Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 256-258
  • Bybelboek nommer 62—1 Johannes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 62—1 Johannes
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN EERSTE JOHANNES
  • WAAROM NUTTIG
  • Toon altyd liefde en geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hou aan om in goddelike lig te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hou aan om soos kinders van God te lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wandel in die lig en in liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 256-258

Bybelboek nommer 62—1 Johannes

Skrywer: Die apostel Johannes

Waar geskryf: In of naby Efese

Geskrif voltooi: ca. 98 G.J.

1. (a) Van watter eienskap is Johannes se geskrifte deurdring, maar wat toon dat hy geen sentimentalis was nie? (b) Waarom was sy drie briewe tydig?

JOHANNES, die geliefde apostel van Jesus Christus, het ’n sterk liefde vir geregtigheid gehad. Dit het daartoe bygedra dat hy ’n skerp insig in die denkwyse van Jesus gehad het. Daarom verbaas dit ons nie dat die tema liefde sy geskrifte oorheers nie. Hy was egter geen sentimentalis nie, want Jesus het hom een van die “seuns van die donder [Boanerges]” genoem (Mark. 3:17). Hy het trouens sy drie briewe ter verdediging van waarheid en geregtigheid geskryf, want die afval wat deur die apostel Paulus voorspel is, het reeds ingetree. Johannes se drie briewe was inderdaad tydig, want hulle het gehelp om die vroeë Christene te versterk in hulle stryd teen die indringing van “die Bose”.—2 Thess. 2:3, 4; 1 Joh. 2:13, 14; 5:18, 19.

2. (a) Wat dui aan dat Johannes se briewe veel later as Mattheüs, Markus en die sendbriewe geskryf is? (b) Wanneer en waar is die briewe vermoedelik geskryf?

2 Te oordeel na die inhoud behoort hierdie briewe tot ’n veel later tydperk as die Evangelies van Mattheüs en Markus—’n later tydperk ook as die sendbriewe van Petrus en Paulus. Die tye het verander. Judaïsme, die groot bedreiging vir die gemeentes in hulle begindae, word glad nie gemeld nie; en dit lyk nie of daar ’n enkele regstreekse aanhaling uit die Hebreeuse Geskrifte is nie. Johannes praat andersyds van “die laaste uur” en die verskyning van “baie antichriste” (1 Joh. 2:18). Hy spreek sy lesers aan met uitdrukkings soos “my kinders” en praat van homself as “die ouderling” (1 Joh. 2:1, 12, 13, 18, 28; 3:7, 18; 4:4; 5:21; 2 Joh. 1; 3 Joh. 1). Dit alles dui daarop dat sy drie briewe later van tyd geskryf is. Boonop kan daar moontlik uit 1 Johannes 1:3, 4 afgelei word dat Johannes se Evangelie ongeveer dieselfde tyd geskryf is. Daar word algemeen aangeneem dat Johannes se drie briewe omstreeks 98 G.J., kort voor die apostel se dood, voltooi is en dat hulle in die omgewing van Efese geskryf is.

3. (a) Wat getuig van die skrywerskap en egtheid van Eerste Johannes? (b) Watter gedeelte is later bygevoeg, maar wat toon dat dit oneg is?

3 Dat Eerste Johannes inderdaad deur die apostel Johannes geskryf is, blyk uit die brief se noue ooreenkoms met die vierde Evangelie, wat hy onmiskenbaar geskryf het. Hy lei die brief byvoorbeeld in deur homself te beskryf as ’n ooggetuie wat “die Woord van die lewe” aanskou het, “die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is”, uitdrukkings wat opvallend ooreenkom met dié waarmee Johannes se Evangelie begin. Die egtheid van die brief word gestaaf deur die Canon Muratori en deur vroeë skrywers soos Ireneus, Polycarpus en Papias, almal van die tweede eeu G.J.a Volgens Eusebius (ca. 260-342 G.J.) is die egtheid van Eerste Johannes nooit betwis nie.b Daar moet egter genoem word dat sommige ouer vertalings in hoofstuk 5 die volgende woorde aan die einde van vers 7 en die begin van vers 8 bygevoeg het: “In die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde.” Maar hierdie teks kom nie in enige van die vroeë Griekse manuskripte voor nie en is klaarblyklik bygevoeg om die Drie-eenheidsleer te bevorder. In die meeste moderne vertalings, Katoliek sowel as Protestants, maak hierdie woorde nie deel van die hoofteks uit nie.—1 Joh. 1:1, 2.c

4. Teen wie probeer Johannes sy mede-Christene beskerm, en watter valse leringe weerlê hy?

4 Johannes skryf om sy “geliefdes”, sy “jong kinders”, te beskerm teen die valse leringe van die “baie antichriste” wat van hulle uitgegaan het en wat probeer om hulle van die waarheid af te rokkel (2:7, 18, NW). Hierdie afvallige antichriste is moontlik beïnvloed deur Griekse filosofie, waaronder vroeë Gnostisisme, waarvan die aanhangers beweer het dat hulle besondere kennis van mistieke aard van God ontvang het.d Johannes neem sterk standpunt in teen afvalligheid en behandel drie temas uitvoerig: sonde, liefde en die antichris. Sy verklarings oor sonde, en ter ondersteuning van Jesus se offerande vir sondes, dui daarop dat hierdie antichriste eiegeregtig beweer het dat hulle sonder sonde is en nie Jesus se losprysoffer nodig het nie. Hulle egosentriese “kennis” het hulle selfsugtig en liefdeloos gemaak, ’n toestand wat Johannes aan die kaak stel deur voortdurend die klem op ware Christelike liefde te lê. Bowendien bestry Johannes klaarblyklik hulle valse leer wanneer hy verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het en dat hy in die vlees as die Seun van God gekom het om vir gelowiges redding te bring (1:7-10; 2:1, 2; 4:16-21; 2:22; 1:1, 2; 4:2, 3, 14, 15). Johannes brandmerk hierdie valse leraars ronduit as “antichriste” en meld ’n aantal maniere waarop die kinders van God en die kinders van die Duiwel herken kan word.—2:18, 22; 4:3.

5. Wat dui daarop dat Eerste Johannes vir die hele Christengemeente bestem was?

5 Aangesien die brief nie aan ’n bepaalde gemeente gerig is nie, was dit klaarblyklik vir die hele Christenbroederskap bedoel. Die afwesigheid van ’n groet aan die begin en einde sou ook hierop kon dui. Sommige het selfs hierdie geskrif nie as ’n brief nie maar as ’n verhandeling beskryf. Die gebruik van die meervoudige “julle” deur die hele brief heen dui daarop dat die skrywer sy woorde nie tot ’n afsonderlike persoon nie maar tot ’n groep gerig het.

INHOUD VAN EERSTE JOHANNES

6. Hoe kontrasteer Johannes dié wat in die lig wandel met dié wat in die duisternis is?

6 Wandel in die lig, nie in die duisternis nie (1:1–2:29). “Ons skrywe hierdie dinge aan julle”, sê Johannes, “sodat julle blydskap volkome kan wees.” Daar God ‘lig is’, het net dié wat “in die lig wandel” met hom en met mekaar gemeenskap. Hulle is van die sonde gereinig deur “die bloed van Jesus Christus, sy Seun”. Dié wat andersyds “in die duisternis wandel” en beweer dat hulle “geen sonde het nie”, mislei hulleself, en die waarheid is nie in hulle nie. As hulle hulle sondes bely, sal God getrou wees en hulle vergewe.—1:4-8.

7. (a) Hoe toon iemand dat hy God ken en liefhet? (b) Hoe word die antichris geïdentifiseer?

7 Jesus Christus word geïdentifiseer as “’n versoening” en as “’n Voorspraak by die Vader”. Hy wat beweer dat hy God ken maar nie Sy gebooie bewaar nie, is ’n leuenaar. Hy wat sy broer liefhet, bly in die lig, maar hy wat sy broer haat, wandel in die duisternis. Johannes gee kragtige raad om nie die wêreld of die dinge in die wêreld lief te hê nie, want hy sê: “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” Baie antichriste het gekom, en “hulle het van ons uitgegaan”, verduidelik Johannes, want “hulle was nie van ons nie”. Die antichris is hy wat ontken dat Jesus die Christus is. Hy loën sowel die Vader as die Seun. Laat die “kinders” bly by wat hulle van die begin af gehoor het sodat hulle “in die Seun en in die Vader” kan bly ooreenkomstig die salwing wat hulle van hom ontvang het en wat waar is.—2:1, 2, 15, 18, 19, 24.

8. (a) Wat onderskei die kinders van God van die kinders van die Duiwel? (b) Hoe het die “kinders” die liefde leer ken, en waarom moet hulle voortdurend hulle hart ondersoek?

8 Kinders van God beoefen nie sonde nie (3:1-24). Weens die liefde van die Vader word hulle “kinders van God” genoem, en by Christus se verskyning sal hulle soos hy wees en hom “sien soos Hy is”. Sonde is wetteloosheid, en diegene wat in eendrag met Christus bly, beoefen dit nie. Wie wel sonde beoefen, is uit die Duiwel, wie se werke deur die Seun van God verbreek sal word. Die kinders van God en die kinders van die Duiwel is soos volg kenbaar: Dié wat uit God is, het mekaar lief, maar dié wat uit die Bose is, is soos Kain, wat sy broer gehaat en doodgeslaan het. Johannes sê vir die “kinders” dat hulle die liefde leer ken het omdat “Hy sy lewe vir ons afgelê het”; hy vermaan hulle om nie ‘die deur van tere medelye’ vir hulle broers toe te sluit nie. Laat hulle “nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid”. Om te bepaal of hulle “uit die waarheid is”, moet hulle ondersoek wat in hulle harte is en kyk of hulle “doen wat welgevallig is voor [God]”. Hulle moet sy gebod bewaar, naamlik dat hulle “in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar [moet] liefhê”. So sal hulle weet dat hulle in eendrag met hom bly, en hy met hulle deur die gees.—3:1, 2, 16-19, 22, 23, vgl. NW.

9. (a) Hoe moet die geïnspireerde uitinge op die proef gestel word? (b) Waardeur word die verpligting om mekaar lief te hê beklemtoon?

9 Liefde vir mekaar in eendrag met God (4:1–5:21). Die geïnspireerde uitinge moet op die proef gestel word. Die uitinge wat ontken dat Christus in die vlees gekom het, “is nie uit God nie”, maar uit die antichris. Hulle is uit die wêreld en is in eendrag daarmee, maar die geïnspireerde uiting van die waarheid kom van God. Johannes sê: “God is liefde”, en die liefde is hierin: “nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes”. Hoe groot dan die verpligting wat op ons rus om mekaar lief te hê! Met diegene wat ander liefhet, bly God in eendrag, en so word die liefde volmaak sodat hulle “vrymoedigheid kan hê”, waarby die vrees buite gedryf word. “Ons het hom lief”, sê Johannes, “omdat Hy ons eerste liefgehad het.” ‘Hy wat God liefhet, moet ook sy broeder liefhê.’—4:3, 8, 10, 17, 19, 21, vgl. NW.

10. (a) Hoe kan die kinders van God die wêreld oorwin, en watter vertroue het hulle? (b) Wat moet hulle gesindheid teenoor die sonde en afgodediens wees?

10 Kinders van God betoon liefde deur sy gebooie te bewaar, en dit lei tot oorwinning oor die wêreld, deur die geloof. Aangaande dié wat geloof stel in die Seun van God gee God getuienis dat Hy hulle “die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun”. Daarom kan hulle die vertroue hê dat, wat hulle ook al volgens sy wil vra, hy hulle sal verhoor. Alle ongeregtigheid is sonde; tog is daar ’n sonde wat nie tot die dood is nie. Elkeen wat uit God gebore is, maak nie ’n gewoonte daarvan om te sondig nie. Hoewel “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”, het “die Seun van God” gekom, en hy het sy dissipels die “verstand” gegee om kennis op te doen van die ware God, met wie hulle nou in eendrag is “deur middel van sy Seun, Jesus Christus”. Hulle moet hul ook bewaar van die afgode!—5:11, 19, 20, NW.

WAAROM NUTTIG

11. Hoe kan Christene vandag antichriste en wêreldse begeertes bestry?

11 Net soos in die laaste jare van die eerste eeu van die Gewone Jaartelling is daar vandag “baie antichriste” teen wie ware Christene gewaarsku moet word. Hierdie ware Christene moet vashou aan ‘die boodskap wat hulle van die begin af gehoor het, dat hulle mekaar moet liefhê’, en moet in eendrag met God en die ware leer bly terwyl hulle met vrymoedigheid die geregtigheid doen (2:18; 3:11; 2:27-29). Uiters belangrik is ook die waarskuwing teen “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”, daardie materialistiese wêreldse euwels waardeur die meeste sogenaamde Christene verswelg is. Ware Christene sal die wêreld en sy begeerte vermy, wetende dat ‘hy wat die wil van God doen vir ewig bly’. Hoe nuttig is dit tog om in hierdie eeu van wêreldse begeerte, sektegees en haat God se wil aan die hand van die geïnspireerde Skrif te bestudeer en om daardie wil te doen!—2:15-17, NW.

12. Wat word in Eerste Johannes tot ons nut teenoor mekaar gestel, en hoe kan ons die wêreld oorwin?

12 Dit is tot ons nut dat Eerste Johannes die kontras duidelik maak tussen die lig wat van die Vader uitgaan en die waarheid-verwoestende duisternis van die Bose, tussen die lewegewende leringe van God en die bedrieglike leuens van die antichris, tussen die liefde wat te vinde is in die hele gemeente van dié wat in eendrag met die Vader asook met die Seun is en die moorddadige haat soos dié van Kain wat in diegene is wat ‘van ons uitgegaan het sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie almal van ons is nie’ (2:19; 1:5-7; 2:8-11, 22-25; 3:23, 24, 11, 12). Met hierdie insig behoort dit ons vurige begeerte te wees om ‘die wêreld te oorwin’. En hoe kan ons dit doen? Deur ’n sterk geloof asook “die liefde tot God” te hê, wat beteken dat ons sy gebooie bewaar.—5:3, 4.

13. (a) Hoe word die liefde tot God as ’n praktiese krag uitgelig? (b) Watter soort liefde moet die Christen besit, met watter eendrag as resultaat?

13 “Die liefde tot God”—hoe wonderlik word hierdie aandrywende krag tog deur die hele brief heen beklemtoon! In hoofstuk 2 word daar gewys op die skerp kontras tussen die liefde van die wêreld en die liefde van die Vader. Later word ons aandag daarop gevestig dat ‘God liefde is’ (4:8, 16). En hoe prakties is hierdie liefde tog nie! Dit het op luisterryke wyse tot uiting gekom toe die Vader “die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het” (4:14). Dit behoort in ons harte ’n waarderende, onbevreesde liefde op te wek, ooreenkomstig die apostel se woorde: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (4:19). Ons liefde moet van dieselfde soort wees as dié van die Vader en die Seun—’n praktiese, selfopofferende liefde. Net soos Jesus sy lewe vir ons afgelê het, so “behoort [ons] ons lewe vir die broeders af te lê”, ja, die deur van ons tere medelye oop te maak sodat ons ons broers liefhet, nie net met woorde nie, maar “met die daad en in waarheid” (3:16-18, vgl. NW). Soos Johannes se brief so duidelik toon, is dit hierdie liefde, gepaard met die ware kennis van God, wat diegene wat met God bly wandel in onverbreeklike eendrag met die Vader en die Seun saambind (2:5, 6). Dit is aan die Koninkrykserfgename in hierdie geseënde liefdesband dat Johannes sê: “En ons is in eendrag met die waaragtige, deur middel van sy Seun, Jesus Christus. Dit is die waaragtige God en die ewige lewe.”—5:20, NW.

[Voetnote]

a The International Standard Bible Encyclopedia, Dl. 2, 1982, onder redaksie van G. W. Bromiley, bladsye 1095-6.

b The Ecclesiastical History, III, xxiv, 17.

c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 1019.

d New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, onder redaksie van J. D. Douglas, bladsye 426, 604.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel