Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Snap jy altyd waaroor dit gaan?
    Die Wagtoring – 1987 | April 1
    • Snap jy altyd waaroor dit gaan?

      DIE ouer broer was smoorkwaad. Die voorwerp van sy woede was sy jonger broer. En die rede? Sy broer het die erkenning gekry wat hý ontsê is. Toe sy toorn toegeneem het, het ’n wyse kennis hom gemaan om sy gekrenkte gevoelens in toom te hou. Anders sou daar iets leliks gebeur. Maar die man het die goeie advies in die wind geslaan en het ’n tragedie veroorsaak deur sy jonger broer te vermoor.

      Daardie man was Kain, oudste seun van ons eerste ouers, Adam en Eva. Kain het sy jonger broer Abel doodgeslaan toe Jehovah Abel se offerande aanvaar en Kain s’n verwerp het. Die wyse kennis was niemand anders as Jehovah God nie, die gewer van die liefdevolle raad wat Kain verwerp het. Gevolglik het die nuwe mensegeslag met moord kennis gemaak, en Kain is veroordeel om die res van sy lang lewe as ’n verworpeling te slyt. Wat ’n droewe gevolg omdat hy nie gesnap het waaroor die raad gaan nie!—Genesis 4:3-16.

      Baie eeue ná Kain het koning Dawid van Israel egbreuk gepleeg met Batseba, die vrou van Uria die Hittiet, en die vrou het swanger geraak. Dawid het die probleem probeer oplos deur Uria aan te spoor om by sy vrou in te gaan. Toe hy geweier het, het Dawid gereël dat Uria op die slagveld sterf en toe self met Batseba getrou om te voorkom dat sy as ’n egbreekster tereggestel word. ’n Profeet van God het na Dawid gekom en hom die erns van sy daad op die hart gedruk. Dawid het gou gesnap waaroor die raad gaan. Hoewel hy die res van sy lewe weens daardie misdaad gely het, het Jehovah sy hartgrondige berou aanvaar.—2 Samuel 11:1–12:14.

      Hierdie twee historiese voorbeelde toon hoe belangrik dit is om na raad te luister. Dit kan die verskil beteken tussen welslae en mislukking, geluk en verdriet, selfs lewe en dood. Geen wonder nie dat die Bybel sê: “Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spreuke 12:15). Maar dit is nie maklik om na raad te luister nie. Waarom nie? Hoe kan ons die goeie gesindheid van koning Dawid in hierdie verband aankweek en die slegte voorbeeld van Kain vermy?

      Nederigheid help

      Mense vind dit dikwels moeilik om na raad te luister omdat hulle nie kan aanvaar dat hulle hulp nodig het nie. Of hulle kan nie insien waarom hulle hulp van hierdie persoon moet aanvaar nie. Dit is niks anders as trots nie en kan te bowe gekom word as ons ’n bietjie oor die saak redeneer. Paulus het byvoorbeeld gesê: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Dit toon dat almal van tyd tot tyd raad nodig het. Dit toon ook dat selfs dié wat vir ons raad gee tekortkominge het. Niemand is daarvan vrygestel nie. Moet dus nie toelaat dat die tekortkominge wat jy in iemand sien, verhinder dat jy die hulp aanvaar wat hy jou dalk kan gee nie.

      Jesus het beklemtoon dat ’n mens teen trots moet stry toe hy vir sy volgelinge gesê het: “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!” (Mattheüs 18:3). Kindertjies voel veilig wanneer hulle ouers hulle raad gee en lei. Is dit hoe jy voel wanneer iemand jou raad gee, omdat jy besef dat sulke raad ’n bewys is dat hy jou liefhet en oor jou besorg is? (Hebreërs 12:6). Koning Dawid, wie se berou deur Jehovah aanvaar is omdat hy nederig bereid was om na raad te luister, het geskryf: “Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig—hoofsalf sal my hoof nie weier nie.”—Psalm 141:5.

      So ’n sagmoedige gesindheid kan ons help wanneer ons raad ontvang in verband met iets waaroor daar nie vaste reëls is nie. As ons byvoorbeeld die raad ontvang dat ons voorkoms of kleredrag sommige in die gemeente laat struikel, kan dit ware nederigheid verg om die raad te snap. As ons egter die raad aanvaar, gee ons gehoor aan die apostel Paulus se vermaning: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander.”—1 Korinthiërs 10:24.

      Gelukkig het Jehovah ons die Bybel gegee, wat vol van die allerbeste raad is. Trouens, die woord “raad” in sy verskillende vorme kom meer as 170 keer daarin voor. Hy voorsien boonop liefdevolle herders om ons te help om hierdie raad toe te pas. Die gesin is nog ’n reëling wat Jehovah voorsien het om liefdevolle hulp te verleen deur die raad van ouers wat van hulle verantwoordelikhede bewus is. Laat ons altyd nederig na sulke raad luister.

      ‘Wees gou om te hoor’

      Jakobus 1:19 raai ons aan: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” Dit geld veral wanneer ons raad ontvang. Waarom? Om een ding te noem, ons is dikwels bewus van ons eie tekortkominge, sodat dit nie ’n algehele verrassing is wanneer ’n besorgde vriend ons daarop wys en ons raad gee nie. Dit maak dit beslis vir almal makliker as ons gou snap wat hy probeer sê en nederig die liefdevolle hulp aanvaar.

      Wanneer ’n vriend ons met raad nader, moet ons onthou dat hy of sy miskien taamlik senuweeagtig is. Dit is nie maklik om raad te gee nie. Miskien het die voornemende raadgewer lank gedink oor die woorde of benadering wat hy moet gebruik. ’n Ouere man sal dalk die gesprek begin deur ons te prys omdat ons goed vaar op die een of ander gebied van Christelike diens. Maar ons moenie dan sy beweegrede in twyfel trek as hy ons vervolgens raad gee nie. Die raadgewer benader die saak dalk met ’n ompad omdat hy nie taktloos of ongevoelig wil wees nie. As ons genoeg insig het om gou te snap waaroor dit gaan, sal dit die raadgewer se taak vergemaklik en ons miskien gekrenkte gevoelens spaar.

      Soms sal die raadgewer miskien ’n voorbeeld of ’n illustrasie gebruik om ons te help om die punt te snap. Een jong man het nog nie ’n verstokte sondaar geword nie maar het wel die spoor byster geraak. Toe hy met die jong man geredeneer het, het ’n ouer Christen ’n liniaal opgetel wat op die lessenaar gelê het. Hy het die liniaal in sy hande gebuig en gevra: “As ek die liniaal so buig, kan ek nog ’n reguit lyn daarmee meet?” Die jong man het die punt gesnap. Hy het die reëls probeer buig sodat dit aan sy eie begeertes voldoen. Die illustrasie het hom gehelp om die wyse raad van Spreuke 19:20 te volg: “Luister na raad en neem tug aan.”

      Onderskei indirekte raad

      Sulke insig kan ons help om voordeel te trek uit indirekte raad, selfs sonder die tussenkoms van iemand anders. Dit is wat met ’n jong man in Portugal gebeur het. Hy het die Bybel bestudeer en ’n eksemplaar van die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut gekry. Net ’n paar dae later het hy laat blyk dat hy die boek drie keer deurgelees het en daardeur gehelp is. In watter opsig? Die jong man het verduidelik:

      “Ek het geen ware hoop vir die toekoms gehad nie, maar hoofstuk 2 [“Waarom jy die toekoms met vertroue tegemoet kan gaan”] het betekenis aan my lewe gegee. Ek het ook al etlike jare die gewoonte om te masturbeer; niemand het ooit vir my gesê dat dit God mishaag en vir myself skadelik is nie. Nadat ek hoofstuk 5 [“Selfbevlekking en homoseksualiteit”] gelees het, het ek besluit om met hierdie gewoonte te breek. Hoofstuk 7 [“Jou klere en voorkoms sê iets—van jou”] het my gehelp om gesteld te wees op my voorkoms, en soos jy kan sien, het ek reeds my hare laat sny.”

      Hy het vervolg: “Ek het jare lank gerook. Hoofstuk 15 [“Dwelmmiddels—die sleutel tot ’n waarlik gelukkige lewe?”] het my reggehelp wat daardie saak betref. Ek het tot Jehovah gebid, en van Sondag af het ek nie weer ’n sigaret gerook nie. Weet jy, dit is nou ’n geruime tyd dat ek en my vriendin geslagsgemeenskap het, maar hoofstuk 18 [“Het geslagsedelikheid sin?”] het God se beskouing van hierdie saak onder my aandag gebring. Ek het reeds met haar daaroor gepraat, en sy het besluit om ons verhouding te beëindig.”

      Wat ’n vreugde om te sien dat ’n jong persoon in so ’n kort tydjie sulke groot veranderinge in sy lewe kon aanbring! Wat het dit moontlik gemaak? Die feit dat hy die dinge wat hy gelees het, kon onderskei as raad wat op hom van toepassing is.

      Die toepassing van raad hou voordele in

      Raad—hetsy ons dit indirek deur die Bybel of Bybellektuur of direk van ’n vriend ontvang—kan voordelig wees. Dit blyk uit die voorbeeld van ’n vader wat die hulp van geestelik ouere manne in sy gemeente ingeroep het omdat sy 18-jarige seun nie op sy tug gereageer het nie. Die Christen- ouere manne het liefdevol met die vader geredeneer. Dit het geblyk dat hy ’n ywer vir God se diens het, maar groter balans aan die dag moes lê in sy optrede teenoor sy gesin.

      Paulus se woorde is vir hom gelees: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Die vader is gevra om oor die volgende na te dink: Het die manier waarop hy sy seun probeer aanspoor het, al het hy dit goed bedoel, in werklikheid die seun vertoorn? Het hy verwag dat die seun sy voorbeeld van ywer vir Christelike vergaderinge en diens navolg sonder dat hy ’n liefde vir hierdie dinge in sy seun se hart probeer inskerp het? Het hy sy seun ‘geleer om Jehovah sy God te vrees’?—Deuteronomium 31:12, 13.

      Die vader het na die raad geluister en dit toegepas. Die resultaat? Sy 18-jarige seun woon nou Christelike vergaderinge by, en die vader hou ’n weeklikse Bybelstudie met hom. En soos die vader opgemerk het: “Ons het nou ’n baie beter vader-seun-verhouding”. Ja, vader sowel as seun het gesnap waaroor die raad gaan.

      Dit ly geen twyfel dat ons almal van tyd tot tyd foute begaan en raad nodig het nie (Spreuke 24:6). As ons die punt snap en ag gee op wyse raad, sal ons talle seëninge geniet. Een daarvan sal die allerkosbaarste seën wees: ons sal ’n sinvolle verhouding met ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, aankweek en handhaaf. Dan sal ons die woorde van koning Dawid ons eie maak: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het.”—Psalm 16:7.

  • ’n “Verrykende ontmoeting”
    Die Wagtoring – 1987 | April 1
    • ’n “Verrykende ontmoeting”

      GEDURENDE die noordelike somer van 1984 het Gerard, ’n jong man uit Frankryk, ’n avontuur aangepak wat ses maande sou duur—’n fietstoer deur die Verenigde State en Kanada. Die majestueuse Rotsgebergte het hom aangegryp, die vreedsame parke het hom gekalmeer, maar die toneel wat hy in Montmagny, Quebec, Kanada, gesien het, het hom die meeste beïndruk; dit het sy lewensloop verander.

      Op Sondag, 16 September, het Gerard deur Montmagny gery toe hy ’n lang string motors opgemerk het wat langs die pad geparkeer staan. Toe sien hy honderde mense wat op ’n bouperseel rondmaal. “Wat is hier aan die gang?” het hy een van die werkers gevra wat besig was om die verkeer te beheer. Hoewel die man besig was, het hy tog tyd afgeknyp om aan Gerard te verduidelik dat al hierdie werkers getuies van Jehovah is wat hulle naweek gebruik om ’n saal vir hulle godsdiensvergaderinge te bou. Gerard het toevallig daar aangekom tydens die laaste ure van ’n tweedaagse Koninkryksaalprojek—’n tyd van koorsagtige bedrywigheid. Hy was beïndruk deur alles wat hy gesien en gehoor het. Daardie aand het hy in sy dagboek geskryf: “Vanaand het ek Jehovah se Getuies ontmoet. Hulle het ’n huis in twee dae gebou. Daar was meer as 1 000 daar. Baie verrykende ontmoeting.”

      Kort daarna het Gerard na Frankryk teruggekeer. Twee jaar later, op 26 Julie 1986, het hy ’n brief aan die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Montmagny gepos. Hy het geskryf:

      ‘Onthou julle nog dat julle op die tweede dag van julle Koninkryksaal-bouprojek met ’n fietsryer uit Frankryk gepraat het? Daardie dag het die verkeersman ’n saadjie gesaai. ’n Paar maande later het die Getuies my in Frankryk besoek, en ek het hulle aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Omdat ek uit ’n eng Katolieke gesin kom, was die studie nie maklik nie. Maar Jehovah het die saad laat groei. Twee weke gelede is ek by ’n byeenkoms in Nantes gedoop. Ek dank Jehovah dat hy my toegelaat het om die waarheid te vind, en ek is dankbaar vir alles wat die broer my daardie Sondag, 16 September 1984, geleer het. Broederlike groete van ’n avonturier wat tot die waarheid bekeer is.’

      Watter blydskap het die gemeente in Montmagny ervaar toe Gerard se brief in hulle Koninkryksaal voorgelees is! Almal wat gehelp het om die saal te bou, het die waarheid van Salomo se woorde ondervind: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind” (Prediker 11:1). Ja, die goeie gevolge van Koninkryksaalprojekte is in baie opsigte langdurig en verreikend.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel