Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Regering
    Redenering uit die Skrif
    • voorspel, en dit het ons verwittig dat alle menseregerings deur God se toedoen vernietig sal word en dat God se Koninkryk in die hande van sy Seun, Jesus Christus, oor die hele mensdom gaan regeer.—Dan. 2:44; 7:13, 14.

      Is dit nie verstandig om ag te slaan op ’n bron van informasie wat konsekwent so betroubaar was nie?

      Regering deur God is die enigste ware oplossing vir die probleme van die mensdom

      Die probleme wat opgelos moet word, vereis krag, vermoëns en eienskappe wat mense nie besit nie. God kan die mensdom bevry van die invloed van die Duiwel en sy demone, en Hy het beloof om dit te doen, maar geen mens kan dit doen nie. God het voorsiening gemaak om te doen wat die mediese wetenskap nooit kan bereik nie—hy gaan sonde wegneem en sodoende ’n einde aan siekte en die dood maak en dit vir mense moontlik maak om die soort persone te wees wat hulle werklik wil wees. Die Skepper het die nodige kennis (van die aarde en van alle lewensprosesse) om die probleme met voedselproduksie op te los en gevaarlike besoedeling te voorkom, maar mensepogings skep dikwels meer probleme. God se Woord hervorm reeds lewens sodat diegene wat op die leiding daarvan reageer vriendeliker, liefdevoller persone met hoë sedes word, ’n gemeenskap wat weier om die wapens teen hulle medemens op te neem en wat in ware vrede en broederskap lewe hoewel hulle uit alle nasies, rasse en taalgroepe kom.

      Wanneer sal God se Koninkryk van die teenswoordige wêreldstelsel ontslae raak? Kyk onder “Jaartalle” en “Laaste dae”.

  • Reïnkarnasie
    Redenering uit die Skrif
    • Reïnkarnasie

      Definisie: Die opvatting dat ’n mens een of meer opeenvolgende kere weer gebore word tot ’n nuwe bestaan, hetsy as mens of dier. Daar word gewoonlik geglo dat dit ’n ontasbare “siel” is wat weer in ’n ander liggaam gebore word. Nie ’n Bybelleerstelling nie.

      Staaf dit reïnkarnasie wanneer mense die vreemde gevoel kry dat heeltemal nuwe kennisse en plekke vir hulle bekend is?

      Het jy al ooit ’n lewende man of vrou verwar met iemand anders wat ook nou lewe? Dit het al met baie gebeur. Waarom? Omdat sommige mense soortgelyke aanwensels het en selfs feitlik identies kan lyk. Die gevoel dat jy ’n persoon ken selfs al het jy hom nog nooit tevore ontmoet nie, bewys dus nie werklik dat jy hom in ’n vorige lewe geken het nie, nie waar nie?

      Waarom kan ’n huis of ’n dorp vir jou bekend lyk as jy nog nooit tevore daar was nie? Is dit omdat jy in ’n vorige lewe daar gewoon het? Baie huise het dieselfde ontwerp. Meubels wat gebruik word in stede wat ver van mekaar geleë is, kan op ’n soortgelyke patroon gemaak wees. En is dit nie waar dat die natuurtonele in sommige plekke wat ver van mekaar geleë is baie eenders lyk nie? Jou gevoel dat dit bekend is, is dus goed te begrype, en hoef nie aan reïnkarnasie toegeskryf te word nie.

      Bewys herinneringe aan ’n lewe op ’n ander tyd in ’n ander plek, soos onder hipnose herroep, reïnkarnasie?

      Onder hipnose kan baie informasie wat in die brein geberg is, uitgebring word. Hipnotiseurs delf in die onderbewussyn. Maar hoe het daardie herinneringe daar gekom? Jy het moontlik ’n boek gelees, ’n rolprent gesien of op televisie van sekere mense geleer. As jy jouself ingedink het in die posisie van die mense van wie jy geleer het, kon dit ’n duidelike indruk gemaak het, amper asof jy self die ondervinding gehad het. Dit het moontlik so lank gelede gebeur, dat jy al daarvan vergeet het, maar onder hipnose kan die ondervinding herroep word asof jy “’n ander lewe” onthou. Maar as dit die geval was, sou almal mos sulke herinneringe gehad het, nie waar nie? Maar nie almal het sulke herinneringe nie. Dit is opmerkenswaardig dat al hoe meer staatsappèlhowe in die Verenigde State nie getuienis aanvaar wat onder hipnose verkry is nie. In 1980 het Minnesota se Appèlhof gesê dat “die beste deskundige getuienis daarop dui dat geen deskundige kan bepaal of herinneringe wat deur middel van hipnose teruggebring is, of enige deel van daardie herinneringe, die waarheid, leuens of praatjies—om leemtes met verbeeldingskrag te vul—is nie. Sulke resultate is nie wetenskaplik betroubaar nie” (Die Staat v. Mack, 292 N.W.2d 764). Die invloed van suggestie deur die hipnotiseur op die gehipnotiseerde persoon is ’n faktor by hierdie onbetroubaarheid.

      Bevat die Bybel bewys van geloof in reïnkarnasie?

      Weerspieël Mattheüs 17:12, 13 geloof in reïnkarnasie?

      Matt. 17:12, 13: “Ek [Jesus] sê vir julle dat Elia al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly. Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het.”

      Het dit beteken dat Johannes die Doper ’n gereïnkarneerde Elia was? Toe Joodse priesters vir Johannes gevra het: “Is u Elia?” het hy gesê: “Ek is nie” (Joh. 1:21). Wat het Jesus dan bedoel? Soos Jehovah se engel voorspel het, het Johannes voor Jehovah se Messias uitgegaan “in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei” (Luk. 1:17). Johannes die Doper het dus ’n profesie vervul deur ’n werk soos dié van die profeet Elia te doen.—Mal. 4:5, 6.

      Dui die verslag in Johannes 9:1, 2 op reïnkarnasie?

      Joh. 9:1, 2: “Toe Hy [Jesus] verbygaan, sien Hy ’n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

      Is dit moontlik dat hierdie dissipels beïnvloed is deur die opvatting van die Joodse Fariseërs wat gesê het dat “slegs die siele van goeie mense na ander liggame verhuis”? (Wars of the Jews, Josephus, Boek II, hfst. VIII, par. 14). Dit is onwaarskynlik, aangesien hulle vraag nie te kenne gee dat hulle gedink het dat hy ’n ‘goeie man’ was nie. Dit is waarskynliker dat hulle, as Jesus se dissipels, die Skrif geglo het en geweet het dat die siel sterf. Maar aangesien selfs ’n baba in die baarmoeder lewend is en in sonde ontvang is, het hulle dalk gewonder of so ’n ongebore kind moontlik gesondig het en dat dít tot sy blindheid gelei het. Hoe dit ook sy, Jesus se antwoord het nòg reïnkarnasie nòg die gedagte dat ’n kind reeds in die baarmoeder kan sondig, gesteun. Jesus self het geantwoord: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie” (Joh. 9:3). Jesus het geweet dat menslike gebreke en onvolmaaktheid oorgeërf word omdat ons afstammelinge van Adam is. Jesus het die blinde man genees en sodoende die situasie gebruik om God te verheerlik.

      Kan reïnkarnasie met die Bybel se leer oor die siel en die dood versoen word?

      Genesis 2:7 sê: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Let daarop dat die mens self die siel was; die siel was nie onstoflik, afgeskeie en apart van die liggaam nie. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4, 20). En daar word van ’n afgestorwene as ’n “dooie siel” gepraat (Num. 6:6, NW). “Sy gees gaan uit [wanneer hy sterf], hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Ps. 146:4). Wanneer iemand sterf, is die hele persoon gevolglik dood; daar is niks wat voortlewe en na ’n ander liggaam kan verhuis nie. (Kyk onder “Siel” en “Dood” vir nadere besonderhede.)

      Pred. 3:19: “Die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander.” (Net soos in die geval van mense lewe daar niks ná die dood van ’n dier voort nie. Daar is niks wat weer in ’n ander liggaam gebore kan word nie.)

      Pred. 9:10: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“Sjeool”, NW] waar jy heengaan nie.” (Die dode gaan nie in ’n ander liggaam in nie, maar gaan na Sjeool, die gemeenskaplike graf van die mensdom.)

      Hoe verskil reïnkarnasie van die hoop wat die Bybel voorhou?

      Reïnkarnasie: Volgens hierdie opvatting gaan die siel, die “ware self”, by ’n persoon se afsterwe voort na ’n beter bestaan as die individu ’n goeie en regte lewe gelei het, maar word die persoon moontlik ’n dier as sy reputasie sleg was. Daar word geglo dat elke wedergeboorte die individu na dieselfde stelsel terugbring waar hy verdere lyding sal ondervind en eindelik sal sterf. Die wedergeboortekringlope word as feitlik eindeloos beskou. Wag daar werklik so ’n toekoms op jou? Sommige glo dat die enigste manier waarop ’n mens daaraan kan ontkom, is deur alle begeerte na dinge wat die sinne behaag te blus. Waarheen ontsnap hulle? Na wat sommige as onbewuste lewe beskryf.

      Die Bybel: Volgens die Bybel is die siel die hele persoon. Selfs al het iemand in die verlede slegte dinge gedoen, sal Jehovah God hom vergewe as hy berouvol is en sy weë verander (Ps. 103:12, 13). Wanneer ’n persoon sterf, leef niks voort nie. Die dood is soos ’n diep, droomlose slaap. Die dode sal opgewek word. Dit is nie ’n reïnkarnasie nie, maar ’n verlewendiging van dieselfde persoonlikheid (Hand. 24:15). Die meeste mense wat opgewek word, sal op die aarde lewe. Dit sal plaasvind nadat God die teenswoordige goddelose stelsel vernietig het. Siekte, lyding en selfs die nodigheid om te sterf, sal dan tot die verlede behoort (Dan. 2:44; Openb. 21:3, 4). Klink so ’n hoop na iets waarvan jy graag meer sal wil leer sodat jy die redes vir vertroue daarin kan ondersoek?

      As iemand sê—

      ‘Ek glo in reïnkarnasie’

      Jy kan antwoord: ‘U hoop dat dit uiteindelik ’n beter lewe tot gevolg sal hê, nie waar nie? . . . Sê vir my, sou u graag wou lewe in ’n wêreld soos die een wat hier in Openbaring 21:1-5 beskryf word?’

      Of jy kan sê: ‘Ek is bly u sê dit vir my. Mag ek vra: Is dit iets wat u nog altyd geglo het? . . . Wat het u van siening laat verander?’ (Dan kan jy moontlik die gedagtes onder die tussenhofie boaan hierdie bladsy gebruik.)

      ’n Ander moontlikheid: ‘Ek het al aangename gesprekke gevoer met ander wat daarin glo. Mag ek vra: Waarom dink u dat reïnkarnasie nodig is?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Onthou u al die besonderhede van die vroeëre lewens wat u meen u gelei het? . . . Maar dit sou nodig wees indien ’n mens jou vorige foute wou regstel en verbeter, nie waar nie?’ (2) Indien die persoon sê dat dit ’n goeie ding is dat ons vergeet, kan jy vra: ‘Maar beskou u ’n slegte geheue as ’n aanwins vir ’n persoon in die daaglikse lewe? Sal dit ons dan help om ons lot te verbeter as ons elke 70 jaar of wat alles vergeet wat ons geleer het?’ (3) Indien die persoon sê dat slegs die beter mense weer as mense gebore word, kan jy vra: ‘Waarom versleg wêreldtoestande dan voortdurend? . . . Die Bybel toon hoe ware verbetering in ons dag aangebring sal word (Dan. 2:44).’

  • Sabbat
    Redenering uit die Skrif
    • Sabbat

      Definisie: Sabbat is ontleen aan die Hebreeuse sja·vatʹ, wat beteken “rus, staak, ophou”. Die sabbatstelsel wat in die Mosaïese Wet voorgeskryf is, het ’n weeklikse Sabbatdag ingesluit, asook ’n aantal bykomende dae gedurende die jaar, die sewende jaar en die vyftigste jaar. Die weeklikse Sabbat van die Jode, die sewende dag van hulle kalenderweek, duur van sonsondergang op Vrydag tot sonsondergang op Saterdag. Talle wat bely dat hulle Christene is, hou Sondag tradisioneel as hulle dag van rus en van aanbidding; ander hou die dag wat op die Joodse kalender opsygesit is.

      Is Christene verplig om ’n weeklikse sabbatdag te hou?

      Ex. 31:16, 17: “Die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond [“blywende verpligting”, NAV; “’n verbond tot onbepaalde tyd”, NW]. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken.” (Let op dat sabbatsviering ’n teken tussen Jehovah en Israel was; dit sou nie die geval wees indien alle ander mense ook verplig was om die Sabbat te hou nie. Die Hebreeuse woord wat in AB met “ewige” vertaal

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel