Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 69-74
  • Bybelboek nommer 12—2 Konings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 12—2 Konings
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN TWEEDE KONINGS
  • WAAROM NUTTIG
  • Oorsig van 2 Konings
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Wie sal “die dag van Jehovah” oorleef?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Glanspunte uit die boek Tweede Konings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 69-74

Bybelboek nommer 12—2 Konings

Skrywer: Jeremia

Waar geskryf: Jerusalem en Egipte

Geskrif voltooi: 580 v.G.J.

Beskrewe tydperk: ca. 920–580 v.G.J.

1. Watter geskiedenisse word in Tweede Konings beskryf, en ter regverdiging waarvan?

DIE boek Tweede Konings sit die onstuimige geskiedenis van die koninkryke van Israel en Juda voort. Elisa het Elia se mantel opgeneem en is met twee dele van Elia se gees geseën, waardeur hy 16 wonders gedoen het in vergelyking met die 8 van Elia. Hy het voortgegaan om ondergang te profeteer vir die afvallige Israel, waar slegs Jehu ’n kortstondige flits van ywer vir Jehovah geopenbaar het. Israel se konings het al hoe dieper in goddeloosheid versink, totdat die noordelike koninkryk uiteindelik in 740 v.G.J. deur Assirië tot ’n val gebring is. In die suidelike koninkryk van Juda het ’n paar uitsonderlike konings, in die besonder Josafat, Joas, Hiskia en Josia, die gety van afvalligheid ’n ruk lank gekeer, maar Nebukadnesar het uiteindelik Jehovah se oordeel voltrek deur Jerusalem, sy tempel en die land van Juda in 607 v.G.J. te verwoes. Jehovah se profesieë is derhalwe vervul, en sy woord is geregverdig!

2. Wat kan oor die skrywerskap en egtheid van Tweede Konings gesê word, en watter tydperk dek dit?

2 Aangesien Tweede Konings oorspronklik deel van dieselfde rol as Eerste Konings was, is wat reeds oor Jeremia se skrywerskap gesê is hier eweseer van toepassing, asook die bewyse van die boek se kanonisiteit en egtheid. Dit is omstreeks 580 v.G.J. voltooi en dek die tydperk wat met die regering van Ahasia van Israel in om en by 920 v.G.J. begin en in die 37ste jaar van Jojagin se ballingskap, 580 v.G.J., eindig.—1:1; 25:27.

3. Watter merkwaardige argeologiese vondste staaf Tweede Konings?

3 Argeologiese vondste wat die verslag van Tweede Konings staaf, verskaf verdere bewys van die egtheid daarvan. Daar is byvoorbeeld die bekende Moabitiese Steen, waarvan die inskripsie die Moabitiese koning Mesa se weergawe van die oorlog tussen Moab en Israel gee (3:4, 5). Daar is ook die swartbasalt-obelisk van die Assiriër Salmaneser III, wat nou in die Britse Museum, Londen, te sien is en wat Israel se koning Jehu by name noem. Daar is die inskripsies van Assiriese koning Tiglat-Pileser III (Pul), wat etlike konings van Israel en Juda noem, onder meer Menahem, Agas en Peka.—15:19, 20; 16:5-8.a

4. Wat bewys dat Tweede Konings ’n integrerende deel van die geïnspireerde Skrif is?

4 ’n Duidelike bewys van die egtheid van die boek word gevind in die absolute openhartigheid waarmee dit die voltrekking van Jehovah se oordele aan sy eie volk beskryf. Wanneer eers die koninkryk van Israel en dan die koninkryk van Juda gewelddadig verwoes word, laat dit ons die treffende krag van Jehovah se profetiese oordeel in Deuteronomium 28:15–29:28 besef. Met die vernietiging van hierdie koninkryke “het die toorn van die HERE teen hierdie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is” (Deut. 29:27; 2 Kon. 17:18; 25:1, 9-11). Ander gebeure wat in Tweede Konings opgeteken is, word elders in die Skrif verklaar. In Lukas 4:24-27 verwys Jesus, nadat hy Elia en die weduwee van Sarfat genoem het, na Elisa en Naäman wanneer hy toon waarom hý nie as ’n profeet in sy tuisgebied aanvaar word nie. Dit blyk dus dat Eerste sowel as Tweede Konings ’n integrerende deel van die Heilige Skrif is.

INHOUD VAN TWEEDE KONINGS

5. Watter berisping en vonnis spreek Elia oor Ahasia uit, en waarom?

5 Ahasia, koning van Israel (1:1-18). Hierdie seun van Agab val in sy huis en word siek. Hy stuur boodskappers na Baäl-Sebub, die god van Ekron, om te verneem of hy sal herstel. Elia keer die boodskappers voor en stuur hulle terug na die koning met ’n berisping omdat hy nie die ware God geraadpleeg het nie en sê vir hom dat hy, omdat hy hom nie tot die God van Israel gewend het nie, sekerlik sal sterf. Wanneer die koning ’n owerste met 50 man stuur om Elia na die koning te bring, roep Elia vuur uit die hemel neer om hulle te verteer. Dieselfde gebeur met ’n tweede owerste en sý 50. ’n Derde owerste en 50 word gestuur, en hierdie keer spaar Elia hulle lewens op grond van die owerste se eerbiedige pleidooi. Elia gaan saam met hulle na die koning en spreek weer eens die doodsvonnis oor Ahasia uit. Die koning sterf net soos Elia gesê het. Dan word Joram, die broer van Ahasia, koning oor Israel, want Ahasia het geen seun om sy plek te neem nie.

6. Onder watter omstandighede skei Elia van Elisa, en hoe word daar weldra getoon dat “die gees van Elia” op Elisa kom rus het?

6 Elisa volg Elia op (2:1-25). Die tyd breek aan vir Elia om weggeneem te word. Elisa vergesel hom heelpad op sy reis van Gilgal na Bet-el, na Jerigo en uiteindelik tot aan die oorkant van die Jordaan. Elia skei die water van die Jordaan deur met sy ampskleed daarop te slaan. Wanneer Elisa ’n strydwa van vuur en perde van vuur tussen hom en Elia sien kom en hy Elia in ’n windstorm sien opvaar, ontvang hy die beloofde twee dele van Elia se gees. Hy toon weldra dat “die gees van Elia” op hom kom rus het (2:15). Hy tel Elia se mantel wat geval het op en gebruik dit om die water weer te skei. Dan maak hy die slegte water by Jerigo gesond. Op pad na Bet-el begin klein seuntjies hom spot: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” (2:23). Elisa roep Jehovah aan en twee berinne kom uit die bos en maak 42 van hierdie jong deugniete dood.

7. As gevolg waarvan red Jehovah Josafat en Joram?

7 Joram, koning van Israel (3:1-27). Hierdie koning bly doen wat verkeerd is in Jehovah se oë deur die sondes van Jerobeam aan te kleef. Die koning van Moab het Israel skatting betaal maar kom nou in opstand, en Joram vra koning Josafat van Juda en die koning van Edom om saam met hom teen Moab op te trek. Op pad na die aanval, kom hulle leërs by ’n waterlose gebied en staan hulle op die punt om om te kom. Die drie konings gaan af na Elisa om Jehovah sy God te raadpleeg. As gevolg van getroue Josafat red Jehovah hulle en gee hy hulle die oorwinning oor Moab.

8. Watter verdere wonders doen Elisa?

8 Elisa se verdere wonders (4:1–8:15). Aangesien haar skuldeisers op die punt staan om haar twee seuns as slawe weg te neem, vra die weduwee van een van die profete-seuns Elisa om hulp. Hy vermeerder die klein voorraad olie in haar huis op wonderdadige wyse sodat sy genoeg kan verkoop om haar skulde te betaal. ’n Sunamitiese vrou besef dat Elisa ’n profeet van die ware God is en sy en haar man maak ’n vertrek gereed wat hy kan gebruik wanneer hy in Sunem is. Weens haar goedhartigheid seën Jehovah haar met ’n seun. Enkele jare later word die kind siek en sterf hy. Die vrou gaan soek Elisa onmiddellik. Hy vergesel haar na haar huis en wek die kind met Jehovah se krag op. Met sy terugkeer na die profete-seuns in Gilgal verwyder Elisa wonderdadig “die dood . . . in die pot” deur giftige kalbasse onskadelik te maak. Dan voed hy honderd man met 20 garsbrode en hulle ‘hou nog oor’.—4:40, 44, vgl. NW.

9. Watter wonders word gedoen in verband met Naäman, en met die bylblad?

9 Naäman, die owerste van die Aramese (Siriese) leër, is melaats. ’n Gevange Israelitiese dogtertjie vertel Naäman se vrou dat daar ’n profeet in Samaria is wat hom kan genees. Naäman reis na Elisa, maar in plaas van hom persoonlik te behandel, stuur Elisa hom bloot ’n boodskap om hom sewe maal in die Jordaan te gaan was. Naäman is verontwaardig oor hierdie skynbare gebrek aan respek. Is die riviere van Damaskus nie beter as die waters van Israel nie? Maar hy word oorreed om Elisa te gehoorsaam, en hy word genees. Elisa weier om ’n geskenk as beloning aan te neem, maar later hardloop sy dienaar Gehasi agter Naäman aan en vra hy in Elisa se naam ’n geskenk. Wanneer Gehasi terugkom en Elisa probeer mislei, word hy deur melaatsheid getref. Nog ’n wonder word gedoen wanneer Elisa ’n bylblad laat dryf.

10. Hoe word die verhewe strydkragte van Jehovah getoon, en hoe stuit Elisa die Arameërs?

10 Wanneer Elisa die koning van Israel waarsku teen ’n Aramese sameswering om hom dood te maak, stuur die koning van Aram ’n krygsmag na Dotan om Elisa gevange te neem. Wanneer Elisa se dienaar die stad deur die leërs van Aram omsingel sien, word hy bang. Elisa verseker hom: “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Dan bid hy tot Jehovah om sy dienaar die groot mag wat met Elisa is te laat sien. ‘En meteens is die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa’ (6:16, 17). Wanneer die Arameërs aanval, bid die profeet weer tot Jehovah, en die Arameërs word met geestesblindheid getref en na die koning van Israel gelei. Elisa sê egter vir die koning om hulle nie dood te maak nie, maar om eerder vir hulle ’n feesmaal voor te sit en hulle huis toe te stuur.

11. Hoe word Elisa se profesieë in verband met die Arameërs en Benhadad vervul?

11 Later beleër koning Benhadad van Aram Samaria, en daar is ’n groot hongersnood. Die koning van Israel blameer Elisa, maar die profeet voorspel ’n oorvloed van voedsel vir die volgende dag. In die nag laat Jehovah die Arameërs die geluid van ’n groot leër hoor, sodat hulle vlug en al hulle voorrade vir die Israeliete agterlaat. Na ’n ruk word Benhadad siek. Wanneer hy hoor dat Elisa na Damaskus gekom het, stuur hy Hasael om te verneem of hy sal herstel. Elisa se antwoord dui aan dat die koning sal sterf en dat Hasael in sy plek sal regeer. Hasael maak seker hiervan deur self die koning dood te maak en die koningskap oor te neem.

12. Watter soort koning is Josafat se seun Jehoram?

12 Jehoram, koning van Juda (8:16-29). Intussen is Josafat se seun Jehoram nou koning in Juda. Hy is niks beter as die konings van Israel nie en doen wat verkeerd is in Jehovah se oë. Sy vrou is Agab se dogter Atalia, wie se broer Joram in Israel regeer. By die dood van Jehoram van Juda word sy seun Ahasia koning in Jerusalem.

13. Watter blitsveldtog voer Jehu na sy salwing?

13 Jehu, koning van Israel (9:1–10:36). Elisa stuur een van die profete-seuns om Jehu tot koning oor Israel te salf en hom die opdrag te gee om die hele huis van Agab uit te roei. Jehu tree sonder versuim op. Hy gaan na Joram, koning van Israel, wat in Jisreël van oorlogswonde herstel. Die wag sien die deinende massa manne aankom en sê uiteindelik vir die koning: “Die drywe is soos die drywe van Jehu, die seun van Nimsi, want hy dryf soos ’n kranksinnige” (9:20). Joram van Israel en Ahasia van Juda vra wat Jehu se bedoeling is. Jehu antwoord deur te vra: “Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isebel en haar towerye so baie is?” (9:22). Wanneer Joram omdraai om te vlug, skiet Jehu ’n pyl deur sy hart. Sy lyk word daar op die grond van Nabot gegooi as verdere vergelding vir die onskuldige bloed wat deur Agab vergiet is. Later sit Jehu en sy manne Ahasia agterna en vel hulle hom neer sodat hy in Megiddo sterf. Twee konings sterf in Jehu se eerste blitsveldtog.

14. Hoe word Elia se profesie oor Isebel vervul?

14 Nou is dit Isebel se beurt! Wanneer Jehu seëvierend in Jisreël inry, verskyn Isebel by haar venster in haar verleidelikste grimering. Jehu is nie beïndruk nie. “Gooi haar af!” roep hy ’n paar dienaars toe. Sy word afgegooi, en haar bloed spat teen die muur en teen die perde wat haar vertrap. Wanneer hulle haar wil begrawe, kan hulle net haar skedel, haar voete en haar handpalms vind. In vervulling van Elia se profesie ‘het honde haar vlees geëet en het sy soos mis op die stuk grond van Jisreël geword’.—2 Kon. 9:33, 36, 37; 1 Kon. 21:23.

15. Watter verskillende soorte ontmoetings het Jehu op pad na Samaria?

15 Vervolgens beveel Jehu die slagting van 70 seuns van Agab, en hy stapel hulle hoofde by die poort van Jisreël op. Al Agab se ja-broers in Jisreël word om die lewe gebring. Nou na Israel se hoofstad, Samaria! Op pad kom hy die 42 broers van Ahasia teë wat na Jisreël reis, onbewus van wat gebeur. Hulle word gegryp en doodgemaak. Maar nou vind ’n ander soort ontmoeting plaas. Jonadab, die seun van Regab, kom Jehu tegemoet. Op Jehu se vraag: “Is jou hart reg soos my hart met jou hart is?” antwoord Jonadab: “Ja.” Jehu laat hom dan saam met hom in sy strydwa gaan om self sy “ywer vir die HERE te sien”, dat hy geen mededinging teen Jehovah duld nie.—2 Kon. 10:15, 16, vgl. NW.

16. Hoe deeglik is Jehu se optrede teen Agab se huis en teen Baäl?

16 Ooreenkomstig Jehovah se woord aan Elia roei Jehu almal uit wat van Agab oor is wanneer hy in Samaria aankom (1 Kon. 21:21, 22). Maar wat van die verfoeilike Baälgodsdiens? Jehu sê: “Agab het Baäl ’n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien” (2 Kon. 10:18). Wanneer hy al hierdie demonaanbidders na die huis van Baäl laat kom het, laat hy hulle hulle identifiserende klere aantrek en maak hy seker dat daar geen aanbidder van Jehovah onder hulle is nie. Dan stuur hy sy manne in om hulle dood te maak en nie een te laat wegkom nie. Baäl se huis word afgebreek en gemakhuisies word daar opgerig, wat tot in Jeremia se dag staan. ‘So verdelg Jehu Baäl uit Israel.’—10:28.

17. Waarin skiet Jehu te kort, en hoe begin Jehovah Israel straf?

17 Maar selfs die ywerige Jehu skiet te kort. Hoe? Hy bly die goue kalwers volg wat Jerobeam in Bet-el en Dan opgerig het. Hy ‘wandel nie sorgvuldig in die wet van Jehovah, die God van Israel, met sy hele hart nie’ (10:31). Maar weens sy optrede teen die huis van Agab beloof Jehovah dat sy nakomelinge tot die vierde geslag oor Israel sal regeer. In sy dae begin Jehovah die oostelike deel van die koninkryk afsny deur Hasael van Aram teen Israel te bring. Jehu sterf nadat hy 28 jaar regeer het en word deur sy seun Joahas opgevolg.

18. Hoe word Atalia se sameswering in Juda verydel, en wat is merkwaardig omtrent die regering van Joas?

18 Joas, koning van Juda (11:1–12:21). Die koningin-moeder, Atalia, is die dogter van Isebel in vlees en in gees. Wanneer sy van die dood van haar seun Ahasia hoor, beveel sy dat die hele koninklike familie uitgeroei word en neem sy die troon oor. Net Ahasia se babaseuntjie Joas ontkom aan die dood wanneer hy weggesteek word. In die sewende jaar van Atalia se regering laat die priester Jojada Joas as koning salf en laat hy Atalia doodmaak. Jojada lei die volk in die aanbidding van Jehovah, onderrig die jeugdige koning in sy pligte teenoor God en reël dat die huis van Jehovah herstel word. Deur middel van geskenke weer Joas ’n aanval deur Hasael, die koning van Aram, af. Na hy 40 jaar in Jerusalem regeer het, word Joas deur sy dienaars om die lewe gebring, en sy seun Amasia begin om in sy plek as koning te regeer.

19. (a) Watter valse aanbidding duur in Israel voort gedurende die regering van Joahas en Joas? (b) Hoe eindig Elisa sy loopbaan as Jehovah se profeet?

19 Joahas en Joas, konings van Israel (13:1-25). Jehu se seun Joahas sit afgodediens voort, en Israel kom onder die heerskappy van Aram, hoewel Joahas nie onttroon word nie. Jehovah bevry die Israeliete na verloop van tyd, maar hulle gaan voort met Jerobeam se kalfaanbidding. By Joahas se dood neem sy seun Joas sy plek as koning oor Israel in, terwyl die ander Joas in Juda regeer. Joas van Israel sit die afgodediens van sy vader voort. By sy dood word sy seun Jerobeam koning. Gedurende die regering van Joas word Elisa siek en sterf hy na hy sy laaste profesie uitgespreek het, naamlik dat Joas Aram drie keer sal verslaan, wat dan ook vervul word. Die laaste wonder wat aan Elisa toegeskryf word, vind na sy dood plaas wanneer ’n dooie man in dieselfde graf gegooi word en lewendig word sodra hy aan Elisa se gebeente raak.

20. Beskryf Amasia se regering in Juda.

20 Amasia, koning van Juda (14:1-22). Amasia doen wat reg is in Jehovah se oë, maar hy vernietig nie die hoogtes wat vir aanbidding gebruik word nie. Hy word in oorlog verslaan deur Joas van Israel. Na ’n regering van 29 jaar word hy in ’n sameswering doodgemaak. Sy seun Asarja word in sy plek koning gemaak.

21. Wat vind gedurende die regering van Jerobeam II in Israel plaas?

21 Jerobeam II, koning van Israel (14:23-29). Die tweede Jerobeam wat koning in Israel is, sit die valse aanbidding van sy voorouer voort. Hy regeer 41 jaar in Samaria en slaag daarin om Israel se verlore gebiede te herower. Sy seun Sagaria volg hom op die troon op.

22. Wat word oor Asarja se regering in Juda gemeld?

22 Asarja (Ussia), koning van Juda (15:1-7). Asarja regeer 52 jaar lank. Hy is regskape voor Jehovah, maar vernietig nie die hoogtes nie. Later slaan Jehovah hom met melaatsheid, en sy seun Jotam neem die koninklike pligte waar en word koning na Asarja se dood.

23. Deur watter euwels word Israel geteister wanneer die Assiriese bedreiging die kop uitsteek?

23 Sagaria, Sallum, Menahem, Pekahia en Peka, konings van Israel (15:8-31). Ooreenkomstig Jehovah se belofte bly die troon van Israel in die huis van Jehu tot die vierde geslag, Sagaria (10:30). Hy word gevolglik koning in Samaria en ses maande later bring ’n moordenaar hom om die lewe. Sallum, die troonrower, regeer net een maand. Valse aanbidding, moord en intrige bly Israel teister terwyl konings Menahem, Pekahia en Peka onderskeidelik kom en gaan. Gedurende Peka se regering beweeg Assirië nader vir die doodslag. Hosea vermoor Peka en word Israel se laaste koning.

24. Hoe sondig Jotam se opvolger, Agas van Juda, wat aanbidding betref?

24 Jotam en Agas, konings van Juda (15:32–16:20). Jotam beoefen ware aanbidding maar laat die hoogtes voortbestaan. Sy seun Agas volg die konings van naburige Israel na deur te doen wat verkeerd is in Jehovah se oë. Wanneer hy deur die konings van Israel en Aram aangeval word, vra hy die koning van Assirië om hulp. Die Assiriërs kom hom te hulp en neem Damaskus in, en Agas gaan daarheen om die koning van Assirië te ontmoet. Wanneer Agas die altaar van aanbidding daar sien, laat hy een in Jerusalem bou wat net so lyk en begin hy daarop offer in plaas van op die koperaltaar by Jehovah se tempel. Sy seun Hiskia volg hom op as koning van Juda.

25. Hoe beland Israel in gevangenskap, en waarom?

25 Hosea, laaste koning van Israel (17:1-41). Israel kom nou onder die heerskappy van Assirië. Hosea kom in opstand en soek hulp by Egipte, maar in die negende jaar van sy regering word Israel deur Assirië verower en in gevangenskap weggevoer. So eindig die tienstammeryk van Israel. Waarom? “Want die kinders van Israel het gesondig teen die HERE hulle God . . . En hulle het die drekgode gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie. So het die HERE dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het” (17:7, 12, 18). Die Assiriërs bring mense van die ooste om hulle in die land te vestig, en húlle word ‘vresers van Jehovah’ hoewel hulle hulle eie gode bly aanbid.—17:33.

26, 27. (a) Hoe doen Hiskia van Juda wat reg is in Jehovah se oë? (b) Hoe verhoor Jehovah Hiskia se gebed deur die Assiriërs terug te dryf? (c) Watter verdere vervulling ondergaan Jesaja se profesie?

26 Hiskia, koning van Juda (18:1–20:21). Hiskia doen wat reg is in Jehovah se oë, volgens alles wat Dawid sy voorvader gedoen het. Hy roei valse aanbidding uit en breek die hoogtes af, en hy vernietig selfs die koperslang wat Moses gemaak het omdat die volk dit nou aanbid. Sanherib, koning van Assirië, val Juda nou binne en neem talle versterkte stede in. Hiskia probeer hom met ’n groot skatting afkoop, maar Sanherib stuur sy boodskapper Rabsake, wat tot by die mure van Jerusalem kom en oorgawe eis en Jehovah bespot sodat die hele volk dit hoor. Die profeet Jesaja stel getroue Hiskia gerus met ’n oordeelsboodskap teen Sanherib. “So spreek die HERE: Vrees nie” (19:6). Wanneer Sanherib hulle bly dreig, smeek Hiskia Jehovah: “Verlos ons dan nou tog uit sy hand, HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.”—19:19.

27 Verhoor Jehovah hierdie onselfsugtige gebed? Eers stuur hy deur Jesaja die boodskap dat “die ywer van die HERE van die leërskare” die vyand sal terugdryf (19:31). Dan stuur hy sy engel daardie selfde nag om 185 000 in die laer van die Assiriërs te verslaan. In die oggend ‘is almal dooie liggame’ (19:35). Die verslane Sanherib keer terug en gaan woon in Nineve. Daar laat sy god Nisrog hom weer eens in die steek, want terwyl hy in aanbidding neerbuig, maak sy eie seuns hom dood, ter vervulling van Jesaja se profesie.—19:7, 37.

28. Waarvoor is Hiskia beroemd, maar waarin sondig hy?

28 Hiskia word dodelik siek, maar Jehovah verhoor weer sy gebed en verleng sy lewe met nog 15 jaar. Die koning van Babel stuur boodskappers met geskenke, en Hiskia matig hom aan om hulle sy hele skathuis te wys. Jesaja profeteer dan dat alles in sy huis eendag na Babel weggevoer sal word. Daarna sterf Hiskia, beroemd vir sy mag en vir die tonnel wat hy gebou het om Jerusalem se watervoorraad in die stad in te bring.

29. Watter afgodery stel Manasse in, watter onheil voorspel Jehovah, en watter verdere sonde pleeg Manasse?

29 Manasse, Amon en Josia, konings van Juda (21:1–23:30). Manasse volg sy vader Hiskia op en regeer 55 jaar, waartydens hy op groot skaal doen wat verkeerd is in Jehovah se oë. Hy herstel die hoogtes vir valse aanbidding, rig altare vir Baäl op, maak net soos Agab ’n heilige paal en maak Jehovah se huis ’n plek vir afgodery. Jehovah voorspel dat hy onheil oor Jerusalem sal bring soos hy oor Samaria gebring het en dat hy dit sal ‘uitvee en onderstebo keer’. Manasse vergiet ook “vreeslik baie” onskuldige bloed (21:13, 16). Hy word deur sy seun Amon opgevolg, wat twee jaar lank voortgaan om te doen wat sleg is voordat hy deur moordenaars omgebring word.

30. Waarom en hoe wend Josia hom met sy hele hart tot Jehovah?

30 Die volk maak nou Amon se seun Josia koning. Gedurende sy 31-jarige bewind stuit hy vir ’n kort ruk Juda se val na vernietiging ‘deur geheel en al in die weg van sy vader Dawid te wandel’ (22:2). Hy begin met herstelwerk aan die huis van Jehovah, en daar vind die hoëpriester die wetboek. Dit bevestig dat vernietiging oor die nasie sal kom weens sy ongehoorsaamheid aan Jehovah, maar Josia word verseker dat dit as gevolg van sy getrouheid nie in sy dag sal gebeur nie. Hy reinig die huis van Jehovah en die hele land van demonaanbidding en brei sy verbryseling van afgode tot Bet-el uit, waar hy Jerobeam se altaar ter vervulling van die profesie in 1 Konings 13:1, 2 vernietig. Hy stel weer die Pasga ter ere van Jehovah in. “Voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses” (23:25). Nietemin woed Jehovah se toorn nog weens Manasse se oortredings. Josia sterf in ’n botsing met die koning van Egipte by Megiddo.

31. Watter terugslae tref Juda ná Josia se dood?

31 Joahas, Jojakim en Jojagin, konings van Juda (23:31–24:17). Na Josia se seun Joahas drie maande regeer het, neem die koning van Egipte hom gevange, en sy broer Eljakim, wie se naam na Jojakim verander word, word op die troon geplaas. Hy bewandel die verkeerde weg van sy voorvaders en raak onderworpe aan Nebukadnesar, die koning van Babel, maar rebelleer na drie jaar teen hom. By Jojakim se dood begin sy seun Jojagin regeer. Nebukadnesar beleër Jerusalem, neem dit in en neem die skatte van die huis van Jehovah na Babel, “soos die HERE gespreek het” deur Jesaja (24:13; 20:17). Jojagin en duisende van sy onderdane word in ballingskap na Babel weggevoer.

32. Watter dramatiese gebeure lei tot die verwoesting van Jerusalem en van die land?

32 Sedekia, die laaste koning van Juda (24:18–25:30). Nebukadnesar maak Jojagin se oom, Mattanja, koning en verander sy naam na Sedekia. Hy regeer 11 jaar in Jerusalem en doen voortdurend wat verkeerd is in Jehovah se oë. Hy rebelleer teen Babel; gevolglik trek Nebukadnesar en sy hele leër in Sedekia se negende jaar op en bou hulle ’n beleëringsmuur rondom Jerusalem. Na 18 maande word die stad deur hongersnood geteister. Daar word deur die mure gebreek en Sedekia word gevange geneem terwyl hy probeer vlug. Sy seuns word voor sy oë geslag, en hy word permanent verblind. Die volgende maand word al die vernaamste huise van die stad, met inbegrip van die huis van Jehovah en die huis van die koning, verbrand en die stadsmure afgebreek. Die meeste oorlewendes word as gevangenes na Babel weggevoer. Gedalja word aangestel as goewerneur oor die paar geringes wat op die platteland van Juda oorbly. Hy word egter vermoor en die volk vlug na Egipte. Vanaf die sewende maand van 607 v.G.J. lê die land dus heeltemal woes en verlate. Die laaste woorde van Tweede Konings vertel van die guns wat die koning van Babel in die 37ste jaar van Jojagin se gevangenskap aan hom betoon.

WAAROM NUTTIG

33. Watter goeie voorbeelde word vir ons in Tweede Konings gegee om te volg?

33 Hoewel Tweede Konings die noodlottige agteruitgang van die koninkryke van Israel en Juda bespreek, skitter dit met talle voorbeelde van Jehovah se seën op persone wat liefde vir hom en sy regte beginsels getoon het. Soos die weduwee van Sarfat voor haar, word die Sunamitiese vrou oorvloedig geseën weens haar gasvryheid teenoor God se profeet (4:8-17, 32-37). Jehovah se vermoë om altyd te voorsien, is getoon toe Elisa honderd man met 20 brode gevoed het, net soos Jesus later soortgelyke wonders sou doen (2 Kon. 4:42-44; Matt. 14:16-21; Mark. 8:1-9). Let op hoe Jonadab geseën is deur genooi te word om saam te gaan in Jehu se strydwa om die vernietiging van die Baälaanbidders te aanskou. En waarom? Omdat hy daadwerklik opgetree het deur die ywerige Jehu te gaan groet (2 Kon. 10:15, 16). Ten slotte is daar die uitstekende voorbeelde van Hiskia en Josia wat hulle nederigheid en gepaste eerbied vir Jehovah se naam en Wet betref (19:14-19; 22:11-13). Dit is vir ons uitstekende voorbeelde om te volg.

34. Wat leer Tweede Konings ons oor respek vir amptelike knegte en oor bloedskuld?

34 Jehovah duld geen oneerbiedigheid teenoor sy amptelike knegte nie. Toe deugniete Elisa as die profeet van Jehovah bespot het, het Hy gou vergelding gebring (2:23, 24). Daarbenewens respekteer Jehovah die bloed van die onskuldiges. Sy oordeel het swaar op Agab se huis gerus, nie net as gevolg van Baälaanbidding nie, maar ook as gevolg van die bloedvergieting wat daarmee gepaard gegaan het. Jehu is derhalwe gesalf om “die bloed van al die knegte van die HERE op Isebel” te wreek. Toe oordeel aan Joram voltrek is, het Jehu Jehovah se verklaring onthou dat dit weens “die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns” was (9:7, 26). Dit was eweneens Manasse se bloedskuld wat uiteindelik Juda se ondergang beseël het. Benewens sy sonde deur valse aanbidding te beoefen, het Manasse ‘Jerusalem van end tot end met bloed gevul’. Hoewel Manasse hom later van sy slegte weg bekeer het, het die bloedskuld voortbestaan (2 Kron. 33:12, 13). Selfs nie die goeie regering van Josia en sy uitroeiing van alle afgodery kon die gemeenskaplike bloedskuld wat deur Manasse se regering veroorsaak is, uitwis nie. Jare later, toe Jehovah sy skerpregters teen Jerusalem laat optrek het, het hy gesê dit was omdat Manasse “Jerusalem met onskuldige bloed vervul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie” (2 Kon. 21:16; 24:4). Jesus het insgelyks gesê dat die Jerusalem van die eerste eeu G.J. moes vergaan omdat sy priesters die kinders was van diegene wat die bloed van die profete vergiet het, ‘sodat daar oor hulle kan kom al die regverdige bloed wat op die aarde vergiet is’ (Matt. 23:29-36). God waarsku die wêreld dat hy die onskuldige bloed wat vergiet is, sal wreek, veral die bloed “van die wat gedood is ter wille van die woord van God”.—Openb. 6:9, 10.

35. (a) Hoe word daar bevestig dat Elia, Elisa en Jesaja ware profete was? (b) Wat sê Petrus, in ’n sinspeling op Elia, oor profesieë?

35 Die onfeilbare sekerheid waarmee Jehovah sy profetiese oordele in vervulling laat gaan, blyk ook uit Tweede Konings. Ons aandag word op drie vooraanstaande profete gevestig, Elia, Elisa en Jesaja. Daar word getoon dat die profesieë van elkeen op treffende wyse vervul is (2 Kon. 9:36, 37; 10:10, 17; 3:14, 18, 24; 13:18, 19, 25; 19:20, 32-36; 20:16, 17; 24:13). Die feit dat Elia ’n ware profeet was, word ook bevestig deur sy verskyning saam met die profeet Moses en die Groot Profeet, Jesus Christus, in die verheerliking op die berg (Matt. 17:1-5). Met betrekking tot die luister van daardie geleentheid het Petrus gesê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.”—2 Pet. 1:19.

36. Waarom het Jehovah barmhartigheid teenoor sy volk betoon, en hoe word ons vertroue in die Koninkryk van die Saad vergroot?

36 Die gebeure wat in Tweede Konings opgeteken is, toon duidelik dat Jehovah se oordeel oor almal wat valse godsdiens beoefen en opsetlik onskuldige bloed vergiet, uitwissing is. Tog het Jehovah guns en barmhartigheid teenoor sy volk betoon “ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob” (2 Kon. 13:23). Hy het hulle gespaar “ter wille van Dawid, sy kneg” (8:19). Hy sal soortgelyke barmhartigheid betoon teenoor diegene wat hulle vandag tot hom wend. Wanneer ons die Bybelverslag en -beloftes beskou, sien ons inderdaad met immer groter vertroue uit na die Koninkryk van die “seun van Dawid”, Jesus Christus die beloofde Saad, waarin daar geen bloedvergieting en goddeloosheid meer sal wees nie!—Matt. 1:1; Jes. 2:4; Ps. 145:20.

[Voetnoot]

a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 152, 325; Dl. 2, bladsye 908, 1101.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel