Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 7/1 bl. 18-22
  • Gesinne, loof God as deel van sy gemeente

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesinne, loof God as deel van sy gemeente
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bou die hart op
  • Voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge
  • Berei as ’n gesin vir velddiens voor
  • Gaan voort om hulle Jehovah se weg te leer
  • Gesinshoofde—Handhaaf ’n goeie geestelike roetine
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Hulp vir gesinne
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 7/1 bl. 18-22

Gesinne, loof God as deel van sy gemeente

“Ek sal die HERE loof in die vergaderings.”—PSALM 26:12.

1. Wat is ’n belangrike deel van ware aanbidding benewens studie en gebed by die huis?

DIE aanbidding van Jehovah behels nie net dat ons by die huis bid en die Bybel bestudeer nie, maar behels ook bedrywighede as deel van die gemeente van God. Eertydse Israel is beveel om ‘die volk byeen te laat kom, die manne en die vroue en die kinders’ om die wet van God te leer sodat hulle in sy weg kon wandel (Deuteronomium 31:12; Josua 8:35). Oues sowel as ‘jongelinge en jongedogters’ is aangespoor om Jehovah se naam te loof (Psalm 148:12, 13). Soortgelyke reëlings geld in die Christengemeente. In Koninkryksale regoor die wêreld neem mans, vrouens en kinders vryelik deel aan sessies wat die gehoor betrek, en vir baie verskaf dit groot vreugde om daaraan deel te neem.—Hebreërs 10:23-25.

2. (a) Waarom is voorbereiding uiters belangrik om kinders te help om die vergaderinge te geniet? (b) Wie se voorbeeld is belangrik?

2 Dit sal dalk ’n uitdaging wees om kinders te help om in ’n heilsame roetine van gemeentelike bedrywigheid te kom. Wat is dalk die probleem as sommige kinders wat die vergaderinge saam met hulle ouers bywoon nie die vergaderinge geniet nie? Natuurlik kan die meeste kinders nie lank konsentreer nie en raak hulle maklik verveeld. Voorbereiding kan nuttig wees om hierdie probleem te oorkom. Sonder voorbereiding kan kinders nie ’n betekenisvolle aandeel aan die vergaderinge hê nie (Spreuke 15:23). Sonder voorbereiding sal dit vir hulle moeilik wees om bevredigende geestelike vordering te maak (1 Timoteus 4:12, 15). Wat kan gedoen word? Eerstens moet ouers vra of hulle self vir die vergaderinge voorberei. Hulle voorbeeld is ’n kragtige invloed (Lukas 6:40). Sorgvuldige beplanning van die gesinstudie kan ook ’n belangrike faktor wees.

Bou die hart op

3. Waarom moet ’n spesiale poging aangewend word om harte tydens die gesinstudie op te bou, en wat vereis dit?

3 Die gesinstudie moet nie net ’n tyd wees om koppe met kennis te vul nie, maar ook om harte op te bou. Dit vereis ’n bewustheid van die probleme waarmee gesinslede te kampe het sowel as liefdevolle besorgdheid oor elkeen van hulle. Jehovah is “’n ondersoeker van die hart”.—1 Kronieke 29:17, NW.

4. (a) Wat beteken dit om ‘aan hart te ontbreek’? (b) Wat behels dit om ‘hart te verwerf’?

4 Wat vind Jehovah wanneer hy die harte van ons kinders ondersoek? Die meeste van hulle sal sê dat hulle God liefhet, en dit is prysenswaardig. Maar iemand wat jonk is of onlangs aangaande Jehovah begin leer het, het min ondervinding in Jehovah se weë. Omdat hy onervare is, ‘ontbreek dit hom dalk aan hart’, soos die Bybel dit stel. Miskien is nie al sy motiewe sleg nie, maar dit neem tyd om ’n mens se hart in ’n toestand te kry wat God werklik sal behaag. Dit behels dat ’n mens jou gedagtes, begeertes, geneenthede, emosies en doelwitte in die lewe in lyn bring met wat God goedkeur, in die mate wat dit vir onvolmaakte mense moontlik is. Wanneer iemand sulke vorming van die innerlike mens op ’n goddelike wyse doen, ‘verwerf hy hart’.—Spreuke 9:4, NW; 19:8, NW.

5, 6. Hoe kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’?

5 Kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’? Dit is so dat niemand vir ’n ander ’n goeie hartstoestand kan gee nie. Elkeen van ons het wilsvryheid, en baie hang af van dit waaroor ons onsself toelaat om te dink. Maar met onderskeidingsvermoë kan ouers dikwels uitvind wat in hulle kinders se hart is en waar hulle hulp nodig het. Gebruik vrae soos: ‘Hoe voel jy hieroor?’ en ‘Wat wil jy graag doen?’ Luister dan geduldig. Moenie oorreageer nie (Spreuke 20:5, NW). ’n Atmosfeer van goedhartigheid, begrip en liefde is belangrik as jy die hart wil bereik.

6 Om goeie gesindhede op te bou, moet julle die vrugte van die gees gereeld bespreek—elke aspek daarvan—en as ’n gesin saam werk om dit aan te kweek (Galasiërs 5:22, 23). Bou liefde vir Jehovah en vir Jesus Christus op, nie bloot deur te sê dat ons hulle behoort lief te hê nie, maar deur te bespreek waarom ons hulle liefhet en hoe ons daardie liefde kan betoon (2 Korintiërs 5:14, 15). Versterk die begeerte om te doen wat reg is deur te redeneer oor die voordele wat dit inhou. Bou die begeerte op om verkeerde gedagtes, spraak en gedrag te vermy deur die slegte gevolge daarvan te bespreek (Amos 5:15; 3 Johannes 11). Toon hoe gedagtes, spraak en gedrag—hetsy goed of sleg—’n mens se verhouding met Jehovah kan raak.

7. Wat kan gedoen word om kinders te help om probleme die hoof te bied en om besluite só te neem dat hulle na aan Jehovah sal bly?

7 Wanneer ’n kind ’n probleem het of ’n belangrike besluit moet neem, kan ons hom vra: ‘Hoe dink jy beskou Jehovah dit? Wat weet jy omtrent Jehovah wat jou dit laat sê? Het jy hom in gebed daaroor genader?’ Begin so vroeg as moontlik en help julle kinders om ’n lewenspatroon op te bou waarin ’n ernstige poging altyd aangewend word om uit te vind wat God se wil is en dit dan te doen. Namate hulle ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah ontwikkel, sal hulle dit geniet om in sy weë te wandel (Psalm 119:34, 35). Dit sal in hulle ’n waardering opbou vir die voorreg om met die gemeente van die ware God om te gaan.

Voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge

8. (a) Wat kan ons help om alles wat aandag nodig het in ons gesinstudie in te sluit? (b) Hoe belangrik is hierdie studie?

8 Daar is baie sake wat tydens die gesinstudie aandag verg. Hoe kan julle dit alles inpas? Dit is onmoontlik om alles op een slag te doen. Maar julle sal dit dalk nuttig vind om ’n lysie op te stel (Spreuke 21:5). Hersien die lysie van tyd tot tyd en bepaal wat spesiale aandag nodig het. Toon opregte belangstelling in die vordering van elke gesinslid. Hierdie reëling vir gesinstudie is ’n belangrike deel van Christelike onderrigting en rus ons toe vir die teenswoordige lewe en berei ons voor vir die ewige lewe in die toekoms.—1 Timoteus 4:8.

9. Aan watter doelwitte in verband met voorbereiding vir vergaderinge kan ons gedurende ons gesinstudies progressief werk?

9 Sluit julle gesinstudie voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge in? Daar is ’n aantal projekte waaraan julle progressief kan werk terwyl julle saam studeer. Party van hulle kan weke, maande of selfs jare neem om te voltooi. Oorweeg hierdie doelwitte: (1) elkeen in die gesin is gereed om by die gemeentelike vergaderinge kommentaar te lewer; (2) elkeen probeer om kommentare in sy eie woorde te gee; (3) sluit tekste in kommentare in en (4) ondersoek die materiaal noukeurig met die doel om dit persoonlik toe te pas. Al hierdie dinge kan ’n mens help om die waarheid jou eie te maak.—Psalm 25:4, 5.

10. (a) Hoe kan ons aan elkeen van ons gemeentelike vergaderinge aandag gee? (b) Waarom is dit die moeite werd?

10 Selfs as julle gesinstudie gewoonlik op die Wagtoring-studie vir die week gebaseer is, moet julle nie die belangrikheid van individuele of gesinsvoorbereiding vir die Gemeentelike Boekstudie, die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering oor die hoof sien nie. Dit is ook belangrike aspekte van die program om ons te leer om op Jehovah se weg te wandel. Julle sal dalk van tyd tot tyd as ’n gesin vir die vergaderinge kan voorberei. As julle saam werk, sal julle beter studente word. Gevolglik sal julle groter voordeel trek uit die vergaderinge self. Bespreek onder meer die voordele van gereelde voorbereiding vir hierdie vergaderinge en die belangrikheid daarvan om ’n spesifieke tyd daarvoor opsy te sit.—Efesiërs 5:15-17.

11, 12. Hoe sal voorbereiding vir gemeentelike sang ons tot voordeel strek, en hoe kan ons dit doen?

11 By die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste is ons aangespoor om vir ’n ander deel van ons vergaderinge voor te berei—die sang. Het julle daarop ag geslaan? As ons dit doen, kan dit ons help om Bybelwaarhede in ons verstand en hart in te prent en terselfdertyd kan dit ons help om vergaderinge meer te geniet.

12 As ons van die liedere wat gesing gaan word tydens ons voorbereiding lees en die betekenis van die woorde bespreek, kan dit ons help om uit die hart te sing. In eertydse Israel was die gebruik van musiekinstrumente ’n belangrike deel van aanbidding (1 Kronieke 25:1; Psalm 28:7). Bespeel iemand in julle gesin ’n musiekinstrument? Gebruik gerus daardie instrument om een van die Koninkryksliedere vir die week te oefen, en sing dan die lied saam as ’n gesin. ’n Ander moontlikheid is om ’n opname van die liedere te gebruik. In sommige lande sing ons broers pragtig sonder begeleiding. Wanneer hulle êrens heen loop of op die landerye werk, sing hulle dikwels die liedere wat daardie week by die gemeentelike vergaderinge gesing gaan word.—Efesiërs 5:19.

Berei as ’n gesin vir velddiens voor

13, 14. Waarom is gesinsbesprekings wat ons hart vir die veldbediening voorberei nuttig?

13 Dit is ’n belangrike deel van ons lewe om vir ander van Jehovah en sy voorneme te getuig (Jesaja 43:10-12; Matteus 24:14). Hetsy oud of jonk, ons geniet hierdie werk meer en ons bereik meer as ons voorbereid is. Hoe kan ons dit in die gesin doen?

14 Soos met alles wat met ons aanbidding verband hou, is dit belangrik om ons hart voor te berei. Ons moet nie net bespreek wat ons gaan doen nie, maar ook waarom ons dit gaan doen. In die dae van koning Josafat is die volk God se wet geleer, maar die Bybel sê vir ons dat hulle “nog nie hulle hart berei” het nie. Dit het hulle kwesbaar gelaat vir verlokkinge wat hulle van ware aanbidding kon laat afdwaal (2 Kronieke 20:33, NW; 21:11). Ons doel is nie net om ure te kan rapporteer wat ons in die velddiens deurgebring het nie, en dit is ook nie bloot om lektuur by mense te laat nie. Ons bediening moet ’n blyk wees van ons liefde vir Jehovah en van ons liefde vir mense wat die geleentheid moet kry om die lewe te kies (Hebreërs 13:15). Dit is ’n werk waarin ons “God se medewerkers” is (1 Korintiërs 3:9). Wat ’n voorreg is dit tog! Wanneer ons aan die bediening deelneem, werk ons saam met die heilige engele (Openbaring 14:6, 7). Daar is nie ’n beter tyd om waardering hiervoor op te bou as in gesinsbesprekings nie, hetsy dit tydens ons weeklikse studie is of wanneer ons ’n gepaste teks uit Ondersoek die Skrif elke dag bespreek!

15. Wanneer kan ons as ’n gesin vir velddiens voorberei?

15 Neem julle soms tyd gedurende julle gesinstudie om die lede van julle huisgesin te help om vir die week se velddiens voor te berei? Dit kan baie voordelig wees (2 Timoteus 2:15). Dit kan help om hulle diens betekenisvol en produktief te maak. Julle kan van tyd tot tyd ’n hele studiesessie vir sulke voorbereiding opsy sit. Julle kan meer dikwels in korter besprekings aan die einde van die gesinstudie of op ’n ander tyd gedurende die week aan aspekte van die veldbediening aandag gee.

16. Bespreek die waarde van elkeen van die stappe wat in die paragraaf genoem word.

16 Gesinsbesprekings kan ’n reeks stappe insluit, soos die volgende: (1) Berei ’n aanbieding voor wat goed geoefen word en ’n Bybelteks insluit wat gelees kan word indien die geleentheid hom voordoen. (2) Maak seker dat elkeen, indien moontlik, sy eie velddienssak, ’n Bybel, ’n notaboekie, ’n pen of potlood, traktate en ander lektuur het wat in ’n goeie toestand is. Die velddienssak hoef nie duur te wees nie, maar dit moet netjies wees. (3) Bespreek waar en hoe om informele getuieniswerk te doen. Volg elkeen van hierdie stadiums van onderrigting op deur saam in die velddiens te werk. Gee praktiese wenke, maar moenie oor te veel punte raad gee nie.

17, 18. (a) Watter soort voorbereiding as ’n gesin kan help om ons veldbediening produktiewer te maak? (b) Watter aspek van hierdie voorbereiding kan elke week gedoen word?

17 ’n Groot deel van die werk wat Jesus Christus sy volgelinge gegee het, is om dissipels te maak (Matteus 28:19, 20). Om dissipels te maak, behels meer as om net die predikingswerk te doen. Dit vereis dat ons ander onderrig. Hoe kan julle gesinstudie julle help om dit met welslae te doen?

18 Bespreek as ’n gesin by wie dit goed sal wees om herbesoeke te doen. Party van hulle het dalk lektuur geneem; party het miskien net geluister. Julle het hulle miskien van huis tot huis of tydens informele getuieniswerk by die winkel of skool ontmoet. Laat God se Woord julle lei (Psalm 25:9; Esegiël 9:4). Besluit wie elkeen van julle daardie week wil besoek. Wat gaan julle bespreek? ’n Gesinsbespreking kan elkeen help om voor te berei. Maak ’n aantekening van spesifieke tekste wat julle vir belangstellendes wil wys sowel as gepaste gedagtes uit die brosjure Wat vereis God van ons? of die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Moenie te veel materiaal tydens een besoek probeer dek nie. Laat die huisbewoner met ’n vraag wat tydens die volgende besoek beantwoord sal word. Maak dit gerus deel van die gesinsroetine om te beplan watter herbesoeke elkeen gaan doen, wanneer hy dit gaan doen en wat hy hoop om te bereik. As julle dit doen, kan dit help om die hele gesin se veldbediening produktiewer te maak.

Gaan voort om hulle Jehovah se weg te leer

19. Wat moet gesinslede ervaar sodat hulle kan voortgaan om in Jehovah se weg te wandel, en wat dra hiertoe by?

19 Dit is ’n uitdaging om ’n gesinshoof in hierdie goddelose wêreld te wees. Satan en sy demone probeer om die geestelikheid van Jehovah se knegte te vernietig (1 Petrus 5:8). Daarbenewens is daar vandag baie druk op ouers, veral enkelouers. Dit is moeilik om die tyd te vind om alles te doen wat julle graag wil doen. Maar dit is die moeite werd, al kan julle net een wenk op ’n slag toepas en julle gesinstudieprogram geleidelik verbeter. Dit is ’n hartverblydende beloning om te sien hoe diegene wat baie na aan jou is lojaal in Jehovah se weg wandel. As gesinslede suksesvol in Jehovah se weg wil wandel, moet hulle vreugde put uit die bywoning van gemeentelike vergaderinge en uit die veldbediening. Om dít reg te kry, moet ’n mens voorberei—voorbereiding wat die hart opbou en elkeen toerus om ’n betekenisvolle deelname daaraan te hê.

20. Wat kan meer ouers help om die vreugde te ondervind waarvan 3 Johannes 4 praat?

20 Die apostel Johannes het aangaande diegene geskryf wat hy geestelik gehelp het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Gesinstudies wat gehou word met duidelike doelwitte in gedagte en gesinshoofde wat op ’n goedhartige, behulpsame wyse in die individuele behoeftes van gesinslede voorsien, kan baie daartoe bydra dat die gesin sulke vreugde kan ervaar. Deur waardering op te bou vir God se weg van die lewe, help ouers hulle gesin om die heel beste lewenswyse te geniet.—Psalm 19:8-12.

Kan jy verduidelik?

◻ Waarom is dit so belangrik dat ons kinders vir vergaderinge voorberei?

◻ Hoe kan ouers hulle kinders help om ‘hart te verwerf’?

◻ Hoe kan ons gesinstudie ons help om vir al die vergaderinge voor te berei?

◻ Hoe kan dit ons help om groter welslae in die veldbediening te behaal as ons as ’n gesin daarvoor voorberei?

[Prent op bladsy 20]

Julle gesinstudie kan voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge insluit

[Prent op bladsy 21]

Dit is voordelig om vir die sang by die vergaderinge te oefen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel