Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring – 1999 | April 15
    • Vrae van lesers

      Party Getuies van Jehovah is al werk by godsdienstige geboue of eiendom aangebied. Wat is die skriftuurlike beskouing van sulke werk?

      Dit is ’n kwessie waarvoor Christene te staan kan kom wat baie graag die raad in 1 Timoteus 5:8 wil toepas oor die belangrikheid daarvan om materieel vir jou huisgesin te sorg. Hoewel Christene beslis daardie raad moet toepas, regverdig dit nie dat hulle enige soort sekulêre werk, ongeag die aard daarvan, aanvaar nie. Christene besef hoe belangrik dit is dat hulle ook ander vereistes van God se wil gehoorsaam. Dit sal byvoorbeeld nie reg wees van ’n man om die Bybel se riglyne oor onsedelikheid en moord te ignoreer omdat hy graag vir sy gesin wil sorg nie. (Vergelyk Genesis 39:4-9; Jesaja 2:4; Johannes 17:14, 16.) Dit is ook noodsaaklik dat Christene in ooreenstemming met die opdrag optree om uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, uit te gaan.—Openbaring 18:4, 5.

      Regoor die wêreld kom God se knegte voor baie situasies in verband met hulle werk te staan. Dit sou sinloos wees en ons sou buite ons gesag optree as ons ’n lys met al die moontlikhede moes probeer opstel en besliste reëls moes probeer maak (2 Korintiërs 1:24). Laat ons egter ’n paar faktore bespreek wat Christene in gedagte moet hou wanneer hulle persoonlike besluite oor werk neem. Hierdie faktore is kortliks uiteengesit in Die Wagtoring van 1 Oktober 1982 in ’n artikel oor hoe ons by ons godgegewe gewete baat kan vind. ’n Venster het twee belangrike vrae geopper en toe ’n lys met ander nuttige faktore voorsien.

      Die eerste belangrike vraag is: Word die sekulêre werk uitdruklik in die Bybel veroordeel? Die Wagtoring het hieroor kommentaar gelewer en gesê dat die Bybel diefstal, die misbruik van bloed en afgodediens veroordeel. ’n Christen moet sekulêre werk vermy wat ’n direkte bydrae lewer tot bedrywighede wat God mishaag, soos dié wat hier gemeld word.

      Die tweede vraag is: Sal hierdie werk ’n mens medepligtig aan ’n veroordeelde gebruik maak? Dit is duidelik dat iemand wat by ’n dobbelplek, ’n aborsiekliniek of ’n bordeel werk ’n medepligtige aan ’n onskriftuurlike gebruik sal wees. Selfs al behels sy daaglikse werk daar bloot om vloere te vee of telefoonoproepe te beantwoord, sal hy ’n gebruik bevorder wat deur God se Woord veroordeel word.

      Baie Christene wat voor besluite oor werk te staan kom, het gevind dat dit hulle help om ’n persoonlike besluit te neem as hulle hierdie vrae deeglik oorweeg.

      Ons kan byvoorbeeld uit daardie twee vrae sien waarom ’n ware aanbidder nie werk vir ’n valse godsdiensorganisasie sal doen nie, dit wil sê vir en in ’n kerk sal werk nie. In Openbaring 18:4 word die bevel gegee: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie.” Iemand wat op ’n gereelde grondslag vir ’n godsdiens werk wat valse aanbidding bevorder, het deel aan die werke en sondes van Babilon die Grote. Of die werknemer nou ’n tuinier, ’n skoonmaker, ’n herstelwerker of ’n rekenmeester is, sy werk sal aanbidding bevorder wat met ware godsdiens bots. Boonop sal mense wat sien hoe hierdie werknemer die kerk mooi maak, herstelwerk daaraan doen of die godsdiensstrewes daarvan bevorder hom redelikerwys met daardie godsdiens verbind.

      Maar wat van iemand wat nie op ’n gereelde grondslag vir ’n kerk of ’n godsdiensorganisasie werk nie? Hy word moontlik net ingeroep om dringend ’n stukkende waterpyp in die kerk se kelderverdieping te herstel. Is dit nie anders as om te tender vir ’n werk, soos om vir die kerk dakteëls op te sit of isolasiemateriaal in die dak te lê nie?

      Weer eens kan ’n mens aan ’n groot verskeidenheid situasies dink. Laat ons dus vyf bykomende faktore hersien wat in Die Wagtoring uiteengesit is:

      1. Is die werk bloot ’n menslike diens wat op sigself nie skriftuurlik verkeerd is nie? Neem byvoorbeeld ’n posbode. As hy pos aflewer in ’n gebied waar een van die geboue ’n kerk of ’n aborsiekliniek is, sal dit nouliks beteken dat hy ’n veroordeelde gebruik bevorder. God voorsien die sonlig wat deur die vensters van alle geboue skyn, en dit sluit ’n kerk of ’n aborsiekliniek in (Handelinge 14:16, 17). ’n Christen wat ’n posbode is, kan tot die slotsom kom dat hy dag na dag ’n menslike diens aan almal lewer. Dieselfde kan geld vir ’n Christen wat op ’n noodgeval reageer—’n loodgieter wat ingeroep word om te keer dat ’n kerk oorstroom of ’n ambulanswerker wat ontbied word om iemand te behandel wat gedurende ’n kerkdiens inmekaargesak het. Hy kan dit bloot as ’n terloopse verlening van menslike hulp beskou.

      2. Tot watter mate het die persoon seggenskap oor wat gedoen word? ’n Christen wat ’n winkeleienaar is, sal beslis nie instem om afgodsbeeldjies, spiritistiese amulette, sigarette of bloedwors te bestel en te verkoop nie. As die eienaar is hy in beheer. Al sou mense hom aanspoor om sigarette of afgodsbeeldjies te verkoop en ’n wins te maak, sal hy in ooreenstemming met sy skriftuurlike oortuiging optree. Daarenteen werk ’n Christen dalk by ’n groot supermark as ’n kassier, skoonmaker of boekhouer. Hy het nie beheer oor watter produkte bestel en verkoop word nie, selfs al is ’n paar daarvan afkeurenswaardig, soos sigarette of items vir godsdienstige vakansiedae.a (Vergelyk Lukas 7:8; 17:7, 8.) Dit hou verband met die volgende punt.

      3. Tot watter mate is die persoon daarby betrokke? Kom ons keer terug na die voorbeeld van ’n winkel. Iemand wat as ’n kassier werk of die rakke pak, hanteer net nou en dan sigarette of godsdiensitems; dit is ’n klein deel van al sy werk. Maar dit verskil heeltemal van ’n werknemer in dieselfde winkel wat by die sigarettoonbank werk! Al sy werk, dagin en daguit, behels iets wat strydig met Christelike opvattings is (2 Korintiërs 7:1). Dit help ons om te sien waarom die mate van betrokkenheid of kontak oorweeg moet word wanneer ’n mens werkverwante besluite moet neem.

      4. Wie betaal die werknemers of waar word die werk gedoen? Dink aan twee situasies. ’n Aborsiekliniek besluit om ’n man te huur om die strate in die omgewing te vee sodat hulle hulle openbare beeld kan verbeter. Die aborsiekliniek betaal hom, maar hy werk nie daar nie en niemand sien hom die heeldag in die kliniek nie. Hulle sien hom eerder besig met ’n openbare werk wat op sigself nie in stryd met die Skrif is nie, ongeag wie hom betaal. Kom ons kyk nou na ’n ander geval. In ’n land waar prostitusie wettig is, betaal die openbare gesondheidsdiens ’n verpleegster om by bordele te werk en gesondheidsondersoeke te doen met die doel om die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes te verminder. Hoewel sy deur die openbare gesondheidsdiens betaal word, is haar werk uitsluitlik by bordele, om die onsedelikheid veiliger en aanvaarbaarder te maak. Hierdie voorbeelde lig toe waarom ’n mens in aanmerking moet neem wie jou betaal en waar die werk gedoen word.

      5. Watter uitwerking kan die werk hê; sal dit ’n mens se gewete pla of ander laat struikel? Ons gewete sowel as dié van ander moet in ag geneem word. Selfs as ’n sekere werk (met inbegrip van waar die werk gedoen word en wie daarvoor betaal) aanvaarbaar lyk vir die meeste Christene kan ’n individu dalk voel dat dit sy gewete sal kwel. Die apostel Paulus, wat ’n goeie voorbeeld gestel het, het gesê: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18). Ons moet werk vermy wat ons gewete sal kwel, maar ons moet ook nie ander kritiseer wat geen gewetensbeswaar daarteen het nie. Aan die ander kant meen ’n Christen dalk dat ’n sekere werk glad nie in stryd met die Bybel is nie, maar hy besef dat dit baie in die gemeente en in die gemeenskap erg sal kwel. Paulus het die regte gesindheid in sy woorde weerspieël: “In geen opsig gee ons enige aanleiding tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan.”—2 Korintiërs 6:3, 4.

      Laat ons nou teruggaan na die hoofvraag oor werk aan ’n kerkgebou, soos om nuwe vensters in te sit, die matte skoon te maak of die verwarmingstelsel te diens. Watter rol speel die bogenoemde faktore?

      Neem die aspek van gesag. Is die Christen die eienaar of bestuurder wat kan besluit of hy hierdie werk aan ’n kerk sal aanvaar? Sou ’n Christen wat hierdie gesag het deel wil hê aan Babilon die Grote deur te tender vir ’n werk of ’n kontrak aan te gaan om ’n godsdiens te help om valse aanbidding te bevorder? Sou dit nie baie dieselfde wees soos om sigarette of afgodsbeeldjies in jou eie winkel te verkoop nie?—2 Korintiërs 6:14-16.

      As ’n Christen ’n werknemer is sonder enige seggenskap oor watter werk aanvaar word, moet ander faktore in ag geneem word, soos waar die werk gedoen sal word en tot watter mate hy betrokke is. Word die werknemer slegs gevra om by een geleentheid nuwe stoele af te laai of dit reg te pak of om ’n menslike diens te lewer, soos wanneer ’n brandweerman ’n brand in ’n kerk blus voordat dit versprei? Vir baie is dit nie dieselfde as ’n werknemer by ’n onderneming wat lank besig is om die kerk te verf of wat gereeld tuinwerk doen om die kerk mooi te laat lyk nie. Sulke gereelde of langdurige kontak sal die moontlikheid vergroot dat baie die Christen met ’n godsdiens sal verbind wat hy sê hy nie mee saamstem nie, en dit kan hulle moontlik laat struikel.—Matteus 13:41; 18:6, 7.

      Ons het na ’n hele paar belangrike oorwegings gekyk wat werk betref. Dit is bespreek in die konteks van ’n spesifieke vraag oor valse godsdiens. Maar dit kan eweseer op ander soorte werk toegepas word. In elke geval moet die saak biddend oorweeg word en die spesifieke—en moontlik unieke—aspekte van die betrokke situasie in aanmerking geneem word. Die faktore wat hierbo uiteengesit is, het reeds talle opregte Christene gehelp om gewetensgetrou besluite te neem wat hulle begeerte weerspieël om reguit en in opregtheid voor Jehovah te wandel.—Spreuke 3:5, 6, NW; Jesaja 2:3; Hebreërs 12:12-14.

      [Voetnoot]

      a Party Christene wat in hospitale werk, moes hierdie faktor van gesag in ag neem. ’n Geneesheer het moontlik die gesag om geneesmiddels of ander mediese behandeling vir ’n pasiënt voor te skryf. Hoe kan ’n Christendokter wat die gesag het ’n bloedoortapping voorskryf of ’n aborsie doen terwyl hy weet wat die Bybel oor sulke sake sê, selfs al maak die pasiënt nie beswaar nie? In teenstelling hiermee het ’n verpleegster wat by die hospitaal werk dalk nie hierdie gesag nie. Terwyl sy roetinedienste verrig, sal ’n dokter haar moontlik vra om ’n bloedtoets om die een of ander rede te doen of om na ’n pasiënt om te sien wat gekom het om ’n aborsie te hê. In ooreenstemming met die voorbeeld in 2 Konings 5:17-19 kom sy dalk tot die gevolgtrekking dat sy menslike dienste aan ’n pasiënt kan lewer, aangesien sy nie die een met gesag is wat ’n oortapping voorskryf of ’n aborsie doen nie. Sy sal natuurlik nog steeds haar gewete in ag moet neem, sodat sy haar ‘met ’n rein gewete voor God kan gedra’.—Handelinge 23:1.

  • Onthou jy?
    Die Wagtoring – 1999 | April 15
    • Onthou jy?

      Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

      ◻ Waarom is Paulus se uitdrukking “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree” so gepas vir gesalfde Christene? (2 Korintiërs 5:20).

      In die ou tyd is ambassadeurs hoofsaaklik gedurende tye van vyandigheid uitgestuur om te sien of oorlog vermy kon word (Lukas 14:31, 32). Omdat die sondige mensewêreld van God vervreemd is, het hy sy gesalfde ambassadeurs uitgestuur om mense oor sy voorwaardes vir versoening in te lig en hulle aan te spoor om vrede met God na te streef.—12/15, bladsy 18.

      ◻ Watter vier faktore het Abraham se geloof versterk?

      Hy het eerstens sy geloof in Jehovah getoon deur na God te luister wanneer hy gepraat het (Hebreërs 11:8); tweedens was daar ’n noue verband tussen sy geloof en sy hoop (Romeine 4:18); derdens het hy dikwels met God gepraat en vierdens het Jehovah Abraham ondersteun wanneer hy Goddelike bevele gehoorsaam het. Vandag kan dieselfde faktore ons geloof versterk.—1/1, bladsye 17, 18.

      ◻ Wat word bedoel met die uitdrukking: “Bring ons nie in versoeking nie”? (Matteus 6:13).

      Ons vra God om ons nie te laat toegee wanneer ons in die versoeking kom om ongehoorsaam aan hom te wees nie. Jehovah kan ons lei sodat Satan, “die bose”, ons nie laat swig en die oorhand oor ons kry nie (1 Korintiërs 10:13).—1/15, bladsy 14.

      ◻ Wat moet ’n mens doen as jy wil hê dat God jou vir ’n oortreding moet vergewe?

      Belydenis voor God moet gepaardgaan met gewetenswroeging en ‘vrugte wat by berou pas’ (Lukas 3:8). ’n Berouvolle gees en ’n begeerte om wat verkeerd is reg te stel, sal ’n mens ook beweeg om die geestelike hulp van Christen- ouer manne te vra (Jakobus 5:13-15).—1/15, bladsy 19.

      ◻ Waarom moet ons daarna streef om nederig te wees?

      ’n Nederige persoon is geduldig en lankmoedig en hy beskou homself nie in ’n te ernstige lig nie. Nederigheid trek ware vriende aan wat jou liefhet. Nog belangriker, dit bring Jehovah se seëning mee (Spreuke 22:4).—2/1, bladsy 7.

      ◻ Watter belangrike verskil is daar tussen Jesus se dood en dié van Adam?

      Adam het verdien om te sterf omdat hy opsetlik ongehoorsaam was aan sy Skepper (Genesis 2:16, 17). In teenstelling hiermee was Jesus se dood heeltemal onverdiend, want “hy het geen sonde gepleeg nie” (1 Petrus 2:22). Toe Jesus gesterf het, het hy dus iets van onskatbare waarde gehad wat die sondaar Adam nie by sy dood gehad het nie—die reg op volmaakte menselewe. Jesus se dood het derhalwe offerwaarde gehad om die mensdom los te koop.—2/15, bladsye 15, 16.

      ◻ Wat het die stad in Esegiël se profetiese visioen afgebeeld?

      Aangesien die stad in die middel van “onheilige” land geleë is, moet dit iets op aarde wees. Dit stel blykbaar die aardse administrasie voor wat almal bevoordeel wat die regverdige aardse gemeenskap sal uitmaak.—3/1, bladsy 18.

      ◻ Waarom het Jesus sy dissipels se voete gewas toe hulle die Pasga in 33 G.J. gevier het?

      Jesus het nie ’n ritueel om voete te was, ingestel nie. Hy het eerder sy apostels gehelp om ’n nuwe gesindheid aan te kweek—om nederig te wees en gewillig om die nederigste taak ter wille van hulle broers te verrig.—3/1, bladsy 30.

      ◻ Wat is belangriker as natuurlike vermoëns wanneer ons ander leer?

      Dit is die eienskappe wat ons het en die geestelike gewoontes wat ons aangekweek het wat studente kan navolg (Lukas 6:40; 2 Petrus 3:11).—3/15, bladsye 11, 12.

      ◻ Hoe kan openbare sprekers beter lesers van die Skrif word?

      Deur oefening. Ja, deur oor en oor hardop te lees totdat hulle dit vlot kan doen. Indien oudiokassette van die Bybel beskikbaar is, is dit goed om na die leser se beklemtoning en modulasie te luister en aandag te skenk aan hoe name en ongewone woorde uitgespreek word.—3/15, bladsy 20.

      ◻ Hoe ‘keer die gees na God terug’ wanneer iemand sterf? (Prediker 12:7).

      Aangesien die gees die lewenskrag is, ‘keer dit na God terug’ in die sin dat enige hoop op toekomstige lewe vir daardie persoon nou geheel en al by God berus. Slegs God kan die gees, of lewenskrag, teruggee en die persoon weer laat lewe (Psalm 104:30).—4/1, bladsy 17.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel