“Ons het die Messias gevind”!
“Hy [Andreas] het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messias gevind—dit is, as dit vertaal word, die Christus.”—JOHANNES 1:42.
1. Wat het Johannes die Doper oor Jesus van Nasaret gesê, en tot watter gevolgtrekking het Andreas oor hom gekom?
ANDREAS het die Joodse man wat Jesus van Nasaret genoem is lank en deurdringend aangekyk. Hy het nie soos ’n koning of ’n wyse man of ’n rabbi gelyk nie. Hy het geen koninklike tooisels of grys hare of sagte hande en ’n ligte vel gehad nie. Jesus was jonk—ongeveer 30 jaar oud—met die eelterige hande en songebruinde vel van ’n handwerker. Andreas was dus moontlik nie verbaas toe hy hoor dat Jesus ’n timmerman is nie. Johannes die Doper het nogtans van hierdie man gesê: “Daar is die Lam van God!” Johannes het die vorige dag iets gesê wat sy gehoor nog meer verbaas het: ‘Hy is die Seun van God.’ Kon dit waar wees? Andreas het daardie dag ’n tyd lank na Jesus geluister. Ons weet nie wat Jesus gesê het nie; ons weet wel dat sy woorde Andreas se lewe verander het. Hy het hom gehaas om sy broer, Simon, te vind en het uitgeroep: “Ons het die Messias gevind”!—Johannes 1:34-42.
2. Waarom is dit belangrik dat ons die bewyse bespreek of Jesus die beloofde Messias was?
2 Andreas en Simon (vir wie Jesus tot Petrus hernoem het) het later apostels van Jesus geword. Nadat Petrus meer as twee jaar ’n dissipel van Jesus was, het hy vir Jesus gesê: “U is die Christus [Messias], die Seun van die lewende God” (Mattheüs 16:16). Die getroue apostels en dissipels was in werklikheid bereid om hulle lewe vir daardie opvatting in die weegskaal te plaas. Vandag is daar miljoene opregte mense wat net so toegewyd is. Maar op grond waarvan? Grondige bewyse maak immers die verskil tussen geloof en blote goedgelowigheid. (Sien Hebreërs 11:1.) Kom ons beskou nou drie algemene bewyse wat toon dat Jesus inderdaad die Messias was.
Jesus se geslagslyn
3. Watter besonderhede gee die Evangelies van Mattheüs en Lukas oor Jesus se geslagslyn?
3 Jesus se geslagslyn is die eerste bewys wat die Christelike Griekse Geskrifte ter ondersteuning van sy Messiasskap gee. Die Bybel het voorspel dat die Messias een van koning Dawid se nakomelinge sou wees (Psalm 132:11, 12; Jesaja 11:1, 10). Die Evangelie van Mattheüs begin só: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.” Mattheüs staaf hierdie onomwonde verklaring deur Jesus se stamboom terug te voer deur die geslagslyn van sy pleegvader, Josef (Mattheüs 1:1-16). Lukas se Evangelie voer Jesus se geslagslyn terug deur sy natuurlike moeder, Maria, en deur Dawid en Abraham tot by Adam (Lukas 3:23-38).a Die Evangelieskrywers dokumenteer hulle verklaring deeglik dat Jesus ’n wettige sowel as ’n natuurlike erfgenaam van Dawid was.
4, 5. (a) Het Jesus se tydgenote dit betwis dat hy ’n nakomeling van Dawid was, en waarom is dit belangrik? (b) Hoe steun nie-Bybelse aanhalings Jesus se geslagslyn?
4 Selfs die mees skeptiese teenstander van Jesus se Messiasskap kan nie Jesus se verklaring weerlê dat hy ’n seun van Dawid is nie. Waarom nie? Daar is twee redes. Ten eerste is daardie verklaring dekades lank oral in Jerusalem bekend gemaak voordat die stad in 70 G.J. vernietig is. (Vergelyk Mattheüs 21:9; Handelinge 4:27; 5:27, 28.) As dit ’n valse verklaring was, kon enige van Jesus se teenstanders—en hy het baie gehad—bewys het dat Jesus ’n bedrieër was deur sy geslagslyn in die stambome in die openbare argief na te gaan.b Maar die geskiedenisverslag sê nêrens dat enigiemand dit betwis het dat Jesus ’n nakomeling van koning Dawid was nie. Die verklaring was klaarblyklik onbetwisbaar. Mattheüs en Lukas het ongetwyfeld die sleutelname vir hulle verslae direk uit die openbare rekords neergeskryf.
5 Ten tweede bevestig nie-Bybelse bronne die feit dat Jesus se geslagslyn algemeen aanvaar is. Die Talmoed vertel byvoorbeeld van ’n vierde-eeuse rabbi se lasterlike aanval op Maria, die moeder van Jesus, omdat sy ‘met timmermans gehoereer het’; maar dieselfde gedeelte erken dat “sy die nakomeling van prinse en heersers was”. ’n Vroeëre voorbeeld is die tweede-eeuse geskiedskrywer Hegesippus. Hy het vertel dat party van die vroeë Christene se vyande die kleinseuns van Judas, die halfbroer van Jesus, “as uit die geslag van Dawid” veroordeel het toe die Romeinse keiser Domitianus alle nakomelinge van Dawid wou uitwis. Indien Judas as ’n nakomeling van Dawid bekend gestaan het, het Jesus dan nie ook nie? Ongetwyfeld!—Galasiërs 1:19; Judas 1.
Messiaanse profesieë
6. Hoe oorvloedig is Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte?
6 Nog ’n bewys dat Jesus die Messias was, is vervulde profesieë. Daar is oorvloedige profesieë in die Hebreeuse Geskrifte wat op die Messias van toepassing is. In sy werk The Life and Times of Jesus the Messiah het Alfred Edersheim gesê dat altesaam 456 gedeeltes in die Hebreeuse Geskrifte deur eertydse rabbi’s as messiaanse profesieë beskou is. Maar die rabbi’s het talle verkeerde idees oor die Messias gehad; baie van die gedeeltes waarop hulle die aandag gevestig het, het glad nie op die Messias betrekking gehad nie. Nogtans is daar op sy allerminste tientalle profesieë wat Jesus as die Messias identifiseer.—Vergelyk Openbaring 19:10.
7. Wat is sommige van die profesieë wat Jesus tydens sy verblyf op aarde vervul het?
7 Onder hulle is: sy geboortestad (Miga 5:1; Lukas 2:4-11); die tragedie van die massakindermoord wat ná sy geboorte plaasgevind het (Jeremia 31:15; Mattheüs 2:16-18); dat hy uit Egipte geroep sou word (Hosea 11:1; Mattheüs 2:15); dat owerstes van die nasies sou saamspan om hom te vernietig (Psalm 2:1, 2; Handelinge 4:25-28); dat hy vir 30 silwerstukke verraai sou word (Sagaria 11:12; Mattheüs 26:15); selfs die manier waarop hy sou sterf.—Psalm 22:17; Johannes 19:18, 23; 20:25, 27.c
Sy koms is voorspel
8. (a) Watter profesie toon vir ons wanneer die Messias sou kom? (b) Watter twee dinge moet ons weet om hierdie profesie te verstaan?
8 Kom ons vestig ons aandag op net een profesie. Daar is vir die Jode in Daniël 9:25 gesê wanneer die Messias sou kom. Dit sê: “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde [“Messias”, NW], ’n Vors, is sewe sewetalle [“weke”, NW]; en twee-en-sestig sewetalle [“weke”, NW].” Met die eerste oogopslag lyk hierdie profesie moontlik geheimsinnig. Maar ons word in werklikheid net gevra om twee brokkies inligting te vind: ’n beginpunt en ’n tydperk. Ter toeligting: Gestel jy het ’n kaart wat wys dat daar ’n skat “50 roede oos van die fontein in die stadspark” begrawe is, sal die aanwysings jou dronkslaan—veral as jy nie weet waar hierdie fontein is of hoe lank ’n ‘roede’ is nie. Sal jy nie daardie twee dinge wil uitvind sodat jy die skat kan vind nie? Wel, Daniël se profesie is baie dieselfde, behalwe dat ons moet vasstel wat die beginpunt is en hoe lank die daaropvolgende tydperk is.
9, 10. (a) Van watter beginpunt af word die 69 weke getel? (b) Hoe lank was die 69 weke, en hoe weet ons dit?
9 Ons het eers ons beginpunt nodig, die jaar toe ‘die woord uitgegaan het om Jerusalem te herstel en op te bou’. Dan moet ons uitvind hoe lank die daaropvolgende tydperk is, met ander woorde presies hoe lank hierdie 69 (7 plus 62) weke is. Al twee brokkies inligting is maklik om te kry. Nehemia sê baie duidelik vir ons dat die woord om die muur rondom Jerusalem te herbou, sodat die stad eindelik herstel kon word, in “die twintigste jaar van koning Artasasta” uitgegaan het (Nehemia 2:1, 5, 7, 8). Dit stel ons beginpunt op 455 v.G.J.d
10 Kan hierdie 69 weke letterlike weke van sewe dae elk wees? Nee, want die Messias het nie net meer as ’n jaar ná 455 v.G.J. verskyn nie. Die meeste Bybelkenners en talle vertalings (onder andere die Joodse Tanakh in ’n voetnoot oor hierdie vers) stem derhalwe saam dat dit weke “van jare” is. Hierdie begrip van ’n ‘week van jare’, of ’n sewejarige siklus, was vir die eertydse Jode niks onbekends nie. Net soos hulle elke sewende dag ’n sabbatdag gehou het, het hulle elke sewende jaar ’n sabbatjaar gehou (Exodus 20:8-11; 23:10, 11). Daarom sal 69 weke van jare dieselfde as 69 maal 7 jaar, of 483 jaar, wees. Al wat ons nou moet doen, is om te tel. As ons 483 jaar van 455 v.G.J. af tel, bring dit ons by die jaar 29 G.J.—presies die jaar toe Jesus gedoop is en die ma·sjiʹach, die Messias, geword het!—Sien “Seventy Weeks”, Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 899.
11. Hoe kan ons diegene antwoord wat sê dat dit net ’n moderne manier is om Daniël se profesie uit te lê?
11 Sommige kan daarteen beswaar maak en sê dat dit bloot ’n moderne manier is om die profesie uit te lê sodat dit by die geskiedenis inpas. Maar waarom het die mense in Jesus se dag dan verwag dat die Messias destyds sou verskyn? Die Christengeskiedskrywer Lukas, die Romeinse geskiedskrywers Tacitus en Suetonius, die Joodse geskiedskrywer Josephus en die Joodse filosoof Philo het almal om en by daardie tyd gelewe en het almal van hierdie verwagting onder die mense getuig (Lukas 3:15). Sommige hedendaagse geleerdes hou vol dat dit die Romeinse oorheersing was wat die Jode destyds na die koms van die Messias laat uitsien het en daardie verwagting geskep het. Maar waarom het die Jode die Messias tóé verwag pleks van eeue tevore toe die Grieke hulle wreed vervolg het? Waarom het Tacitus gesê dat dit “geheimsinnige profesieë” was wat die Jode laat verwag het dat magtige heersers uit Judea sou kom en “universele mag sou verkry”? Abba Hillel Silver erken in sy boek A History of Messianic Speculation in Israel dat “die Messias omstreeks die tweede kwart van die eerste eeu G.J. verwag is”, nie vanweë Romeinse vervolging nie, maar vanweë “die algemeen aanvaarde chronologie van daardie dag”, wat deels op die boek Daniël gegrond was.
Uit die hemel geïdentifiseer
12. Hoe het Jehovah Jesus as die Messias geïdentifiseer?
12 Die derde bewys van Jesus se Messiasskap is die getuienis van God self. Volgens Lukas 3:21, 22 is Jesus, nadat hy gedoop is, met die heiligste en sterkste krag in die heelal, Jehovah God se eie heilige gees, gesalf. En Jehovah het met sy eie stem erken dat hy sy Seun, Jesus, goedkeur. Jehovah het by twee ander geleenthede direk uit die hemel met Jesus gepraat en sodoende getoon dat Jesus sy goedkeuring geniet: eenkeer voor drie van Jesus se apostels en ’n ander keer voor ’n skare toeskouers (Mattheüs 17:1-5; Johannes 12:28, 29). Daarbenewens is daar engele van die hemel af gestuur om Jesus se posisie as die Christus, of die Messias, te bevestig.—Lukas 2:10, 11.
13, 14. Hoe het Jehovah getoon dat hy Jesus as die Messias goedkeur?
13 Jehovah het getoon dat hy sy gesalfde goedkeur deur hom die mag te gee om groot werke te verrig. Jesus het byvoorbeeld profesieë uitgespreek wat besonderhede oor die verloop van die geskiedenis vooruit verstrek het—en van die profesieë het selfs betrekking op ons tyd.e Hy het ook wonderwerke verrig, soos om honger skares te voed en siekes gesond te maak. Hy het selfs die dooies opgewek. Het sy volgelinge bloot hierdie magtige dade uit die duim gesuig en as feitelik verkondig? Wel, Jesus het baie van sy wonderwerke voor ooggetuies verrig, soms duisende mense op ’n keer. Selfs Jesus se vyande kon dit nie ontken dat hy hierdie dinge werklik gedoen het nie (Markus 6:2; Johannes 11:47). Buitendien, as Jesus se volgelinge geneig was om sulke verhale te versin, waarom was hulle dan so eerlik wanneer dit by hulle eie tekortkominge gekom het? Sou hulle werklik bereid gewees het om te sterf vir ’n geloof wat op blote mites gegrond was en wat hulle self versin het? Nee. Jesus se wonderwerke is geskiedenisfeite.
14 God se getuienis oor Jesus as die Messias het verder gestrek. Hy het deur sy heilige gees seker gemaak dat die bewyse van Jesus se Messiasskap opgeteken is en ’n deel geword het van die boek wat in die ganse geskiedenis nog die meeste vertaal is en die wydste verspreiding geniet.
Waarom het die Jode Jesus nie aanvaar nie?
15. (a) Hoeveel bewyse is daar dat Jesus die Messias is? (b) Watter verwagtinge van die Jode het daartoe gelei dat baie van hulle Jesus as die Messias verwerp het?
15 Hierdie drie kategorieë van bewyse saam bevat dus letterlik honderde feite wat Jesus as die Messias identifiseer. Is dit nie genoeg nie? Stel jou voor jy doen aansoek om ’n bestuurderslisensie of ’n kredietkaart en daar word vir jou gesê dat drie identiteitsbewyse nie genoeg is nie—jy moet honderde bring. Hoe onredelik tog! Dan bevat die Bybel beslis genoeg bewyse dat Jesus die Messias was. Maar waarom het baie van Jesus se eie mense al hierdie bewyse van sy Messiasskap verwerp? Omdat bewyse, hoe belangrik dit ook al vir ware geloof is, nie geloof waarborg nie. Ongelukkig glo baie mense wat hulle wil glo, selfs al bestaan daar oorweldigende bewyse. Die meeste Jode het baie definitiewe idees gehad oor wat hulle in ’n Messias wou hê. Hulle wou ’n politieke messias hê, een wat die Romeinse oorheersing sou beëindig en Israel in materiële sin sou herstel tot die glorie wat hulle in Salomo se dae gehad het. Hoe kon hulle dus hierdie nederige seun van ’n timmerman aanvaar, hierdie Nasarener wat glad nie in politiek of rykdom belanggestel het nie? En hoe kon hy die Messias wees, veral nadat hy oneervol aan ’n folterpaal gely en gesterf het?
16. Waarom moes Jesus se volgelinge hulle eie verwagtinge oor die Messias regstel?
16 Jesus se dood het sy dissipels geskok. Hulle het blykbaar gehoop dat hy ná sy glorieryke opstanding ‘die koninkryk onmiddellik weer vir Israel gaan oprig’ (Handelinge 1:6). Maar hulle het Jesus nie as die Messias verwerp net omdat hierdie hoop van hulle nie verwesenlik is nie. Hulle het geloof in hom gestel omdat daar genoeg bewyse van sy Messiasskap was, en hulle begrip het mettertyd verbeter; verborgenhede is opgeklaar. Hulle het besef dat die Messias nie al die profesieë oor hom kon vervul gedurende die kort tydjie wat hy as mens op die aarde was nie. Die een profesie het dan gesê dat hy nederig sou verskyn terwyl hy op die rug van ’n eselvul ry, terwyl ’n ander profesie gesê het dat hy in heerlikheid op die wolke sou verskyn! Hoe kon albei waar wees? Dit is duidelik dat hy ’n tweede keer sou moes kom.—Daniël 7:13; Sagaria 9:9.
Waarom die Messias moes sterf
17. Hoe het Daniël se profesie duidelik getoon dat die Messias sou moes sterf, en waarom sou hy sterf?
17 Daarbenewens het die Messiaanse profesieë duidelik getoon dat die Messias sou moes sterf. Die einste profesie wat voorspel het wanneer die Messias sou verskyn, het byvoorbeeld in die volgende vers voorspel: “Ná die twee-en-sestig sewetalle [wat op die sewe weke gevolg het] sal ’n Gesalfde [“Messias”, NW] uitgeroei word” (Daniël 9:26). Die Hebreeuse woord ka·rathʹ wat hier vir “uitgeroei” gebruik word, is dieselfde woord wat vir die doodsvonnis onder die Mosaïese Wet gebruik is. Die Messias sou ongetwyfeld moes sterf. Waarom? Vers 24 gee vir ons die antwoord: “Om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring.” Die Jode het goed geweet dat net ’n offerande, ’n dood, sondes kon versoen.—Levitikus 17:11; vergelyk Hebreërs 9:22.
18. (a) Hoe toon Jesaja hoofstuk 53 dat die Messias moet ly en sterf? (b) Watter oënskynlike teenstrydigheid laat hierdie profesie ontstaan?
18 Jesaja hoofstuk 53 praat van die Messias as ’n spesiale Kneg van Jehovah wat sou moes ly en sterf om ander se sondes te bedek. Vers 5 sê: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel.” Nadat dieselfde profesie vir ons sê dat hierdie Messias as “’n skuldoffer” moet sterf, openbaar dit dat hierdie selfde Een ‘nog lank sal lewe, en dat die wil van die Here deur hom sy doel sal bereik’ (Vers 10, NAV). Is dit nie ’n teenstrydigheid nie? Hoe kon die Messias sterf en dan “nog lank lewe”? Hoe kon hy geoffer word en daarna ‘die wil van die Here sy doel laat bereik’? Hoe kon hy inderdaad sterf en dood bly sonder om die belangrikste profesieë oor hom te vervul, naamlik dat hy vir ewig as Koning sal regeer en vrede en geluk na die hele aarde sal bring?—Jesaja 9:5, 6.
19. Hoe versoen Jesus se opstanding die oënskynlik teenstrydige profesieë oor die Messias?
19 Hierdie oënskynlike teenstrydigheid is deur ’n enkele, skouspelagtige wonderwerk opgeklaar. Jesus is uit die dode opgewek. Honderde Jode wat opreg van hart was, was ooggetuies van hierdie glorieryke werklikheid (1 Korinthiërs 15:6). Die apostel Paulus het later geskryf: “Hy [Jesus Christus] het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete” (Hebreërs 10:10, 12, 13). Ja, dit was nadat Jesus tot hemelse lewe opgewek is en nadat hy ’n tyd lank moes “wag” dat hy eindelik as Koning gekroon sou word en teen sy Vader, Jehovah, se vyande sou optree. In sy rol as hemelse Koning het Jesus, die Messias, ’n invloed op die lewe van elke mens wat nou lewe. Hoe? Ons volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnote]
a Waar Lukas 3:23 sê: “Josef, die seun van Eli”, beteken dit klaarblyklik “seun” in die sin van “skoonseun”, aangesien Eli Maria se eie vader was.—Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 913-17.
b Die feit dat Joodse geskiedskrywer Josephus sy eie geslagslyn gee, toon duidelik dat sulke rekords voor 70 G.J. beskikbaar was. Hierdie rekords is blykbaar saam met die stad Jerusalem vernietig, sodat geen latere bewerings van Messiasskap bewys kon word nie.
c Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 387.
d Daar is gegronde getuienis in eertydse Griekse, Babiloniese en Persiese bronne wat toon dat Artasasta in 474 v.G.J. begin regeer het. Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 614-16, 900.
e In een so ’n profesie het hy voorspel dat daar ná hom valse messiasse sal opstaan (Mattheüs 24:23-26). Sien die voorgaande artikel.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet ons die getuienis ondersoek of Jesus die beloofde Messias is?
◻ Hoe steun Jesus se geslagslyn sy Messiasskap?
◻ Hoe help Bybelprofesieë om Jesus se Messiasskap te bewys?
◻ Hoe het Jehovah Jesus se identiteit as die Messias persoonlik bevestig?
◻ Waarom het so baie Jode Jesus as die Messias verwerp, en waarom was hierdie redes ongegrond?
[Prente op bladsy 12]
Al Jesus se talle wonderwerke het verdere bewys van sy Messiasskap gelewer