Hoofstuk 18
Stel jou dit ten doel om God vir ewig te dien
1, 2. Wat benewens die besit van die kennis van God is nodig?
STEL jou voor dat jy by ’n geslote deur staan wat na ’n vertrek lei waarin daar groot skatte is. Kom ons sê dat ’n bevoegde persoon vir jou die sleutel gegee het en gesê het dat jy van hierdie waardevolle goed vir jou kan neem. Daardie sleutel sal jou niks help tensy jy dit gebruik nie. Jy moet kennis eweneens gebruik as jy wil hê dat dit jou tot nut moet strek.
2 Dit geld veral vir die kennis van God. Juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus beteken inderdaad die ewige lewe (Johannes 17:3). Maar daardie vooruitsig kan nie deur die blote besit van kennis verwesenlik word nie. Net soos jy ’n waardevolle sleutel sou gebruik, moet jy die kennis van God in jou lewe toepas. Jesus het gesê dat dié wat God se wil doen ‘in die koninkryk sal ingaan’. Sulke mense sal die voorreg hê om God vir ewig te dien!—Matteus 7:21; 1 Johannes 2:17.
3. Wat is God se wil vir ons?
3 Nadat ’n mens geleer het wat God se wil is, is dit noodsaaklik om dit te doen. Wat dink jy is God se wil vir jou? Dit kan goed opgesom word in hierdie woorde: Volg Jesus na. Eerste Petrus 2:21 sê vir ons: “Tot hierdie weg is julle geroep, omdat ook Christus vir julle gely het en vir julle ’n voorbeeld gelaat het sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.” Om God se wil te doen, moet jy dus Jesus se voorbeeld so noukeurig moontlik volg. Dit is hoe jy die kennis van God gebruik.
HOE JESUS DIE KENNIS VAN GOD GEBRUIK HET
4. Waarom weet Jesus so baie van Jehovah, en hoe het hy hierdie kennis gebruik?
4 Jesus Christus het ’n intiemer kennis van God as wat enigiemand anders het. Voordat hy aarde toe gekom het, het hy eeue lank saam met Jehovah God in die hemel gelewe en gewerk (Kolossense 1:15, 16). En wat het Jesus met al daardie kennis gedoen? Hy was nie tevrede om dit net te besit nie. Jesus het daarvolgens gelewe. Dit is waarom hy so goedhartig, geduldig en liefdevol in sy optrede teenoor ander mense was. Jesus het dus sy hemelse Vader nagevolg en in ooreenstemming met sy kennis van Jehovah se weë en persoonlikheid opgetree.—Johannes 8:23, 28, 29, 38; 1 Johannes 4:8.
5. Waarom het Jesus hom laat doop, en hoe het hy die betekenis van sy doop nageleef?
5 Die kennis wat Jesus gehad het, het hom ook beweeg om ’n uiters belangrike stap te doen. Hy het van Galilea af na die Jordaanrivier gekom, waar Johannes hom gedoop het (Matteus 3:13-15). Wat het Jesus se doop gesimboliseer? As ’n Jood is hy gebore as ’n lid van ’n nasie wat aan God toegewy was. Gevolglik was Jesus van geboorte af toegewy (Exodus 19:5, 6). Deur hom te laat doop, het hy hom vir Jehovah aangebied om die Goddelike wil vir hom op daardie tydstip te doen (Hebreërs 10:5, 7). En Jesus het die betekenis van sy doop nageleef. Hy het hom in Jehovah se diens ingespan en by elke geleentheid die kennis van God aan mense oorgedra. Jesus het behae daarin geskep om God se wil te doen en het selfs gesê dat dit vir hom soos voedsel is.—Johannes 4:34.
6. Hoe het Jesus homself verloën?
6 Jesus het ten volle besef dat die doen van Jehovah se wil baie van hom sou vereis—dat dit selfs sy lewe sou kos. Jesus het homself nietemin verloën en sy persoonlike behoeftes tweede gestel. Om God se wil te doen, sal altyd eerste kom. Hoe kan ons Jesus se volmaakte voorbeeld in hierdie opsig volg?
STAPPE WAT TOT DIE EWIGE LEWE LEI
7. Wat is party stappe wat ’n mens moet doen om aan die vereistes vir doop te voldoen?
7 Ons is nie volmaak soos Jesus was nie en kan die mylpaal van doop slegs bereik nadat ons ander noodsaaklike stappe gedoen het. Dit begin deurdat ons juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus in ons hart inneem. As ons dit doen, lei dit daartoe dat ons geloof beoefen en ’n diep liefde vir God het (Matteus 22:37-40; Romeine 10:17; Hebreërs 11:6). Die nakoming van God se wette, beginsels en standaarde moet ons beweeg om berou te toon, om godvrugtige spyt oor ons vorige sondes te openbaar. Dit lei tot bekering, dit wil sê dat ons omdraai en enige verkeerde weg verlaat wat ons gevolg het toe ons nie die kennis van God gehad het nie (Handelinge 3:19). As ons nog die een of ander sonde in die geheim beoefen in plaas van te doen wat regverdig is, het ons natuurlik nie werklik omgedraai nie, en ons het God ook nie om die bos gelei nie. Jehovah sien alle skynheiligheid raak.—Lukas 12:2, 3.
8. Wat moet jy doen wanneer jy aan die Koninkrykspredikingswerk wil begin deelneem?
8 Is dit nie gepas om geestelike sake in ’n baie persoonlike lig te beskou noudat jy al ’n ruk lank die kennis van God inneem nie? Jy is waarskynlik gretig om jou familielede, vriende en ander te vertel wat jy leer. Trouens, jy het dit dalk reeds gedoen, net soos Jesus ook by informele geleenthede die goeie nuus aan ander verkondig het (Lukas 10:38, 39; Johannes 4:6-15). Nou wil jy miskien meer doen. Christen- ouer manne sal graag met jou praat om vas te stel of jy bekwaam en daartoe in staat is om aan die gereelde Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies deel te neem. As jy wel is, sal die ouer manne reël dat jy ’n Getuie in die bediening kan vergesel. Jesus se dissipels het sy instruksies gevolg sodat hulle hulle bediening ordelik kon uitvoer (Markus 6:7, 30; Lukas 10:1). Jy sal by soortgelyke hulp baat vind wanneer jy aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap van huis tot huis en op ander maniere deelneem.—Handelinge 20:20, 21.
9. Hoe wy ’n mens jou aan God toe, en hoe raak toewyding jou lewe?
9 Die verkondiging van die goeie nuus aan alle soorte mense in die gemeente se gebied is ’n manier om regverdiggesindes te vind en is een van die voortreflike werke wat bewys dat jy geloof het (Handelinge 10:34, 35; Jakobus 2:17, 18, 26). Gereelde bywoning van Christelike vergaderinge en ’n sinvolle deelname aan die predikingswerk is ook maniere om te toon dat jy berou getoon en omgedraai het en nou vasbeslote is om in ooreenstemming met die kennis van God te lewe. Wat is die volgende logiese stap? Dit is om jou aan Jehovah God toe te wy. Dit beteken dat jy in hartgrondige gebed vir God sê dat jy jou lewe gewillig en heelhartig aan hom gee om sy wil te doen. Dit is hoe jy jou aan Jehovah toewy en die sagte juk van Jesus Christus aanvaar.—Matteus 11:29, 30.
DOOP—WAT DIT VIR JOU BETEKEN
10. Waarom moet jy gedoop word nadat jy jou aan Jehovah toegewy het?
10 Volgens Jesus moet almal wat sy dissipels word, gedoop word (Matteus 28:19, 20). Waarom is dit nodig nadat jy jou aan God toegewy het? Aangesien jy jou aan Jehovah toegewy het, weet hy dat jy hom liefhet. Maar jy wil ongetwyfeld verdere stappe doen om ander omtrent jou liefde vir God in te lig. Wel, doop bied jou ’n geleentheid om jou toewyding aan Jehovah God in die openbaar bekend te maak.—Romeine 10:9, 10.
11. Wat beteken doop?
11 Doop het groot simboliese betekenis. Wanneer jy on–der die water gedompel, of “begrawe”, word, is dit asof jy gesterf het ten opsigte van jou vorige lewenswyse. Wanneer jy uit die water opkom, is dit asof jy ’n nuwe lewe betree, ’n lewe wat deur God se wil gerig word en nie deur jou eie nie. Dit beteken natuurlik nie dat jy nie meer foute sal maak nie, want ons is almal onvolmaak en sondig dus elke dag. Maar as ’n toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah sal jy in ’n spesiale verhouding met hom gekom het. As gevolg van jou berou en die feit dat jy nederig was en jou laat doop het, is Jehovah bereid om jou sondes op grond van Jesus se losprysofferande te vergewe. Doop lei dus tot ’n skoon gewete voor God.—1 Petrus 3:21.
12. Wat beteken dit om gedoop te word (a) “in die naam van die Vader”? (b) ‘in die naam van die Seun’? (c) ‘in die naam van die heilige gees’?
12 Jesus het sy volgelinge beveel om nuwe dissipels “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” te doop (Matteus 28:19). Wat het Jesus bedoel? Doop “in die naam van die Vader” toon dat die persoon wat gedoop word Jehovah God heelhartig as die Skepper en die regmatige Soewerein van die heelal aanvaar (Psalm 36:10; 83:18, NW; Prediker 12:1). Om ‘in die naam van die Seun’ gedoop te word, beteken dat die persoon Jesus Christus—en veral Sy losprysofferande—aanvaar as die enigste middel tot redding wat deur God voorsien is (Handelinge 4:12). Doop ‘in die naam van die heilige gees’ dui aan dat die doopkandidaat Jehovah se heilige gees, of werkende krag, erken as God se instrument om Sy voornemens uit te voer en om Sy knegte die krag te gee om Sy regverdige wil in samewerking met Sy geesgerigte organisasie te doen.—Genesis 1:2; Psalm 104:30; Johannes 14:26; 2 Petrus 1:21.
IS JY GEREED VIR DOOP?
13, 14. Waarom moet ons nie bang wees om te besluit om Jehovah God te dien nie?
13 Is doop ’n stap wat jy moet vrees, aangesien dit so betekenisvol en die belangrikste mylpaal in ’n mens se lewe is? Glad nie! Hoewel die besluit om gedoop te word nie ligtelik opgeneem moet word nie, is dit onteenseglik die verstandigste besluit wat jy moontlik kan neem.
14 Doop lewer bewys van jou besluit om Jehovah God te dien. Dink aan mense met wie jy in aanraking kom. Dien elkeen van hulle nie op die een of ander manier ’n heer nie? Party is slawe van rykdom (Matteus 6:24). Ander jaag hulle loopbaan ywerig na of dien hulleself deur die vervulling van hulle eie begeertes die hoofsaak in hulle lewe te maak. Ander dien weer valse gode. Maar jy het besluit om die ware God, Jehovah, te dien. Niemand anders toon soveel goedhartigheid, medelye en liefde nie. God verleen waardigheid aan mense deur vir hulle sinvolle werk te gee wat hulle die weg na redding wys. Hy beloon sy knegte met die ewige lewe. Om Jesus se voorbeeld te volg en jou lewe aan Jehovah te gee, is gewis nie ’n weg wat gevrees moet word nie. Dit is in werklikheid die enigste weg wat God behaag en volkome sin maak.—1 Konings 18:21.
15. Wat is party algemene struikelblokke ten opsigte van doop?
15 Maar doop is nie ’n stap wat as gevolg van druk gedoen moet word nie. Dit is ’n persoonlike saak tussen jou en Jehovah (Galasiërs 6:4). Namate jy geestelike vooruitgang gemaak het, het jy dalk gewonder: “Wat verhinder my om gedoop te word?” (Handelinge 8:35, 36). Jy kan jou afvra: ‘Hou familieteenstand my terug? Is ek steeds in die een of ander onskriftuurlike situasie of sondige gebruik gewikkel? Is ek dalk bang om aansien in die gemeenskap te verloor?’ Dit is ’n paar faktore om oor na te dink, maar wees realisties wanneer jy hulle oorweeg.
16. Hoe sal jy daarby baat vind as jy Jehovah dien?
16 Dit is nie realisties om te dink aan wat dit gaan kos om Jehovah te dien sonder om die voordele daarvan in ag te neem nie. Beskou byvoorbeeld die kwessie van familieteenstand. Jesus het belowe dat sy dissipels, selfs al verloor hulle al hulle familielede omdat hulle hom volg, ’n groter geestelike familie sal kry (Markus 10:29, 30). Hierdie medegelowiges sal broederliefde aan jou betoon, jou help om vervolging te verduur en jou op die weg na die lewe ondersteun (1 Petrus 5:9). Die gemeentelike ouer manne in die besonder kan jou help om probleme op te los en ander uitdagings met welslae die hoof te bied (Jakobus 5:14-16). Wat die verlies van aansien in hierdie wêreld betref, kan jy jou gerus afvra: ‘Wat kan ooit vergelyk met die goedkeuring van die Skepper van die heelal, wat daartoe lei dat hy hom oor my gekose lewensweg verheug?’—Spreuke 27:11.
HOE OM JOU TOEWYDING EN DOOP NA TE LEEF
17. Waarom moet jy doop as ’n begin eerder as ’n einde beskou?
17 Dit is belangrik om te onthou dat doop nie die einde van jou geestelike vooruitgang is nie. Dit is die begin van lewenslange diens aan God as ’n geordende bedienaar en een van Jehovah se Getuies. Hoewel doop lewensbelangrik is, verseker dit nie redding nie. Jesus het nie gesê: ‘Elkeen wat gedoop is, sal gered word’ nie. Hy het eerder gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Dit is derhalwe lewensbelangrik dat jy eers God se Koninkryk soek deur dit die hoofsaak in jou lewe te maak.—Matteus 6:25-34.
