Alle ware Christene moet evangeliste wees
“Doen die werk van ’n evangelis [of, sendeling].”—2 TIMOTHEÜS 4:5, vgl. voetnoot in NW.
1. Wat was die goeie nuus wat evangeliste in die eerste eeu verkondig het?
WAT beteken dit vandag om ’n evangelis te wees? Is jy een? Die woord “evangelis” kom van die Griekse woord eu·ag·ge·li·stesʹ, wat “’n prediker van die goeie nuus” beteken. Van die stigting van die Christengemeente in 33 G.J. af het die Christelike goeie nuus God se voorsiening vir redding beklemtoon en verkondig dat Jesus Christus later sou terugkeer om sy Koninkryksheerskappy oor die mensdom te begin.—Mattheüs 25:31, 32; 2 Timotheüs 4:1; Hebreërs 10:12, 13.
2. (a) Hoe is die inhoud van die goeie nuus in ons dag verryk? (b) Watter verpligting rus vandag op alle ware Christene?
2 Sedert 1914 was daar al hoe meer bewyse dat die teken wat Jesus aangaande sy terugkeer en onsigbare teenwoordigheid gegee het, vervul word (Mattheüs 24:3-13, 33, vgl. NW). Die goeie nuus kon weer eens die uitdrukking ‘die koninkryk van God is naby’ insluit (Lukas 21:7, 31; Markus 1:14, 15). Trouens, die tyd het aangebreek dat Jesus se profesie wat in Mattheüs 24:14 opgeteken is ’n grootskaalse vervulling sou ondergaan: “Hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Daarom sluit evangelisasie nou die ywerige verkondiging van die opgerigte Koninkryk van God in, asook die seëninge wat dit binnekort vir gehoorsame mense gaan bring. Alle Christene het die opdrag ontvang om hierdie werk te doen en om ‘dissipels te maak’.—Mattheüs 28:19; Openbaring 22:17.
3. (a) Watter bykomende betekenis het die woord “evangelis”? (Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 770, kolom 2, paragraaf 2.) (b) Watter vrae laat dit ontstaan?
3 Benewens die verkondiging van die goeie nuus oor die algemeen gebruik die Bybel die benaming “evangelis” in ’n spesiale sin met betrekking tot diegene wat hulle tuisgebiede verlaat om die goeie nuus in gebiede te gaan verkondig waar dit nog nie voorheen gedoen is nie. In die eerste eeu was daar baie sendelingevangeliste, soos Filippus, Paulus, Barnabas, Silas en Timotheüs (Handelinge 21:8; Efesiërs 4:11). Maar wat van ons spesiale tyd sedert 1914? Het Jehovah se volk hulle vandag beskikbaar gestel as plaaslike sowel as sendelingevangeliste?
Vooruitgang sedert 1919
4, 5. Wat was die vooruitsigte vir die evangelisasiewerk kort ná 1914?
4 Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1918 ten einde geloop het, het God se knegte toenemende teenstand ondervind van afvalliges sowel as van die geestelikes van die Christendom en hulle politieke bondgenote. Trouens, ware Christelike evangelisasie het in Junie 1918 amper tot stilstand gekom toe hoofamptenare van die Wagtoringgenootskap in die Verenigde State onder valse aanklagte tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Het God se vyande daarin geslaag om die verkondiging van die goeie nuus stop te sit?
5 In Maart 1919 is die Genootskap se amptenare onverwags vrygelaat en later vrygespreek van die valse aantygings wat hulle in die gevangenis laat beland het. Met hulle nuutgevonde vryheid het hierdie gesalfde Christene besef dat daar nog baie werk gedoen moes word voordat hulle na hulle hemelse beloning as mede-erfgename in die Koninkryk van God geneem sou word.—Romeine 8:17; 2 Timotheüs 2:12; 4:18.
6. Watter vooruitgang is tussen 1919 en 1939 met die evangelisasiewerk gemaak?
6 In 1919 was daar minder as 4 000 wat ’n aandeel aan die verspreiding van die goeie nuus gerapporteer het. Gedurende die volgende twee dekades het etlike manne hulle dienste as sendelingevangeliste aangebied, en party is na lande in Afrika, Asië en Europa gestuur. Teen 1939, ná 20 jaar van Koninkryksprediking, het Jehovah se Getuies tot meer as 73 000 vermeerder. Hierdie uitstekende vermeerdering, ondanks baie vervolging, was soortgelyk aan dit wat in die vroeë jare van die Christengemeente plaasgevind het.—Handelinge 6:7; 8:4, 14-17; 11:19-21.
7. Watter soortgelyke situasie het in die jare 47 G.J. en 1939 bestaan met betrekking tot die Christelike evangelisasiewerk?
7 Nogtans het die meeste van Jehovah se Getuies in die Engelssprekende Protestantse lande gewoon. Trouens, meer as 75 persent van die 73 000 Koninkryksverkondigers was in Australië, Brittanje, Kanada, Nieu-Seeland en die Verenigde State. Daar moes, net soos in omstreeks 47 G.J., iets gedoen word om evangeliste aan te moedig om meer aandag te skenk aan die lande van die aarde waar daar minder evangelisasiewerk gedoen is.
8. Wat het die Gileadskool teen 1992 verrig?
8 Oorlogsbeperkings en vervolging kon nie Jehovah se kragtige heilige gees keer om sy knegte te beweeg om vir groter uitbreiding voor te berei nie. In 1943, terwyl die Tweede Wêreldoorlog op sy hewigste was, het God se organisasie die Wagtoring-Bybelskool Gilead gestig met die doel om die goeie nuus op ’n groter skaal te verkondig. Teen Maart 1992 het hierdie skool al 6 517 sendelinge na 171 verskillende lande uitgestuur. Daarbenewens is manne opgelei om na die Wagtoringgenootskap se takke in ander lande om te sien. Tot en met 1992 is 75 van die 97 Takkomitee-koördineerders aan Gilead opgelei.
9. Watter opleidingsprogramme het ’n groot rol gespeel in die vordering van die evangelisasie- en dissipelmaakwerk?
9 Benewens die Gileadskool was daar ander opleidingsprogramme wat Jehovah se volk toegerus het om hulle evangelisasiewerk uit te brei en te verbeter. Die Teokratiese Bedieningskool word byvoorbeeld wêreldwyd in gemeentes van Jehovah se Getuies gehou. Hierdie reëling, saam met die weeklikse Diensvergadering, het miljoene Koninkryksverkondigers opgelei om goed toegerus te wees in die openbare bediening. Daar is ook die Koninkryksbedieningskool wat waardevolle opleiding aan ouere manne en bedieningsknegte verskaf sodat hulle beter na die groeiende gemeentes kan omsien. Die Pionierdiensskool het baie voltydse evangeliste gehelp om bekwamer in hulle predikingsbedrywighede te word. Meer onlangs het die Bedieningsopleidingskool in verskillende lande in werking getree om ongetroude ouere manne en bedieningsknegte te help om hedendaagse Timotheüse te word.
10. Wat was die resultaat van al die uitstekende opleiding wat deur God se organisasie voorsien is? (Sluit inligting in venster in.)
10 Wat was die resultaat van al hierdie opleiding? In 1991 het Jehovah se Getuies ’n hoogtepunt van goed oor die viermiljoen Koninkryksverkondigers bereik wat in 212 lande bedrywig is. Maar anders as die situasie wat in 1939 bestaan het, is meer as 70 persent van hierdie Koninkryksverkondigers uit Katolieke, Ortodokse, nie-Christelike of ander lande waar Engels nie die hooftaal is nie.—Sien venster “Uitbreiding sedert 1939.”
Waarom hulle welslae behaal
11. Aan wie het die apostel Paulus sy welslae as ’n bedienaar toegeskryf?
11 Jehovah se Getuies eien hulle nie die eer vir hierdie uitbreiding toe nie. Hulle beskou hulle werk eerder soos die apostel Paulus in sy brief aan die Korinthiërs verduidelik het. “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”—1 Korinthiërs 3:5-7, 9.
12. (a) Watter rol speel God se Woord in suksesvolle Christelike evangelisasie? (b) Wie is as Hoof van die Christengemeente aangestel, en wat is een belangrike manier waarop ons ons onderdanigheid aan sy hoofskap kan toon?
12 Dit lei geen twyfel nie dat die fenomenale groei wat deur Jehovah se Getuies ondervind word aan God se seën te danke is. Dit is God se werk. Omdat hulle hierdie feit besef, lê hulle hulle voortdurend toe op ’n gereelde studie van God se Woord. Hulle grond alles wat hulle in hulle evangelisasiewerk leer op die Bybel (1 Korinthiërs 4:6, NW; 2 Timotheüs 3:16). ’n Ander sleutel tot hulle suksesvolle evangelisasie is hulle volle erkenning van die Een wat God as die Hoof van die gemeente aangestel het, die Here Jesus Christus (Efesiërs 5:23). Eerste-eeuse Christene het hierdie erkenning getoon deur hulle samewerking aan diegene te gee wat Jesus as apostels aangestel het. Hierdie manne het saam met ander ouere manne van die gemeente in Jerusalem die eerste-eeuse Christelike bestuursliggaam uitgemaak. Vanuit die hemel het die Here Jesus Christus hierdie groep geestelik ryp Christene gebruik om geskille te besleg en die evangelisasiewerk te rig. Paulus se ywerige samewerking met hierdie goddelike reëling het gelei tot vermeerdering in die gemeentes wat hy besoek het (Handelinge 16:4, 5; Galasiërs 2:9). Net so kan Christenevangeliste vandag van welslae in hulle bediening verseker wees as hulle aan God se Woord vashou en die riglyne wat van die Bestuursliggaam af kom ywerig volg.—Titus 1:9; Hebreërs 13:17.
Ag ander hoër as jouself
13, 14. (a) Watter raad het die apostel Paulus in Filippense 2:1-4 gegee? (b) Waarom is dit belangrik om hierdie raad te onthou wanneer ons aan die evangelisasiewerk deelneem?
13 Die apostel Paulus het opregte liefde vir waarheidsoekers getoon en het nie ’n meerderwaardige houding of rassistiese gesindheid gehad nie. Hy kon medegelowiges dus vermaan om ‘die een die ander hoër te ag as homself’.—Filippense 2:1-4.
14 Net so moet ware Christenevangeliste vandag nie ’n meerderwaardige houding hê wanneer hulle met mense van ander rasse en agtergronde te doen het nie. Een van Jehovah se Getuies wat van die Verenigde State af gestuur is om as ’n sendeling in Afrika te werk, sê: “Ek wéét net dat ons nie beter as ander is nie. Ons het miskien meer geld en ’n sogenoemde formele skoolopleiding, maar hulle [die plaaslike mense] het eienskappe wat ons s’n oortref.”
15. Hoe kan diegene wat gestuur word om in vreemde lande te werk opregte respek vir voornemende dissipels toon?
15 As ons opregte respek toon vir diegene aan wie ons die goeie nuus verkondig, sal ons dit vir hulle beslis makliker maak om die Bybel se boodskap aan te neem. Dit help ook wanneer ’n sendelingevangelis wys dat hy gelukkig is om onder die mense te woon na wie hy gestuur is om te help. ’n Sendeling wat die afgelope 38 jaar in Afrika deurgebring het en baie welslae in haar bediening geniet, verduidelik: “Diep binne-in my voel ek dat hierdie my tuiste is en dat diegene in die gemeente na wie ek gestuur is my broers en susters is. Die kere wat ek met vakansie teruggaan Kanada toe voel ek nie werklik tuis nie. Ek kan die laaste week of wat in Kanada nie wag om terug te gaan nie. Ek voel altyd so. Ek sê vir my Bybelstudente en die broers en susters hoe bly ek is om terug te wees, en hulle waardeer dit dat ek by hulle wil wees.”—1 Thessalonicense 2:8.
16, 17. (a) Watter uitdaging het sommige sendelinge en plaaslike evangeliste aanvaar sodat hulle beter toegerus vir hulle bediening kan wees? (b) Watter ondervinding het een sendeling gehad omdat sy die plaaslike taal kon praat?
16 Wanneer hulle ’n groot gemeenskap in hulle plaaslike gebiede het wat ’n vreemde taal praat, het sommige die moeite gedoen om daardie taal te leer praat en sodoende getoon dat hulle ander hoër as hulleself ag. “In suidelike Afrika”, sê een sendeling, “is daar soms ’n gevoel van wantroue tussen mense wat uit Afrika en uit Europa afkomstig is. Maar as jy die plaaslike taal praat, verdwyn hierdie gevoel gou-gou.” Dit help baie om die hart te bereik van diegene aan wie ons die goeie nuus verkondig as ons hulle taal kan praat. Dit verg harde werk en nederige volharding. ’n Sendeling in ’n land in Asië verduidelik: “Dit is nogal moeilik as ’n mens voortdurend foute maak en almal vir jou lag. Dis makliker om tou op te gooi.” Maar liefde vir God en haar naaste het hierdie sendeling gehelp om te volhard.—Markus 12:30, 31.
17 Dit is te verstane dat dit ’n goeie uitwerking op mense het wanneer ’n vreemdeling probeer om die goeie nuus vir hulle in hulle taal te vertel. Soms lei dit tot onverwagte seëninge. ’n Sendeling in Lesotho het met ’n vrou in ’n muurtapytwinkel in Sotho gepraat. ’n Minister van ’n ander Afrikaland was op ’n besigtigingstoer van die perseel, en hy het die gesprek toevallig gehoor. Hy het na haar toe gekom en haar hartlik geprys, waarná sy toe met die minister in sy eie taal begin praat het. “Waarom kom jy nie na [my land] toe en kom werk onder ons mense nie, want jy praat dan ook Swahili?”, het hy gevra. Die sendeling het taktvol geantwoord: “Dit sou baie aangenaam wees. Maar ek is een van Jehovah se Getuies, en op die oomblik is ons werk in u land verbied.” Hy het geantwoord: “Moet tog asseblief nie dink dat ons almal teen julle werk gekant is nie. Baie van ons is ten gunste van Jehovah se Getuies. Miskien sal jy eendag vryelik onder ons mense kan leer.” Later was die sendeling verheug om te hoor dat vryheid van aanbidding in daardie selfde land aan Jehovah se Getuies toegestaan is.
Bereid om hulle regte prys te gee
18, 19. (a) Op watter belangrike manier het Paulus sy Meester, Jesus Christus, probeer navolg? (b) Vertel ’n ondervinding (die een in die paragraaf of jou eie) om die belangrikheid daarvan te toon dat ons enigiets moet vermy wat diegene kan laat struikel aan wie ons die goeie nuus verkondig.
18 Toe die apostel Paulus geskryf het: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is”, het hy pas bespreek hoe ons ander nie moet laat struikel nie, en hy het gesê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.”—1 Korinthiërs 10:31-33; 11:1.
19 Evangeliste wat soos Paulus bereid is om opofferinge te maak in belang van diegene onder wie hulle preek, ontvang seëninge. ’n Sendelingegpaar in ’n Afrikaland het byvoorbeeld vir aandete na ’n plaaslike hotel gegaan om hulle huweliksherdenking te vier. Hulle was eers van plan om wyn saam met die maaltyd te bestel, aangesien die matige gebruik van alkoholiese drank nie in die Bybel afgekeur word nie (Psalm 104:15). Maar toe het hierdie egpaar daarteen besluit omdat dit die plaaslike mense kon laat struikel. “’n Geruime tyd later”, vertel die man, “het ons ’n man ontmoet wat ’n kok by daardie hotel was, en ons het ’n Bybelstudie met hom begin. Baie later het hy vir ons gesê: ‘Onthou julle toe julle na die hotel gekom het vir aandete? Ons het almal agter die kombuisdeur gestaan en julle dopgehou. Julle sien, die kerksendelinge het ons vertel dat dit verkeerd is as ons drink. Maar wanneer hulle na die hotel kom, bestel hulle vryelik wyn. Ons het dus besluit dat as julle iets sou bestel om te drink ons nie na julle sou luister as julle vir ons kom preek nie.’” Vandag is daardie kok en sommige ander wat by die hotel gewerk het gedoopte Getuies.
Nog baie om te doen
20. Waarom is dit noodsaaklik dat ons as ywerige evangeliste volhard, en watter vreugdevolle voorreg gryp baie nou aan?
20 Terwyl die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge vinnig naderkom, smag baie steeds daarna om die goeie nuus te hoor, en dit is nou dringender as ooit dat elke Christen as ’n getroue evangelis volhard (Mattheüs 24:13). Kan jy jou aandeel aan hierdie werk vergroot deur soos Filippus, Paulus, Barnabas, Silas en Timotheüs in ’n spesiale sin ’n evangelis te word? Baie doen iets soortgelyks deur hulle by die pioniergeledere aan te sluit en hulle beskikbaar te stel om op plekke te dien waar daar meer hulp nodig is.
21. Hoe is “’n groot deur wat tot aktiwiteit lei” vir Jehovah se volk geopen?
21 In onlangse tye is ontsaglike gebiede vir evangelisasie geopen in lande in Afrika, Asië en Oos-Europa waar die werk van Jehovah se Getuies voorheen beperk was. Soos in die geval van die apostel Paulus is “’n groot deur wat tot aktiwiteit lei” vir Jehovah se volk geopen (1 Korinthiërs 16:9, NW). Sendelingevangeliste wat byvoorbeeld onlangs in die Afrikaland Mosambiek aangekom het, kan nie na al die mense omsien wat Bybelstudies wil hê nie. Hoe verheug is ons tog dat die werk van Jehovah se Getuies op 11 Februarie 1991 in daardie land wetlik erken is!
22. Wat moet ons almal vasbeslote wees om te doen, of ons plaaslike gebied nou deeglik gedek word of nie?
22 In lande waar ons nog altyd vryheid van aanbidding gehad het, geniet ons broers ook voortdurend vermeerdering. Ja, waar ons ook al woon, daar is steeds ‘volop om in die werk van die Here’ te doen (1 Korinthiërs 15:58, NW). Aangesien dit die geval is, moet ons aanhou om die tyd wat oor is verstandig te gebruik terwyl ons elkeen ‘die werk van ’n evangelis doen, en ons bediening vervul’.—2 Timotheüs 4:5; Efesiërs 5:15, 16.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is ’n evangelis?
◻ Hoe is die inhoud van die goeie nuus ná 1914 verryk?
◻ Watter vooruitgang het die evangelisasiewerk sedert 1919 gemaak?
◻ Watter sleutelfaktore het tot die sukses van die evangelisasiewerk bygedra?
[Venster op bladsy 19]
Uitbreiding Sedert 1939
Beskou voorbeelde van drie vastelande waarheen Gilead-opgeleide sendelinge gestuur is. In 1939 was daar net 636 Koninkryksverkondigers wat uit Wes-Afrika gerapporteer het. Teen 1991 het hierdie getal tot meer as 200 000 in 12 lande in Wes-Afrika vermeerder. Sendelinge het ook bygedra tot fenomenale vermeerdering in lande in Suid-Amerika. Een so ’n land is Brasilië, wat van 114 Koninkryksverkondigers in 1939 tot 335 039 in April 1992 vermeerder het. Soortgelyke groei het gevolg nadat sendelinge in lande in Asië aangekom het. In Japan is die klein groepie Getuies van Jehovah gedurende die Tweede Wêreldoorlog kwaai vervolg, en hulle werk het tot stilstand gekom. Toe, in 1949, het 13 sendelinge gearriveer om die werk te help herorganiseer. Daardie diensjaar het minder as tien Japannese verkondigers in die hele Japan velddiens gerapporteer, terwyl daar in April 1992 altesaam 167 370 verkondigers was.
[Venster op bladsy 21]
Die Christendom En Die Taalprobleem
Party van die Christendom se sendelinge het ’n ywerige poging aangewend om ’n vreemde taal aan te leer, maar baie het verwag dat die plaaslike mense hulle Europese taal moes leer praat. Soos Geoffrey Moorhouse in sy boek The Missionaries verduidelik:
“Die probleem is dat daar alte dikwels gedink is dat ’n plaaslike taal bloot aangeleer moet word om die Skrif te kan vertaal. Individue of die genootskappe in wie se diens hulle was, het bra min gedoen om te verseker dat ’n sendeling met ’n boorling in sy moedertaal kon praat en dit met die vlotheid wat nodig is om diepe begrip tussen twee mense te laat ontwikkel. Elke sendeling het ’n mondjievol van die plaaslike woordeskat aangeleer . . . Daarbenewens is daar oor die algemeen gekommunikeer deur die aaklige en belaglike sogenoemde Pidgin-Engels, met sy onuitgesproke veronderstelling dat die Afrikaboorling hom aan die standaarde van die Engelse besoeker moet onderwerp. Op sy ergste was dit net nog ’n verskynsel van rassewaan.”
In 1922 het die School of Oriental and African Studies in Londen ’n verslag oor die taalprobleem gepubliseer. “Ons is van mening”, het die verslag gelui, “dat die gemiddelde graad van vlotheid wat deur sendelinge in die landstaal bereik word . . . betreurenswaardig en selfs gevaarlik laag is.”
Sendelinge van die Wagtoringgenootskap het dit nog altyd as noodsaaklik beskou om die plaaslike taal te leer praat, en dit help verduidelik waarom hulle soveel welslae in die sendingveld geniet.