Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 2/22 bl. 17-19
  • Die waarheid oor leuens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die waarheid oor leuens
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste leuen
  • Dodelike gevolge
  • ’n Diepgewortelde gebruik
  • Godsdiensleuens vandag
  • Ons moet op ons hoede wees
  • Neem ’n standpunt vir waarheid in
  • Waarom is dit so maklik om leuens te vertel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Praat die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Die mens verloor die Paradys
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Waar is die dooies?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 2/22 bl. 17-19

Die waarheid oor leuens

“JOU leuenaar!” Is hierdie snydende woorde al ooit na jou geslinger? Dan besef jy ongetwyfeld watter emosionele impak dit het.

Net soos ’n kosbare vaas kan breek as dit omgestamp word en op die vloer val, so kan ’n kosbare verhouding deur ’n leuen vernietig word. Jy sal dalk weliswaar ná ’n tyd die skade kan herstel, maar die verhouding sal moontlik nooit weer heeltemal dieselfde wees nie.

“Diegene wat uitvind dat iemand vir hulle gelieg het”, sê die boek Lying—Moral Choice in Public and Private Life, “is op hulle hoede vir nuwe toenaderings. En hulle dink terug aan wat hulle voorheen geglo en gedoen het in die nuwe lig van die leuens wat hulle ontdek het.” Nadat valsheid blootgelê is, kan ’n verhouding wat vroeër met openhartige kommunikasie en vertroue gefloreer het deur agterdog en twyfel gesmoor word.

Met al die negatiewe gevoelens wat met leuens gepaardgaan, moet ons vra: ‘Hoe het so ’n verraderlike gebruik begin?’

Die eerste leuen

Toe Jehovah God die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep het, het hy hulle in ’n pragtige tuintuiste geplaas. Hulle tuiste was vry van alle valsheid of bedrog. Dit was waarlik ’n paradys!

Maar op die een of ander tyd ná Eva se skepping het Satan die Duiwel haar met ’n aanloklike aanbod genader. Daar is vir Eva gesê dat sy nie sou sterf soos God gesê het sy sou as sy van “die vrugte van die boom” eet wat God verbied het nie. Inteendeel, sy sou “soos God . . . wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 2:17; 3:1-5). Eva het Satan geglo. Sy het die vrug geneem, dit geëet en toe aan haar man daarvan gegee. Maar in plaas van soos God te word soos Satan belowe het, het Adam en Eva ongehoorsame sondaars, slawe van verderflikheid, geword (2 Petrus 2:19). En deur daardie eerste leuen te vertel, het Satan “die vader van alle leuens” geword (Johannes 8:44, Today’s English Version). Mettertyd het hierdie drie sondaars uitgevind dat jy altyd aan die kortste end trek wanneer jy lieg of op ’n leuen vertrou.

Dodelike gevolge

Jehovah wou hê dat al sy skepsele—in die hemel en op aarde—moes weet dat moedswillige ongehoorsaamheid nie ongestraf sou bly nie. Hy het vinnig opgetree deur die opstandige geesskepsel te veroordeel om vir die res van sy lewe buite God se heilige organisasie te lewe. Bowendien sal Jehovah God uiteindelik toesien dat Satan heeltemal vernietig word. Dit sal plaasvind wanneer die “saad” wat God belowe het om te voorsien hom ’n dodelike kopwond toebring.—Genesis 3:14, 15; Galasiërs 3:16.

Wat Adam en Eva betref, hulle is uit die tuin van Eden verdryf. God het oordeel oor Adam uitgespreek deur te sê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Mettertyd het hy sowel as Eva gesterf, net soos God voorspel het.—Genesis 3:19.

As nakomelinge van Adam is die hele mensdom “verkoop onder die sonde”. Alle mense het onvolmaaktheid geërf wat tot die dood lei (Romeine 5:12; 6:23; 7:14). Hoe verskriklik was die gevolge van daardie eerste leuen tog!—Romeine 8:22.

’n Diepgewortelde gebruik

Aangesien Satan en die engele wat by hom aangesluit het in sy opstand teen God nog nie tereggestel is nie, moet ons nie verbaas wees dat hulle mense beweeg om ‘leuens te spreek’ nie (1 Timoteus 4:1-3). As gevolg hiervan is leuens diep in die mensegemeenskap ingewortel. “Leuens het so ’n gevestigde gewoonte geword”, sê die Los Angeles Times, “dat die samelewing nou grootliks ongevoelig is daarvoor.” Vandag assosieer baie mense die politiek en politici met leuens, maar het jy geweet dat godsdiensleiers van die berugste leuenaars is?

Godsdiensteenstanders van Jesus het tydens sy aardse bediening leuens oor hom versprei (Johannes 8:48, 54, 55). Hy het hulle openlik veroordeel en gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. . . . Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”—Johannes 8:44.

Onthou jy die leuen wat versprei is toe Jesus se graf ná sy opstanding leeg gevind is? Die hoofpriesters, sê die Bybel, het “vir die soldate ’n voldoende aantal silwerstukke gegee en gesê: ‘Sê: “Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.”’” Hierdie leuen is wyd en syd versprei, en baie is daardeur mislei. Hoe goddeloos was die godsdiensleiers tog!—Matteus 28:11-15.

Godsdiensleuens vandag

Wat is ’n vername leuen wat vandag deur godsdiensleiers vertel word? Dit is soortgelyk aan die een wat Satan vir Eva vertel het: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” (Genesis 3:4, ons kursiveer.) Maar Eva het gesterf, en sy het na die aarde teruggekeer, na die stof waaruit sy geneem is.

Maar het dit net gelyk of sy gesterf het terwyl sy eintlik in ’n ander vorm voortgelewe het? Is die dood slegs ’n deur tot ’n ander lewe? Die Bybel gee geen aanduiding dat die een of ander bewuste deel van Eva voortgelewe het nie. Haar siel het nie voortgelewe nie. Deur aan God ongehoorsaam te wees, het sy gesondig, en die Bybel sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Eva is, soos haar man, as ’n lewende siel geskep, en haar lewe as ’n lewende siel het opgehou (Genesis 2:7). Die Bybel sê die volgende oor die toestand van die dooies: “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Maar wat leer die kerke oor die algemeen?

Die kerke leer dikwels dat mense ’n onsterflike siel het en dat die dood dit bevry om ’n ander lewe te ervaar—óf van saligheid óf van pyniging. The Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Die Kerk leer uitdruklik die ewigheid van die pyn van die hel as ’n geloofswaarheid wat niemand kan ontken of betwyfel sonder om hom aan onverbloemde kettery skuldig te maak nie.”—Deel 7, bladsy 209, uitgawe van 1913.

Hoe verskil daardie lering tog van wat die Bybel duidelik sê! Wanneer iemand sterf, leer die Bybel, “keer [hy] terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:4). Volgens die Bybel kan die dooies dus geen pyn ervaar nie, want hulle is van hoegenaamd niks bewus nie. Die Bybel spoor ons derhalwe aan: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [die mensdom se gemeenskaplike graf] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:10.

Ons moet op ons hoede wees

Net soos baie mense mislei is deur die leuens van die priesters in Jesus se dag, so is daar ’n gevaar dat ’n mens mislei kan word deur die valse leringe van hedendaagse godsdiensleiers. Hierdie mense het “die waarheid van God vir die leuen verruil”, en hulle bevorder valse leerstellings soos die onsterflikheid van die mensesiel en die idee dat die siele van mense in ’n helse vuur gepynig sal word.—Romeine 1:25.

Daarbenewens stel vandag se godsdienste mensetradisie en -filosofie dikwels aan Bybelwaarheid gelyk (Kolossense 2:8). God se wette oor sedelikheid—met inbegrip van wette oor eerlikheid en seksuele gedrag—word dus as relatief beskou, nie as absoluut nie. Die gevolg is soos in die tydskrif Time beskryf word: “Leuens floreer in maatskaplike onsekerheid, wanneer mense nie meer die wette wat hulle gedrag teenoor mekaar bepaal, verstaan of daaroor saamstem nie.”—Vergelyk Jesaja 59:14, 15; Jeremia 9:5.

Omdat ons in ’n omgewing lewe waarin daar nie groot waarde aan waarheid geheg word nie, is dit moeilik om ag te gee op God se vermaning om nie leuens te vertel nie. Wat kan ons help om altyd die waarheid te praat?

Neem ’n standpunt vir waarheid in

Ons begeerte om ons Skepper te verheerlik, gee ons die allerbeste beweegrede om te leer om die waarheid te praat. Dit is noemenswaardig dat die Bybel hom “die God van waarheid” noem (Psalm 31:5, NW). As dit dus ons begeerte is om ons Skepper, wat “’n leuenagtige tong” haat, te behaag, sal ons beweeg word om hom na te volg (Spreuke 6:17). Hoe kan ons dit doen?

’n Ernstige studie van God se Woord kan ons die krag gee om ‘die waarheid te spreek, elkeen met sy naaste’ (Efesiërs 4:25). Dit is egter nie genoeg om net te weet wat God van ons vereis nie. As ons, soos baie mense in die wêreld vandag, nie altyd geneig was om die waarheid te praat nie, sal ons ons werklik moet inspan om dit te doen. Ons sal dalk die apostel Paulus se voorbeeld moet volg en streng met onsself moet word. “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf”, het Paulus geskryf.—1 Korintiërs 9:27.

’n Bykomende hulp in die stryd om te alle tye die waarheid te praat, is gebed. As ons Jehovah om hulp smeek, kan ons die “krag [hê] wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). Dit kan inderdaad ’n ware stryd wees om ’n “lip van waarheid” te handhaaf en “die leuenagtige tong” te laat vaar (Spreuke 12:19, NW). Maar met Jehovah se hulp kan dit gedoen word.—Filippense 4:13.

Hou altyd in gedagte dat dit Satan die Duiwel is wat leuens na iets normaals laat lyk. Hy het die eerste vrou, Eva, bedrieg deur kwaadwillig vir haar te lieg. Maar ons is ten volle bewus van die rampspoedige gevolge van Satan se leuenagtige weë. Eindelose lyding het oor die mensdom gekom as gevolg van een selfsugtige leuen en drie selfsugtige persone—Adam, Eva en Satan.

Ja, die waarheid oor leuens is dat dit met ’n dodelike gif vergelyk kan word. Maar gelukkig kan ons iets daaromtrent doen. Ons kan met die gewoonte breek om leuens te vertel en Jehovah, ’n God “oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid”, se guns vir ewig geniet.—Exodus 34:6, NW.

[Lokteks op bladsy 19]

Die gevolge van leuens is soos wanneer ’n vaas gebreek word

[Prent op bladsy 17]

Leuens kan met ’n dodelike gif vergelyk word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel