Die “God se profetiese woord”-streekbyeenkomste vir 1999
1 Toe die Israeliete op die punt gestaan het om die Beloofde Land in te gaan, het Moses by hulle aangedring om op God se onderrigting ag te slaan. Hy het vir hulle gesê: “Dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe” (Deut. 32:45-47). Is ons nie dankbaar teenoor Jehovah dat ons lewe vir hom so waardevol is dat hy aanhou om ons deur sy kosbare Woord te lei nie? Ons sien dus gretig uit na die driedaagse “God se profetiese woord”-streekbyeenkoms en na wat Jehovah vir ons voorberei het.
2 Vanjaar word daar beplan om streekbyeenkomste te hou vir die broers se gerief in stede regdeur Suid-Afrika en in lande wat onder die Suid-Afrikaanse takkantoor val. Buiten Engels, sal die byeenkomsprogram ook aangebied word in Afrikaans, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa, Zulu en in Gebaretaal by drie byeenkomste.
3 Jy het ongetwyfeld al reëlings getref om elke dag van die byeenkoms by te woon omdat jy glo dat Jehovah van jou verwag om teenwoordig te wees. Wees verseker dat hy die individuele pogings en opofferings sien wat sy knegte maak om teenwoordig te wees en dat hy dit met waardering onthou (Heb. 6:10). Deur elke byeenkomsdag van die openingslied tot die slotgebed teenwoordig te wees, wys ons vir Jehovah dat ons sy woorde aan ons op prys stel (Deut. 4:10). Ons toon ook ons waardering vir die harde werk van baie van ons broers wat by die voorbereiding van die byeenkoms betrokke is.
4 Vooruitbeplanning en goeie organisasie is nodig sodat duisende van God se volk by elke byeenkomsterrein kan vergader. Die wete dat byeenkomsreëlings liefdevol gemaak is, moet ons beweeg om ons samewerking te gee sodat “alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Kor. 14:40). Die volgende inligting en herinneringe word voorsien sodat jy ten volle voorbereid by jou byeenkoms kan aankom om die geestelike voedsel en Christelike broederskap te geniet.
Voor die byeenkoms
5 Het diegene met wie jy ’n Bybelstudie hou en ander belangstellendes hulp nodig om persoonlike reëlings te tref om die byeenkoms by te woon? Wat hulle daar sien en hoor, kan hulle beweeg om aanbidders van Jehovah te word (1 Kor. 14:25). Ouer manne moet bewus wees van enigeen wat hulp nodig het met huisvesting of vervoer, veral ouer lede van die gemeente, en liefdevol toesien dat daar in hulle behoeftes voorsien word.—Gal. 6:10.
6 Is jou reëlings vir huisvesting gefinaliseer? Het jy, indien jy in ’n hotel gaan bly, jou bespreking bevestig? Teen hierdie tyd moes die gemeentelike sekretaris enige Kameraansoekvorms wat deur die Gemeentelike Dienskomitee goedgekeur is na die gepaste byeenkomsadres gepos het. As jy huisvesting gekry het, of dit nou in ’n hotel of ’n huis is, en jy dit moet kanselleer, moet jy asseblief die plaaslike Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die huisvesting vir iemand anders gegee kan word. Die adres en telefoonnommer kan by die gemeentelike sekretaris gekry word.
7 As jy inligting oor ’n byeenkoms nodig het, kan die gemeentelike sekretaris vir jou die adres van ’n spesifieke terrein gee. Moet asseblief nie die bestuur van die byeenkomsfasiliteite skakel of aan hulle skryf nie.
8 Aangesien die noodhulpafdeling by die byeenkoms opgestel is om slegs noodgevalle te hanteer, stel ons voor dat jy jou eie aspirien, verbande, inasemingstoestelle, spysverteringsmedisyne en soortgelyke items na die byeenkoms toe neem as jy dink dat jy dit dalk sal nodig kry. As jy of ’n geliefde ’n ernstige gesondheidsprobleem het, soos ’n hartkwaal, suikersiekte of epilepsie, moet jy asseblief die nodige medikasie na die byeenkoms toe bring om na hierdie behoeftes om te sien, soos jy by die huis of op vakansie sou doen. Dit sal verstandig wees as ’n familielid of ’n goeie vriend wat die situasie verstaan by die persoon bly, aangesien hy in die beste posisie sal wees om die nodige bystand te verleen.
9 Daar sal heel moontlik geleenthede opduik om informele getuieniswerk te doen wanneer jy van en na die byeenkoms reis. Sal jy voorbereid wees om vir ander van die waarheid te getuig? Ons almal, ook jong kinders, kan ’n deelname hê deur traktate aan te bied vir petroljoggies, tolbeamptes en ander wat ons op ons pad ontmoet. Daar sal geleenthede wees om tydskrifte, brosjures of ander lektuur by belangstellendes te laat. Wees voorbereid om informeel vir mense te getuig wat dalk nie andersins deur konvensionele velddiensmetodes bereik sal word nie.
Gedurende die byeenkoms
10 Deure by die byeenkomsterrein sal elke dag om 7:30 vm. geopen word. Jy mag slegs sitplekke hou vir jou eie gesin of diegene wat saam met jou in jou motor ry. Gerieflike sitplekke sal vir bejaarde broers en susters opsy gesit word, en daar sal ook dele afgebaken word vir gestremdes en diegene wat toegang vir ’n rolstoel nodig het. Dit is nie moontlik om spesiale vertrekke by die byeenkomsterrein beskikbaar te stel vir diegene met omgewingsiektes of allergieë nie. Maak asseblief elke dag wanneer jy jou sitplek verlaat, seker dat jy al jou besittings by jou het.
11 Sodat ons in groot getalle vir ons streekbyeenkomste kan vergader, moet ons plaaslike wette, brandregulasies en ander veiligheidsmaatreëls nakom. Daarom moet kinderwaentjies en opvoustoele nie in die geboue ingebring word waar ons vergader nie. As hulle in areas staan waar mense loop of as hulle tussen rye stoele staan, kan mense daaroor struikel. Waar moontlik, sal die Byeenkomskomitee ’n deel opsy sit waar kinderwaentjies gelaat kan word. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar. Gee asseblief ag op die saalwagters se instruksies deur die paadjies oop te hou.
12 Gaan jy by die streekbyeenkoms gedoop word? Vir die Saterdagoggendsessie sal ’n gedeelte van die stoele vir doopkandidate opsy gesit word, en die saalwagters sal jou wys waar dit is. Neem asseblief jou sitplek in, indien moontlik, voor die sessie begin. Bring jou Bybel, liedereboek, handdoek en ’n beskeie baaikostuum saam. Uitgerafelde denimkortbroeke, T-hemde met slagspreuke en soortgelyke klere is onvanpas vir so ’n waardige geleentheid. Ouer manne wat die vrae in die Ons bediening-boek met die doopkandidate deurgaan, moet seker maak dat elkeen hierdie punte verstaan. Aangesien doop ’n simbool van persoonlike toewyding aan Jehovah God is, sal dit onvanpas wees vir doopkandidate om hande vas te hou terwyl hulle gedoop word.
13 Jy mag kameras, videokameras en bandopnemers by die byeenkoms gebruik. Waar hulle geplaas of hoe hulle gebruik word, moet egter nie die paadjies versper, ander se uitsig belemmer of hulle aandag van die program aftrek nie. Hulle moet selfstandige eenhede wees—dit wil sê nie aan die elektriese of klankstelsels gekoppel nie. ’n Paar Getuies het na die byeenkoms toe gekom met kameras en film om sake te doen deur foto’s te neem. Dit is onmoontlik om vas te stel wie sy kamera gebruik om geld te maak en wie nie. Daarom doen die Genootskap ’n beroep op diegene wat dit in die verlede gedoen het om dit nie weer te doen nie. Onthou dat die byeenkomsfasiliteite tydens die byeenkoms ’n plek van aanbidding is en dat saketransaksies nie daar aangegaan moet word nie. Om dit te keer, is saalwagters aangesê om ’n gebied om die verhoog af te baken.
14 Namate die gebruik van sellulêre telefone en roepradio’s toeneem, moet jy asseblief versigtig wees dat hierdie toestelle nie jou aandag of dié van ander om jou van die program aftrek nie. Hierdie toestelle moet nie toegelaat word om hoorbaar te lui of te biep terwyl jy in die gehoor sit nie. As daar ’n noodgeval is, moet jy dadelik die naaste saalwagter daarvan in kennis stel. Hulle het instruksies ontvang oor hoe om noodgevalle te hanteer. Enige noodoproepe moet deur diegene gemaak word wat deur die byeenkomsadministrasie gemagtig is, nie deur mense wat hulle sellulêre telefoon gebruik nie.
15 Die Genootskap het gevra dat ons elke dag ons eie middagete na die byeenkoms toe bring, aangesien dit tyd spaar en sake vereenvoudig. Die meeste broers het hierdie riglyne gevolg en gevind dat hulle, nadat hulle vir die middagpouse verdaag is, saam met hulle familie kan sit en eet wat hulle vir die dag saamgebring het. Baie het gesê dat hulle die geleentheid geniet het om gedurende die middagpouse te ontspan en ekstra tyd saam met hulle broers en susters deur te bring. Dit beteken dat ’n mens voor die tyd eet- en drinkgoed moet koop en in ’n klein houer of koeler moet pak wat onder die sitplek kan pas. Ons wil almal wat teenwoordig gaan wees, versoek om hierdie riglyne te volg. Daar is opgemerk dat broers gedurende die sessies die ouditorium verlaat om koeldranke en roomys by straatverkopers te gaan koop. Aandag moet eerder aan die geestelike onderrigting gegee word. Na afloop van die sessies veroorsaak lang toue om die verkopers ook ’n samedromming by die ingange. Daarom wil ons vra dat elkeen eerder probeer om elke dag sy eie eet- en drinkgoed na die byeenkoms toe te bring as om die straatverkopers te ondersteun. Belangstellendes wat saam met jou na die byeenkoms toe gaan, moet ook hulle eie kos bring. Glashouers en alkohol word nie by die byeenkomsfasiliteite toegelaat nie.
16 Kan jy aanbied om elke dag na afloop van die sessies die fasiliteite te help skoonmaak? Of kan jy in een van die ander byeenkomsafdelings werk? As jy kan help, moet jy asseblief na die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms gaan. Kinders onder 16 kan gerus saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene werk. Almal kan natuurlik help om die fasiliteite skoon te hou deur enige vullis op te tel en behoorlik daarvan ontslae te raak.
17 Ons het goeie riglyne ontvang oor wat gepaste kleredrag en persoonsversorging by ons byeenkomste is. Byvoorbeeld: Ons het riglyne hieroor ontvang in byvoegsels tot Ons Koninkryksbediening, ons het prente en foto’s in ons lektuur en, nog belangriker, ons het Jehovah se woorde in die Bybel (Rom. 12:2; 1 Tim. 2:9, 10). Mense weet wie ons is en waarom ons in hulle stad bymekaargekom het. Ons kleredrag en persoonsversorging is dus op sigself ’n kragtige getuienis. Die meeste van Jehovah se volk stel op hierdie gebied ’n goeie voorbeeld. Soms sien ons egter hoe die gees van die wêreld weerspieël word in die kleredrag en persoonsversorging van party wat ons byeenkomste bywoon. Gewaagde klere, soos rokke met lae halse, kort rokke en rompe, sonrokke, asook rokke en rompe met ’n lang split, lei daartoe dat die individu se bewering dat hy ’n geestelike persoon is in twyfel getrek word. ’n Beskeie, skoon, netjiese voorkoms is die aantreklikste. Gesinshoofde moet dus oplet na wat hulle gesinslede van plan is om te dra. Dit sal ook geld vir wanneer ons nie by die byeenkomsterrein is nie. Diegene wat vir programdele verantwoordelik is, moet ook van die standaard van kleredrag bewus wees. As ons ons lapelkaart voor en ná die dag se sessies dra, sal dit ons verder identifiseer met Jehovah en sy rein volk.—Vergelyk Markus 8:38.
18 Die wyse koning Salomo het onder inspirasie gesê dat “sotheid vassit in die hart van die seun” en dat “’n seun wat aan homself oorgelaat word, . . . sy moeder in die skande [steek]” (Spr. 22:15; 29:15). Gedurende die sessies het jonger Getuies wat sonder toesig was die broers en susters gesteur wat by die program probeer baat vind het. Gedurende verlede jaar se byeenkomste was dit teleurstellend om te sien hoeveel mense—volwassenes en tieners—doelloos rondloop en onnodig na die toilette toe gaan terwyl die sessies aan die gang was. In party gevalle het hulle aggressief geraak en die saalwagters se versoeke om te gaan sit, geïgnoreer. ’n Paar jongmense het ook op die terrein rondgeloop en met die brandkrane en opgerolde brandslange gepeuter. ’n Bestuurder van een van die terreine in Suid-Afrika het die Genootskap gevra om strenger beheer oor die byeenkomsgangers uit te oefen, aangesien mense op plekke op die terrein geloop het wat die Genootskap nie gehuur het nie. Dit is die eerste keer dat so ’n versoek gemaak is, en dit is teleurstellend dat so iets oor die gedrag van Jehovah se Getuies gesê is. Dit is duidelik dat hierdie jongmense nie baat gevind het by die geestelike program wat met hulle in gedagte voorberei is nie. Aangesien ouers teenoor Jehovah aanspreeklik is vir hulle kinders se gedrag, kan ’n ma of pa net seker wees dat hulle kinders hulle gedra en na Jehovah se onderrigting luister as die kinders by hulle sit. Saalwagters sal dus enigeen wat ’n steuring veroorsaak, met eiendom peuter of rondloop, vra om dit nie te doen nie en hulle vriendelik daaraan herinner om aandag aan die program te skenk.
19 Aangesien ons die publiek na ons byeenkomste nooi, is dit verstandig om versigtig te wees wat ons kinders en persoonlike besittings betref. Ons kinders is ’n kosbare geskenk van Jehovah. Maar ons weet dat die wêreld die dierlike geaardheid van Satan weerspieël. Daarom moet jy asseblief ten alle tye weet waar jou kinders is. Kameras, handsakke en ander waardevolle items moet ook ten alle tye by jou wees en nie by jou sitplek gelaat word nie. Maak seker dat jou voertuig gesluit is en sit persoonlike besittings in die bagasiebak of neem dit saam met jou. Dit maak die versoeking kleiner vir iemand om in jou voertuig in te breek.
20 Die plaaslike Huisvestingsafdeling sal jou met graagte help as daar ’n probleem opduik in verband met jou hotelbespreking of die huisvesting wat aan jou toegewys is. Laat weet asseblief die Huisvestingsafdeling van enige probleme terwyl jy nog by die byeenkoms is. Die broers sal jou graag help om die saak op te klaar sodat jy die byeenkoms verder kan geniet. Let ook asseblief op die volgende in verband met huisvesting:
▪ Kom asseblief aankoms- en vertrektye na by die hotel waar jy bly. As dit vroegtydig aangevra word, sal hotelle moontlik instem tot ’n vroeë aankomstyd of ’n laat vertrektyd.
▪ Televisie- en videodienste wat in hotelle beskikbaar is, voorsien dikwels toegang tot kanale wat pornografiese programme vertoon. Op versoek sal die meeste hotelle tydens jou verblyf sekere kanale of dienste na jou kamer afsluit. Hou asseblief, soos by die huis, toesig oor jou kinders se gebruik van die televisie.
21 Dit is bemoedigend om te sien dat broers en susters gedurende die byeenkomssessies aantekeninge maak. Kort aantekeninge sal jou help om te konsentreer en hoofpunte te herroep. As jy later jou aantekeninge met jou gesin of vriende hersien, sal dit jou help om oor byeenkomshoogtepunte te peins sodat jy hulle kan onthou.
22 Jehovah se volk het nog altyd mildelik tot teokratiese belange bygedra (Ex. 36:5-7; 2 Kron. 31:10; Rom. 15:26, 27). Julle vrywillige bydraes word gebruik om die uitgawes te dek wat gepaardgaan met die huur van die groot fasiliteite waarin die byeenkomste gehou word. As jy per tjek bydra, moet jy dit asseblief aan “Watch Tower Convention” uitmaak. Die meeste byeenkomsparkering is teen ’n vasgestelde bydrae beskikbaar. Party broers het daarop aangedring dat die parkeerkaartjie vir meer as een byeenkomsfasiliteit geldig is. Dit is jammer om hierdie wêreldse gesindheid by sommige te sien. Let asseblief daarop dat ’n parkeerkaartjie slegs geldig is vir die naweek waarvoor dit gekoop is en dat dit nie by ander byeenkomste geldig is nie.
23 Soos in Amos 3:7 opgeteken is, het Jehovah gesê dat hy “niks [doen] tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie”. As die “Openbaarder van geheime” het Jehovah honderde profesieë in die Bybel laat opteken wat akkuraat en ten volle vervul is (Dan. 2:28, 47, NW). Wonderlike beloftes moet nog in vervulling gaan. Die “God se profetiese woord”-streekbyeenkomste vir 1999 sal jou geloof in God se beloftes versterk. Luister aandagtig na Jehovah se woorde aan jou. Pas dit wat jy sal sien en hoor toe—in die bediening, in die gemeente en in jou persoonlik lewe. Ons bid Jehovah se ryk seën op al jou reëlings om elke dag van hierdie ryk geestelike fees by te woon!
[Lokteks op bladsy 3]
Beplan om elke dag, Vrydag, Saterdag en Sondag, teenwoordig te wees!