Kry nuwe krag, moenie moeg word nie
“Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”—JESAJA 40:29.
1, 2. Lig toe wat Christene met langafstandlopers gemeen het.
OP ’N Oktoberoggend in 1984 het ’n mensesee van sowat 16 000 deelnemers in die strate ingestroom vir die begin van die New York City Marathon. Die eindstreep was nagenoeg 42,2 kilometer ver. Daardie ontydige warm herfsdag met sy bedompige hitte en hoë voggehalte het die hardlopers se kragte ondermyn en hulle volharding op die proef gestel. Die wedloop het vir selfs die beste atlete ’n uitputtende stryd geword. Baie hardlopers het moeg geword en in die wedloop uitgesak; bykans 2 000 het nie die eindstreep gehaal nie. Diegene wat dit gehaal het, moes uiters moeilike toestande te bowe kom.
2 Christene is ook in ’n wedloop. Die prys? Die ewige lewe. En net soos die langafstandloper moet hulle tot die einde hard stry. Volharding is nodig. Kragte moet behou en uitputting moet vermy word. Ons wedloop om die lewe is nie soos ’n kort naelloop nie, maar eerder soos ’n afstandsloop. Paulus het aan sy mede-Christene in Korinthe gesê: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop so dat julle dit sekerlik kan behaal” (1 Korinthiërs 9:24). Christene hardloop met kragtige inspanning.—Lukas 13:24, NW.
3. Wat is die enigste manier waarop Christene ’n kragtige pas kan handhaaf totdat hulle die wedloop voltooi?
3 Maar jy wonder dalk: ‘Wie kan daardie pas handhaaf om die wedloop te voltooi?’ Nie een van ons kan dit in ons eie krag doen nie. Om die prys te verkry, moet ons op die Bron van dinamiese energie, Jehovah God, staatmaak.—Job 36:22; Psalm 108:13, NW.
Jehovah—Die Bron van dinamiese energie
4. Waarom kan ons volgens die profeet Jesaja vertroue hê in Jehovah se vermoë om sy knegte te onderskraag?
4 Jehovah kan ongetwyfeld sy knegte onderskraag. By monde van sy profeet Jesaja het die Almagtige van die grensloosheid van Sy vermoëns en die onvergelyklikheid van Sy magtige werke gespreek. “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk!” het Hy gesê. “Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte [“oorvloed van dinamiese energie”, NW] en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. . . . Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.”—Jesaja 40:26-28.
5, 6. Meld voorbeelde van blyke van Jehovah se dinamiese energie.
5 Van die mikroskopiese tot die astronomiese is die vertoning van Jehovah se skeppingsmag ontsagwekkend! Dink byvoorbeeld aan die boublokke waaruit alle materie, ons inkluis, saamgestel is—atome. Hulle is so klein dat ’n druppel water 100 triljoen atome bevat. Maar verbasend genoeg bevat die kern van atome genoeg energie om, in een geval, ’n ontploffing te ontketen wat kragtig genoeg is om ’n krater 98 meter diep en 390 meter wyd in die grond te blaas.
6 Dink aan die son, wat weer astronomies groot is. Hierdie reusagtige kernoond van biljoene tonne verhit ons sonstelsel. Die energie van klein atoompies hou dit aan die brand. Hoewel alle lewe op die aarde—plante, diere en mense—afhanklik is van die energie wat daardie reusagtige hemelkragbron afgee, bereik slegs ’n geringe hoeveelheid van die son se energie die aarde. Maar dit is genoeg om lewe te onderhou. In sy boek Astronomy skryf sterrekundige Fred Hoyle: “Die uiters geringe deel van die Son se energie wat die Aarde bereik—geraam op omtrent vyf dele in ’n honderdbiljoen—is nagenoeg 100 000 keer meer as al die energie wat deur die wêreld se industrieë gebruik word.”
7. Hoe moet ons oor Jehovah voel nadat ons nagedink het oor die krag wat in sy skepping openbaar is?
7 Die son is nietemin slegs een van die duisendmiljoene sterre waaruit ons Melkweg bestaan—en dit is boonop ’n ster van middelgrootte. Daarbenewens raam sterrekundiges dat daar sowat 100 miljard melkweë in die bekende heelal is. Dit is ’n verstommende gedagte, nie waar nie? Geen wonder nie dat die man Job, nadat hy nagedink het oor hoe Jehovah ‘alleen die hemel uitspan’, gesê het dat God “groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder tal”.—Job 9:8-10.
Jehovah kan jou krag gee
8. (a) Wie alleen kan Jehovah se krag ten volle benut, en waarom? (b) Hoe is die belofte in Jesaja 40:29-31 geloofversterkend?
8 Ware aanbidders van Jehovah kan hierdie Bron van dinamiese energie wat die heelal geskep het en dit onderhou vryelik en ten volle benut. Jehovah se knegte kan ‘met krag versterk word deur sy Gees’ sonder vrees vir ’n kragtekort (Efesiërs 3:16; Psalm 84:5, 6). As ons die wedloop om die lewe wil wen, moet ons volkome vertroue hê dat God se magtige hand ons verby die eindstreep kan help. Hy kan ons krag gee. Soos die profeet Jesaja van Jehovah sê: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen krag het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag [“hoop”, NW], kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:29-31). Net om daardie woorde te lees, kan ons nuwe moed gee!
9. Hoe kan Jehovah jou met jou ‘bergagtige’ probleme help?
9 Wanneer jy voor oënskynlik ontsaglike probleme te staan kom wat dreig om jou ywer vir ware aanbidding te demp, kan jy nietig en onbelangrik voel. Moenie wanhoop nie. Wend jou tot jou almagtige hemelse Vader. Hy gee krag aan ‘almal wat op hom hoop’. Kan die Skepper van die atoom nie sy volk genoeg dinamiese energie gee om daardie ‘berge’ te verskuif nie? Hy kan beslis!—Markus 11:23.
10. (a) Watter dinge kan Christenhardlopers moeg maak? (b) Wat wil Satan aan jou doen?
10 Party Christene kan andersyds so moeg wees van die daaglikse stryd teen die druk van ’n wêreld wat spog met sy veronagsaming van Christelike beginsels dat hulle lus voel om te verslap of selfs uit te sak in die wedloop om die lewe. Siekte, finansiële terugslae, gesinsprobleme, eensaamheid of ander moeilikhede kan ook ontmoediging veroorsaak. En ontmoediging kan gou ’n Christen se krag ondermyn, so maklik soos ’n bedompige dag ’n langafstandloper vinnig kan uitput. Die groot Teenstander, Satan die Duiwel, gebruik sulke dinge in ’n poging om jou jou onkreukbaarheid as ’n kneg van Jehovah te laat prysgee (1 Petrus 5:8). Moenie dat die Duiwel dit doen nie! Wend jou tot die Skepper van daardie tallose hemelse melkweë om jou geestelike energievoorraad aan te vul. Jehovah kan jou ondersteun.—Psalm 37:17; 54:6.
11. Wat kan ons leer uit die manier waarop Dawid hindernisse te bowe gekom het?
11 Wanneer Dawid voor hindernisse te staan gekom het, het hy altyd gevind dat Jehovah ’n bron van nuwe krag is. Met die nuwe krag wat hy deur die heilige gees ontvang het, kon Dawid dus oor enige teenstand ‘spring’. Hy het gesê: “Met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur.” Dawid het ook gesê: “Deur God sal ons lewenskrag verwerf, en hyself sal ons teenstanders vertrap” (Psalm 18:30; 60:12, NW). Jehovah kan dieselfde vir jou doen.
Bestry geestelike uitputting
12. (a) Waarom moet geestelike moegheid gou verlig word? (b) Wat is die simptome van geestelike uitputting? (c) Watter voorsieninge het Jehovah gemaak om diegene wat geestelik moeg is nuwe krag te gee?
12 Ons moet wakker wees vir tekens van geestelike moegheid, en dit net so gou die hoof bied. Waarom? Omdat dit net die paar is wat ‘hulle kragtig inspan om deur die nou deur in te gaan’, of daardie hardlopers is wat die eindstreep oorsteek, wat die prys van die ewige lewe verkry (Lukas 13:24, NW; Filippense 3:12, 13). Beskou die bygaande venstertjie met die titel: “Maniere om geestelike uitputting te bestry.” Herken jy party van die simptome in jou of in ’n gesinslid? Doen dan onmiddellik stappe om aanpassings te maak. Hernieu jou geestelikheid deur krag te verkry uit die gemelde voorsieninge van Jehovah.
13, 14. (a) Watter voorbeelde kan ons help om ons geestelike krag te hernieu? (b) Hoe kan die raad van een kneg van Jehovah, wat hom al lank dien, ons help om in die wedloop te bly?
13 Jy kan die neiging om moeg te word weerstaan deur die voorbeelde van seëvierende knegte van God in die Bybelverslag na te volg. Daar was talle, manne en vroue, jonk en oud, wat tot die einde volhard het. Lees van hulle in tekste soos Hebreërs 11:4-40. Ons het vandag eweneens talle dierbare broers en susters wat Jehovah steeds onvermoeid dien.
14 George, wat in die suidelike deel van die Verenigde State woon, is ’n voorbeeld van ’n Christenhardloper wat nie moeg geword het nie. Na meer as 50 jaar in die wedloop om die ewige lewe hou hy nog een stryk deur. Watter raad gee hy ons?
“Ek sou nadruklik sê: bly by die organisasie. Onthou dat Jesus Christus, as Jehovah se Aangestelde, die organisasie beheer. Moet dus nie ontmoedig word as iemand na aan jou ontrou word nie. As daar iets is wat jy nie ten volle verstaan nie of moeilik vind om te aanvaar, vertrou dat dit na ’n ruk opgeklaar sal word. Jehovah se organisasie het ons sover gebring. Vertrou dit om ons tot in die Nuwe Stelsel te lei.”—Johannes 6:66-68.
15. Wat moet ons doen sodat goeie voorbeelde ons gees kan verkwik?
15 Daar is moontlik party van hierdie kosbare persone in julle gemeente, of jy kan hulle by kringbyeenkomste ontmoet. Gesels met hulle. Leer by hulle. Daarbenewens is daar voorbeelde van ander getroues in die Yearbook, Die Wagtoring en in ander Wagtoringpublikasies. Lees hierdie verslae. Kyk hoe jy krag uit hierdie ondervindinge kan verkry.
Ouere manne—Wees ‘versterkende hulpe’
16. (a) Hoe kan ouere manne ander Christene help om nuwe krag te kry? (b) Waarvoor moet ouere manne oppas wanneer hulle ander aanmoedig en vermaan?
16 Gemeentelike ouere manne in die besonder moet wakker wees om lede te help wat tekens van wankeling toon. Jesaja 35:3 gee goeie raad: “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas.” Maar hoe kan julle as ouere manne julle deel daartoe bydra? Eerstens, wees oplettend. Vind uit wat die ware oorsaak van ’n oënskynlike verslapping is. Stel praktiese, Skriftuurlike wenke voor wat vir daardie persoon gepas is. Maar wees versigtig, jy wil jou broer aanmoedig, nie ontmoedig nie.a Moet derhalwe nie jou gewete aan iemand anders opdwing of druk op die individu uitoefen om jou oplossing te volg of hom as ’n onryp Christen bestempel as hy teësinnig is om jou persoonlike beskouing te aanvaar nie. Ouere manne moet hulle raad en aanmoediging op die Bybel baseer. Hulle wil nie hulle medehardlopers vertraag deur onnodige gemeentelike reëls op hulle te lê nie.—Vergelyk Mattheüs 11:28, 29 met Mattheüs 23:2-4.
17. Hoe kan ouere manne Satan se taktiek wat bedoel is om mede-Christene te laat verslap, teenwerk?
17 Ouere manne kan goeie voorbeelde stel as volgelinge van Christus deur gemeentelede geredelik te prys. Laat hulle opreg welkom en nodig voel! Satan se stelsel is altyd alte gereed om die Christen ontoereikend te laat voel. Op hierdie stadium in hulle wedloop om die lewe het ons broers nie kritici nie, maar vriende nodig om hulle tot oorwinning aan te spoor. Toe ’n middeljarige suster byvoorbeeld uit die pionierdiens moes tree, het sy ’n vurige begeerte gehad om weer in die voltydse diens te wees. Maar weens finansiële omstandighede kon sy nie. Hoewel hy goed bedoel het, het ’n ouere man haar taamlik krities gevra: “Wanneer gaan jy weer die pionierdiens betree?” Haar kortaf antwoord het hom verbaas: “Wanneer my man die huur kan betaal.” Wat die ouere man nie besef het nie, maar later te wete gekom het, was dat haar pionierdiens hoofsaaklik deur haar man se salaris gefinansier is. Maar toe sy werkgewer al hoe meer werk aanvaar het wat vir ’n Christen twyfelagtig is, het haar man se gewete hom beweeg om ander werk te soek. Dit was nie maklik om werk te vind op sy ouderdom nie. Hy moes dus ’n baie laer besoldigde werk aanvaar; dit was gevolglik vir sy vrou nodig om voltyds te werk.
18. Hoe kan ouere manne ’n “versterkende hulp” wees?
18 Moet ons onder die voorgaande ondervinding verstaan dat ouere manne moet huiwer om ander Christene te vermaan? Nee. Wanneer vermaning of aanmoediging nodig is, moet ouere manne eerder hulle broers se ware omstandighede onderskei en nie net na die oppervlakkige voorkoms kyk nie (Jakobus 2:15, 16). So kan ouere manne ’n “versterkende hulp” in hulle gemeente wees.—Kolossense 4:11, NW.
19. Hoe kan jy pioniers help om nie moeg te word nie?
19 ’n Toenemende aantal Koninkryksverkondigers het hulle pas versnel en is nou gewone pioniers. Die toejuiging van die skare kan langafstandlopers tot nuwe krag aanspoor. Wat doen jy dus om die pioniers in jou gemeente tot die oorwinning aan te spoor? Doug en Joanne het die voltydse diens hulle loopbaan gemaak. Dit kan ontmoedigend wees wanneer ander hulle vra: “Wanneer gaan julle ’n gesin begin?” of “Wanneer gaan julle julle uiteindelik êrens vestig?” Maar wat gebeur wanneer ander Getuies hulle morele ondersteuning gee deur te sê: “Hou aan met die goeie werk. Ons is bly om julle as pioniers in ons gemeente te hê”? Hulle voorkom nie net geestelike uitputting nie, maar hulle word ook gehelp om soos arende in hulle pionierdiens op te vaar!—Vergelyk Jesaja 40:31.
Hoe pioniers nuwe krag kan kry
20, 21. Hoe het party in die voltydse diens nuwe krag gekry?
20 Luister na hierdie egpaar, Frederick en Marian. Hulle weet hoe om nuwe krag te kry. Hulle is albei sendelinge wat in ’n Sentraal-Amerikaanse land dien en albei is in hulle sewentigerjare. Hy het in 1946 sy sendingdiens begin en sy in 1950. Wat hou hulle in Jehovah se diens aan die gang? Frederick antwoord: “Behalwe liefde vir Jehovah en die begeerte om hulp aan ander mense te verleen, is dit die feit dat ons die doelwit van die ewige lewe in gedagte hou.” Sy vrou antwoord dat ‘God se beloftes ons aan die gang gehou het’. Hoe voorkom hulle dat hulle moeg word? “Gaan op in jou toewysing”, raai hy aan, “ongeag wat dit is.” Sy beveel “bestendigheid in teokratiese werk” aan en voeg by: “Soos jy ouer word, kan jy nie alles doen wat jy wil doen nie. Dit kan my irriteer, maar ek praat met Jehovah in gebed daaroor.” Frederick sluit met hierdie goeie raad af: “Ons bid elke aand en vra Jehovah om ons te help.”—1 Petrus 4:7.
21 Lavonia is 67 jaar oud en is die afgelope 20 jaar al ’n gewone pionier. Die afgelope jaar het sy 15 dae in die hospitaal deurgebring en neem tans medikasie vir haar hart. Die dood van verskeie gesinslede, onder meer haar man en haar vader, was ’n emosionele stremming vir haar. Sy span haar nogtans in. Hoe het sy nuwe krag gekry? “Die feit dat ek ’n groter aandeel in die predikingswerk kon hê, het my in werklikheid gehelp”, sê sy, “want wanneer ek met ander oor Jehovah kan praat, lei dit my gedagtes van my probleme af en gee dit my gemoedsrus en vreugde wat die lewe die moeite werd maak.” Sy beplan ook nie om uit die pionierdiens te tree nie, maar sê: “Dit verskaf my sulke groot vreugde wanneer ek sien hoe ander van Jehovah en sy wonderlike voornemens leer dat ek nie eens daaraan sou dink om die pionierdiens prys te gee nie.”—Handelinge 20:35.
22. Wat moet ons steeds doen om die wedloop om die ewige lewe te wen?
22 Hetsy ons ons op hierdie tydstip van die lewe as pioniers kan inspan of nie, ons kan almal na aan die Bron van dinamiese energie, Jehovah, en sy organisasie bly. Laat ons steeds nuwe krag kry deur ons God getrou te dien. Dan kan ons soos Habakuk sê: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok” (Habakuk 3:19, NAV). Ons sal dus nie moeg of mat word nie. Onthou dat die wedloop amper klaar is. Ons is naby die doelwit!
[Voetnote]
a Dit is interessant dat die woord vir aanmoediging in Filippense 2:1 (NW) en bemoediging in Hebreërs 6:18 van ’n Griekse werkwoord kom wat beteken: “om ’n sagte invloed deur woorde uit te oefen” of “om op ’n positiewe, vriendelike manier met iemand te praat”.
Hersieningsvrae
◻ Wie alleen kan Jehovah se dinamiese energie vryelik benut?
◻ Wat is enkele tekens van geestelike uitputting?
◻ Watter voorsieninge van Jehovah kan ons help om nuwe krag te kry?
◻ Hoe kan ouere manne en ander in die gemeente pioniers help om in die wedloop te bly?
[Venster op bladsy 19]
Maniere om geestelike uitputting te bestry
Simptome van uitputting
◻ Gebrek aan selfbeheersing met eet, drink en najaging van plesier
◻ Verlies van geesdrif vir die waarheid, selfvoldaanheid
◻ Ernstige en langdurige twyfelgedagtes
◻ Verwaarlosing van omgang by Christelike vergaderinge
◻ Gebrek aan ywer en vreugde in die veldbediening
◻ Te krities oor ouere manne
Hulpmiddele om te volhard
◻ Gebed om hulp deur heilige gees—Lukas 11:13; Galasiërs 5:22; 1 Petrus 4:7
◻ Persoonlike Studie—Psalm 1:1, 2
◻ Bepeinsing oor Skriftuurlike sake—Psalm 77:13
◻ Gereelde vergadering- en byeenkoms- bywoning—Nehemia 8:1-4, 9,11; Hebreërs 10:23-25
◻ Gereelde deelname aan velddiens—Handelinge 20:18-21
◻ Geestelike hulp van gemeentelike en organisasie ouere manne, reisende opsieners—Romeine 1:11, 12; Hebreërs 13:17
[Prente op bladsy 17]
Jehovah, die skepper van die heelal, help sy getuies om nuwe krag te kry
[Erkenning]
NASA photo