Hoe jy kan reageer op potensiële gesprekdempers
Kommentaar: Mense se lewensvooruitsigte hang af van hulle gesindheid teenoor Jehovah God en sy Koninkryk in die hande van Christus Jesus. Die boodskap oor God se Koninkryk is aangrypend, en dit wys op die enigste betroubare hoop vir die mensdom. Dit is ’n boodskap wat lewens verander. Ons wil hê dat almal dit moet hoor. Ons besef dat slegs ’n minderheid dit met waardering sal aanneem, maar ons weet dat mense dit ten minste moet hoor voordat hulle ’n oorwoë keuse sal kan doen. Nie almal is egter bereid om te luister nie, en ons probeer nie om hulle te dwing om te luister nie. Maar met goeie oordeel is dit dikwels moontlik om potensiële gesprekdempers te verander in geleenthede vir verdere bespreking. Hier is voorbeelde van wat sommige ervare Getuies sê in hulle poging om verdienstelike persone te vind (Matt. 10:11). Ons beveel nie aan dat jy enige van hierdie antwoorde uit die hoof leer nie, maar dat jy die gedagte snap, dit in jou eie woorde stel en op ’n manier oordra wat getuig van jou opregte belangstelling in die persoon met wie jy praat. Dan kan jy die vertroue hê dat diegene wat die regte gesindheid het, sal luister en met waardering sal reageer op wat Jehovah doen om hulle na sy liefdevolle voorsienings vir die lewe te trek.—Joh. 6:44; Hand. 16:14.
‘EK STEL NIE BELANG NIE’
● ‘Mag ek vra: Bedoel u dat u nie in die Bybel belangstel nie, of stel u nie in godsdiens oor die algemeen belang nie? Ek vra dit omdat ons baie mense teëkom wat eens godsdienstig was maar nie meer kerk toe gaan nie omdat hulle soveel skynheiligheid in die kerke sien (of, omdat hulle meen dat godsdiens net nog ’n geldmakery is; of, omdat hulle nie godsdiens se betrokkenheid by die politiek goedkeur nie; ens.). Die Bybel keur ook nie sulke gebruike goed nie, en dit bied die enigste grondslag waarop ons die toekoms met vertroue tegemoet kan gaan.’
● ‘As u bedoel dat u nie in ’n ander geloof belangstel nie, kan ek dit begryp. Maar u stel heel waarskynlik daarin belang om te weet watter soort toekoms ons kan verwag met die oog op die bedreiging van kernoorlog (of, hoe ons ons kinders teen dwelmmisbruik kan beskerm; of, wat omtrent misdadigheid gedoen kan word sodat ons nie bang hoef te wees om op straat te gaan nie; ens.). Lyk dit vir u of daar ’n gewisse oplossing vir hierdie probleem is?’
● ‘Is dit omdat u reeds aan ’n kerk behoort? . . . Sê vir my: Dink u die tyd sal ooit aanbreek wanneer almal aan dieselfde geloof behoort? . . . Wat dink u is die struikelblok? . . . Watter soort grondslag sou nodig wees om te verseker dat dit slaag?’
● ‘Ek kan dit begryp. ’n Paar jaar gelede het ek net so gevoel. Maar ek het iets in die Bybel gelees wat my gehelp het om sake in ’n ander lig te beskou. (Wys vir die persoon wat dit was.)’
● ‘Sal u belangstel as ek vir u uit die Bybel kon toon hoe u weer u gestorwe dierbares kan sien (of, wat die werklike doel van die lewe is; of, hoe dit ons kan help om ons gesinne verenig te hou; ens.)?’
● ‘As u bedoel dat u nie daarin belangstel om iets te koop nie, kan ek u gerusstel. Ek doen nie ’n verkoopwerk nie. Maar sal u belangstel in die geleentheid om vry van siekte en misdadigheid op ’n paradysaarde te lewe saam met bure wat u werklik liefhet?’
● ‘Is dit wat u gewoonlik sê wanneer Jehovah se Getuies u besoek? . . . Het u al ooit werklik gewonder waarom ons voortdurend terugkom of wat ons te sê het? . . . Kortliks, die rede waarom ek na u gekom het, is omdat ek iets weet wat u ook moet weet. Luister gerus net hierdie een keer.’
‘EK STEL NIE IN GODSDIENS BELANG NIE’
● ‘Ek kan verstaan hoe u voel. Om eerlik te wees, die kerke maak die wêreld nie ’n veiliger plek nie, nie waar nie? . . . Mag ek vra: Het u nog altyd so gevoel? . . . Maar glo u in God?’
● ‘Daar is baie mense wat ook daardie beskouing huldig. Godsdiens het hulle nie werklik gehelp nie. Dit is een rede waarom ons mense besoek—omdat die kerke nie vir mense die waarheid oor God en sy wonderlike voorneme met die mensdom vertel het nie.’
● ‘Maar ek is seker dat u in u toekoms belangstel. Het u geweet dat die Bybel die einste toestande wat vandag in die wêreld bestaan, voorspel het? . . . En dit toon waarop dit gaan uitloop.’
● ‘Het u nog altyd so gevoel? . . . Hoe voel u oor die toekoms?’
‘EK STEL NIE IN JEHOVAH SE GETUIES BELANG NIE’
● ‘Baie mense sê dit vir ons. Het u al ooit gewonder waarom mense soos ek aanbied om hierdie besoeke te doen al weet ons dat die meeste huisbewoners ons nie gaan verwelkom nie? (Gee die kern van Mattheüs 25:31-33, en verduidelik dat die mense van alle nasies nou geskei word en dat hulle reaksie op die Koninkryksboodskap ’n belangrike faktor hierin is. Of gee die kern van Esegiël 9:1-11, en verduidelik dat almal, op grond van hulle reaksie op die Koninkryksboodskap, ’n “teken” ontvang, òf vir behoud deur die groot verdrukking òf vir vernietiging deur God.)’
● ‘Ek kan dit begryp, want ek het net so gevoel. Maar net om billik te wees, het ek na een van hulle geluister. En ek het uitgevind dat ek nie die waarheid omtrent hulle vertel is nie. (Meld ’n algemene valse beskuldiging en verduidelik dan wat ons glo.)’
● ‘’n Ruk gelede het ek presies dieselfde gesê vir ’n Getuie wat by my deur aangeklop het. Maar voordat hy vertrek het, het ek ’n vraag gestel wat ek seker was hy nie sou kon beantwoord nie. Wil u weet wat dit was? . . . (Byvoorbeeld: Waar het Kain sy vrou gekry?)’ (Vir gebruik deur diegene wat werklik so ’n ondervinding gehad het.)
● ‘As u ’n godsdienstige persoon is, kan ek dit verstaan. U eie geloof beteken ongetwyfeld vir u baie. Maar ek meen dat u sal saamstem dat ons albei belangstel in (meld ’n gepaste onderwerp).’
● ‘Dan het u ongetwyfeld u eie geloof. Aan watter kerk behoort u? . . . Ons geniet dit om met mense van u kerk te praat. Hoe voel u omtrent (meld ’n onderwerp vir bespreking)?’
● ‘Ja, ek begryp. Maar die rede waarom ons mense besoek, is omdat ons ’n gesin is wat graag wil sien dat mense in vrede saamleef. Ons is siek en sat om elke aand berigte van oorlog en lyding oor die nuus te ontvang. Ek neem aan u voel ook so. . . . Maar wat kan die nodige verandering teweegbring? . . . Ons put bemoediging uit die Bybel se beloftes.’
● ‘Ek waardeer dit dat u vir my sê hoe u voel. Wat is dit omtrent ons waarvan u nie hou nie? Is dit die dinge wat ons vir u in die Bybel wys, of is dit omdat ons u besoek?’
‘EK HET MY KERK’
● ‘Sê vir my: Leer u kerk dat diegene wat geregtigheid liefhet eendag vir ewig op die aarde gaan lewe? . . . Dit is ’n aanloklike gedagte, nie waar nie? . . . Dit staan reg hier in die Bybel (Psalm 37:29; Matt. 5:5; Openb. 21:4).’
● ‘Ek stem saam dat elke persoon self hieroor moet besluit. Maar het u geweet dat God self na ’n sekere klas mense soek om sy ware aanbidders te wees? Kyk wat sê dit hier in Johannes 4:23, 24. Wat sou dit beteken om God “in waarheid” te aanbid? . . . Wat het God ons gegee om ons te help om te weet wat waar is en wat nie waar is nie? . . . (Joh. 17:17). En let op hoe belangrik dit vir ons persoonlik is (Joh. 17:3).’
● ‘Is u al van kleins af godsdienstig? . . . Dink u dat die mensdom ooit net een geloof sal hê? . . . Ek het al baie daaroor nagedink na aanleiding van wat hier in Openbaring 5:13 geskryf staan. . . . Wat is nodig sodat ons in hierdie prentjie kan pas?’
● ‘Ek het gehoop om iemand soos u teë te kom wat in geestelike dinge belangstel. So baie mense stel vandag nie daarin belang nie. Mag ek vra: Hoe voel u oor die Bybel se belofte dat God alle goddeloosheid gaan uitwis en hierdie aarde ’n plek gaan maak waar slegs liefhebbers van geregtigheid gaan woon? Klink dit vir u aanloklik?’
● ‘Is u baie betrokke by u kerk se bedrywighede? . . . Is die kerk deesdae taamlik vol vir dienste? . . . Vind u dat die meeste lidmate werklik hard probeer om God se Woord in die daaglikse lewe toe te pas? (Of: Vind u dat daar eensgesindheid onder die lidmate bestaan oor die oplossing vir die probleme waarmee die wêreld te kampe het?) Ons vind dat persoonlike Bybelonderrig tuis help.’
● ‘U is klaarblyklik tevrede met u kerk. Maar die meeste mense is nie tevrede met wêreldtoestande nie. Is dit ook met u die geval? . . . Waarop stuur dit alles af?’
● ‘Is u ’n persoon wat daarvan hou om die Bybel te lees? . . . Kry u kans om dit gereeld te lees?’
● ‘Ek waardeer dit dat u dit vir my sê. Ek is seker dat u sal saamstem dat ons almal, ongeag ons godsdiensverband, baie belangstel in wêreldvrede (of, maniere om ons kinders teen slegte invloede te beskerm; of, om ’n buurt te hê waar die mense mekaar werklik liefhet; of, om goeie verhoudinge met ander mense te geniet, en dit kan ’n uitdaging wees wanneer almal onder druk verkeer).’
● ‘Ek is bly om te hoor dat u godsdienstig geneig is. Baie mense neem godsdiens vandag nie ernstig op nie. Party dink selfs dat daar geen God is nie. Maar watter soort persoon meen u is God, volgens wat u geleer is? . . . Let op dat die Bybel vir ons sê wat Sy naam is (Ex. 6:3, NW; Ps. 83:18, NW).’
● ‘Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy vir hulle gesê om na elke deel van die aarde te gaan. Hulle sou gevolglik baie mense teëkom wie se geloof van hulle s’n verskil (Hand. 1:8). Maar hy het geweet dat diegene wat honger en dors na geregtigheid sou luister. Watter besondere boodskap het hy gesê sou in ons dag verkondig word? (Matt. 24:14). Wat beteken daardie Koninkryk vir ons?’
‘ONS IS ALMAL REEDS CHRISTENE’
● ‘Ek is bly om dit te verneem. Dan weet u ongetwyfeld dat Jesus self ook mense by hulle huise besoek het en sy dissipels beveel het om dit te doen. Is u vertroud met die tema van hulle prediking? . . . Dit is waaroor ons vandag kom praat het (Luk. 8:1; Dan. 2:44).’
● ‘Dan is ek seker dat u die erns besef van wat Jesus hier in die Bergpredikasie gesê het. Hy het nie doekies omgedraai nie, maar hy was ook liefdevol toe hy gesê het . . . (Matt. 7:21-23). Die vraag wat ons onsself dus moet afvra, is: Hoe goed ken ek die wil van die hemelse Vader? (Joh. 17:3).’
‘EK IS BESIG’
● ‘Dan sal ek saaklik wees. Ek het gekom om net een belangrike gedagte met u te deel. (Gee die kern van jou onderwerp van bespreking in omtrent twee sinne weer.)’
● ‘Goed. Ek sal met graagte op ’n ander tyd terugkom wat vir u meer geleë is. Maar voordat ek gaan, wil ek graag net een teks lees wat ons werklik stof tot nadenke gee.’
● ‘Ek begryp. As ’n moeder (of, gesinshoof; of, skolier) is ek ook baie besig. Daarom sal ek saaklik wees. Ons verkeer almal in ’n ernstige situasie. Die Bybel toon dat God die teenswoordige goddelose stelsel binnekort gaan vernietig. Maar daar gaan oorlewendes wees. Die vraag is: Wat moet ek en u doen om onder hulle te wees? Die Bybel beantwoord daardie vraag (Sef. 2:2, 3).’
● ‘Weet u, dit is juis waarom ek mense besoek. Ons is almal besig—so besig dat die waarlik belangrike dinge in die lewe soms verwaarloos word, nie waar nie? . . . Ek sal baie saaklik wees, maar ek is seker dat u in net hierdie een teks sal belangstel (Luk. 17:26, 27). Nie een van ons wil ons graag in daardie situasie bevind nie, en daarom moet ons tyd in ons besige lewens inruim om te kyk wat die Bybel sê. (Bied lektuur aan.)’
● ‘Sou dit meer geleë wees om oor sowat ’n halfuur terug te kom, nadat ons van u bure besoek het?’
● ‘Dan wil ek u nie ophou nie. Ek kan op ’n ander dag terugkom. Maar voordat ek gaan, wil ek u gou die geleentheid bied om hierdie spesiale aanbod te benut. (Toon die aanbod vir die maand.) Hierdie publikasie bevat ’n studiekursus wat u die Bybel se antwoorde sal toon op vrae soos (meld net een of twee).’
● ‘Ek is jammer dat ek op ’n ongeleë tyd hier aangekom het. Soos u weet, is ek een van Jehovah se Getuies. Ek wou ’n belangrike gedagte uit die Bybel met u bespreek. Maar aangesien u nie nou die tyd het om te luister nie, kan ek moontlik ons jongste tydskrifte by u laat wat (meld die onderwerp) bespreek. U kan hulle lees wanneer u die tyd het. Ons laat hulle teen ’n klein bydrae van . . . ’
● ‘Dis te verstane. Dit lyk eenvoudig nie of daar genoeg tyd is om alles gedaan te kry nie. Maar het u al ooit gedink hoe anders die lewe sou wees as u vir ewig kon lewe? Ek weet dat dit vreemd klink. Maar laat ek vir u net een Bybelteks toon wat verduidelik hoe so iets moontlik is (Joh. 17:3). Ons moet nou hierdie kennis van God en sy Seun inneem. Dit is waarom ons hierdie lektuur by mense laat.’
‘WAAROM BESOEK JULLE ONS SO DIKWELS?’
● ‘Omdat ons glo ons lewe in die laaste dae waarvan die Bybel praat. Ons meen dat dit belangrik is dat ons almal moet dink oor wat die uitslag van huidige toestande gaan wees. (Meld een of twee onlangse gebeure of huidige situasies.) Die vraag is: Wat moet ons doen as ons die einde van hierdie stelsel wil oorleef?’
● ‘Omdat ons God en ons naaste liefhet. Dit is wat ons almal moet doen, nie waar nie?’
‘EK IS REEDS GOED VERTROUD MET JULLE WERK’
● ‘Ek is baie bly om dit te hoor. Het u ’n naverwant of ’n vriend wat ’n Getuie is? . . . Mag ek vra: Glo u wat ons uit die Bybel leer, naamlik dat ons in “die laaste dae” lewe, dat God die goddeloses binnekort gaan vernietig en dat hierdie aarde ’n paradys gaan word waarin mense vir ewig in volmaakte gesondheid kan lewe tussen mense wat mekaar werklik liefhet?’
‘ONS HET NIE GELD NIE’
● ‘Ons kollekteer nie. Maar ons bied ’n gratis tuisbybelstudiekursus aan. Een van die onderwerpe wat dit dek, is (gebruik die opskrif van ’n hoofstuk in ’n huidige publikasie). Kan ek gou vir u wys hoe ons dit doen? Dit sal u niks kos nie.’
● ‘Ons stel in mense belang, nie in hulle geld nie. (Gaan voort met bespreking. Wys vir hulle een van die publikasies en verduidelik hoe hulle daarby baat kan vind. As hulle opregte belangstelling toon en belowe om dit te lees, kan jy dit by hulle laat. Indien gepas, kan jy verduidelik hoe ons wêreldwye predikingswerk gefinansier word.)’
WANNEER IEMAND SÊ: ‘EK IS ’N BOEDDHIS’
● Moenie aanneem dat die persoon dieselfde as alle ander Boeddhiste glo nie. Boeddhistiese leerstellings is vaag en die vertolking wissel van persoon tot persoon. Japannese Boeddhisme verskil heeltemal van die Boeddhisme van Suidoos-Asië. Individue huldig ook verskillende beskouings. Die volgende gedagtes kan nietemin oor die algemeen nuttig wees: (1) Boeddhisme erken nie ’n eksterne God, ’n persoonlike Skepper, nie. Maar talle Boeddhiste aanbid beelde en relieke van Boeddha. (2) Siddhârta Gautama, wat die titel Boeddha ontvang het, is mettertyd beskou as die godsdiensideaal wat sy volgelinge moes gevolg. Hy het mense aangespoor om verligting te verkry deur die mensdom uit ’n menslike standpunt te bestudeer, en om die wortels van lyding af te sny deur die verstand te beheer ten einde alle aardse begeerte uit te skakel. Hy het geleer dat ’n mens sodoende Nirwana kan bereik, vry van die wedergeboortes van sielsverhuising. (3) Boeddhiste aanbid hulle voorouers, omdat hulle dié as die bron van hulle lewe beskou.
Wenke vir gesprekke: (1) Wanneer jy met Boeddhiste praat, moet jy beklemtoon dat jy geen deel van die Christendom is nie. (2) Boeddhiste respekteer “heilige boeke”, en daarom respekteer hulle oor die algemeen die Bybel. Bied die positiewe boodskap van die Bybel aan, in plaas van oor Boeddhistiese filosofie uit te wy. Laat hulle verstaan dat die Bybel nie bloot menslike filosofie is nie, maar die gesaghebbende Woord van die mensdom se Skepper, Jehovah God. Vra beleef of jy vir hulle ’n interessante gedagte in hierdie heilige boek, die Bybel, mag wys. (3) Talle Boeddhiste stel baie belang in vrede en gesinslewe en wil sedelike lewens lei. ’n Bespreking van enige van hierdie sake word dikwels verwelkom. (4) Toon dat die Bybel op ’n regverdige, hemelse regering oor die aarde wys as die ware oplossing vir die probleme waarmee die mensdom te kampe het. Dit verduidelik die toekoms van die aarde en die wonderlike vooruitsig om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe. (5) Jy kan daarop wys dat die Bybel die oorsprong van die lewe, die betekenis van die lewe, die toestand van die dode en die opstandingshoop, en die rede vir die bestaan van goddeloosheid verduidelik. ’n Vriendelike aanbieding van die duidelike waarhede van God se Woord sal die harte van sagmoediges met waardering laat reageer.
Die boekie In Search of a Father is spesiaal vir opregte Boeddhiste voorberei.
WANNEER IEMAND SÊ: ‘EK IS ’N HINDOE’
● Jy moet besef dat Hindoe-filosofie baie ingewikkeld is en nie met die logika strook nie. Jy sal dit nuttig vind om die volgende in gedagte te hou: (1) Hindoeïsme leer dat die god Brahman drie vorme insluit—Brahma die Skepper, Wisjnoe die Beskermer, en Siwa die Vernietiger. Maar Hindoes dink nie aan ’n persoonlike god met ’n afsonderlike bestaan nie. (2) Hindoes glo dat alle natuurlike voorwerpe ’n siel besit wat nooit sterf nie, dat die siel ’n feitlik eindelose reïnkarnasiekringloop ervaar, dat die vorme waarin dit weer gebore word deur dade (Karma) bepaal word, dat bevryding van hierdie “eindelose wiel” slegs moontlik is deur alle fisiese begeerte te blus, en dat, wanneer dit bereik word, die siel met die universele gees sal saamsmelt. (3) Hindoes respekteer oor die algemeen ander gelowe. Hindoes meen dat alle gelowe na dieselfde waarheid lei, al verkondig hulle teenstrydige leerstellings.
Bied die bevredigende waarhede in die Heilige Bybel aan in plaas van die ingewikkeldhede van Hindoe-filosofie te probeer bespreek. Allerhande mense kan Jehovah se liefdevolle voorsienings vir die lewe benut, en die duidelike waarhede in sy Woord sal die harte bereik van diegene wat na geregtigheid honger en dors. Slegs die Bybel bied ’n waarlik gegronde hoop vir die toekoms; slegs die Bybel bied bevredigende antwoorde op die belangrike vrae waarmee die hele mensdom worstel. Bied hulle die geleentheid om daardie antwoorde te hoor. Dit is interessant dat die Hindoeïstiese Rig-Veda-himne, 10. 121, die opskrif het “Aan die onbekende God”. In sommige gevalle kan jy hierna verwys net soos die apostel Paulus na die altaar “Aan ’n onbekende God” in Athene verwys het (Hand. 17:22, 23). Dit is interessant dat die naam van die Hindoe-god Wisjnoe, sonder die digamma, Isj-noe is, wat in Chaldeeus “die man Noag” beteken. Verduidelik wat die Bybel oor die betekenis van die wêreldvloed in die dae van Noag sê. Diegene wat bekommerd is oor die vooruitsig van eindelose reïnkarnasies kan dalk gehelp word deur die materiaal op bladsy 356, onder “Reïnkarnasie”.
Die boekies The Path of Divine Truth Leading to Liberation en From Kurukshetra to Armageddon—And Your Survival bevat informasie wat vir opregte Hindoes baie nuttig sal wees.
WANNEER IEMAND SÊ: ‘EK IS ’N JOOD’
● Stel eers vas hoe die persoon homself as ’n Jood beskou. Min is godsdienstig. Vir baie is “Jood” bloot ’n etniese benaming.
Hier is ’n paar punte wat jy gerus in gedagte kan hou: (1) Godsdienstige Jode meen dat dit verbode is om God se naam uit te spreek. (2) Baie Jode dink aan “die Bybel” as ’n Christelike boek, maar as jy van “die Hebreeuse Skrifte”, “die Skrifte” of “die Tora” praat, ontstaan daardie probleem nie. (3) Tradisie is ’n belangrike deel van hulle geloof, en talle godsdienstige Jode beskou dit as net so gesaghebbend as die Skrif. (4) Hulle kan Jesus Christus assosieer met die wrede vervolging van die Jode deur die valse Christendom in die naam van Jesus. (5) Hulle glo dikwels dat God van die Jode verwag om die Sabbat te hou, en daardie opvatting verhinder hulle om op daardie dag geld te hanteer.
Om ’n gemeenskaplike terrein te skep, kan jy sê: (1) ‘U sal ongetwyfeld saamstem dat ons, ongeag ons agtergrond, almal met baie van dieselfde probleme in die hedendaagse wêreld te kampe het. Dink u dat daar werklik ’n gewisse oplossing is vir die groot probleme waarmee hierdie geslag te kampe het? (Ps. 37:10, 11, 29; Ps. 146:3-5; Dan. 2:44).’ (2) ‘Ons is geen deel van die Christendom nie en glo nie aan ’n Drie-eenheid nie, maar aanbid die God van Abraham. Ons stel veral belang in godsdienswaarheid. Hoe bepaal u wat waar is, veral in die lig van die feit dat daar uiteenlopende opvattings onder Joodse mense bestaan? . . . (Deut. 4:2; Jes. 29:13, 14; Ps. 119:160).’ (3) ‘Ons stel intens belang in God se belofte aan Abraham dat mense van alle nasies deur middel van sy saad geseën sal word (Gen. 22:18).’
As die persoon sê dat hy nie aan God glo nie, kan jy vra of hy altyd so gevoel het. Dan kan jy moontlik bespreek waarom God goddeloosheid en lyding toegelaat het. Herinneringe aan die Nazi-slagting het baie Jode hieroor laat wonder.
Voordat jy bespreek hoe belangrik dit is om God se naam te gebruik, moet jy eers uitvind hoe die ander persoon daaroor voel. Wys daarop dat Exodus 20:7 mense verbied om God se naam ydellik te gebruik, maar dit verbied ons nie om dit eerbiedig te gebruik nie. Redeneer dan oor tekste soos Exodus 3:15, NW, (of Psalm 135:13, NW); 1 Konings 8:41-43; Jesaja 12:4, NW; Jeremia 10:25; Maleagi 3:16, NW.
Wanneer jy die Messias bespreek: (1) Praat eers oor die toekomstige seëninge onder sy bewind, eerder as oor sy identiteit. (2) Redeneer dan oor tekste wat op ’n persoonlike Messias dui (Gen. 22:17, 18; Sag. 9:9, 10; Dan. 7:13, 14). (3) Jy moet dalk die twee komste van die Messias bespreek. (Vergelyk Daniël 7:13, 14 met Daniël 9:24-26.) (4) Wanneer jy van Jesus praat, moet jy dit doen op ’n wyse wat die progressiewe aard van God se voorneme beklemtoon. Meld dat toe Jesus mense geleer het, dit na aan die tyd was dat God toegelaat het dat die tweede tempel vernietig word, om nooit weer herbou te word nie. Maar Jesus het die vervulling van die Wet en van die Profete beklemtoon, asook die heerlike toekoms waarheen dit mense met geloof sou lei.