Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 8/1 bl. 26-29
  • ’n Gesinstudie wat vreugde bring

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gesinstudie wat vreugde bring
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat moet ons studeer?
  • Behou ’n kalm atmosfeer
  • Laat die Bybel lewe
  • Help almal om deel te neem
  • Kommunikeer—Moenie irriteer nie!
  • Dit is die moeite werd
  • Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Gesinsrooster—die gesinstudie
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Help jou gesin om tot in God se nuwe wêreld behoue te bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hou betekenisvolle gesinsbybelstudies
    Ons Koninkryksbediening—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 8/1 bl. 26-29

’n Gesinstudie wat vreugde bring

“Deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed”, sê die Bybel (Spreuke 24:4). Hierdie kosbare goed is nie net materiële skatte nie, maar sluit ware liefde, godvrugtige vrees en sterk geloof in. Hierdie eienskappe lei inderdaad tot ’n ryk gesinslewe (Spreuke 15:16, 17; 1 Petrus 1:7). Maar om dit te verkry, moet ons sorg dat die kennis van God in ons huis is.

DIE gesinshoof het die verantwoordelikheid om hierdie kennis by die gesinslede in te skerp (Deuteronomium 6:6, 7; Efesiërs 5:25, 26; 6:4). Een van die beste maniere om dit te doen, is deur ’n gereelde gesinstudie. Hoe aangenaam kan dit tog vir die deelnemers wees wanneer die studie op ’n manier gehou word wat leersaam sowel as genotvol is! Kom ons bespreek nou ’n paar vereistes om ’n suksesvolle gesinstudie te hou.a

’n Gesinstudie is die suksesvolste wanneer dit gereeld gehou word. As dit aan toeval of ’n terloopse besluit oorgelaat word, sal dit waarskynlik op sy beste ’n ongereelde gebeurtenis wees. Julle moet dus ‘die tyd uitkoop’ vir die studie (Efesiërs 5:15-17). Dit kan ’n uitdaging wees om op ’n gereelde tyd te besluit wat vir almal gerieflik is. “Ons het dit moeilik gevind om ons gesinstudie gereeld te hê”, erken een gesinshoof. “Ons het verskillende tye beproef totdat ons uiteindelik ’n tyd ’n bietjie later in die aand gevind het wat ons gepas het. Nou is ons gesinstudie gereeld.”

Sodra julle ’n gepaste tyd het, moet julle versigtig wees om nie toe te laat dat afleidings die studie verdring nie. “As besoekers gekom het terwyl ons met die studie besig was”, onthou Maria,b nou 33, “het my pa hulle gevra om te wag totdat die studie verby was. En wat telefoonoproepe betref, het hy eenvoudig vir die persoon gesê dat hy later sou terugskakel.”

Dit beteken egter nie dat daar geen ruimte vir buigsaamheid kan wees nie. Noodgevalle of onvoorsiene gebeurtenisse kan ontstaan, en dit sal dalk af en toe nodig wees om die studie te kanselleer of uit te stel (Prediker 9:11). Maar wees versigtig dat julle nie toelaat dat enige van hierdie dinge julle roetine ontwrig nie.—Filippense 3:16.

Hoe lank moet ’n studie duur? Robert, wat ’n dogter en ’n seun suksesvol grootgemaak het, sê: “Ons studies het gewoonlik ’n uur geduur. Toe die kinders klein was, het ons hulle belangstelling gedurende die uur probeer behou deur ’n verskeidenheid dinge te bespreek, soos ’n paar paragrawe in die studieartikel in Die Wagtoring, gekose gedeeltes uit die Bybel en dele van ander publikasies.” Maria onthou: “Toe ek en my twee susters baie klein was, was ons studie sowat 20 minute twee of drie maal per week. Namate ons ouer geword het, het ons weeklikse gesinstudie ’n uur of wat geduur.”

Wat moet ons studeer?

Dit sal net tot frustrasie en die verlies van kosbare studietyd lei indien hierdie vraag eers oorweeg word wanneer almal bymekaargekom het vir ’n studie. As dit die geval is, sal kinders niks spesifieks hê om na uit te sien nie en sal hulle gou belangstelling verloor. Kies dus voor die tyd een van die Genootskap se publikasies om te bespreek.

“Die getroue en verstandige slaaf” het ’n oorvloed van publikasies voorsien om van te kies (Matteus 24:45-47). Miskien kan jy ’n boek gebruik wat die gesin nog nie bestudeer het nie. En hoe genotvol is dit tog om gekose dele uit Insight on the Scriptures te bespreek indien hierdie bundels in julle taal beskikbaar is! Julle kan byvoorbeeld gedurende die weke voor die Gedenkmaal die artikel oor die Here se Aandmaal bespreek. Baie gesinne hou daarvan om die Wagtoring-studie vir die week voor te berei. Maar die bykomende artikels in Die Wagtoring is ook uitstekende studiemateriaal. Die gesinshoof, wat bewus is van die gesin se geestelike behoeftes, is in die beste posisie om te besluit watter publikasie bestudeer moet word.

“Ons het altyd ’n publikasie bestudeer wat voor die tyd gekies is”, onthou Maria. “Maar wanneer ’n vraag opgeduik het of ’n situasie by die skool ontstaan het, het ons na die toepaslike inligting oorgeslaan.” Spesiale probleme, soos dié waarvoor jongmense by die skool te staan kom, afsprake, buitemuurse bedrywighede, ensovoorts ontstaan wel. Wanneer dit gebeur, moet artikels of publikasies wat oor die tersaaklike probleem handel, geraadpleeg word. As jy inligting in die jongste nommer van Die Wagtoring of Ontwaak! sien wat jy dadelik met die gesin wil bespreek, moet jy nie huiwer om daarvoor te reël nie. Jy moet natuurlik die gesinslede voor die tyd van die verandering in kennis stel. Maar sorg dat julle na die gewone materiaal terugkeer sodra die spesiale behoefte aandag gekry het.

Behou ’n kalm atmosfeer

’n Mens leer die meeste onder vreedsame toestande (Jakobus 3:18). Sorg dus vir ’n ontspanne, dog eerbiedige, atmosfeer. Een gesinshoof in die Verenigde State sê: “Of ons nou in die woonkamer of op die sonstoep sit, ons probeer om liewer redelik naby aan mekaar te sit as om in ’n groot vertrek ver uitmekaar te wees. Vir ons skep dit ’n hartlike atmosfeer.” En Maria het die volgende aangename herinneringe: “Ek en my susters is toegelaat om te kies waar in die huis ons die studie daardie week wou hê. Dit het ons op ons gemak laat voel.” Hou in gedagte dat behoorlike beligting, gepaste sitplekke en ’n vrolike en netjiese omgewing alles tot kalmte bydra. Dit sal ook help om die aand genotvol te maak as daar ná die studie verversings vir die gesin is.

Party gesinne kies selfs om by geleentheid ander gesinne by hulle studie te betrek, wat die studie interessanter maak en tot ’n groter verskeidenheid kommentare lei. Wanneer nuwelinge in die waarheid genooi word om dit by te woon, kan hulle daarby baat vind as hulle sien hoe ’n bekwame gesinshoof ’n gesinstudie hou.

Laat die Bybel lewe

Maak studietye interessant vir die kinders, en hulle sal met groot afwagting daarna uitsien. Julle kan dit doen deur klein kindertjies aan te spoor om prente van Bybeltonele te teken. Wanneer dit gepas is, kan kinders Bybelgebeure en -dramas opvoer. Met jong kinders is dit nie nodig om by ’n formele vraag-en-antwoord-metode te bly nie. ’n Genotvolle manier om Goddelike beginsels in te skerp, is om verhale oor Bybelkarakters te lees of te vertel. Robert, wat vroeër genoem is, onthou: “Partymaal het ons dele uit die Bybel gelees en beurte gemaak om die verskillende ‘stem’-rolle te lees wat aan ons toegewys is.” Julle kan die kinders die karakter laat kies wat hulle in die leesgedeelte wil uitbeeld.

Die gebruik van kaarte en tabelle sal ouer kinders help om die gebiede en kenmerke van die land te visualiseer waar die gebeure onder bespreking plaasgevind het. Dit is dus duidelik dat ’n gesinstudie met ’n bietjie verbeelding lewendig en interessant gemaak kan word. En die kinders sal ’n verlange na God se Woord ontwikkel.—1 Petrus 2:2, 3.

Help almal om deel te neem

Vir kinders om die studie te geniet, moet hulle voel dat hulle ook ’n aandeel daaraan het. Dit kan egter ’n uitdaging wees om kinders van verskillende ouderdomme sover te kry om daaraan deel te neem. Maar ’n Bybelbeginsel sê: “Hy wat die leiding gee, laat hy dit doen in alle erns” (Romeine 12:8). Dit help om entoesiasties te wees, want entoesiasme is aansteeklik.

Ronald betrek sy vyfjarige dogtertjie, Dina, deur haar onderhofies in die studiemateriaal te laat lees en haar kommentaar oor die prente te laat lewer. In die tyd voor die herdenking van Christus se dood verlede jaar het hy die aandag gevestig op die tersaaklike illustrasies in die boek Die grootste mens wat nog geleef het.c Hy sê: “Dit het haar gehelp om die betekenis van die gebeurtenis te verstaan.”

Met sy tienjarige dogter, Misha, gaan Ronald ’n stap verder. “Misha het die punt bereik waar sy nie net weet waaroor die illustrasies gaan nie, maar ook die dieper betekenis daarvan verstaan”, sê Ronald. “Toe ons die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!d bespreek het, het ons dus aandag geskenk aan die betekenis van die illustrasies, en dit het haar gehelp.”

Namate kinders hulle tienerjare ingaan, kan hulle gevra word om ’n praktiese toepassing te gee van die materiaal wat bespreek word. Wanneer vrae gedurende die studie ontstaan, kan dele vir navorsing toegewys word. Robert het dit gedoen toe sy 12-jarige seun, Paul, meer wou weet oor ’n nuwe skoolklub wat te doen gehad het met die speletjie Dungeons and Dragons. Paul en ander in die gesin het inligting opgesoek deur die Watchtower Publications Index te gebruik, en hulle het dit tydens hulle gesinstudie hersien. “Die gevolg was”, sê Robert, “dat Paul gou verstaan het dat die speletjie nie vir Christene gepas is nie.”

Robert het sy gesin ook by ander geleenthede navorsing gegee om te doen. Sy vrou, Nancy, onthou: “Toe ons navorsing oor die apostels van Jesus gedoen het, is ons almal elke week een apostel toegewys. Hoe bly het dit ons tog gemaak om te sien hoe die kinders hulle verslag entoesiasties aanbied by die gesinstudie!” As kinders hulle eie navorsing doen en die inligting aan die gesin oordra, help dit hulle om ‘groot te word by die HERE’.—1 Samuel 2:20, 21.

Nog ’n goeie manier om kinders daarin te betrek, is om vrae te vra—beskouings- sowel as uitlokvrae. Die Meesteronderrigter, Jesus, het beskouingsvrae gevra, soos: “Wat dink jy?” (Matteus 17:25). “Wanneer enigeen van ons ’n vraag gehad het, het ons ouers ons nooit direk geantwoord nie”, onthou Maria. “Hulle het altyd uitlokvrae gevra om ons oor die saak te help redeneer.”

Kommunikeer—Moenie irriteer nie!

Die vreugde van ’n gesinstudie word vergroot wanneer almal kan sê wat hulle dink en voel sonder om bang te wees dat hulle bespot sal word. Maar “goeie kommunikasie gedurende ’n gesinstudie is slegs moontlik as die kommunikasiekanale te alle tye oop is”, sê een vader. “Jy kan dit nie net gedurende die studietyd toepas nie.” Vermy ten alle koste onbedagsame aanmerkings wat seermaak, soos: ‘Is dit al? Ek het gedink dis iets belangriks’; ‘Dis nou simpel’; ‘Wel, wat verwag jy? Jy is in elk geval net ’n kind’ (Spreuke 12:18). Wees medelydend en barmhartig teenoor jou kinders (Psalm 103:13; Maleagi 3:17). Skep behae in hulle, en ondersteun hulle terwyl hulle probeer toepas wat hulle leer.

Die stemming van die gesinstudie moet so wees dat die kind se gedagtes ontvanklik vir onderrigting is. “Wanneer ’n mens begin om kinders tereg te wys”, verduidelik een suksesvolle ouer van vier, “het jy ’n ietwat vyandige gehoor.” In so ’n atmosfeer sal die inligting waarskynlik nie insink nie. Vermy dit dus om die studietye sessies vir dissipline en straf te maak. Indien nodig, kan dit later en persoonlik toegedien word.

Dit is die moeite werd

Om ’n geestelik ryk gesin op te bou, verg tyd en inspanning. Maar die psalmis sê: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning” (Psalm 127:3). En aan die ouers word die verantwoordelikheid toevertrou om kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Ontwikkel dus die vaardighede om ’n suksesvolle en genotvolle gesinstudie te hou. Doen jou bes om “die onvervalste melk wat tot die woord behoort” te voorsien sodat jou kinders “tot redding kan groei”.—1 Petrus 2:2; Johannes 17:3.

[Voetnote]

a Hoewel baie wenke wat in hierdie artikel gegee word betrekking het op maniere om kinders in ’n gesinstudie te help, geld die beginsels ook vir ’n gesinstudie waar daar nie kinders is nie.

b Party van die name is verander.

c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

d Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel