie gesalfdes voortgegaan om as ’n verenigde groep onder Jesus Christus te dien.
[Lokteks op bladsy 463]
“Vandat julle hier is, praat almal oor die Bybel”
[Lokteks op bladsy 466]
“Wat jy my nou net vertel het, is wat ek jare gelede in daardie Bybel gelees het”
[Lokteks op bladsy 470]
Duisende het na gebiede in hulle eie land verhuis waar meer Getuies nodig was
[Lokteks op bladsy 472]
“’n Kosbare beloning”
[Lokteks op bladsy 475]
Bekwame Getuies is na lande gestuur waar daar ’n besondere behoefte was
[Lokteks op bladsy 486]
Die vroeë Getuies in Nigerië het die geestelikes en hulle valse leerstellings met kragtige skriftuurlike argumente aan die kaak gestel
[Lokteks op bladsy 497]
Waar woorde ontbreek het, is gebare gebruik
[Lokteks op bladsy 499]
Die doelwit? Om soveel mense as moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik
[Venster/Prent op bladsy 489]
Baie is gedoen om die mense in China met die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te bereik
Duisende briewe, traktate en boeke is tussen 1891 en 1900 van Tsjefoo af uitgestuur
C. T. Russell het in 1912 toesprake in Sjanghai gehou en 15 stede en dorpies besoek
Kolporteurs het baie lektuur al langs die Chinese kus versprei en reise na die binneland onderneem, 1912-18
Japannese kolporteurs het hier gedien, 1930-31
Radio-uitsendings in Chinees is gedurende die dertigerjare vanuit Sjanghai, Peking en Tientsin gedoen; gevolglik is briewe waarin lektuur aangevra is van baie dele van China ontvang
Pioniers van Australië en Europa het gedurende die dertiger- en veertigerjare in Sjanghai, Peking, Tientsin, Tsingtao, Pei-tai-ho, Tsjefoo, Weihaiwei, Kanton, Swatou, Amoy, Foetsjou, Hankou en Nanking getuig. Ander het met die Birma-pad langs ingekom en in Paosjan, Tsjoengking en Tsjengtoe getuig. Plaaslike pioniers het in Sjensi en Ningpo gedien
[Prent]
Gileadopgeleide sendelinge, soos Stanley Jones (links) en Harold King (regs), het van 1947 tot 1958 hier saam met ywerige plaaslike Getuiegesinne gedien
[Kaart]
CHINA
[Kaart/Prente op bladsy 462]
Die “Sibia” het as ’n drywende sendinghuis in die Wes-Indiese Eilande gedien
G. Maki
S. Carter
R. Parkin
A. Worsley
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BAHAMAS
BENEDEWINDSEEILANDE
MAAGDEEILANDE (VSA)
MAAGDEEILANDE (BRITS)
BOWINDSEEILANDE
[Kaart op bladsy 477]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lewegewende waters van waarheid het in Afrika oor nasionale grense in baie rigtings gevloei
SUID-AFRIKA
GHANA
KENIA
MALAWI
NIGERIË
SIERRA LEONE
ZAMBIË
[Prente op bladsy 464]
Edward Michalec (links) en Harold Morris (regs) het, as sendelinge in Bolivia, eers hier in La Paz gepreek
[Prent op bladsy 465]
Die boot “El Refugio”, wat deur Getuies in Peru gebou is, is gebruik om die Koninkryksboodskap uit te dra aan mense langs riviere diep in die Amasone-gebied
[Prent op bladsy 467]
Lees-en-skryf-klasse wat deur die Getuies in Mexiko aangebied word, het al tienduisende mense in staat gestel om God se Woord te lees
[Prent op bladsy 468]
Broer Knorr (regs voor) het saam met Getuies by klein byeenkomste op plase en in die berge in Argentinië vergader toe hulle toestemming geweier is om vryelik byeen te kom
[Prent op bladsy 469]
Onder die duisende Getuies wat na ander lande verhuis het om te dien waar hulp nodig was, was gesinne soos Harold en Anne Zimmerman en hulle vier jong kinders, wat hier gesien kan word (Colombia)
[Prent op bladsy 471]
In antwoord op ’n oproep om vrywilligers het Tom en Rowena Kitto na Papoea verhuis om Bybelwaarheid aan ander te leer
[Prent op bladsy 471]
John en Ellen Hubler, gevolg deur 31 ander Getuies, het na Nieu-Caledonië verhuis. Voordat hulle die eiland moes verlaat, is ’n gemeente goed daar gevestig
[Prent op bladsy 473]
As ’n jong man in Westelike Samoa het Fuaiupolu Pele groot druk van sy familie en die gemeenskap ondervind toe hy besluit het om een van Jehovah se Getuies te word
[Prent op bladsy 474]
Nadat Shem Irofa’alu en sy metgeselle oortuig was dat wat Jehovah se Getuies leer werklik die waarheid is, is kerke in 28 dorpies in die Salomon-eilande in Koninkryksale omgeskep
[Prent op bladsy 476]
Om in die vroeë vyftigerjare in Ethiopië te kon preek, moes die Getuies ’n sendinghuis stig en skoolhou
[Prent op bladsy 478]
Toe Gabriel Paterson (hier op die foto) met deportasie gedreig is, het ’n hooggeplaaste amptenaar hom gerusgestel: ‘Die waarheid is soos ’n groot rivier; dam dit op en dit sal die dam oorstroom’
[Prente op bladsy 479]
In 1970 is 3 775 nuwe Getuies by ’n byeenkoms in Nigerië gedoop; stappe is gedoen om te verseker dat elkeen gereed was om gedoop te word
[Prente op bladsy 481]
Rolprentvertonings (hier in Afrika en rondom die wêreld) het gehore ’n idee gegee van die omvang van Jehovah se sigbare organisasie
[Prent op bladsy 482]
João Mancoca (hier by sy vrou Mary) wat Jehovah al dekades lank lojaal dien ondanks baie moeilike omstandighede
[Prent op bladsy 483]
In 1961 is Ernest Heuse jr. saam met sy gesin toegelaat om Zaïre (toe die Kongo) binne te gaan om geestelike onderrig te help voorsien aan diegene wat Jehovah werklik wou dien
[Prent op bladsy 485]
Hoewel Mary Whittington net ’n jaar gedoop was en van geen ander Getuie in Kenia geweet het nie, het sy ander begin help om die waarheid te leer
[Prent op bladsy 487]
Mary Nisbet (in die middel voor) met haar seuns Robert en George, wat in die dertigerjare pionierdiens in Oos-Afrika gedoen het, aan weerskante van haar, en (agter) haar seun William en sy vrou Muriel, wat tussen 1956 en 1973 in Oos-Afrika gedien het
[Prente op bladsy 488]
By ’n byeenkoms in die Filippyne in 1945 is riglyne gegee oor hoe daar deur middel van tuisbybelstudies onderrig kan word
[Prente op bladsy 490]
Don en Mabel Haslett, die eerste naoorlogse sendelinge in Japan, besig met straatgetuieniswerk
[Prent op bladsy 491]
Lloyd Barry (regs) het 25 jaar in Japan gedien, eers as ’n sendeling en toe as takopsiener
[Prent op bladsy 491]
Don en Earlene Steele, die eerste van baie sendelinge wat in die Republiek van Korea gedien het
[Prent op bladsy 492]
In die verlede het oproerige skares in Ierland Fred Metcalfe partykeer verjaag wanneer hy uit die Bybel probeer preek het; maar toe mense later die moeite gedoen het om te luister, het duisende Getuies van Jehovah geword
[Prent op bladsy 493]
Ondanks teëstand van die geestelikes het duisende na Getuiebyeenkomste in Italië gestroom (Rome, 1969)
[Prent op bladsy 494]
Wanneer daar verbooie was, het die Getuies dikwels gemeentelike vergaderinge in die veld gehou terwyl hulle voorgegee het om piekniek te hou, soos hier in Portugal
[Prente op bladsy 495]
Getuies in die gevangenis in Cadiz, Spanje, het aangehou preek deur briewe te skryf
[Prente op bladsy 496]
Groot byeenkomste het die publiek die geleentheid gegee om self te sien en te hoor watter soort mense die Getuies is
Parys, Frankryk (1955)
Neurenberg, Duitsland (1955)
[Prente op bladsy 498]
Om almal in Luxemburg met die goeie nuus te bereik, moes Jehovah se Getuies al lektuur in minstens honderd tale gebruik