Benut jou leweten volle
DIE vader was in die huis, in die bed, sterwend aan kanker. Sy seun was in die werkswinkel, besig om sy vader se houtwerkgereedskap netjies te pak. Terwyl hy die gereedskap hanteer het, het hy aan die wonderlike dinge gedink wat sy vader daarmee gemaak het. Hoewel die werkswinkel langs die huis was, het hy geweet dat sy vader nooit weer daar sou ingaan nie, nooit weer die gereedskap sou optel wat hy so goed kon gebruik nie. Daardie tyd was verby.
Die seun het gedink aan die teks in Prediker 9:10: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” Hy het daardie teks goed geken. Hy het dit al baie kere gebruik wanneer hy ander die Bybelwaarheid geleer het dat die dood ’n toestand van onbedrywigheid is. Nou het die volle betekenis van Salomo se redenasie sy hart getref—ons moet ’n vol lewe lei en ons dae geniet terwyl ons kan, want die tyd sal kom wanneer ons dit nie meer kan doen nie.
Geniet die lewe
Deur die hele boek Prediker spoor die wyse koning Salomo sy lesers aan om die lewe te geniet. Hoofstuk 3 sê byvoorbeeld: “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder [mense] is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.
Salomo is deur God geïnspireer om hierdie gedagte te herhaal: “Kyk, wat ek as ’n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel.”—Prediker 5:17.
Hy moedig jongmense eweneens aan: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë” (Prediker 11:9a). Hoe goed is dit tog om die krag en energie van die jeug ten volle te geniet!—Spreuke 20:29.
“Dink aan jou Skepper”
Salomo bedoel natuurlik nie hier dat dit wys is om alles na te jaag wat vir ons hart of oë aantreklik is nie. (Vergelyk 1 Johannes 2:16.) Dit is duidelik uit wat hy vervolgens skryf: “Maar weet dat God jou oor al hierdie dinge [strewes wat jou begeertes sal bevredig] in die gerig sal bring” (Prediker 11:9b). Ongeag hoe oud ons is, ons moet onthou dat God sien wat ons met ons lewe doen en ons dienooreenkomstig sal oordeel.
Hoe dwaas is dit tog om te redeneer dat ons nou ’n egosentriese lewe kan lei en eers later in ons lewe godvrugtige toegewydheid kan nastreef! Ons lewe kan te eniger tyd kort geknip word. Al gebeur dit nie, word dit nie makliker om God te dien wanneer jy ouer is nie. Salomo het hierdie feit erken en geskryf: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”—Prediker 12:1.
Hoe ouer ’n mens word, hoe swaarder gaan dit. In simboliese taal beskryf Salomo vervolgens die gevolge van die ouderdom. Hande en arms bewe, bene word swakker en tande word min. Hare word wit en val uit. ’n Mens slaap so lig dat jy wakker gemaak word deur die geluid van ’n voëltjie. Die sintuie—gesig, gehoor, gevoel, reuk en smaak—verdof. Aangesien die liggaam swakker is, ontstaan die vrees dat jy sal val en vir ander “verskriklike dinge” op straat. Uiteindelik sterf die persoon.—Prediker 12:2-7.
Die ouderdom is veral rampspoedig vir diegene wat nie gedurende hulle jeug ‘aan hulle Skepper gedink het nie’. So iemand het “geen behae” in latere jare nie omdat hy sy lewe vermors het. ’n Godlose lewenswyse kan ook tot die probleme en pyne van die ouderdom bydra (Spreuke 5:3-11). Wanneer sulke mense na die toekoms kyk, sien hulle ongelukkig geen ander toekoms as die graf nie.
Verheug jou in jou oudag
Dit beteken nie dat bejaardes nie die lewe kan geniet nie. In die Bybel word “lengte van dae en jare van lewe” met God se seën vereenselwig (Spreuke 3:1, 2). Jehovah het vir sy vriend Abraham gesê: “Jy sal in goeie ouderdom begrawe word” (Genesis 15:15). Ondanks die ongerief van die ouderdom het Abraham vrede en gemoedsrus in sy latere jare gevind en het hy met tevredenheid teruggekyk op ’n lewe wat aan Jehovah gewy was. Hy het ook in geloof uitgesien na ’n “stad wat ware fondamente het”, God se Koninkryk (Hebreërs 11:10). Hy het dus “oud en tevrede” gesterf.—Genesis 25:8, NW.
Salomo het ons derhalwe aangemoedig: “As die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug” (Prediker 11:8). Hetsy ons jonk of oud is, ware geluk hou verband met ons verhouding met God.
Terwyl die jong man in die werkswinkel die laaste van sy vader se gereedskap weggepak het, het hy aan hierdie dinge gedink. Hy het gedink aan al die mense wat hy ken wat probeer het om hulle lewe ten volle te benut, maar wat nie geluk gevind het nie omdat hulle geen verhouding met hulle Skepper gehad het nie. Hoe gepas was dit tog dat Salomo, nadat hy ons aanmoedig om ons gedurende ons lewe te verheug, sake met hierdie woorde opgesom het: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense”!—Prediker 12:13.