Verkry wysheid en aanvaar dissipline
JEHOVAH GOD is die Grootse Onderrigter van sy volk. Hy leer hulle nie net van homself nie, maar ook van die lewe (Jesaja 30:20, NW; 54:13; Psalm 27:11). Jehovah het die nasie Israel byvoorbeeld profete, Leviete—veral die priesters—en ander wyse manne gegee om as onderrigters te dien (2 Kronieke 35:3; Jeremia 18:18). Die profete het die volk God se voornemens en eienskappe geleer en hulle leiding gegee oor die regte weg om te volg. Die priesters en Leviete het die verantwoordelikheid gehad om hulle Jehovah se Wet te leer. En die wyse manne, of oudstes, het wyse raad oor die daaglikse lewe gegee.
Salomo, die seun van Dawid, het uitgestaan onder die wyse manne van Israel (1 Konings 4:30, 31). Toe een van sy beroemdste besoekers, die koningin van Skeba, sy heerlikheid en rykdom gesien het, het sy erken: “Die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het” (1 Konings 10:7). Wat was die geheim van Salomo se wysheid? Toe hy in 1037 v.G.J. koning van Israel geword het, het Salomo vir “wysheid en kennis” gebid. Omdat sy versoek Jehovah behaag het, het Jehovah hom kennis, wysheid en ’n verstandige hart gegee (2 Kronieke 1:10-12; 1 Konings 3:12). Geen wonder Salomo kon ‘drieduisend spreuke uitspreek’ nie! (1 Konings 4:32). Van hierdie spreuke, tesame met “die woorde van Agur” en dié van “Lemuël, die koning”, is in die Bybelboek Spreuke opgeteken (Spreuke 30:1; 31:1). Die waarhede wat in hierdie spreuke vervat word, weerspieël God se wysheid en is ewig (1 Konings 10:23, 24). Vir enigiemand wat ’n gelukkige en suksesvolle lewe wil hê, is hierdie spreuke vandag net so onontbeerlik as wat hulle was toe hulle eers uitgespreek is.
Sukses en sedelike reinheid—Hoe?
Die doel van die boek Spreuke word in die openingswoorde verduidelik: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, vir mense om wysheid en dissipline te leer ken, om die woorde van verstand te onderskei, om die dissipline te ontvang wat insig, regverdigheid en oordeel en regskapenheid gee, om aan die onervarenes skerpsinnigheid te gee, aan ’n jong man kennis en denkvermoë.”—Spreuke 1:1-4, NW.
Wat ’n verhewe doel het “die spreuke van Salomo” tog! Om ons ‘te leer om wysheid en dissipline te ken’. Wysheid behels dat ’n mens dinge sien soos hulle werklik is en daardie kennis dan gebruik om probleme op te los, doelwitte te bereik, gevare te vermy of af te wend of ander te help om dit te doen. “In die boek Spreuke”, sê een naslaanwerk, “verwys ‘wysheid’ na lewensvaardigheid—die vermoë om wyse keuses te maak en suksesvol in die lewe te wees.” Hoe belangrik is dit tog om wysheid te verwerf!—Spreuke 4:7, NW.
Salomo se spreuke voorsien ons ook van dissipline. Het ons hierdie opleiding nodig? In die Skrif dra dissipline die gedagte oor van teregwysing, berisping of tugtiging. Volgens een Bybelgeleerde “dui [dit] op die vorming van die sedelike natuur, wat insluit dat die neiging om dwaas op te tree, reggestel word”. Dissipline, hetsy dit selfopgelegde dissipline is of dissipline is wat ons van ander ontvang, keer nie net dat ons verkeerd doen nie, maar motiveer ons ook om ten goede te verander. Ja, ons het dissipline nodig as ons sedelik rein wil bly.
Die doel van die spreuke is dus tweeledig—om ons wysheid te gee en van dissipline te voorsien. Sedelike dissipline en verstandelike vermoë het talle fasette. Regverdigheid en geregtigheid is byvoorbeeld sedelike eienskappe, en dit help ons om by Jehovah se hoë standaarde te bly.
Wysheid is ’n kombinasie van baie faktore wat verstand, insig, skerpsinnigheid en denkvermoë insluit. Verstand is die vermoë om tot die kern van ’n saak deur te dring en die samestelling daarvan te onderskei deur in te sien watter verband daar tussen die dele daarvan en die geheel bestaan, en sodoende die sin daarvan te begryp. Insig vereis dat ’n mens weet wat die redes vir dinge is en verstaan waarom ’n sekere weg reg of verkeerd is. ’n Man van verstand kan byvoorbeeld onderskei wanneer iemand op ’n verkeerde weg is, en hy sal hom moontlik onmiddellik teen die gevaar waarsku. Maar dit verg insig van hom om te verstaan waarom die persoon in daardie rigting beweeg en om aan die beste manier te dink om hom te red.
Skerpsinnige mense is versigtig—nie liggelowig nie (Spreuke 14:15). Hulle kan onheil sien kom en daarvoor voorberei. En wysheid stel ons in staat om heilsame gedagtes en idees te vorm wat ons lewe doelgerig maak. Die studie van Bybelse spreuke is beslis lonend omdat hulle opgeteken is sodat ons wysheid en dissipline kan leer ken. Selfs “onervarenes” wat op die spreuke ag slaan, sal skerpsinnigheid verwerf en “’n jong man” kennis en denkvermoë.
Spreuke vir die wyses
Die Bybelse spreuke is egter nie net vir die onervarenes en die jonges nie. Hulle is vir enigiemand wat wys genoeg is om te luister. “’n Wyse sal luister en meer onderrig inneem,” sê koning Salomo, “en ’n man van verstand verwerf bekwame leiding, om ’n spreuk en ’n raaiselagtige gesegde, die woorde van wyses en hulle raaisels te verstaan” (Spreuke 1:5, 6, NW). Iemand wat alreeds wysheid verwerf het, sal sy kennis vermeerder deur op die spreuke ag te slaan, en ’n man van verstand sal sy vermoë verbeter om ’n sukses van sy lewe te maak.
’n Spreuk druk dikwels ’n diep waarheid in net ’n paar woorde uit. ’n Bybelse spreuk kan in die vorm van ’n raaiselagtige gesegde wees (Spreuke 1:17-19). Party spreuke is raaisels—verwarrende en ingewikkelde stellings wat ’n mens moet ontrafel. ’n Spreuk kan ook vergelykings, metafore of ander beeldspraak bevat. Dit neem tyd en bepeinsing om dit te verstaan. Salomo, die skrywer van soveel spreuke, het beslis geweet wat daarby betrokke is om ’n spreuk te verstaan. In die boek Spreuke onderneem hy die taak om sy lesers daardie vermoë te leer, iets waarop ’n wyse persoon ag sal wil slaan.
Die begin wat tot die doel lei
Waar begin ’n mens na wysheid en dissipline soek? Salomo antwoord: “Die vrees van Jehovah is die begin van kennis. Wysheid en dissipline is wat blote dwase verag het” (Spreuke 1:7, NW). Kennis begin by die vrees van Jehovah. Sonder kennis kan daar geen wysheid of dissipline wees nie. Die vrees van Jehovah is dus die begin van wysheid en dissipline.—Spreuke 9:10, NW; 15:33, NW.
Die vrees van God is nie ’n morbiede vrees vir hom nie. Dit is eerder ’n hartgrondige eerbied en ontsag. Daar kan geen ware kennis sonder hierdie vrees wees nie. Lewe kom van Jehovah God, en ons moet natuurlik lewe om enige kennis te hê (Psalm 36:10; Handelinge 17:25, 28). Daarbenewens het God alles geskep; alle mensekennis is dus gebaseer op ’n studie van sy handewerk (Psalm 19:2, 3; Openbaring 4:11). God het ook sy geskrewe Woord geïnspireer, wat “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16, 17). Jehovah is derhalwe die middelpunt van alle ware kennis, en iemand wat daarna soek, moet ’n eerbiedige vrees vir hom hê.
Watter waarde het mensekennis en wêreldse wysheid sonder die vrees van God? Die apostel Paulus het geskryf: “Waar is die wyse? Waar die skrifgeleerde? Waar die debatteerder van hierdie stelsel van dinge? Het God nie die wysheid van die wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Korintiërs 1:20). Omdat ’n wêreldwyse persoon God nie vrees nie, maak hy verkeerde gevolgtrekkings van bekende feite en is hy uiteindelik ’n ‘blote dwaas’.
’n “Ketting vir jou hals”
Die wyse koning praat vervolgens met jongmense: “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie. Want dit is ’n aantreklike krans vir jou kop en ’n mooi ketting vir jou hals.”—Spreuke 1:8, 9, NW.
In eertydse Israel het ouers die godgegewe verantwoordelikheid gehad om hulle kinders te leer. Moses het vaders aangespoor: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Moeders het ook aansienlike invloed gehad. ’n Hebreeuse vrou kon binne die raamwerk van haar man se gesag gesinswette toepas.
Trouens, die Bybel toon deurgaans dat die gesin die basiese eenheid vir onderrigting is (Efesiërs 6:1-3). As kinders aan hulle gelowige ouers gehoorsaam is, is dit asof hulle versier is met ’n lieflike krans en ’n ketting wat hulle tot eer strek.
“Dit neem selfs die siel van sy besitters weg”
Voordat ’n vader in Asië sy 16-jarige seun vir naskoolse opleiding na die Verenigde State gestuur het, het hy hom die raad gegee om nie met slegte mense om te gaan nie. Hierdie raad is soortgelyk aan Salomo se waarskuwing: “My seun, as sondaars jou probeer verlei, moet jy nie instem nie” (Spreuke 1:10, NW). Salomo identifiseer egter die lokaas wat hulle gebruik: “Hulle bly sê: ‘Gaan saam met ons. Laat ons in ’n hinderlaag lê vir bloed. Laat ons die onskuldiges in ’n skuilplek voorlê sonder enige rede. Laat ons hulle lewend insluk net soos Sjeool, ja, heel, soos dié wat in ’n kuil neerdaal. Laat ons allerhande kosbare dinge van waarde vind. Laat ons ons huise met buit vul. Jou lot behoort jy onder ons in te werp. Laat daar net een sak wees wat aan ons almal behoort.’”—Spreuke 1:11-14, NW.
Dit is duidelik dat die lokaas rykdom is. “Sondaars” verlei ander om by hulle gewelddadige of oneerlike planne betrokke te raak deur te sê dat hulle vinnig geld sal maak. Hierdie goddelose mense huiwer nie om bloed ter wille van materiële gewin te vergiet nie. Hulle ‘sluk hulle slagoffer lewend in net soos Sjeool, ja, heel’, deur hom van al sy besittings te beroof, net soos die graf die hele liggaam ontvang. Hulle uitnodiging is om ’n lewe van misdaad te lei—hulle wil hulle “huise met buit vul”, en hulle wil hê dat die onervarene ‘sy lot onder hulle moet inwerp’. Dit is voorwaar ’n tydige waarskuwing vir ons! Gebruik jeugbendes en dwelmhandelaars nie soortgelyke metodes om mense by hulle te laat aansluit nie? Is dit nie die vooruitsig op vinnige rykdom wat mense tot twyfelagtige saketransaksies aantrek nie?
“My seun,” sê die wyse koning, “moenie met hulle saamgaan op die weg nie. Hou jou voet terug van hulle pad. Want hulle voete hardloop na louter slegtheid, en hulle bly hulle haas om bloed te vergiet.” Hy voorspel hulle rampspoedige einde en voeg by: “Want dit is verniet dat die net uitgesprei word voor die oë van enigiets wat vlerke besit. Gevolglik lê hulle self in ’n hinderlaag vir hulle bloed; hulle lê hulle siele in ’n skuilplek voor. So is die paaie van almal wat onregverdige wins maak. Dit neem selfs die siel van sy besitters weg.”—Spreuke 1:15-19, NW.
“Almal wat onregverdige wins maak”, sal in hulle eie weg sterf. Die einste hinderlaag wat die goddelose vir ander lê, sal ’n strik vir hulleself word. Sal moedswillige kwaaddoeners hulle weg verander? Nee. ’n Net kan dalk duidelik gesien word, maar voëls—diere “wat vlerke besit”—vlieg nog steeds reguit daarin vas. Op ’n soortgelyke wyse gaan die goddelose, wat deur hulle hebsug verblind is, voort met hulle misdade, selfs al sal hulle vroeër of later gevang word.
Wie sal na die stem van wysheid luister?
Is sondaars werklik daarvan bewus dat hulle weg rampspoedig is? Is hulle teen die gevolge van hulle weë gewaarsku? Onkunde is nie ’n verskoning nie, want ’n baie duidelike boodskap word in openbare plekke verkondig.
Salomo sê: “Ware wysheid bly hard uitroep op die straat. Op die openbare pleine laat sy voortdurend haar stem hoor. Aan die bopunt van die rumoerige strate roep sy uit. By die ingange van die poorte na die stad spreek sy haar eie woorde” (Spreuke 1:20, 21, NW). Wysheid roep met ’n harde, duidelike stem in openbare plekke uit waar almal kan hoor. In eertydse Israel het die oudstes wyse raad gegee en regterlike beslissings gevel by die stadspoorte. Vir ons het Jehovah ware wysheid laat opteken in sy Woord, die Bybel, wat alom beskikbaar is. En vandag verkondig sy knegte die boodskap daarin wyd en syd. God het wysheid inderdaad aan almal verkondig.
Wat sê ware wysheid? Dít: ‘Hoe lank sal julle, onervarenes, onervarenheid bly liefhê, en hoe lank moet julle, spotters, volslae spot vir julle begeer? Ek het geroep maar julle bly weier, ek het my hand uitgesteek maar daar is niemand wat aandag skenk nie.’ Dwase slaan nie ag op die stem van wysheid nie. Gevolglik ‘sal hulle van die vrug van hulle weg eet’. Hulle eie ‘afvalligheid en gemaksug sal hulle vernietig’.—Spreuke 1:22-32, NW.
Maar wat van iemand wat die tyd geneem het om na die stem van wysheid te luister? “Hy sal in veiligheid woon en nie versteur word deur vrees vir rampspoed nie” (Spreuke 1:33, NW). Mag jy een van diegene wees wat wysheid verkry en dissipline aanvaar deur aan Bybelse spreuke aandag te skenk.
[Prent op bladsy 15]
Ware wysheid is alom beskikbaar