Hulle het Jehovah se wil gedoen
Maria kies “die goeie deel”
IN Jesus se dag is Joodse vroue deur rabbynse tradisies ingeperk. Hulle is derhalwe nie aangemoedig om die Wet te bestudeer nie. Trouens, een mening wat in die Misjna aangehaal word, is: “As enige man sy dogter die Wet leer, is dit asof hy haar ontug geleer het.”—Sotah 3:4.
Gevolglik was baie vroue in die eerste-eeuse Judea nie baie geleerd nie. “Daar is geen bewys dat Joodse vroue voor Jesus se bediening ooit toegelaat is om dissipels van ’n groot onderrigter te word nie, wat nog te sê saam met so ’n onderrigter te reis of om enigiemand anders as kinders te onderrig”, sê The Anchor Bible Dictionary. Om vroue nog verder te verkleineer, het party godsdiensleiers selfs ’n reël neergelê wat bepaal het dat ’n man nie in die openbaar met ’n vrou mag praat nie!
Jesus het hom nie deur sulke goddelose gesindhede laat beïnvloed nie. Hy het vroue sowel as mans geleer, en beide mans en vroue was sy volgelinge (Lukas 8:1-3). By een geleentheid is Jesus genooi om ’n gas van Marta en Maria te wees (Lukas 10:38). Hierdie twee vroue was die susters van Lasarus, en al drie was dissipels en goeie vriende van Jesus (Johannes 11:5). Hulle was moontlik ’n vooraanstaande gesin, as ’n mens die groot aantal mense in aanmerking neem wat gekom het om Marta en Maria te troos toe Lasarus gesterf het. In elk geval, wat in hulle huis gebeur het toe Jesus ’n gas daar was, was nie net vir húlle ’n waardevolle les nie, maar is ook vir ons.
Leer aan die voete van Jesus
Marta en Maria was ongetwyfeld gretig om ’n heerlike feesmaal vir Jesus voor te berei, en hulle kon dit moontlik maklik bekostig. (Vergelyk Johannes 12:1-3.) Maar toe hulle gas daar aankom, het Maria “by die voete van die Here gaan sit en na sy woord bly luister” (Lukas 10:39). Geen tradisie van mense sou verhinder dat Jesus ’n opregte vrou onderrig wat so gretig was om te leer nie! Ons kan ons Maria voorstel waar sy voor Jesus sit en haar in die posisie stel van ’n leerling wat heeltemal verdiep is in die onderrigting van haar Leermeester.—Vergelyk Deuteronomium 33:3; Handelinge 22:3.
Anders as Maria was Marta “afgelei deurdat sy na baie pligte omgesien het”. Aangesien sy ’n groot maaltyd voorberei het, was sy baie besig met haar veeleisende take. Weldra het Marta ontsteld geraak omdat sy al die werk moes doen terwyl haar suster aan die voete van Jesus gesit het! Marta val Jesus dus skielik in die rede terwyl hy met Maria praat en sê: “Here, gee u nie om dat my suster my alleen na alles laat omsien nie? Sê dan vir haar om my te kom help.”—Lukas 10:40.
Daar was op sigself niks verkeerd met Marta se versoek nie. Dit is op stuk van sake harde werk om ’n maaltyd vir ’n groep mense voor te berei, en die las moet na regte nie net deur een persoon gedra word nie. Maar Jesus het in haar stelling die geleentheid gesien om hulle ’n waardevolle les te leer. “Marta, Marta,” het hy gesê, “jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een. Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”—Lukas 10:41, 42.
Jesus het nie gesê dat Marta ’n gebrek aan belangstelling in geestelike dinge gehad het nie. Inteendeel, hy het geweet dat sy ’n vrou met ware godvrugtige toegewydheid is.a Dit is ongetwyfeld wat haar in die eerste plek beweeg het om Jesus na haar huis te nooi. Jesus het egter in sy ligte teregwysing daarop gewys dat Marta, deur haar besorgdheid oor die maaltyd, ’n seldsame geleentheid laat verbygaan om persoonlik deur die Seun van God onderrig te word.
Die kultuur van die dag het dalk wel die beskouing gesteun dat die beste aanduiding van ’n vrou se waarde haar bekwaamheid in huishoudelike take was. Maar Jesus se woorde het getoon dat vroue, soos mans, aan die voete van die Seun van God kon sit en die woorde van die lewe kon ontvang! (Johannes 4:7-15; Handelinge 5:14). In die lig hiervan sou dit baie beter gewees het as Marta net ’n paar geregte—of selfs net een—voorberei het, as dit haar die geleentheid sou gee om aan die voete van die Meester te sit en by hom te leer.—Vergelyk Matteus 6:25.
’n Les vir ons
Vandag is daar mans sowel as vroue onder diegene wat gehoor gee aan Jesus se uitnodiging om ‘die water van die lewe te neem, verniet’ (Openbaring 22:17). Party word deur liefde beweeg om—soos Marta—hulle bes te doen om in die behoeftes van medegelowiges te voorsien. Hulle is prakties en tree vinnig op, en Jehovah belowe dat hy hulle liefdeswerk gaan beloon (Hebreërs 6:10; 13:16). Ander is dalk meer soos Maria. Hulle is stil en nadenkend. Hulle ywer om oor God se Woord te peins, help hulle om diepgewortel in die geloof te bly.—Efesiërs 3:17-19.
Albei soorte individue speel ’n belangrike rol in die Christengemeente. Maar op die ou end moet almal ‘die goeie deel kies’ deur hulle hoofsaaklik op geestelike dinge toe te lê. Deur seker te maak van wat die belangriker dinge is, sal ons Jehovah se guns en seën geniet.—Filippense 1:9-11.
[Voetnoot]
a Dat Marta ’n geestelike vrou met sterk geloof was, kan duidelik gesien word uit haar gesprek met Jesus ná die dood van haar broer, Lasarus. By daardie geleentheid was dit Marta wat groter ywer getoon het om haar Meester tegemoet te gaan.—Johannes 11:19-29.