Help ander om God te aanbid
“Indien . . . ’n ongelowige of gewone mens [inkom], . . . [word] die geheime van sy hart . . . openbaar, sodat hy op sy aangesig sal val en God sal aanbid.—1 KORINTHIËRS 14:24, 25, “NW”.
1-3. Hoe is baie in Korinthe gehelp om God se goedkeuring te verkry?
GEDURENDE sy tweede sendingreis het die apostel Paulus anderhalf jaar lank in die stad Korinthe gebly. Daar het hy “al sy tyd bestee aan die prediking”. Wat was die resultaat daarvan? “Baie ander mense in Korinthe wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop” (Handelinge 18:5-11, NW). Hulle is “geheilig . . . , geroep om heiliges te wees”.—1 Korinthiërs 1:2, NW
2 Apollos het Korinthe later besoek. Vroeër het Priscilla en Aquila hom gehelp om ’n juister begrip van “die weg van God”, onder andere die doop, te verkry. Hy het dus ’n Christen geword wat God se welwillendheid of goedkeuring geniet het (Handelinge 18:24-19:7). Apollos het, op sy beurt, Korinthiërs gehelp wat vroeër ‘na stomme afgode weggevoer is’ (1 Korinthiërs 12:2). Hierdie mense het waarskynlik Bybelonderrig in hul huise ontvang; hulle kon ook leer deur Christelike vergaderinge by te woon.—Handelinge 20:20; 1 Korinthiërs 14:22-24.
3 Die gevolg van sulke onderrig was dat talle voormalige ‘ongelowiges en gewone mense’ na ware aanbidding getrek is. Hoe bevredigend moes dit tog gewees het om te sien hoe mans en vroue vooruitgang maak om gedoop te word en God se goedkeuring te ontvang! Dit is steeds bevredigend.
Hoe om ‘ongelowiges en gewone mense’ te help
4. Hoe word baie vandag soos diegene in Korinthe gehelp?
4 Vandag gehoorsaam Jehovah se Getuies ook Jesus se bevel om ‘dissipels van al die nasies te maak en hulle te doop’ (Mattheüs 28:19). Nadat hulle saadjies van waarheid in ontvanklike harte geplant het, keer hulle terug en maak hulle dit nat (1 Korinthiërs 3:5-9; Mattheüs 13:19, 23). Die Getuies bied gratis, weeklikse tuisbybelstudies aan sodat mense antwoorde op hul vrae kan kry en Bybelwaarhede kan leer. Sulke individue word ook genooi om die plaaslike vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, net soos eerste-eeuse “ongelowiges” dit in Korinthe bygewoon het. Maar hoe moet Jehovah se Getuies mense wat die Bybel bestudeer en vergaderinge bywoon, beskou?
5. Watter Skriftuurlike grondslag is daar vir behoedsaamheid in jou kontak met sekere individue?
5 Ons is verheug om te sien dat hulle tot God nader. Nietemin hou ons in gedagte dat hulle nog nie gedoopte gelowiges is nie. Onthou ook twee lesse wat op die vorige artikel gebaseer is. (1) Israeliete was op hulle hoede vir setlaars uit ander lande wat, hoewel hulle met God se volk omgegaan en sommige wette gehoorsaam het, nie besnede proseliete, broers in aanbidding, was nie. (2) Korinthiese Christene wat met ‘ongelowiges en gewone mense’ te doen gehad het, was waaksaam vanweë Paulus se woorde: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid?”—2 Korinthiërs 6:14.
6. Hoe kan “ongelowiges” deur die vergaderinge “tereggewys” word, en watter soort teregwysing is dit?
6 Hoewel ons ‘ongelowiges en gewone mense’ verwelkom, is ons dus bewus van die feit dat hulle nog nie aan God se standaarde voldoen nie. Soos die Bybel in 1 Korinthiërs 14:24, 25 (NW) toon, moet sulke persone moontlik “noukeurig ondersoek”, selfs “tereggewys”, word deur wat hulle leer. Sulke teregwysing is nie regterlike teregwysing nie; hulle verskyn nie voor ’n regterlike komitee van die gemeente nie, aangesien hulle nog nie gedoopte gemeentelede is nie. Die dinge wat hierdie nuwelinge leer, oortuig hulle eerder dat God enige selfsug en onsedelikheid veroordeel.
7. Watter verdere vordering sal baie studente wil maak, en waarom?
7 Baie ongedoopte persone sal dalk mettertyd meer wil doen as om bloot as belangstellende studente vergaderinge by te woon. Hierdie woorde van Jesus toon waarom: “’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees” (Lukas 6:40). Die Bybelstudent kan sien dat sy onderrigter die veldbediening as noodsaaklik beskou en geluk daaruit put (Mattheüs 24:14). Namate sy geloof toeneem, sal die persoon wat Bybelwaarhede leer en vergaderinge bywoon hierdie woorde dalk ter harte neem: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep” (Jesaja 52:7; Romeine 10:13-15). Hoewel hy ongedoop is, wil hy moontlik ’n Koninkryksverkondiger word wat hom by die gemeente van Jehovah se Getuies skaar.
8, 9. (a) Wat moet gedoen word wanneer ’n Bybelstudent aan die openbare bediening wil deelneem? (b) Wat sal twee ouere manne doen wanneer hulle die aangeleentheid met ’n voornemende verkondiger en sy onderrigter bespreek? (c) Watter verantwoordelikheid neem ’n nuwe verkondiger op hom?
8 Wanneer die Getuie wat die Bybelstudie hou, sien dat die student aan die velddiens wil deelneem, kan hy die aangeleentheid met die presiderende opsiener bespreek, wat sal reël dat twee ouere manne dit met die Bybelstudent en sy onderrigter bespreek. Die ouere manne is bly wanneer ’n nuweling God wil dien. Hulle sal nie verwag dat hy dieselfde kennis moet hê as diegene wat gedoop en verder gevorderd in die waarheid is nie, van wie daar meer verwag word. Die ouere manne moet hulle nietemin daarvan vergewis dat die nuweling toereikende kennis van Bybelleerstellings het en sy lewe na God se beginsels geskik het voordat hy saam met die gemeente aan die veldbediening deelneem. Daar is dus goeie redes waarom twee ouere manne met die voornemende verkondiger en die Getuie wat die studie hou, byeenkom.a
9 Die twee ouere manne sal die student inlig dat hy, wanneer hy vir die veldbediening kwalifiseer en daaraan deelneem, ’n velddiensrapport mag ingee en dat ’n Gemeentelike Verkondigerverslagkaart vir hom ingevul sal word. Dit sal ’n blyk wees van sy verbondenheid en onderdanigheid aan die teokratiese organisasie van Jehovah se Getuies. (Dit geld ook vir al die ander wat velddiensrapporte ingee.) Die bespreking moet ook Bybelraad soos dié op bladsye 98 en 99 van Georganiseer om ons bediening te vervulb dek. Dit sal derhalwe nou gepas wees dat die student ’n persoonlike eksemplaar van daardie boek kry.
10. (a) Hoe kan ’n ongedoopte verkondiger aanhou om vordering te maak, en met watter doelwit? (b) Waarom word die term “goedgekeurde metgesel” gewysig? (Kyk voetnoot.)
10 Iemand wat aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus te word, het ’n stap gedoen om ’n ‘mens van welwillendheid’ te wordc (Lukas 2:14, NW). Hoewel hy nie toegewy en gedoop is nie, kan hy nou saam met die miljoene bedrywiges oor die hele aarde wat ‘die woord van God verkondig’ sy getuieniswerk rapporteer (Handelinge 13:5; 17:3; 26:22, 23). ’n Aankondiging dat hy ’n nuwe ongedoopte verkondiger is, kan aan die gemeente gedoen word. Hy moet voortgaan om die Bybel te bestudeer, aan die vergaderinge deel te neem, toe te pas wat hy leer en dit aan ander oor te dra. Hy sal weldra die stap van Christelike doop wil doen, en sodoende sal hy deur God goedgekeur en vir redding ‘gemerk’ word.—Esegiël 9:4-6, NAV.
Hulp vir iemand wat ’n fout begaan
11. Hoe tree die gemeente teenoor gedoopte oortreders op?
11 In die vorige artikel het ons bespreek watter gemeentelike voorsienings daar is om enige gedoopte Christen wat ’n ernstige sonde doen te help (Hebreërs 12:9-13). En ons het uit die Bybel gesien dat die gemeente ’n gedoopte oortreder wat onberouvol is moontlik sal moet uitsit en daarna enige omgang met hom sal moet vermy (1 Korinthiërs 5:11-13; 2 Johannes 9-11; 2 Thessalonicense 2:11, 12). Maar watter stappe kan gedoen word as ’n ongedoopte verkondiger ’n ernstige misdryf begaan of ernstige sonde doen?
12. (a) Waarom is barmhartige hulp ook beskikbaar vir ongedoopte verkondigers wat sondig? (b) Hoe is die beginsel in Lukas 12:48 van toepassing op aanspreeklikheid vir sonde?
12 Judas het gemaan dat barmhartigheid getoon moes word aan gesalfde Christene wat begin twyfel het of sondes van die vlees gedoen het, mits hulle berouvol was. (Judas 22, 23; kyk ook 2 Korinthiërs 7:10, NW.) Sal dit dan nie selfs meer gepas wees om barmhartigheid te toon aan ’n ongedoopte persoon wat ’n fout begaan en daaroor berou het nie? (Handelinge 3:19). Ja, want sy geestelike grondslag is nie so stewig nie, en sy ervaring in die Christelike lewenswyse is meer beperk. Hy het moontlik nog nie geleer hoe God sommige aangeleenthede beskou nie. Hy het nie die reeks Bybelbesprekings met ouere manne gehad wat doop voorafgaan nie, en hy het nie die ernstige stap van waterdoop gedoen nie. Bowendien het Jesus gesê: “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word” (Lukas 12:48). Baie word dus verwag van gedoopte persone wat, tesame met meer kennis en seëninge, spesiale aanspreeklikheid het.—Jakobus 4:17; Lukas 15:1-7; 1 Korinthiërs 13:11.
13. Wat sal die ouere manne doen om te help as ’n ongedoopte verkondiger ’n misdryf begaan?
13 In ooreenstemming met Paulus se raad wil geestelik bekwame broers enige ongedoopte verkondiger wat ’n misstap doen voordat hy daarvan bewus is, help. (Vergelyk Galasiërs 6:1.) Die liggaam van ouere manne kan twee uit hulle midde (moontlik die wat vroeër met hom byeengekom het) vra om hom te probeer reghelp, as hy gehelp wil word. Hulle sal dit nie doen omdat hulle hom graag streng wil teregwys nie, maar op ’n barmhartige manier en in ’n gees van vriendelikheid (Psalm 130:3). In die meeste gevalle sal Skriftuurlike vermaning en praktiese voorstelle voldoende wees om hom berou te laat toon en om hom op die regte weg te bring.
14, 15. (a) Wat kan gedoen word as die oortreder waarlik berouvol is? (b) Watter beperkte verduideliking kan in sommige gevalle gegee word?
14 Die twee ouere manne sal riglyne voorsien wat op die ongedoopte oortreder se situasie van toepassing is. In sommige gevalle sal hulle moontlik reël dat die persoon wat ’n fout begaan het ’n ruk lank nie aan die Teokratiese Bedieningskool deelneem of by vergaderinge kommentaar mag lewer nie. Of hulle sal dalk vir hom sê dat hy nie saam met die gemeente aan die openbare bediening moet deelneem totdat hy verdere geestelike vordering gemaak het nie. Dan kan hulle hom meedeel dat hy weer aan die veldbediening kan deelneem. As die oortreding nie opspraak verwek en nie gevaar vir die reinheid van die kudde ingehou het nie, is dit nie nodig om die gemeente deur ’n aankondiging te waarsku nie.
15 Sê nou die twee ouere manne vind egter dat die persoon waarlik berouvol is, maar dat die oortreding alom bekend is. Of sê nou die oortreding word later alom bekend. Wat dan? In albei gevalle kan hulle die Gemeentelike Dienskomitee hiervan in kennis stel, wat sal reël dat die volgende eenvoudige aankondiging gedoen word: “’n Saak is ondersoek waarby . . . betrokke was, en hy [sy] dien steeds as ’n ongedoopte verkondiger saam met die gemeente.” Soos in alle sodanige aangeleenthede kan die liggaam van ouere manne besluit of dit raadsaam sal wees om in die toekoms ’n Skriftuurlike toespraak met raad oor die betrokke soort oortreding te hou.
16, 17. (a) Watter twee situasies kan ’n ander aankondiging noodsaak? (b) Wat is die aard van hierdie aankondiging?
16 Soms sal ’n ongedoopte verkondiger wat ’n oortreder is liefdevolle hulp verwerp. Of ’n ongedoopte verkondiger besluit dalk dat hy hom nie verder vir doop wil bekwaam nie, en hy sê vir die ouere manne dat hy nie as ’n verkondiger erken wil word nie. Wat moet gedoen word? Sulke persone wat in werklikheid nog nie deur God goedgekeur is nie, word nie uitgesit nie. Die reëling om onberouvolle oortreders uit te sit, is van toepassing op diegene wat ‘as ’n broeder bekendstaan’, op gedoopte persone (1 Korinthiërs 5:11). Maar beteken dit dat die oortreding geïgnoreer word? Nee.
17 Die ouere manne het die verantwoordelikheid om ‘toesig te hou oor die kudde van God onder hulle’ (1 Petrus 5:2). As twee ouere manne wat probeer hulp verleen, vasstel dat ’n ongedoopte oortreder onberouvol is en nie aan die vereistes voldoen om ’n verkondiger te wees nie, sal hulle die individu hiervan verwittig.d Of as ’n ongedoopte persoon vir die ouere manne sê dat hy nie meer as ’n verkondiger erken wil word nie, sal hulle sy besluit aanvaar. In albei gevalle is dit gepas dat die Gemeentelike Dienskomitee op ’n gepaste tyd ’n eenvoudige aankondiging laat doen, naamlik: “ . . . is nie meer ’n verkondiger van die goeie nuus nie.”
18. (a) Wat sal Christene ná so ’n aankondiging in gedagte hou wanneer hulle persoonlik besluit hoe om op te tree? (b) Is dit nodig om ongedoopte persone wat oortree het soos in die verlede heeltemal te vermy?
18 Hoe sal Getuies die persoon daarna beskou? Wel, hy was vroeër ’n ‘ongelowige’ wat vergaderinge bygewoon het. Toe wou hy ’n verkondiger van die goeie nuus wees en het hy hom daarvoor bekwaam. Dit is nie meer die geval nie, en hy is derhalwe weer ’n wêreldse persoon. Die Bybel vereis nie dat Getuies nie met hom moet praat nie, want hy is nie uitgesit nie.e Christene sal nietemin op hul hoede wees vir so ’n wêreldse persoon wat Jehovah nie aanbid nie, net soos Israeliete op hul hoede was vir onbesnede setlaars uit ander lande. Hierdie behoedsaamheid help om die gemeente teen enige “bietjie suurdeeg”, of verderwende element, te beskerm (1 Korinthiërs 5:6). As hy later opreg vra dat ’n Bybelstudie met hom gehou moet word, en dit na die ouere manne se mening in orde is, sal dit hom moontlik help om weer te besef wat ’n voorreg dit is om Jehovah saam met Sy volk te aanbid.—Psalm 100.
19. Hoe kan die ouere manne in sommige gevalle privaat verdere hulp verleen?
19 As die ouere manne sien dat so ’n persoon ’n buitengewone bedreiging vir die kudde is, kan hulle diegene wat in gevaar verkeer privaat waarsku. Die voormalige verkondiger is dalk ’n jeugdige wat voor dronkenskap of onsedelikheid geswig het. Ten spyte van die aankondiging dat hy nie meer ’n ongedoopte verkondiger is nie, probeer hy dalk om met jongmense in die gemeente om te gaan. Onder daardie omstandighede sal die ouere manne privaat praat met die ouers van die jongmense wat in gevaar verkeer, en miskien ook met daardie jongmense (Hebreërs 12:15, 16; Handelinge 20:28-30). In die buitengewone geval waar iemand ontwrigting veroorsaak of gewelddadig is, kan daar vir hom gesê word dat hy nie by die vergaderinge welkom is nie en dat hy as ’n oortreder op verbode terrein beskou sal word as hy enigsins probeer inkom.
Hulp aan minderjariges om God te aanbid
20. Hoe help Christenouers hulle kinders, en met watter resultaat?
20 Die Bybel gee ouers die verantwoordelikheid om hulle kinders in die weg van goddelike waarheid te onderrig (Deuteronomium 6:4-9; 31:12, 13). Jehovah se Getuies spoor Christengesinne dus al lank aan om ’n weeklikse Bybelstudie te hê. Christenouers moet hulle kinders aanspoor om hulle vir toewyding en doop te bekwaam en sodoende God se goedkeuring te verkry (Spreuke 4:1-7). Ons sien die verblydende resultaat in die gemeentes—honderdduisende voorbeeldige jongmense wat Jehovah liefhet en hom vir ewig wil aanbid.
21-23. (a) Veral wie moet oortreding deur ’n minderjarige hanteer? (b) Watter rol speel gemeentelike ouere manne in sulke situasies?
21 Christenouers het ook die vernaamste verantwoordelikheid om hulle kinders te dissiplineer en tereg te wys en om enige beperkings of liefdevolle straf wat hulle nodig ag op te lê (Efesiërs 6:4; Hebreërs 12:8, 9; Spreuke 3:11, 12; 22:15). Maar as ’n minderjarige kind wat as ’n ongedoopte verkondiger met die gemeente omgaan hom aan ’n ernstige oortreding skuldig maak, moet die ouere manne wat oor die siele van die kudde “waak” die saak ondersoek.—Hebreërs 13:17.
22 Sodanige oortreding moet gehanteer word ooreenkomstig die riglyne wat vroeër in hierdie artikel gemeld is. Twee ouere manne kan aangewys word om die saak te ondersoek. Hulle kan byvoorbeeld eers met die ouers (of ouer) bespreek wat gebeur het, wat die kind se gesindheid is en watter tugstappe gedoen is. (Vergelyk Deuteronomium 21:18-21). As die Christenouers die situasie onder beheer het, kan die ouere manne hulle eenvoudig van tyd tot tyd nader om nuttige raad, wenke en liefdevolle bemoediging te gee.
23 Maar soms blyk dit uit die bespreking met die ouers dat dit die beste sal wees as die ouere manne die saak met die weerspannige minderjarige sowel as die ouers bespreek. Die opsieners sal, gedagtig aan die beperkings en neigings van jongmense, probeer om die jong, ongedoopte verkondiger in sagmoedigheid te onderrig (2 Timotheüs 2:22-26). In sommige gevalle sal dit dalk duidelik wees dat hy nie meer aan die vereistes voldoen om ’n verkondiger te wees nie en dat ’n gepaste aankondiging gedoen moet word.
24. (a) Wat moet ouers gepas doen al het ’n minderjarige hom aan ernstige oortreding skuldig gemaak, en hoe kan hulle dit doen? (b) Hoe sou dit geld vir ’n minderjarige wat uitgesit is?
24 Wat moet ouers daarna doen om hulle minderjarige kind wat gesondig het te help? Hulle is nog vir hulle kind verantwoordelik, al kan hy nie meer as ’n ongedoopte verkondiger dien nie of selfs as hy weens oortreding na sy doop uitgesit is. Net soos hulle hom steeds van voedsel, klere en onderdak sal voorsien, moet hulle hom ooreenkomstig God se Woord onderrig en dissiplineer (Spreuke 6:20-22; 29:17). Liefdevolle ouers kan dus reël om ’n tuisbybelstudie met hom te hou, al is hy uitgesit.f Miskien sal dit vir hom, met die oog op verbetering, die voordeligste wees as hulle met hom alleen studeer. Of hulle kan besluit dat hy steeds aan die gesinstudiereëling kan deelneem. Hoewel hy afgedwaal het, wil hulle sien dat hy, soos die verlore seun in Jesus se illustrasie, na Jehovah terugkeer.—Lukas 15:11-24.
25. Waarom ontvang “ongelowiges” vandag liefdevolle belangstelling en hulp?
25 Die doel van ons predikingswerk en onderrigting is om ander te help om gelukkige aanbidders van die ware God te word. ‘Ongelowiges en gewone mense’ in Korinthe is beweeg om ‘op hulle aangesig te val en God te aanbid’ en te sê: “God is werklik in julle midde” (1 Korinthiërs 14:25, NW). Wat ’n vreugde is dit tog vandag om te sien hoe al hoe meer mense God kom aanbid! Dit is ’n glorieryke vervulling van die engele se aankondiging: “Glorie in die hoogste hoogtes aan God, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid [of, mense wat God se goedkeuring geniet].”—Lukas 2:14, NW.
[Voetnote]
a Een van die ouere manne moet ’n lid van die gemeente se Dienskomitee wees. Die ander kan die ouere man wees wat die student of sy onderrigter die beste ken, soos die Gemeentelike Boekstudiehouer.
b Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, 1983.
c Voorheen is ’n ongedoopte persoon wat gekwalifiseer het om aan die veldbediening deel te neem ’n “goedgekeurde metgesel” genoem. Maar “ongedoopte verkondiger” is ’n juister term, veral met die oog op die Bybelse aanduiding dat God se goedkeuring deur ’n geldige toewyding en Christelike doop verkry word.
d As die individu ontevrede is oor hierdie besluit kan hy (binne sewe dae) vra dat die saak hersien word.
e Voorheen is ongedoopte persone wat gesondig het en onberouvol was heeltemal vermy. Hoewel dit, in ooreenstemming met die wysiging hierbo, nie vereis word nie, moet die raad in 1 Korinthiërs 15:33 steeds gevolg word.
f Uitgesette familielede wat nie in die huis woon nie, moet behandel word volgens die Skriftuurlike raad in Die Wagtoring van 15 April 1988, bladsye 26-31; 1 Desember 1981, bladsye 23-28.
Onthou jy?
◻ Hoe beskou Christene “ongelowiges” wat vergaderinge bywoon?
◻ Watter stappe doen die ouere manne wanneer ’n Bybelstudent aan die velddiens wil deelneem, en watter verantwoordelikheid neem die student op hom?
◻ Wat word gedoen as ’n ongedoopte verkondiger ernstige sonde doen?
◻ Hoe kan ouers en die ouere manne hulp verleen aan minderjarige kinders wat tuis woon, selfs as sulke jongmense ’n ernstige misdryf begaan?
[Prent op bladsy 16]
As iemand, hoewel hy nog ongedoop is, ’n verkondiger word, is dit ’n belangrike en verantwoordelike stap om uiteindelik God se goedkeuring te verkry