18. Wat is party doelwitte wat ná doop nagestreef moet word?
18 As jy in jou diens aan Jehovah wil volhard, moet jy vir jou geestelike doelwitte stel. ’n Gepaste doelwit is om jou kennis van God deur gereelde persoonlike studie van sy Woord te vermeerder. Sit tyd opsy om die Bybel daagliks te lees (Psalm 1:1, 2). Woon Christelike vergaderinge gereeld by, want die omgang wat jy daar vind, sal help om jou geestelike krag te gee. Waarom stel jy jou dit nie ten doel om by gemeentelike vergaderinge kommentaar te lewer en sodoende Jehovah te loof en ander te probeer opbou nie? (Romeine 1:11, 12). Nog ’n doelwit kan wees om die gehalte van jou gebede te verbeter.—Lukas 11:2-4.
19. Watter eienskappe kan die heilige gees jou help om te openbaar?
19 As jy die betekenis van jou doop wil naleef, moet jy voortdurend let op wat jy doen en toelaat dat God se heilige gees eienskappe soos liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing in jou voortbring (Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 3:11). Onthou dat Jehovah sy heilige gees aan almal gee wat dit in gebed vra en hom as sy getroue knegte gehoorsaam (Lukas 11:13; Handelinge 5:32). Bid dus tot God en vra om sy heilige gees en dat hy jou moet help om eienskappe te openbaar wat hom behaag. Sulke eienskappe sal al hoe duideliker in jou spraak en gedrag weerspieël word namate jy op die invloed van God se gees reageer. Almal in die Christengemeente probeer natuurlik om “die nuwe persoonlikheid” aan te kweek sodat hulle meer soos Christus kan word (Kolossense 3:9-14). Terwyl ons dit doen, kom elkeen van ons voor verskillende uitdagings te staan, want ons is op verskillende stadiums van geestelike vooruitgang. Aangesien jy onvolmaak is, moet jy hard werk om ’n persoonlikheid soos dié van Christus te hê. Maar moet nooit in hierdie opsig moed opgee nie, want met God se hulp is dit moontlik.
20. In watter opsigte kan jy Jesus in die bediening navolg?
20 Een van jou geestelike doelwitte moet wees om Jesus se vreugdevolle voorbeeld noukeuriger te volg (Hebreërs 12:1-3). Hy was lief vir die bediening. As jy die voorreg het om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem, moet jy dus nie toelaat dat dit ’n blote roetine word nie. Streef daarna om bevrediging daaruit te put om, soos Jesus, ander van God se Koninkryk te leer. Gebruik die onderrigting wat die gemeente voorsien om jou te help om ’n beter onderrigter te word. En wees verseker dat Jehovah jou die krag kan gee om jou bediening uit te voer.—1 Korintiërs 9:19-23.
21. (a) Hoe weet ons dat getroue gedoopte persone vir Jehovah kosbaar is? (b) Wat toon dat doop belangrik is as ons die voltrekking van God se oordeel aan hierdie goddelose stelsel van dinge wil oorleef?
21 ’n Toegewyde, gedoopte persoon wat getrou probeer om Jesus te volg, is vir God spesiaal. Jehovah ondersoek al die miljarde menseharte en weet hoe dun gesaai sulke mense is. Hy beskou hulle as iets kosbaars, as “skatte” (Haggai 2:7). Bybelprofesieë toon dat God sulke mense beskou as persone wat gemerk is om die voltrekking van sy oordeel wat binnekort oor hierdie goddelose stelsel van dinge gaan kom te oorleef (Esegiël 9:1-6; Maleagi 3:16, 18). Het jy “die regte gesindheid vir die ewige lewe”? (Handelinge 13:48). Is dit jou innige begeerte om gemerk te word as iemand wat God dien? Toewyding en doop is deel van daardie merk, en dit is dinge wat noodsaaklik is vir oorlewing.
22. Na watter vooruitsigte kan die “groot skare” uitsien?
22 Ná die aardwye Vloed het Noag en sy familie uit die ark op ’n nuwe aarde uitgestap. Vandag het “’n groot skare” wat die kennis van God in hulle lewe toepas en Jehovah se goedkeuring verkry eweneens die vooruitsig om die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge te oorleef en die ewige lewe op ’n permanent gereinigde aarde te geniet (Openbaring 7:9, 14). Hoe sal daardie lewe wees?
TOETS JOU KENNIS
Hoe wil Jehovah hê dat jy jou kennis van hom moet gebruik?
Wat is party stappe wat tot doop lei?
Waarom is doop nie ’n einde nie, maar ’n begin?
Hoe kan ons ons toewyding en doop naleef?
[Prent op bladsy 172]
Het jy jou al in gebed aan God toegewy?
[Prente op bladsy 174]
Wat verhinder jou om gedoop te word?