Musiek se plek in hedendaagse aanbidding
SANG is ’n gawe van God. Wanneer ons ons stem gebruik om te sing, kan dit ons en ons Skepper vreugde verskaf. Ons kan ons emosies, smart sowel as vreugde, daardeur uitdruk. Wat meer is, ons kan uiting gee aan ons liefde, bewondering en lof vir die Skepper van sang, Jehovah.
Die meeste van die ongeveer driehonderd Bybelverwysings na musiek hou verband met die aanbidding van Jehovah. Sang word ook geassosieer met vreugde—nie net die vreugde van dié wat sing nie, maar ook Jehovah se vreugde. Die psalmis het geskryf: “Laat hulle hom . . . besing met melodieë. Want Jehovah het ’n welgevalle in sy volk.”—Psalm 149:3, 4, NW.
Maar hoe belangrik is sang in hedendaagse aanbidding? Hoe kan Jehovah se volk hom vandag deur hulle sang behaag? Watter plek behoort musiek in ware aanbidding te hê? As ons die geskiedenis van musiek in aanbidding ondersoek, sal dit ons help om hierdie vrae te beantwoord.
Musiek se geskiedkundige plek in aanbidding
Die eerste Bybelse verwysing na musiek word nie spesifiek in verband met die aanbidding van Jehovah genoem nie. In Genesis 4:21 word die uitvinding van wat moontlik die eerste musiekinstrumente was of dalk die stigting van die een of ander soort musiekbedryf aan Jubal toegeskryf. Maar musiek was selfs voor die skepping van die mens deel van Jehovah se aanbidding. ’n Aantal Bybelvertalings beskryf engele wat sing. Job 38:7 (NW) praat van die engele wat ’n vreugdegeroep aangehef het en ‘jubelend uitgeroep het’. Daar is dus skriftuurlike rede om te glo dat sang in aanbidding van Jehovah beoefen is lank voordat die mens op die toneel verskyn het.
Party geskiedkundiges voer aan dat eertydse Hebreeuse musiek net uit melodieë bestaan het, sonder ondersteunende harmonie. Maar op die harp, ’n instrument wat dikwels in die Bybel genoem word, kon meer as een noot op ’n slag gespeel word. Die harpspelers moes tog sekerlik opgemerk het watter harmonie deur die kombinasies van tone op die instrument voortgebring kon word. Hulle musiek was beslis nie primitief nie, maar eerder heel gevorderd. En te oordeel na die poësie en prosa van die Hebreeuse Geskrifte kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Israelitiese musiek van hoë gehalte was. Die inspirasie vir musikale komposisies was beslis baie meer verhewe as dié van die naburige nasies.
Die eertydse tempelreëling het voorsiening gemaak vir ingewikkelde verwerkings vir instrumente en stemme in tempelaanbidding (2 Kronieke 29:27, 28). Daar was ‘leiers’, “meesters”, ‘leerlinge’ en “hoofde van die sangers” (1 Kronieke 15:21; 25:7, 8; Nehemia 12:46, NW). Die geskiedskrywer Curt Sachs het oor hulle gevorderde musikale vaardighede geskryf: “Die kore en orkeste wat aan die Tempel in Jerusalem verbonde was, dui op ’n hoë standaard van musikale opleiding, vaardigheid en kennis. . . . Hoewel ons nie weet hoe daardie eertydse musiek geklink het nie, het ons voldoende bewys van die krag, waardigheid en meesterlikheid daarvan” (The Rise of Music in the Ancient World: East and West, 1943, bladsye 48, 101-2). Die Hooglied van Salomo is ’n voorbeeld van die skeppingsvermoë en gehalte van Hebreeuse komposisies. Dit is ’n verhaal in die vorm van ’n lied, soortgelyk aan die libretto, oftewel teks, van ’n opera. Die lied staan in die Hebreeuse teks bekend as “Lied der liedere”, dit wil sê die uitnemendste lied. Vir die eertydse Hebreërs was sang ’n integrerende deel van aanbidding. En dit het positiewe emosionele uiting moontlik gemaak wanneer hulle Jehovah geloof het.
Sang deur die eerste-eeuse Christene
Musiek was ook ’n gereelde deel van aanbidding onder die vroeë Christene. Benewens die feit dat hulle die geïnspireerde Psalms gehad het, het hulle blykbaar oorspronklike musiek en lirieke vir aanbidding gekomponeer, en sodoende ’n presedent gestel vir hedendaagse komposisie van Christelike liedere (Efesiërs 5:19). Die boek The History of Music, deur Waldo Selden Pratt, verduidelik: “Vir die vroeë Christene was sang ’n gebruiklike deel van openbare en private aanbidding. Vir Joodse bekeerlinge was dit ’n voortsetting van die gebruike van die sinagoge . . . Benewens die Hebreeuse Psalms . . . , was die nuwe geloof geneig om voortdurend nuwe gesange voort te bring, aanvanklik blykbaar in die vorm van rapsodieë.”a
Die waarde van sang word beklemtoon deur die feit dat Jesus en die apostels waarskynlik die Hallels gesing het toe hy die Here se Aandmaal ingestel het (Matteus 26:26-30). Dit was lofliedere tot Jehovah wat in die Psalms opgeteken is en tydens die Pasgaviering gesing is.—Psalms 113-118.
Die invloed van valse aanbidding
Teen die tyd van die so genoemde Donker Eeue het gewyde musiek bloot uit droewige dreunsang bestaan. Ongeveer 200 G.J. het Klemens van Alexandrië gesê: “Ons het een instrument nodig: die vreedsame woord van verering, nie harpe of tromme of fluite of trompette nie.” Weens die beperkings wat opgelê is, kon net stemme in kerkmusiek gebruik word. Hierdie styl het as ’n dreunsang of eenstemmige kerksang bekend geword. “Minder as veertig jaar ná die oprigting van Konstantinopel het die Konsilie van Laodisea (367 AD) ’n verbod geplaas op die gebruik van instrumente in die liturgie sowel as die gemeentes verbied om daaraan deel te neem. Ortodokse musiek bestaan net uit sang”, sê die boek Our Musical Heritage. (Ons kursiveer.) Hierdie beperkings het geen grondslag in die vroeë Christelike godsdiens gehad nie.
Gedurende die Donker Eeue was die Bybel ’n geslote boek vir die gewone mense. Christene wat dit gewaag het om ’n Bybel te besit of te lees, is vervolg en selfs doodgemaak. Dit is dus geen wonder nie dat die gebruik om lofliedere tot God te sing tydens daardie donker tyd grotendeels verdwyn het. Hoe sou die gewone mense per slot van rekening weet dat een tiende van die hele Bybel uit liedere bestaan as hulle nie toegang tot die Skrif gehad het nie? Wie sou hulle inlig dat God sy aanbidders beveel het om “tot eer van die HERE ’n nuwe lied [te sing], sy lof in die vergadering van die gunsgenote”?—Psalm 149:1.
Musiek herstel tot sy behoorlike plek in aanbidding
Jehovah se organisasie het heelwat gedoen om musiek en sang tot hulle regmatige plek in aanbidding te herstel. Zion’s Watch Tower van 1 Februarie 1896 het byvoorbeeld net uit liedere bestaan. Die titel was “Sion se vreugdevolle liedere van die oggend”.
In 1938 is daar merendeels opgehou om tydens gemeentelike vergaderinge te sing. Maar daar is weldra ingesien dat dit verstandig is om die apostoliese voorbeeld en leiding te volg. By die streekbyeenkoms in 1944 het F. W. Franz die toespraak “Die lied van Koninkryksdiens” gehou. Hy het getoon dat lofliedere tot Jehovah lank voor die skepping van die mens deur God se hemelse skepsele gesing is en gesê: “Dit is gepas en dit behaag God dat Sy aardse knegte hulle stemme in letterlike sang gebruik.” Nadat hy verduidelik het waarom ons in aanbidding moet sing, het hy die Koninkryksdiens—Liedereboek vrygestel wat tydens die weeklikse diensvergaderinge gebruik moes word.b In Desember 1944 het die Voorligter (wat nou Ons Koninkryksbediening genoem word) aangekondig dat ander vergaderinge ook met ’n lied geopen en gesluit sal word. Sang het weer eens deel van Jehovah se aanbidding geword.
‘Sing in ons hart tot Jehovah’
Die waarde van sang uit die hart word toegelig deur ons broers in Oos-Europa en in Afrika wat jare lange teëspoed en vervolging ondervind het. Lothar Wagner het sewe jaar in alleenopsluiting deurgebring. Hoe het hy dit verduur? Hy sê: “’n Hele paar weke lank het ek my daarop toegelê om my skatkamer van Koninkryksliedere te voltooi. Wanneer ek nie die presiese woorde geken het nie, het ek eenvoudig een of twee stansas self uitgedink. . . . Wat ’n oorvloed van bemoediging en opbouende gedagtes is daar tog in ons Koninkryksliedere!”—1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 226-8.
Gedurende die vyf jaar wat Harold King in alleenopsluiting deurgebring het vanweë sy getroue standpunt, het hy vertroosting gevind deur lofliedere tot Jehovah te komponeer en te sing. Heelparty van sy komposisies word nou deur Jehovah se Getuies in hulle aanbidding gebruik. Die vreugde wat met sang gepaardgaan, onderskraag ons. Maar dit is nie nodig dat ons eers vervolg word om van die waarde van lofliedere tot God oortuig te word nie.
Al Jehovah se knegte kan hulle in sang verheug. Selfs al is ons dalk ’n bietjie huiwerig om ons in woorde uit te druk, kan ons ons gevoelens vryelik teenoor Jehovah uitspreek wanneer ons dit in sang doen. Die apostel Paulus het getoon hoe ons vreugde in lofsang kan vind toe hy Christene vermaan het om aan te hou om ‘tot mekaar te spreek met psalms en lofliedere tot God en geestelike liedere en te sing en julle te begelei met musiek in julle hart tot Jehovah’ (Efesiërs 5:19). Wanneer ons hart met geestelike dinge gevul is, kan ons op ’n kragtige manier uiting gee aan ons gevoelens deur te sing. Die sleutel tot verbeterde sang is dus die regte hartstoestand.
As ons ’n goeie verhouding met Jehovah het, dra dit tot ’n vreugdevolle gees by en beweeg dit ons om Jehovah se lof in woorde uit te druk, te besing en uit te basuin (Psalm 146:2, 5). Ons sing uit die hart oor die dinge wat ons geniet. En as ons van die lied of die gedagtes in die lied hou, sal ons dit heel waarskynlik met ware gevoel sing.
’n Mens hoef nie hard te sing om met gevoel te sing nie. Harde sang is nie noodwendig sinoniem met goeie sang nie; dit is ook nie goeie sang as dit nie gehoor kan word nie. Party stemme met natuurlike resonansie staan dalk uit al sing die persoon sag. Deel van die uitdaging om goed in ’n groep te sing, is om te leer om met die groep saam te smelt. Hetsy jy in harmonie of eenstemmig sing, dit het ’n aangename en verenigde lied tot gevolg as die sterkte van jou stem by dié van diegene pas wat naby jou staan. Christelike beskeidenheid en ’n luisterende oor help ’n mens om ’n balans te verkry en geesdriftig uit volle bors te sing en tog nie oorweldigend met jou stem te wees nie. Maar diegene wat goed kan sing of ’n uitsonderlik goeie stem het, moet nooit ontmoedig word om uit volle bors te sing nie. ’n Pragtige stem kan goeie leiding gee aan ’n gemeente wat lofliedere tot Jehovah sing.
Wanneer ons by ons vergaderinge sing, bied dit ons ook ’n gepaste geleentheid om begeleidende stemme saam met die melodieë te sing. Diegene wat ’n oor vir harmonie het of wat die begeleidende stemme in die liedereboek kan lees en sing, word aangespoor om saam te smelt en tot die prag van die musiek by te dra.c
Party sê dalk: ‘Ek kan nie wysie hou nie’ of: ‘Ek het ’n verskriklike stem; dit kraak wanneer ek die hoë note sing.’ Daarom is hulle skugter wanneer hulle sing, selfs by die Koninkryksaal. Die waarheid is dat geen stem wat gebruik word om Jehovah te loof uit sy oogpunt “verskriklik” is nie. Net soos ’n mens se spreekvermoë verbeter kan word met oefening en deur die nuttige wenke te volg wat in die Teokratiese Bedieningskool gegee word, kan ’n mens se sang verbeter word. Party het hulle stem verbeter deur bloot te neurie terwyl hulle take verrig. Wanneer ’n mens neurie, help dit om die stemtoon egalig te kry. En op gepaste tye terwyl ons alleen is of werk waar ons ander nie sal steur nie, is die sing van Koninkryksmelodieë uitstekende oefening vir die stem en ’n manier om ’n mens in ’n vreugdevolle, ontspanne gemoedstemming te kry.
Tydens gesellighede kan ons ook voorstel dat ’n paar Koninkryksliedere gesing word. Sulke sang, wat deur ’n instrument soos ’n kitaar of ’n klavier of deur die Genootskap se klavieropnames begelei word, gee aan ons gesellighede ’n geestelike inslag. Dit help ons ook om die liedere te leer en om dit tydens gemeentelike vergaderinge goed te sing.
Om gemeentes te help sodat hulle tydens vergaderinge in die regte stemming kom om te sing, het die Genootskap musiekopnames voorsien om hulle te begelei. Wanneer dit gespeel word, moet die persoon wat die klankstelsel hanteer op die klanksterkte let. As die musiek nie hard genoeg is nie, sal die gemeente dalk te huiwerig wees om uit volle bors te sing. Terwyl die broer wat die klankstelsel hanteer saam met die gemeente sing, sal hy kan vasstel of die musiek die nodige leiding gee of nie.
Sing melodieë voor Jehovah
Sang gee ons die geleentheid om ons gevoelens vir ons Skepper uit te druk (Psalm 149:1, 3, NW). Dit is nie net ’n emosionele uitbarsting nie, maar ’n beheerste, redelike en vreugdevolle uitdrukking van ons lof. Wanneer ons van harte in die gemeente sing, kan dit ons verstand en hart in die regte stemming bring vir die program wat volg en kan dit ons beweeg om ’n groter deelname aan Jehovah se aanbidding te hê. Hoewel sang ons emosioneel kan beïnvloed, kan die woorde ons ook onderrig. Deur ons sodoende eenstemmig en in harmonie uit te druk, berei ons ons hart op ’n beskeie en nederige wyse voor sodat ons as ’n vergaderde volk saam kan leer.—Vergelyk Psalm 10:17, NW.
Sang sal altyd deel van Jehovah se aanbidding wees. Ons het dus die vooruitsig om dit vir ewig eens te wees met die psalmis toe hy gesê het: “Ek sal Jehovah loof gedurende my lewe. Ek sal melodieë sing voor my God solank ek daar is.”—Psalm 146:2, NW.
[Voetnote]
a ’n Rapsodie is ’n musiekstuk wat in verskillende dele deur ’n gees van vryheid gekenmerk word. Rapsodieë het dikwels dapper dade of karakters verheerlik.
b Eerste Korintiërs 14:15 toon blykbaar dat sang ’n gereelde kenmerk van die Christelike aanbidding in die eerste eeu was.
c Party van die liedere in ons huidige liedereboek, Sing lofliedere voor Jehovah, het die vierstemmige harmoniestyl behou ter wille van diegene wat dit geniet om die begeleidende stemme te sing. Maar baie van die liedere is vir klavierbegeleiding verwerk en is musikaal verwerk om die internasionale oorsprong van die wysies te probeer behou. As ’n mens begeleidende stemme improviseer vir die liedere wat nie streng volgens die vierstemmige harmonie geskryf is nie, kan dit ons sang tydens vergaderinge aangenamer maak.
[Venster op bladsy 27]
’n Paar Wenke Om Beter Te Sing
1. Hou die liedereboek hoog genoeg as jy sing. Dit help ’n mens om natuurliker asem te haal.
2. Haal diep asem aan die begin van elke frase.
3. As ’n mens jou mond ’n bietjie wyer oopmaak as wat aanvanklik gemaklik voel, sal dit jou stemsterkte en -resonansie outomaties versterk.
4. Hou bowenal die gevoel van die lied wat gesing word in gedagte.