Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 1/15 bl. 10-15
  • ’n Heilige geheim ontvou hom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Heilige geheim ontvou hom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die raaisel word opgelos
  • Ses fasette
  • “Openbaar gemaak in die vlees”
  • Ander fasette
  • Leer wat die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • ’n Geheim wat jy vir ander kan vertel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 1/15 bl. 10-15

’n Heilige geheim ontvou hom

“Die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid is, soos algemeen erken word, groot.”—1 TIMOTHEÜS 3:16, “NW”.

1. Watter geheim word in 1 Timotheüs 3:16 beskryf?

BOEI raaisels jou? Geniet jy dit om geheime op te diep? Die meeste van ons hou daarvan! Sluit dus gerus by ons aan terwyl ons een van die wonderlikste geheime ondersoek—’n geheim wat duisende jare lank in God se Woord opgesluit was. Hierdie heilige geheim is van lewensbelang vir ons huidige en toekomstige lewe. Dit is ‘die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid’, wat in 1 Timotheüs 3:16 (NW) vir ons beskryf word. Hoe dankbaar moet ons tog wees teenoor Jehovah, “die Openbaarder van die geheime”, dat hy goedgunstiglik hierdie goddelike geheim en die uitleg daarvan aan ons bekendgemaak het!—Daniël 2:28, 29.

2. (a) Wanneer het Jehovah die eerste keer van ’n heilige geheim gepraat, en wat het hy toe beloof? (b) Watter vrae moet beantwoord word?

2 Jehovah het die eerste keer van ’n heilige geheim gepraat nadat die Slang Eva verlei het en Adam haar opstandige voorbeeld gevolg het. God het toe beloof dat die “saad”, of nageslag, die Slang se kop sou verbrysel (Genesis 3:15). Wie is hierdie Saad? Hoe sou hy die Slang oorwin? Sou hy bewys dat God waaragtig is en Sy voorneme met hierdie aarde regverdig?

3. Watter leidrade aangaande die identiteit en werksaamhede van die Saad is deur goddelike profesieë verskaf?

3 Goddelike profesieë het mettertyd leidrade aangaande die identiteit en toekomstige werksaamhede van die Saad bekendgemaak. Hy sou ’n afstammeling van Abraham wees, sou Dawid se koninkryk erf en sou Vredevors genoem word. ‘Aan die oorvloed van sy vorstelike heerskappy en aan vrede sou daar geen einde wees nie’ (Jesaja 9:6, 7, NW; Genesis 22:15-18; Psalm 89:36-38). Maar soos Romeine 16:25 sê, is daardie heilige geheim “eeue lank verswyg”.

Die raaisel word opgelos

4. Hoe het die heilige geheim hom in 29 G.J. begin ontvou?

4 Na vier millenniums het verligting uiteindelik gekom! Hoe? In 29 G.J. het Johannes Jesus van Nasaret in die Jordaanrivier gedoop, en God se stem het uit die hemel verklaar: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mattheüs 3:17). A, hier was die Saad van die belofte eindelik! Die heilige geheim het hom begin ontvou in al sy glorieryke fasette, waaronder dié van godvrugtige toegewydheid.

5. Wat is “godvrugtige toegewydheid”, en watter uitwerking het dit op diegene wat dit aan die dag lê?

5 Wat verstaan ons onder “godvrugtige toegewydheid”? In die oorspronklike teks van die Christelike Griekse Skrifte kom hierdie uitdrukking net 20 keer voor, en meer as die helfte hiervan verskyn in Paulus se twee briewe aan Timotheüs. Die publikasie Insight on the Scriptures definieer “godvrugtige toegewydheid” as “eerbied vir, aanbidding van en diens aan God met lojaliteit teenoor sy universele soewereiniteit”. Eerbied spruit voort uit ’n hart wat tot God aangetrokke voel met ontsag vir sy majesteit, sy ewigheid en sy talle grootse skeppinge, tesame met dankbaarheid vir die geestelike en materiële gawes wat hy op waarderende mense uitstort. Elkeen van ons wat godvrugtige toegewydheid aan die dag lê, kan waarlik die psalmis se woorde in Psalm 104:1 ons eie maak: “Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed.”

6. (a) Hoe verskil aanbidders van Jehovah van die Christendom se kerkgangers? (b) Wat het Paulus in Romeine 11:33, 34 gesê, en watter vrae ontstaan gevolglik?

6 Ons toegewydheid aan God moet tot uiting kom, en dit kom tot uiting in dade. In hierdie opsig verskil aanbidders van die ware God, Jehovah, grootliks van die kerkgangers van die Christendom se kwynende kerke. Vir baie mense op aarde is godsdiens—as hulle nog ’n godsdiens het—’n formaliteit, ’n mantel wat hulle omhang om hulle heilig te laat voorkom terwyl hulle ’n lewe lei wat ooreenkom met die verdorwe wêreld om hulle. Hulle weet nie eers wie God is nie. Sulke persone moet beslis nadink oor Paulus se woorde in Handelinge 17:23 toe hy aan die Atheners wat “’n onbekende God” vereer het, gesê het: “Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.” Aangaande daardie roemryke God roep Paulus in Romeine 11:33, 34 uit: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” Hoe leer ons dan God se weë ken? Deur ‘die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid’ te leer. Maar hoe doen ons dit?

7. Waarom kan daar gesê word: “Die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid is, soos algemeen erken word, groot”?

7 In 1 Timotheüs hoofstuk 3 skets die apostel Paulus eers wat verwag word van verantwoordelike knegte in God se huis wat in vers 15 “die gemeente . . . van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” genoem word. Dan voeg Paulus in vers 16 (NW) by: “Die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid is, soos algemeen erken word, groot.” Dit is inderdaad groot, want Jehovah het sy eniggebore Seun na die aarde gestuur om hierdie geheim te onthul, om te toon wat godvrugtige toegewydheid werklik is en hoe dit noodsaaklik, onmisbaar, in ware aanbidding is. Jesus se lewenswandel hier op aarde werp lig op die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid. Alle liefhebbers van Jehovah moet hulle geloof en hul lewe op Christus bou, wat die toonbeeld van godvrugtige toegewydheid was. Hoe het Jesus dan die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid opgehelder?

Ses fasette

8. (a) Wat is die ses fasette van die heilige geheim wat Paulus in 1 Timotheüs 3:16 beskryf? (b) Wie is die “Hy” wat openbaar gemaak word?

8 Onder goddelike inspirasie beantwoord Paulus daardie vraag. Hier in 1 Timotheüs 3:16 (NW) beskryf hy ses fasette van hierdie heilige geheim deur te sê: “Hy [1] is openbaar gemaak in die vlees, [2] is regverdig verklaar in gees, [3] het verskyn aan engele, [4] is verkondig onder nasies, [5] is geglo in die wêreld, [6] is opgeneem in heerlikheid.” Wie is die “Hy” wat openbaar gemaak word? “Hy” is ongetwyfeld die beloofde Saad, Jesus, wat gekom het om God se wil te doen. Hy is die middelpunt van die heilige geheim, wat dit waarlik groot maak.

9. Watter bewys is daar dat 1 Timotheüs 3:16 nie moet lui: “God is geopenbaar in die vlees” nie?

9 Trinitariërs probeer om mense se begrip van die heilige geheim te vertroebel deur te sê dat die “Hy” in 1 Timotheüs 3:16 God self is. Hulle baseer hul bewering op die ou Afrikaanse vertaling, wat sê: “God is geopenbaar in die vlees.” Maar wat sê die betroubaarste Griekse manuskripte? Hulle gebruik konsekwent die voornaamwoord “Hy” pleks van “God”. Tekskritici is dit nou met mekaar eens dat die invoeging van “God” in hierdie teks die fout van ’n kopiïs is. Jonger vertalings, soos die American Standard Version, The New English Bible en die New World Translation, lui dus korrek: ‘Hy is openbaar gemaak in die vlees [of, Hy wat openbaar gemaak is in die vlees].’ Nee, dit was nie God self wat “in die vlees” verskyn het nie. Dit was eerder sy geliefde Seun en eerste skepping, van wie die apostel Johannes geskryf het: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”—Johannes 1:14.

“Openbaar gemaak in die vlees”

10. (a) Hoe het die eerste aspek van die heilige geheim by Jesus se doop duidelik geword? (b) Waarom het Jesus “die laaste Adam” geword?

10 By Jesus se doop het die eerste aspek van die heilige geheim duidelik geword: Jesus “is openbaar gemaak in die vlees” as die gesalfde Seun van God. Jehovah God het sy Seun se lewe van die hemel na die baarmoeder van Maria oorgeplaas sodat Jesus in die vlees as ’n volmaakte mens gebore kon word. Soos 1 Korinthiërs 15:45-47 toon, het Jesus daardeur ’n tweede, of “laaste”, Adam geword, ’n volmaakte mensesiel wat presies met die eerste Adam ooreengekom het. Met watter doel? Eerste Timotheüs 2:5, 6 (NW) praat van “die laaste Adam” as “’n mens Christus Jesus, wat homself gegee het as ’n ooreenkomstige losprys vir almal”. Op hierdie wetlike grondslag van ’n volmaakte menseoffer bemiddel Jesus die nuwe verbond teenoor die 144 000 mense wat sy mede-erfgename in sy Koninkryk word.—Openbaring 14:1-3.

11. Wie vind almal baat by Jesus se losprysoffer?

11 Sou ander ook voordeel trek uit Jesus se offerdood? Beslis ja! Volgens 1 Johannes 2:2 is Jesus Christus “’n versoening vir ons sondes [dit wil sê, die sondes van gesalfde Christene soos Johannes], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”. Dit is dus nie net die 144 000 gesalfde Christene wat baat vind by Jesus se losprysoffer nie, maar ook die hele mensewêreld. “’n Groot menigte” wat nou lewe en miljarde wat in die Paradysaarde opgewek sal word, sal op grond van hulle geloof in Jesus se losprysoffer die ewige lewe ontvang. Soos in Openbaring 7:9, 10 geprofeteer is, het die groot menigte reeds hulle klere gewas en dit wit gemaak deur geloof te beoefen in die vergote bloed van die Lam, Jesus Christus. Hulle word regverdigheid toegereken as vriende van God. Hulle leer met vreugde van die verskeie fasette van die heilige geheim en openbaar godvrugtige toegewydheid ooreenkomstig Jesus se voorbeeld!

Ander fasette

12. Hoe is Jesus “regverdig verklaar in gees”?

12 Wat dan van die tweede aspek van 1 Timotheüs 3:16? Jesus “is regverdig verklaar in gees”. Maar hoe? Deurdat Jehovah sy Seun, wat onkreukbaarheid gehandhaaf het, uit die dood tot lewe as ’n gees opgewek het. Dit het daarop neergekom dat God verklaar het dat Jesus heeltemal regverdig was en waardig was om verdere verhewe opdragte te ontvang. Romeine 1:4 sê dat Jesus “verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode”. Petrus bevestig dit deur in sy eerste brief, hoofstuk 3, vers 18 (NW), vir ons te sê: “Christus het eens en vir altyd gesterf betreffende sondes, ’n regverdige persoon vir onregverdiges, om julle na God te lei, hy wat doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees.” Lei Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewydheid jou na God?

13. Aan watter engele het die verrese Jesus verskyn, en watter soort boodskap het hy aan hulle verkondig?

13 Kom ons ondersoek 1 Timotheüs 3:16 verder. Paulus praat vervolgens van die derde aspek van die heilige geheim deur te sê Jesus “het verskyn aan engele”. Wie sou hierdie engele wees? Aangaande Jesus, wat nou “lewend gemaak is in die gees”, skryf Petrus in 1 Petrus 3:19, 20 (NW): “In hierdie toestand het hy ook heengegaan en het hy gepreek vir die geeste in die gevangenis, wat eens ongehoorsaam was toe die geduld van God gewag het in die dae van Noag.” Volgens Judas 6 (NAV) was daardie geeste “die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek [in die hemel] verlaat het”. Hulle het vleeslike liggame aangeneem sodat hulle ongeoorloofde geslagsgemeenskap met vroue kon hê. Toe die sondvloed daardie engele verplig het om na die geesteryk terug te keer, is hulle in Tartarus, ’n toestand van algehele verlaging, gewerp (2 Petrus 2:4, vgl. NW). Die verrese Jesus het vir hulle gepreek. Maar was dit ’n boodskap van redding? Beslis nie! Jesus het eerder hulle goddeloosheid veroordeel as presies die teenoorgestelde van godvrugtige toegewydheid. Die oordeel wat teen daardie engele uitgespreek is, moet as waarskuwing dien vir enigeen onder God se volk wat vandag met geslagsonsedelikheid speel!

14. Hoe het dit gekom dat daar begin is om Jesus ‘te verkondig onder nasies’?

14 Die vierde aspek van 1 Timotheüs 3:16 is dat Jesus ‘verkondig is onder nasies’. Hoe is dit vervul? Net voor Jesus se inhegtenisneming het hy vir die apostels gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (Johannes 14:12). Kort daarna, op Pinkster 33 G.J., het Jesus heilige gees op sy dissipels uitgestort, en hulle het begin om die verbasende nuus dat ‘hierdie Jesus deur God opgewek is’ aan die Jode te verkondig. Later het Samaritane ook die woord van God aangeneem en heilige gees begin ontvang (Handelinge 2:32; 8:14-17). Toe, in 36 G.J., het Petrus vir Cornelius en ander Heidene wat in sy huis vergader het, begin preek. So is daar dus begin om die goeie nuus aangaande Jesus ‘onder nasies te verkondig’, dit wil sê, onder nie-Jode, wat ook met heilige gees gesalf is.

15. Wat bewys dat eerste-eeuse Christene goed geleer het wat die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid is?

15 Soos Handelinge 12:24 meld, het “die woord van God . . . gegroei en toegeneem”. Handelinge 17:6 sê dat teenstanders in Noord-Griekeland destyds dieselfde uitgeroep het as wat hulle tot vandag toe daar uitroep: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom.” Binne 30 jaar kon Paulus uit Rome skryf dat die goeie nuus “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kolossense 1:23). Christene van daardie tyd het goed geleer wat die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid is. Hoe ywerig het hulle dit tog toegepas! En mag ons in hierdie kritieke dag van Koninkryksprediking eweneens leer wat dit is en dit toepas!

16. Wat was die vyfde aspek van die heilige geheim, en weens watter aktiwiteit het dit merkbaar geword?

16 Na aanleiding van daardie eerste-eeuse prediking het die vyfde aspek van die heilige geheim van 1 Timotheüs 3:16 duidelik merkbaar geword. Jesus is toe “geglo in die wêreld”. Dit was die gevolg van die Christelike godvrugtige toegewydheid van ywerige sendelinge, waaronder Paulus en Timotheüs. Hulle het die goeie nuus na Klein-Asië en Europa, moontlik tot in Spanje, en by monde van die gedoopte Ethiopiër na Oos-Afrika geneem, terwyl Petrus in Babilon gedien het.

17. Waarom word daar oor die hele hedendaagse wêreld geloof in Jesus gestel?

17 Wat van ons dag? Sedert 1919 openbaar die gesalfde oorblyfsel voorbeeldige godvrugtige toegewydheid. Hierdie gesalfdes het stewig voortgebou op die grondslag van geloof wat Jesus gelê het. Hulle het veral sedert 1935 begin met die insameling van ’n groot menigte, wat hulle verheug in die vooruitsig om deur “die groot verdrukking” heen behoue te bly en die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet (Openbaring 7:9, 14). Die goeie nuus waarvan Jesus die middelpunt is, word dus oor die hele hedendaagse wêreld geglo. Oor die hele wêreld heen preek en gedy meer as 3 700 000 Getuies van Jehovah in godvrugtige toegewydheid!

18. Hoe is Jesus “opgeneem in heerlikheid”?

18 Daar bly nog een faset van daardie heilige geheim oor, die sesde: Jesus “is opgeneem in heerlikheid”. Gedurende die 40 dae nadat Jesus lewend gemaak is in die gees, het hy vleeslike liggame aangeneem en aan sy dissipels verskyn en met hulle gespreek oor “die dinge van die koninkryk van God”. Toe het hy na die hemel opgevaar (Handelinge 1:3, 6-9). Sy gebed wat in Johannes 17:1-5 opgeteken is, is dus verhoor: “Vader, . . . verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik . . . Ek het U verheerlik op die aarde . . . En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”

19. Wat moes met Jesus se terugkeer na die hemel gepaard gegaan het?

19 Watter groot vreugde moes tog met Jesus se terugkeer na die hemel gepaard gegaan het! Baie vroeër, toe Jehovah die aarde gegrondves het, het “al die seuns van God gejuig” (Job 38:7). Daardie engeleskare moes selfs blyer gewees het om die lojale Kampvegter vir Jehovah se soewereiniteit weer in hulle midde te ontvang!

20. Waarom het Jesus so ’n voortreflike naam geërf, en wat het hy gedoen toe hy op aarde was?

20 In Hebreërs 1:3, 4 sê Paulus van die seëvierende Jesus: “Nadat Hy deur Homself die reiniging vir ons sondes bewerk het, het [hy] gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ’n voortrefliker naam geërf het as hulle.” Christus het daardie naam ontvang weens sy oorwinning oor onregverdigheid. Hierdie Seun van God het inderdaad die weg van godvrugtige toegewydheid hier op aarde aangetoon. Hy het ook ’n voorbeeld gestel vir alle ander wat die ewige lewe sal verkry. Toe Jesus tot God se regterhand in die hemel verhef is, is die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid in al sy aspekte geopenbaar.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is “godvrugtige toegewydheid”?

◻ Hoe is Jesus “openbaar gemaak in die vlees” en daarna “regverdig verklaar in gees”?

◻ Aan watter engele het Jesus verskyn, en met watter boodskap?

◻ Hoe is Christus “verkondig onder nasies” en “geglo in die wêreld”?

◻ Wanneer en nadat hy wat ten opsigte van godvrugtige toegewydheid gedoen het, is Jesus “opgeneem in heerlikheid”?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel