Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 22 bl. 444-461
  • Deel 3—Getuies tot aan die uiterste van die aarde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 3—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Groot poging om baie mense met die goeie nuus te bereik
  • Groot publisiteit
  • Die predikingswerk in Europa te midde van vervolging gedurende die oorlog
  • Buite Europa gedurende daardie oorlogsjare
  • Die groot menigte tree in Latyns-Amerika te voorskyn
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 22 bl. 444-461

Hoofstuk 22

Deel 3—Getuies tot aan die uiterste van die aarde

’n Wêreldwye verslag van die verkondiging van die Koninkryksboodskap tussen 1935 en 1945 verskyn op bladsye 444 tot 461. Die jaar 1935 is ’n uiters belangrike jaar, aangesien die groot menigte van Openbaring 7:9 in daardie jaar geïdentifiseer is. Jehovah se Getuies het begin besef dat die Bybel hulle met betrekking tot die insameling van daardie groep ’n groter taak opgelê het as enigiets wat tevore uitgevoer is. Hoe het hulle dit gedoen terwyl die nasies in die Tweede Wêreldoorlog gewikkel was en die meeste lande hulle organisasie of hulle Bybellektuur in die ban gedoen het?

TOE Jehovah se Getuies gedurende die dertigerjare in hulle bediening bedrywig was, was dit hulle doel om soveel mense as moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik. Wanneer hulle uitsonderlike belangstelling teëgekom het, het party van hulle soms tot diep in die nag opgebly om Bybelwaarhede te verduidelik aan mense wat geestelik honger was en hulle vrae te beantwoord. Maar in die meeste gevalle het die Getuies eenvoudig kort aanbiedings gebruik wat daarop gemik was om huisbewoners se belangstelling te wek, en dan het hulle die lektuur of openbare Bybeltoesprake die res laat doen. Hulle werk was om mense in te lig en saad van Koninkrykswaarheid te saai.

’n Groot poging om baie mense met die goeie nuus te bereik

Die werk is met dringendheid gedoen. Toe Armando Menazzi, in Córdoba, Argentinië, byvoorbeeld in die vroeë dertigerjare die duidelike uiteensetting van Bybelwaarheid in die boekies Hell en Waar is die dode? gelees het, het hy sonder huiwering opgetree (Ps. 145:20; Pred. 9:5; Hand. 24:15). Beweeg deur wat hy geleer het en geïnspireer deur die ywer wat Nicolás Argyrós aan die dag gelê het, het hy sy motorherstelwinkel verkoop sodat hy hom as ’n pionier aan die verkondiging van die waarheid kon wy. Toe, in die vroeë veertigerjare, het die Getuies in Córdoba op sy aansporing ’n ou bus gekoop, beddens geïnstalleer en hierdie voertuig gebruik om tien of meer verkondigers op predikingsreise te neem wat ’n week, twee weke of selfs drie maande geduur het. Wanneer hierdie reise beplan is, is verskillende broers en susters in die gemeente die geleentheid gegee om saam te gaan. Elkeen in die groep het take gehad—om skoon te maak, kos te kook of vis te vang en vir kos te jag. Hierdie ywerige groep het in minstens tien Argentynse provinsies van huis tot huis gepreek deur stede sowel as dorpies te dek en afgeleë plase te besoek.

’n Soortgelyke gees is in Australië aan die dag gelê. Baie getuieniswerk is in die digbevolkte kusstede gedoen. Maar die Getuies daar het ook probeer om mense in afgesonderde gebiede te bereik. Daarom het Arthur Willis en Bill Newlands op 31 Maart 1936 ’n tog van altesaam 19 710 kilometer onderneem om mense op die skaap- en beesplase te bereik wat oor die agterveld versprei was. Vir ’n groot deel van hulle reis was daar geen paaie nie—net bospaadjies deur die boomlose woestyn met sy stikkende hitte en huilende stofstorms. Maar hulle het deurgedruk. Wanneer hulle belangstelling gekry het, het hulle grammofoonopnames van Bybeltoesprake gespeel en lektuur gelaat. By ander geleenthede het John E. (Ted) Sewell saam met hulle gegaan; en toe het hy aangebied om in Suidoos-Asië te gaan dien.

Die gebied wat onder toesig van die Genootskap se tak in Australië was, het baie verder as net Australië gestrek. Dit het China asook eilandgroepe en lande van Tahiti in die ooste af tot by Birma (nou Myanma) in die weste ingesluit, ’n afstand van 13 700 kilometer. Daardie gebied het bestaan uit plekke soos Hongkong, Indo-China (nou Kambodja, Laos en Viëtnam), Nederlands-Oos-Indië (waaronder eilande soos Sumatra, Java en Borneo), Nieu-Seeland, Siam (nou Thailand) en Maleia. Dit was niks ongewoons vir die takopsiener, Alexander MacGillivray, ’n Skot, om ’n ywerige jong pionier na sy kantoor toe te nooi, hom ’n kaart van die tak se gebied te wys en te vra nie: ‘Wil jy ’n sendeling word?’ Dan het hy na ’n gebied gewys waar daar nog maar min of geen predikingswerk gedoen is nie en gevra: ‘Hoe sal jy daarvan hou om die werk in hierdie gebied te begin?’

Gedurende die vroeë dertigerjare het party van hierdie pioniers reeds baie werk in Nederlands-Oos-Indië (nou Indonesië) en Singapoer gedoen. In 1935 het Frank Dewar, ’n Nieu-Seelander, saam met ’n groep van hierdie pioniers op die Lightbearer tot by Singapoer gereis. Toe, net voordat die boot verder sou vaar na die noordwestelike kus van Maleia, het kaptein Eric Ewins gesê: “Wel Frank, hier is ons. Ons kan jou net so ver neem. Jy wou Siam toe gaan. Nou ja, weg is jy!” Maar Frank het amper van Siam vergeet. Hy het sy diens saam met die groep op die boot geniet. Nou was hy alleen.

Hy het in Kuala Lumpur oorgebly totdat hy genoeg geld vir die res van die reis bymekaar kon maak, maar terwyl hy daar was, was hy in ’n ongeluk betrokke—’n vragmotor het hom van sy fiets afgestamp. Nadat hy herstel het, het hy met net vyf dollar in sy sak die trein van Singapoer na Bangkok gehaal. Maar met geloof in Jehovah se vermoë om vir hom te sorg, het hy die werk aangepak. Claude Goodman het in 1931 ’n kort rukkie daar gepreek; maar toe Frank in Julie 1936 daar aangekom het, was daar geen Getuies om hom te verwelkom nie. Gedurende die volgende paar jaar het ander egter ’n aandeel in die werk gehad—Willy Unglaube, Hans Thomas en Kurt Gruber van Duitsland en Ted Sewell van Australië. Hulle het baie lektuur versprei, maar die meeste daarvan was in Engels, Chinees en Japannees.

Toe ’n brief aan die Genootskap se hoofkwartier gestuur is om te sê dat die broers lektuur in Thai nodig het, maar nie ’n vertaler het nie, het broer Rutherford geantwoord: “Ek is nie in Thailand nie; julle is. Stel geloof in Jehovah en werk hard, en julle sal ’n vertaler kry.” En hulle het. Tsjomtsjai Intapan, ’n gewese hoof van die Presbiteriaanse Meisieskool in Tsjiang Mai, het die waarheid aangeneem, en teen 1941 was sy besig om Bybellektuur in Thai te vertaal.

’n Week nadat Frank Dewar in Bangkok begin preek het, het Frank Rice, wat die Koninkrykswerk in Java (nou ’n deel van Indonesië) begin het, daar deurgereis op pad na ’n nuwe toewysing in wat toe Frans-Indo-China was. Soos in sy vorige gebied, het hy vir Engelssprekendes gepreek terwyl hy die plaaslike taal geleer het. Nadat hy Saigon (nou Ho Tsji Minhstad) gedek het, het hy Engelse lesse gegee sodat hy ’n ou motor kon koop waarmee hy die noordelike deel van die land kon besoek. Hy het nie in materiële gerief belanggestel nie, maar in Koninkryksbelange (Hebr. 13:5). Met die motor wat hy gekoop het, het hy in dorpe en gehuggies en by afgeleë huise al langs die pad na Hanoi getuig.

Groot publisiteit

Om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek en mense daarop te wys dat hulle dringend moet optree, het die Getuies in baie lande treffende metodes gebruik. Die Getuies het vir die eerste keer in 1936 in Glasgow, Skotland, in sakebuurte reklameborde gedra en strooibiljette versprei om byeenkomstoesprake te adverteer. Twee jaar later, in 1938, is nog ’n treffende metode gebruik in verband met ’n byeenkoms in Londen, Engeland. Nathan H. Knorr en Albert D. Schroeder, wat later saam op die Bestuursliggaam gedien het, het ’n optog van byna duisend Getuies deur die sentrale sakegebied van Londen gelei. Elke tweede persoon in die optog het ’n reklamebord gedra wat die openbare toespraak “Hou rekening met die feite” geadverteer het wat deur J. F. Rutherford by die Royal Albert-saal gehou sou word. Die ander het reklameborde gedra wat gelui het: “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel.” (Op daardie tydstip het hulle geglo dat godsdiens alle aanbidding insluit wat nie in ooreenstemming met God se Woord, die Bybel, is nie.) Later in die week is reklameborde met die woorde “Dien God en Christus die Koning” tussen die voorgemeldes gedra om die vyandige reaksie van sommige lede van die publiek te neutraliseer. Vir baie van Jehovah se Getuies was hierdie werk nie maklik nie, maar hulle het dit beskou as nog ’n manier waarop hulle Jehovah kan dien, nog ’n toets van hulle lojaliteit teenoor hom.

Nie almal was ingenome met die groot publisiteit wat Jehovah se Getuies aan hulle boodskap gegee het nie. Die geestelikes in Australië en Nieu-Seeland het druk op die bestuurders van radiostasies uitgeoefen om alle uitsendings waaraan Jehovah se Getuies deelgeneem het, stop te sit. In April 1938, toe broer Rutherford op pad na Australië was om ’n toespraak oor die radio te hou, is staatsamptenare sodanig beïnvloed dat hulle die reëlings wat vir hom getref is om die Sydney-stadsaal en die radiofasiliteite te gebruik, gekanselleer het. Die Sydney-sportterrein is gou gehuur, en as gevolg van die groot publisiteit wat die teëstand teen broer Rutherford se besoek ontvang het, het nog meer mense na sy toespraak gaan luister. By ander geleenthede, toe die Getuies die gebruik van radiofasiliteite geweier is, het hulle daarop gereageer deur groot publisiteit aan die vergaderinge te gee waar die grammofoonplate van broer Rutherford se toesprake gespeel is.

Die geestelikes in België het kinders gestuur om die Getuies met klippe te gooi, en priesters het self by die huise omgegaan om lektuur wat daar gelaat is, weg te neem. Maar party van die dorpsbewoners het gehou van wat hulle by Jehovah se Getuies geleer het. Hulle het dikwels gesê: “Gee my ’n paar van jou boekies; wanneer die priester kom, kan ek hom een gee om hom tevrede te stel en die res hou om te lees!”

In die daaropvolgende jare was daar egter selfs hewiger teëstand teen Jehovah se Getuies en die Koninkryksboodskap wat hulle verkondig het.

Die predikingswerk in Europa te midde van vervolging gedurende die oorlog

Omdat hulle nie hulle geloof wou prysgee en ophou preek nie, is duisende van Jehovah se Getuies in België, Duitsland, Frankryk, Nederland en Oostenryk in die tronk gegooi of na Nazi-konsentrasiekampe gestuur. Wrede behandeling was daar aan die orde van die dag. Diegene wat nog nie in die tronk was nie, het hulle bediening versigtig voortgesit. Hulle het dikwels net die Bybel in die bediening gebruik en ander lektuur slegs aangebied wanneer hulle herbesoeke by belangstellendes gedoen het. Om te voorkom dat hulle in hegtenis geneem word, het Getuies by een deur in ’n woonstelblok aangeklop en dan miskien na ’n ander gebou gegaan, of nadat hulle net een huis in ’n straat besoek het, het hulle na ’n ander straat gegaan voordat hulle nog ’n huis besoek het. Maar hulle was glad nie bang om ’n getuienis te gee nie.

Op 12 Desember 1936, net ’n paar maande nadat die Gestapo duisende van die Getuies en ander belangstellendes in hegtenis geneem het in ’n landwye poging om hulle werk stop te sit, het die Getuies self ’n veldtog onderneem. Hulle het blitsvinnig regdeur Duitsland tienduisende eksemplare van ’n gedrukte resolusie in posbusse en onder mense se deure gesit. Hierdie resolusie het protes aangeteken teen die wrede behandeling waaraan hulle Christenbroers en -susters onderwerp is. Binne ’n uur nadat die verspreiding begin het, het die polisie rondgeskarrel om die verspreiders te probeer vang, maar hulle het net omtrent ’n stuk of twaalf in die hele land in hegtenis geneem.

Amptenare was geskok dat so ’n veldtog uitgevoer kon word ten spyte van alles wat die Nazi-regering gedoen het om die werk te onderdruk. Boonop het hulle bang geword vir die mense. Waarom? Want toe die polisie en ander amptenare in uniform by die huise omgegaan en gevra het of die bewoners so ’n pamflet ontvang het, het die meeste mense nee gesê. In werklikheid het verreweg die meeste van hulle nie ’n pamflet ontvang nie. Eksemplare is net by twee of drie huishoudings in elke gebou gelaat. Maar die polisie het dit nie geweet nie. Hulle het aangeneem dat een by elke deur gelaat is.

Gedurende die daaropvolgende maande het Nazi-amptenare die aantygings in daardie gedrukte resolusie heftig ontken. Daarom het die Getuies wat nog vry was op 20 Junie 1937 nog ’n boodskap versprei, ’n ope brief wat die vervolging onomwonde beskryf het, ’n dokument wat amptenare by name genoem en datums en plekke verskaf het. Daar was groot konsternasie onder die Gestapo oor hierdie onthullings en oor die Getuies se vermoë om so ’n verspreiding uit te voer.

Talle ondervindinge van die Kusserow-gesin, van Bad Lippspringe, Duitsland, getuig van dieselfde vasbeslotenheid om ’n getuienis te lewer. ’n Voorbeeld hiervan is wat gebeur het nadat Wilhelm Kusserow in Münster in die openbaar deur die Nazi-regime tereggestel is omdat hy geweier het om sy geloof prys te gee. Wilhelm se moeder, Hilda, het dadelik na die gevangenis gegaan en dringend versoek dat die liggaam oorgegee word om begrawe te word. Sy het vir haar gesin gesê: “Ons sal ’n groot getuienis gee vir die mense wat hom geken het.” By die begrafnis het Wilhelm se vader, Franz, ’n gebed gedoen wat getuig het van geloof in Jehovah se liefdevolle voorsienings. By die graf het Wilhelm se broer, Karl-Heinz, ’n vertroostende boodskap uit die Bybel gegee. Hulle het hiervoor nie ongestraf gebly nie, maar vir hulle was die belangrike saak om Jehovah te eer deur ’n getuienis te gee oor sy naam en sy Koninkryk.

Namate die druk in Nederland vanweë die oorlog toegeneem het, het die Getuies daar hulle reëlings vir vergaderinge wyslik verander. Die vergaderinge is toe net in groepe van tien of minder in privaat wonings gehou. Vergaderplekke is dikwels verander. Elke Getuie het net saam met sy eie groep vergader en niemand het die adres van die vergaderplek verklap nie, nie eers aan ’n vertroude vriend nie. Gedurende daardie tydperk in die geskiedenis, toe hele bevolkings as gevolg van die oorlog uit hulle huise verdryf is, het Jehovah se Getuies geweet dat mense die vertroostende boodskap wat net in God se Woord aangetref word dringend nodig het, en hulle het dit onverskrokke aan hulle verkondig. Maar ’n brief van die takkantoor af het die broers herinner aan hoe versigtig Jesus by verskillende geleenthede was toe hy deur teenstanders gekonfronteer is (Matt. 10:16; 22:15-22). Gevolglik het hulle, wanneer hulle iemand teëgekom het wat hulle vyandiggesind was, die adres noukeurig neergeskryf sodat spesiale maatreëls getref kon word wanneer daardie gebied in die toekoms gewerk word.

In Griekeland het die mense regdeur die land gedurende die Duitse besetting baie swaar gekry. Die uiters wrede behandeling waaraan Jehovah se Getuies onderwerp is, was egter ’n gevolg van die venynige leuens wat versprei is deur die geestelikes van die Grieks-Ortodokse Kerk, wat daarop aangedring het dat die polisie en die howe hulle vervolg. Baie van die Getuies is in die tronk gegooi of uit hulle tuisdorpe verdryf en na afgesonderde dorpies gestuur of onder strawwe toestande op dorre eilande aangehou. Hulle het nietemin aangehou getuig. (Vergelyk Handelinge 8:1, 4.) Dit is dikwels gedoen deur met mense in parke en openbare tuine te praat, deur langs hulle op die banke te sit en hulle van God se Koninkryk te vertel. Wanneer hulle opregte belangstelling teëgekom het, het hulle vir die persoon ’n waardevolle Bybelpublikasie geleen. Sulke lektuur is later teruggegee en oor en oor gebruik. Baie liefhebbers van waarheid het die hulp wat die Getuies aangebied het met waardering aanvaar en selfs saam met hulle die goeie nuus aan ander verkondig, al het dit swaar vervolging oor hulle gebring.

Iets wat grootliks tot die moed en volharding van die Getuies bygedra het, was die feit dat hulle deur geestelike voedsel opgebou is. Hoewel daar gedurende die oorlog in sommige dele van Europa mettertyd bitter min lektuur was om onder ander te versprei, het hulle geloofversterkende studiemateriaal wat die Genootskap vir Jehovah se Getuies in alle wêrelddele voorberei het onder mekaar laat sirkuleer. August Kraft, Peter Gölles, Ludwig Cyranek, Therese Schreiber en baie ander het hulle lewe gewaag om kopieë van studiemateriaal te maak wat van Tsjeggo-Slowakye, Italië en Switserland af in Oostenryk ingesmokkel is en dit te versprei. In Nederland was dit ’n goedgesinde tronkbewaarder wat gehelp het deur ’n Bybel vir Arthur Winkler te bekom. Ten spyte van al die voorsorgmaatreëls wat deur die vyand getref is, het verkwikkende waters van Bybelwaarheid in Die Wagtoring selfs tot binne-in die Duitse konsentrasiekampe gekom en onder die Getuies daar gesirkuleer.

Die feit dat Jehovah se Getuies in gevangenisse en konsentrasiekampe opgesluit was, het hulle nie verhinder om getuies te wees nie. Toe die apostel Paulus in gevangenskap in Rome was, het hy geskryf: ‘Ek ly verdrukking tot die boeie toe; maar die woord van God is nie gebonde nie’ (2 Tim. 2:9). Dit was ook die geval met Jehovah se Getuies in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog. Bewaarders het hulle gedrag waargeneem; party het vrae gevra en ’n paar het medegelowiges geword, al het dit beteken dat hulle hulle vryheid verloor het. Baie gevangenes wat saam met die Getuies opgesluit was, het van lande soos Rusland gekom, waar daar destyds nog baie min verkondiging van die goeie nuus gedoen is. Ná die oorlog het party van hulle as Getuies van Jehovah na hulle geboorteland teruggekeer, gretig om die Koninkryksboodskap daar te verkondig.

Wrede vervolging en die gevolge van totale oorlog kon nie die voorspelde insameling van mense na Jehovah se groot geestelike huis van aanbidding stuit nie (Jes. 2:2-4). Tussen 1938 en 1945 was daar in die meeste Europese lande ’n aansienlike toename in die aantal mense wat openlik aan sulke aanbidding deelgeneem het deur God se Koninkryk te verkondig. In Brittanje, Finland, Frankryk en Switserland het die Getuies met ongeveer 100 persent toegeneem. In Griekeland was daar bykans ’n sewevoudige vermeerdering. In Nederland twaalfvoudig. Maar teen die einde van 1945 is geen besonderhede nog van Duitsland of Roemenië ontvang nie, en slegs onvolledige verslae is van ’n aantal ander lande ontvang.

Buite Europa gedurende daardie oorlogsjare

In die Ooste het die oorlog ook uiters swaar tye vir Jehovah se Getuies meegebring. In Japan en Korea is hulle in hegtenis geneem en geslaan en gemartel omdat hulle God se Koninkryk verkondig het en nie die Japannese keiser wou aanbid nie. Hulle is mettertyd afgesny van enige kontak met Getuies in ander lande. Die enigste geleenthede wat baie van hulle gehad het om ’n getuienis te gee, was wanneer hulle ondervra is of in die hof verhoor is. Teen die einde van die oorlog het die openbare bediening van Jehovah se Getuies in hierdie lande feitlik tot stilstand gekom.

Toe die oorlog in die Filippyne uitgebreek het, is die Getuies deur die Japannese sowel as die weerstandsmagte vervolg omdat hulle nie een van die kante wou ondersteun nie. Baie Getuies het hulle huis verlaat sodat hulle nie gevang sou word nie. Maar terwyl hulle van die een plek na die ander getrek het, het hulle gepreek—deur lektuur uit te leen wanneer dit beskikbaar was, en later net met die Bybel. Namate die oorlogsfront teruggetrek het, het hulle selfs ’n paar bote toegerus om groot groepe Getuies na eilande te neem waar daar tevore min of geen getuieniswerk gedoen is nie.

In Birma (nou Myanma) was dit nie die Japannese inval nie, maar druk wat die Anglikaanse, Metodiste-, Rooms-Katolieke en Amerikaanse Baptistegeestelikes op koloniale amptenare uitgeoefen het wat in Mei 1941 tot ’n verbod op die lektuur van Jehovah se Getuies gelei het. Twee Getuies wat in ’n telegraafkantoor gewerk het, het ’n telegram gesien wat hulle laat besef het wat aan die kom is, en die broers kon dus gou lektuur uit die Genootskap se depot verwyder sodat dit nie gekonfiskeer sou word nie. Pogings is toe aangewend om baie van die lektuur oor land na China te stuur.

Gedurende daardie tyd het die Amerikaanse regering baie oorlogstoerusting per vragmotor via die Birma-pad vervoer om die Chinese Nasionalistiese regering te ondersteun. Die broers het probeer om plek op een van daardie vragmotors te kry, maar toestemming is geweier. Pogings om ’n voertuig van Singapoer af te kry, het ook misluk. Maar toe Mick Engel, wat in beheer van die Genootskap se depot in Rangoen (nou Jangon) was, ’n hooggeplaaste Amerikaanse amptenaar genader het, is hy toestemming gegee om die lektuur op leërvragmotors te vervoer.

Toe Fred Paton en Hector Oates egter daarna die amptenaar in beheer van die konvooi na China genader en plek gevra het, het hy amper die stuipe gekry! “Wat?” het hy uitgeroep. “Hoe kan ek vir julle kosbare plek in my vragmotors gee vir julle ellendige traktate as ek absoluut geen plek het vir militêre en mediese voorrade wat dringend benodig word en hier buite lê en vergaan nie?” Fred het gehuiwer, sy hand in sy tas gesteek, hom die magtigingsbrief getoon en hom daarop gewys dat dit ’n baie ernstige saak sou wees as hy die bevele van die amptenare in Rangoen sou ignoreer. Die amptenaar in beheer van die konvooi het nie alleen gereël dat twee ton boeke vervoer word nie, maar hy het ook ’n ligte vragmotor, met ’n bestuurder en voorrade, tot die broers se beskikking gestel. Hulle is met hulle kosbare vrag in ’n noordoostelike rigting met die gevaarlike bergpad langs China toe. Nadat hulle in Paosjan getuig het, het hulle verder gereis na Tsjoengking (Pahsien). Duisende stukke lektuur wat van Jehovah se Koninkryk vertel, is versprei gedurende die jaar wat hulle in China deurgebring het. Tsjiang Kai-Sjek, die president van die Chinese Nasionalistiese regering, was onder diegene vir wie hulle persoonlik getuig het.

Intussen het al die Getuies in Birma, met die uitsondering van drie, die land verlaat namate die bomaanvalle daar toegeneem het, en die meeste van hulle is Indië toe. Die bedrywigheid van die drie wat agtergebly het, was noodgedwonge beperk. Tog het hulle aangehou om informeel te getuig, en hulle pogings het ná die oorlog vrugte afgewerp.

In Noord-Amerika het Jehovah se Getuies ook gedurende die oorlog voor groot struikelblokke te staan gekom. Wydverspreide gepeupelgeweld en die ongrondwetlike toepassing van plaaslike wette het groot druk op die predikingswerk geplaas. Duisende is in die tronk gegooi vanweë hulle neutrale standpunt as Christene. Nogtans het dit nie die Getuies se huis-tot-huis-bediening laat afneem nie. Boonop het dit van Februarie 1940 af iets alledaags geword om hulle in die sakegebiede op straat te sien waar hulle Die Wagtoring en die Vertroosting (nou die Ontwaak!) aanbied. Hulle ywer het nog verder toegeneem. Hoewel hulle van die ergste vervolging verduur het wat nog in daardie deel van die wêreld ondervind is, het die aantal Getuies in die Verenigde State en Kanada tussen 1938 en 1945 meer as verdubbel en het die tyd wat hulle aan hulle openbare bediening bestee het, verdriedubbel.

In baie lande wat met die Britse Statebond verbind was (in Noord-Amerika, Afrika, Asië en eilande van die Karibiese See en die Stille Oseaan), het die regering óf Jehovah se Getuies beperkings opgelê óf hulle lektuur verbied. Een van hierdie lande was Australië. Volgens ’n amptelike aankondiging wat op 17 Januarie 1941, op bevel van die goewerneur-generaal, daar gepubliseer is, was dit vir Jehovah se Getuies onwettig om vir aanbidding te vergader, om enige van hulle lektuur te versprei of om dit selfs in hulle besit te hê. Volgens die wet was dit moontlik om in die hof teen die verbod te appelleer, en dit is onmiddellik gedoen. Maar dit het meer as twee jaar geduur voordat regter Starke van die Hoër Hof beslis het dat die regulasies waarop die verbod gebaseer was “arbitrêr, impulsief en verdrukkend” is. Die volle Hoër Hof het die verbod toe opgehef. Wat het Jehovah se Getuies intussen gedoen?

In navolging van Jesus Christus se apostels was hulle ‘aan God meer gehoorsaam as aan die mense’ (Hand. 4:19, 20; 5:29). Hulle het aangehou preek. Ten spyte van talle struikelblokke het hulle selfs ’n byeenkoms vir 25-29 Desember 1941 by Hargrave-park, naby Sydney, gereël. Toe die regering geweier het dat sommige van die byeenkomsgangers per trein reis, het ’n groep van Wes-Australië hulle voertuie toegerus met apparate wat brandstof uit steenkool vervaardig en die 14 dae lange tog oor land aangepak. Dit het onder andere ’n week geneem om die onherbergsame Nullarborvlakte oor te steek. Hulle het veilig daar aangekom en die program saam met die sesduisend ander byeenkomsgangers geniet. Nog ’n byeenkoms is die volgende jaar gehou, maar hierdie keer is dit in 150 kleiner groepe in sewe groot stede deur die hele land gehou en het die sprekers van die een byeenkoms na die ander gereis.

Toe toestande in Europa in 1939 versleg het, het party pionierbedienaars van Jehovah se Getuies aangebied om in ander lande te gaan dien. (Vergelyk Mattheüs 10:23; Handelinge 8:4.) Drie Duitse pioniers is van Switserland na Sjanghai, China, gestuur. ’n Paar is Suid-Amerika toe. Onder dié wat na Brasilië gestuur is, was Otto Estelmann, wat gemeentes in Tsjeggo-Slowakye besoek en gehelp het, en Erich Kattner, wat by die Wagtoringgenootskap se kantoor in Praag gedien het. Hulle nuwe toewysing was nie maklik nie. Hulle het gevind dat die Getuies in sommige plaasgebiede vroeg in die oggend opstaan en tot 7:00 vm. preek en dan weer tot laat in die aand velddiens doen. Broer Kattner sê dat hy dikwels buite geslaap en sy lektuursak as ’n kussing gebruik het terwyl hy van die een plek na die ander gegaan het.—Vergelyk Mattheüs 8:20.

Die Nazi- geheime polisie in Europa het broer Estelmann sowel as broer Kattner meedoënloos agtervolg. Is hulle van vervolging bevry toe hulle na Brasilië verhuis het? Inteendeel, ná net ’n jaar was hulle op aanstigting van amptenare wat blykbaar Nazi-ondersteuners was lank onder huisarres en in gevangenskap! Teëstand van die Katolieke geestelikes was ook iets algemeens, maar die Getuies het met hulle godgegewe werk volgehou. Hulle het voortdurend stede en dorpe in Brasilië besoek waar die Koninkryksboodskap nog nie tevore verkondig is nie.

Wanneer die wêreldwye situasie beskou word, is dit duidelik dat Jehovah se Getuies in die meeste lande waar hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog was met regeringsverbooie óf op hulle organisasie óf op hulle lektuur te kampe gehad het. Hoewel hulle in 1938 die predikingswerk in 117 lande gedoen het, is hulle organisasie of lektuur gedurende die oorlogsjare (1939-45) in meer as 60 van daardie lande in die ban gedoen of is hulle bedienaars gedeporteer. Selfs waar daar geen verbooie was nie, het hulle met gepeupelgeweld te kampe gehad en is hulle dikwels in hegtenis geneem. Desondanks het die verkondiging van die goeie nuus voortgegaan.

Die groot menigte tree in Latyns-Amerika te voorskyn

In Februarie 1943, reg in die middel van die oorlogsjare, het die Wagtoringgenootskap, met die oog op die werk wat ná die oorlog gedoen moes word, die Gileadskool in die staat New York gestig om sendelinge vir diens in ander lande op te lei. Voor die einde van die jaar het 12 van daardie sendelinge al in Kuba begin dien. Die veld daar was baie vrugbaar.

Reeds in 1910 het saad van Bybelwaarheid Kuba bereik. C. T. Russell het in 1913 ’n toespraak daar gehou. J. F. Rutherford het in 1932 in Havana ’n toespraak oor die radio gehou, en die materiaal is in Spaans heruitgesaai. Maar die groei was stadig. Baie mense was op daardie tydstip ongeletterd en daar was baie godsdiensvooroordeel. Dit was hoofsaaklik die Engelssprekende bevolking wat van Jamaika en elders afkomstig was wat aanvanklik belangstelling getoon het. Teen 1936 was daar net 40 Koninkryksverkondigers in Kuba. Maar die plant en natmaak van saad van Koninkrykswaarheid het toe meer vrugte begin voortbring.

In 1934 is die eerste Kubane gedoop; ander het gevolg. Van 1940 af het daaglikse radio-uitsendings sowel as vrymoedige straatgetuieniswerk die huis-tot-huis-bediening daar aangevul. Selfs voordat Gileadopgeleide sendelinge in 1943 daar aangekom het, was daar 950 in Kuba wat die goeie nuus aangeneem en dit aan ander verkondig het, hoewel nie almal dit gereeld gedoen het nie. Gedurende die twee jaar ná die aankoms van die sendelinge het die getalle selfs vinniger gestyg. Teen 1945 was daar 1 894 Getuies van Jehovah in Kuba. Hoewel die meeste van hulle uit ’n godsdiens gekom het wat geleer het dat alle getroue ondersteuners van die kerk hemel toe sal gaan, het die meeste wat Getuies van Jehovah geword het die vooruitsig om vir ewig in ’n herstelde paradys op aarde te lewe gretig aangeneem (Gen. 1:28; 2:15; Ps. 37:9, 29; Openb. 21:3, 4). Net 1,4 persent van hulle het bely dat hulle geesgesalfde broers van Christus is.

Die Genootskap se wêreldhoofkwartier het die Latyns-Amerikaanse veld op nog ’n manier gehelp. Vroeg in 1944 het N. H. Knorr, F. W. Franz, W. E. van Amburgh en M. G. Henschel tien dae in Kuba deurgebring om die broers daar geestelik op te bou. Gedurende daardie tyd is ’n byeenkoms in Havana gehou, en reëlings om die predikingswerk beter te koördineer, is verduidelik. Broer Knorr en broer Henschel het op hierdie reis ook na Costa Rica, Guatemala en Mexiko gegaan om Jehovah se Getuies in daardie lande te help.

In 1945 en 1946 het N. H. Knorr en F. W. Franz reise onderneem waartydens hulle met die Getuies in 24 lande, van Mexiko tot by die suidelikste punt van Suid-Amerika sowel as in die Karibiese See-gebied, kon praat en saamwerk. Hulle het vyf maande in daardie deel van die wêreld deurgebring en liefdevolle hulp en leiding voorsien. Op sommige plekke het hulle met net ’n handjievol belangstellendes vergader. Om te verseker dat daar gereelde reëlings vir vergaderinge en velddiens sou wees, het hulle persoonlik gehelp om die eerste gemeentes in Lima, Peru, en Caracas, Venezuela, te organiseer. Waar gemeentelike vergaderinge reeds gehou is, het hulle dit bygewoon en soms raad gegee oor hoe die praktiese waarde van die vergaderinge met betrekking tot die evangelisasiewerk verbeter kon word.

Waar moontlik is reëlings vir openbare Bybeltoesprake gedurende hierdie besoeke getref. Die toesprake het groot publisiteit ontvang deur middel van reklameborde wat die Getuies gedra het en deur pamflette wat op straat versprei is. Gevolglik was die 394 Getuies in Brasilië bly om 765 by hulle byeenkoms in Sao Paulo te hê. In Chili, waar daar 83 Koninkryksverkondigers was, het 340 na die spesiaal geadverteerde toespraak kom luister. In Costa Rica was die 253 plaaslike Getuies verheug om altesaam 849 by hulle twee byeenkomste te hê. Dit was geleenthede van hartlike samesyn onder die broers.

Die doel was egter nie om net heuglike byeenkomste te hê nie. Tydens hierdie reise het die verteenwoordigers van die hoofkwartier veral beklemtoon hoe belangrik dit is om herbesoeke by belangstellendes te doen en tuisbybelstudies met hulle te hou. ’n Voorvereiste vir mense om ware dissipels te word, is dat hulle gereeld uit God se Woord onderrig word. As gevolg hiervan het die aantal tuisbybelstudies in hierdie deel van die wêreld vinnig toegeneem.

Terwyl broer Knorr en broer Franz op hierdie diensreise was, het nog Gileadopgeleide sendelinge in hulle toewysings aangekom. Teen die einde van 1944 het ’n paar in Costa Rica, Mexiko en Puerto Rico gedien. In 1945 het ander sendelinge gehelp om die predikingswerk in Barbados, Brasilië, Brits-Honduras (nou Belize), Chili, Colombia, El Salvador, Guatemala, Haïti, Jamaika, Nicaragua, Panama en Uruguay beter te organiseer. Toe die eerste twee sendelinge in 1945 in die Dominikaanse Republiek aangekom het, was hulle die enigste Getuies in die land. Die uitwerking van die vroeë sendelinge se bediening is gou waargeneem. Trinidad Paniagua het oor die eerste sendelinge wat na Guatemala gestuur is, gesê: “Dit was presies wat ons nodig gehad het—onderrigters van God se Woord om ons te help verstaan hoe om die werk te doen.”

Die grondslag vir uitbreiding in hierdie deel van die wêreldveld is derhalwe gelê. Teen die einde van 1945 was daar 3 394 Koninkryksverkondigers op die Karibiese Eilande. In Mexiko was daar 3 276 en nog 404 in Sentraal-Amerika. In Suid-Amerika, 1 042. Dit verteenwoordig ’n toename van 386 persent vir hierdie deel van die wêreld gedurende die vorige sewe jaar, wat ’n baie onstuimige tyd in die mensegeskiedenis was. Maar dit was net ’n begin. Groei van inderdaad reuseafmetings het nog voorgelê! Die Bybel het voorspel dat “’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” voor die groot verdrukking as aanbidders van Jehovah ingesamel sou word.—Openb. 7:9, 10, 14.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, was daar net 72 475 Getuies van Jehovah wat die predikingswerk in 115 lande gedoen het (as dit getel word volgens hoe die lande in die vroeë negentigerjare verdeel was). Ondanks die hewige vervolging wat hulle wêreldwyd ondervind het, was daar aan die einde van die oorlog meer as dubbel soveel Getuies. Die rapport vir 1945 het dus getoon dat 156 299 Getuies bedrywig was in die 107 lande waarvoor daar rapporte opgestel kon word. Maar teen daardie tyd is 163 lande in werklikheid al met die Koninkryksboodskap bereik.

Die getuienis wat gedurende die jare 1936 tot 1945 gegee is, is werklik merkwaardig. Gedurende daardie dekade van wêreldberoering het hierdie ywerige Getuies van Jehovah altesaam 212 069 285 uur daaraan gewy om aan die wêreld te verkondig dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is. Hulle het ook 343 054 579 boeke, boekies en tydskrifte versprei om mense die skriftuurlike grondslag vir daardie vertroue te help verstaan. Om opregte belangstellendes te help, het hulle in 1945 gemiddeld 104 814 gratis tuisbybelstudies gehou.

[Lokteks op bladsy 455]

Hoewel oorlogstoestande hulle genoodsaak het om te vlug, het hulle aangehou preek

[Venster/Prente op bladsy 451-453]

Hulle het geweier om op te hou getuig al was hulle in gevangenskap

Hier is net ’n paar van die duisende wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in tronke en konsentrasiekampe vir hulle geloof gely het

1. Adrian Thompson, Nieu-Seeland. In 1941 in Australië in die tronk gegooi; sy aansoek om vrystelling van konskripsie is verwerp toe Australië Jehovah se Getuies in die ban gedoen het. Ná sy vrylating het hy, as ’n reisende opsiener, die gemeentes versterk om aan hulle openbare bediening deel te neem. Het as ’n sendeling en die eerste reisende opsiener in naoorlogse Japan gedien; het tot sy dood in 1976 ywerig volgehou met die predikingswerk.

2. Alois Moser, Oostenryk. In sewe tronke en konsentrasiekampe. In 1992 steeds ’n bedrywige Getuie op die ouderdom van 92.

3. Franz Wohlfahrt, Oostenryk. Die teregstelling van sy vader en sy broer het Franz nie afgeskrik nie. Is vyf jaar lank in die Rollwald-kamp gevange gehou. In 1992 het hy steeds op 70-jarige ouderdom getuig.

4. Thomas Jones, Kanada. In 1944 in die tronk gegooi, toe in twee werkkampe gevange gehou. Ná 34 jaar in die voltydse diens is hy in 1977 aangestel as ’n lid van die Takkomitee wat toesig hou oor die predikingswerk in die hele Kanada.

5. Maria Hombach, Duitsland. Herhaalde kere gevange geneem; drie en ’n half jaar in alleenopsluiting. As koerier het sy haar lewe gewaag om Bybellektuur na mede-Getuies te neem. In 1992 steeds ’n getroue lid van die Bethelgesin op die ouderdom van 90.

6. Max en Konrad Franke, Duitsland. Vader en seun is albei herhaalde kere in die tronk gegooi, en vir baie jare. (Konrad se vrou, Gertrud, was ook in die tronk.) Almal het lojale, ywerige knegte van Jehovah gebly, en Konrad het ’n groot rol daarin gespeel om die Getuies se predikingswerk in naoorlogse Duitsland weer op dreef te bring.

7. A. Pryce Hughes, Engeland. Het twee keer in Wormwood Scrubs, Londen, vonnisse uitgedien; was ook gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die tronk weens sy geloof. Was tot sy dood in 1978 aan die voorpunt van die Koninkryksverkondiging in Brittanje.

8. Adolphe en Emma Arnold, by hulle dogter Simone, Frankryk. Nadat Adolphe in die tronk gegooi is, het Emma en Simone aangehou om te getuig, asook lektuur onder ander Getuies te versprei. Toe Emma in die tronk was, is sy in alleenopsluiting gesit omdat sy gedurig vir ander gevangenes getuig het. Simone is na ’n verbeteringskool gestuur. Al drie het ywerige Getuies gebly.

9. Ernst en Hildegard Seliger, Duitsland. Hulle was altesaam meer as 40 jaar in tronke en konsentrasiekampe vir hulle geloof. Selfs in die tronk het hulle voortgegaan om Bybelwaarhede aan ander te verkondig. Toe hulle vrygelaat is, het hulle die goeie nuus voltyds verkondig. Broer Seliger het in 1985 as ’n getroue kneg van God gesterf; suster Seliger in 1992.

10. Carl Johnson, Verenigde State. Twee jaar nadat hy gedoop is, is hy saam met honderde ander Getuies by Ashland, Kentucky, in die tronk gegooi. Het as ’n pionier en as ’n kringopsiener gedien; in 1992 het hy steeds as ’n ouere man die leiding in die veldbediening geneem.

11. August Peters, Duitsland. Hy is weggeskeur van sy vrou en vier kinders en was van 1936-37, asook van 1937-45, in die tronk. Ná sy vrylating het hy, pleks van minder te preek, meer in die voltydse diens gedoen. In 1992 het hy op 99-jarige leeftyd steeds as ’n lid van die Bethelgesin gedien en gesien hoe die aantal Getuies van Jehovah in Duitsland tot 163 095 groei.

12. Gertrud Ott, Duitsland. In gevangenskap in Lódz, Pole, toe in Auschwitz-konsentrasiekamp; daarna in Gross-Rosen en Bergen-Belsen in Duitsland. Ná die oorlog het sy ywerig as ’n sendeling in Indonesië, Iran en Luxemburg gedien.

13. Katsoeo Mioera, Japan. Sewe jaar nadat hy in Hirosjima in hegtenis geneem en in die tronk gegooi is, is ’n groot gedeelte van die tronk waar hy gevange gehou is, vernietig deur die atoombom wat die stad verwoes het. Dokters het egter geen tekens van straling in hom gevind nie. Hy het die laaste jare van sy lewe in die pionierdiens deurgebring.

14. Martin en Gertrud Poetzinger, Duitsland. ’n Paar maande ná hulle huwelik is hulle gevange geneem en was hulle gevolglik nege jaar van mekaar geskei. Martin is na Dachau en Mauthausen gestuur; Gertrud na Ravensbrück. Ten spyte van wrede behandeling het hulle geloof nie gewankel nie. Ná hulle vrylating het hulle hulle kragte ten volle aan Jehovah se diens gewy. Hy het 29 jaar as reisende opsiener dwarsdeur Duitsland gedien; toe as ’n lid van die Bestuursliggaam tot sy dood in 1988. In 1992 was Gertrud steeds ’n ywerige evangeliedienaar.

15. Jizo en Matsoeë Isjii, Japan. Nadat hulle ’n dekade lank Bybellektuur deur die hele Japan versprei het, is hulle gevange geneem. Hoewel die werk van Jehovah se Getuies in Japan gedurende die oorlog tot stilstand gebring is, het broer en suster Isjii ná die oorlog weer ywerig getuig. Teen 1992 het Matsoei Isjii gesien hoe die aantal bedrywige Getuies in Japan tot meer as 171 000 toegeneem het.

16. Victor Bruch, Luxemburg. In gevangenskap in Buchenwald, Lublin, Auschwitz en Ravensbrück. Op 90 steeds bedrywig as ’n ouere man van Jehovah se Getuies.

17. Karl Schurstein, Duitsland. ’n Reisende opsiener voor Hitler aan die bewind gekom het. Was agt jaar in gevangenskap en is toe in 1944 deur die SS in Dachau om die lewe gebring. Selfs in die kamp het hy voortgegaan om ander geestelik op te bou.

18. Kim Bong-njoe, Korea. Was ses jaar in gevangenskap. Op 72 steeds besig om ander van God se Koninkryk te vertel.

19. Pamfil Albu, Roemenië. Nadat hy wreed mishandel is, is hy vir twee en ’n half jaar na ’n werkkamp in Joego-Slawië gestuur. Ná die oorlog was hy weer twee keer, nog 12 jaar, in gevangenskap. Hy het nie opgehou om oor God se voorneme te praat nie. Voor sy dood het hy duisende in Roemenië gehelp om saam met die wêreldwye organisasie van Jehovah se Getuies te dien.

20. Wilhelm Scheider, Pole. In Nazi-konsentrasiekampe van 1939-45. In Kommunistiese tronke van 1950-56 asook 1960-64. Tot sy dood in 1971 het hy sy kragte onvermoeid aan die verkondiging van God se Koninkryk gewy.

21. Harald en Elsa Abt, Pole. Harald het tydens en ná die oorlog 14 jaar in die tronk en in konsentrasiekampe deurgebring weens sy geloof, maar het selfs dáár aangehou preek. Elsa is weggeskeur van hulle babadogtertjie en toe in ses kampe in Pole, Duitsland en Oostenryk gevange gehou. Ten spyte van die 40 jaar lange verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Pole selfs ná die oorlog, het hulle almal ywerige knegte van Jehovah gebly.

22. Ádám Szinger, Hongarye. Tydens ses hofsake tot 23 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy 8 1/2 jaar in die tronk en in werkkampe uitgedien het. Nadat hy vrygelaat is, het hy altesaam 30 jaar as reisende opsiener gedien. Op 69 steeds ’n getroue ouere man in die gemeente.

23. Joseph Dos Santos, die Filippyne. Het 12 jaar as voltydse verkondiger van die Koninkryksboodskap gedien voor sy gevangeneming in 1942. Het die bedrywigheid van Jehovah se Getuies in die Filippyne ná die oorlog weer op dreef gebring en tot sy dood in 1983 in die pionierdiens gebly.

24. Rudolph Sunal, Verenigde State. Was in Mill Point, Wes-Virginië, in die tronk. Ná sy vrylating het hy al sy tyd gewy aan die verkondiging van die boodskap aangaande God se Koninkryk—as ’n pionier, as ’n lid van die Bethelgesin en as ’n kringopsiener. In 1992 op 78-jarige leeftyd steeds in die pionierdiens.

25. Martin Magyarosi, Roemenië. Vanuit die tronk, 1942-44, het hy voortgegaan om die verkondiging van die goeie nuus in Transsilvanië te rig. Toe hy vrygelaat is, het hy baie gereis om mede-Getuies in hulle predikingswerk te bemoedig en was hy self ’n onverskrokke Getuie. Hy is weer in 1950 gevange geneem en het in 1953 as ’n lojale kneg van Jehovah in ’n werkkamp gesterf.

26. R. Arthur Winkler, Duitsland en Nederland. Eers na Esterwegen-konsentrasiekamp gestuur; het aangehou preek in die kamp. Hy is later, in Nederland, deur die Gestapo geslaan tot hy onherkenbaar was. Hy is uiteindelik na Sachsenhausen gestuur. Was tot sy dood in 1972 ’n lojale, ywerige Getuie.

27. Park Ock-hi, Korea. Drie jaar in Sodaemoen-gevangenis, Seoel; aan onbeskryflike marteling onderwerp. In 1992, op die ouderdom van 91, steeds ywerig in die getuieniswerk as ’n spesiale pionier.

[Kaart/Prent op bladsy 446]

Alexander MacGillivray het as opsiener van die takkantoor in Australië gehelp om predikingsreise na baie lande en eilande te beplan

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AUSTRALIË

NIEUSEELAND

TAHITI

TONGA

FIDJI

NIEUGUINEE

JAVA

BORNEO

SUMATRA

BIRMA

HONGKONG

MALEIA

SIAM

INDO-CHINA

CHINA

STILLE OSEAAN

Plekname is dié wat gedurende die dertigerjare in gebruik was

[Kaart/Prente op bladsy 460]

Teen die einde van 1945 het sendelinge van die Gileadskool reeds in 18 lande in hierdie deel van die wêreld gedien

Charles en Lorene Eisenhower

Kuba

John en Adda Parker

Guatemala

Emil van Daalen

Puerto Rico

Olaf Olson

Colombia

Don Burt

Costa Rica

Gladys Wilson

El Salvador

Hazel Burford

Panama

Louise Stubbs

Chili

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BARBADOS

BELIZE

BOLIVIA

BRASILIË

CHILI

COLOMBIA

COSTA RICA

KUBA

DOMINIKAANSE REPUBLIEK

EL SALVADOR

GUATEMALA

HAÏTI

JAMAIKA

MEXIKO

NICARAGUA

PANAMA

PUERTO RICO

URUGUAY

[Prent op bladsy 444]

Party kolporteurs het baie kartondose lektuur versprei; huisbewoners het talle Bybelpreke in elke boek ontvang

[Prent op bladsy 445]

Armando Menazzi (middel voor) en ’n vrolike groep wat hom op ’n predikingsreis in hulle “pionierhuis op wiele” vergesel het

[Prent op bladsy 445]

Arthur Willis, Ted Sewell en Bill Newlands—drie wat die Koninkryksboodskap in die Australiese agterveld gaan verkondig het

[Prent op bladsy 447]

Frank Dewar (hier by sy vrou en hulle twee dogters) het in 1936 as ’n alleenwerkende pionier in Thailand gaan dien en was in 1992 steeds ’n spesiale pionier

[Prent op bladsy 447]

Tsjomtsjai Intapan het haar vermoë as ’n vertaler gebruik om die Thai-volk met die goeie nuus in die Bybel te bereik

[Prent op bladsy 448]

Hoewel daar ’n regeringsverbod op hulle aanbidding was, het Jehovah se Getuies in Duitsland hierdie ope brief in 1937 wyd en syd onder die publiek versprei

[Prent op bladsy 449]

Franz en Hilda Kusserow se gesin—elkeen van hulle ’n getroue Getuie van Jehovah, al is almal in die gesin (behalwe ’n seun wat in ’n ongeluk omgekom het) weens hulle geloof in konsentrasiekampe, gevangenisse of verbeteringskole gesit

[Prente op bladsy 450]

Sommige in Oostenryk en Duitsland wat hulle lewe gewaag het om kopieë van waardevolle Bybelstudiemateriaal, soos dié op die agtergrond, te maak of te versprei

Therese Schreiber

Peter Gölles

Elfriede Löhr

Albert Wandres

August Kraft

Ilse Unterdörfer

[Prent op bladsy 454]

Getuies by ’n byeenkoms in Sjanghai, China, in 1936; nege van hierdie groep is by daardie geleentheid gedoop

[Prent op bladsy 456]

Ten spyte van die verbod op hulle aanbidding het hierdie Getuies in 1941 ’n byeenkoms by Hargrave-park, naby Sydney, Australië, gehou

[Prent op bladsy 458]

Kubaanse Getuies by ’n byeenkoms in Cienfuegos in 1939

[Prent op bladsy 459]

N. H. Knorr (links) by ’n byeenkoms in Sao Paulo in 1945, met Erich Kattner as tolk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel