-
BlokkiesraaiselOntwaak! – 1994 | Desember 8
-
-
Dwars
1. NEBUSARADAN
7. ISAI
8. GESPOT
9. OES
10. ANAT
14. PUR
16. ANNA
18. ONREIN
19. TROON
20. TALENT
21. TARSUS
22. OPPAS
23. NESIAG
25. OLIE
26. AGT
28. RAAI
33. DAE
34. MOEITE
35. GOUD
36. MOORDENAARS
Af
1. NAGEDAGTENIS
2. BASUINBLASER
3. STOMP
4. AMOS
5. AGSA
6. VAS
7. IRA
11. NUN
12. THESSALONIKA
13. PINKSTERFEES
15. UITTOG
17. JOPPE
18. ONTSAG
24. ASA
27. TOORN
29 ARD.
30. IDDO
31. PEOR
32. SOT
-
-
Die Rh-faktor en jyOntwaak! – 1994 | Desember 8
-
-
Die Rh-faktor en jy
DIE trotse vader kyk met vreugde af na sy pasgebore baba wat stil in sy moeder se arms lê en slaap. Dit was ’n lang nag in die kraamsaal, maar dit is nou alles verby. Nou kom die dokter om na sy pasiënte te kyk en almal geluk te wens. “Daar’s net een ding, eintlik maar roetine”, sê hy.
Die moeder se bloed is Rh-negatief, en ’n toets het getoon dat die baba s’n Rh-positief is; gevolglik sal die moeder ’n immuniseringsinspuiting moet kry. “Dis net ’n klein inspuitinkie wat uit menslike teenliggaampies bestaan, maar dit is taamlik belangrik”, verseker die dokter hulle, “om komplikasies met toekomstige swangerskappe te voorkom.”
Hoewel die dokter die inspuiting moontlik as iets alledaags beskou, ontstaan daar baie vrae by die besorgde ouers wanneer hy dit noem en van moontlike “komplikasies” praat. Presies wat doen hierdie inspuiting? Hoe noodsaaklik is dit? Wat sal gebeur as die ouers dit nie wil hê nie? Vir die Christen ontstaan daar nog ’n vraag. Kan die Christen die inspuiting met ’n skoon gewete aanvaar as dit menslike teenliggaampies van iemand anders se bloed bevat met die oog daarop dat die Bybel sê: ‘onthou julle van bloed’?—Handelinge 15:20, 29.
Die geskiedenis van die Rh-probleem
Dekades gelede het wetenskaplikes uitgevind dat die mens se bloed baie faktore, of antigene, bevat wat elke mens se bloed uniek maak. Mettertyd het hulle geleer dat twee antigeenstelsels in die rooi bloedselle die meeste van die mediese probleme veroorsaak het wanneer een persoon se bloed met iemand anders s’n in kontak gebring is. Een van hierdie antigene word “ABO” genoem; die ander word “Rh” genoem. ’n Kort oorsig van die Rh-stelsel sal ons help om die belangrike vrae te beantwoord wat hierdie besorgde ouers het en waaroor jy ook miskien al gewonder het.
In 1939 het dokters die raaiselagtige geval van ’n 25-jarige vrou gepubliseer wie se tweede baba tydens swangerskap gesterf het. Ná die geboorte van die dooie baba het die vrou bloedoortappings ontvang en hewige reaksies getoon, al was dit haar man se bloed en blykbaar verenigbaar met hare wat die ABO-antigene betref. Dokters het later veronderstel dat ’n onbekende faktor uit haar eerste baba se bloed met haar bloed gemeng het en haar bloed “gesensitiseer” het, wat tot haar reaksie op haar man se bloed sowel as die dood van haar tweede baba gelei het.
Hierdie onbekende faktor is later deur eksperimente op resus-ape (Engels: rhesus) geidentifiseer en is dus die “Rh-faktor” genoem. Hierdie bloedfaktor het gedurende die sestigerjare intense mediese belangstelling gewek omdat daar ontdek is dat dit die oorsaak is van ’n ietwat algemene en dikwels tragiese siekte onder babas wat fetale eritroblastose genoem word. Namate dokters die Rh-faktor en die siekte bestudeer het, het ’n fassinerende mediese verhaal hom ontvou.
Rh, genetika en siek babas
Die meeste mense word ontroer wanneer ’n pasgebore baba ernstig siek is of sterf. Bloot om ’n baba te sien wat siek is of in nood is, is vir baie mense moeilik, en dokters is geen uitsondering nie. Twee ander redes het hierdie Rh-faktor, wat noodlottig is vir babas, van besondere belang vir geneeshere gemaak.
Die eerste rede was dat dokters ’n patroon in die siekte begin sien het en begin verstaan het hoe die Rh-faktor by siekte en die dood betrokke is. Die Rh-faktor is aanwesig in die rooi bloedliggaampies van ongeveer 85 tot 95 persent van mense, mans sowel as vroue. Hulle word “Rh-positief” genoem. Die 5 tot 15 persent daarsonder word “Rh-negatief” genoem. As ’n Rh-negatiewe persoon aan die bloed van ’n Rh-positiewe persoon blootgestel word, kan hy of sy molekules vorm wat teenliggaampies genoem word en Rh-positiewe bloed vernietig.
Dit is eintlik ’n algemene, normale reaksie van die liggaam se immuunstelsel terwyl dit vreemde invallers afweer. Die probleem is dat ’n Rh-negatiewe moeder ’n baba kan hê wat Rh-positiewe bloed van sy vader geërf het. Dit is nie ’n probleem as die plasenta normaal funksioneer en die baba se bloed van die moeder s’n geskei hou nie. (Vergelyk Psalm 139:13, NW.) Maar omdat ons liggaam onvolmaak is, kan ’n klein hoeveelheid van die baba se bloed deursyfer en met die moeder s’n in kontak kom. Soms gebeur dit as gevolg van die een of ander mediese prosedure soos ’n amniosentese (wanneer ’n monster van die vloeistof in die vrugwatersak wat die ontwikkelende baba omring, getrek word). Of van die baba se bloed kan gedurende die bevalling met die moeder s’n meng. Wat die oorsaak ook al is, die moeder kan gesensitiseer word en teenliggaampies teen die Rh-positiewe bloed vervaardig.
Stel jou die probleem voor: As die moeder eers sulke teenliggaampies ontwikkel het, is alle toekomstige babas in gevaar indien hulle Rh-positiewe bloed van die vader sou erf. Dit is omdat die moeder nou teenliggaampies teen Rh-positiewe bloed het.
Wat gebeur is dat sekere teenliggaampies normaal deur die plasenta beweeg. Dit is ’n goeie ding, want dit het tot gevolg dat alle babas gebore word met ’n mate van tydelike natuurlike immuniteit wat hulle by hulle moeder kry. Maar met Rh-siekte beweeg die gesensitiseerde moeder se Rh-teenliggaampies deur die plasenta en val die Rh-positiewe baba se bloed aan. Dit het selde ’n uitwerking op die eerste baba, maar is baie meer algemeen onder daaropvolgende babas. Dit veroorsaak ’n toestand wat Rh-hemolitiese siekte van pasgeborenes genoem word (fetale eritroblastose as die skade groot is).
Daar is baie maniere om hierdie siekte te behandel, hoewel dit dikwels met betreklik min sukses gedoen word, soos ons sal sien. Kom ons kyk nou na een mediese aspek van die probleem —’n moontlike manier van voorkoming.
’n Deurbraak in voorkoming
Jy sal moontlik onthou dat daar twee redes was waarom hierdie siekte dokters se belangstelling so gaande gemaak het. Die eerste was dat die proses van siekte bekend en verstaanbaar geword het. Wat was die tweede rede?
Dit het in 1968 te voorskyn gekom. Ná jare van navorsing en frustrerende pogings deur dokters om hierdie uiters siek babas te behandel, wat nie baie geslaag was nie, is ’n immuniseermiddel ontwikkel wat die probleem van “Rh-babas” doeltreffend voorkom het. Dit was goeie nuus. Maar hoe het dit gewerk?
Onthou dat die Rh-probleem (vir die tweede en daaropvolgende Rh-positiewe babas) ontstaan het wanneer bloed van die eerste Rh-positiewe baba na die Rh-negatiewe moeder se bloedstroom “deurgesyfer” het en veroorsaak het dat sy teenliggaampies vervaardig. Kon daar ’n manier wees om die baba se rooi bloedselle in die moeder se stelsel te vernietig voordat hulle ’n kans kry om haar te sensitiseer?
Die metode wat ontwikkel is, was ’n immuniseringsinspuiting vir die moeder wat Rh-immunoglobulien, of RhIG, genoem word en in party lande onder handelsname soos RhoGAM en Rhesonativ bekend staan. Dit bestaan uit teenliggaampies teen Rh-positiewe antigene. Die presiese werking daarvan is kompleks en selfs onduidelik, maar dit lyk asof dit basies só werk.
Wanneer daar vermoed word dat ’n Rh-negatiewe moeder aan Rh-positiewe bloed blootgestel is, soos ná die geboorte van ’n Rh-positiewe baba, word die moeder ’n RhIG-inspuiting gegee. Hierdie teenliggaampies val die deurgesyferde Rh-positiewe rooi bloedselle van die baba vinnig aan en vernietig hulle voor hulle die moeder sensitiseer. Dit skakel die gevaar vir die volgende baba uit aangesien die moeder geen teenliggaampies teen Rh-positiewe bloed vervaardig nie. Die ware voordeel wat dokters hierin sien, is dat dit siekte voorkom, pleks van dit te probeer behandel nadat dit ontwikkel het.
In teorie klink dit goed, maar het dit gewerk? Blykbaar het dit. In een land, die Verenigde State, het die voorkomssyfer van Rh-hemolitiese siekte gedurende die sewentigerjare met 65 persent afgeneem. Hoewel baie dinge hiertoe kon bygedra het, kan 60 tot 70 persent van hierdie afname aan die gebruik van RhIG toegeskryf word. In een provinsie van Kanada het die aantal babas wat aan Rh-hemolitiese siekte gesterf het van 29 in 1964 tot 1 in 1974 en 1975 afgeneem. Die mediese gemeenskap het dit gesien as bevestiging van die beginsel dat “’n bietjie voorsorg beter is as baie nasorg”. Met hierdie basiese agtergrond kan ons ’n paar spesifieke vrae oorweeg wat dikwels aangaande Rh-siekte ontstaan.
Watter risiko loop ek om probleme met Rh-siekte tydens my swangerskap te hê?
’n Eenvoudige bloedtoets kan die Rh-bloedtipe van die moeder en die vader vasstel; ongeveer 1 in 7 huwelike is van ’n Rh-negatiewe vrou aan ’n Rh-positiewe man. Aspekte van die vader se genetiese samestelling verminder die algehele risiko na ongeveer 10 persent.a
Dit is egter ’n algemene bevolkingstatistiek. As jy ’n Rh-negatiewe vrou is wat met ’n Rh-positiewe man getroud is, is julle kanse 50 persent of 100 persent om ’n Rh-positiewe baba te hê, na gelang van die genetiese samestelling van jou man.b (Daar is geen betroubare manier om die genetiese samestelling van die man te bepaal nie, net soos daar tot nou toe nog geen eenvoudige manier is om vas te stel of ’n baba in die baarmoeder Rh-positief is nie.)
Vir die Rh-negatiewe moeder wat ’n Rh-positiewe baba dra, is daar met elke swangerskap ’n 16-persent-kans dat sy gesensitiseer sal word, wat gevolglik toekomstige swangerskappe in gevaar sal stel. Dit is natuurlik net ’n gemiddelde syfer. Met die uitsondering van ’n vroeëre bloedoortapping of as die moeder op ’n ander manier aan bloed blootgestel is, loop die eerste baba uit ’n huwelik gewoonlik nie die risiko om Rh-siekte op te doen nie. Ná daardie eerste baba is dit in enige gegewe geval redelik moeilik om die risiko te voorspel. Een vrou kan deur haar heel eerste Rh-positiewe baba gesensitiseer word. ’n Ander vrou kan vyf of meer Rh-positiewe babas hê en nooit gesensitiseer word nie. As ’n moeder gesensitiseer is, bestaan daar vir elke daaropvolgende Rh-positiewe fetus ’n gevaar van 30 persent dat hy sal sterf, en dit word nie deur die tyd tussen swangerskappe verander nie. Dit kan dus nie lig opgeneem word nie.
Kan ek deur laboratoriumtoetse uitvind of my ontwikkelende baba in gevaar is?
Ja, tot ’n mate. Teenliggaamvlakke in die moeder se bloed kan tydens swangerskap gemeet word om te sien of sy teenliggaampies teen die baba se bloed vervaardig. Amniosentese kan ook help om te sien of die baba se bloed vernietig word en die baba in gevaar is. Maar amniosentese het soms ook sy eie komplikasies, en daarom moet ’n mens goed dink voor jy dit ondergaan.
Het die RhIG-inspuiting newe-effekte?
Die gebruik daarvan tydens swangerskap is nog ietwat omstrede as gevolg van die moontlike immunologiese skade aan die ontwikkelende embrio. Die meeste deskundiges meen egter dat die immunisering betreklik veilig is vir die moeder sowel as vir die ontwikkelende baba binne-in haar.
Hoe dikwels moet ek volgens dokters die inspuiting kry?
Deskundiges sê dat die inspuiting gegee moet word kort ná enige voorval wat Rh-positiewe bloed in die bloedstroom van ’n Rh-negatiewe vrou kon laat beland. Tans word daar dus aanbeveel dat die inspuiting binne 72 uur ná die geboorte van die baba gegee moet word as daar gevind word dat die baba se bloed Rh-positief is. Dieselfde aanbeveling geld vir ’n amniosentese of ’n miskraam.
Daarbenewens beveel party dokters aan dat die inspuiting op 28 weke van die swangerskap gegee word om sensitisering te voorkom, aangesien studies getoon het dat ’n klein hoeveelheid van die baba se bloed die moeder se bloedstroom tydens normale geboorte kan binnedring. In so ’n geval sal die inspuiting weer ná die baba se geboorte aanbeveel word.
Is daar enige behandeling vir ’n baba wat Rh-siekte opgedoen het?
Ja. Hoewel hemolitiese siekte van pasgeborenes ernstig is, is daar grondige bewyse ter ondersteuning van behandeling wat nie uitruiloortappings vir die baba insluit nie. Die mees gevreesde komplikasie van hierdie siekte is die opbou van ’n chemiese stof wat bilirubien genoem word, wat ontstaan wanneer rooi bloedselle afgebreek word. Dit veroorsaak geelsug en kan die baba se organe in sommige gevalle beskadig. (Terloops, ligte geelsug kan ontstaan wanneer daar ’n ABO-onverenigbaarheid tussen die moeder se bloed en die baba se bloed is, maar dit is gewoonlik nie so ernstig nie.)
Dokters het jare lank gedink dat ’n spesifieke vlak van geelsug genoegsame rede was om ’n uitruiloortapping aan hierdie babas te gee, maar verdere navorsing het verskeie alternatiewe behandelings aan die lig gebring. Vroeë geboorte of ’n keisersnee, fototerapie (blou lig) en medikasie soos fenobarbitoon, geaktiveerde houtskool en ander behandelings is nuttig en het die druk om bloedoortappings te gee drasties verminder. Trouens, party onlangse verslae het die aandag gevestig op die sinneloosheid en selfs die gevaar van uitruiloortappings by babas met Rh-siekte.—Sien venster, bladsy 26.
Daar is nietemin uiterste gevalle waar dokters steeds aandring dat ’n uitruiloortapping die enigste aanvaarbare behandeling is. Gevolglik meen party ouers dat dit beter is om die hele probleem te vermy deur middel van ’n inspuiting wat die siekte en dus die geelsug sal voorkom.
Word die RhIG-inspuiting van bloed gemaak?
Ja. Die teenliggaampies waaruit die inspuiting bestaan, word verkry uit die bloed van mense wat teen die Rh-faktor geïmmuniseer of gesensitiseer is. Geengemanipuleerde RhIG wat nie van bloed verkry word nie, kan in die toekoms beskikbaar word.
Kan ’n Christen RhIG met ’n skoon gewete neem?
Die kwessie hier is die moontlike misbruik van bloed. Die Skrif verbied die eet of ander misbruike van bloed nadruklik (Levitikus 17:11, 12; Handelinge 15:28, 29). Sal ’n Christenvrou die Bybelse wet om haar van bloed te onthou, oortree as sy die inspuiting aanvaar, aangesien RhIG van bloed gemaak word?
Hierdie tydskrif en sy medetydskrif, Die Wagtoring, het konsekwent oor hierdie saak kommentaar gelewer.c Ons het getoon dat teenliggaampies in alle swangerskappe vrylik deur die plasenta tussen die moeder en die baba beweeg. Party Christene het dus tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie vir hulle na ’n skending van die Bybel se wet lyk as hulle ’n inspuiting bestaande uit teenliggaampies, soos RhIG, aanvaar nie, aangesien die proses in wese soortgelyk is aan wat natuurlik gebeur.
Die besluit om RhIG te gebruik, bly egter ’n saak waaroor elke Christenegpaar getrou aan hulle eie gewete moet besluit. Maar as ’n man en vrou wat voor die Rh-kwessie te staan kom, besluit om nie die RhIG te gebruik wanneer dit medies aanbeveel word nie, moet hulle bereid wees om die risiko te loop dat ’n toekomstige kind ernstig aangetas kan word deur ’n siekte wat moontlik voorkom kon word. In hierdie situasie kan hulle selfs besluit dat dit verstandig sal wees om bykomende voorsorg te tref sodat hulle nie meer kinders sal hê en hulle aan die moontlikheid van so ’n tragedie sal blootstel nie. Besorgde Christenouers behoort alle aspekte biddend te oorweeg voordat hulle sulke gewigtige besluite neem.
[Voetnote]
a Hierdie statistiek wissel by verskillende rasse. By die meeste wit mense is die voorkomssyfer van Rh-negatiwiteit 15 persent; swart Amerikaners, 7 tot 8 persent; Indo-Eurasiërs, ongeveer 2 persent; Asiatiese Chinese en Japannese, byna nul.—Transfusion Medicine Reviews, September 1988, bladsy 130.
b Party vrouens in hierdie situasie het al ’n paar babas gehad, en almal was Rh-negatief; gevolglik is die moeder nie gesensitiseer nie. Maar in ander gevalle was die eerste kind Rh-positief en is die moeder gesensitiseer.
c Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1990, bladsye 30, 31; 1 September 1978, bladsy 23; en Hoe kan bloed jou lewe red?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Venster op bladsy 26]
Hoë bilirubien—Rede vir ’n oortapping?
Dokters vrees al lank die gevolge van hoë bilirubien by babas, in so ’n mate dat hulle dikwels op uitruiloortappings aandring wanneer die bilirubien begin styg—veral tot naby die syfer 20 mg/100 ml—“om breinskade te voorkom” (kernikterus). Is hulle vrees, en die waarde van ’n bloedoortapping, geregverdig?
Dr. Anthony Dixon sê: “Etlike studies van sulke babas kon geen gevolge, hetsy kort- of langtermyn, van bilirubienvlakke tussen 18 mg-51 mg per 100 ml bespeur nie.” Dr. Dixon gaan voort om “vigintifobie, die vrees vir 20”, te bespreek. Hoewel daar geen bewys is dat die behandeling van hierdie hoë bilirubienvlakke enige voordeel inhou nie, kom dr. Dixon tot die gevolgtrekking: “Die dilemma is duidelik. Drastiese behandeling van hoë serumbilirubienvlakke is nou standaardpraktyk. Standaardpraktyk behoort nie bevraagteken te word totdat dit verkeerd bewys is nie, en tog is enige poging om dit verkeerd te bewys oneties!”—Canadian Family Physician, Oktober 1984, bladsy 1981.
Aan die ander kant het dr. Ersilia Garbagnati, ’n Italiaanse gesaghebbende, oor ’n beskermende rol van bilirubien geskryf en die “potensieel onverwagte gevare van te lae serumbilirubienvlakke” (Ons kursiveer.) (Pediatrics, Maart 1990, bladsy 380). Dr. Joan Hodgman voer dit ’n stap verder en skryf in die Western Journal of Medicine: “Uitruiloortappings sal nie bilirubienbevlekking van die brein by lae bilirubienvlakke voorkom nie, en dit kan, in die lig van die eksperimentele werk wat hierbo aangehaal is, in werklikheid skadelik wees.”—Junie 1984, bladsy 933.
-