Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is
    Die Wagtoring – 1999 | Junie 15
    • aan die geleentheid toe Jesus se vriend Lasarus gesterf het. Jesus het vantevore bewys gelewer van sy krag om die dooies op te wek (Lukas 7:11-17; 8:40-56). Maar hoe het hy gereageer toe hy Lasarus se suster Maria sien treur? Jesus het “in die gees gekreun en verontrus geword”. Hy was nie koel of afsydig nie; hy “het trane begin stort” (Johannes 11:33-35). En dit was nie bloot ’n vertoon van emosie nie. Jesus is tot positiewe optrede beweeg—hy het Lasarus opgewek. Jy kan jou voorstel hoe dit die apostels gehelp het om die Skepper se gevoelens en dade te begryp. Dit behoort ons en ander ook te help om die Skepper se persoonlikheid en weë te verstaan.

      18. Hoe moet mense oor Bybelstudie voel?

      18 Daar is geen rede om skaam te wees omdat ons die Bybel bestudeer en meer omtrent ons Skepper leer nie. Die Bybel is nie ’n verouderde boek nie. Iemand wat dit bestudeer en ’n intieme metgesel van Jesus geword het, was Johannes. Hy het later geskryf: “Ons weet dat die Seun van God gekom het, en hy het ons die intellektuele vermoë gegee dat ons die kennis van die waaragtige kan opdoen. En ons is in eenheid met die waaragtige, deur middel van sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God en die ewige lewe” (1 Johannes 5:20). Let op dat dit tot “die ewige lewe” kan lei as ons “intellektuele vermoë” gebruik om kennis van “die waaragtige”, die Skepper, op te doen.

      Hoe kan jy ander help om van hom te leer?

      19. Wat is gedoen om skeptiese mense te help?

      19 Dit verg baie van party mense om te glo dat daar ’n medelydende Skepper is wat vir ons omgee en om te verstaan watter soort persoon hy is. Daar is miljoene der miljoene wat nog skepties is oor die Skepper of wie se beskouing van hom nie ooreenstem met wat in die Bybel gevind word nie. Hoe kan jy hulle help? By die streek- en internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies in 1998/99 is ’n doeltreffende nuwe instrument in baie tale vrygestel—die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?

      20, 21. (a) Hoe kan die Skepper-boek met vrug gebruik word? (b) Vertel ondervindinge van hoe die Skepper-boek reeds positiewe resultate gelewer het.

      20 Dit is ’n publikasie wat jou eie geloof in ons Skepper sal versterk en jou waardering vir sy persoonlikheid en weë sal vergroot. Waarom is ons so seker daarvan? Omdat Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? spesiaal met hierdie oogmerke saamgestel is. ’n Tema wat dwarsdeur die boek loop, is “Wat kan jou lewe sinvoller maak?” Dit is so geskryf dat selfs geleerde mense dit interessant sal vind. Tog roer dit begeertes aan wat ons almal het. Daar is boeiende en oortuigende inligting vir lesers wat aan die Skepper se bestaan twyfel. Die boek veronderstel nie dat die leser aan ’n Skepper glo nie. Diegene wat skepties is, sal die bespreking van party van die jongste wetenskaplike ontdekkings en idees boeiend vind. Sulke feite sal selfs diegene se geloof versterk wat reeds in God glo.

      21 Wanneer jy hierdie nuwe boek bestudeer, sal jy sien dat dele daarvan ’n oorsig van Bybelgeskiedenis op ’n wyse aanbied wat aspekte van God se persoonlikheid beklemtoon en lesers sal help om God beter te leer ken. Baie wat dit reeds gelees het, het kommentaar gelewer oor hoe dit met hulle die geval was. (Sien die volgende artikel, bladsy 25-6.) Mag dit ook jou ondervinding wees namate jy met die boek vertroud raak en dit gebruik om ander te help om hulle Skepper beter te leer ken.

  • ‘Vlamme van nuuskierigheid in hart en verstand’
    Die Wagtoring – 1999 | Junie 15
    • ‘Vlamme van nuuskierigheid in hart en verstand’

      “Woorde kan nie my toenemende vreugde en opgewondenheid beskryf terwyl ek die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? verslind nie. Dit laat eenvoudig ’n begeerte—nee, ’n behoefte—by ’n mens ontstaan om meer te weet. Dankie dat julle vlamme van nuuskierigheid in my hart en verstand aangesteek het.”

      DIT is hoe een van Jehovah se Getuies van Noord-Carolina, VSA, oor die boek gevoel het wat die Wagtoringgenootskap in 1998/99 by die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste vrygestel het. Kyk wat ander daaroor gesê het, selfs al het jy nie ’n eksemplaar van die boek nie.

      Dae nadat ’n man sy eksemplaar by ’n byeenkoms in San Diego, Kalifornië, VSA, ontvang het, het hy geskryf: “Ek vind hierdie boek baie geloofversterkend. Dit vul my hart met diep waardering vir Jehovah se skeppingswerke. Ek is nou by bladsy 98, en ek sien nie uit na die dag wanneer ek die einde bereik nie! Dit is hoeveel vreugde dit my verskaf.”

      ’n Oosterse vrou het geskryf: “Die byeenkomsspreker het die uitdrukking ‘’n unieke boek’ gebruik, en daardie uitdrukking is werklik gepas. ’n Uitsonderlike kenmerk is dat die boek nie die bestaan van God op die leser afdwing nie, en tog lê dit die feite voor.”

      Die feite sluit boeiende wetenskaplike ontdekkings oor ons heelal, lewe en die mens in. Dit het baie mense beïndruk. “Ek kan nie die woorde vind om te sê hoe diep hierdie boekie my geraak het nie”, het ’n vrou van Kalifornië geskryf. “Ek kon die boek nie neersit terwyl elke bladsy verdere onthullende ontdekkings oor ons heelal en lewe self beskryf het nie. Ek het werklik soveel geleer! Ek sal hierdie boekie koester en dit by soveel mense as moontlik laat.”

      ’n Kenmerk waarvan baie gehou het, is die manier waarop die boek ’n oorsig van die Bybel gee wat die Skepper se persoonlikheid na vore bring. “Die oorsig van die Bybel, wat later in die boek verskyn, is een van die beste wat ek nog gelees het”, is ’n tipiese kommentaar. Kort ná ’n vroeë byeenkoms in New York, VSA, het iemand anders geskryf: “Die nuwe vrystelling is die boeiendste publikasie wat julle nog gedruk het. Ek was gefassineer deur die wetenskaplike bewyse dat daar ’n Skepper is. Die bondige oorsig van die Bybel self is net genoeg om die punte onder bespreking te verduidelik en om die belangstelling te prikkel om verder te lees.”

      Verstaanbare wetenskap

      Die wetenskaplike inligting in die eerste hoofstukke lyk dalk of dit bokant ’n mens se vuurmaakplek is, maar hier volg tipiese reaksies.

      ’n Kanadese man het geskryf: “Dit is baie anders as die tegniese boeke waarin die skrywers ons met hulle groot woorde probeer beïndruk. Julle kundigheid is uitsonderlik in die manier waarop julle fisika, chemie, DNS, chromosome, ens. so verstaanbaar maak vir ons. As júlle maar die universiteitshandboeke geskryf het wat ek jare gelede bestudeer het!”

      ’n Universiteitsprofessor in fisika het geskryf: “[Dit] sit die betrokke kwessies duidelik uiteen sonder om in tegniese besonderhede vas te val. Die boek redeneer met die leser en haal talle vername wetenskaplikes aan. Enigeen wat in die oorsprong van die heelal en lewe belangstel, hetsy as ’n wetenskaplike of as ’n leek, móét dit eenvoudig lees.”

      ’n Jong vrou wat ’n kursus in verpleging volg, het gesê: “Ek kon my oë nie glo toe ek by hoofstuk 4 kom en ’n aanhaling uit die boek lees wat ons in die klas gebruik nie! Ek het die boek vir ons professor gegee en vir hom gesê ek weet hy sal die inligting interessant vind. Ek het hom bladsy 54 oor die brein gewys. Hy het dit gelees en gesê: ‘Dit is interessant! Ek sal daarna kyk.’”

      ’n Parlementslid in België het geskryf: “Die wetenskaplike bespreking wat beklemtoon dat die moderne wetenskap nie in stryd is met die Bybel se monoteïstiese inslag nie, maar eerder daarby aansluit, het my getref en geboei. Dit is ’n baie merkwaardige beskouing.”

      Leer die Skepper beter ken

      Die boek het mense in baie lande gehelp om God beter te leer ken en baie nader aan hom te voel. ’n Leser in die stad Foekoeoka, Japan, het gesê: “Dit is asof die lens vir die eerste keer presies op Jehovah gefokus is. Die boek is besonder oortuigend. Ek het Jehovah uit ’n gesigspunt leer ken waaraan ek tot nou toe nog nooit gedink het nie.” ’n Salvadoriaan het geskryf: “Julle het dit baie duidelik uiteengesit hoe barmhartig, genadig, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid God is. Dit is werklik presies wat ons nodig het om nader aan hom en sy Seun te wees. Dit is die eerste boek wat die gevoelens van Jehovah en die menslike gevoelens van sy Seun, Jesus, verduidelik.” En ’n leser in Zambië het gesê: “Jehovah het ’n heeltemal nuwe betekenis vir my aangeneem.”

      Dit is verstaanbaar dat Jehovah se Getuies gretig is om die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? te versprei. Een het gesê: “Toe ek hoofstuk 10 [“Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?”] klaar gelees het, was my spontane reaksie: ‘Dit is net die boek wat ons in Japan nodig het!’ Ek wil graag die materiaal in hierdie hoofstuk my eie maak en dit al hoe meer in die veldbediening gebruik.” ’n Ander vrou studeer die Bybel met ’n meisie wat grootgemaak is in ’n tempel waar haar vader die priester is. “Sy vind dit moeilik om die idee van die Skepper te aanvaar. Daar is niks dogmaties in hierdie boek se verduideliking nie, maar die feite is daar, en daarom dink ek dat selfs Boeddhiste dit sonder huiwering kan lees. Dit maak ons ook meer bewus van Jehovah se liefde.”

      Uit Engeland skryf iemand: “Ek het die Skepper-boek so pas klaar gelees en gaan dit nou weer begin lees. Wat ’n wonderlike boek! ’n Mens kan nie anders as om Jehovah lief te hê wanneer jy dit lees nie. Ek het my buurvrou een gegee, wat ná slegs twee hoofstukke gesê het: ‘Dit is so boeiend, ek kan dit nie neersit nie.’ Ek is seker dit sal mense help om ons Grootse Skepper te leer ken en lief te kry.”

      ’n Man in Maryland, VSA, het gesê: “Dit het werklik tot my geestelike gebeente en murg deurgedring! Dit is my voorneme om ’n eksemplaar aan almal te gee met wie ek sake doen. Ek vind dit soms moeilik om vir sulke besige, geleerde mense te begin getuig. Met hierdie boek sal ek nou ’n doeltreffende benadering kan gebruik wat by mense byval sal vind.”

      Die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? sal beslis ’n positiewe uitwerking op mense regoor die aarde hê.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel