Hoofstuk 10
God se koninkryk heers
1, 2. Hoe het menseregerings getoon dat hulle ontoereikend is?
MISKIEN het jy al ’n toestel gekoop en dan uitgevind dat dit nie werk nie. Kom ons sê dat jy iemand ingeroep het om dit te herstel. Maar kort nadat hy die toestel “reggemaak” het, het dit gebreek. Hoe teleurstellend was dit tog!
2 Dit is ook die geval met menseregerings. Die mens wou nog altyd ’n regering hê wat vrede en geluk sou verseker. Nietemin was ywerige pogings om die gebreke in die gemeenskap te herstel nie waarlik suksesvol nie. ’n Groot aantal vredesverdrae is al gesluit—en dan verbreek. En watter regering het daarin geslaag om armoede, vooroordeel, misdaad, siekte en ekologiese verwoesting uit die weg te ruim? Die mens se heerskappy is onherstelbaar. Selfs Israel se wyse koning Salomo het gevra: “Hoe sou ’n mens dan sy weg verstaan?”—Spreuke 20:24.
3. (a) Wat was die tema van Jesus se predikingswerk? (b) Hoe beskryf party mense God se Koninkryk?
3 Moenie moed opgee nie! ’n Stabiele wêreldregering is nie net ’n droom nie. Dit was die tema van Jesus se predikingswerk. Hy het dit “die koninkryk van God” genoem, en hy het sy volgelinge geleer om daarvoor te bid (Lukas 11:2; 21:31). God se Koninkryk word natuurlik soms in godsdienskringe gemeld. Trouens, miljoene bid daagliks daarvoor wanneer hulle die Gebed van die Here (wat ook die Onse Vader of modelgebed genoem word) opsê. Maar mense gee verskillende antwoorde wanneer hulle gevra word: “Wat is God se Koninkryk?” Party sê: “Dit is in jou hart.” Ander sê dit is die hemel. Die Bybel verstrek ’n duidelike antwoord, soos ons sal sien.
’N KONINKRYK MET ’N DOEL
4, 5. Waarom het Jehovah besluit om sy soewereiniteit op ’n nuwe manier te toon, en wat sal dit bereik?
4 Jehovah God was nog altyd die Koning, of Soewereine Heerser, van die heelal. Die feit dat hy alles geskep het, verhef hom tot hierdie hoë posisie (1 Kronieke 29:11; Psalm 103:19; Handelinge 4:24). Maar die Koninkryk waaroor Jesus gepreek het, is ondergeskik aan God se universele soewereiniteit. Daardie Messiaanse Koninkryk het ’n spesifieke doel, maar wat is dit?
5 Soos in Hoofstuk 6 verduidelik is, het die eerste mensepaar teen God se gesag in opstand gekom. As gevolg van die geskille wat ontstaan het, het Jehovah besluit om sy soewereiniteit op ’n nuwe manier te toon. God het sy voorneme aangekondig om ’n “saad” voort te bring wat die Slang, Satan, sou vermorsel en die gevolge van die mensdom se oorgeërfde sonde ongedaan sou maak. Die vernaamste “saad” is Jesus Christus, en “die koninkryk van God” is die instrument wat Satan geheel en al sal verslaan. Deur middel van hierdie Koninkryk sal Jesus Christus heerskappy oor die aarde in Jehovah se naam herstel en God se regmatige soewereiniteit eens en vir altyd regverdig.—Genesis 3:15; Psalm 2:2-9.
6, 7. (a) Waar is die Koninkryk, en wie is die Koning en sy medeheersers? (b) Wie is die onderdane van die Koninkryk?
6 Volgens een weergawe van Jesus se woorde aan die goddelose Fariseërs het hy gesê: “Die koninkryk van God is binne-in julle” (Lukas 17:21, AB). Het Jesus bedoel dat die Koninkryk in die goddelose harte van daardie verdorwe manne was? Nee. ’n Juister vertaling van die oorspronklike Grieks lui: “Die koninkryk van God is in julle midde” (Nuwe Wêreld-vertaling). Jesus, wat in hulle midde was, het dus na homself as die toekomstige Koning verwys. God se Koninkryk is geensins iets wat iemand in sy hart het nie, maar is ’n werklike, funksionerende regering met ’n heerser en onderdane. Dit is ’n hemelse regering, want dit word “die koninkryk van die hemele” sowel as “die koninkryk van God” genoem (Matteus 13:11; Lukas 8:10). In ’n visioen het die profeet Daniël gesien hoe die Heerser daarvan, iemand “soos die Seun van ’n mens”, voor God die Almagtige gebring en blywende “heerskappy en eer en koningskap” gegee is sodat ‘al die volke en nasies en tale hom sou vereer’ (Daniël 7:13, 14). Wie is hierdie Koning? Wel, die Bybel noem Jesus Christus “die Seun van die mens” (Matteus 12:40; Lukas 17:26). Ja, Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, as Koning aangewys.
7 Jesus regeer nie alleen nie. Saam met hom is 144 000 wat “van die aarde gekoop is” om sy medekonings en -priesters te wees (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3; Lukas 22:28-30). Die onderdane van God se Koninkryk sal ’n wêreldwye mensefamilie wees wat hulle aan Christus se leierskap onderwerp (Psalm 72:7, 8). Maar hoe kan ons daarvan seker wees dat die Koninkryk werklik God se soewereiniteit sal regverdig en paradystoestande op ons aarde sal herstel?
DIE WERKLIKHEID VAN GOD SE KONINKRYK
8, 9. (a) Hoe kan ons die betroubaarheid van God se Koninkryksbeloftes toelig? (b) Waarom kan ons daarvan seker wees dat die Koninkryk ’n werklikheid is?
8 Stel jou voor dat ’n brand jou huis vernietig het. Nou belowe ’n vriend wat die middele daarvoor het dat hy jou gaan help om jou huis te herbou en jou gesin van kos gaan voorsien. Sou jy nie daardie vriend glo as hy jou nog altyd die waarheid vertel het nie? Gestel jy kom die volgende dag van die werk af by die huis en vind dat werkers reeds begin het om die puin wat deur die vuur veroorsaak is op te ruim en dat jou gesin van kos voorsien is. Jy sou ongetwyfeld die volle vertroue hê dat dinge mettertyd nie net herstel sal wees nie, maar selfs beter as tevore sal wees.
9 Jehovah verseker ons eweneens dat die Koninkryk ’n werklikheid is. Soos in die Bybelboek Hebreërs getoon word, het baie aspekte van die Wet die Koninkryksreëling voorafgeskadu (Hebreërs 10:1). Daar was ook voorskouings van God se Koninkryk in die aardse koninkryk van Israel. Dit was geen gewone regering nie, want die heersers het op ‘die troon van Jehovah’ gesit (1 Kronieke 29:23). Daar is boonop voorspel: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (Genesis 49:10).a Ja, dit was in hierdie Judese koningslyn dat Jesus, die permanente Koning van God se regering, gebore sou word.—Lukas 1:32, 33.
10. (a) Wanneer is die grondslag van God se Messiaanse Koninkryk gelê? (b) Met watter belangrike werk neem Jesus se toekomstige medeheersers die voortou op die aarde?
10 Die grondslag van God se Messiaanse Koninkryk is met die verkiesing van Jesus se apostels gelê (Efesiërs 2:19, 20; Openbaring 21:14). Hulle was die eerstes van 144 000 wat as medekonings saam met Jesus Christus in die hemel sou heers. Terwyl hulle op die aarde is, neem hierdie toekomstige medeheersers die voortou met ’n getuienisveldtog, in ooreenstemming met Jesus se bevel: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees.”—Matteus 28:19.
11. Hoe word die Koninkrykspredikingswerk vandag gedoen, en wat word daardeur bereik?
11 Die bevel om dissipels te maak, word nou op ’n ongeëwenaarde skaal gehoorsaam. Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele aarde, ooreenkomstig Jesus se profetiese woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). ’n Groot opvoedingsprogram word uitgevoer as een aspek van die Koninkrykspredikingswerk. Diegene wat hulle aan die wette en beginsels van God se Koninkryk onderwerp, geniet reeds ’n vrede en eenheid wat menseregerings nie kan bereik nie. Dit alles lewer duidelike bewys dat God se Koninkryk ’n werklikheid is!
12. (a) Waarom is dit gepas om Koninkryksverkondigers Jehovah se Getuies te noem? (b) Hoe verskil God se Koninkryk van menseregerings?
12 Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Júlle is my getuies . . . en my kneg wat Ek uitverkies het” (Jesaja 43:10-12). Jesus, “die Getroue Getuie”, het die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig (Openbaring 1:5; Matteus 4:17). Dit is derhalwe gepas dat hedendaagse Koninkryksverkondigers die godgegewe naam Jehovah se Getuies dra. Maar waarom bestee die Getuies soveel tyd en energie daaraan om met ander oor God se Koninkryk te praat? Hulle doen dit omdat die Koninkryk die mensdom se enigste hoop is. Menseregerings stort vroeër of later in duie, maar God se Koninkryk sal nooit nie. Jesaja 9:5, 6 noem die Heerser daarvan, Jesus, die “Vredevors” en voeg by: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.” God se Koninkryk is nie soos die mens se regerings nie—vandag hier en môre omvergewerp. Trouens, Daniël 2:44 sê: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; . . . self sal dit vir ewig bestaan.”
13. (a) Wat is party van die probleme wat God se Koninkryk sal oplos? (b) Waarom kan ons daarvan seker wees dat God se beloftes vervul sal word?
13 Watter mensekoning kan ’n einde maak aan oorlog, misdaad, siekte, verhongering en haweloosheid? En watter aardse heerser kan diegene opwek wat gesterf het? God se Koninkryk en sy Koning sal aan hierdie sake aandag skenk. Die Koninkryk sal nie gebrekkig wees, soos swak toerusting wat gedurig herstel moet word nie. God se Koninkryk sal eerder welslae behaal, want Jehovah belowe: ‘My woord wat uit my mond uitgaan, sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur’ (Jesaja 55:11). God se voorneme sal nie misluk nie, maar wanneer sou die Koninkryksheerskappy begin?
KONINKRYKSHEERSKAPPY—WANNEER?
14. Onder watter misverstand aangaande die Koninkryk het Jesus se dissipels verkeer, maar wat het Jesus omtrent sy heerskappy geweet?
14 “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Hierdie vraag wat deur Jesus se dissipels gestel is, het getoon dat hulle toe nog nie geweet het wat die doel van God se Koninkryk was en die vasgestelde tyd wanneer dit sou begin heers nie. Jesus het hulle gewaarsku om nie oor die saak te bespiegel nie en gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie.” Jesus het geweet dat sy heerskappy oor die aarde vir die toekoms bestem was, lank nadat hy opgestaan en na die hemel opgevaar het (Handelinge 1:6-11; Lukas 19:11, 12, 15). Die Skrif het dit voorspel. Hoe?
15. Hoe werp Psalm 110:1 lig op die begin van Jesus se heerskappy?
15 Met profetiese verwysing na Jesus as “Here” het koning Dawid gesê: “Die HERE [Jehovah] het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” (Psalm 110:1; vergelyk Handelinge 2:34-36.) Hierdie profesie dui aan dat Jesus se heerskappy nie onmiddellik ná sy hemelvaart sou begin nie. Hy sou eerder aan God se regterhand wag (Hebreërs 10:12, 13). Hoe lank sou hierdie wagtydperk wees? Wanneer sou sy heerskappy begin? Die Bybel help ons om die antwoorde te vind.
16. Wat het in 607 v.G.J. gebeur, en hoe het dit verband gehou met God se Koninkryk?
16 Die enigste stad op die hele aarde waarop Jehovah sy naam geplaas het, was Jerusalem (1 Konings 11:36). Dit was ook die hoofstad van ’n aardse koninkryk wat deur God goedgekeur is en wat God se hemelse Koninkryk afgebeeld het. Die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs was dus uiters betekenisvol. Hierdie gebeurtenis het die begin aangedui van ’n lang onderbreking van God se regstreekse heerskappy oor sy volk op die aarde. Ongeveer ses eeue later het Jesus te kenne gegee dat hierdie tydperk van onderbroke heerskappy nog steeds aan die gang was, want hy het gesê: “Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is.”—Lukas 21:24.
17. (a) Wat is “die vasgestelde tye van die nasies”, en hoe lank sou dit duur? (b) Wanneer het “die vasgestelde tye van die nasies” begin en geëindig?
17 Gedurende “die vasgestelde tye van die nasies” sou wêreldse regerings toegelaat word om heerskappy wat deur God goedgekeur word te onderbreek. Daardie tydperk het met die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. begin, en Daniël het aangedui dat dit “sewe tydperke”, of “tye” (NW), sou duur (Daniël 4:23-25). Hoe lank is dit? Die Bybel toon dat drie en ’n half “tye” gelyk is aan 1 260 dae (Openbaring 12:6, 14). Twee maal daardie tydperk, of sewe tye, sou 2 520 dae wees. Maar niks merkwaardigs het aan die einde van daardie kort tydjie gebeur nie. Deur die beginsel “vir elke dag een jaar” op Daniël se profesie toe te pas en 2 520 jaar van 607 v.G.J. af te tel, kom ons egter by die jaar 1914 G.J. uit.—Numeri 14:34; Esegiël 4:6.
18. Wat het Jesus gedoen kort nadat hy Koninkryksmag ontvang het, en hoe het dit die aarde geraak?
18 Het Jesus toe in die hemel begin heers? Skriftuurlike redes waarom daar gesê word dat hy dit wel gedoen het, sal in die volgende hoofstuk bespreek word. Die begin van Jesus se heerskappy sou natuurlik nie deur onmiddellike vrede op die aarde gekenmerk word nie. Openbaring 12:7-12 toon dat Jesus Satan en die demoonengele uit die hemel sou werp kort nadat Hy die Koninkryk ontvang het. Dit sou weë vir die aarde beteken, maar dit is bemoedigend om te lees dat die Duiwel net “’n kort tydperk” oorhet. Ons sal ons binnekort kan verheug, nie net omdat God se Koninkryk heers nie, maar ook omdat dit seëninge vir die aarde en die gehoorsame mensdom sal meebring (Psalm 72:7, 8). Hoe weet ons dat dit binnekort sal gebeur?
[Voetnote]
a Die naam Silo beteken “Hy wie s’n dit is; Hy aan wie dit behoort”. Dit het mettertyd duidelik geword dat “Silo” Jesus Christus is, “die Leeu wat uit die stam Juda is” (Openbaring 5:5). Party van die Joodse Targoems het die woord “Silo” eenvoudig deur “die Messias” of “die koning Messias” vervang.
TOETS JOU KENNIS
Wat is God se Koninkryk, en waarvandaan heers dit?
Wie heers in die Koninkryk, en wie is die onderdane daarvan?
Hoe het Jehovah ons verseker dat sy Koninkryk ’n werklikheid is?
Wanneer het “die vasgestelde tye van die nasies” begin en geëindig?
[Venster op bladsy 94]
ENKELE BELANGRIKE GEBEURE MET BETREKKING TOT GOD SE KONINKRYK
• Jehovah kondig sy voorneme aan om ’n “saad” voort te bring wat die kop van die Slang, Satan die Duiwel, sou vermorsel.—Genesis 3:15.
• In 1943 v.G.J. dui Jehovah aan dat hierdie “saad” ’n menslike afstammeling van Abraham sou wees.—Genesis 12:1-3, 7; 22:18.
• Die Wetsverbond wat in 1513 v.G.J. aan Israel gegee is, is “’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge”.—Exodus 24:6-8; Hebreërs 10:1.
• Die aardse koninkryk van Israel begin in 1117 v.G.J., en dit bestaan later voort in die lyn van Dawid.—1 Samuel 11:15; 2 Samuel 7:8, 16.
• Jerusalem word in 607 v.G.J. vernietig, en “die vasgestelde tye van die nasies” begin.—2 Konings 25:8-10, 25, 26; Lukas 21:24.
• In 29 G.J. word Jesus as die aangewese Koning gesalf en begin hy met sy aardse bediening.—Matteus 3:16, 17; 4:17; 21:9-11.
• In 33 G.J. vaar Jesus na die hemel op om daar aan die regterhand van God te wag totdat sy heerskappy begin.—Handelinge 5:30, 31; Hebreërs 10:12, 13.
• Jesus word in 1914 G.J., aan die einde van “die vasgestelde tye van die nasies”, in die hemelse Koninkryk op die troon geplaas.—Openbaring 11:15.
• Satan en sy demone word na die omgewing van die aarde neergewerp en bring groter weë vir die mensdom mee.—Openbaring 12:9-12.
• Jesus hou toesig oor die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:14; 28:19, 20.