Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Glo jy aan reïnkarnasie?
    Die Wagtoring – 1997 | Mei 15
    • Glo jy aan reïnkarnasie?

      “ONTHOU jy die bure se dogter op wie jy verlief was terwyl jy hier in Indië grootgeword het?” het Mukundbhai aan sy seun, ’n universiteitstudent in die Verenigde State, geskryf. “Sy gaan oor ’n paar weke trou. Ek het gedink dat jy dit behoort te weet.”

      Waarom het die vader sy seun hierdie nuus vertel? Mukundbhai het immers daardie tienerromanse jare gelede op besliste wyse beëindig. Die seun was buitendien al ses jaar in die Verenigde State waar hy verder studeer het. Gedurende daardie tyd het hy glad nie met die meisie in aanraking gekom nie, en Mukundbhai het dit geweet.

      Waarom dan die besorgdheid? Omdat Mukundbhai aan reïnkarnasie, of hergeboorte, geglo het.a Indien die twee as kinders tot mekaar aangetrokke gevoel het omdat hulle in vorige lewens huweliksmaats was, sou dit wreed wees om hulle te skei noudat hulle hubaar was. Mukundbhai wou net sy seun van die situasie bewus maak voordat die meisie in die huidige lewe iemand anders se vrou word.

      Beskou nog ’n geval. ’n Vierjarige dogtertjie het verskeie kere pynlike behandeling in ’n hospitaal in Mumbaai, Indië, ontvang. Sy het ’n probleem met ’n foutiewe hartklep gehad. Haar welgestelde ouers kon dit nie verduur om die kind te sien ly nie. Maar hulle het geredeneer: “Ons moet dit aanvaar. Sy het seker iets in haar vorige lewe gedoen om dit te verdien.”

      Geloof in reïnkarnasie speel ’n belangrike rol in die lewe van miljoene Hindoes, Boeddhiste, Djainas, Sikhs en lede van ander godsdienste wat hulle ontstaan in Indië gehad het. Lewenservaringe—van verliefraak tot groot lyding—word beskou as die gevolge van dade in ’n vorige lewe of lewens.

      Baie mense in Westerse lande word ook deur die reïnkarnasieleer gefassineer. Die Amerikaanse aktrise Shirley MacLaine sê dat sy daaraan glo. Die skrywer Laurel Phelan van Vancouver, Brits-Columbië, Kanada, beweer dat hy herinneringe uit 50 vorige lewens het. In ’n Gallup-opname wat in 1994 vir CNN/USA Today gemaak is, het meer as 270 uit 1016 volwassenes verklaar dat hulle aan reïnkarnasie glo. Geloof in reïnkarnasie is ook ’n kenmerk van die New Age-beweging. Maar watter getuienis steun hierdie opvatting?

      “Herinneringe aan ’n vorige lewe!” sê dié wat aan reïnkarnasie glo. Toe die driejarige Ratana in Bangkok “herinneringe aan haar vorige lewe as ’n godsdienstige vrou wat in haar sestigerjare oorlede is” begin kry het, het die meeste waarnemers gevolglik haar geval as ’n geldige bewys van reïnkarnasie aanvaar.

      Baie is egter skepties. En ander verklarings vir herinneringe wat glo uit vorige lewens kom, is moontlik.b In sy boek Hinduism: Its Meaning for the Liberation of the Spirit sê die Hindoefilosoof Nikhilananda dat ‘nadoodse ondervindinge nie deur logika bewys kan word nie’. Tog beweer hy dat “die leer van hergeboorte meer waarskynlik as onwaarskynlik is”.

      Maar steun die Bybel hierdie leer? En watter hoop bied die geïnspireerde Woord van God vir die dooies?

  • Moet jy aan reïnkarnasie glo?
    Die Wagtoring – 1997 | Mei 15
    • Moet jy aan reïnkarnasie glo?

      DIE Griekse filosoof Plato het gesê dat daar ’n verband is tussen wat gebeur wanneer ’n mens verlief raak en die idee van reïnkarnasie. Hy het geglo dat die siel, aangesien dit onsterflik is, ná die dood van die liggaam na die so genoemde “ryk van die suiwer vorme” verhuis. Dit bly ’n tyd lank liggaamloos daar en aanskou die vorme. Wanneer die siel later in ’n ander liggaam gereïnkarneer word, dink dit onbewustelik terug aan die ryk van vorme en verlang dit daarna. Volgens Plato raak mense verlief omdat hulle in hulle beminde die ideale vorm van skoonheid sien wat hulle vaagweg onthou en begeer.

      Identifiseer die bron en die grondslag

      Die reïnkarnasieleer vereis dat die siel onsterflik moet wees. Die oorsprong van reïnkarnasie moet derhalwe teruggevoer word tot die volke of nasies wat daardie opvatting gehad het. Op grond hiervan dink party dat dit uit eertydse Egipte afkomstig is. Ander meen dat dit sy ontstaan in Babilonië van die ou tyd gehad het. Om aansien te verleen aan die Babiloniese godsdiens het sy priesterdom die leerstelling van sielsverhuising bevorder. Hulle kon op dié manier beweer dat hulle godsdienshelde reïnkarnasies van vername voorvaders is, al het hulle lank tevore gesterf.

      Dit was egter in Indië waar geloof in reïnkarnasie ten volle ontwikkel het. Die Hindoewysgere het met die universele probleme van boosheid en menselyding geworstel. ‘Hoe kan dit met die konsep van ’n regverdige Skepper versoen word?’ het hulle gevra. Hulle het die teenstrydige idees van God se regverdigheid en die onvoorsiene rampe en ongelykhede in die wêreld met mekaar probeer versoen. Mettertyd het hulle “die wet van karma”, die wet van oorsaak en gevolg, bedink—‘wat ’n mens ook al saai, dit sal hy maai’. Hulle het ’n uitvoerige ‘balansstaat’ uitgewerk waarvolgens ’n mens in een lewe vir goeie en slegte dade in ’n vorige lewe beloon of gestraf word.

      “Karma” beteken bloot “gedrag”. Daar word gesê dat ’n Hindoe goeie karma het as hy hom na maatskaplike en godsdienstige norme skik en dat hy slegte karma het as hy dit nie doen nie. Sy gedrag, of karma, bepaal sy toekoms in elke opeenvolgende hergeboorte. “Alle mense word gebore met ’n karakter-bloudruk wat hoofsaaklik vasgestel word deur hulle gedrag in vorige lewens, hoewel hulle liggaamlike eienskappe deur oorerwing bepaal word”, sê filosoof Nikhilananda. “’n Mens is [op hierdie manier] ’n argitek van sy eie lot, die bouer van sy eie lotsbestemming.” Die uiteindelike doel is egter om bevry te word van hierdie kringloop van sielsverhuising en verenig te word met Brahman—die opperwerklikheid. Dit word na bewering behaal deur na sosiaal aanvaarbare gedrag en spesiale Hindoekennis te streef.

      Die reïnkarnasieleer gebruik dus as sy fondament die leerstelling van die onsterflikheid van die siel en bou daarop voort deur die wet van karma te gebruik. Kom ons kyk wat God se geïnspireerde Woord, die Bybel, oor hierdie idees te sê het.

      Is die siel onsterflik?

      Om hierdie vraag te beantwoord, kom ons wend ons tot die opperste gesag oor die onderwerp—die geïnspireerde Woord van die Skepper. In die heel eerste boek van die Bybel, Genesis, leer ons die juiste betekenis van “siel”. Die Bybel sê oor die skepping van die eerste mens, Adam: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Dit is duidelik dat die siel nie iets is wat ’n mens besit nie, maar wat hy is. Die Hebreeuse woord wat hier vir siel gebruik word, is nêfêsj. Dit kom sowat 700 keer in die Bybel voor, en dit verwys nooit na ’n afsonderlike en onstoflike deel van ’n mens nie, maar altyd na iets tasbaars en fisies.—Job 6:7; Psalm 35:13; 107:9; 119:28.

      Wat gebeur by die dood met die siel? Let op wat met Adam gebeur het by sy dood. Toe hy gesondig het, het God vir hom gesê: “Jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Dink na oor wat dit beteken. Adam het nie bestaan voor God hom van die stof gemaak het nie. Ná sy dood het Adam teruggekeer tot dieselfde toestand van niebestaan.

      Eenvoudig gestel, die Bybel leer dat die dood die teenoorgestelde van die lewe is. In Prediker 9:5, 10 lees ons: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

      Dit beteken dat die dooies niks kan doen of voel nie. Hulle het nie meer enige gedagtes nie, en hulle onthou ook niks. Die psalmis sê: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:3, 4.

      Die Bybel toon duidelik dat die siel by die dood nie na ’n ander liggaam verhuis nie, maar sterwe. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe”, sê die Bybel nadruklik (Esegiël 18:4, 20; Handelinge 3:23; Openbaring 16:3). Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel—die fondament van die teorie van reïnkarnasie—vind dus geen steun in die Skrif nie. Daarsonder stort die teorie ineen. Watter verklaring is daar dan vir die lyding wat ons in die wêreld sien?

      Waarom ly mense?

      Die onderliggende rede vir menselyding is die onvolmaaktheid wat ons almal van die sondige Adam erf. ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en het die dood só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’, sê die Bybel (Romeine 5:12). Omdat ons afstammelinge van Adam is, word ons almal siek, oud en sterf ons.—Psalm 41:2, 4; Filippense 2:25-27.

      Daarbenewens sê die Skepper se onveranderlike sedewet: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai; want hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai” (Galasiërs 6:7, 8). ’n Promiskue lewenswyse kan dus tot emosionele spanning, ongewenste swangerskappe en seksueel oordraagbare siektes lei. “’n Verstommende 30 persent van die noodlottige kankergevalle [in die Verenigde State] kan hoofsaaklik toegeskryf word aan rokery en ’n gelyke aantal aan mense se lewenswyse, veral hulle eetgewoontes en gebrek aan oefening”, sê die tydskrif Scientific American. Sommige rampe wat lyding veroorsaak, is ’n gevolg van die mens se wanbestuur van die aarde se hulpbronne.—Vergelyk Openbaring 11:18.

      Ja, die mens dra die skuld vir baie van sy ellende. Maar aangesien die siel nie onsterflik is nie, kan die wet van ‘maai wat jy saai’ nie gebruik word om menselyding met karma—dade in ’n veronderstelde vorige lewe—te verbind nie. “Hy wat gesterf het, is van sy sonde vrygespreek”, sê die Bybel (Romeine 6:7, 23). Die gevolge van sonde word dus nie na ’n lewe ná die dood oorgedra nie.

      Satan die Duiwel veroorsaak ook baie lyding. Trouens, hierdie wêreld word deur Satan oorheers (1 Johannes 5:19). En soos Jesus Christus voorspel het, sou Sy dissipels ‘weens sy naam vir alle mense voorwerpe van haat wees’ (Matteus 10:22). Gevolglik ondervind die regverdiges dikwels meer probleme as die goddeloses.

      In hierdie wêreld gebeur party dinge waarvan die oorsake nie altyd duidelik is nie. Die vinnigste naelloper kan struikel en die wedloop verloor. ’n Magtige leër word moontlik deur ’n swakker mag verslaan. ’n Wyse man kry dalk nie ’n goeie werk nie en ly gevolglik honger. Mense met ’n uitstekende begrip van bedryfsleiding kan, weens omstandighede, nie hulle kennis gebruik nie en bevind hulle derhalwe in armoede. Kundiges kan hulle die toorn van dié in gesagsposisies op die hals haal en in onguns by hulle raak. Waarom is dit die geval? “Want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal”, antwoord wyse koning Salomo.—Prediker 9:11, NW.

      Lyding was die mensdom se lot lank voordat Hindoewysgere probeer verduidelik het waarom dit bestaan. Maar is daar ’n hoop vir ’n beter toekoms? En watter belofte het die Bybel vir die dooies?

      ’n Vreedsame toekoms

      Die Skepper het belowe dat hy binnekort die huidige wêreldgemeenskap wat onder Satan se beheer is, gaan vernietig (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44). ’n Regverdige nuwe mensegemeenskap—“’n nuwe aarde”—sal dan ’n werklikheid wees (2 Petrus 3:13). Dan ‘sal geen inwoner sê: Ek is siek nie’ (Jesaja 33:24). Selfs die pyn van die dood sal weggeneem word, want God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

      Aangaande die inwoners van God se beloofde nuwe wêreld, het die psalmis voorspel: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Daarbenewens sal die saggeaardes “hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.

      Mukundbhai, wat in die vorige artikel genoem is, het gesterf sonder om van God se wonderlike beloftes te weet. Maar miljoene wat gesterf het sonder om God te ken, het die vooruitsig om in só ’n vreedsame nuwe wêreld wakker te word, want die Bybel belowe: ‘Daar gaan ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees.’—Handelinge 24:15; Lukas 23:43.

      Die woord “opstanding” is hier ’n vertaling van die Griekse woord a·naʹsta·sis, wat letterlik beteken “om weer op te staan”. Die opstanding beteken dus dat die lewenspatroon van die individu geheraktiveer word.

      Die Skepper van hemel en aarde het eindelose wysheid (Job 12:13). Om die lewenspatrone van die dooies te onthou, is nie vir hom ’n probleem nie. (Vergelyk Jesaja 40:26.) Jehovah God is ook oorvloedig in liefde (1 Johannes 4:8). Hy kan gevolglik sy volmaakte geheue gebruik, nie om die dooies te straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het nie, maar om hulle op te wek op ’n paradysaarde met die persoonlikheid wat hulle gehad het voor hulle gesterf het.

      Vir miljoene soos Mukundbhai sal ’n opstanding beteken dat hulle weer by hulle dierbares kan wees. Maar stel jou voor wat dit vir dié wat nou lewe, kan beteken. Neem byvoorbeeld Mukundbhai se seun wat die wonderlike waarheid omtrent God en sy voornemens leer ken het. Hoe vertroostend is dit tog vir hom om te weet dat sy vader nie vasgevang is in ’n byna eindelose kringloop van hergeboortes wat elk vol goddeloosheid en lyding is nie! Hy slaap eenvoudig in die dood en wag op ’n opstanding. Hoe opwindend is dit tog vir hom om te dink aan die moontlikheid dat hy eendag vir sy vader die dinge sal kan vertel wat hy self uit die Bybel geleer het!

      Dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Dit is nou die tyd om uit te vind hoe jy, saam met miljoene ander wat reeds God se wil doen, vir ewig op ’n paradysaarde kan lewe.—Johannes 17:3.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel