Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jesus se laaste Pasga is ophande
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 112

      Jesus se laaste Pasga is ophande

      TOE Dinsdag, 11 Nisan, ten einde begin loop, sluit Jesus die onderrigting van sy apostels op die Olyfberg af. Dit was vir jou ’n besige, vermoeiende dag! Nou, moontlik terwyl hulle op pad terug is na Betanië om daar te gaan vernag, sê hy vir sy apostels: “Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig [“aan ’n paal gehang”, NW] te word.”

      Jesus bring blykbaar die volgende dag, Woensdag, 12 Nisan, in rustige afsondering saam met sy apostels deur. Die vorige dag het hy die godsdiensleiers in die openbaar geroskam, en hy besef dat hulle hom om die lewe wil bring. Daarom verskyn hy nie Woensdag in die openbaar nie, want hy wil nie hê dat enigiets moet keer dat hy die volgende aand die Pasga saam met sy apostels vier nie.

      Intussen het die owerpriesters en die ouderlinge van die volk op die binneplaas van die hoëpriester, Kajafas, bymekaargekom. Hulle is nog ontsteld oor Jesus se aanval die vorige dag, en hulle beraam planne om hom met lis gevange te neem en om die lewe te laat bring. Maar hulle bly sê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Hulle is bang vir die volk, wat Jesus goedgesind is.

      Terwyl die godsdiensleiers boosaardig saamsweer om Jesus om die lewe te bring, kry hulle ’n besoeker. Dit is, tot hulle verbasing, een van Jesus se apostels, Judas Iskariot, die een by wie Satan die bose gedagte laat posvat het om sy Meester te verraai! Hoe ingenome is hulle tog wanneer Judas vra: “Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer?” Hulle stem met genoeë in om hom 30 silwerstukke, die prys van ’n slaaf volgens die Mosaïese Wetsverbond, te betaal. En van nou af soek Judas ’n goeie geleentheid om Jesus aan hulle oor te lewer wanneer daar nie ’n skare is nie.

      Wanneer die son Woensdag ondergaan, breek 13 Nisan aan. Jesus het Vrydag van Jerigo af aangekom; dit is dus die sesde en laaste nag wat hy in Betanië deurbring. Die volgende dag, Donderdag, sal hulle die finale voorbereidings vir die Pasga moet tref, wat teen sononder sal begin. Dan moet die Paaslam geslag en heel gebraai word. Waar sal hulle die fees vier, en wie sal dit vir hulle berei?

      Jesus het nie hierdie besonderhede aan hulle verstrek nie, moontlik om te voorkom dat Judas die owerpriesters in kennis stel sodat hulle Jesus gedurende die Pasgaviering in hegtenis kan neem. Maar nou, waarskynlik vroeg Donderdagmiddag, stuur Jesus Petrus en Johannes van Betanië af en sê: “Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.”

      “Waar wil U hê moet ons dit berei?” vra hulle.

      Jesus verduidelik: “As julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u—waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.”

      Die huiseienaar is ongetwyfeld ’n dissipel van Jesus wat moontlik verwag dat Jesus hom sal vra om sy huis vir hierdie spesiale geleentheid te gebruik. In alle geval, toe Petrus en Johannes in Jerusalem aankom, vind hulle alles presies soos Jesus voorspel het. Hulle twee sorg dus dat die lam gereed is en dat al die ander reëlings getref is vir die 13 Pasgavierders, Jesus en sy 12 apostels. Mattheüs 26:1-5, 14-19; Markus 14:1, 2, 10-16; Lukas 22:1-13; Exodus 21:32.

      ▪ Wat doen Jesus blykbaar Woensdag, en waarom?

      ▪ Watter vergadering word by die hoëpriester se huis gehou, en met watter doel besoek Judas die godsdiens-leiers?

      ▪ Vir wie stuur Jesus Donderdag in Jerusalem in, en met watter doel?

      ▪ Wat tref hierdie twee wat Jesus gestuur het daar aan wat weer eens sy wonderkragte toon?

  • Nederigheid by die laaste Pasga
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 113

      Nederigheid by die laaste Pasga

      PETRUS en Johannes het reeds in Jerusalem aangekom om in opdrag van Jesus voorbereidings vir die Pasga te tref. Jesus daag later in die middag op, blykbaar saam met die tien ander apostels. Die son sak op die horison wanneer Jesus en sy geselskap die Olyfberg afkom. Dit is die laaste keer tot ná sy opstanding dat Jesus in die dag van hierdie berg af oor die stad uitkyk.

      Kort voor lank kom Jesus en sy geselskap in die stad aan en gaan na die huis waar hulle die Pasga sal vier. Hulle klim die trap na die groot bovertrek waar hulle vind dat al die voorbereidings vir hulle privaat viering van die Pasga getref is. Jesus het uitgesien na hierdie geleentheid, want hy sê: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.”

      Volgens die ge-woonte drink die Pasgavierders vier bekers wyn. Ná Jesus die beker geneem het wat blykbaar die derde beker is, dank hy en sê: “Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

      Die een of ander tyd gedurende die maaltyd staan Jesus op, trek sy boklere uit, neem ’n doek en vul ’n bak met water. Gewoonlik sien ’n gasheer toe dat ’n gas se voete gewas word. Maar aangesien daar by hierdie geleentheid nie ’n gasheer teenwoordig is nie, sorg Jesus vir hierdie persoonlike diens. Enigeen van die apostels kon van die geleentheid gebruik gemaak het om dit te doen; tog doen niemand dit nie omdat daar blykbaar steeds ’n mate van wedywer onder hulle bestaan. Nou is hulle verleë wanneer Jesus hulle voete begin was.

      Toe Jesus by Petrus kom, maak hy beswaar: “U sal my voete in der ewigheid nie was nie!”

      “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie”, sê Jesus.

      “Here”, antwoord Petrus, “nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.”

      “Hy wat gewas is”, antwoord Jesus, “het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.” Hy sê dit, want hy weet dat Judas Iskariot van plan is om hom te verraai.

      Wanneer Jesus die voete van al 12 gewas het, onder andere die voete van sy verraaier, Judas, trek hy sy boklere aan en gaan weer aan tafel. Dan vra hy: “Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”

      Wat ’n pragtige les in nederige diens tog! Die apostels moet nie die eerste plek wil hê en dink dat hulle so belangrik is dat ander hulle altyd moet dien nie. Hulle moet die voorbeeld volg wat Jesus gestel het. Dit is nie een van rituele voetwassery nie. Nee, maar dit is ’n voorbeeld van bereidwilligheid om sonder partydigheid te dien, ongeag hoe gering of onaangenaam die taak ook al is. Mattheüs 26:20, 21; Markus 14:17, 18; Lukas 22:14-18; 7:44; Johannes 13:1-17.

      ▪ Wat is uniek wanneer Jesus oor Jerusalem uitkyk wanneer hy die stad binnegaan om die Pasga te vier?

      ▪ Watter beker gee Jesus gedurende die Pasga blykbaar aan die 12 apostels nadat hy gedank het?

      ▪ Watter persoonlike diens is volgens gebruik aan gaste gelewer toe Jesus op die aarde was, en waarom is dit nie gelewer gedurende die Pasga wat deur Jesus en die apostels gevier is nie?

      ▪ Waarom het Jesus die knegsdiens verrig deur sy apostels se voete te was?

  • Die Gedenkmaal
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 114

      Die Gedenkmaal

      NADAT Jesus sy apostels se voete gewas het, haal hy die teks in Psalm 41:10 aan en sê: “Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” Dan word hy in sy gees ontsteld en verduidelik: “Een van julle sal My verraai.”

      Die apostels word bedroef en sê een vir een vir Jesus: “Is dit miskien ek?” Selfs Judas Iskariot vra dit. Johannes, wat langs Jesus aan tafel lê, leun terug teen Jesus se bors en vra: “Here, wie is dit?”

      “Dit is die een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek”, antwoord Jesus. “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.” Daarna vaar Satan weer in Judas in, en maak gebruik van die swakheid in sy hart, ’n hart wat goddeloos geword het. Later daardie aand noem Jesus Judas gepas “die seun van die verderf”.

      Jesus sê nou vir Judas: “Wat jy doen, doen dit haastig.” Nie een van die ander apostels verstaan wat Jesus bedoel nie. Party dink dat aangesien Judas die beurs het, Jesus vir hom sê: “Koop wat ons nodig het vir die fees”, of dat hy iets vir die armes moet gaan gee.

      Ná Judas geloop het, stel Jesus ’n heeltemal nuwe viering, of herdenking, saam met sy getroue apostels in. Hy neem ’n brood, doen ’n dankgebed, breek dit en gee dit vir hulle terwyl hy sê: “Neem, eet.” Hy verduidelik: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.”

      Nadat elkeen van die brood geëet het, neem Jesus ’n beker wyn, blykbaar die vierde beker wat in die Pasgadiens gebruik is. Hy doen ook ’n dankgebed daarvoor, gee dit vir hulle, vra hulle om daarvan te drink, en sê: “Hierdie beker is die nuwe testament [“verbond”, NW] in my bloed wat vir julle uitgestort word.”

      Dit is dus in werklikheid ’n herdenking van Jesus se dood. Soos Jesus sê, moet dit elke jaar op 14 Nisan herhaal word tot sy gedagtenis. Dit sal diegene wat dit vier, herinner aan wat Jesus en sy hemelse Vader gedoen het om die mensdom van die veroordeling tot die dood te verlos. Vir die Jode wat Christus se volgelinge word, sal dié viering die Pasga vervang.

      Die nuwe verbond, wat deur Jesus se vergote bloed bekragtig word, vervang die ou Wetsverbond. Jesus Christus is die middelaar tussen twee partye—aan die een kant, Jehovah God, en aan die ander kant, 144 000 geesverwekte Christene. Buiten die vergifnis van sondes maak die verbond voorsiening vir die verwekking van ’n hemelse nasie van koning-priesters. Mattheüs 26:21-29; Markus 14:18-25; Lukas 22:19-23; Johannes 13:18-30; 17:12; 1 Korinthiërs 5:7.

      ▪ Watter Bybelprofesie haal Jesus aangaande ’n metgesel aan, en hoe verduidelik hy dit?

      ▪ Waarom word die apostels baie bedroef, en wat vra hulle almal?

      ▪ Wat sê Jesus moet Judas doen, maar hoe verstaan die ander apostels hierdie instruksies?

      ▪ Watter viering stel Jesus in ná Judas geloop het, en wat is die doel daarvan?

      ▪ Wie is die partye in die nuwe verbond, en wat word deur die verbond tot stand gebring?

  • ’n Woordewisseling ontstaan
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 115

      ’n Woordewisseling ontstaan

      JESUS het sy apostels vroeër die aand, toe hy hulle voete gewas het, ’n pragtige les in nederige diens geleer. Daarna het hy die herdenking van sy naderende dood ingestel. Nou, veral met die oog op wat so pas plaasgevind het, gebeur daar iets verbasends. Sy apostels raak in ’n hewige woordewisseling gewikkel oor wie van hulle nou eintlik die grootste is! Dit is blykbaar deel van ’n voortgesette stryery.

      Jy sal dalk onthou dat die apostels, nadat Jesus op die berg verheerlik is, gestry het oor wie die grootste onder hulle is. Daarbenewens het Jakobus en Johannes om vername posisies in die Koninkryk gevra, wat tot ’n verdere stryery onder die apostels gelei het. Hoe hartseer moet dit Jesus tog maak wanneer hy sien dat hulle nou, sy laaste aand saam met hulle, weer stry! Wat doen hy?

      Pleks van sy apostels uit te trap oor hulle optrede, redeneer Jesus weer eens geduldig met hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; . . . Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie?” Dan herinner hy hulle aan sy voorbeeld en sê: “Maar Ek is onder julle soos een wat dien.”

      Die apostels het ondanks hulle tekortkominge by Jesus gebly in sy beproewinge. Hy sê dus: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (NW). Hierdie persoonlike verbond tussen Jesus en sy lojale volgelinge verenig hulle met hom om sy koninklike heerskappy te deel. Net ’n beperkte getal van 144 000 word eindelik in hierdie verbond vir ’n Koninkryk opgeneem.

      Hoewel die apostels die wonderlike vooruitsig het om met Christus in sy Koninkryksheerskappy te deel, is hulle op die oomblik geestelik swak. “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My”, sê Jesus. Maar Jesus sê vir Petrus dat Hy vir hom gebid het, en spoor hom aan: “Wanneer jy eendag teruggekeer het, moet jy jou broeders versterk.”—NW.

      “My kinders”, verduidelik Jesus, “nog ’n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie—so sê Ek nou ook vir julle. ’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”

      “Here, waar gaan U heen?” vra Petrus.

      “Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie”, antwoord Jesus, “maar later sal jy My volg.”

      “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie?” wil Petrus weet. “Ek sal my lewe vir U gee.”

      “Sal jy jou lewe vir My gee?” vra Jesus. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.”

      “Al moes ek ook saam met U sterwe”, protesteer Petrus, “ek sal U nooit verloën nie!” En terwyl die ander apostels ook so sê, spog Petrus: “Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.”

      Jesus verwys na die tyd toe hy die apostels sonder beurs en reissak op ’n predikingsreis deur Galilea gestuur het en vra: “Het julle iets kortgekom?”

      “Niks nie”, antwoord hulle.

      “Maar nou, wie ’n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak”, sê hy, “en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ’n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dít wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar ’n einde.”

      Jesus praat van die tyd wanneer hy saam met kwaaddoeners, of misdadigers, aan ’n paal gehang sal word. Hy toon ook dat sy volgelinge daarna voor kwaai vervolging te staan sal kom. “Here, kyk hier is twee swaarde”, sê hulle.

      “Dit is genoeg”, antwoord hy. Soos ons sal sien, sal die feit dat hulle die swaarde by hulle het Jesus binnekort die geleentheid gee om hulle nog ’n belangrike les te leer. Mattheüs 26:31-35; Markus 14:27-31; Lukas 22:24-38; Johannes 13:31-38; Openbaring 14:1-3.

      ▪ Waarom is die apostels se woordewisseling so verbasend?

      ▪ Hoe hanteer Jesus die woordewisseling?

      ▪ Wat word bewerkstellig deur die verbond wat Jesus met sy dissipels maak?

      ▪ Watter nuwe gebod gee Jesus, en hoe belangrik is dit?

      ▪ Hoe lê Petrus te veel selfvertroue aan die dag, en wat sê Jesus?

      ▪ Waarom verskil Jesus se opdrag oor die beurs en reissak van die opdrag wat hy vroeër gegee het?

  • Jesus berei die apostels voor op sy vertrek
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 116

      Jesus berei die apostels voor op sy vertrek

      DIE gedenkmaal is verby, maar Jesus en sy apostels is nog in die bovertrek. Hoewel Jesus binnekort nie meer daar sal wees nie, is daar nog baie dinge wat hy wil sê. “Laat julle hart nie ontsteld word nie”, troos hy hulle. “Glo in God.” Maar hy voeg by: “Glo ook in My.”

      “In die huis van my Vader is daar baie wonings”, sê Jesus voorts. “Ek gaan om vir julle plek te berei . . . sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle.” Die apostels snap nie dat Jesus bedoel dat hy weggaan hemel toe nie, en daarom vra Thomas: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?”

      “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, antwoord Jesus. Ja, slegs deur hom te aanvaar en sy lewenswandel na te volg kan ’n mens in die hemelse huis van die Vader ingaan, want, soos Jesus sê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

      “Here, toon ons die Vader”, versoek Filippus, “en dit is vir ons genoeg.” Filippus wil blykbaar hê dat Jesus ’n sigbare openbaring van God moet voorsien, soos Moses, Elia en Jesaja in die ou tyd in visioene gesien het. Maar die apostels het in werklikheid iets wat baie beter is as sulke visioene, soos Jesus opmerk: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.”

      Jesus weerspieël sy Vader se persoonlikheid so volkome dat dit in werklikheid is asof hulle die Vader sien as hulle saam met Jesus lewe en hom dophou. Nogtans is die Vader groter as die Seun, soos Jesus erken: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie.” Jesus skryf tereg alle eer vir sy leringe aan sy hemelse Vader toe.

      Hoe bemoedigend moet dit tog nou vir die apostels wees om te hoor dat Jesus vir hulle sê: “Wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit”! Jesus bedoel nie dat sy volgelinge se vermoë om wonderwerke te doen groter as syne sal wees nie. Nee, maar hy bedoel dat hulle die bediening oor ’n veel langer tydperk, oor ’n veel groter gebied en aan baie meer mense sal uitdra.

      Jesus sal sy dissipels ná sy vertrek nie aan hulle lot oorlaat nie. “Wat julle ook al in my Naam mag vra”, belowe hy, “dit sal Ek doen.” Hy sê verder: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster [“helper”, NW] gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid.” Later, nadat hy opgevaar het hemel toe, giet Jesus die heilige gees, hierdie ander helper, op sy dissipels uit.

      Jesus se vertrek is naby, soos hy sê: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie.” Jesus sal ’n geesskepsel wees wat vir mense onsigbaar is. Maar Jesus belowe sy getroue apostels weer eens: “Julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.” Ja, Jesus sal nie net ná sy opstanding in mensegedaante aan hulle verskyn nie, maar hy sal hulle mettertyd opwek om as geesskepsele saam met hom in die hemel te woon.

      Jesus meld nou die eenvoudige reël: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

      Hier val die apostel Judas, die een wat ook Thaddeüs genoem word, Jesus in die rede: “Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?”

      “As iemand My liefhet”, antwoord Jesus, “sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê . . . Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie.” In teenstelling met Christus se gehoorsame volgelinge ignoreer die wêreld sy leringe. Hy openbaar hom dus nie aan hulle nie.

      Gedurende sy aardse bediening het Jesus sy apostels baie dinge geleer. Hoe sal hulle dit alles onthou, veral aangesien hulle, selfs op hierdie stadium, soveel dinge nie kan snap nie? Gelukkig belowe Jesus: “Die [helper], die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

      Jesus bemoedig hulle weer en sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle . . . Laat julle hart nie ontsteld word . . . nie.” Jesus gaan wel weg, maar hy verduidelik: “As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.”

      Jesus se oorblywende tyd saam met hulle is min. “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie”, sê hy, “want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie [“het geen houvas op my nie”, NW].” Satan die Duiwel, die een wat in Judas kon invaar en ’n houvas op hom kon kry, is die owerste van die wêreld. Maar daar is geen sondige swakheid in Jesus wat deur Satan uitgebuit kan word om hom sy diens aan God te laat versaak nie.

      ’n Intieme verhouding

      Ná die gedenkmaal het Jesus sy apostels aangemoedig deur informeel en openhartig met hulle te gesels. Dit is moontlik ná middernag. Daarom sê Jesus: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.” Maar voor hulle loop, praat Jesus, weens sy liefde vir hulle, verder met hulle en vertel hy hulle ’n aanmoedigende gelykenis.

      “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer”, begin hy. Die Groot Landbouer, Jehovah God, het hierdie simboliese wynstok geplant toe hy Jesus ten tyde van sy doop in die herfs van 29 G.J. met heilige gees gesalf het. Maar Jesus gaan voort en toon dat die wynstok meer voorstel as net hy en sê: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. . . . Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote.”

      Die apostels en ander word met Pinkster, 51 dae later, lote van die wynstok wanneer heilige gees op hulle uitgegiet word. Uiteindelik word 144 000 persone lote van die figuurlike wynstok. Hulle maak, saam met die stam van die wynstok, Jesus Christus, ’n simboliese wynstok uit wat die vrugte van God se Koninkryk dra.

      Jesus verduidelik wat die sleutel is om vrug te dra: “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Maar as iemand nie vrug dra nie, sê Jesus, “word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand”. Aan die ander kant belowe Jesus: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”

      Jesus sê vervolgens vir sy apostels: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Die vrug wat God van die lote wil hê, is dat hulle Christelike eienskappe, veral liefde, aan die dag moet lê. Aangesien Christus ’n verkondiger van God se Koninkryk was, sluit die verlangde vrugte daarbenewens ook in dat hulle, net soos hy, dissipels maak.

      “Bly in hierdie liefde van My”, maan Jesus nou. Maar hoe kan sy apostels dit doen? “As julle my gebooie bewaar”, sê hy, “sal julle in my liefde bly.” Jesus verduidelik verder: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”

      Jesus sal oor ’n paar uur bewys lewer van hierdie weergalose liefde deur sy lewe af te lê vir sy apostels, sowel as vir alle ander mense wat geloof in hom sal beoefen. Sy voorbeeld moet sy volgelinge beweeg om dieselfde selfopofferende liefde vir mekaar te hê. Hierdie liefde sal hulle identifiseer, soos Jesus vroeër gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”

      Jesus identifiseer sy vriende en sê: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”

      Wat ’n kosbare verhouding is dit tog nie—om intieme vriende van Jesus te wees! Maar sodat hulle hierdie verhouding kan bly geniet, moet sy volgelinge aanhou om ‘vrug te dra’. Hulle moet dit doen, sê Jesus, “sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit [sal] gee”. Dit is beslis ’n groot beloning omdat hulle Koninkryksvrug dra! Jesus spoor die apostels weer aan om ‘mekaar lief te hê’ en verduidelik dan dat die wêreld hulle sal haat. Maar hy troos hulle en sê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” Hierna vertel Jesus hulle waarom die wêreld sy volgelinge haat en sê: “Omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”

      Jesus verstrek ’n verdere rede waarom die wêreld hulle haat en sê voorts: “Al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom [Jehovah God] nie ken wat My gestuur het nie.” Jesus se wonderwerke veroordeel in werklikheid diegene wat hom haat, soos hy sê: “As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.” Derhalwe is die teks vervul, soos Jesus sê: “Hulle het My sonder oorsaak gehaat.”

      Jesus troos hulle weer, soos hy vroeër gedoen het, deur te belowe om die helper, die heilige gees, God se kragtige werkende krag, te stuur. “Hy [sal] van My getuig. En julle getuig ook.”

      Verdere afskeidsraad

      Jesus en die apostels is gereed om die bovertrek te verlaat. “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie”, gaan hy voort. Dan gee hy die ernstige waarskuwing: “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys.”

      Die apostels is klaarblyklik baie ontsteld oor hierdie waarskuwing. Al het Jesus vroeër gesê dat die wêreld hulle sou haat, het hy nie so direk gesê dat hulle doodgemaak sou word nie. “Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie”, verduidelik Jesus, “omdat Ek saam met julle was.” Maar hoe goed is dit tog dat hy hulle hiervan vertel voor hy vertrek!

      “En nou”, sê Jesus verder, “gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie?” Vroeër die aand het hulle gevra waarheen hy gaan, maar nou is hulle so geskok deur wat hy hulle vertel het dat hulle hom nie verder hieroor uitvra nie. Soos Jesus sê: “Omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.” Die apostels is nie net bedroef omdat hulle gehoor het dat hulle kwaai vervolging gaan verduur en doodgemaak gaan word nie, maar omdat hulle Meester hulle gaan verlaat.

      Daarom verduidelik Jesus: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die [helper] nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.” As mens kan Jesus net op een plek op ’n slag wees, maar wanneer hy in die hemel is, kan hy die helper, God se heilige gees, na sy volgelinge stuur, waar hulle ook al op aarde is. Daarom sal Jesus se vertrek voordelig wees.

      Jesus sê dat die heilige gees “die wêreld [sal] oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel”. Die wêreld se sonde, sy gebrek aan geloof in God se Seun, sal blootgelê word. Daarbenewens sal die feit dat Jesus na die Vader opgevaar het oortuigende bewys lewer van sy geregtigheid. En die feit dat Satan en sy bose wêreld nie daarin kon slaag om Jesus sy onkreukbaarheid te laat prysgee nie, lewer oortuigende bewys dat die owerste van hierdie wêreld veroordeel is.

      “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê”, sê Jesus voorts, “maar julle kan dit nou nie dra nie.” Jesus belowe derhalwe dat wanneer hy die heilige gees, God se werkende krag, oor hulle uitstort, dit hulle sal help om hierdie dinge te verstaan, na gelang van hulle vermoë om dit te begryp.

      Die apostels verstaan veral nie dat Jesus sal sterf en aan hulle sal verskyn ná hy opgewek is nie. Hulle vra mekaar dus: “Wat is dit wat Hy vir ons sê: ’n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer ’n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?”

      Jesus besef dat hulle hom wil uitvra, en daarom verduidelik hy: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.” Later daardie dag, in die middag, wanneer Jesus om die lewe gebring word, is die wêreldse godsdiensleiers bly, maar die dissipels is bedroef. Maar hulle droefheid word in blydskap verander wanneer Jesus opgewek word! En hulle blydskap duur voort wanneer hy hulle met Pinkster in staat stel om sy getuies te wees deur God se heilige gees oor hulle uit te stort!

      Jesus vergelyk die apostels se situasie met dié van ’n vrou gedurende haar geboortepyne en sê: “’n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het.” Maar Jesus sê dat sy nie meer haar benoudheid onthou wanneer haar kind gebore is nie, en hy moedig sy apostels aan deur te sê: “Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien [wanneer ek opgewek is] en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.”

      Tot dusver het die apostels niks in Jesus se naam gevra nie. Maar nou sê hy: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. . . . Want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader.”

      Jesus se woorde is baie aanmoedigend vir die apostels. “Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het”, sê hulle. “Glo julle nou?” vra Jesus. “Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat.” Hoe ongelooflik dit ook al klink, dit gebeur nog voor die nag om is!

      “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê.” Jesus sluit af: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Jesus het die wêreld oorwin deur getrou God se wil uit te voer ondanks alles wat Satan en sy wêreld probeer doen het om Jesus sy onkreukbaarheid te laat prysgee.

      Slotgebed in die bovertrek

      Innige liefde vir sy apostels het Jesus beweeg om hulle reeds op sy naderende dood te begin voorberei. Nadat hy hulle uitvoerig vermaan en bemoedig het, hef hy nou sy oë op na die hemel en bid tot sy Vader: “Verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik—soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.”

      Wat ’n aangrypende tema lei Jesus tog hier in—die ewige lewe! Aangesien Jesus “mag oor alle vlees” gegee is, kan hy die voordele van sy losprysoffer ten behoewe van die hele sterwende mensdom aanwend. Nogtans gee hy “die ewige lewe” slegs aan diegene wat deur die Vader goedgekeur word. Jesus bou voort op hierdie tema van die ewige lewe en bid verder:

      “Dit beteken die ewige lewe, dat hulle voortdurend kennis inneem van u, die enige ware God, en van hom wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (NW). Ja, om redding te ontvang, moet ons kennis inneem van God sowel as van sy Seun. Maar meer as net kopkennis is nodig.

      ’n Mens moet hulle intiem leer ken en ’n begripvolle vriendskap met hulle opbou. Jy moet soos hulle oor sake voel en dinge deur hulle oë sien. En ’n mens moet bowenal daarna strewe om hulle weergalose eienskappe na te volg in jou optrede teenoor ander.

      Vervolgens bid Jesus: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Omdat hy tot hier toe sy aangewese werk volbring het en omdat hy seker is van sy toekomstige sukses, versoek hy: “Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” Ja, hy vra nou dat hy deur middel van ’n opstanding weer tot sy vorige hemelse heerlikheid herstel moet word.

      Ter opsomming van sy vernaamste werk op aarde sê Jesus: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.” Jesus het God se naam, Jehovah, in sy bediening gebruik en getoon wat die regte uitspraak daarvan is, maar hy het selfs meer gedoen om God se naam aan sy apostels te openbaar. Hy het hulle ook gehelp om hulle kennis van en waardering vir Jehovah, sy persoonlikheid en sy voornemens te verruim.

      Jesus gee Jehovah die eer as sy Meerdere, die Een onder wie hy dien, en erken nederig: “Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.”

      Jesus maak nou ’n onderskeid tussen sy volgelinge en die res van die mensdom en bid vervolgens: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het . . . Toe ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle . . . bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf”, naamlik Judas Iskariot. Op hierdie oomblik is Judas juis op pad om sy veragtelike daad van verraad teen Jesus te gaan pleeg. So vervul Judas die Skrif onwetend.

      “Die wêreld het hulle gehaat”, bid Jesus verder. “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos ek nie van die wêreld is nie.” Jesus se volgelinge is in die wêreld, hierdie georganiseerde mensegemeenskap waaroor Satan heers, maar hulle is afgeskeie en moet altyd afgeskeie bly van die wêreld en sy goddeloosheid.

      “Heilig hulle in u waarheid”, sê Jesus verder, “u woord is die waarheid.” Hier noem Jesus die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte, waaruit hy voortdurend aangehaal het, “die waarheid”. Maar wat hy sy dissipels geleer het en wat hulle later onder inspirasie as die Christelike Griekse Geskrifte geskryf het, is eweneens “die waarheid”. Hierdie waarheid kan ’n mens heilig, sy lewe heeltemal verander en van hom iemand maak wat van die wêreld afgeskeie is.

      Nou bid Jesus “nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in [hom] sal glo”. Jesus bid derhalwe vir diegene wat sy gesalfde volgelinge sal word, asook vir ander toekomstige dissipels wat nog in die “een kudde” versamel sal word. Wat vra hy ten behoewe van hulle almal?

      “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; . . . sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Jesus en sy Vader is nie letterlik een persoon nie, maar hulle is in alle opsigte eensgesind. Jesus bid dat sy volgelinge dieselfde eenheid moet geniet sodat “die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het”.

      Jesus rig nou ’n versoek tot sy hemelse Vader ten behoewe van diegene wat sy gesalfde volgelinge sal wees. Waarvoor? “Dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld”, dit wil sê, voor Adam en Eva kinders voortgebring het. Lank vóór dit het God sy eniggebore Seun, wat Jesus Christus geword het, liefgehad.

      Ten slotte beklemtoon Jesus weer in sy gebed: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Die feit dat die apostels die naam van God leer ken het, het beteken dat hulle persoonlik die liefde van God leer ken het. Johannes 14:1–17:26; 13:27, 35, 36; 10:16; Lukas 22:3, 4; Exodus 24:10; 1 Konings 19:9-13; Jesaja 6:1-5; Galasiërs 6:16; Psalm 35:19; 69:4; Spreuke 8:22, 30.

      ▪ Waarheen gaan Jesus, en watter antwoord ontvang Thomas oor die weg daarheen?

      ▪ Wat wil Filippus volgens sy versoek blykbaar hê moet Jesus voorsien?

      ▪ Waarom het iemand wat Jesus gesien het ook die Vader gesien?

      ▪ Hoe sal Jesus se volgelinge groter werke doen as hy?

      ▪ In watter sin het Satan geen houvas op Jesus nie?

      ▪ Wanneer het Jehovah die simboliese wynstok geplant, en wanneer en hoe word ander deel van die wynstok?

      ▪ Hoeveel lote sal die simboliese wynstok uiteindelik hê?

      ▪ Watter vrug verlang God van die lote?

      ▪ Hoe kan ons vriende van Jesus wees?

      ▪ Waarom haat die wêreld Jesus se volgelinge?

      ▪ Watter waarskuwing van Jesus ontstel sy apostels?

      ▪ Waarom vra die apostels Jesus nie uit oor waarheen hy gaan nie?

      ▪ Wat verstaan die apostels veral nie?

      ▪ Hoe lig Jesus toe dat die apostels se situasie van droefheid tot blydskap sal verander?

      ▪ Wat sê Jesus sal die apostels binnekort doen?

      ▪ Hoe oorwin Jesus die wêreld?

      ▪ In watter sin word Jesus “mag oor alle vlees” gegee?

      ▪ Wat beteken dit om kennis in te neem van God en sy Seun?

      ▪ Op watter maniere openbaar Jesus God se naam?

      ▪ Wat is “die waarheid”, en hoe “heilig” dit ’n Christen?

      ▪ Hoe is God, sy Seun en alle ware aanbidders een?

      ▪ Wanneer was “die grondlegging van die wêreld”?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel