Laat onderskeidingsvermoë jou beveilig
‘Denkvermoë self sal oor jou waghou‚ onderskeidingsvermoë self sal jou beveilig.’—SPREUKE 2:11, NW.
1. Waarteen kan onderskeidingsvermoë ons beveilig?
JEHOVAH wil hê dat jy onderskeidingsvermoë aan die dag moet lê. Waarom? Omdat hy weet dat dit jou teen verskeie gevare sal beveilig. Spreuke 2:10-19 (NW) begin met die woorde: “Wanneer wysheid in jou hart inkom en kennis self vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë self oor jou waghou‚ sal onderskeidingsvermoë self jou beveilig.” Waarteen sal dit jou beveilig? Teen dinge soos “die slegte weg”, diegene wat regskape weë verlaat en mense wat in hulle alledaagse lewenswandel bedrieglik optree.
2. Wat is onderskeidingsvermoë, en watter soort wil Christene veral hê?
2 Jy sal waarskynlik onthou dat onderskeidingsvermoë die vermoë van die verstand is waardeur dit een ding van ’n ander onderskei. Iemand met onderskeidingsvermoë sien verskille tussen idees of dinge en het goeie oordeel. As Christene wil ons veral geestelike onderskeidingsvermoë hê wat gegrond is op juiste kennis van God se Woord. Wanneer ons die Skrif bestudeer, is dit asof ons die boustene van geestelike onderskeidingsvermoë uitdelf. Die dinge wat ons leer, kan ons help om besluite te neem wat Jehovah behaag.
3. Hoe kan ons geestelike onderskeidingsvermoë verkry?
3 Toe God vir Israel se koning Salomo gevra het watter seëning hy wou hê, het die jong heerser gesê: “Gee . . . aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei.” Salomo het onderskeidingsvermoë gevra, en Jehovah het hom dit in buitengewoon hoë mate gegee. (1 Konings 3:9; 4:30). Om onderskeidingsvermoë te verkry, moet ons bid, en ons moet God se Woord bestudeer met behulp van die leersame publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45-47). Dit sal ons help om geestelike onderskeidingsvermoë in die mate aan te kweek dat ons “volgroeid in begripsvermoëns” word, in staat om te “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—1 Korintiërs 14:20; Hebreërs 5:14.
Spesiale behoefte aan onderskeidingsvermoë
4. Wat beteken dit om ’n ‘eenvoudige’ oog te hê, en hoe kan dit ons tot voordeel strek?
4 As ons behoorlike onderskeidingsvermoë het, kan ons in ooreenstemming met die volgende woorde van Jesus Christus optree: “Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander [materiële] dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Jesus het ook gesê: “Die lamp van die liggaam is jou oog. Wanneer jou oog eenvoudig is, is jou hele liggaam ook lig” (Lukas 11:34). Die oog is ’n figuurlike lamp. ’n ‘Eenvoudige’ oog is opreg, in fokus. Met so ’n oog kan ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê en loop sonder om geestelik te struikel.
5. Wat moet ons in gedagte hou oor die doel van die Christengemeente wat sakebedrywighede betref?
5 Pleks van hulle oog eenvoudig te hou, het party hulle lewe en die lewe van ander gekompliseer deur aanloklike sakebedrywighede. Maar ons moet onthou dat die Christengemeente “’n pilaar en stut van die waarheid” is (1 Timoteus 3:15). Soos ’n gebou se pilare, ondersteun die gemeente God se waarheid, nie enigiemand se sakeonderneming nie. Gemeentes van Jehovah se Getuies is nie gestig om sakebelange, handelsware of dienste te bevorder nie. Ons moet nie persoonlike sakebelange in die Koninkryksaal bevorder nie. Onderskeidingsvermoë help ons om te sien dat Koninkryksale, Gemeentelike Boekstudies, kring- en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies plekke vir Christelike omgang en geestelike gesprekke is. Sou dit nie ten minste ’n mate van disrespek toon vir geestelike waardes as ons geestelike verhoudings gebruik om hoegenaamd enige soort kommersialisme te bevorder nie? Gemeentelike verbintenisse moet nooit vir finansiële gewin gebruik word nie.
6. Waarom moet handelsprodukte en dienste nie by gemeentelike vergaderinge verkoop of bevorder word nie?
6 Party het teokratiese kontakte gebruik om gesondheids- of skoonheidsmiddels, vitamienprodukte, telekommunikasiedienste, boumateriaal, vakansietoere, rekenaarprogramme en -toerusting, ensovoorts te verkoop. Maar gemeentelike vergaderinge is beslis nie die plek om handelsprodukte of dienste te verkoop of te bevorder nie. Ons kan die onderliggende beginsel onderskei as ons onthou dat Jesus “almal met die skape en beeste uit die tempel uitgedryf [het], en hy het die muntstukke van die geldwisselaars uitgegooi en hulle tafels omgekeer. En hy het vir dié wat die duiwe verkoop het, gesê: ‘Neem hierdie goed hier weg! Hou op om die huis van my Vader ’n handelshuis te maak!’”—Johannes 2:15, 16.
Wat van beleggings?
7. Waarom is onderskeidingsvermoë en omsigtigheid nodig met betrekking tot beleggings?
7 Onderskeidingsvermoë sowel as omsigtigheid is nodig wanneer ’n mens dit oorweeg om in ’n sakeonderneming te belê. Gestel iemand wil geld leen en maak beloftes soos dié: “Ek waarborg jou dat jy geld sal maak.” “Jy kan niks verloor nie. Dis ’n veilige belegging.” Wees op jou hoede wanneer iemand hierdie soort versekeringe gee. Hy is óf nie realisties nie óf oneerlik, want beleggings is selde sonder enige risiko. Dit het trouens al gebeur dat party gewetenlose mense wat glad van tong is lede van die gemeente bedrieg het. Dit herinner ons aan die “goddelose mense” wat in die eerste-eeuse gemeente ingeglip het en “die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander” het. Hulle was soos skerp rotse onder die water wat swemmers kon oopsny en hulle dood kon veroorsaak (Judas 4, 12). Bedrieërs het weliswaar ander motiewe, maar ook hulle maak jag op lede van die gemeente.
8. Wat het gebeur met betrekking tot sekere skynbaar winsgewende sakeondernemings?
8 Selfs welmenende Christene het ander van skynbaar winsgewende ondernemings vertel, en hulle, sowel as dié wat hulle voorbeeld gevolg het, het die geld verloor wat hulle belê het. Gevolglik het ’n aantal Christene hulle voorregte in die gemeente verloor. Wanneer ondernemings wat ’n mens kwansuis vinnig ryk kan maak bedrieglike skemas is, is die enigste persoon wat bevoordeel word die bedrieër, wat dikwels skielik verdwyn. Hoe kan onderskeidingsvermoë ’n mens help om sulke situasies te vermy?
9. Waarom is onderskeidingsvermoë nodig wanneer ’n mens bewerings oor beleggings moet beoordeel?
9 Onderskeidingsvermoë beteken dat ’n mens kan begryp wat onduidelik is. Hierdie vermoë is nodig wanneer ’n mens bewerings oor beleggings moet beoordeel. Christene vertrou mekaar, en party dink dalk dat hulle geestelike broers en susters nie by ondernemings betrokke sal raak wat die middele van medegelowiges in gevaar sal stel nie. Maar die feit dat ’n sakeman ’n Christen is, waarborg nie dat hy ’n goeie sakeman is of dat sy onderneming suksesvol sal wees nie.
10. Waarom vra party Christene sakelenings van medegelowiges, en wat kan met sulke beleggings gebeur?
10 Sommige Christene vra sakelenings by medegelowiges omdat gerespekteerde leningsinstansies hulle nooit geld vir hulle onsekere ondernemings sal voorskiet nie. Baie is al wysgemaak dat hulle, deur eenvoudig hulle geld te belê, vinnig ’n fortuin kan maak sonder om veel of moontlik enige werk te doen. Party word deur ’n belegging aangetrek weens die bekoring wat daarmee gepaardgaan, maar het al hulle spaargeld verloor! Een Christen het ’n groot som geld belê en verwag dat hy binne net twee weke 25 persent wins sou maak. Hy het al daardie geld verloor toe die onderneming bankrot verklaar is. In ’n ander onderneming het ’n eiendomsontwikkelaar groot somme geld van ander in die gemeente geleen. Hy het buitensporig hoë rente belowe, maar het bankrot gespeel en die geleende geld verloor.
Wanneer sakeondernemings misluk
11. Watter raad het Paulus gegee met betrekking tot gierigheid en die liefde vir geld?
11 Mislukte sakeondernemings het tot teleurstelling en selfs ’n verlies van geestelikheid gelei onder sommige Christene wat hulle tot onsekere ondernemings verbind het. Hartseer en bitterheid was die gevolg wanneer mense hulle nie deur onderskeidingsvermoë laat beveilig het nie. Gierigheid het al baie mense verstrik. “Laat . . . gierigheid onder julle selfs nie genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam”, het Paulus geskryf (Efesiërs 5:3). En hy het gewaarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.
12. Wat moet Christene veral onthou as hulle met mekaar sake doen?
12 As ’n Christen ’n liefde vir geld ontwikkel, sal hy homself geestelik baie skade berokken. Die Fariseërs was liefhebbers van geld, en dit is ’n eienskap van baie in hierdie laaste dae (Lukas 16:14; 2 Timoteus 3:1, 2). In teenstelling hiermee behoort ’n Christen se lewenswyse ‘vry te wees van die liefde vir geld’ (Hebreërs 13:5). Christene mag natuurlik met mekaar sake doen of saam ondernemings begin. Maar wanneer hulle sulke dinge doen, moet besprekings en onderhandelinge apart gehou word van gemeentelike sake. En onthou: Stel sakeooreenkomste altyd op skrif, selfs onder geestelike broers. Die artikel “Stel dit op skrif!” in die Ontwaak! van 8 Junie 1983, bladsye 13 tot 15, is baie nuttig in hierdie verband.
13. Hoe sou jy Spreuke 22:7 toepas op sakeondernemings?
13 Spreuke 22:7 sê: “Hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” Dit is dikwels onverstandig om onsself of ons broer in die posisie van so ’n slaaf te plaas. Wanneer iemand ons vra om hom geld te leen vir ’n sakeonderneming, sal dit raadsaam wees om te kyk of hy in staat sal wees om die som terug te betaal. Is hy daarvoor bekend dat hy betroubaar is? Ons moet natuurlik besef dat ons die geld kan verloor as ons so ’n lening maak, want talle sakeondernemings misluk. Op sigself waarborg ’n kontrak nie ’n suksesvolle onderneming nie. En dit is sekerlik nie wys vir enigeen om meer geld aan ’n onderneming te waag as wat hy kan bekostig om te verloor nie.
14. Waarom moet ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê as ons geld aan ’n mede-Christen geleen het wie se besigheid misluk?
14 Ons moet onderskeidingsvermoë aan die dag lê as ons geld aan ’n Christen vir sakebedrywighede geleen het en hy of sy die geld verloor het, al was geen oneerlikheid daarby betrokke nie. Kan ons sê dat ons veronreg is as dit nie ons medegelowige, wat die geld by ons geleen het, se skuld was dat die onderneming misluk het nie? Nee, want ons het die lening vrywillig gemaak, ons het waarskynlik al rente daarop gekry en niks oneerliks het plaasgevind nie. Aangesien niemand oneerlik was nie, het ons geen grond om regsaksie teen die lener in te stel nie. Watter nut sal dit hê om ’n eerlike mede-Christen te dagvaar wat bankrotskap moes aanvra omdat ’n sakeonderneming, wat met goeie bedoelings begin is, misluk het?—1 Korintiërs 6:1.
15. Watter faktore moet oorweeg word as iemand bankrot verklaar word?
15 Met tye misluk mense se sakeondernemings en is bankrotverklaring vir hulle ’n uitweg. Aangesien Christene nie nalatig is wat skuld betref nie, het party, selfs nadat hulle wetlik vrygestel is van sekere skulde, verplig gevoel om gekanselleerde skulde te probeer afbetaal as die skuldeisers betaling sou aanvaar. Maar sê nou ’n lener verloor sy broer se geld en leef daarna in weelde? Of sê nou die lener kry genoeg geld om terug te betaal wat hy geleen het, maar hy ignoreer die morele verpligting wat hy moontlik in finansiële sin teenoor sy broer het? Dan sal daar vrae ontstaan oor sy bevoegdheid om in ’n verantwoordelike hoedanigheid in die gemeente te dien.—1 Timoteus 3:3, 8; sien Die Wagtoring, 15 September 1994, bladsye 30-1.
Sê nou daar is bedrog?
16. Watter stappe kan gedoen word as dit lyk of ons die slagoffers van sakebedrog is?
16 Onderskeidingsvermoë help ons om te besef dat nie alle beleggings wins lewer nie. Maar sê nou daar is bedrog? Bedrog word omskryf as “die opsetlike gebruik van misleiding, kullery of verdraaiing van die waarheid met die doel om iemand anders oor te haal om van iets waardevols wat aan hom behoort of van ’n wettige reg afstand te doen”. Jesus Christus het die stappe uiteengesit wat gedoen kan word wanneer iemand dink dat hy deur ’n medeaanbidder bedrieg is. Volgens Matteus 18:15-17 het Jesus gesê: “As jou broer ’n sonde pleeg, gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee saam met jou, sodat elke saak uit die mond van twee of drie getuies bevestig kan word. As hy na hulle nie luister nie, praat met die gemeente. As hy selfs na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” Die illustrasie wat Jesus daarna gebruik het, toon dat hy sondes in gedagte gehad het soos dié waarby finansiële sake, met inbegrip van bedrog, betrokke is.—Matteus 18:23-35.
17, 18. Hoe kan onderskeidingsvermoë ons beveilig as ’n verklaarde Christen ons bedrieg?
17 As daar geen bewyse of selfs ’n aanduiding van bedrog was nie, sal daar natuurlik geen skriftuurlike grondslag wees om die stappe wat in Matteus 18:15-17 uiteengesit word te doen nie. Maar sê nou ’n verklaarde Christen het ons werklik bedrieg? Onderskeidingsvermoë kan ons beveilig sodat ons nie stappe doen wat die gemeente in ’n slegte lig kan stel nie. Die apostel Paulus het mede-Christene aangeraai om hulle eerder te laat veronreg en selfs te laat te kort doen as om ’n broer hof toe te neem.—1 Korintiërs 6:7.
18 Ons ware broers en susters is nie ‘vol van bedrog en skurkery’, soos die towenaar Bar-Jesus nie (Handelinge 13:6-12). Ons moet dus onderskeidingsvermoë gebruik wanneer ons geld verloor in sakeondernemings waarby medegelowiges betrokke is. As ons daaraan dink om regsaksie in te stel, moet ons dink aan die moontlike uitwerking wat dit op ons, op die ander persoon of persone, op die gemeente en op buitestanders kan hê. Om vergoeding te probeer kry, kan baie van ons tyd, energie en ander middele verg. Dit het dalk slegs tot gevolg dat prokureurs en ander beroepsmense verryk word. Ongelukkig het sommige Christene hulle teokratiese voorregte opgeoffer omdat hulle te betrokke geraak het by hierdie dinge. Dit maak Satan beslis gelukkig as ons aandag op hierdie wyse afgelei word, maar ons wil Jehovah se hart verbly (Spreuke 27:11). As ons aan die ander kant die verlies aanvaar, sal ons baie hartseer kan vermy en sal dit ons en die ouer manne baie tyd spaar. Dit sal die vrede van die gemeente help bewaar en sal ons in staat stel om aan te hou om die Koninkryk eerste te soek.
Onderskeidingsvermoë en besluitneming
19. Wat kan geestelike onderskeidingsvermoë en gebed vir ons doen wanneer ons moeilike besluite moet neem?
19 Besluite oor finansiële of sakeaangeleenthede kan heelwat spanning veroorsaak. Maar geestelike onderskeidingsvermoë kan ons help om faktore teen mekaar op te weeg en verstandige besluite te neem. Daarbenewens kan ons “die vrede van God” geniet as ons biddend op Jehovah vertrou (Filippense 4:6, 7). Dit is ’n kalmte en rustigheid wat voortspruit uit ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah. Hierdie vrede kan ons beslis help om ons ewewig te behou wanneer ons voor moeilike besluite te staan kom.
20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen wat sakeaangeleenthede en die gemeente betref?
20 Mag ons vasbeslote wees om nie toe te laat dat sakegeskille ons vrede of dié van die gemeente versteur nie. Ons moet onthou dat die Christengemeente daar is om ons geestelik te help en nie om as ’n sentrum vir handelsake te dien nie. Sakeaangeleenthede moet te alle tye apart gehou word van gemeentelike bedrywighede. Ons moet onderskeidingsvermoë en omsigtigheid aan die dag lê wanneer ons ons in sakeondernemings begewe. En laat ons altyd ’n gebalanseerde beskouing van sulke sake behou en Koninkryksbelange eerste stel. As ’n sakeonderneming waarby medeaanbidders betrokke is, misluk, moet ons doen wat die beste is vir al die betrokkenes.
21. Hoe kan ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê en in ooreenstemming met Filippense 1:9-11 optree?
21 Mag ons almal eerder ons harte na onderskeidingsvermoë neig, tot God bid vir sy leiding en Koninkryksbelange eerste hou as dat ons oormatig besorg is oor finansiële sake en ander minder belangrike dinge. Mag ons liefde, in ooreenstemming met Paulus se gebed, ‘steeds oorvloediger word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë; dat ons seker kan maak van wat die belangriker dinge is en dat ons ander, of onsself, nie laat struikel nie’. Laat ons, noudat Christus die Koning op sy hemelse troon is, geestelike onderskeidingsvermoë in elke aspek van die lewe aan die dag lê. En mag ‘ons vervul word met regverdige vrugte deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van ons God’, die Soewereine Heer Jehovah.—Filippense 1:9-11.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is onderskeidingsvermoë?
◻ Waarom is dit veral nodig om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê in die geval van sakebedrywighede onder Christene?
◻ Hoe kan onderskeidingsvermoë ons help as ons dink dat ’n medegelowige ons bedrieg het?
◻ Watter rol moet onderskeidingsvermoë speel wanneer ons besluite neem?
[Prent op bladsy 18]
Onderskeidingsvermoë sal ons help om Jesus se raad om die Koninkryk eerste te bly soek toe te pas
[Prent op bladsy 20]
Stel sakeooreenkomste altyd op skrif