Jongmense—Lê ’n goeie fondament vir die toekoms
1. Waarom moet Christenjongmense sterk geloof opbou?
1 Wat is vir jou van die grootste belang? Waaraan dink jy gewoonlik? Is jy hoofsaaklik begaan oor die huidige, of stel jy belang in die toekoms en wat God belowe het? (Matt. 6:24, 31-33; Luk. 8:14). Sterk geloof is nodig om in ooreenstemming met God se beloftes op te tree, soos die voorbeelde van Abraham en Moses toon (Heb. 11:8-10, 24-26). Hoe kan jy sulke geloof opbou en “’n goeie fondament vir die toekoms” lê?—1 Tim. 6:19.
2. Wat leer ons uit die voorbeeld van koning Josia?
2 Soek Jehovah: As jy saam met jou gesin ’n program van geestelike bedrywighede volg, is dit prysenswaardig. Maar moenie net aanvaar dat so ’n program outomaties sterk geloof in jou sal opbou nie. Om “die kennis van God” te vind, moet jy Jehovah persoonlik soek (Spr. 2:3-5; 1 Kron. 28:9). Jong koning Josia het dit gedoen. Hy het in ’n milieu grootgeword wat alles behalwe geestelik was, maar toe hy 15 jaar oud was, “het hy die God van sy voorvader Dawid begin soek”.—2 Kron. 34:3.
3. Hoe kan jong Christene Jehovah vandag soek?
3 Hoe kan jy Jehovah soek? Deur die dinge wat jy glo, noukeurig te ondersoek en ‘seker te maak’ dat dit werklik die waarheid is (Rom. 12:2). Kan jy byvoorbeeld verduidelik wat die Bybel oor bloed sê of kan jy bewys dat God se Koninkryk in 1914 in die hemel begin regeer het? “Juiste kennis van die waarheid” is uiters noodsaaklik as ’n mens ’n goeie fondament vir die toekoms wil lê.—1 Tim. 2:3, 4.
4. Hoe kan ongedoopte verkondigers hulle vooruitgang duidelik maak?
4 Josia se soeke na God het goeie vrugte afgewerp. Voordat hy 20 geword het, het hy moedig opgetree om die land van valse godsdiens te reinig (2 Kron. 34:3-7). Net so sal jou geestelike vooruitgang in jou dade gesien kan word (1 Tim. 4:15). As jy ’n ongedoopte verkondiger is, kan jy daarna streef om die gehalte van jou bediening te verbeter. Moenie daarmee tevrede wees om net lektuur aan te bied nie. Stel jou dit ten doel om die Bybel te gebruik, met mense te redeneer en terug te gaan na belangstellendes (Rom. 12:7). Dit sal jou help om geestelik te groei.
5. Watter geleenthede het gedoopte Christene om hulle bediening uit te brei?
5 Gee Jehovah jou beste: Wanneer jy jou toewyding aan Jehovah simboliseer deur gedoop te word, word jy ’n geordende bedienaar van God (2 Kor. 3:5, 6). Dit bied jou verskeie geleenthede om Jehovah voltyds te dien. Dit sluit die pionierdiens, Betheldiens, sendingdiens sowel as internasionale konstruksiewerk in. Ander maniere waarop jy jou bediening kan uitbrei, is om ’n ander taal te leer of om te trek na ’n gebied waar hulp nodig is.
6. Hoe kan ons almal ’n goeie fondament vir die toekoms lê?
6 Dit is natuurlik nie vir almal moontlik om hierdie diensvoorregte te aanvaar nie, maar elkeen van ons kan Jehovah ons beste gee (Matt. 22:37). Wat jou omstandighede ook al is, laat jou lewe om Jehovah se diens draai (Ps. 16:5). Sodoende sal jy ’n goeie fondament vir die toekoms lê.