Leer wat die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid is
“Christus [het] ook vir julle gely . . . en julle ’n voorbeeld nagelaat . . . sodat julle sy voetstappe kan navolg.”—1 PETRUS 2:21.
1. Wat is Jehovah se voorneme aangaande ‘die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid’?
“DIE heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid” is nie meer ’n geheim nie! (1 Timotheüs 3:16, NW). Hoe anders is dit tog as die geheime van valse godsdiens, soos die duistere Drie-eenheid, wat geheime bly! Niemand kan daardie geheime verstaan nie. Jehovah het eerder bepaal dat die heilige geheim wat in Jesus Christus geopenbaar is so wyd moontlik bekend gemaak moet word. Jesus self het die voortreflikste voorbeeld van ’n ywerige verkondiger van die Koninkryk van God geword. Ons kan baie leer uit sy boodskap en die manier waarop hy gepreek het, soos ons nou sal sien.
2. Waarom word Jesus se bediening voor die losprys geplaas? (Mattheüs 20:28).
2 Laat ons dus die gedagte dat Jesus ‘openbaar gemaak is in die vlees’ verder ondersoek (1 Timotheüs 3:16, NW). In Mattheüs 20:28 lees ons dat Jesus “nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie”. Dit plaas sy bediening selfs voor die losprys. Hoe so? Wel, in Eden het die listige Slang Jehovah se regmatige soewereiniteit oor die mensdom betwis en geïmpliseer dat daar iets skort met God se skepping en dat geen mens tydens beproewing onkreukbaarheid teenoor die Allerhoogste kan handhaaf nie. (Vergelyk Job 1:6-12; 2:1-10.) Jesus se vlekkelose bediening as ’n volmaakte man, “die laaste Adam”, het bewys dat die uitdager Satan ’n bose leuenaar is (1 Korinthiërs 15:45). Daarbenewens het Jesus onomstootlik bewys dat hy oor al die kwalifikasies beskik om as God se “Vernaamste Gevolmagtigde en Redder” te dien en om “die wêreld in geregtigheid [te] oordeel” ten einde Jehovah se soewereiniteit te regverdig.—Handelinge 5:31, NW; 17:31.
3. Hoe het Jesus Satan se uitdaging geheel en al weerlê?
3 Jesus het Satan se tartende uitdaging geheel en al weerlê! In die ganse geskiedenis het geen mens op hierdie aarde God met sulke toegewydheid gedien nie—ondanks bespottings, geseling en liggaamlike en verstandelike foltering. As die Seun van God moes Christus lasterlike beskuldigings verduur. Deur al hierdie dinge—selfs tot ’n wrede en skandelike dood toe—was hy standvastig, onwrikbaar lojaal teenoor sy Vader. In Filippense 2:8, 9 (NW) skryf Paulus dat God Jesus weens sy gehoorsaamheid ‘tot die dood toe, ja, die dood aan ’n folterpaal, verhoog het en hom ’n naam gegee het wat bo elke ander naam is’. Jesus het Satan as ’n giftige leuenaar aan die kaak gestel!
4. Waarom kon Jesus vir Pilatus sê dat hy in die wêreld gekom het om vir die waarheid te getuig?
4 Aan die einde van net ’n paar jaar van intensiewe prediking kon Jesus dus met vrymoedigheid voor Pontius Pilatus getuig: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Jesus het oortreffende godvrugtige toegewydheid aan die dag gelê toe hy God se Koninkrykswaarheid dwarsdeur Palestina verkondig het. Hy het sy dissipels geleer om ook ywerige predikers te wees. Hoe spoor sy voorbeeld ons tog nie aan om vandag in sy voetstappe te volg nie!
Leer by ons Voorbeeld
5. Wat kan ons aangaande godvrugtige toegewydheid leer deur noukeurig op Jesus ag te gee?
5 Ons kan ook bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is deur Jehovah se wil met godvrugtige toegewydheid uit te voer. Ongeag watter beproewings ons verduur, dit sal nooit die lyding en vernederings oortref wat Jesus deurgemaak het nie. Laat ons dus by ons Voorbeeld leer. Mag ons, soos Hebreërs 12:1, 2 ons aanspoor, die wedloop met volharding loop terwyl ons die oog gevestig hou “op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof”. Anders as Adam, wat gefaal het toe sy godvrugtige toegewydheid getoets is, het Jesus die een mens op aarde geword wat alle toetse volmaak deurstaan het. Hy was tot in die dood “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26). In onberispelike onkreukbaarheid kon hy vir sy vyande sê: “Wie van julle oortuig My van sonde?” Jesus het Satan se uitdaging teruggeslinger en verklaar: “Die heerser van die wêreld . . . het geen houvas op my nie.” En ter afsluiting van sy slottoespraak vir sy dissipels voor hy verraai en in hegtenis geneem is, het hy vir hulle gesê: “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 8:46; 14:30, NW; 16:33.
6. (a) Waarom weet Jesus watter soort verkwikking die mensdom nodig het? (b) In watter mate het Jesus godvrugtige vrees geopenbaar?
6 Toe Jesus in die vlees hier op aarde was, het hy ervaar wat dit beteken om ’n mens, “’n weinig minder as die engele”, te wees (Hebreërs 2:7). Hy het vertroud geraak met menslike swakhede en is dus in ’n goeie posisie om duisend jaar lank as die mensdom se Koning en Regter te dien. Hierdie Seun van God, wat gesê het: “Kom na my, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik”, weet watter soort verkwikking die mensdom nodig het (Mattheüs 11:28, NW). Hebreërs 5:7-9 deel ons mee: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs [“weens sy godvrugtige vrees”, NW]—Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is [in gehoorsaamheid], het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.” Jesus was standvastig, selfs al moes hy volhard totdat hy die pyn van die mensedood ervaar het toe hy ’n ‘hakskeenwond’ deur die haatlike Slang toegedien is (Genesis 3:15). Mag ons altyd, soos Jesus, godvrugtige vrees openbaar, self tot in die dood indien nodig, terwyl ons vol vertroue is dat Jehovah ons smekinge sal verhoor en ons sal red.
‘Lewe vir die geregtigheid’
7. Watter voorbeeld het Christus volgens 1 Petrus 2:21-24 vir ons nagelaat, en watter uitwerking moet sy handelwyse op ons hê?
7 Terwyl Jesus in die vlees geopenbaar was, het hy lojaal die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid onthul. In 1 Petrus 2:21-24 (vgl. NW) lees ons: “Omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die [folterpaal] gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe.” Wanneer ons peins oor Jesus se handelwyse spoor dit ons inderdaad aan om, net soos hy, godvrugtige toegewydheid na te jaag, onkreukbaarheid te handhaaf en vir die geregtigheid te lewe!
8. Hoe kan ons soos Jesus vir die geregtigheid lewe?
8 Jesus het waarlik vir die geregtigheid gelewe. Psalm 45:8 het oor hom geprofeteer: “U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid.” Die apostel Paulus het daardie woorde op Jesus toegepas en in Hebreërs 1:9 gesê: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat.” Mag ons, in die lig van ons begrip van die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid, altyd, soos Jesus, geregtigheid liefhê en die kwaad haat. Laat ons vasbeslote wees om vir die geregtigheid te lewe en Jehovah se regverdige beginsels hoog te hou, enersyds ten opsigte van Christelike sedes, wat vandag so hewig deur Satan se wêreld aangeval word, en andersyds in al ons handelinge met diegene binne en buite God se organisasie. En laat ons ons gedurig verlustig in God se Woord sodat ons die goddelike insig kan hê wat so noodsaaklik is om die Duiwel en sy sette te weerstaan!
9. Wat het tot Jesus se ywer in die bediening bygedra, en wat het dit in verband met valse godsdiensherders behels?
9 Daar was nog iets wat Jesus aangespoor het om ywerig in sy bediening te wees. Wat was dit? In Mattheüs 9:36 lees ons: “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” Jesus het hulle derhalwe “baie dinge begin leer” (Markus 6:34). Dit het noodwendig behels dat hy die valse godsdiensherders se goddeloosheid en wetteloosheid oopvlek. Volgens Mattheüs 15:7-9 het Jesus vir sommige van hulle gesê: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
’n Betreurenswaardige verborgenheid
10. Om wie draai “die verborgenheid van die ongeregtigheid” vandag, en waaraan is hulle skuldig?
10 Net soos Jesus valse godsdiensleiers veroordeel het, betreur ons vandag ’n verborgenheid wat ’n skerp teenstelling met die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid vorm. In 2 Thessalonicense 2:7 het Paulus dit “die verborgenheid van die ongeregtigheid” genoem. Dit was ’n verborgenheid in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling omdat dit eers lank na die apostels se dood onthul sou word. Vandag draai dit om die geestelikes van die Christendom, wat meer belangstel in die politiek as in die verkondiging van die goeie nuus van God se regverdige Koninkryk. Daar is volop geveinsdheid in hulle geledere. Televisie-evangeliste van die Christendom se Protestantse sektes is ’n opvallende voorbeeld: bedrieërs wat hulle kuddes melk, ryke ter waarde van miljoene rande opbou, met prostitute omgaan, krokodiltrane huil wanneer hulle self aan die kaak gestel word en voortdurend bedel om geld, altyd nog geld. Soortgelyke ongesonde toestande heers in die Rooms-Katolisisme se Vatikaan met sy beginsellose politieke verbintenisse, uiterlike praal en korrupte bankpraktyke.
11. Wat sal met die Christendom se geestelikes en die hele Babilon die Grote gebeur?
11 Geen wonder dat die Christendom se geestelikes as “die wettelose mens” geïdentifiseer kan word nie! (2 Thessalonicense 2:3, NAV). Hierdie dominante deel van die hoeragtige Babilon die Grote sal, tesame met die res van valse godsdiens, ten volle aan die kaak gestel en verwoes word. Soos ons in Openbaring 18:9-17 lees, sal politici en handelaars (en hulle bankiers) dan weeklaag: “Wee, wee jou, o groot stad.” Babilon die Grote en haar verborgenhede sal blootgelê wees, in skerp teenstelling met alles waardeur die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid opgehelder word.
12. Wat het Jesus se liefde vir regverdigheid hom beweeg om te doen?
12 Weens Jesus se liefde vir regverdigheid en haat vir wetteloosheid het hy hom onvermoeid ten behoewe van ware aanbidding ingespan. Met sy eerste besoek aan Jerusalem as die gesalfde Seun van God, het Christus die handelaars en geldwisselaars uit die tempel gedrywe en uitgeroep: “Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie”! (Johannes 2:13-17). By ’n latere besoek aan die tempel het Jesus vir vyandige Jode gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Watter moed het Jesus tog geopenbaar deur vir daardie godsdiensyweraars in hul gesig te sê dat hulle leuenaars en seuns van die Duiwel is!
13. (a) Veral waar word Jesus se haat vir wetteloosheid uitgedruk? (b) Waarom verdien die wettelose geestelikes ’n oordeel soortgelyk aan wat Jesus oor die skrifgeleerdes en Fariseërs uitgespreek het?
13 Jesus se haat vir wetteloosheid word nêrens beter uitgedruk as in sy snydende veroordeling van die adderagtige skrifgeleerdes en Fariseërs nie, soos opgeteken in Mattheüs hoofstuk 23. Daar spreek hy ’n sewevoudige “wee” uit en vergelyk hy hulle met ‘gewitte grafte—vol allerhande onreinheid, geveinsdheid en wetteloosheid’. Hoe het Jesus tog daarna gehunker om die verdrukte volk van daardie wetteloosheid te verlos! “Jerusalem, Jerusalem”, het hy uitgeroep, “hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Verse 37, 38). Die wettelose geestelikes van ons dag verdien ’n soortgelyke oordeel omdat hulle, volgens die woorde van 2 Thessalonicense 2:12, ‘die waarheid nie glo nie, maar behae het in die ongeregtigheid’. Hulle wetteloosheid is presies die teenoorgestelde van die godvrugtige toegewydheid wat Jesus so lojaal geopenbaar het terwyl hy hier op die aarde was.
Die bekendmaking van God se oordele
14. Wat moet waardering vir die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid ons beweeg om te doen?
14 Ons waardering vir die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid moet ons beweeg om Jesus se voetstappe altyd noukeurig te volg. Soos hy moet ons ywerig wees in die verkondiging van wat Jesaja 61:2 as “’n jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God” beskryf. En mag ons ywerig ons deel bydra “om al die treurendes te troos”. Net soos toe Jesus op aarde was, verg dit vandag moed van ons om Jehovah se oordele, waaronder die kragtige boodskappe in reguit Wagtoring-artikels en in die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bekend te maak. Ons moet met vrymoedigheid en takt preek en ons woorde moet “met sout besprinkel” wees, sodat hulle smaakvol kan wees vir die wat neig na geregtigheid (Kolossense 4:6). Mag ons, nadat ons uit Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewydheid geleer het, in staat wees om verslag te doen dat ons die werk volbring het wat Jehovah ons gegee het wanneer die tyd daarvoor aanbreek.—Mattheüs 24:14; Johannes 17:4.
15. Wat gebeur sedert 1914 met betrekking tot God se heilige geheim?
15 Wat ’n uitstekende Voorbeeld was Jesus terwyl hy in die vlees geopenbaar was! Hoe duidelik is die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid in hom vervul! Met hoeveel vrymoedigheid het hy Jehovah se naam tog verheerlik! En op watter wonderlike wyse het Jesus se Vader hom tog vir sy onwrikbare onkreukbaarheid beloon! Maar daar is meer by God se heilige geheim betrokke. Ons lewe sedert 1914 in “die dag van die Here” (Openbaring 1:10). Soos Openbaring 10:7 (NW) sê, is dit die tyd dat ‘die heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus tot ’n einde gebring word’. Hemelse stemme het nou verkondig: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here [Jehovah] geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Jehovah het die Messiaanse Koning, Jesus Christus, op sy glorieryke troon geïnstalleer om ’n medeheerser saam met Hom te wees!
16. Hoe het die Koning, Jesus Christus, kort na sy troonsbestyging getoon dat hy groot waarde aan godsvrug in die hemel heg?
16 As God se medeheerser in die pas opgerigte Koninkryk word Jesus ook Migael genoem (wat beteken “Wie is soos God?”). Geen rebel mag dit ooit regkry om soos God te wees nie, en die Koning het dit kort na sy troonsbestyging laat blyk deur die ou Slang, Satan, en sy engele na die aarde neer te werp (Openbaring 12:7-9). Ja, Jesus heg groot waarde aan godsvrug in die hemel, net soos hy godvrugtige toegewydheid geopenbaar het toe hy op aarde was. Die verheerlikte Jesus Christus sal nie rus totdat hy valse godsdiens uitgewis en die sigbare en onsigbare deel van Satan se organisasie heeltemal vernietig het nie.
17. Wat gebeur sedert 1914 ter vervulling van Mattheüs 25:31-33?
17 Sedert 1914 het die vervulling van Jesus se eie profesie in Mattheüs 25:31-33 die heilige geheim van God skitterend opgehelder. Daar sê Jesus: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.” Vanuit sy posisie in die hemele sal hierdie glorieryke Koning, Regter en Voorstander van godvrugtige toegewydheid wraak uitoefen, eers op die wettelose mens en ander faksies van Babilon die Grote, en dan op al die oorblywende elemente en bokagtige ondersteuners van Satan se goddelose aardse organisasie. Dan sal Satan in die afgrond gewerp word (Openbaring 20:1-3). Maar skaapgeaarde “regverdiges” sal die ewige lewe kry (Mattheüs 25:46). Mag jou strewe na godvrugtige toegewydheid jou ’n deel van daardie regskape groep maak!
18. Watter vreugdevolle voorreg geniet ons in verband met die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid?
18 Openbaring 19:10 spoor ons aan om ‘God te aanbid’. En waarom? Die teks sê voorts: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.” Soveel van die geïnspireerde profesieë van die ou tyd het van Jesus getuig! En namate hierdie profesieë vervul is, het die heilige geheim van God glashelder geword. Ons verheug ons derhalwe in die wete dat die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid in Jesus verpersoonlik is. Ons is wonderlik bevoorreg om as nederige bedienaars van die Koninkryk van God in sy voetstappe te volg. Ja, ons is geëerd om onder dié te wees wat die hele heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus verstaan en verkondig!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewydheid leer?
◻ Hoe kan ons soos Christus vir die geregtigheid lewe?
◻ Watter betreurenswaardige verborgenheid vorm ’n skerp teenstelling met die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid?
◻ Wat moet ons waardering vir die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid ons beweeg om te doen?
[Prent op bladsy 16]
As ’n voorstander van godvrugtige toegewydheid en ’n ywerige Koninkryksverkondiger kon Jesus vir Pilatus sê: “Hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig”
[Prent op bladsy 18]
Jesus se godvrugtige toegewydheid is geopenbaar toe hy die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel het