“Man en vrou het hy hulle geskape”
“God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”—GENESIS 1:27.
1. Hoe is die waarheid ’n seën vir Christenmans en -vroue?
HOE aangenaam is dit tog om onder Jehovah se volk te wees en te assosieer met mans en vroue, sowel as seuns en meisies, in wie se lewe liefde vir God en gehoorsaamheid aan hom die voorkeur geniet! Die waarheid maak ons ook vry van gesindhede en gedrag wat Jehovah God mishaag, en dit leer ons hoe om te lewe soos Christene moet (Johannes 8:32; Kolossense 3:8-10). Mense dwarsoor die wêreld het byvoorbeeld tradisies of opvattings met betrekking tot die manier waarop mans hulle manlikheid en vroue hulle vroulikheid moet toon. Is dit maar net dat mans manlik en vroue vroulik gebore word? Of is daar ander faktore wat in ag geneem moet word?
2. (a) Waardeur moet ons beskouing van manlikheid en vroulikheid bepaal word? (b) Wat het met beskouings oor die geslagte gebeur?
2 Vir Christene is God se Woord die gesag waaraan ons ons onderwerp, ongeag die persoonlike, kulturele of tradisionele beskouings wat ons moontlik verkry het (Matteus 15:1-9). Die Bybel bespreek nie al die aspekte van manlikheid en vroulikheid breedvoerig nie. Dit laat eerder ruimte vir verskeidenheid, soos ons in verskillende kulture vind. Ten einde te wees wat God hulle geskep het om te wees, moet mans manlik en vroue vroulik wees. Waarom? Want benewens die feit dat die man en vrou gemaak is om mekaar fisies aan te vul, moes hulle mekaar ook deur manlike en vroulike eienskappe aanvul (Genesis 2:18, 23, 24; Matteus 19:4, 5). Maar beskouings oor die geslagte het verdraaid en verwronge geraak. Baie stel manlikheid gelyk aan streng oorheersing, hardvogtigheid of machismo. In sekere kulture sal dit ongewoon of skandelik vir ’n man wees om in die openbaar of privaat te huil. Tog het ‘Jesus trane begin stort’ terwyl hy saam met die skare buite Lasarus se graf was (Johannes 11:35). Dit was nie ongepas vir Jesus wie se manlikheid volmaak was nie. Baie het vandag ’n ongebalanseerde beskouing oor vroulikheid; hulle beskou dit as blote fisiese en seksuele aantreklikheid.
Ware manlikheid en ware vroulikheid
3. Hoe verskil mans en vroue van mekaar?
3 Wat is ware manlikheid, en wat is ware vroulikheid? The World Book Encyclopedia sê: “Die meeste mans en vroue verskil nie net van mekaar wat anatomie betref nie, maar ook met betrekking tot gedrag en die dinge waarin hulle belangstel. Party van hierdie verskille word biologies bepaal. . . . Maar talle nieanatomiese verskille is blykbaar gegrond op die geslagsrolle wat elke individu aanleer. Mense word as ’n lid van die manlike of vroulike geslag gebore, maar hulle leer om manlik of vroulik te wees.” Ons genetiese samestelling is moontlik vir baie dinge verantwoordelik, maar die ontwikkeling van gepaste manlikheid of vroulikheid hang daarvan af dat ons leer wat God vereis asook van wat ons kies om in die lewe na te streef.
4. Wat toon die Bybel omtrent die rol van die man en die vrou?
4 Bybelgeskiedenis toon dat dit Adam se rol was om as hoof van sy vrou en kinders die leiding te neem. Hy moes ook God se wil uitvoer om die aarde te vul, dit te onderwerp en oor alle laer aardse skepsele te heers (Genesis 1:28). Die vroulike gesinsrol vir Eva was om ’n “hulp” en “’n komplement” vir Adam te wees, onderdanig aan sy hoofskap, en om saam met hom te werk in die uitvoering van God se verklaarde voorneme vir hulle.—Genesis 2:18, vgl. NW; 1 Korintiërs 11:3.
5. Hoe is die verhouding tussen die man en die vrou geskaad?
5 Maar Adam het nie sy verantwoordelikheid nagekom nie, en Eva het haar vroulikheid op ’n oorredende manier gebruik om Adam te verlok om saam met haar ongehoorsaam aan God te wees (Genesis 3:6). Deur hom dit te veroorloof om te doen wat hy geweet het verkeerd is, het Adam versuim om ware manlikheid aan die dag te lê. Hy was slap en het eerder sy huweliksmaat, wat bedrieg is, geglo as die woord van sy Vader en Skepper (Genesis 2:16, 17). Weldra het die eerste egpaar begin ondervind wat God vooruitgesien het die gevolg van ongehoorsaamheid sou wees. Adam, wat vroeër sy vrou in kleurryke, digterlike taal beskryf het, het nou koel na haar verwys as ‘die vrou wat U my gegee het’. Sy onvolmaaktheid het nou afbreuk aan sy manlikheid gedoen en dit verwring, wat daartoe gelei het dat hy ‘oor sy vrou geheers’ het. Eva sou op haar beurt ’n sterk “begeerte” na haar man hê, waarskynlik op ’n buitensporige of ongebalanseerde manier.—Genesis 3:12, 16.
6, 7. (a) Watter verdraaiing van manlikheid het voor die Vloed ontwikkel? (b) Wat kan ons uit die situasie voor die Vloed leer?
6 Die misbruik van manlikheid en vroulikheid het voor die Vloed uiters opvallend geword. Engele wat hulle oorspronklike posisie in die hemel verlaat het, het menseliggame aangeneem om geslagsomgang met vroue te hê (Genesis 6:1, 2). Die verslag praat slegs van mans wat uit hierdie onnatuurlike seksuele verbintenisse gebore is. En die nageslag was blykbaar ’n bastergeslag wat nie kinders kon voortbring nie. Hulle het bekend geword as geweldiges, die Nefilim, of Neervellers, aangesien hulle ander neergevel het (Genesis 6:4; voetnoot in NW). Hulle was klaarblyklik gewelddadig en aggressief en het geen tere medelye betoon nie.
7 Dit is duidelik dat fisiese skoonheid, liggaamsbou, grootte of krag nie op sigself aanvaarbare manlikheid of vroulikheid verleen nie. Die engele wat menseliggame aangeneem het, was waarskynlik aantreklik. En die Nefilim was groot en gespierd, maar hulle geestesgesindheid was verwronge. Die ongehoorsame engele en hulle nageslag het die aarde met geslagsonsedelikheid en geweld gevul. Daarom het Jehovah daardie wêreld tot ’n einde gebring (Genesis 6:5-7). Die Vloed het egter nie ’n einde aan demoniese invloed gemaak nie, en dit het ook nie die gevolge van Adam se sonde verwyder nie. Ná die Vloed het ’n verkeerde beeld van manlikheid en vroulikheid weer ontstaan, en daar is voorbeelde in die Bybel, goeies sowel as slegtes, waaruit ons kan leer.
8. Watter goeie voorbeeld van gepaste manlikheid het Josef gestel?
8 In Josef en Potifar se vrou het ons ’n kragtige voorbeeld van gepaste manlikheid teenoor wêreldse vroulikheid. Potifar se vrou, wat op die aantreklike Josef verlief geraak het, het hom probeer verlei. Destyds was daar geen geskrewe wet van God wat hoerery of egbreuk verbied het nie. Maar Josef het van daardie onsedelike vrou weggevlug en getoon dat hy ’n ware man van God is, een met die soort manlikheid wat God se goedkeuring weggedra het.—Genesis 39:7-9, 12.
9, 10. (a) Hoe het koningin Vasti haar vroulikheid misbruik? (b) Watter goeie voorbeeld van vroulikheid het Ester vir ons gestel?
9 Ester en koningin Vasti het ’n opmerkenswaardige teenstelling vir vroue voorsien. Vasti het klaarblyklik gedink dat sy so mooi is dat koning Ahasveros altyd haar versoeke sou toestaan. Maar haar skoonheid het nie veel dieper gegaan as baie van die velrome wat vandag verkoop word nie. Sy het ’n gebrek aan beskeidenheid en vroulikheid gehad, want sy was nie aan haar man en koning onderdanig nie. Die koning het haar verwerp en het as sy koningin ’n vrou gekies wat waarlik vroulik was, in werklikheid ’n vrou wat Jehovah gevrees het.—Ester 1:10-12; 2:15-17.
10 Ester dien as ’n uitstekende voorbeeld vir Christenvroue. Sy was “skoon van gestalte en mooi van aansien”, maar sy het die versiering van “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees” geopenbaar (Ester 2:7; 1 Petrus 3:4). Sy het nie spoggerige versiering as die belangrikste ding beskou nie. Ester het takt en selfbeheersing aan die dag gelê en sy was onderdanig aan haar man, Ahasveros, selfs toe die lewe van haar volk in gevaar was. Ester het stilgebly toe dit raadsaam was, maar met onverskrokkenheid gepraat toe dit nodig en die regte tyd daarvoor was (Ester 2:10; 7:3-6). Sy het raad van haar ervare neef, Mordegai, aanvaar (Ester 4:12-16). Sy het liefde vir haar volk en lojaliteit teenoor hulle geopenbaar.
Uiterlike voorkoms
11. Wat moet ons in gedagte hou in verband met uiterlike voorkoms?
11 Wat is die sleutel tot gepaste vroulikheid? ’n Moeder het gesê: “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word” (Spreuke 31:30). ’n Eerbiedige vrees vir God is dus noodsaaklik, en liefderyke goedhartigheid, vriendelikheid, beskeidenheid en ’n sagmoedige tong dra baie meer tot vroulikheid by as fisiese skoonheid.—Spreuke 31:26, vgl. NW.
12, 13. (a) Wat is ongelukkig kenmerkend van die spraak van baie mense? (b) Wat is die betekenis van Spreuke 11:22?
12 Ongelukkig is daar baie mans en vroue wat nie hulle mond met wysheid oopmaak nie, en daar is ook nie liefderyke goedhartigheid op hulle tong nie. Hulle woorde is beledigend, sarkasties, vulgêr en onbedagsaam. Party mans dink dat vuil taal ’n teken van manlikheid is, en party vroue boots hulle dwaaslik na. Kan ’n vrou wat mooi is maar nie gesonde verstand het nie en wat twisgierig, sarkasties of aanmatigend is, werklik in die ware sin van die woord mooi wees, waarlik vroulik? “’n Goue ring in ’n vark se snuit, so is ’n vrou wat mooi is maar sonder beleid [“gesonde verstand”, NW].”—Spreuke 11:22.
13 Mooiheid wat met vuil taal, sarkasme of ’n gebrek aan gesonde verstand gepaardgaan, sou strydig wees met enige vroulike voorkoms wat iemand dalk het. Trouens, sulke goddelose gedrag kan selfs ’n fisies aantreklike persoon lelik laat lyk. Ons kan maklik sien dat die fisiese voorkoms van ’n man of vrou op sigself nie vir woedeuitbarstings, geskreeu of smadende taal kan vergoed of dit kan regverdig nie. Alle Christene kan en moet hulle vir God en ander mense aantreklik maak deur hulle Bybelse spraak en gedrag.—Efesiërs 4:31.
14. Watter soort versiering word in 1 Petrus 3:3-5 geloof, en hoe voel jy daaromtrent?
14 Hoewel ware vroulikheid en manlikheid op geestelike eienskappe gegrond is, sê ons fisiese houding en voorkoms, met inbegrip van die klere wat ons dra en die manier waarop ons dit dra, iets omtrent ons. Die apostel Petrus het ongetwyfeld sekere eerste-eeuse style van kleredrag en persoonsversorging in gedagte gehad toe hy Christenvroue gemaan het: “Laat julle versiering nie dié wees van uiterlike haarvlegtery en van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees, wat in die oë van God van groot waarde is. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het hulle versier, en hulle het hulle aan hulle eie mans onderwerp.”—1 Petrus 3:3-5.
15. Wat moet Christenvroue deur hulle kleredrag probeer openbaar?
15 In 1 Timoteus 2:9, 10 vind ons Paulus se kommentaar oor vroulike kleredrag: “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand . . . soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke.” Hy het daar die belangrikheid van beskeidenheid en goed versorgde kleredrag beklemtoon wat gesonde verstand weerspieël.
16, 17. (a) Hoe word kleredrag vandag deur baie mans en vroue misbruik? (b) Wat moet ons uit die raad in Deuteronomium 22:5 aflei?
16 As ’n man of ’n vrou, ’n seun of ’n meisie, hulle op ’n seksueel prikkelende wyse gedra of klee, sal dit nie ware manlikheid of vroulikheid verhoog nie, en dit strek God beslis nie tot eer nie. Baie mense in die wêreld gaan tot die uiterste om met manlike of vroulike seksualiteit in kleredrag en in gedrag te pronk. Ander maak die verskille tussen die geslagte onopvallend weens onsedelike oogmerke. Hoe dankbaar kan ons as Christene tog wees dat die Bybel God se denke openbaar! Jehovah het aan eertydse Israel gesê: “’n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ’n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ’n gruwel.”—Deuteronomium 22:5.
17 Jy sal dit waarskynlik geniet om te hersien wat Die Wagtoring van 15 Augustus 1988 op bladsy 17 in hierdie verband gesê het: “Die geskil is nie of ’n sekere styl uiters modieus is nie, maar of dit gepas is vir iemand wat bely dat hy of sy ’n bedienaar van God is (Romeine 12:2; 2 Korintiërs 6:3). Slenterdrag of stywe klere kan afbreuk doen aan ons boodskap. Style wat mans openlik en opsetlik vervroulik of vroue mannetjiesagtig laat lyk, is beslis onvanpas. (Vergelyk Deuteronomium 22:5.) Plaaslike gebruike kan natuurlik verskil na gelang van die weer, werkbehoeftes, ensovoorts, sodat die Christengemeente nie vaste reëls neerlê om die wêreldwye broederskap te dek nie.”
18. Watter stappe kan ons doen om die Bybelse raad oor kleredrag en persoonsversorging toe te pas?
18 Hoe gebalanseerd en gepas is hierdie raad tog! Ongelukkig volg party Christene, mans en vroue, blindelings wat die wêreld ook al met betrekking tot kleredrag en persoonsversorging bevorder sonder om in ag te neem hoe dit moontlik die naam van Jehovah en van die Christengemeente sal raak. Elkeen van ons kan ’n bietjie selfondersoek doen om te sien of ons deur die wêreld se denke beïnvloed is. Of ons kan ’n gerespekteerde, ervare broer of suster nader en vra of daar enige veranderinge is wat ons in ons kleredrag kan aanbring, en dan moet ons die voorstelle ernstig oorweeg.
Christenmans en -vroue —mans en vroue deur en deur
19. Teen watter ongewenste invloed moet ons stry?
19 Die god van hierdie wêreld is Satan, en sy invloed kan gesien word in die verwarring met betrekking tot die geslagte, en dit strek verder as kleredrag (2 Korintiërs 4:4). In party lande ding baie vroue met mans mee om hoofskap, en só ignoreer hulle Bybelbeginsels. Daarenteen is daar ’n hele aantal mans wat eenvoudig nie hulle hoofskapsverantwoordelikhede nakom nie, net soos Adam gedoen het. Daar is diegene wat selfs probeer om hulle geslagsrol in die lewe van die een na die ander te verander (Romeine 1:26, 27). Die Bybel dui geen alternatiewe lewenswyse aan wat deur God goedgekeur word nie. En enige persone wat verward was oor hulle identiteit of geslagsvoorkeur voordat hulle Christene geword het, kan daarvan seker wees dat dit tot hulle ewige voordeel sal wees om volgens God se standaard te lewe, ’n standaard wat almal wat menslike volmaaktheid sal bereik ongetwyfeld sal waardeer.
20. Watter uitwerking moet Galasiërs 5:22, 23 op ons beskouing oor manlikheid en vroulikheid hê?
20 Die Skrif toon dat Christenmans en -vroue die vrugte van God se gees moet aankweek en openbaar—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22, 23). In sy groot wysheid het God mans in staat gestel om hulle manlikheid, en vroue hulle vroulikheid, te verhoog deur daardie eienskappe aan te kweek. Dit is maklik om ’n man wat die vrugte van die gees openbaar te respekteer, en dit is maklik om ’n vrou wat dit doen lief te hê.
21, 22. (a) Watter voorbeeld het Jesus gestel wat lewenswyses betref? (b) Hoe het Jesus sy manlikheid geopenbaar?
21 Die grootste mens wat nog geleef het, was Jesus Christus, en dit is sy lewenswyse wat Christene moet navolg (1 Petrus 2:21-23). Soos Jesus moet mans sowel as vroue lojaal aan God en gehoorsaam aan Sy Woord wees. Jesus het die wonderlike eienskappe liefde, teerheid en barmhartigheid aan die dag gelê. Daar word van ons as ware Christene verwag om hom na te volg om te bewys dat ons sy dissipels is.—Johannes 13:35.
22 Jesus Christus was ’n ware man, en ons kan sy manlike eienskappe sien wanneer ons sy lewensverhaal bestudeer, soos uiteengesit in die Skrif. Hy het nooit getrou nie, maar die Bybel toon dat hy gebalanseerde assosiasie met vroue geniet het (Lukas 10:38, 39). Sy verhoudinge met mans en vroue was altyd kuis en eerbaar. Hy is die volmaakte voorbeeld van manlikheid. Hy het nie toegelaat dat enigeen—man, vrou of ongehoorsame engel—hom sy godvrugtige manlikheid en getrouheid aan Jehovah ontneem nie. Hy het nie geaarsel om sy verantwoordelikhede te aanvaar nie, en hy het dit gedoen sonder om te kla.—Matteus 26:39.
23. In watter opsig is ware Christene beslis geseënd wat die rolle van die geslagte betref?
23 Hoe aangenaam is dit tog om onder Jehovah se volk te wees en te assosieer met mans en vroue, sowel as seuns en meisies, in wie se lewe liefde vir Jehovah God en gehoorsaamheid aan hom die voorkeur geniet! Gehoorsaamheid aan God se Woord laat ons nie ingeperk voel nie. Ons is eerder vrygemaak van hierdie wêreld en sy weë wat die prag, die doel en die onderskeie rolle van die geslagte verlaag. Ons kan die ware geluk smaak wat kom wanneer ons ons godgegewe rol in die lewe vervul, hetsy ons ’n man of ’n vrou is. Ja, hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah God, die Skepper, vir al sy liefdevolle voorsienings ten behoewe van ons en dat hy ons man en vrou geskape het!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter gepaste rolle vir mans en vroue beskryf die Bybel?
◻ Hoe het manlikheid voor die Vloed verwronge geword, en hoe het dit, asook vroulikheid, in ons tyd verdraaid geraak?
◻ Watter Bybelraad oor voorkoms sal jy probeer toepas?
◻ Hoe kan Christenmans en -vroue bewys dat hulle ware mans en vroue is?
[Prent op bladsy 17]
Hoewel Ester baie mooi was, word sy veral onthou weens haar beskeidenheid en haar stille en sagmoedige gees
[Prent op bladsy 18]
Redelike aandag moet aan persoonsversorging gegee word terwyl groter klem op innerlike skoonheid geplaas word