Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Ouers, wat leer julle kinders uit julle voorbeeld?
    Die Wagtoring – 1999 | Julie 1
    • Ouers, wat leer julle kinders uit julle voorbeeld?

      “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”—EFESIËRS 5:1, 2.

      1. Watter soort riglyne het Jehovah aan die eerste mensepaar voorsien?

      JEHOVAH is die Insteller van die gesinsreëling. Elke gesin het sy bestaan aan hom te danke omdat hy die eerste gesin tot stand gebring het en aan die eerste mensepaar die vermoë gegee het om kinders voort te bring (Efesiërs 3:14, 15). Hy het vir Adam en Eva basiese instruksies oor hulle verantwoordelikhede gegee en hulle ook voldoende geleentheid gegee om hulle eie inisiatief te gebruik om hierdie verantwoordelikhede na te kom (Genesis 1:28-30; 2:15-22). Nadat Adam en Eva gesondig het, het die situasies waarvoor gesinne te staan gekom het ingewikkelder geraak. Jehovah het nogtans op liefdevolle wyse riglyne voorsien wat sy knegte sou help om sulke situasies die hoof te bied.

      2. (a) Hoe het Jehovah geskrewe raad met mondelinge onderrigting aangevul? (b) Watter vraag moet ouers hulle afvra?

      2 As ons Grootse Onderrigter het Jehovah ons baie meer as net geskrewe riglyne gegee oor wat ons moet en nie moet doen nie. In die ou tyd het hy geskrewe onderrigting gekombineer met mondelinge onderrigting deur middel van die priesters en die profete en deur middel van gesinshoofde. Wie gebruik hy om sulke mondelinge onderrigting in ons dag te voorsien? Christen- ouer manne en ouers. As jy ’n ouer is, kom jy jou plig na om jou gesin in Jehovah se weë te onderrig?—Spreuke 6:20-23.

      3. Wat kan gesinshoofde oor doeltreffende onderrigting by Jehovah leer?

      3 Hoe moet sulke onderrigting in die gesin gegee word? Jehovah stel die voorbeeld. Hy sê uitdruklik wat goed en wat sleg is, en hy maak dikwels van herhaling gebruik (Exodus 20:4, 5; Deuteronomium 4:23, 24; 5:8, 9; 6:14, 15; Josua 24:19, 20). Hy gebruik gedagteprikkelende vrae (Job 38:4, 8, 31). Deur middel van illustrasies en werklike voorbeelde raak hy ons emosies en vorm hy ons harte (Genesis 15:5; Daniël 3:1-29). Ouers, probeer julle daardie voorbeeld volg wanneer julle julle kinders onderrig?

      4. Wat leer ons by Jehovah oor die toepassing van dissipline, en waarom is dissipline belangrik?

      4 Jehovah neem ’n ferm standpunt in vir wat reg is, maar hy verstaan die gevolge van onvolmaaktheid. Voordat hy dus onvolmaakte mense straf, onderrig hy hulle en gee hy hulle herhaalde waarskuwings en herinneringe (Genesis 19:15, 16; Jeremia 7:23-26). Wanneer hy dissiplineer, doen hy dit tot die regte mate, nooit uitermate nie (Psalm 103:10, 11; Jesaja 28:26-29). As ons ons kinders so behandel, toon dit dat ons Jehovah ken, en dit sal ook vir hulle makliker wees om hom te leer ken.—Jeremia 22:16, NW; 1 Johannes 4:8.

      5. Wat kan ouers by Jehovah leer oor hoe om te luister?

      5 Dit is wonderlik dat Jehovah as ’n liefdevolle hemelse Vader na ons luister. Hy hiet en gebied nie net nie. Hy moedig ons aan om ons hart voor hom uit te stort (Psalm 62:9). En as die gedagtes wat ons uitspreek nie heeltemal reg is nie, bestraf hy ons nie bulderend uit die hemel nie. Hy onderrig ons geduldig. Hoe gepas is die raad van die apostel Paulus dus: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders”! (Efesiërs 4:31–5:1). Wat ’n uitstekende voorbeeld stel Jehovah tog vir ouers terwyl hulle hulle kinders probeer onderrig! Dit is ’n voorbeeld wat ons hart bereik en maak dat ons in sy weg van die lewe wil wandel.

      Die invloed wat ’n mens se voorbeeld het

      6. Hoe word kinders deur die gesindheid en voorbeeld van hulle ouers beïnvloed?

      6 Benewens mondelinge onderrigting, het ’n voorbeeld ’n kragtige invloed op kinders. Of ouers nou daarvan hou of nie, hulle kinders gaan hulle navolg. Dit kan ouers verbly—en soms kan dit hulle skok—wanneer hulle hulle kinders dinge hoor sê wat hulle self gesê het. Wanneer die gedrag sowel as die gesindheid van die ouers diepe waardering vir geestelike sake weerspieël, het dit ’n positiewe invloed op die kinders.—Spreuke 20:7.

      7. Watter soort ouerlike voorbeeld het Jefta vir sy dogter gestel, en wat was die gevolg?

      7 Die uitwerking wat ’n ouer se voorbeeld het, word goed toegelig in die Bybel. Jefta, wat deur Jehovah gebruik is om Israel in ’n oorwinning oor die Ammoniete te lei, was ook ’n vader. Die verslag van Jefta se antwoord aan die koning van Ammon dui aan dat Jefta die geskiedenis van Jehovah se handelinge met Israel dikwels gelees het. Hy kon daardie geskiedenis vryelik aanhaal, en hy het sterk geloof in Jehovah getoon. Sy voorbeeld het sy dogter ongetwyfeld gehelp om die geloof op te bou en die selfopofferende gees aan te kweek wat sy geopenbaar het toe sy ’n leeftyd van diens betree het as ’n ongetroude vrou wat toegewyd was aan Jehovah.—Rigters 11:14-27, 34-40; vergelyk Josua 1:8.

      8. (a) Watter goeie gesindheid het Samuel se ouers geopenbaar? (b) Hoe het dit Samuel tot voordeel gestrek?

      8 Samuel was ’n voorbeeldige kind en regdeur sy lewe getrou aan God as ’n profeet. Sou jy graag wou hê dat jou kinders soos hy moet word? Ondersoek die voorbeeld wat Samuel se ouers, Elkana en Hanna, gestel het. Hoewel die situasie in hulle huisgesin nie volmaak was nie, het hulle gereeld na Silo opgegaan om te aanbid, na die plek waar die heilige tabernakel was (1 Samuel 1:3-8, 21). Let op met watter intense gevoel Hanna gebid het (1 Samuel 1:9-13). Kyk na hoe belangrik dit vir hulle albei was om enige belofte na te kom wat aan God gemaak is (1 Samuel 1:22-28). Hulle goeie voorbeeld het Samuel ongetwyfeld gehelp om die eienskappe aan te kweek wat hom in staat gestel het om die regte weg te volg—selfs wanneer mense om hom wat Jehovah oënskynlik gedien het geen respek vir God se weë getoon het nie. Mettertyd het Jehovah Samuel die verantwoordelikheid gegee om as Sy profeet te dien.—1 Samuel 2:11, 12; 3:1-21.

      9. (a) Wat het tuis ’n goeie invloed op Timoteus gehad? (b) Watter soort persoon het Timoteus geword?

      9 Sou jy graag wou hê dat jou seun soos Timoteus moet word, wat as ’n jong man ’n metgesel van die apostel Paulus geword het? Timoteus se vader was nie ’n gelowige nie, maar sy moeder en grootmoeder het ’n goeie voorbeeld van waardering vir geestelike dinge gestel. Dit het ongetwyfeld gehelp om ’n goeie grondslag te lê vir Timoteus se lewe as ’n Christen. Daar word vir ons gesê dat sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder, Loïs, “geloof . . . sonder enige huigelary” gehad het. Hulle lewe as Christene was nie toneelspel nie; hulle het werklik in ooreenstemming gelewe met wat hulle gesê het hulle glo, en hulle het vir jong Timoteus geleer om dieselfde te doen. Timoteus het bewys dat hy betroubaar was en dat hy opreg besorg was oor die welsyn van ander.—2 Timoteus 1:5; Filippense 2:20-22.

      10. (a) Watter voorbeelde buite die huis kan ons kinders beïnvloed? (b) Hoe moet ons reageer wanneer hierdie invloede in die spraak en gesindheid van ons kinders na vore kom?

      10 Die voorbeelde wat ons kinders beïnvloed, is nie net in die huis nie. Daar is die kinders saam met wie hulle skoolgaan, onderwysers wie se werk dit is om jong verstande te vorm, mense wat sterk daaroor voel dat almal volgens diepgewortelde gebruike in die stam of gemeenskap moet lewe, sporthelde wie se prestasies oral geprys word en staatsamptenare wie se gedrag opspraak verwek in die nuus. Miljoene kinders is ook al aan die wreedheid van oorlog blootgestel. Behoort dit ons te verbaas as hierdie invloede in die spraak of gesindheid van ons kinders na vore kom? Hoe reageer ons wanneer dit gebeur? Los ons die probleem op deur hulle skerp te berispe of hulle die leviete voor te lees? In plaas van dadelik te reageer op wat ons kinders sê, sal dit nie beter wees om ons af te vra nie: ‘Is daar iets in die manier waarop Jehovah met ons handel wat ons kan help om te sien hoe ons hierdie situasie moet hanteer?’—Vergelyk Romeine 2:4.

      11. Hoe kan dit die gesindheid van hulle kinders beïnvloed as ouers foute maak?

      11 Onvolmaakte ouers gaan natuurlik nie altyd situasies op die beste manier hanteer nie. Hulle gaan foute maak. Gaan die kinders se respek vir hulle ouers afneem wanneer hulle dit agterkom? Dit kan, veral as ouers hulle foute probeer toesmeer deur hulle gesag op ongevoelige wyse uit te oefen. Maar die uitkoms kan baie anders wees as die ouers nederig is en hulle foute openlik erken. Hulle kan sodoende ’n waardevolle voorbeeld stel vir hulle kinders, wat moet leer om dieselfde te doen.—Jakobus 4:6.

      Wat ons voorbeeld ons kinders kan leer

      12, 13. (a) Wat moet kinders oor liefde leer, en wat is die beste manier om hulle dit te leer? (b) Waarom is dit belangrik dat kinders omtrent liefde leer?

      12 Daar is talle waardevolle lesse wat die beste oorgedra kan word wanneer mondelinge onderrigting met ’n goeie voorbeeld gepaardgaan. Kom ons kyk na ’n paar.

      13 Hoe om onselfsugtige liefde te betoon: Een van die belangrikste lesse waaraan ons voorbeeld krag moet verleen, is die betekenis van liefde. “Ons het lief omdat [God] ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Hy is die Bron en allerbeste voorbeeld van liefde. Hierdie beginselvaste liefde, a·gaʹpe, word meer as 100 keer in die Bybel gemeld. Dit is ’n eienskap wat ware Christene identifiseer (Johannes 13:35). Ons moet sulke liefde teenoor God en Jesus Christus asook teenoor mekaar betoon—selfs teenoor mense van wie ons moontlik nie hou nie (Matteus 5:44, 45; 1 Johannes 5:3). Hierdie liefde moet in ons hart wees en in ons lewe gesien kan word voordat ons dit op doeltreffende wyse aan ons kinders kan leer. Ons voorbeeld beteken baie meer as ons woorde. In die gesin moet kinders liefde en ander verwante eienskappe, soos geneentheid, sien en ervaar. Sonder hierdie dinge word ’n kind se fisiese, verstandelike en emosionele ontwikkeling belemmer. Kinders moet ook sien hoe liefde en geneentheid op gepaste wyse teenoor mede-Christene buite die gesin betoon word.—Romeine 12:10; 1 Petrus 3:8.

      14. (a) Hoe kan kinders geleer word om goeie werk te doen wat bevrediging bring? (b) Hoe kan dit in julle gesin gedoen word?

      14 Hoe om te leer werk: Werk is ’n fundamentele aspek van die lewe. Om ’n gevoel van eiewaarde te hê, moet ’n mens leer hoe om goeie werk te doen (Prediker 2:24; 2 Tessalonisense 3:10). As ’n kind take gegee word en beswaarlik gewys word hoe om te werk te gaan en dan raas kry omdat hy dit nie goed doen nie, sal hy waarskynlik nie leer om goeie werk te doen nie. Maar wanneer kinders leer deur saam met hulle ouers te werk en gepaste lof gegee word, is die kanse groter dat hulle sal leer om werk te doen wat bevrediging bring. As die ouers se voorbeeld met verduidelikings gepaardgaan, sal die kinders nie net leer hoe om ’n taak te doen nie, maar ook hoe om probleme die hoof te bied, hoe om ’n taak enduit te voer en hoe om te redeneer en besluite te neem. In hierdie atmosfeer kan hulle gehelp word om te verstaan dat Jehovah ook werk, dat hy goeie werk doen en dat Jesus sy Vader navolg (Genesis 1:31; Spreuke 8:27-31; Johannes 5:17). As ’n gesin ’n plaas of ’n sakeonderneming het, kan van die gesinslede saam werk. Of miskien kan die moeder haar seun of dogter leer om te kook en ná ’n maaltyd op te ruim. ’n Vader wat weg van die huis af werk, kan reël om by die huis saam met sy kinders aan projekte te werk. Hoe voordelig is dit tog wanneer ouers nie net daaraan dink om take nou afgehandel te kry nie, maar om die kinders vir die lewe toe te rus!

      15. Op watter maniere kan lesse in geloof oorgedra word? Lig toe.

      15 Hoe om geloof te behou ten spyte van teëspoed: Geloof is ook ’n lewensbelangrike aspek van ons lewe. Wanneer geloof tydens ’n gesinstudie bespreek word, kan kinders leer om dit te definieer. Hulle sal ook moontlik bewus word van bewyse wat sal maak dat geloof in hulle hart sal begin groei. Maar wanneer hulle sien hoe hulle ouers onwrikbare geloof ten spyte van kwaai beproewinge toon, kan dit ’n lewenslange uitwerking op hulle hê. ’n Bybelstudent in Panama se man het gedreig dat hy haar uit die huis sou sit as sy voortgaan om Jehovah te dien. Sy het nogtans gereeld saam met haar vier kindertjies 16 kilometer geloop en dan nog 30 kilometer per bus afgelê om by die naaste Koninkryksaal uit te kom. Danksy haar voorbeeld het ongeveer 20 lede van haar familie die weg van die waarheid aangeneem.

      Stel ’n voorbeeld in daaglikse Bybellees

      16. Waarom word daar aanbeveel dat die gesin elke dag die Bybel moet lees?

      16 Een van die nuttigste gewoontes wat enige gesin kan hê—’n gewoonte waarby die ouers sal baat vind en wat ’n voorbeeld sal wees wat die kinders kan navolg—is om die Bybel gereeld te lees. Lees elke dag ’n deel van die Bybel, indien dit enigsins moontlik is. Dit is nie hoeveel julle lees wat die belangrikste is nie. Gereeldheid en die manier waarop julle dit doen, is baie belangriker. Vir kinders kan die Bybellees aangevul word met oudiokassette van My boek met Bybelverhale as dit in julle taal beskikbaar is. As ons God se Woord elke dag lees, help dit ons om God se gedagtes altyd in ag te neem. En as sulke Bybellees nie net deur individue nie, maar deur gesinne gedoen word, kan dit hele huisgesinne help om in Jehovah se weë te wandel. By die onlangse “God se weg van die lewe”-streekbyeenkoms is ons in die drama Gesinne—Maak daaglikse Bybellees deel van julle lewenswyse! aangemoedig om hierdie gewoonte aan te kweek.—Psalm 1:1-3.

      17. Hoe help dit om die raad in Efesiërs 6:4 toe te pas as ’n gesin die Bybel saam lees en sleuteltekste memoriseer?

      17 Bybellees as ’n gesin is in ooreenstemming met wat die apostel Paulus in sy geïnspireerde brief aan die Christene in Efese geskryf het, naamlik: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Wat beteken dit? “Verstandsregulering” beteken letterlik “denkwyse inskerp”; Christenvaders word dus aangespoor om Jehovah God se denkwyse in hulle kinders in te skerp—om kinders te help om God se gedagtes te leer ken. Julle kan die kinders help om dit te doen deur hulle aan te spoor om sleuteltekste te memoriseer. Die doel is om die kinders se denke deur Jehovah se gedagtes te laat lei sodat hulle begeertes en gedrag geleidelik Goddelike standaarde begin weerspieël, hetsy die ouers saam met die kinders is of nie. Die Bybel is die grondslag van sulke denke.—Deuteronomium 6:6, 7.

      18. Wanneer ons die Bybel lees, wat moet ons dalk doen sodat ons (a) dit duidelik sal verstaan? (b) sal baat vind by die raad wat dit bevat? (c) sal reageer op wat dit oor Jehovah se voorneme openbaar? (d) sal baat vind by wat dit oor die gesindhede en dade van mense sê?

      18 Ons moet natuurlik verstaan wat die Bybel sê voordat dit ’n uitwerking op ons lewe gaan hê. Vir baie sal dit beteken dat hulle sekere dele meer as een keer moet lees. Ons sal moontlik woorde in ’n woordeboek of in Insight on the Scriptures moet naslaan om sekere uitdrukkings duidelik te verstaan. As die teks raad of ’n opdrag bevat, moet ons tyd neem om oor situasies in ons dag te praat waarop dit van toepassing is. Dan kan jy vra: ‘Hoe kan dit ons tot voordeel strek as ons hierdie raad toepas?’ (Jesaja 48:17, 18, NW). As die teks oor die een of ander aspek van Jehovah se voorneme handel, kan jy vra: ‘Hoe word ons lewe hierdeur geraak?’ Moontlik lees julle ’n verslag wat handel oor die gesindhede en dade van mense. Met watter druk in die lewe het hulle te kampe gehad? Hoe het hulle dit hanteer? Hoe kan ons by hulle voorbeeld baat vind? Laat altyd tyd toe om te bespreek wat die verslag vandag in ons lewe beteken.—Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11.

      19. Wat sal ons vir ons kinders wees as ons navolgers van God is?

      19 Wat ’n uitstekende manier is dit tog nie om ons verstand en hart met God se denke te vul nie! Sodoende sal ons werklik gehelp word om “navolgers van God, as geliefde kinders” te word (Efesiërs 5:1). En ons sal ’n waarlik navolgenswaardige voorbeeld vir ons kinders wees.

      Onthou jy?

      ◻ Hoe kan ouers by Jehovah se voorbeeld baat vind?

      ◻ Waarom moet die mondelinge onderrigting van kinders met die goeie voorbeeld van ouers gepaardgaan?

      ◻ Wat is sommige lesse wat die heel beste deur ouers se voorbeeld oorgedra word?

      ◻ Hoe kan ons ten volle by Bybellees as ’n gesin baat vind?

  • Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin
    Die Wagtoring – 1999 | Julie 1
    • Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin

      “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan.”—MATTEUS 4:4.

      1. Wat sê die Bybel oor gesinshoofde se verantwoordelikheid om hulle kinders Jehovah se weë te leer?

      JEHOVAH GOD het gesinshoofde dikwels aan hulle verantwoordelikheid herinner om hulle kinders te leer. Sulke onderrigting sou die kinders vir die huidige lewe toerus en kon hulle ook help om voorbereid te wees op die lewe in die toekoms. ’n Engel wat God verteenwoordig het, het vir Abraham op sy verantwoordelikheid gewys om sy huisgesin te onderrig sodat hulle ‘die weg van die HERE sou hou’ (Genesis 18:19). Israelitiese ouers is aangesê om aan hulle kinders te verduidelik hoe God Israel uit Egipte verlos het en hoe hy hulle sy Wet by die berg Sinai, in Horeb, gegee het (Exodus 13:8, 9; Deuteronomium 4:9, 10; 11:18-21). Christengesinshoofde word vermaan om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). Selfs as net een ouer Jehovah dien, moet daardie ouer die kinders Jehovah se weë probeer leer.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.

      2. Moet ’n gesinstudie gehou word as daar geen kinders in die huis is nie? Verduidelik.

      2 Dit beteken nie dat gesinstudie van God se Woord slegs vir huisgesinne is waarin daar kinders is nie. Wanneer ’n man en vrou ’n gesinstudie het selfs as daar geen kinders in die huis is nie, toon dit dat hulle geestelike dinge hoog op prys stel.—Efesiërs 5:25, 26.

      3. Waarom is dit belangrik om die gesinstudie gereeld te hou?

      3 Om van die grootste nut te wees, moet onderrigting gereeld gegee word, in ooreenstemming met die les wat Jehovah Israel in die woestyn geleer het: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan’ (Deuteronomium 8:3). Sommige gesinne sal na gelang van hulle omstandighede ’n weeklikse studie reël; ander het dalk korter studiesessies elke dag. Ongeag hoe julle te werk gaan, moenie die studie aan die toeval oorlaat nie. ‘Koop die tyd uit’ daarvoor. Die opofferings wat ons moet maak ter wille van hierdie tyd is die moeite werd. Jou gesinslede se lewe is op die spel.—Efesiërs 5:15-17; Filippense 3:16.

      Doelwitte om in gedagte te hou

      4, 5. (a) Wat het Jehovah, deur middel van Moses, aan ouers as ’n belangrike doelwit voorgehou wanneer hulle hulle kinders onderrig? (b) Wat behels dit vandag?

      4 Wanneer julle die gesinstudie hou, sal dit die grootste voordeel inhou as julle spesifieke doelwitte in gedagte hou. Kom ons kyk na ’n paar moontlikhede.

      5 Probeer om by elke studie liefde vir Jehovah God op te bou. Terwyl Israel op die vlaktes van Moab vergader was, voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het, het Moses hulle aandag gevestig op wat Jesus Christus later as “die grootste gebod in die Wet” sou identifiseer. Wat was dit? “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Matteus 22:36, 37; Deuteronomium 6:5). Moses het die Israeliete aangespoor om dit in hulle eie hart in te prent en dit aan hulle kinders te leer. Dit sou herhaling verg, en dit sou vereis dat hulle die aandag vestig op redes om Jehovah lief te hê, dat hulle aandag gee aan gesindhede en gedrag wat die betoning van sulke liefde kon verhinder en dat hulle liefde vir Jehovah in hulle eie lewe openbaar. Het ons kinders dieselfde soort onderrigting nodig? Ja! En ook hulle het hulp nodig om hulle ‘hart te besny’, met ander woorde, om enigiets uit die weg te ruim wat hulle liefde vir God sal verhinder (Deuteronomium 10:12, 16; Jeremia 4:4). Een van hierdie hindernisse kan ’n begeerte wees na dinge van die wêreld en na geleenthede om by die bedrywighede daarvan betrokke te raak (1 Johannes 2:15, 16). Liefde vir Jehovah moet aktief wees. Ons moet daaraan uiting gee sodat dit ons beweeg om die dinge te doen wat ons hemelse Vader behaag (1 Johannes 5:3). As jy wil hê dat julle gesinstudie blywende voordele moet oplewer, moet elke sessie op ’n manier gehou word wat hierdie liefde versterk.

      6. (a) Wat is nodig om juiste kennis oor te dra? (b) Hoe beklemtoon die Skrif die belangrikheid van juiste kennis?

      6 Dra juiste kennis van God se vereistes oor. Wat behels dit? Dit behels meer as om net ’n antwoord uit ’n tydskrif of ’n boek te kan lees. Dit vereis gewoonlik ’n bespreking om seker te maak dat sleutelwoorde en hoofgedagtes duidelik verstaan word. Juiste kennis is ’n onontbeerlike faktor as ons ons met die nuwe persoonlikheid wil beklee, ons aandag op die werklik belangrike dinge gevestig wil hou wanneer ons met probleme in die lewe te kampe het en gevolglik as ons wil doen wat God werklik behaag.—Filippense 1:9-11; Kolossense 1:9, 10; 3:10.

      7. (a) Watter vrae kan gevra word om die gesin te help om studiemateriaal prakties toe te pas? (b) Hoe beklemtoon die Skrif die waarde van so ’n doelwit?

      7 Help om wat geleer word prakties toe te pas. Jy kan met hierdie doel voor oë tydens elke gesinstudie vra: ‘Hoe moet hierdie materiaal ons lewe raak? Vereis dit dat ons enige verandering aanbring in wat ons tans doen? Waarom sal ons graag aanpassings wil maak?’ (Spreuke 2:10-15; 9:10; Jesaja 48:17, 18). Om voldoende aandag te skenk aan die praktiese toepassing van die dinge wat geleer word, kan ’n belangrike faktor in die geestelike groei van gesinslede wees.

      Gebruik onderrighulpmiddels wyslik

      8. Watter hulpmiddels vir Bybelstudie het die slaafklas voorsien?

      8 “Die getroue en verstandige slaaf” het ’n oorvloed hulpmiddels voorsien wat vir studie gebruik kan word. Die Wagtoring, wat saam met die Bybel gebruik word, is in 131 tale beskikbaar. Daar is boeke vir Bybelstudie in 153 tale, brosjures in 284, oudiokassette in 61, videokassette in 41, selfs ’n rekenaarprogram vir Bybelnavorsing in 9 tale!—Matteus 24:45-47.

      9. Hoe kan ons die raad in die teksverwysings in hierdie paragraaf toepas wanneer ons die Wagtoring-studie as gesin doen?

      9 Baie gesinne berei tydens hulle gesinstudie vir die gemeentelike Wagtoring-studie voor. Hoe nuttig kan dit tog nie wees nie! Die Wagtoring bevat die vernaamste geestelike voedsel wat voorsien word om Jehovah se volk regoor die wêreld op te bou. Wanneer julle Die Wagtoring as ’n gesin bestudeer, moet julle nie net die paragrawe lees en die gedrukte vrae beantwoord nie. Span julle ernstig in om begrip te verkry. Neem tyd om teksverwysings na te slaan wat nie aangehaal word nie. Vra gesinslede om kommentaar te lewer oor hoe dit verband hou met wat in die paragraaf onder bespreking gesê word. Laat die inligting hulle hart bereik.—Spreuke 4:7, 23; Handelinge 17:11.

      10. Wat kan gedoen word om die kinders by die studie te betrek en dit ’n aangename tyd vir hulle te maak?

      10 As daar kinders in julle gesin is, wat kan julle doen sodat julle studie nie net ’n gesinsritueel is nie, maar ’n opbouende, interessante en gelukkige tyd? Probeer elkeen op ’n gepaste wyse betrokke hou sodat hulle aandag op die studiemateriaal gevestig bly. Waar moontlik moet julle reël dat elke kind sy eie Bybel en studietydskrif het. In navolging van die hartlikheid wat Jesus betoon het, kan ’n ouer ’n jong kind styf teen hom laat sit en moontlik ’n arm om die kleintjie sit. (Vergelyk Markus 10:13-16.) ’n Gesinshoof kan ’n kleintjie ’n prent in die studiemateriaal laat verduidelik. ’n Jong kind kan vooraf gevra word om ’n sekere teks te lees. ’n Ouer kind kan gevra word om maniere te meld waarop die studiemateriaal prakties toegepas kan word.

      11. Watter ander onderrighulpmiddels is voorsien, en hoe kan dit goed in die gesinstudie gebruik word waar dit beskikbaar is?

      11 Hoewel julle dalk Die Wagtoring as grondslag vir julle bespreking gebruik, moet julle nie van die ander studiehulpmiddels vergeet wat in baie tale beskikbaar is nie. As agtergrondinligting of ’n verduideliking van ’n Bybelse uitdrukking nodig is, kan Insight on the Scriptures dit voorsien. Ander vrae kan beantwoord word deur die Watch Tower Publications Index na te gaan of deur die Genootskap se rekenaarnavorsingsprogram te gebruik. As julle leer om hierdie hulpmiddels te gebruik indien dit in julle taal beskikbaar is, kan dit ’n waardevolle deel van julle gesinstudie wees. Met die doel om die kinders se belangstelling aan te wakker, kan julle ook van julle studietyd opsy sit om na ’n deel van een van die Genootskap se leersame video’s te kyk of na ’n deel van ’n drama op oudiokasset te luister en dit dan bespreek. As julle hierdie studiehulpmiddels goed gebruik, kan dit help om julle gesinstudie vir die hele gesin interessant en voordelig te maak.

      Pas by jou gesin se behoeftes aan

      12. Hoe kan die gesinstudie gebruik word om na dringende behoeftes in die gesin om te sien?

      12 Miskien bestudeer julle gesin gewoonlik die weeklikse les vir die Wagtoring-studie. Maar bly op hoogte van die probleme en behoeftes van julle gesin. As die moeder nie sekulêre werk doen nie, kan sy elke dag tyd met die kinders deurbring wanneer hulle van die skool af kom. Party situasies kan dan opgelos word; ander het dalk verdere aandag nodig. Wanneer daar dringende behoeftes in die gesin is, moet julle dit nie ignoreer nie (Spreuke 27:12). Dit sluit moontlik nie net probleme by die skool in nie, maar ook ander situasies. Kies gepaste materiaal en sê vir die gesin vooraf wat bestudeer gaan word.

      13. Waarom sal ’n gesinstudie oor hoe om armoede die hoof te bied moontlik nuttig wees?

      13 ’n Groot deel van die aarde word byvoorbeeld deur armoede geteister; in baie plekke sal dit dus moontlik nodig wees om te bespreek hoe om dit die hoof te bied. Sal ’n gesinstudie waarin werklike lewensituasies en Bybelbeginsels bespreek word nuttig wees vir julle huisgesin?—Spreuke 21:5; Prediker 9:11; Hebreërs 13:5, 6, 18.

      14. Watter situasies kan ’n gesinsbespreking van Jehovah se beskouing oor geweld, oorlog en Christelike neutraliteit tydig maak?

      14 ’n Ander onderwerp wat bespreek moet word, is geweld. Almal van ons moet Jehovah se beskouing diep in ons verstand en hart ingeprent hê (Genesis 6:13; Psalm 11:5). ’n Gesinstudie van hierdie onderwerp kan ’n geleentheid skep om te bespreek hoe om bullebakke by die skool te hanteer, of die verweerkuns aangeleer moet word en hoe om geskikte vermaak te kies. Gewelddadige konflikte het algemeen geword; byna elke land word deur burgeroorlog, deur politieke of etniese konflikte of deur bendeoorloë geteister. Gevolglik sal dit miskien nodig wees dat julle as ’n gesin bespreek hoe julle Christelike gedrag kan handhaaf terwyl julle omring word deur strydende faksies.—Jesaja 2:2-4; Johannes 17:16.

      15. Hoe moet onderrigting oor seks en die huwelik aan kinders gegee word?

      15 Namate kinders grootword, het hulle onderrigting oor seks en die huwelik nodig wat geskik is vir hulle ouderdom. In sommige kulture bespreek die meeste ouers nooit seks met hulle kinders nie. Oningeligte kinders kan verwronge idees van ander jeugdiges kry, en die gevolge kan rampspoedig wees. Sal dit nie beter wees om Jehovah na te volg wat openhartige raad maar in goeie smaak oor hierdie saak in die Bybel gee nie? Goddelike raad sal ons kinders help om hulle selfrespek te behou en lede van die teenoorgestelde geslag met waardigheid te behandel (Spreuke 5:18-20; Kolossense 3:5; 1 Tessalonisense 4:3-8). Selfs as julle hierdie sake alreeds bespreek het, moet julle nie huiwer om dit weer te doen nie. Herhaling is noodsaaklik namate nuwe situasies opduik.

      16. (a) Wanneer word die gesinstudie in verskillende huisgesinne gehou? (b) Hoe het julle hindernisse te bowe gekom sodat julle ’n gereelde gesinstudie kan hê?

      16 Wanneer kan die gesinstudie gehou word? In navolging van Bethelgesinne regoor die wêreld hou baie huisgesinne hulle gesinstudie op ’n Maandagaand. Ander hou dit weer op ’n verskillende tyd. In Argentinië het ’n gesin van 11, met 9 kinders, gereeld om vyfuur elke oggend opgestaan om hulle gesinstudie te hê. As gevolg van verskillende werkroosters kon hulle dit op geen ander tyd hou nie. Dit was nie maklik nie, maar dit het die belangrikheid van gesinstudie in die kinders se verstand en hart ingeprent. In die Filippyne het ’n ouer man ’n gereelde gesinstudie met sy vrou en hulle drie kinders gehad terwyl hulle opgegroei het. Gedurende die week het die ouers ook persoonlike studies met elk van die kinders gehad sodat elkeen die waarheid sy eie sou maak. In die Verenigde State loop ’n suster, wie se man nie ’n Getuie is nie, elke oggend saam met haar kinders na die skoolbus. Terwyl hulle vir die bus wag, lees en bespreek hulle ongeveer tien minute lank geskikte skriftuurlike studiemateriaal en dan doen die moeder ’n kort gebed voordat die kinders op die bus klim. Vir ’n vrou in die Demokratiese Republiek van die Kongo wie se ongelowige man die gesin verlaat het, verg dit groot inspanning om te studeer as gevolg van haar beperkte skoolopleiding. Haar volwasse seun help haar deur die gesin elke week te besoek om die leiding te neem in ’n studie met sy moeder en sy jonger broers. Die moeder stel ’n goeie voorbeeld deur goed voor te berei. Is daar een of ander situasie wat gereelde gesinstudie in julle huisgesin moeilik maak? Moenie moed opgee nie. Vra Jehovah opreg om jou pogings te seën om ’n gereelde Bybelstudie te hê.—Markus 11:23, 24.

      Belonings vir volharding

      17. (a) Wat is nodig om ’n gereelde gesinstudie te hê? (b) Watter ondervinding lig die waarde toe van gereelde gesinsonderrig in Jehovah se weë?

      17 Beplanning is nodig. Volharding is ’n vereiste. Maar die voordele van gereelde gesinstudie is beslis die moeite werd (Spreuke 22:6; 3 Johannes 4). Franz en Hilda van Duitsland het ’n gesin van 11 kinders grootgemaak. Jare later het hulle dogter Magdalena gesê: “Wat ek vandag as die belangrikste beskou, is dat daar nooit ’n dag verbygegaan het sonder dat ons geestelike onderrig ontvang het nie.” Toe die gees van nasionalisme onder die bewind van Adolf Hitler opgevlam het, het Magdalena se vader die Bybel gebruik om sy gesin voor te berei vir die toetse wat hy geweet het vir hulle voorlê. Mettertyd is die jonger gesinslede na ’n verbeteringskool gestuur; ander gesinslede is in hegtenis geneem en in gevangenisse en konsentrasiekampe gesit. Party is tereggestel. Nie een van hulle het hulle geloof prysgegee nie—nie net in daardie tyd van kwaai vervolging nie, maar ook, wat die oorlewendes betref, gedurende die jare daarna.

      18. Hoe is die pogings van enkelouers al beloon?

      18 Talle enkelouers, sowel as diegene wie se huweliksmaats nie aan dieselfde geloof as hulle behoort nie, het hulle kinders eweneens gereelde Bybelonderrig gegee. ’n Enkelmoeder, ’n weduwee, in Indië het hard gewerk om liefde vir Jehovah by haar twee kinders in te skerp. Haar hart is egter gebreek toe haar seun opgehou het om met Jehovah se volk om te gaan. Sy het Jehovah om vergifnis gesmeek vir waar sy ook al te kort geskiet het in die opleiding van haar seun. Maar die seun het nie werklik vergeet wat hy geleer het nie. Ná meer as ’n dekade het hy teruggekeer, goeie geestelike vordering gemaak en ’n gemeentelike ouer man geword. Nou dien hy en sy vrou as voltydse pionierbedienaars. Hoe dankbaar is daardie ouers tog wat ag geslaan het op die raad van Jehovah en sy organisasie om gereelde Bybelonderrig in die gesinskring te voorsien! Pas julle daardie raad in julle huisgesin toe?

      Kan jy verduidelik?

      ◻ Waarom is gereelde gesinstudie belangrik?

      ◻ Wat behoort ons doelwitte tydens elke gesinstudie te wees?

      ◻ Watter onderrighulpmiddels is aan ons beskikbaar gestel?

      ◻ Hoe kan die studie by die behoeftes van die gesin aangepas word?

      [Prent op bladsy 15]

      Spesifieke doelwitte sal julle gesinstudie verbeter

  • Gesinne, loof God as deel van sy gemeente
    Die Wagtoring – 1999 | Julie 1
    • Gesinne, loof God as deel van sy gemeente

      “Ek sal die HERE loof in die vergaderings.”—PSALM 26:12.

      1. Wat is ’n belangrike deel van ware aanbidding benewens studie en gebed by die huis?

      DIE aanbidding van Jehovah behels nie net dat ons by die huis bid en die Bybel bestudeer nie, maar behels ook bedrywighede as deel van die gemeente van God. Eertydse Israel is beveel om ‘die volk byeen te laat kom, die manne en die vroue en die kinders’ om die wet van God te leer sodat hulle in sy weg kon wandel (Deuteronomium 31:12; Josua 8:35). Oues sowel as ‘jongelinge en jongedogters’ is aangespoor om Jehovah se naam te loof (Psalm 148:12, 13). Soortgelyke reëlings geld in die Christengemeente. In Koninkryksale regoor die wêreld neem mans, vrouens en kinders vryelik deel aan sessies wat die gehoor betrek, en vir baie verskaf dit groot vreugde om daaraan deel te neem.—Hebreërs 10:23-25.

      2. (a) Waarom is voorbereiding uiters belangrik om kinders te help om die vergaderinge te geniet? (b) Wie se voorbeeld is belangrik?

      2 Dit sal dalk ’n uitdaging wees om kinders te help om in ’n heilsame roetine van gemeentelike bedrywigheid te kom. Wat is dalk die probleem as sommige kinders wat die vergaderinge saam met hulle ouers bywoon nie die vergaderinge geniet nie? Natuurlik kan die meeste kinders nie lank konsentreer nie en raak hulle maklik verveeld. Voorbereiding kan nuttig wees om hierdie probleem te oorkom. Sonder voorbereiding kan kinders nie ’n betekenisvolle aandeel aan die vergaderinge hê nie (Spreuke 15:23). Sonder voorbereiding sal dit vir hulle moeilik wees om bevredigende geestelike vordering te maak (1 Timoteus 4:12, 15). Wat kan gedoen word? Eerstens moet ouers vra of hulle self vir die vergaderinge voorberei. Hulle voorbeeld is ’n kragtige invloed (Lukas 6:40). Sorgvuldige beplanning van die gesinstudie kan ook ’n belangrike faktor wees.

      Bou die hart op

      3. Waarom moet ’n spesiale poging aangewend word om harte tydens die gesinstudie op te bou, en wat vereis dit?

      3 Die gesinstudie moet nie net ’n tyd wees om koppe met kennis te vul nie, maar ook om harte op te bou. Dit vereis ’n bewustheid van die probleme waarmee gesinslede te kampe het sowel as liefdevolle besorgdheid oor elkeen van hulle. Jehovah is “’n ondersoeker van die hart”.—1 Kronieke 29:17, NW.

      4. (a) Wat beteken dit om ‘aan hart te ontbreek’? (b) Wat behels dit om ‘hart te verwerf’?

      4 Wat vind Jehovah wanneer hy die harte van ons kinders ondersoek? Die meeste van hulle sal sê dat hulle God liefhet, en dit is prysenswaardig. Maar iemand wat jonk is of onlangs aangaande Jehovah begin leer het, het min ondervinding in Jehovah se weë. Omdat hy onervare is, ‘ontbreek dit hom dalk aan hart’, soos die Bybel dit stel. Miskien is nie al sy motiewe sleg nie, maar dit neem tyd om ’n mens se hart in ’n toestand te kry wat God werklik sal behaag. Dit behels dat ’n mens jou gedagtes, begeertes, geneenthede, emosies en doelwitte in die lewe in lyn bring met wat God goedkeur, in die mate wat dit vir onvolmaakte mense moontlik is. Wanneer iemand sulke vorming van die innerlike mens op ’n goddelike wyse doen, ‘verwerf hy hart’.—Spreuke 9:4, NW; 19:8, NW.

      5, 6. Hoe kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’?

      5 Kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’? Dit is so dat niemand vir ’n ander ’n goeie hartstoestand kan gee nie. Elkeen van ons het wilsvryheid, en baie hang af van dit waaroor ons onsself toelaat om te dink. Maar met onderskeidingsvermoë kan ouers dikwels uitvind wat in hulle kinders se hart is en waar hulle hulp nodig het. Gebruik vrae soos: ‘Hoe voel jy hieroor?’ en ‘Wat wil jy graag doen?’ Luister dan geduldig. Moenie oorreageer nie (Spreuke 20:5, NW). ’n Atmosfeer van goedhartigheid, begrip en liefde is belangrik as jy die hart wil bereik.

      6 Om goeie gesindhede op te bou, moet julle die vrugte van die gees gereeld bespreek—elke aspek daarvan—en as ’n gesin saam werk om dit aan te kweek (Galasiërs 5:22, 23). Bou liefde vir Jehovah en vir Jesus Christus op, nie bloot deur te sê dat ons hulle behoort lief te hê nie, maar deur te bespreek waarom ons hulle liefhet en hoe ons daardie liefde kan betoon (2 Korintiërs 5:14, 15). Versterk die begeerte om te doen wat reg is deur te redeneer oor die voordele wat dit inhou. Bou die begeerte op om verkeerde gedagtes, spraak en gedrag te vermy deur die slegte gevolge daarvan te bespreek (Amos 5:15; 3 Johannes 11). Toon hoe gedagtes, spraak en gedrag—hetsy goed of sleg—’n mens se verhouding met Jehovah kan raak.

      7. Wat kan gedoen word om kinders te help om probleme die hoof te bied en om besluite só te neem dat hulle na aan Jehovah sal bly?

      7 Wanneer ’n kind ’n probleem het of ’n belangrike besluit moet neem, kan ons hom vra: ‘Hoe dink jy beskou Jehovah dit? Wat weet jy omtrent Jehovah wat jou dit laat sê? Het jy hom in gebed daaroor genader?’ Begin so vroeg as moontlik en help julle kinders om ’n lewenspatroon op te bou waarin ’n ernstige poging altyd aangewend word om uit te vind wat God se wil is en dit dan te doen. Namate hulle ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah ontwikkel, sal hulle dit geniet om in sy weë te wandel (Psalm 119:34, 35). Dit sal in hulle ’n waardering opbou vir die voorreg om met die gemeente van die ware God om te gaan.

      Voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge

      8. (a) Wat kan ons help om alles wat aandag nodig het in ons gesinstudie in te sluit? (b) Hoe belangrik is hierdie studie?

      8 Daar is baie sake wat tydens die gesinstudie aandag verg. Hoe kan julle dit alles inpas? Dit is onmoontlik om alles op een slag te doen. Maar julle sal dit dalk nuttig vind om ’n lysie op te stel (Spreuke 21:5). Hersien die lysie van tyd tot tyd en bepaal wat spesiale aandag nodig het. Toon opregte belangstelling in die vordering van elke gesinslid. Hierdie reëling vir gesinstudie is ’n belangrike deel van Christelike onderrigting en rus ons toe vir die teenswoordige lewe en berei ons voor vir die ewige lewe in die toekoms.—1 Timoteus 4:8.

      9. Aan watter doelwitte in verband met voorbereiding vir vergaderinge kan ons gedurende ons gesinstudies progressief werk?

      9 Sluit julle gesinstudie voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge in? Daar is ’n aantal projekte waaraan julle progressief kan werk terwyl julle saam studeer. Party van hulle kan weke, maande of selfs jare neem om te voltooi. Oorweeg hierdie doelwitte: (1) elkeen in die gesin is gereed om by die gemeentelike vergaderinge kommentaar te lewer; (2) elkeen probeer om kommentare in sy eie woorde te gee; (3) sluit tekste in kommentare in en (4) ondersoek die materiaal noukeurig met die doel om dit persoonlik toe te pas. Al hierdie dinge kan ’n mens help om die waarheid jou eie te maak.—Psalm 25:4, 5.

      10. (a) Hoe kan ons aan elkeen van ons gemeentelike vergaderinge aandag gee? (b) Waarom is dit die moeite werd?

      10 Selfs as julle gesinstudie gewoonlik op die Wagtoring-studie vir die week gebaseer is, moet julle nie die belangrikheid van individuele of gesinsvoorbereiding vir die Gemeentelike Boekstudie, die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering oor die hoof sien nie. Dit is ook belangrike aspekte van die program om ons te leer om op Jehovah se weg te wandel. Julle sal dalk van tyd tot tyd as ’n gesin vir die vergaderinge kan voorberei. As julle saam werk, sal julle beter studente word. Gevolglik sal julle groter voordeel trek uit die vergaderinge self. Bespreek onder meer die voordele van gereelde voorbereiding vir hierdie vergaderinge en die belangrikheid daarvan om ’n spesifieke tyd daarvoor opsy te sit.—Efesiërs 5:15-17.

      11, 12. Hoe sal voorbereiding vir gemeentelike sang ons tot voordeel strek, en hoe kan ons dit doen?

      11 By die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste is ons aangespoor om vir ’n ander deel van ons vergaderinge voor te berei—die sang. Het julle daarop ag geslaan? As ons dit doen, kan dit ons help om Bybelwaarhede in ons verstand en hart in te prent en terselfdertyd kan dit ons help om vergaderinge meer te geniet.

      12 As ons van die liedere wat gesing gaan word tydens ons voorbereiding lees en die betekenis van die woorde bespreek, kan dit ons help om uit die hart te sing. In eertydse Israel was die gebruik van musiekinstrumente ’n belangrike deel van aanbidding (1 Kronieke 25:1; Psalm 28:7). Bespeel iemand in julle gesin ’n musiekinstrument? Gebruik gerus daardie instrument om een van die Koninkryksliedere vir die week te oefen, en sing dan die lied saam as ’n gesin. ’n Ander moontlikheid is om ’n opname van die liedere te gebruik. In sommige lande sing ons broers pragtig sonder begeleiding. Wanneer hulle êrens heen loop of op die landerye werk, sing hulle dikwels die liedere wat daardie week by die gemeentelike vergaderinge gesing gaan word.—Efesiërs 5:19.

      Berei as ’n gesin vir velddiens voor

      13, 14. Waarom is gesinsbesprekings wat ons hart vir die veldbediening voorberei nuttig?

      13 Dit is ’n belangrike deel van ons lewe om vir ander van Jehovah en sy voorneme te getuig (Jesaja 43:10-12; Matteus 24:14). Hetsy oud of jonk, ons geniet hierdie werk meer en ons bereik meer as ons voorbereid is. Hoe kan ons dit in die gesin doen?

      14 Soos met alles wat met ons aanbidding verband hou, is dit belangrik om ons hart voor te berei. Ons moet nie net bespreek wat ons gaan doen nie, maar ook waarom ons dit gaan doen. In die dae van koning Josafat is die volk God se wet geleer, maar die Bybel sê vir ons dat hulle “nog nie hulle hart berei” het nie. Dit het hulle kwesbaar gelaat vir verlokkinge wat hulle van ware aanbidding kon laat afdwaal (2 Kronieke 20:33, NW; 21:11). Ons doel is nie net om ure te kan rapporteer wat ons in die velddiens deurgebring het nie, en dit is ook nie bloot om lektuur by mense te laat nie. Ons bediening moet ’n blyk wees van ons liefde vir Jehovah en van ons liefde vir mense wat die geleentheid moet kry om die lewe te kies (Hebreërs 13:15). Dit is ’n werk waarin ons “God se medewerkers” is (1 Korintiërs 3:9). Wat ’n voorreg is dit tog! Wanneer ons aan die bediening deelneem, werk ons saam met die heilige engele (Openbaring 14:6, 7). Daar is nie ’n beter tyd om waardering hiervoor op te bou as in gesinsbesprekings nie, hetsy dit tydens ons weeklikse studie is of wanneer ons ’n gepaste teks uit Ondersoek die Skrif elke dag bespreek!

      15. Wanneer kan ons as ’n gesin vir velddiens voorberei?

      15 Neem julle soms tyd gedurende julle gesinstudie om die lede van julle huisgesin te help om vir die week se velddiens voor te berei? Dit kan baie voordelig wees (2 Timoteus 2:15). Dit kan help om hulle diens betekenisvol en produktief te maak. Julle kan van tyd tot tyd ’n hele studiesessie vir sulke voorbereiding opsy sit. Julle kan meer dikwels in korter besprekings aan die einde van die gesinstudie of op ’n ander tyd gedurende die week aan aspekte van die veldbediening aandag gee.

      16. Bespreek die waarde van elkeen van die stappe wat in die paragraaf genoem word.

      16 Gesinsbesprekings kan ’n reeks stappe insluit, soos die volgende: (1) Berei ’n aanbieding voor wat goed geoefen word en ’n Bybelteks insluit wat gelees kan word indien die geleentheid hom voordoen. (2) Maak seker dat elkeen, indien moontlik, sy eie velddienssak, ’n Bybel, ’n notaboekie, ’n pen of potlood, traktate en ander lektuur het wat in ’n goeie toestand is. Die velddienssak hoef nie duur te wees nie, maar dit moet netjies wees. (3) Bespreek waar en hoe om informele getuieniswerk te doen. Volg elkeen van hierdie stadiums van onderrigting op deur saam in die velddiens te werk. Gee praktiese wenke, maar moenie oor te veel punte raad gee nie.

      17, 18. (a) Watter soort voorbereiding as ’n gesin kan help om ons veldbediening produktiewer te maak? (b) Watter aspek van hierdie voorbereiding kan elke week gedoen word?

      17 ’n Groot deel van die werk wat Jesus Christus sy volgelinge gegee het, is om dissipels te maak (Matteus 28:19, 20). Om dissipels te maak, behels meer as om net die predikingswerk te doen. Dit vereis dat ons ander onderrig. Hoe kan julle gesinstudie julle help om dit met welslae te doen?

      18 Bespreek as ’n gesin by wie dit goed sal wees om herbesoeke te doen. Party van hulle het dalk lektuur geneem; party het miskien net geluister. Julle het hulle miskien van huis tot huis of tydens informele getuieniswerk by die winkel of skool ontmoet. Laat God se Woord julle lei (Psalm 25:9; Esegiël 9:4). Besluit wie elkeen van julle daardie week wil besoek. Wat gaan julle bespreek? ’n Gesinsbespreking kan elkeen help om voor te berei. Maak ’n aantekening van spesifieke tekste wat julle vir belangstellendes wil wys sowel as gepaste gedagtes uit die brosjure Wat vereis God van ons? of die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Moenie te veel materiaal tydens een besoek probeer dek nie. Laat die huisbewoner met ’n vraag wat tydens die volgende besoek beantwoord sal word. Maak dit gerus deel van die gesinsroetine om te beplan watter herbesoeke elkeen gaan doen, wanneer hy dit gaan doen en wat hy hoop om te bereik. As julle dit doen, kan dit help om die hele gesin se veldbediening produktiewer te maak.

      Gaan voort om hulle Jehovah se weg te leer

      19. Wat moet gesinslede ervaar sodat hulle kan voortgaan om in Jehovah se weg te wandel, en wat dra hiertoe by?

      19 Dit is ’n uitdaging om ’n gesinshoof in hierdie goddelose wêreld te wees. Satan en sy demone probeer om die geestelikheid van Jehovah se knegte te vernietig (1 Petrus 5:8). Daarbenewens is daar vandag baie druk op ouers, veral enkelouers. Dit is moeilik om die tyd te vind om alles te doen wat julle graag wil doen. Maar dit is die moeite werd, al kan julle net een wenk op ’n slag toepas en julle gesinstudieprogram geleidelik verbeter. Dit is ’n hartverblydende beloning om te sien hoe diegene wat baie na aan jou is lojaal in Jehovah se weg wandel. As gesinslede suksesvol in Jehovah se weg wil wandel, moet hulle vreugde put uit die bywoning van gemeentelike vergaderinge en uit die veldbediening. Om dít reg te kry, moet ’n mens voorberei—voorbereiding wat die hart opbou en elkeen toerus om ’n betekenisvolle deelname daaraan te hê.

      20. Wat kan meer ouers help om die vreugde te ondervind waarvan 3 Johannes 4 praat?

      20 Die apostel Johannes het aangaande diegene geskryf wat hy geestelik gehelp het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Gesinstudies wat gehou word met duidelike doelwitte in gedagte en gesinshoofde wat op ’n goedhartige, behulpsame wyse in die individuele behoeftes van gesinslede voorsien, kan baie daartoe bydra dat die gesin sulke vreugde kan ervaar. Deur waardering op te bou vir God se weg van die lewe, help ouers hulle gesin om die heel beste lewenswyse te geniet.—Psalm 19:8-12.

      Kan jy verduidelik?

      ◻ Waarom is dit so belangrik dat ons kinders vir vergaderinge voorberei?

      ◻ Hoe kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’?

      ◻ Hoe kan ons gesinstudie ons help om vir al die vergaderinge voor te berei?

      ◻ Hoe kan dit ons help om groter welslae in die veldbediening te behaal as ons as ’n gesin daarvoor voorberei?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel