Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 1/1 bl. 18-23
  • ‘Die stryd behoort aan Jehovah’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Die stryd behoort aan Jehovah’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die geskil ten opsigte van soewereiniteit
  • ’n Hedendaagse “Saul”
  • Geen kompromis nie!
  • Geskiedskrywers se beskouing
  • “Die stryd behoort aan Jehovah”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Die stryd behoort aan Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Dawid en Goliat
    My boek met Bybelverhale
  • Dawid en Goliat
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 1/1 bl. 18-23

‘Die stryd behoort aan Jehovah’

“Ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.”—1 SAMUEL 17:45.

1, 2. (a) Voor watter uitdaging kom die leër van Israel onder aanvoering van koning Saul te staan? (b) Hoe reageer die manne van die leër van Israel op Goliat se uitdaging, en wie verskyn nou op die toneel?

TWEE magtige leërs staan teenoor mekaar aan weerskante van die dal Ela, suidwes van Jerusalem. Aan die een kant is die leër van Israel, onder aanvoering van bevreesde koning Saul. Aan die ander kant is die Filistynse leër met sy reusagtige baasvegter, Goliat. Goliat se naam beteken waarskynlik “Opsigtelik”. Hy is sowat 2,7 meter lank en is swaar gewapen. Goliat daag Israel op godslasterlike wyse uit.—1 Samuel 17:1-11.

2 Wie sal Goliat se uitdaging aanvaar? “Toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.” Maar kyk—’n opgeskote seun verskyn op die toneel! Sy naam is Dawid, wat “Bemind” beteken. Hy was ook “bemind” by Jehovah vanweë sy moedige toegewydheid aan geregtigheid. Samuel het Dawid reeds gesalf om Israel se volgende koning te wees, en Jehovah se gees dryf hom kragtig aan.—1 Samuel 16:12, 13, 18-21; 17:24; Psalm 11:7; 108:7.

3. Hoe rus Dawid hom vir die geveg toe, maar hoe is Goliat toegerus?

3 Toe Dawid hoor hoe Goliat ‘die slagordes van die lewende God uitdaag’, bied hy aan om teen die reus te veg. Wanneer Saul instem, gaan Dawid die reus tegemoet, maar nie met die tradisionele wapenrusting en wapens wat Saul hom aanbied nie. Hy is toegerus net met ’n staf, ’n slinger en vyf gladde klippe—in teenstelling met Goliat, wat ’n spies dra waarvan die punt sewe kilogram weeg en geklee is in ’n koperpantser van 57 kilogram! Terwyl die magtige Goliat en sy skilddraer nader kom, ‘vervloek die Filistyn Dawid by sy gode’.—1 Samuel 17:12-44.

4. Hoe antwoord Dawid op die reus se uitdaging?

4 Hoe antwoord Dawid? Hy aanvaar die reus se uitdaging en roep uit: “Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want DIE STRYD BEHOORT AAN DIE HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.”—1 Samuel 17:45-47.

5. Wat is die uiteinde van die geveg, en wie ontvang die eer?

5 Dawid knoop moedig die geveg aan. Sy slingerklip trek na sy teiken, en Goliat val op die grond neer. Ja, Jehovah het Dawid se geloof en moed beloon deur daardie klippie trefseker na die reus se voorkop te rig! Dawid hardloop vorentoe, trek Goliat se eie swaard uit sy skede en kap die bullebak se kop af. Die Filistyne vlug in verwarring. Daar kon waarlik gesê word: ‘DIE STRYD BEHOORT AAN JEHOVAH’!—1 Samuel 17:47-51, vgl. NW.

6. (a) Waarom het Jehovah die besonderhede van hierdie eertydse geveg bewaar? (b) Watter versekering het God se knegte nodig wanneer hulle vervolging verduur deur vyande wat met Goliat vergelyk kan word?

6 Waarom het Jehovah hierdie uitvoerige verslag van die geveg in sy Woord bewaar, hoewel dit sowat 3 000 jaar gelede gevoer is? Die apostel Paulus deel ons mee: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Vandag verduur talle getroue knegte van God smaad en openlike vervolging deur vyande wat met Goliat vergelyk kan word. Namate die druk van die vyand toeneem, het ons almal die bemoedigende versekering nodig dat ‘DIE STRYD AAN JEHOVAH BEHOORT’.

Die geskil ten opsigte van soewereiniteit

7. Watter geskil is vir God se hele volk in alle nasies ’n saak van erns, en waarom?

7 Goliat het uit verset teen die God van Israel opgetree. In hierdie 20ste eeu het die totalitêre politieke regeringstelsel insgelyks na vore getree, Jehovah se soewereiniteit uitgedaag en probeer om sy knegte te dwing om aanbiddende onderdanigheid aan die Staat te toon. Hierdie geskil is vir God se volk in alle nasies ’n saak van erns. Waarom? Omdat die voorspelde Heidense Tye, of bestemde “tye van die nasies”, in 1914 geëindig en die huidige tydperk van “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” ingelui het (Lukas 21:24-26). Die Heidense Tye het begin toe die nasies in 607 v.G.J. begin het om aardse Jerusalem te vertrap en het die daaropvolgende 2 520 jaar tot en met 1914 gedek, toe Jehovah Jesus as sy Messiaanse Koning in hemelse Jerusalem gekroon het.—Hebreërs 12:22, 28; Openbaring 11:15, 17.a

8. (a) Hoe het die konings van die aarde gereageer op die profetiese bevel om ‘die HERE met vrees te dien’? (b) Watter wêreldse vegters tart Jehovah vandag uit en tiranniseer sy getuies?

8 ’n Groot verandering het in 1914 plaasgevind. Die Heidense nasies kon nie meer sonder goddelike ingryping heers nie. Maar het “die konings” wat destyds geheers het die profetiese bevel gehoorsaam om ‘die HERE met vrees te dien’ deur sy pasgekroonde Koning te erken? Nee! Hulle het eerder “saam raad [gehou] teen die HERE en teen sy Gesalfde”, Jesus. Omdat hulle hul eie ambisies nagestreef het, het hulle in die Groot Oorlog van 1914-1918 in “onrus” verkeer (Psalm 2:1-6, 10-12, vgl. NAV). Wêreldoorheersing is vandag nog ’n brandende geskil onder die mensdom. Satan se wêreld lewer steeds politieke vegters op, wat vergelyk kan word met Goliat se stamverwante, die Refaïete. Hierdie diktatoriale heerskappye tart Jehovah uit en probeer sy Getuies dwing om hulle te onderwerp, maar soos altyd behoort die stryd en die oorwinning aan Jehovah.—2 Samuel 21:15-22.

’n Hedendaagse “Saul”

9. Wie het vandag soos koning Saul opgetree, en op watter maniere?

9 Watter rol speel koning Saul hierin? Jehovah het vroeër, vanweë Saul se opstandigheid, besluit om ‘die koningskap oor Israel van hom af te skeur’ (1 Samuel 15:22, 28). Nou het Saul versuim om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun toe hy voor Goliat se uitdaging te staan gekom het. Boonop het hy Dawid, Goliat se oorwinnaar en die persoon wat deur Jehovah gesalf is om Saul se dinastie te vervang, daarna vervolg. Hoe duidelik volg die geestelikes van die Christendom tog nie hierdie soort optrede nie! Hulle het teen Bybelwaarheid in opstand gekom en is ’n deel van die groot afvalligheid wat ‘nie aan die evangelie van onse Here Jesus en sy inkomende Koninkryk gehoorsaam is nie’. Hulle het jammerlik versuim om Jehovah se universele soewereiniteit te verdedig en het Jehovah se gesalfde getuies en hulle metgeselle, die groot menigte, kwaai vervolg. Jehovah sal daardie afvalliges ‘in sy grimmigheid’ wegneem.—2 Thessalonicense 1:6-9; 2:3; Hosea 13:11.

10. (a) Watter manifes is in 1918 in Londen deur ’n groep vooraanstaande geestelikes uitgevaardig? (b) Watter weg het die geestelikes ingeslaan pleks van die manifes van 1918 deur te voer?

10 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die kompromisse wat die Christendom se geestelikes aangegaan het aan die lig gekom. Dit spreek vanself dat Jesus se profesie in Mattheüs hoofstukke 24 en 25 en Lukas hoofstuk 21 vervul is. Trouens, in 1918 het ’n groep vooraanstaande geestelikes, in Londen, Engeland, verteenwoordigers van die Baptiste-, Independente, Presbiteriaanse, Episkopaalse en Metodistekerk, ’n manifes uitgevaardig. Dit het gesê: “Die huidige krisis dui op die einde van die tye van die Heidene.” Maar hulle het nie daardie verklaring deurgevoer nie. Die geestelikes van die Christendom was reeds diep betrokke by steun aan beide kante van die Eerste Wêreldoorlog. Pleks van Jesus se teenwoordigheid in Koninkryksmag te erken, het hulle geswig voor die denke van wêreldse nasies—naamlik dat die mense steeds deur verdelende, Heidense politieke magte, selfs deur tiranne soos Goliat, oorheers moet word eerder as om onder God se Koninkryk te verenig.—Mattheüs 25:31-33.

Geen kompromis nie!

11. Wie het nie ’n kompromis oor die geskil ten opsigte van soewereiniteit aangegaan nie, en wie se voorbeeld volg hulle?

11 Tref God se toegewyde knegte ’n kompromis oor hierdie geskil ten opsigte van soewereiniteit? Glad nie, soos die Bybelverslag duidelik toon! (Daniël 3:28; 6:26-28; Hebreërs 11:32-38; Openbaring 2:2, 3, 13, 19). Lojale Christene ondersteun vandag Jehovah se soewereiniteit en Koninkryk ondanks al die wrede smaad en vervolging wat hulle uit die hand van die tirannieke, hedendaagse Goliats moet verduur. Hulle volg sodoende die voetspoor van Jesus, “die Seun van Dawid”, wat moedig ter wille van Jehovah se soewereiniteit geestelike oorlog gevoer het, terwyl hy terselfdertyd streng neutraliteit teenoor die wêreld se konflikte en politiek gehandhaaf het. In gebed tot sy Vader het Jesus gesê dat sy volgelinge, ware Christene, ook “nie van die wêreld is nie”.—Mattheüs 4:8-10, 17; 21:9; Johannes 6:15; 17:14, 16; 18:36, 37; 1 Petrus 2:21.

12. (a) Wie het die hedendaagse Goliat neergevel, en hoe? (b) Watter uitwerking het die feit dat Jehovah se volk “Goliat” as dood beskou op hulle gehad?

12 Die Dawidagtige oorblyfsel van gesalfde Christene het vandag die hedendaagse Goliat neergevel. Hoe? In die sin dat hulle verklaar het dat hulle onmiskenbaar aan Jehovah se kant van die geskil ten opsigte van wêreldoorheersing is. ’n “RESOLUSIE (Aangeneem deur die Internasionale Bybelstudentevereniging by ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio, op Sondag, 10 September 1922)” het die voorbeeld gestel. Dit het die volgende ingesluit:

“10. Ons glo en getuig verder dat dit die dag van God se wraak teen Satan se sigbare en onsigbare ryk is;

“11. Dat die heroprigting van die ou wêreld of orde onmoontlik is; dat die tyd aangebreek het vir die oprigting van die koninkryk van God deur Christus Jesus; en dat al die moondhede en organisasies wat hulle nie geredelik aan die regverdige bewind van die Heer onderwerp nie, vernietig sal word.”

“Die Seun van Dawid”, as Hoof van die Christengemeente, het ongetwyfeld daardie “klip” van Koninkrykswaarheid gerig (Mattheüs 12:23; Johannes 16:33; Kolossense 1:18). Resolusies wat van 1922 tot 1928 by jaarlikse byeenkomste aangeneem is, het hierdie standpunt beklemtoon. Uit die oogpunt van Jehovah se volk was “Goliat” dood, onthoof. Diktatoriale menseheerskappy kon moedige voorstanders van Jehovah se soewereiniteit nie dwing om ‘n kompromis aan te gaan nie.—Vergelyk Openbaring 20:4.

13. (a) Hoe het die Christendom se geestelikes gedurende die onderdrukking in Hitler se Duitsland ’n kompromis aangegaan? (b) Wat het die boek Mothers in the Fatherland oor die beginselvaste Getuies gesê?

13 ’n Besondere hedendaagse voorbeeld van tirannie deur Goliatagtige politieke heerskappye het in Hitler se Duitsland plaasgevind. Die vernaamste godsdienste, Katoliek sowel as Protestant, het op jammerlike wyse ’n kompromis aangegaan deur hulde aan Nazisme te bewys, die führer te verafgod, sy swastikavlag te salueer en sy soldate te seën wanneer hulle uitgetrek het om hulle medegelowiges in naburige lande dood te maak. Sogenaamde Christene van alle gelowe—maar nie Jehovah se Getuies nie—is in die patriotiese ywer vasgevang. Die boek Mothers in the Fatherland het gesê: “[Jehovasgetuies] is na konsentrasiekampe gestuur, eenduisend van hulle is tereggestel en nog eenduisend het tussen 1933 en 1945 gesterf. . . . Katolieke en Protestante het gehoor hoe hulle geestelikes hulle aanspoor om met Hitler saam te werk. As hulle hul verset het, het hulle dit teen bevele van sowel kerk as staat gedoen.” Hoe bloedskuldig het die Kerk sowel as die Staat tog geword!—Jeremia 2:34.b

14. Waarom word Jehovah se Getuies dikwels vervolg?

14 Wrede onderdrukking van Jehovah se Getuies duur vandag nog in talle lande voort, net soos Jesus voorspel het. Maar hierdie Christene hou onder alle omstandighede aan om “hierdie evangelie van die koninkryk” ywerig te verkondig (Mattheüs 24:9, 13, 14). Dit is ironies dat daar in die meeste lande erken word dat die Getuies eerlike, sindelike burgers is wat wet en orde op voorbeeldige wyse handhaaf (Romeine 13:1-7). Tog word hulle dikwels vervolg. Waarom? Hulle weerhou hulle daarvan om voor afbeeldings van die Staat neer te buig of dit te vereer, aangesien aanbidding Jehovah uitsluitlik toekom (Deuteronomium 4:23, 24; 5:8-10; 6:13-15). Beginselvas aanbid hulle Jehovah, “Hom alleen”, en maak hulle Jehovah sodoende die Soewereine Heer van hulle lewe (Mattheüs 4:8-10; Psalm 71:5; 73:28). Omdat hulle “nie van die wêreld is nie”, handhaaf hulle Christelike neutraliteit teenoor die wêreld se politiek en oorloë.—Johannes 15:18-21; 16:33.

15, 16. (a) Wie se voorbeeld kan Getuies van alle ouderdomme volg wanneer die hedendaagse Goliat hulle dreig, en hoe is dit deur ’n sesjarige Christenmeisie toegelig? (b) Christenouers moet hulle kinders oplei om soos wie te wees?

15 Die hedendaagse Goliat dreig dikwels hierdie handhawers van onkreukbaarheid, wat die aanbidding van Jehovah bo afgodiese gebruike stel. (Vergelyk Openbaring 13:16, 17.) Maar Getuies, jonk en oud, kan Dawid se voorbeeld volg deur die uitdaging onbevrees die hoof te bied. In ’n Latyns-Amerikaanse land is ’n sesjarige Christenmeisie van kleins of goed by die huis opgelei. (Vergelyk Efesiërs 6:4; 2 Timotheüs 3:14, 15.) Dit het daartoe bygedra dat sy die skranderste leerling in haar klas op skool was. Maar op grond van haar Bybelopgeleide gewete het sy nie aan afgodiese klasseremonies deelgeneem nie. Toe sy haar standpunt verduidelik het, het die onderwyser uitgeroep dat ’n meisie van haar ouderdom te jonk is om ’n gewete te hê! Die sesjarige meisie het getoon dat die onderwyser dit mis het deur ’n indrukwekkende getuienis te gee.

16 Hopelik sal alle Christenouers hulle kinders oplei sodat hulle jong Dawid se voorbeeld kan volg deur hulle standpunt in te neem wanneer die Goliatagtige wêreldowerheid hulle dreig. Mag hulle soos die drie getroue Hebreeuse kinders, soos Daniël en talle ander in die Bybelverslag wees deur in ooreenstemming met Bybelbeginsels moedig ‘’n goeie gewete te behou’.—1 Petrus 2:19; 3:16; Daniël 3:16-18.

Geskiedskrywers se beskouing

17. (a) Teen die ontwikkeling waarvan het Engelse geskiedskrywer Toynbee gewaarsku? (b) Hoe stel die hedendaagse Goliat-klas die lojaliteit van God se volk op die proef?

17 Die bekende Engelse geskiedskrywer Arnold Toynbee het gewaarsku teen die ontwikkeling van die “skrikwekkende gedaante van heidense aanbidding van soewereine volkstate” in ons tyd en het dit ook bestempel as “’n suur gisting van die nuwe wyn van demokrasie in die ou bottels van die stamwese”. Diegene wat beweer dat hulle eie nasie beter as alle ander is, dermate dat hulle die Staat aanbid, is deur heersers gemanipuleer en georden om hulle beleid, hetsy goed of sleg, uit te voer. Gevolglik het die Goliat-klas verrys om die lojaliteit van God se volk, wat hulle geboorteland liefhet maar nie die Staat en sy simbole aanbid nie, op die proef te stel.

18. Watter deurdringende vrae moet die gewetensgetroue Christen beantwoord?

18 Soos in Nazi-Duitsland is daar vandag deurdringende vrae wat die gewetensgetroue Christen moet antwoord: Moet ek glo dat die land waar ek woon meer as enige ander deur God begunstig word? Is dit veral nou, in hierdie uiters gevaarlike tydperk van die mensegeskiedenis, logies en verstandig om te meen dat een deeltjie van die aarde beter as alle ander dele is? Of om te meen dat een groep mense beter as alle ander groepe is?

19. Wat sê die allergrootste Geskiedskrywer, Jehovah, daarvan as mense dink dat en optree asof een nasie beter as enige ander nasie is?

19 Kom ons ondersoek die beskouing van die allergrootste Geskiedskrywer—Jehovah God, Outeur van die Bybel. Die apostel Petrus deel ons mee: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” En moet ons optrede nie altyd strook met die apostel Paulus se geïnspireerde verklaring dat God “uit een bloed [mens, NW] al die nasies van die mensdom gemaak [het] om oor die hele aarde te woon” nie? Waarom moet een nasie dink dat en optree asof hulle beter as enige ander nasie is? Paulus het van alle mense gesê: “Ons [is] die geslag van God.”—Handelinge 10:34, 35; 17:26, 29.

20. Waardeur sal God se volk nie meer in Jehovah se nuwe stelsel uitgedaag word nie, en wat sal ons volgende studie bespreek?

20 In Jehovah se nuwe stelsel sal liefhebbers van geregtigheid nie meer deur Goliatagtige, totalitêre politieke stelsels uitgedaag word nie, want partydige trots en haat sal tot die verlede behoort (Psalm 11:5-7). God se volk het reeds, waar hulle ook al op aarde woon, sulke nasionalisme opsygesit in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel om ‘mekaar lief te hê soos hy hulle liefgehad het’ (Johannes 13:34, 35; Jesaja 2:4). Ons volgende studie toon watter soort liefde dit is!

[Voetnote]

a Kyk bladsye 138-141 van die boek “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe”, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie Bybelchronologie.

b Kyk die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 117-121 en 164-169 vir besielende voorbeelde van die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies, jonk sowel as oud, in antwoord op die uitdaging van die Nazi-“Goliat”.

Vrae ter hersiening

◻ Wat word deur die reusagtige bullebak Goliat afgebeeld?

◻ Op watter maniere tref God se knegte geen kompromis oor die geskil ten opsigte van soewereiniteit nie?

◻ Waarom kan God se volk sê dat die hedendaagse Goliat neergevel is?

◻ Wie tree soos koning Saul op, en hoe?

◻ Hoe het Jehovah se volk soos Dawid opgetree wanneer hulle deur die hedendaagse Goliat onderdruk is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel