Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 1 bl. 6-11
  • Jy kan ’n gelukkige toekoms hê!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan ’n gelukkige toekoms hê!
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE EWIGE LEWE!
  • DIE LEWE IN DIE PARADYS
  • DIE LEWE IN DIE HERSTELDE PARADYS
  • KENNIS EN JOU TOEKOMS
  • ’n Aardse paradys is voor die deur
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Die weg terug na die paradys
    Ontwaak!—1997
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Die Paradys
    Ontwaak!—2013
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 1 bl. 6-11

Hoofstuk 1

Jy kan ’n gelukkige toekoms hê!

1, 2. Wat wil jou Skepper hê moet jy geniet?

’N HARTLIKE omhelsing deur iemand wat jy liefhet. Heerlike gelag gedurende ’n lekker ete saam met dierbare vriende. Die vreugde wanneer jy jou kinders opgeruimd sien speel. Sulke oomblikke is ligstrale in die lewe. Maar vir baie lyk dit of die lewe die een ernstige probleem na die ander oplewer. As dit met jou die geval is, kan jy moed skep.

2 Dit is God se wil dat jy blywende geluk onder die beste toestande in ’n wonderlike omgewing geniet. Dit is nie net ’n droom nie, want God bied jou die sleutel tot so ’n gelukkige toekoms. Daardie sleutel is kennis.

3. Watter kennis is die sleutel tot geluk, en waarom kan ons daarvan seker wees dat God daardie kennis kan voorsien?

3 Ons praat van ’n spesiale soort kennis wat baie groter is as menslike wysheid. Dit is “die kennis van God” (Spreuke 2:5). ’n Bybelskrywer het byna 2 000 jaar gelede gesê: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Dink net watter kennis moet die Maker van alles tog nie hê nie! Die Bybel sê dat God al die sterre tel en name gee. Wat ’n verstommende gedagte, aangesien daar honderdmiljarde sterre in net ons melkweg is, en sterrekundiges sê dat daar ongeveer honderdmiljard ander melkweë is! (Psalm 147:4). God weet ook alles van ons; wie anders kan dus beter antwoorde op die lewe se belangrike vrae verstrek?—Matteus 10:30.

4. Waarom kan ons verwag dat God ons van instruksies sal voorsien om vir ons leiding te gee, en watter boek voorsien in hierdie behoefte?

4 Stel jou twee mans voor wat hulle motors probeer herstel. Die een man gooi sy gereedskap in frustrasie neer. Die ander stel die probleem ewe kalm reg, draai die aansitsleutel en glimlag wanneer die enjin vat en glad loop. Dit sal nie vir jou moeilik wees om te raai watter een van die twee ’n instruksieboek van die vervaardiger gehad het nie. Maak dit nie sin dat God instruksies sou voorsien om vir ons leiding in die lewe te gee nie? Soos jy moontlik weet, is dit presies wat die Bybel beweer dit is—’n boek met instruksies en leiding van ons Skepper af, wat bedoel is om die kennis van God oor te dra.—2 Timoteus 3:16.

5. Hoe waardevol is die kennis wat die Bybel bevat?

5 Dink net watter skatte van kennis die Bybel moet bevat as daardie bewering waar is! In Spreuke 2:1-5 spoor dit ons aan om wysheid te soek, om daarna te delf soos ons na ’n verborge skat sou delf—nie in die grond van mensedenke nie, maar in God se eie Woord. As ons dáár soek, sal ons “die kennis van God vind”. Aangesien God ons beperkinge en behoeftes verstaan, gee hy ons instruksies wat ons sal help om ’n vreedsame, gelukkige lewe te lei (Psalm 103:14; Jesaja 48:17). Daarbenewens bied die kennis van God ons opwindende goeie nuus.

DIE EWIGE LEWE!

6. Watter versekering het Jesus Christus aangaande die kennis van God gegee?

6 Die welbekende geskiedkundige figuur Jesus Christus het hierdie kenmerk van die kennis van God duidelik beskryf. Hy het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Dink net—kennis wat tot die ewige lewe lei!

7. Wat bewys dat dit nie God se voorneme was dat ons moet sterf nie?

7 Moenie die ewige lewe gou as net ’n droom afmaak nie. Kyk eerder na die manier waarop die menseliggaam gemaak is. Dit is wonderlik ontwerp om te kan proe, hoor, ruik, sien en voel. Daar is soveel dinge op die aarde wat ons sinne streel—heerlike kos, lieflike voëlgesang, welriekende blomme, pragtige natuurskoon, genotvolle vriendskappe! En ons verstommende brein is lank nie net ’n superrekenaar nie, want dit stel ons in staat om al hierdie dinge te waardeer en te geniet. Dink jy ons Skepper wil hê dat ons moet sterf en dit alles moet verloor? Sou dit nie redeliker wees om tot die slotsom te kom dat hy wil hê dat ons ’n gelukkige lewe moet lei en die lewe vir ewig moet geniet nie? Wel, dit is wat die kennis van God vir jou kan beteken.

DIE LEWE IN DIE PARADYS

8. Wat sê die Bybel oor die toekoms van die mensdom?

8 Wat die Bybel oor die toekoms van die aarde en die mensdom sê, kan in een uitdrukking opgesom word—die Paradys! Jesus Christus het daarvan gepraat toe hy vir ’n sterwende man gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Die vermelding van die Paradys het daardie man ongetwyfeld aan die gelukkige lewe van ons eerste ouers, Adam en Eva, laat dink. Toe God hulle geskep het, was hulle volmaak en het hulle in ’n tuinagtige park gelewe wat die Skepper ontwerp en aangelê het. Dit is gepas die tuin van Eden genoem, ’n naam wat op genot dui.

9. Hoe was die lewe in die oorspronklike Paradys?

9 Hoe aangenaam was daardie tuin tog! Dit was ’n ware paradys. Party van die pragtige bome daar het heerlike vrugte gedra. Terwyl Adam en Eva hulle gebied verken het, van die soet water gedrink en vrugte van die bome daar gepluk het, was daar geen rede vir hulle om beangs of bevrees te wees nie. Selfs die diere het geen gevaar ingehou nie, want God het die man en sy vrou liefdevolle heerskappy oor hulle almal gegee. Boonop het die eerste mensepaar blakende gesondheid geniet. Solank hulle aan God gehoor–saam gebly het, het daar ’n ewige, gelukkige toekoms vir hulle voorgelê. Hulle is die bevredigende werk gegee om na hulle wonderlike Paradystuiste om te sien. Verder het God vir Adam en Eva die opdrag gegee om ‘die aarde te vul en te onderwerp’. Hulle en hulle nakomelinge moes die Paradys uitbrei totdat ons hele planeet ’n pragtige en genotvolle plek geword het.—Genesis 1:28.

10. Wat het Jesus in gedagte gehad toe hy van die Paradys gepraat het?

10 Maar toe Jesus die Paradys gemeld het, het hy nie ’n sterwende man gevra om aan die verre verlede te dink nie. Nee, Jesus het van die toekoms gepraat! Hy het geweet dat ons hele aardse tuiste ’n paradys sal word. God sal sodoende sy oorspronklike voorneme met die mensdom en ons aarde verwesenlik (Jesaja 55:10, 11). Ja, die Paradys sal herstel word! En hoe sal dit daar wees? Laat God se Woord, die Heilige Bybel, antwoord.

DIE LEWE IN DIE HERSTELDE PARADYS

11. Wat sal in die herstelde Paradys van siekte, veroudering en die dood word?

11 Siekte, veroudering en die dood sal nie meer bestaan nie. “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 35:5, 6). “God self sal by [die mense] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

12. Waarom kan ons daarvan seker wees dat daar geen misdaad, geweld en goddeloosheid in die toekomstige Paradys sal wees nie?

12 Misdaad, geweld en goddeloosheid sal vir ewig uit die weg geruim wees. “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit” (Psalm 37:9-11). “Die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spreuke 2:22.

13. Hoe sal God vrede bewerkstellig?

13 Vrede sal oor die hele aarde heers. ‘God laat die oorloë ophou tot by die einde van die aarde, hy verbreek die boog en slaan die spies stukkend’ (Psalm 46:10). “Die regverdige [sal] bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.”—Psalm 72:7.

14, 15. Wat sê die Bybel oor behuising, werk en voedsel in die herstelde Paradys?

14 Daar sal geen behuisingstekort wees nie en werk sal bevredigend wees. “Hulle sal huise bou en bewoon . . . Hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie.”—Jesaja 65:21-23.

15 Daar sal ’n oorvloed van gesonde voedsel wees. “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Psalm 72:16). “Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.”—Psalm 67:7.

16. Waarom sal die lewe in die Paradys ’n genot wees?

16 Die ewige lewe op ’n paradysaarde sal ’n genot wees. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing.”—Jesaja 35:1.

KENNIS EN JOU TOEKOMS

17. (a) Wat moet jy doen as die lewe in die Paradys vir jou aanloklik is? (b) Hoe weet ons dat God groot veranderinge op die aarde gaan aanbring?

17 As die lewe in die Paradys vir jou aanloklik is, moet jy nie dat enigiets jou keer om die kennis van God te verkry nie. Hy het die mensdom lief en sal die nodige veranderinge aanbring om die aarde ’n paradys te maak. As jy die mag gehad het om ’n einde te maak aan die ellende en onreg–verdigheid wat so algemeen in die wêreld is, sou jy dit immers gedoen het, nie waar nie? Moet ons dan verwag dat God dit nie sal doen nie? Die Bybel gee in werklikheid ’n duidelike beskrywing van ’n tyd wanneer God hierdie stelsel wat so vol tweedrag is uit die weg sal ruim en dit deur ’n volmaakte, regverdige heerskappy sal vervang (Daniël 2:44). Maar die Bybel vertel ons nie net van al hierdie dinge nie. Dit toon vir ons hoe ons tot in God se beloofde nuwe wêreld behoue kan bly.—2 Petrus 3:13; 1 Johannes 2:17.

18. Wat kan die kennis van God nou vir jou doen?

18 Die kennis van God kan ook nou vir jou baie doen. Die lewe se diepste en mees verontrustende vrae word in die Bybel beantwoord. As jy die leiding daarin aanvaar, sal dit jou help om ’n vriendskap met God op te bou. Wat ’n grootse voorreg! En dit sal jou in staat stel om die vrede te geniet wat slegs God kan gee (Romeine 15:13, 33). Wanneer jy hierdie lewensbelangrike kennis begin inneem, onderneem jy die belangrikste en lonendste taak van jou lewe. Jy sal nooit spyt wees dat jy die kennis van God verkry het wat tot die ewige lewe lei nie.

19. Watter vraag sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

19 Ons het na die Bybel verwys as die boek wat die kennis van God bevat. Maar hoe weet ons dat dit nie ’n boek met menslike wysheid is nie, maar iets baie groters? Ons sal hierdie vraag in die volgende hoofstuk bespreek.

TOETS JOU KENNIS

Waarom kan die kennis van God vir jou tot ewige geluk lei?

Hoe sal die lewe in die komende aardse Paradys wees?

Waarom sal jy daarby baat vind as jy nou die kennis van God inneem?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel