Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 11/15 bl. 24-27
  • “Jehovah self gee wysheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jehovah self gee wysheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Skenk aandag aan wysheid’
  • Sal jy die moeite doen?
  • Jy sal nie misluk nie
  • Wanneer ‘kennis aangenaam word’
  • “Om jou van die slegte weg te verlos”
  • “Die regskapenes sal op die aarde woon”
  • Neig jou hart tot onderskeidingsvermoë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Kan jy groter onderskeidingsvermoë aankweek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hou aan soek soos na verborge skatte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 11/15 bl. 24-27

“Jehovah self gee wysheid”

DEUR watter strewes word jou tyd en energie in beslag geneem? Is dit vir jou belangrik om ’n goeie naam te maak? Spits jy jou toe op die verkryging van rykdom? Volg jy ’n loopbaan in die een of ander veld of strewe jy daarna om jou in die een of ander studierigting te bekwaam? Is dit vir jou belangrik om ’n goeie verhouding met ander op te bou? Is dit vir jou van die grootste belang om gesond te bly?

Dit lyk dalk of alles wat hierbo genoem word ’n mate van waarde het. Maar wat is van die allergrootste belang? Die Bybel antwoord: “Wysheid is die vernaamste. Verwerf wysheid” (Spreuke 4:7, NW). Hoe kan ons dus wysheid verkry, en wat is die voordele daarvan? Die tweede hoofstuk van die Bybelboek Spreuke gee die antwoorde.

‘Skenk aandag aan wysheid’

Die wyse koning Salomo van eertydse Israel sê in die liefdevolle woorde van ’n vader: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, om met jou oor aandag te skenk aan wysheid, sodat jy jou hart tot onderskeidingsvermoë kan neig; as jy bowendien na verstandigheid roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind.”—Spreuke 2:1-5, NW.

Sien jy wie die verantwoordelikheid het om wysheid te verkry? In hierdie verse verskyn die uitdrukking “as jy” drie keer. Dit is duidelik dat elkeen van ons die verantwoordelikheid het om wysheid asook die verwante eienskappe—onderskeidingsvermoë en verstandigheid—na te streef. Maar ons moet eers die wyse woorde in die Skrif “aanneem” en in ons geheue ‘as ’n skat bewaar’. Om dit te doen, moet ons die Bybel bestudeer.

Wysheid is die vermoë om godgegewe kennis reg te gebruik. En op watter wonderlike wyse laat die Bybel wysheid tog beskikbaar word! Ja, dit bevat wyse woorde, soos dié wat in die boeke Spreuke en Prediker opgeteken staan, en ons moet aan hierdie woorde aandag skenk. Ons vind ook in die Bybel talle voorbeelde wat toon watter voordele dit inhou as ons godvrugtige beginsels toepas en die gevare as ons dit verontagsaam (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11). Dink byvoorbeeld aan die verslag van gierige Gehasi, die dienaar van die profeet Elisa (2 Konings 5:20-27). Leer dit ons nie die wysheid daarvan om gierigheid te vermy nie? En wat van die tragiese gevolge van die skynbaar onskadelike besoeke van Jakob se dogter Dina aan “die dogters van die land” Kanaän? (Genesis 34:1-31). Sien ons nie onmiddellik die dwaasheid van slegte omgang nie?—Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33.

Om aan wysheid aandag te skenk, behels dat ’n mens onderskeidingsvermoë en verstandigheid verkry. Volgens Webster’s Revised Unabridged Dictionary is onderskeidingsvermoë “die krag of vermoë van die verstand waardeur dit een ding van ’n ander onderskei”. Godvrugtige onderskeidingsvermoë is die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en dan die regte weg te kies. As ons nie ‘ons hart neig’ tot onderskeidingsvermoë of gretig is om dit te verwerf nie, hoe kan ons dan bly op “die pad wat na die lewe lei”? (Matteus 7:14; vergelyk Deuteronomium 30:19, 20.) Ons verkry onderskeidingsvermoë deur God se Woord te bestudeer en toe te pas.

Hoe kan ons “na verstandigheid roep”—die vermoë om te sien hoe die aspekte van ’n saak met mekaar asook met die geheel verband hou? Ons ouderdom en ondervinding is natuurlik faktore wat ons kan help om verstandiger te word—maar dit is nie noodwendig die geval nie (Job 12:12; 32:6-12). “Ek tree verstandiger op as ouer manne”, het die psalmis gesê, “omdat ek u [Jehovah se] bevele bewaar het.” Hy het ook gesing: “Die onthulling van u woorde gee lig; dit maak die onervarenes verstandig” (Psalm 119:100, 130, NW). Jehovah is “die Oue van dae”, en hy is baie verstandiger as die hele mensdom (Daniël 7:13). God kan verstandigheid gee aan ’n onervarene, wat hom in staat sal stel om selfs dié wat ouer as hy is in daardie eienskap te oortref. Daarom moet ons God se Woord, die Bybel, ywerig bestudeer en toepas.

Die woorde “as jy” wat in die eerste deel van die tweede hoofstuk van Spreuke herhaal word, word gevolg deur uitdrukkings soos “aanneem”, ‘as ’n skat bewaar’, ‘roep na’, “bly soek”, “bly naspeur”. Waarom gebruik die skrywer hierdie uitdrukkings wat in graad toeneem? ’n Naslaanwerk sê: “Die wyse man beklemtoon [hier] die belangrikheid van ywer in die strewe na wysheid.” Ja, ons moet wysheid en die verwante eienskappe—onderskeidingsvermoë en verstandigheid—ywerig nastreef.

Sal jy die moeite doen?

’n Vername faktor in die strewe na wysheid is ’n ywerige studie van die Bybel. Hierdie studie moet egter baie meer insluit as om net te lees sodat ’n mens inligting kan inwin. Betekenisvolle bepeinsing oor wat ons gelees het, is ’n noodsaaklike deel van ons studie van die Skrif. Om wysheid en onderskeidingsvermoë te verkry, behels dat ons peins oor hoe ons dit wat ons leer, kan gebruik om probleme op te los en besluite te maak. Om verstandig te word, vereis dat ons nadink oor hoe die nuwe materiaal verband hou met wat ons alreeds weet. Wie sal ontken dat so ’n peinsende studie van die Bybel tyd en groot inspanning verg? Die tyd en energie wat daaraan bestee word, is soos wanneer ’n mens ‘na silwer soek en verborge skatte naspeur’. Sal jy die nodige moeite doen? Sal jy ‘die geleë tyd uitkoop’ om dit te doen?—Efesiërs 5:15, 16.

Dink aan die groot skatte wat ons kan ontdek as ons met ’n opregte hart diep in die Bybel delf. Ons sal beslis “die kennis van God” vind—die betroubare, duursame, lewegewende kennis van ons Skepper! (Johannes 17:3). “Die vrees van Jehovah” is ook ’n skat wat ons kan ontdek. Hoe kosbaar is hierdie eerbiedige ontsag vir hom tog! Die gesonde vrees om hom te mishaag, moet elke aspek van ons lewe beheer en geestelikheid verleen aan alles wat ons doen.—Prediker 12:13.

Ons behoort ’n brandende begeerte te hê om na geestelike skatte te soek en daarvoor te delf. Jehovah het uitstekende gereedskap voorsien wat ons kan help om te soek en te delf—die tydige tydskrifte van waarheid Die Wagtoring en Ontwaak! sowel as ander Bybelpublikasies (Matteus 24:45-47). Om ons in sy Woord en weë te onderrig, het Jehovah ook Christelike vergaderinge voorsien. Ons moet dit gereeld bywoon, gehoor gee aan wat gesê word, ons kragtig inspan om op sleutelgedagtes te konsentreer en dit in ons hart as ’n skat te bewaar, asook diep nadink oor ons verhouding met Jehovah.—Hebreërs 10:24, 25.

Jy sal nie misluk nie

’n Soektog na verborge edelstene, goud of silwer is dikwels tevergeefs. Dit hoef nie met die soeke na geestelike skatte die geval te wees nie. Waarom nie? “Want Jehovah self gee wysheid”, verseker Salomo ons, “uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.”—Spreuke 2:6, NW.

Koning Salomo was welbekend vir sy wysheid (1 Konings 4:30-32). Die Skrif toon dat hy kennis van ’n verskeidenheid onderwerpe gehad het, wat plante, diere, die menslike natuur en God se Woord ingesluit het. Die onderskeidingsvermoë wat hy aan die dag gelê het as ’n jong koning toe hy die geskil besleg het tussen twee vroue wat elkeen beweer het dat hulle die moeder van dieselfde kind is, het gehelp om hom internasionaal beroemd te maak (1 Konings 3:16-28). Wat was die bron van al sy kennis? Salomo het tot Jehovah gebid vir “wysheid en kennis” en die vermoë “om tussen goed en kwaad te onderskei”. Jehovah het dit aan hom gegee.—2 Kronieke 1:10-12; 1 Konings 3:9.

Ons moet ook Jehovah se hulp vra terwyl ons sy Woord ywerig bestudeer. Die psalmis het gebid: “Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Psalm 86:11). Daardie gebed het Jehovah se goedkeuring weggedra, want hy het dit in die Bybel laat opteken. Ons kan vol vertroue wees dat ons ernstige en herhaalde gebede om sy hulp te vra om geestelike skatte in die Bybel te vind beslis verhoor sal word.—Lukas 18:1-8.

Salomo sê: “Vir die regskapenes sal hy praktiese wysheid as ’n skat bewaar; vir dié wat in onkreukbaarheid wandel, is hy ’n skild, deur die paaie van die reg te bewaar, en hy sal selfs die weg van sy lojales bewaak. Dan sal jy regverdigheid en reg en regskapenheid verstaan, die hele weg van wat goed is” (Spreuke 2:7-9, NW). Wat ’n mooi versekering is dit tog! Jehovah gee nie net ware wysheid aan diegene wat opreg daarna soek nie, maar hy is ook soos ’n beskermende skild vir die regskapenes omdat hulle ware wysheid openbaar en lojaal in ooreenstemming met sy regverdige standaarde lewe. Mag ons onder diegene wees wat deur Jehovah gehelp word om “die hele weg van wat goed is” te verstaan.

Wanneer ‘kennis aangenaam word’

Persoonlike Bybelstudie—’n noodsaaklike vereiste om na wysheid te soek—is nie noodwendig iets waarvan baie mense hou nie. Die 58-jarige Lawrence sê byvoorbeeld: “Ek het nog altyd met my hande gewerk. Dit is vir my moeilik om te studeer.” En die 24-jarige Michael, wat nie daarvan gehou het om op skool te studeer nie, sê: “Ek moes myself dwing om te sit en te studeer.” Maar ’n mens kán ’n begeerte ontwikkel om te studeer.

Let op wat Michael gedoen het. Hy vertel: “Ek het myself gedissiplineer om elke dag ’n halfuur lank te studeer. Kort voor lank het ek die uitwerking daarvan op my gesindheid, my kommentare by Christelike vergaderinge en my gesprekke met ander gesien. Nou sien ek uit na my studiesessies, en ek wil nie hê dat enigiets daarop inbreuk moet maak nie.” Ja, persoonlike studie word soos ’n aangeleerde smaak wanneer ons sien watter vooruitgang ons maak. Lawrence het hom ook op Bybelstudie toegelê en hy het mettertyd as ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies begin dien.

Dit verg volgehoue inspanning om persoonlike studie genotvol te maak. Maar dit hou groot voordele in. “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word”, sê Salomo, “sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig.”—Spreuke 2:10, 11, NW.

“Om jou van die slegte weg te verlos”

Hoe sal wysheid, kennis, denkvermoë en onderskeidingsvermoë ’n mens beveilig? “[Dit sal] jou van die slegte weg . . . verlos”, sê Salomo, “van die mens wat verdorwe dinge spreek, van dié wat die paaie van regskapenheid verlaat om in die weë van duisternis te wandel, van dié wat hulle daarin verheug om kwaad te doen, wat bly is oor die verdorwe dinge van slegtheid; dié wie se paaie krom is en wat in hulle algemene weg slinks is.”—Spreuke 2:12-15, NW.

Ja, diegene wat ware wysheid kosbaar ag, vermy assosiasie met enigiemand wat “verdorwe dinge spreek”, dit wil sê dinge wat in stryd is met wat waar en reg is. Denkvermoë en onderskeidingsvermoë bied beskerming teen diegene wat die waarheid verwerp sodat hulle op die weë van duisternis kan wandel en teen diegene wat slinks is en wat hou van bose dade.—Spreuke 3:32, NW.

Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ware wysheid en sy verwante eienskappe ons ook teen die slegte weg van onsedelike mans en vroue beskerm! Salomo sê verder dat hierdie eienskappe “jou [kan] verlos van die vreemde vrou, van die uitlandse vrou wat haar eie woorde vleiend gemaak het, wat die vertroude vriend van haar jeug verlaat en wat selfs die verbond van haar God vergeet het. Want haar huis sink inderdaad weg na die dood en haar spore na dié wat magteloos in die dood is. Nie een van dié wat met haar gemeenskap het, sal terugkom nie, en ook sal hulle nie die paaie van die lewendes weer bereik nie.”—Spreuke 2:16-19, NW.

“Die vreemde vrou”, die prostituut, word uitgebeeld as iemand wat “die vertroude vriend van haar jeug verlaat”—waarskynlik haar man terwyl sy nog ’n jong vrou was.a (Vergelyk Maleagi 2:14.) Sy het vergeet van die gebod teen egbreuk wat deel van die Wetsverbond was (Exodus 20:14). Haar paaie lei na die dood. Diegene wat met haar assosieer, sal dalk nooit weer “die paaie van die lewendes . . . bereik nie”, aangesien hulle moontlik vroeër of later die plek van geen terugkeer sal bereik, naamlik die dood, waaruit hulle nie kan terugkom nie. ’n Man van onderskeidingsvermoë en denkvermoë is bewus van die strikke van onsedelikheid, en hy tree wys op deur nie daarin verstrik te raak nie.

“Die regskapenes sal op die aarde woon”

Salomo som die doel van sy raad oor wysheid op deur te sê: “Die doel is dat jy in die weg van die goeies kan wandel en die paaie van die regverdiges kan hou” (Spreuke 2:20, NW). Wat ’n wonderlike doel het wysheid tog! Dit help ons om ’n gelukkige, bevredigende lewe te lei wat God se goedkeuring wegdra.

Dink ook aan die wonderlike seëninge wat wag op diegene wat ‘in die weg van die goeies wandel’. Salomo sê verder: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en wat die verraderlikes betref, hulle sal daarvan weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22, NW). Mag jy een van die onberispelikes wees wat vir ewig in God se regverdige nuwe wêreld sal lewe.—2 Petrus 3:13.

[Voetnote]

a Die woord “vreemdeling” is toegepas op diegene wat afgewyk het van wat reg was volgens die Wet en dus van Jehovah vervreemd geword het. Die prostituut—wat nie noodwendig ’n uitlander was nie—word gevolglik ’n “vreemde vrou” genoem.

[Prent op bladsy 26]

Salomo het vir wysheid gebid. Ons moet ook

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel