Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 2/1 bl. 31
  • “Die kroon en die getuienis”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die kroon en die getuienis”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 2/1 bl. 31

“Die kroon en die getuienis”

“TOE het hy [Jojada die priester] die seun van die koning uitgebring en die kroon en die Getuienis op hom gesit; en hulle het hom koning gemaak en hom gesalf” (2 Konings 11:12, NW). Dit is hoe die boek Konings die kroning van koning Joas beskryf. Het jy opgelet dat Jojada buiten “die kroon” ook “die Getuienis” op die jong koning gesit het? Wat was die Getuienis? En waarom was dit deel van hierdie kroningseremonie?

Die Hebreeuse woord wat hier met “Getuienis” vertaal word, verwys gewoonlik na die Tien Gebooie of na God se Wet oor die algemeen (Exodus 31:18; Psalm 78:5, Revised Standard Version). In harmonie hiermee lees die ooreenstemmende verslag in 2 Kronieke 23:11 in The Jerusalem Bible (1966) só: “Toe het Jojada die koning se seun uitgebring, hom gekroon, en die wet aan hom opgelê.” Maar in 2 Konings 11:12 gebruik hierdie vertaling die woord “armbande” in die plek van “die Getuienis”, hoewel dieselfde Hebreeuse woord in albei verse voorkom. Waarom?

’n Bekende Duitse Bybelkommentaar, Herders Bibelkommentar, verduidelik dat sommige vertalers hulle nie kan indink dat die koning die Wet op sy kop of op sy arm sou dra nie. Wanneer 2 Samuel 1:10 oor koning Saul praat, maak dit melding van ’n armband wat hy saam met die kroon gedra het, en hulle glo dus dat die teks in 2 Konings 11:12 oorspronklik moes lui “die kroon en die armbande”. Maar dit is blote spekulasie. Wanneer “die Getuienis” met “armbande” vervang word, beteken dit ’n radikale teksverandering.

The New Jerusalem Bible (1985) herstel dus die gedagte van die Wet, of die wetsverbond, en vertaal die sinsnede met “en het hom ’n afskrif van die verbond gegee”. Maar het Jojada “die Getuienis” aan Joas gegee? Dit is waar dat die Hebreeuse woord wat met “sit” vertaal word, ook “gee” kan wees. Maar in beide Konings en Kronieke verskyn dit slegs een keer en verwys dit na die kroon sowel as die Getuienis. Bowendien word dit onmiddellik gevolg deur die Hebreeuse woord “op”. Gevolglik moet “op gesit” die korrekte vertaling wees. Beide die kroon en die Getuienis is “op” jong koning Joas “gesit”, soos die New World Translation toon.

Waarom—en hoe—het die hoëpriester dus die Getuienis op die jong koning “gesit”? Beskou Duitse geleerde Otto Thenius se opmerking: “Die Wet, ’n boek waarin Mosaïese gebooie opgeteken is. Dit is simbolies oor die koning se kop gehou, nadat hy met die kroon getooi is” (Die Bücher der Könige). Professor Ernst Bertheau merk eweneens op: “Die oplê van die Wet [op die koning] het inderdaad simbolies beteken dat die koning verplig was om in ooreenstemming daarmee te regeer.”—Die Bücher der Chronik.

God het beveel dat die koning, wanneer hy sy troon bestyg het, vir homself ’n afskrif van die Wet moet maak, en dit die res van sy lewe moet bestudeer en toepas (Deuteronomium 17:18-20). Wanneer “die Getuienis” op die nuwe koning gesit is, was dit moontlik ’n kort simboliese gebaar wat getoon het dat hy, noudat hy koning is, nie bo Jehovah se wet verhewe is nie. Ongelukkig het Joas na die dood van die hoëpriester Jojada hierdie belangrike les heeltemal vergeet en Jehovah se aanbidding mettertyd verlaat, en hy is uiteindelik deur sluipmoordenaars om die lewe gebring.—2 Kronieke 24:17-25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel