Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/22 bl. 8-11
  • Baanbrekerswerk in bloedlose chirurgie Op Jehovah se Getuies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Baanbrekerswerk in bloedlose chirurgie Op Jehovah se Getuies
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Na Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande
  • Resultate in die Verenigde State
  • Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug
    Ontwaak!—1990
  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie
    Ontwaak!—1998
  • Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie
    Ontwaak!—2000
  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 11/22 bl. 8-11

Baanbrekerswerk in bloedlose chirurgie Op Jehovah se Getuies

JEHOVAH SE GETUIES het in onlangse jare dikwels in die nuus gekom omdat hulle bloedoortappings weier. Hoewel die rede waarom hulle weier skriftuurlik is, bestaan daar ook erkende fisiese gevare (Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:10-12; Handelinge 15:28, 29). Hulle standpunt het konfrontasies met dokters, hospitale en die howe tot gevolg gehad. Omdat volwasse Getuies bloedoortappings geweier het, is daar al geweier om op hulle te opereer; hulle kinders is deur hofbevele gedwing om bloedoortappings te aanvaar.

Daar is nou ’n mate van verandering in die standpunte oor bloedoortappings. Bloedvoorrade is dikwels besmet. Siektes, waarvan party dodelik is, word deur oortappings oorgedra. Gierigheid het ’n faktor geword omdat bloed ’n reusebedryf geword het en die roetinegebruik daarvan aangemoedig word—wat nog onnodige gevare by chirurgie voeg.a Om hierdie en ander redes heroorweeg baie mense buiten Jehovah se Getuies dit of hulle bloedoortappings moet aanvaar.

In al hierdie dinge het Jehovah se Getuies ’n rol gespeel. Duisende van hulle het operasies ondergaan en in baie gevalle het hulle selfs vinniger herstel as dié wat oortappings ontvang het. Die Getuies se ondervinding toon dat chirurge operasies kan uitvoer met baie minder bloedverlies en dat bloedtellings in party gevalle baie laer kan daal as wat voorheen veilig geag is. Hulle gevalle het verder bewys dat daar nou baie alternatiewe benaderings beskikbaar is wat uitgawes kan besnoei en die gevaar van oortappings kan uitskakel. Hulle oorwinnings in die hof het ook aan pasiënte hul reg teruggegee om sekere mediese behandelings te aanvaar of te weier.

Jehovah se Getuies het baie hiervan bereik deur met die dokters en hospitale saam te werk. In onlangse jare het hulle ’n departement by hul wêreldhoofkwartier op die been gebring wat die Hospitaalinligtingsdiens (HID) genoem word. Verteenwoordigers van hierdie departement het na lande in baie dele van die wêreld gereis om seminare by van die Wagtoringgenootskap se takkantore te hou en Hospitaalskakelkomitees te vorm wat met hospitale en dokters in aanraking kom wanneer dit nodig is. Wanneer hulle by die groter takkantore is, vestig die HID-verteenwoordigers ’n Hospitaalinligtingsdienskantoor wat ná hulle vertrek met die werk kan voortgaan.

Die seminare leer hierdie komitees om met dokters en hospitaalpersoneel te praat, om gepaste alternatiewe vir bloedoortappings met hulle te bespreek en om te verduidelik dat chirurgiese vaardighede bloedverlies drasties kan verminder. Ten slotte gee die besoekende lede van die HID indiensopleiding aan die nuwe skakelkomitees deur hulle te neem om met dokters en hospitaaladministrateurs te praat.

Om mee te begin is 18 seminare in die Verenigde State gehou. Daarna is vier in die Pasifiese streek gehou, een elk in Australië, Japan, die Filippyne en Hawaii om agt van die Wagtoringgenootskap se takke in daardie streke te bedien.b In November en Desember 1990 het drie lede van die HID tien addisionele seminare in Europa, Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande gehou. Hier volg ’n verslag oor die resultate van daardie seminare.

Vyf is in Europa gehou—een elk in Engeland, Swede, Frankryk, Duitsland en Spanje. Hierdie vyf seminare het 20 van die Wagtoringgenootskap se takke bedien en meer as 1 700 ouere manne vir Hospitaalskakelkomiteewerk opgelei.

Een Franse chirurg het erken dat Jehovah se Getuies, deur hulle ferm standpunt oor bloed, die mediese beroep gehelp het om vordering te maak op die gebied van bloedlose chirurgie. Hy het gesê dat geen ander godsdiens so ver gegaan het om sy mense te help om moeilike sake die hoof te bied nie.

Die modernste hospitaal in Madrid, Spanje, was taamlik vyandiggesind teenoor die Getuies oor hierdie geskil. Een Getuie wat ’n rugoperasie moes ondergaan, is behandeling geweier omdat sy nie ’n bloedoortapping wou aanvaar nie. Toe sy nie die hospitaal wou verlaat nie, het hulle haar gedwing om te gaan deur te weier om vir haar enigiets te gee om te eet of te drink. Die lede van die HID het egter ’n afspraak gemaak en ’n twee uur lange vergadering met die mediese superintendent en die hoof van chirurgie gehad. Wat was die resultaat? Hulle het ingestem om die chirurgie uit te voer en het die Getuie wat die hospitaal moes verlaat, gebel om terug te kom vir die operasie.

Getuies in Italië het van die seminaar af teruggekeer en is onmiddellik gekonfronteer met ’n poging om ’n bloedoortapping aan ’n vroeggebore baba op te dwing. Soos hulle gesê het: “Met die inligting wat ons by die seminaar ontvang het, was ons in staat om die situasie te red, en die kind is suksesvol sonder bloed behandel.”

Na Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande

Die volgende vyf seminare is in Mexiko, Argentinië, Brasilië, Ecuador en Puerto Rico gehou. Twee-en-dertig takke van die Wagtoringgenootskap is deur hierdie vyf seminare bedien.

Die direkteur van die stad Mexiko se bloedbank het gesê dat Jehovah se Getuies aan die spits van bloedlose chirurgie staan en dat daar nou voldoende kundigheid op die gebied is dat ander uit hierdie baanbrekerswerk kan voordeel trek. Hy het na die HID se lys met alternatiewe prosedures vir die behandeling van bloeding gekyk.c Toe het hy gesê: ‘Ek wil afdrukke hiervan maak vir die kennisgewingborde van elke hospitaal in die stad Mexiko. Ek sal dokters vra om ’n afdruk vir hulle eie gebruik te maak. Wanneer hulle dan in die toekoms hierdie bloedbank vir bloed bel, sal ons hulle eers vra om hierdie lys uit te haal en dan sal ons hulle vra: “Het julle dít gebruik? Het julle dát probeer?” As hulle nie éérs hierdie alternatiewe probeer het nie, sal hulle nie bloed van ons kry totdat hulle dit doen nie!’

Die hoof van die bloedbank in die noorde van Argentinië was ook behulpsaam. In daardie gebied is daar ’n beleid dat enigeen wat ’n staatshospitaal besoek, moet reël dat sy familie of vriende ten minste twee eenhede bloed vooruit skenk, anders sal hy nie behandel word nie. Getuies kon dit nie doen nie en die hospitale het dus geweier om operasies op hulle uit te voer. Nadat ons ons heilige oortuigings oor die gebruik van bloed verduidelik het, het die hoof gereël dat hierdie beleid verander sal word wanneer dit weer oorgeskryf word. Intussen sal Getuies wat hul mediese instruksiekaart toon wanneer hulle in ’n hospitaal opgeneem word, verskoon word van die vereiste om bloed te skenk.

In Ecuador is daar ’n prominente en invloedryke chirurg wat meer as 2 500 operasies op Getuies en nie-Getuies uitgevoer het sonder om bloed te gebruik. Hy het gesê dat hy van plan is om ’n veldtog te begin om bloedlose chirurgie in die land aan te moedig as gevolg van die baie gevare wat die bloedvoorraad vir die pasiënt inhou.

Na afloop van die seminaar in Ecuador het ’n chirurg wat die aanbieding bygewoon het, gesê: “As hierdie mense tot mediese navorsing van hierdie gehalte in staat is, sê dit iets oor hulle studie van die Bybel en laat dit my dink dat dit die moeite werd is om hulle godsdiens te ondersoek.”

Daar was ’n welkome verandering van gesindheid in Puerto Rico. In die verlede is volwasse Getuies soms vasgebind en is bloed aan hulle opgedwing; party van hulle is later dood. Die verteenwoordigers van die HID het met die ondervoorsitter en die regsadviseur vir die Puerto Ricaanse Hospitaalassosiasie vergader; laasgenoemde was ook ’n hospitaalsuperintendent. Dadelik na die formele bekendstelling en voor die aanbieding van die HID kon begin, het die regsgeleerde gesê dat hy iets het om te sê. Tot die Getuies se verbasing het hy begin om ’n plan te beskryf vir die verbetering van pasiënte se regte in die eiland se hospitale, en dit het die hoofpunte van die aanbieding gedek! Hy het ook toestemming gevra om afdrukke te maak van die inligting wat by hom gelaat is; hy wou dit by ’n artikel insluit wat vir die hospitaalassosiasie se tydskrif voorberei is.

Resultate in die Verenigde State

Een dokter—James J. Riley, voorsitter van die chirurgie-afdeling by sy hospitaal—het ’n betekenisvolle verklaring aan die plaaslike skakelkomitee gemaak: “Julle manne, soos ek dit sien, staan aan die spits van mediese en regsinformasie oor die gebruik van bloed.”

By ’n groot hospitaal naby Washington, DC, het die Hospitaalskakelkomitee met ’n groep administratiewe en mediese beamptes vergader wat hulle ondersteuning belowe het en veral hulle waardering uitgespreek het vir “die Wagtoring se verbintenis daartoe om sy mense in ’n tyd van nood by te staan met ’n reëling vir ondersteuning soos hierdie”.

Die hoof van ’n pasiëntesorgdepartement by ’n hospitaal in Wisconsin het vertel hoe verkeerd sy oor Jehovah se Getuies ingelig was. Sy het die Hospitaalskakelkomitee aangemoedig om “voort te gaan om hierdie boodskap by almal wat mediese dienste lewer te kry”.

Een kenmerk van die HID se werk is dat hulle mediese en regsitems aan aangewese dokters, hospitale sowel as hospitaal- en mediese verenigings uitstuur. In reaksie hierop het ’n regsadviseur van ’n hospitaal in Baltimore, Maryland, gesê: “Dankie vir die omvattende materiaal oor bloedoortappings en Jehovah se Getuies wat julle aan my gestuur het. Hierdie inligting sal uiters nuttig wees om ons hospitaal te help om ons beleid aangaande die behandeling van Jehovah se Getuies te hersien.”

In die Verenigde State alleen is daar byna 10000 dokters op die lys van dié wat bereid is om bloedlose chirurgie op Jehovah se Getuies uit te voer.

Deur middel van die 32 seminare wat tot op hede gehou is, is skakelkomitees tot dusver in 62 takkantore op die been gebring om na die belange van Jehovah se Getuies in verskeie wêrelddele om te sien. Hulle is nou gereed om na miljoene Getuies van Jehovah om te sien. Die resultate toon dat Jehovah inderdaad die pogings van die HID seën.

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 22 Oktober 1990, bladsye 2-15, vir besonderhede.

b Sien die Ontwaak! van 22 November 1990, die artikel getiteld “Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug” vir ’n verslag oor hierdie lande.

c Hierdie lys word op bladsy 10 van hierdie tydskrif weergegee.

[Venster op bladsy 10]

Voorkoming en beheer van bloeding sonder bloedoortappings

1. Chirurgiese instrumente:

a. Elektrokouterie

b. Laserchirurgie

c. Argonstraal-koaguleerder

d. Gammastraal-radiochirurgie

2. Tegnieke en apparate om inwendige bloeding op te spoor en te stuit:

a. Endoskopie om vas te stel waar die inwendige bloeding plaasvind

b. Buigbare suigkoaguleerelektrode (Papp, J. P., JAMA, 1 November 1976, bladsye 2076-9)

c. Arteriële embolisering (JAMA, 18 November 1974, bladsye 952-3)

d. Beheerde hipotensie (totdat bloeding gestop kan word)

e. Weefselhegmiddels (Dr. S. E. Silvas, MWN, 5 September 1977)

3. Snykundige en narkotiese tegnieke:

a. Hipotensiewe narkose (verlaging van die bloeddruk)

b. Hipotermie (verlaging van liggaamstemperatuur)

c. Intraoperatiewe bloedverdunning

d. Intraoperatiewe bloedherwinningsmasjiene, bv. “cell-saver”

e. Nougesette hemostase en snykundige tegniek

f. Meer lede in chirurgiese span om tydsduur van operasie te verkort

4. Monitorapparate:

a. Onderhuidse suurstofmonitor

b. Oksimeter

5. Volume-uitdyers:

a. Kristalloïde

(1) Ringer se laktaat (Eichner, E. R., Surgery Annual, Januarie 1982, bladsye 85-99)

(2) Gewone soutoplossing

b. Kolloïde

(1) Dekstran

(2) Gelatien (Howell, P. J., Anaesthesia, Januarie 1987, bladsye 44-8)

(3) Hetastarch

6. Chemiese Hemostate:

a. Avitene

b. Gelfoam

c. Oxycel

d. Surgicel

e. Baie ander

7. Behandelingskunde vir lae hemoglobien:

a. Suurstof

b. Hoogdruksuurstoftenks (Hart, G. B., JAMA, 20 Mei 1974, bladsye 1028-9)

c. Ysterdekstran (Dudrick, S. J., Archives of Surgery, Junie 1985, bladsye 721-7)

d. Foliensuur

e. Eritropoïetien—stimuleer beenmurg om bloed te produseer

f. Anaboliese steroïede, bv. Decadurabolin of sintetiese groeihormoon

g. Binnespierse inspuiting van vitamien B-12

h. Vitamien C

i. Vitamien E (veral in pasgeborenes)

8. Uitwendige maatreëls:

a. Vir bloeding:

(1) Pas direkte druk toe

(2) Yskompresse

(3) Posisie van liggaam (bv. lig beseerde ledemaat om bloeding te vertraag)

b. Vir skok:

(1) Gebruik opblaastoernikette aan die bene

(2) Teenskokbroek

(3) Lig albei bene om die bloeddruk te handhaaf

9. Medisyne vir pasiënte met bloedprobleme:

a. DDAVP, desmopressien (Kobrinsky, N. L., Lancet, 26 Mei 1984, bladsye 1145-8)

b. E-aminokaproësuur (Schwartz, S. I., Contemporary Surgery, Mei 1977, bladsye 37-40)

c. Vitamien K

d. Bioflavinoïde (Physician’s Desk Reference)

e. Karbasochroomsalisilaat

f. Traneksamiensuur (Transfusion Medicine Topic Update, Mei 1989)

g. Danazol

10. Ander punte:

a. ’n Matige daling in bloeddruk tot ongeveer 90-100 mm Hg kan help om die bloeding in ’n gesnyde slagaar deur natuurlike stolling te stelp

b. Daar is geen gegronde wetenskaplike ondersteuning vir die reël van ’n minimum 10g hemoglobien vir chirurgie nie

c. Pasiënte met ’n hemoglobienvlak van 1,8 het al operasies oorleef (Anaesthesia, 1987, Deel 42, bladsye 44-8)

d. Laer hemoglobien het laer bloedviskositeit tot gevolg wat weer die hart se las verminder en weefselperfusie en oksigenasie verbeter

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel