Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 12/1 bl. 14-19
  • Navolgenswaardige voorbeelde van nederigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Navolgenswaardige voorbeelde van nederigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah God is nederig
  • Christus se voorbeeld van nederigheid
  • Die apostel Paulus, ’n goeie voorbeeld van nederigheid
  • Hedendaagse voorbeelde
  • Kweek ware nederigheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Waarom moet ons ons met nederigheid beklee?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jehovah waardeer sy nederige knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Jesus het die voorbeeld in nederigheid gestel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 12/1 bl. 14-19

Navolgenswaardige voorbeelde van nederigheid

“U eie nederigheid sal my groot maak.”—PSALM 18:35, NW.

1. Watter aanduiding van nederigheid kon in ’n vroeëre president van die Wagtoringgenootskap gesien word?

JOSEPH F. RUTHERFORD het ’n imponerende gestalte gehad, aangesien hy meer as 1,8 meter lank was en ver oor die 90 kilogram geweeg het. Hy het ook ’n kragtige stem gehad, wat hy nie net gebruik het om Jehovah se naam bekend te maak soos dit nog nooit tevore bekend gemaak is nie, maar ook om die valsheid van die godsdiensleiers van die Christendom bloot te lê deur hulle godsdiens “’n strik en ’n bedrogspel” te noem. Maar hoewel sy toesprake kragtig was, het hy, wanneer hy saam met die Bethelgesin by die hoofkwartier gebid het, net soos ’n klein seuntjie geklink wat met sy pappie praat—’n aanduiding van sy intieme verhouding met sy Maker sowel as van sy nederigheid. Ja, hy was so nederig soos ’n klein kindjie.—Mattheüs 18:3, 4.

2. In watter spesifieke opsig vorm Jehovah se knegte ’n skerp teenstelling met persone in die wêreld?

2 Alle ware knegte van Jehovah God is ongetwyfeld nederig. In hierdie verband vorm hulle ’n skerp teenstelling met mense van die wêreld. Die wêreld is vandag, meer as ooit tevore, vol trotsaards. Die adellikes en die magtiges, die rykes en die geleerdes en selfs baie van die armes en dié wat in ander opsigte minder bevoorreg is, is trots.

3. Wat kan oor die gevolge van trots gesê word?

3 Trots veroorsaak eindelose onmin en ellende. Trouens, al die ellende in die heelal het begin omdat ’n sekere engel trots geword het en aanbid wou word op die wyse wat net die Skepper, Jehovah God, toekom (Mattheüs 4:9, 10). Daarbenewens het daardie een, wat homself die Duiwel en Satan gemaak het, daarin geslaag om die eerste vrou, Eva, te verlei deur hom op haar trots te beroep. Hy het haar belowe dat sy, as sy van die verbode vrug sou eet, soos God self kon wees deur goed en kwaad te ken. As sy nederig was, sou sy gesê het: ‘Waarom sou ek soos God wou wees?’ (Genesis 3:4, 5). Hoe onvergeeflik is mense se trots tog as ons dink aan die ellendige toestand—liggaamlik, verstandelik en sedelik—waarin die mensdom hom bevind! Dit is geen wonder dat ons lees dat Jehovah “hoogmoed en trotsheid” haat nie! (Spreuke 8:13). Die voorbeelde van nederigheid wat ons in God se Woord, die Bybel, aantref, vorm ’n skerp teenstelling met alle trotsaards.

Jehovah God is nederig

4. Watter tekste toon dat Jehovah nederig is?

4 Jehovah God—die Allerhoogste, die Universele Soewerein, die Koning van die eeue—is nederig (Genesis 14:22). Is dit dan moontlik? Ja, beslis! Koning Dawid het gesê, soos dit in Psalm 18:35 opgeteken is: “U sal my u skild van redding gee, en u eie regterhand sal my onderskraag, en u eie nederigheid sal my groot maak” (NW). Koning Dawid het duidelik gesê dat Jehovah se nederigheid hom, Dawid, groot gemaak het. Aan die ander kant lees ons in Psalm 113:6 dat Jehovah “hom verwerdig om na die hemel en die aarde te kyk” (NW). ’n Ander vertaling lui so: “Neerbuig om te kyk.”—New International Version.

5. Watter gebeurtenisse getuig van Jehovah se nederigheid?

5 Jehovah God het hom beslis verwerdig om na Abraham te luister deur toe te laat dat Abraham vrae stel oor die regverdigheid van Sy voorneme om die goddelose stede Sodom en Gomorra te vernietiga (Genesis 18:23-32). En toe Jehovah gesê het dat hy die nasie Israel wil vernietig—een keer oor afgodediens en ’n ander keer oor opstandigheid—het Moses elke keer met Jehovah geredeneer asof hy met ’n ander mens praat. Jehovah het elke keer gunstig gereageer. Hy het nederigheid aan die dag gelê deur Moses se versoeke met betrekking tot Sy volk Israel toe te staan (Exodus 32:9-14; Numeri 14:11-20). Ander voorbeelde van hoe Jehovah as’ t ware op ’n persoonlike grondslag nederig met mense te werk gegaan het, kan gesien word aan sy handelinge met Gideon en Jona, soos opgeteken in Rigters 6:36-40 en Jona 4:9-11.

6. Watter eienskap van Jehovah openbaar sy nederigheid verder?

6 Trouens, daar word ten minste nege keer gesê dat Jehovah “lankmoedig” is.b Die feit dat Jehovah deur die millenniums heen lankmoedig in sy handelinge met mense was, of stadig was om toornig te word, is verdere bewys van sy nederigheid. Trotsaards is ongeduldig, gou om aan hulle woede uiting te gee—alles behalwe lankmoedig. Hoe dwaas laat Jehovah se nederigheid onvolmaakte mense se trots tog lyk! Aangesien daar vir ons gesê word om ‘navolgers van God soos geliefde kinders te wees’, moet ons nederig wees soos hy nederig is.—Efesiërs 5:1.

Christus se voorbeeld van nederigheid

7, 8. Wat sê die Skrif oor Jesus Christus se nederigheid?

7 Die tweede belangrikste voorbeeld van nederigheid wat ons moet navolg, word in 1 Petrus 2:21 genoem: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.” Lank voordat hy as ’n mens aarde toe gekom het, is daar oor hom in Sagaria 9:9 voorspel: “Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel.” As Jesus Christus trots was, sou hy die Duiwel se aanbod van al die koninkryke van die wêreld in ruil vir een daad van aanbidding moontlik aanvaar het (Mattheüs 4:9, 10). Hy het ook sy nederigheid getoon deur Jehovah al die eer vir sy onderrigting te gee en te sê: “Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”—Johannes 8:28.

8 Hy kon tereg vir sy luisteraars sê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mattheüs 11:29). En wat ’n goeie voorbeeld van nederigheid het hy tog gestel deur die voete van sy apostels te was op die laaste aand wat hy as ’n mens saam met hulle was! (Johannes 13:3-15). Dit is uiters gepas dat die apostel Paulus Christene in Filippense 2:3-8 vermaan om ‘nederig’ te wees deur na Jesus Christus as ’n voorbeeld te verwys: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het [geen gewelddadige inbesitneming oorweeg] om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die [folterpaal]” (vgl. NW). Toe hy voor die grootste krisis van sy lewe te staan gekom het, het hy nederig tot sy Vader gebid: “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mattheüs 26:39). Dit ly hoegenaamd geen twyfel dat ons nederig moet wees as ons navolgers van Jesus Christus wil wees en sy voetstappe noukeurig wil volg nie.

Die apostel Paulus, ’n goeie voorbeeld van nederigheid

9-12. Hoe het die apostel Paulus ’n goeie voorbeeld van nederigheid gestel?

9 Die apostel Paulus het geskryf: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Het die apostel Paulus Jesus Christus nagevolg deur nederig te wees en ons sodoende nog ’n navolgenswaardige voorbeeld van nederigheid gegee? Baie beslis. Vir eers het hy nederig erken dat hy ’n dienskneg van Jesus Christus is (Filippense 1:1). Hy het die ouere manne van Efese vertel hoe hy ‘die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor hom gekom het deur die komplotte van die Jode’ (Handelinge 20:17-19). As hy nie nederig was nie, sou hy nooit die woorde in Romeine 7:18, 19 geskryf het nie: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie . . . Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”

10 Wat Paulus aan die Christene in Korinthe geskryf het, soos dit in 1 Korinthiërs 2:3 opgeteken is, is ook ’n aanduiding van sy nederigheid: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing.” Hy het nederig na sy vroeëre lewenswandel, voor hy ’n Christen geword het, verwys toe hy geskryf het: ‘Ek was vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar. . . . Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.’—1 Timotheüs 1:13, 15.

11 Die feit dat hy die welslae wat hy behaal het aan Jehovah God toeskryf, is ’n verdere aanduiding van sy nederigheid. Hy het oor sy bediening geskryf: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei” (1 Korinthiërs 3:6, 7). Hy het ook sy broers gevra om vir hom te bid sodat hy ’n goeie getuienis kon gee, soos ons in Efesiërs 6:18-20 lees: “Bid aanhoudend . . . vir my, dat die bekwaamheid om te spreek aan my gegee sal word . . . sodat ek met vrymoedigheid in verband [met die heilige geheim van die goeie nuus] kan spreek soos ek behoort te spreek.”—NW.

12 Paulus het ook sy nederigheid getoon deur die manier waarop hy met die ander apostels saamgewerk het: “Jakobus en Cefas en Johannes . . . [het] aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan” (Galasiërs 2:9). Hy het sy bereidwilligheid om met die ouere manne van Jerusalem saam te werk verder getoon deur saam met vier jong manne na die tempel toe te gaan en hulle koste vir hulle te betaal toe hulle ’n gelofte nagekom het.—Handelinge 21:23-26.

13. Wat het Paulus se nederigheid so merkwaardig gemaak?

13 Paulus se nederigheid is selfs merkwaardiger as ons let op die kragtige wyse waarop Jehovah God hom gebruik het. Ons lees byvoorbeeld dat ‘God buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen het’ (Handelinge 19:11, 12). Daarbenewens is hy bonatuurlike gesigte en openbaringe gegee (2 Korinthiërs 12:1-7). Ons moet ook nie vergeet dat hy geïnspireer is om 14 van die 27 boeke (in werklikheid briewe) van die Christelike Griekse Geskrifte te skryf nie. Niks daarvan het, by wyse van spreke, na sy kop toe gegaan nie. Hy het nederig gebly.

Hedendaagse voorbeelde

14-16. (a) Hoe was die Wagtoringgenootskap se eerste president ’n goeie voorbeeld van nederigheid? (b) Met wie se voorbeeld vorm sy voorbeeld ’n skerp teenstelling?

14 Ons lees die apostel Paulus se raad in Hebreërs 13:7: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” In ooreenstemming met hierdie beginsel kan ons die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Charles Taze Russell, as ’n hedendaagse voorbeeld neem van iemand wie se geloof ons kan navolg. Was hy ’n nederige man? Hy was beslis! Soos daar al tereg opgemerk is, het hy in die teks van sy Studies in the Scriptures, ses dele van sowat 3 000 bladsye, nie een keer na homself verwys nie. Die publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap volg vandag hierdie beginsel deur nie die aandag op mense te vestig en die skrywers van die artikels te identifiseer nie.

15 In die Watch Tower het broer Russell eenkeer geskryf dat daar nie so iets soos “Russellisme” en “Russelliet” is nie, terme wat sy teenstanders gebruik het, maar wat hy geheel en al verwerp het. Hy het geskryf: “Dit was ons werk . . . om hierdie fragmente van waarheid wat al so lank verstrooi was, byeen te bring en aan die Here se volk te leer—nie as iets nuuts nie, nie as iets wat aan ons behoort nie, maar as die Here s’n. . . . Die werk waarin die Here ons nederige talente met behae gebruik het, was nie soseer ’n werk om geestelike waarhede te skep nie, maar eerder om hulle te rekonstrueer, aan te pas en met mekaar te laat strook.” Hy het waarlik die apostel Paulus se gevoelens uitgespreek, soos dit in 1 Korinthiërs 3:5-7 aangetref word.

16 Sy gesindheid was presies die teenoorgestelde van dié van Charles Darwin. In sy eerste uitgawe van The Origin of Species in 1859 het Darwin herhaaldelik gepraat van “my” teorie en het hy geïgnoreer wat ander voor hom oor evolusie gesê het. ’n Bekende skrywer van daardie eeu, Samuel Butler, het Darwin kwaai gekritiseer en daarop gewys dat baie ander voorheen reeds die evolusiehipotese bevorder het; dit het geensins sy oorsprong by Darwin gehad nie.

17. Watter verdere voorbeelde is daar van broer Rutherford se nederigheid?

17 Nog ’n getroue kneg wat in hedendaagse tye op kragtige wyse deur Jehovah God gebruik is, was Joseph F. Rutherford, wat aan die begin gemeld is. Hy was ’n moedige voorstander van Bybelwaarheid en veral van Jehovah se naam. Hoewel hy algemeen as regter Rutherford bekend gestaan het, was hy nederig van hart. Hy het byvoorbeeld eenkeer ’n paar dogmatiese dinge genoem wat Christene in 1925 kon verwag. Toe gebeurtenisse nie aan sy verwagtinge voldoen het nie, het hy nederig vir die Brooklynse Bethelgesin gesê dat hy dwaas opgetree het. ’n Gesalfde Christen wat taamlik noue omgang met hom geniet het, het gesê dat hy keer op keer gehoor het hoe broer Rutherford in ooreenstemming met Mattheüs 5:23, 24, in die openbaar sowel as privaat, om verskoning vra omdat hy ’n mede-Christen se gevoelens seergemaak het deur iets onbedags te sê. Dit verg nederigheid van iemand in ’n gesagsposisie om dié onder hom om verskoning te vra. Broer Rutherford het ’n goeie voorbeeld vir alle opsieners gestel, hetsy hulle in ’n gemeente, in die reisende werk of by een van die Genootskap se takkantore is.

18. Wat het die Genootskap se derde president gesê wat sy nederige gesindheid getoon het?

18 Die derde president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Nathan H. Knorr, het ook getoon dat hy, hoewel hy ’n belangrike persoon onder Jehovah se volk was, nie verhewe gevoel het vanweë sy posisie nie. Hoewel hy ’n uitmuntende organiseerder en openbare spreker was, het hy groot respek gehad vir wat ander gedoen het. Daarom het hy eenkeer ’n lid van die Skryfafdeling in sy kantoor besoek en gesê: “Dis hier waar die belangrikste asook die moeilikste werk gedoen word. Dis waarom ek so min daarvan doen.” Ja, hy het die raad in Filippense 2:3 nederig toegepas, naamlik dat ‘die een mens die ander in nederigheid hoër moet ag as homself’. Hy het besef dat, hoewel sy diens as die president van die Genootskap belangrik was, ander take ook belangrik was. Dit het nederigheid van hom geverg om so te voel en dit so uitdruklik te sê. Hy was nog ’n goeie voorbeeld wat almal kan navolg, veral dié wat ’n belangrike posisie as opsiener beklee.

19, 20. (a) Watter voorbeeld van nederigheid het die vierde president van die Genootskap gestel? (b) Hoe sal die volgende artikel ons help sodat ons nederigheid aan die dag kan lê?

19 Die vierde president van die Genootskap, Fred W. Franz, was ook ’n goeie voorbeeld van nederigheid. Hy was die Genootskap se visepresident vir sowat 32 jaar en het baie van die skryfwerk vir die tydskrifte en byeenkomsprogramme gedoen; tog het hy altyd in hierdie verband op die agtergrond gebly en nooit probeer om die aandag op homself te vestig nie. Ons kan na ’n vergelykbare voorbeeld uit die ou tyd kyk. Toe Joab die Ammoniete by Rabba verslaan het, het hy seker gemaak dat koning Dawid die eer vir die oorwinning kry.—2 Samuel 12:26-28.

20 Daar was in die verlede en is in die hede werklik talle goeie voorbeelde wat ons kragtige redes gee om nederig te wees. Maar daar is nog baie redes waarom ons nederig moet wees, en hierdie redes asook dinge wat ons sal help om nederig te wees, sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a “Verwerdig” word dikwels geassosieer met ’n meerderwaardigheidsgevoel. Maar sy hoofbetekenis—en soos hy in die New World Translation gebruik word—is “dit nie benede hom ag nie”.—Sien die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.

b Exodus 34:6; Numeri 14:18; Nehemia 9:17; Psalm 86:15; 103:8; 145:8; Joël 2:13; Jona 4:2; Nahum 1:3.

Onthou jy?

◻ Wat is die gevolge van trots?

◻ Wie het die beste voorbeeld van nederigheid gestel?

◻ Wat toon wie die tweede grootste voorbeeld van nederigheid was?

◻ Watter goeie voorbeeld van nederigheid het die apostel Paulus gestel?

◻ Watter belangrike hedendaagse voorbeelde van nederigheid het ons?

[Prent op bladsy 15]

Jesus het goeie bewys van nederigheid gelewer

[Prent op bladsy 16]

Paulus het ’n goeie voorbeeld van nederigheid gestel

[Prent op bladsy 17]

Broer Russell het hom nie die eer toegeëien vir die dinge wat hy geskryf het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel