Stel jou gesin God eerste?
“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart.”—MARKUS 12:29, 30.
1. Hoe belangrik is dit dat ons Jehovah liefhet?
“WAT is die heel eerste gebod?” het ’n skrifgeleerde Jesus gevra. Jesus het nie sy eie mening gelug nie, maar eerder sy vraag beantwoord deur Deuteronomium 6:4, 5 uit God se Woord aan te haal. Hy het geantwoord: “Die eerste is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah, ons God, is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag.’”—Markus 12:28-30.
2. (a) Voor watter teenstand het Jesus te staan gekom? (b) Wat kan dit soms moeilik maak om Jehovah te behaag?
2 Om gehoorsaam te wees aan wat Jesus die eerste gebod—die belangrikste een—genoem het, vereis dat ons altyd doen wat Jehovah behaag. Jesus het dit gedoen, al het die apostel Petrus by een geleentheid beswaar gemaak teen Jesus se optrede en sy eie familie by ’n ander geleentheid dit ook gedoen het (Matteus 16:21-23; Markus 3:21; Johannes 8:29). Sê nou jy bevind jou in ’n soortgelyke situasie? Veronderstel gesinslede wil hê dat jy jou Bybelstudie en jou assosiasie met Jehovah se Getuies moet staak. Sal jy God eerste stel deur te doen wat hom behaag? Stel jy God eerste, selfs wanneer gesinslede jou pogings om hom te dien, teëstaan?
Die strik van gesinsteenstand
3. (a) Watter gevolge kan Jesus se leringe vir die gesin inhou? (b) Hoe kan gesinslede toon vir wie hulle groter geneentheid het?
3 Jesus het nie die swaarkry as gering afgemaak wat die gevolg kan wees wanneer ander in die gesin die een teëstaan wat sy leringe aanneem nie. “’n Mens se eie huisgenote sal sy vyande wees”, het Jesus gesê. Maar Jesus het ondanks daardie hartseer gevolg getoon wie die eerste plek moet beklee deur te sê: “Hy wat groter geneentheid vir vader of moeder het as vir my, is my nie waardig nie; en hy wat groter geneentheid vir seun of dogter het as vir my, is my nie waardig nie” (Matteus 10:34-37). Ons stel Jehovah God eerste deur die leringe na te volg van sy Seun, Jesus Christus, wat “die presiese afdruksel van [God se] wese” is.—Hebreërs 1:3; Johannes 14:9.
4. (a) Wat het Jesus gesê behels dit om sy volgeling te wees? (b) In watter sin moet Christene hulle gesinslede haat?
4 Toe Jesus by ’n ander geleentheid bespreek het wat dit werklik behels om ’n ware volgeling van hom te wees, het hy gesê: “As iemand na my toe kom en nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, en selfs sy eie siel, haat nie, kan hy nie my dissipel wees nie” (Lukas 14:26). Jesus het natuurlik nie bedoel dat sy volgelinge hulle gesinslede letterlik moes haat nie, want hy het mense dan beveel om selfs hulle vyande lief te hê (Matteus 5:44). Jesus het hier eerder bedoel dat sy volgelinge hulle gesinslede minder lief moes hê as wat hulle God het. (Vergelyk Matteus 6:24.) In ooreenstemming met daardie begrip sê die Bybel dat Jakob Lea “gehaat” en Ragel liefgehad het, wat beteken het dat hy Lea nie so lief soos haar suster, Ragel, gehad het nie (Genesis 29:30-32, NW). Jesus het gesê dat ons selfs ons eie “siel”, oftewel lewe, moet haat, of minder lief moet hê as wat ons Jehovah het!
5. Hoe maak Satan op slinkse wyse van die gesinsreëling gebruik?
5 As Skepper en Lewegewer verdien Jehovah algehele toegewydheid van al sy knegte (Openbaring 4:11). “Ek [buig] my knieë voor die Vader”, het die apostel Paulus geskryf, “aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het” (Efesiërs 3:14, 15). Jehovah het die gesinsreëling op so ’n wonderlike manier geskep dat gesinslede ’n natuurlike geneentheid vir mekaar het (1 Konings 3:25, 26; 1 Tessalonisense 2:7). Maar Satan die Duiwel maak op listige wyse van hierdie natuurlike gesinsgeneentheid gebruik, wat onder andere ’n begeerte is om geliefdes te behaag. Hy blaas gesinsteenstand aan, en vir baie wat daarvoor te staan kom, is dit ’n uitdaging om ’n ferm standpunt vir Bybelwaarheid in te neem.—Openbaring 12:9, 12.
Bied die uitdaging die hoof
6, 7. (a) Hoe kan gesinslede gehelp word om te besef hoe belangrik Bybelstudie en Christelike assosiasie is? (b) Hoe kan ons toon dat ons ons gesinslede werklik liefhet?
6 Wat sal jy doen as jy gedwing word om te kies of jy God of ’n gesinslid gaan behaag? Sal jy redeneer dat God nie van ons verwag om sy Woord te bestudeer en die beginsels daarin toe te pas as dit verdeeldheid in die gesin sal veroorsaak nie? Maar dink daaroor na. Hoe sal jou geliefdes ooit besef dat juiste kennis van die Bybel ’n saak van lewe en dood is as jy tou opgooi en jou Bybelstudie of jou assosiasie met Jehovah se Getuies staak?—Johannes 17:3; 2 Tessalonisense 1:6-8.
7 Ons kan die situasie soos volg toelig: Miskien het ’n gesinslid ’n oormatige begeerte na alkohol. Sal dit hom waarlik tot voordeel strek as jy sy drankprobleem ignoreer of dit verskoon? Sal dit beter wees om ter wille van die vrede toe te gee en nie iets omtrent sy probleem te doen nie? Nee, jy stem waarskynlik saam dat dit beter sal wees om hom te probeer help om sy drankprobleem te oorkom, al beteken dit dat jy sy woede en dreigemente moet trotseer (Spreuke 29:25). As jy eweneens jou gesinslede werklik liefhet, sal jy nie toegee as hulle jou probeer oorreed om jou studie van die Bybel te laat vaar nie (Handelinge 5:29). Alleenlik as jy ’n ferm standpunt inneem, kan jy hulle help besef dat dit ons lewe beteken as ons volgens Christus se leringe lewe.
8. Hoe strek die feit dat Jesus God se wil getrou gedoen het ons tot voordeel?
8 Dit kan soms baie moeilik wees om God eerste te stel. Maar onthou dat Satan dit ook vir Jesus moeilik gemaak het om God se wil te doen. Tog het Jesus nooit moed opgegee nie; hy het selfs die pyn van ’n folterpaal vir ons verduur. “Jesus Christus [is] ons Redder”, sê die Bybel. “Hy het vir ons gesterf” (Titus 3:6; 1 Tessalonisense 5:10). Is ons nie dankbaar dat Jesus nie voor teenstand geswig het nie? Omdat hy ’n offerdood verduur het, het ons die vooruitsig op ewige lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld van regverdigheid as ons geloof in sy vergote bloed beoefen.—Johannes 3:16, 36; Openbaring 21:3, 4.
’n Moontlike groot beloning
9. (a) Hoe kan Christene ’n aandeel daaraan hê om ander te red? (b) Wat was Timoteus se gesinsituasie?
9 Het jy besef dat jy ook ’n aandeel daaraan kan hê om ander te red, onder andere jou geliefde familielede? Die apostel Paulus het Timoteus aangespoor: “Bly by hierdie dinge [wat jy geleer is], want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Timoteus het in ’n verdeelde huis gewoon, want sy Griekse vader was ’n ongelowige (Handelinge 16:1; 2 Timoteus 1:5; 3:14). Hoewel ons nie weet of Timoteus se vader ooit ’n gelowige geword het nie, is die moontlikheid dat hy wel een geword het baie vergroot deur die getroue gedrag van sy vrou, Eunice, en van Timoteus.
10. Wat kan Christene ten behoewe van hulle ongelowige huweliksmaats doen?
10 Die Skrif toon dat mans en vrouens wat standvastig by Bybelwaarheid bly tot die redding van hulle nie-Christelike huweliksmaats kan bydra deur hulle te help om gelowiges te word. Die apostel Paulus het geskryf: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie; en laat ’n vrou wat ’n ongelowige man het wat nietemin bereid is om met haar saam te woon, haar man nie verlaat nie. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie dalk jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Korintiërs 7:12, 13, 16). Die apostel Petrus het beskryf hoe vrouens as ’t ware hulle mans kan red toe hy hulle aangespoor het: “Wees . . . onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word.”—1 Petrus 3:1.
11, 12. (a) Watter beloning het duisende Christene ontvang, en wat het hulle gedoen om dit te ontvang? (b) Vertel ’n ondervinding van ’n gesinslid wat beloon is vir getroue volharding.
11 In onlangse jare het derduisende mense Getuies van Jehovah geword nadat hulle maande en selfs jare lank die Christelike bedrywigheid van hulle Getuie-familielede teëgestaan het. Wat ’n beloning is dit tog vir Christene wat standvastig gebly het, en wat ’n seëning vir die eertydse teenstanders! Met ’n emosievolle stem het ’n 74-jarige Christen- ouer man gesê: “Ek sê gereeld vir my vrou en kinders dankie dat hulle die jare toe ek hulle teëgestaan het by die waarheid gebly het.” Hy het gesê dat hy drie jaar lank koppig geweier het dat sy vrou selfs met hom oor die Bybel praat. “Maar sy het sielkunde op my toegepas”, het hy gesê, “en vir my begin getuig terwyl sy my voete gevryf het. Hoe dankbaar is ek tog dat sy nie voor my teenstand geswig het nie!”
12 ’n Ander man wat sy gesin teëgestaan het, het geskryf: ‘Ek was my vrou se grootste vyand, want nadat sy die waarheid gekry het, het ek haar gedreig en het ons elke dag rusie gemaak; ek het natuurlik altyd die rusie begin. Maar alles tevergeefs; my vrou het by die Bybel gebly. So het twaalf jaar verbygegaan in my bittere stryd teen die waarheid en teen my vrou en kind. Vir hulle twee was ek die Duiwel self.’ Uiteindelik het die man sy lewe begin ontleed. ‘Ek het besef hoe gemeen ek was’, het hy verduidelik. ‘Ek het die Bybel gelees, en danksy die onderrigting daarin is ek nou ’n gedoopte Getuie.’ Dink net aan die vrou se groot beloning, ja, sy het gehelp om ‘haar man te red’ deur 12 jaar lank sy teenstand getrou te verduur!
Leer by Jesus
13. (a) Wat is die vernaamste les wat mans en vrouens uit Jesus se lewenswandel moet leer? (b) Hoe kan mense wat dit moeilik vind om hulle aan God se wil te onderwerp by Jesus se voorbeeld baat vind?
13 Die vernaamste les wat mans en vrouens uit Jesus se lewenswandel moet leer, is gehoorsaamheid aan God. ‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’, het Jesus gesê. ‘Ek soek nie my eie wil nie, maar die wil van hom wat my gestuur het’ (Johannes 5:30; 8:29). Selfs toe ’n spesifieke aspek van God se wil vir Jesus onaangenaam was, was hy gehoorsaam. “As u wil, neem hierdie beker van my af weg”, het hy gebid. Maar hy het vinnig bygevoeg: “Laat nietemin nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42). Jesus het God nie gevra om Sy wil te verander nie; hy het getoon dat hy God waarlik liefhet deur hom gehoorsaam te onderwerp aan wat God se wil ook al vir hom was (1 Johannes 5:3). Dit is van die grootste belang dat ons altyd, soos Jesus, God se wil eerste stel as ons nie net in die ongetroude lewe nie, maar ook in die huwelik en gesinslewe, sukses wil behaal. Kom ons kyk waarom dit die geval is.
14. Watter verkeerde redenasie het party Christene?
14 As gelowiges God eerste stel, wil hulle, soos voorheen genoem is, by hulle ongelowige huweliksmaats bly en is hulle dikwels in staat om hulle op die weg van redding te help. Selfs as albei huweliksmaats gelowiges is, het hulle moontlik alles behalwe die volmaakte huwelik. Weens sondige neigings koester mans en vrouens nie altyd liefdevolle gedagtes teenoor mekaar nie (Romeine 7:19, 20; 1 Korintiërs 7:28). Party gaan selfs so ver dat hulle ’n ander maat soek, al het hulle geen skriftuurlike grond vir ’n egskeiding nie (Matteus 19:9; Hebreërs 13:4). Hulle redeneer dat dit vir hulle die beste is, dat God se wil vir mans en vrouens om bymekaar te bly te moeilik is (Maleagi 2:16; Matteus 19:5, 6). Dit is sonder twyfel nog ’n geval waar menslike gedagtes pleks van God s’n bedink word.
15. Waarom is dit ’n beskerming om God eerste te stel?
15 Wat ’n beskerming is dit tog om God eerste te stel! Egpare wat dit doen, sal probeer om bymekaar te bly en hulle probleme op te los deur die raad van God se Woord toe te pas. Sodoende vermy hulle allerhande smarte wat daaruit voortspruit as sy wil geïgnoreer word (Psalm 19:8-12). Dit word toegelig deur ’n jong paartjie wat besluit het om die Bybel se raad te volg toe hulle op die punt was om van mekaar te skei. Jare later toe die vrou teruggedink het aan die vreugde wat sy in haar huwelik gehad het, het sy gesê: “Dit laat my sommer huil wanneer ek aan die moontlikheid dink dat ek al hierdie jare sonder my man kon geleef het. Dan bid ek tot Jehovah God en dank hom vir sy raad en leiding wat ons in so ’n gelukkige verhouding bymekaargebring het.”
Mans, vrouens—Volg Christus na!
16. Watter voorbeeld het Jesus vir mans sowel as vrouens gestel?
16 Jesus, wat God altyd eerste gestel het, het ’n wonderlike voorbeeld vir mans sowel as vrouens gestel, en dit sal verstandig van hulle wees om noukeurig daaraan aandag te skenk. Mans word aangespoor om die manier na te volg waarop Jesus tere hoofskap oor die lede van die Christengemeente uitoefen (Efesiërs 5:23). En Christenvrouens kan uit Jesus se onberispelike voorbeeld van onderdanigheid aan God leer.—1 Korintiërs 11:3.
17, 18. Op watter maniere het Jesus ’n goeie voorbeeld vir mans gestel?
17 Die Bybel se bevel is: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). ’n Belangrike manier waarop Jesus sy liefde vir sy gemeente volgelinge getoon het, was deur hulle intieme vriend te wees. “Ek het julle vriende genoem”, het Jesus gesê, “omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Dink net aan al die tyd wat Jesus bestee het om met sy dissipels te praat—die tallose besprekings wat hy met hulle gehad het—en al die vertroue wat hy in hulle gestel het! Is dit nie ’n uitstekende voorbeeld vir mans nie?
18 Jesus het opreg in sy dissipels belanggestel en ’n ware geneentheid vir hulle gehad (Johannes 13:1). Wanneer sy leringe vir hulle onduidelik was, het hy geduldig tyd opsygesit om dit privaat aan hulle te verduidelik (Matteus 13:36-43). Mans, is die geestelike welsyn van julle vrouens vir julle net so belangrik? Bestee jy tyd saam met haar om seker te maak dat Bybelwaarhede duidelik in julle albei se verstand en hart is? Jesus het sy apostels in die bediening vergesel en moontlik elkeen van hulle individueel opgelei. Vergesel jy jou vrou in die bediening deur saam met haar van huis tot huis te gaan en Bybelstudies te hou?
19. Hoe stel Jesus vir mans ’n voorbeeld deur die manier waarop hy op die herhaalde swakhede van sy apostels gereageer het?
19 Veral in sy handeling met sy onvolmaakte apostels het Jesus ’n uitstekende voorbeeld vir mans gestel. Tydens sy laaste maaltyd met sy apostels het hy weer ’n gees van wedywering bespeur. Het hy hulle skerp gekritiseer? Nee, hy het eerder nederig hulle almal se voete gewas (Markus 9:33-37; 10:35-45; Johannes 13:2-17). Toon jy sulke geduld met jou vrou? Probeer jy haar eerder geduldig help en haar hart met jou voorbeeld raak as om oor ’n herhaalde swakheid te kla? Vrouens sal heel waarskynlik op sulke liefdevolle ontferming reageer, soos die apostels uiteindelik gedoen het.
20. Wat moet Christenvrouens nooit vergeet nie, en wie word vir hulle as ’n voorbeeld voorgehou?
20 Vrouens moet ook op Jesus ag gee, wat nooit vergeet het dat ‘God die hoof van die Christus is’ nie. Hy het hom altyd aan sy hemelse Vader onderwerp. Vrouens moet insgelyks nie vergeet dat ‘die man die hoof van die vrou is’ nie, ja, dat hulle man hulle hoof is (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:23). Die apostel Petrus het Christenvrouens aangespoor om die voorbeeld van “heilige vroue” van vroeër tye na te volg, veral dié van Sara, wat “Abraham gehoorsaam het en hom ‘heer’ genoem het”.—1 Petrus 3:5, 6.
21. Waarom was Abraham en Sara se huwelik ’n sukses, maar Lot en sy vrou s’n ’n mislukking?
21 Sara het klaarblyklik ’n gerieflike tuiste in ’n welvarende stad prysgegee om in ’n vreemde land in tente te woon. Waarom? Omdat sy daardie lewenswyse verkies het? Beslis nie. Omdat haar man haar gevra het om te gaan? Dit was ongetwyfeld ’n faktor, aangesien Sara Abraham weens sy godvrugtige eienskappe liefgehad en gerespekteer het (Genesis 18:12). Maar die vernaamste rede waarom sy saam met haar man gegaan het, was haar liefde vir Jehovah en haar opregte begeerte om God se riglyne te volg (Genesis 12:1). Sy het behae daarin geskep om aan God gehoorsaam te wees. Daarteenoor het Lot se vrou geaarsel om God se wil te doen en dus verlangend teruggekyk na die dinge wat sy in haar tuisdorp Sodom agtergelaat het (Genesis 19:15, 25, 26; Lukas 17:32). Hoe tragies het daardie huwelik tog geëindig—net omdat sy aan God ongehoorsaam was!
22. (a) Watter selfondersoek sal dit vir gesinslede verstandig wees om te doen? (b) Wat gaan ons in ons volgende studie bespreek?
22 As ’n man of ’n vrou is dit dus noodsaaklik dat jy jou afvra: ‘Stel ons gesin God eerste? Streef ek waarlik daarna om die rol te vervul wat God my in die gesin gegee het? Wend ek ’n opregte poging aan om my huweliksmaat lief te hê en hom of haar te help om ’n goeie verhouding met Jehovah op te bou of te handhaaf?’ In die meeste gesinne is daar ook kinders. Ons gaan vervolgens die rol van ouers bespreek en hoe nodig dit is dat hulle sowel as hulle kinders God eerste stel.
Kan jy onthou?
◻ Watter gevolge kan Jesus se leringe vir baie gesinne inhou?
◻ Watter beloning het duisende standvastige Christene ontvang?
◻ Wat sal egpare help om onsedelikheid en egskeiding te vermy?
◻ Wat kan mans uit Jesus se voorbeeld leer?
◻ Hoe kan vrouens tot ’n gelukkige huwelik bydra?
[Prent op bladsy 10]
Hoe het Sara tot die sukses van haar huwelik bygedra?