Jy kan deur hierdie versperrings breek!
’N MAKROSTRALER kan honderde passasiers en tonne vrag aan boord neem. Hoe kan so ’n swaar vliegtuig van die grond opstyg? Eenvoudig, deur middel van hefkrag.
Wanneer die vliegtuig op die aanloopbaan voortsnel, vloei die lug oor en onder die geronde vlerke. Dit veroorsaak ’n opwaartse krag wat hefkrag genoem word. Wanneer daar voldoende hefkrag opgewek word, kan die vliegtuig van die aarde se aantrekkingskrag loskom en vlieg. ’n Oorlaaide vliegtuig kan natuurlik nie voldoende hefkrag opwek om in die lug te kom nie.
Ons kan ook oorlaai word. Eeue gelede het koning Dawid gesê dat sy ‘ongeregtighede soos ’n pak was wat vir hom te swaar was’ (Psalm 38:5). Jesus het ook daarteen gewaarsku om deur die sorge van die lewe beswaar te word (Lukas 21:34). Negatiewe gedagtes en gevoelens kan ons tot so ’n mate beswaar dat dit moeilik kan lyk om “in die lug te kom”. Word jy op hierdie wyse beswaar? Of het jy teen die een of ander versperring in jou verdere geestelike ontwikkeling gekom? Indien wel, wat kan jou help?
Is jy verveeld?
Verveeldheid—vandag ’n algemene klagte—kan ’n verstandelike versperring word, selfs vir party onder Jehovah se volk. Veral jongmense het die neiging om sekere bedrywighede as vervelend af te maak. Is dit hoe jy soms omtrent die Christelike vergaderinge voel? Indien wel, wat kan jy doen om jou vergaderingbywoning meer genotvol te maak?
Die sleutel is om betrokke te raak. Paulus het aan die jong man Timoteus geskryf: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel. Want liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:7, 8). ’n Boek oor fiksheid sal vervelend en van min nut wees indien ons nie die oefeninge doen wat aanbeveel word nie. Christelike vergaderinge word saamgestel om ons verstande te oefen en sal dit doen as ons voorberei en deelneem. Hierdie betrokkenheid sal die vergaderinge nuttiger en interessanter maak.
’n Jong Christenvrou genaamd Mara het in hierdie verband gesê: “As ek nie vir die vergaderinge voorberei nie, geniet ek hulle nie. Wanneer ek egter vooraf voorberei het, is my verstand en hart meer ontvanklik. Die vergaderinge word meer betekenisvol en ek sien daarna uit om kommentaar te lewer.”
As jy leer om te luister, sal dit ook help. Wanneer jy na goeie musiek luister, is dit maklik en dadelik aangenaam. Maar nie alle genot kom dadelik nie. Ons put alleenlik genot uit die program van die vergadering as ons goed luister na wat gesê word. ’n Christen genaamd Rachel het gesê: “Wanneer die spreker nie lewendig is nie, moet ek baie hard konsentreer. Die reël vir my is: ‘Hoe minder interessant die toespraak is, hoe harder moet ek konsentreer.’ . . . Ek gee besondere aandag aan die tekste en probeer om soveel voordeel moontlik daaruit te trek.” Ons moet onsself, soos Rachel, dissiplineer om te luister. Die boek Spreuke sê: “My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig.”—Spreuke 5:1.
Sekere inligting wat by die vergaderinge aangebied word, kan ietwat herhalend wees. Heeltemal tereg! Al God se knegte het herinneringe nodig. Die onvolmaakte vlees, met sy weerspannige neigings en gebrekkige geheue, het alle moontlike hulp nodig. Die apostel Petrus ‘was geneig om medegelowiges aan sekere dinge te herinner, hoewel hulle dit geken het en vasgestaan het in die waarheid’ (2 Petrus 1:12). Jesus het ook verduidelik dat “elke openbare onderrigter . . . soos ’n man [is], ’n huisheer, wat uit sy skatkamer nuwe en ou dinge te voorskyn bring” (Matteus 13:52). Daarom, terwyl ons vergaderinge bekende skriftuurlike gedagtes, of ‘ou skatte’, uitbring, is daar altyd die een of ander ‘nuwe skat’ waarin ons ons kan verheug.
As ons vasbeslote is om die vergaderinge ten volle te benut, kan ons werklik geestelik aangemoedig word. “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte [dié wat bedelaars is vir die gees]”, het Jesus gesê (Matteus 5:3, voetnoot in naslaanuitgawe). So ’n gesindheid teenoor die heilsame geestelike voedsel wat by vergaderinge verskaf word, sal verveeldheid verdryf.—Matteus 24:45-47.
Deur ’n slegte voorbeeld ontmoedig?
Is jy ontsteld oor die gedrag van iemand in jou gemeente? Miskien het jy gewonder: ‘Hoe kan ’n broer so optree en nog ’n goeie reputasie in die gemeente hê?’ Sulke gedagtes kan as ’n verstandelike versperring dien wat ons kan verblind vir die waarde van die aangename samesyn wat ons met God se volk kan hê.—Psalm 133:1.
Dalk het lede van die gemeente in Kolosse ’n soortgelyke probleem gehad. Paulus het hulle vermaan: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kolossense 3:13). Paulus het besef dat party Christene in Kolosse hulle dalk swak gedra het en ander daardeur werklik ’n rede tot klagte gegee het. Ons moet dus nie te verbaas wees as een van ons broers of susters soms in party Christelike eienskappe te kort skiet nie. Jesus het goeie raad gegee oor hoe ernstige probleme opgelos kan word (Matteus 5:23, 24; 18:15-17). Maar gewoonlik kan ons die beperkinge van ons medegelowiges eenvoudig verduur en hulle vergewe (1 Petrus 4:8). Trouens, so ’n benadering kan ons sowel as ander tot voordeel strek. Waarom is dit die geval?
“Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe”, sê Spreuke 19:11. Dit is baie beter om te vergewe as om toe te laat dat woede en verontwaardiging aan jou vreet! Salvador, ’n ouer man wat bekend is vir sy liefdevolle gesindheid, het gesê: “Wanneer ’n broer my sleg behandel of iets onvriendeliks sê, vra ek myself af: ‘Hoe kan ek my broer help? Hoe kan ek verhoed dat ek my kosbare verhouding met hom verloor?’ Ek is altyd daarvan bewus hoe maklik dit is om die verkeerde ding te sê. Wanneer iemand iets onverstandigs sê, sal die ideale oplossing vir hom wees om sy woorde terug te trek en weer voor te begin. Maar dit is onmoontlik, daarom ignoreer ek dan eerder die aanmerking. Ek skryf dit maar aan ’n uitbarsting van die onvolmaakte vlees toe, eerder as aan ’n weerspieëling van my broer se ware persoonlikheid.”
Jy meen dalk dit is makliker gesê as gedaan. Maar dit het baie te doen met die manier waarop ons ons denke rig. “Alles wat lieflik is, . . . hou aan om hierdie dinge te bedink”, is Paulus se raad (Filippense 4:8). “Lieflik” beteken letterlik “wat geneentheid wek”. Jehovah wil hê dat ons die goeie in mense moet bedink, dat ons eerder aan die eienskappe aandag gee wat geneentheid as verontwaardiging wek. Hy stel self die grootste voorbeeld in hierdie verband. Die psalmdigter herinner ons hieraan en sê: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?”—Psalm 103:12; 130:3.
Die gedrag van ’n broer kan ons weliswaar af en toe teleurstel, maar die groot meerderheid van ons medeaanbidders is uitstekende voorbeelde van ’n Christelike leefwyse. As ons dit onthou, sal ons soos Dawid Jehovah met graagte ‘hardop loof en Hom onder baie prys’.—Psalm 109:30.
Lyk dit te moeilik om ’n Getuie te wees?
Dit is ’n jammerte dat party, weens ’n ander verstandelike versperring, nog nie begin het om Jehovah te loof nie. Baie mans wat nie Getuies van Jehovah is nie, sorg op verantwoordelike wyse vir hulle gesinne en ondersteun selfs hulle vrouens in die Christelike bediening. Hulle is vriendelik en stel dalk in die gemeente belang, maar hulle word nie toegewyde knegte van God nie. Wat hou hulle terug?
Een probleem is dalk dat hierdie mans die besige teokratiese rooster van hulle vrouens raaksien en meen dat dit te veeleisend is om ’n Getuie te wees. Of dalk is hulle bang dat hulle nooit aan die predikingswerk van huis tot huis sal kan deelneem nie. Volgens hulle beskouing lyk dit asof daar baie meer verantwoordelikhede as seëninge is. Waarom die verstandelike versperring? Die meeste Bybelstudente leer en pas die waarheid geleidelik toe. Maar ongelowige mans is dikwels alte bewus van al die Christelike verantwoordelikhede voordat hulle die motivering opgebou het om dit te aanvaar.
Manuel, wat in hierdie situasie was, vertel: “Omtrent tien jaar lank het ek my vrou na die byeenkomste en vergaderinge vergesel. Om die waarheid te sê, ek het die Getuies se geselskap bo dié van mense van die wêreld verkies en ek het hulle graag gehelp wanneer ek kon. Ek was beïndruk deur die liefde wat onder hulle geheers het. Maar die gedagte om van huis tot huis te gaan, was vir my ’n groot struikelblok, en ek was bang dat my werksmaats die spot met my sou dryf.
“My vrou was baie geduldig met my en het my nooit probeer dwing om die Bybel te bestudeer nie. Sy en die kinders het hoofsaaklik deur hulle goeie voorbeeld ‘gepreek’. José, ’n ouer man in die gemeente, het spesiale belangstelling in my getoon. Ek dink dit was sy aanmoediging wat my uiteindelik beweeg het om ernstig te begin studeer. Nadat ek gedoop is, het ek besef dat die versperrings hoofsaaklik in my eie verstand was. Nadat ek besluit het om Jehovah te dien, het ek sy hulp ontvang om my vrese te bowe te kom.”
Hoe kan vrouens en Christen- ouer manne mans soos Manuel help om hulle verstandelike versperrings te bowe te kom? ’n Bybelstudie bou dalk waardering en ’n begeerte om God se wil te doen by hulle op. Deeglike skriftuurlike kennis is inderdaad die grondslag vir die beoefening van geloof en vertroue in ons toekomshoop.—Romeine 15:13.
Wat sal sulke mans aanmoedig om ’n Bybelstudie te aanvaar? Dikwels kan ’n vriendskap met ’n vriendelike broer in die gemeente ’n beslissende faktor wees. Miskien kan ’n ouer man of ’n ander bekwame broer die man leer ken. Sodra ’n goeie verhouding opgebou is, is dit dalk net nodig dat iemand aanbied om saam met hom te studeer (1 Korintiërs 9:19-23). Intussen kan die verstandige Christenvrou geestelike gedagtes aan haar ongelowige man oordra, met die wete dat hy waarskynlik nie op druk sal reageer nie.—Spreuke 19:14.
Soos Manuel uit ervaring geleer het, word reusagtige hindernisse meer soos molshope wanneer ’n mens geestelike krag ontwikkel. Jehovah versterk diegene wat begeer om hom te dien (Jesaja 40:29-31). Met God se krag en met die ondersteuning van ryp Christene kan die versperrings verwyder word. Die huis-tot-huis-werk kan dus minder skrikwekkend lyk en sy vrees vir sy werksmaats kan afneem, terwyl heelhartige diens meer aanloklik word.—Jesaja 51:12; Romeine 10:10.
Handhaaf momentum
Dit is moontlik om deur versperrings, soos die drie wat ons ontleed het, te breek. Wanneer ’n vliegtuig opstyg, word al die krag van die motore en die onverdeelde aandag van die lugbemanning normaalweg vereis. Met die opstyg sluk die motore aansienlik meer brandstof as tydens enige ander deel van die vlug. Om negatiewe gedagtes en gevoelens af te leer, vereis eweneens al jou inspanning en konsentrasie. Om aan die gang te kom, kan die moeilikste stadium wees, terwyl vooruitgang makliker raak sodra jy momentum verkry.—Vergelyk 2 Petrus 1:10.
Voorwaartse momentum word behou deur onmiddellik op skriftuurlike raad ag te gee (Psalm 119:60). Ons kan seker wees dat die gemeente graag sal help (Galasiërs 6:2). Die allerbelangrikste is egter die ondersteuning van Jehovah God. Soos Dawid gesê het: “Geseënd is Jehovah‚ wat daagliks die pak vir ons dra” (Psalm 68:19, NW). Wanneer ons ons hart in gebed uitstort, word ons pak ligter.
Met tye laat ’n vliegtuig ’n reënerige, grys wêreld agter, gaan dit deur ’n wolklaag en vlieg dit in ’n lug met helder sonskyn. Ons kan ook negatiewe gedagtes agterlaat. Met Goddelike hulp kan ons as ’t ware deur die wolklaag breek en die sonnige, gelukkige atmosfeer van Jehovah se wêreldwye gesin van aanbidders geniet.
[Prente op bladsy 23]
Met Jehovah se hulp kan ons deur verstandelike versperrings breek