Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be bl. 43-bl. 46
  • Hoe om studentetoesprake vir die skool voor te berei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om studentetoesprake vir die skool voor te berei
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om ’n leestoewysing voor te berei
  • Hoe om ’n onderwerp en agtergrond te gebruik
  • Wanneer jy ’n toespraak moet hou
  • Gebruik van toegewese materiaal
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Hoe om toesprake vir die gemeente voor te berei
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Riglyne vir skoolopsieners
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • ’n Skool wat ons toerus vir wat die heel belangrikste is
    Ons Koninkryksbediening—2002
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be bl. 43-bl. 46

Hoe om studentetoesprake vir die skool voor te berei

MET elke toespraak in die skool kry jy ’n geleentheid om te vorder. Doen jou bes met elke toewysing, en jou vooruitgang sal geleidelik vir jou en vir ander duidelik word (1 Tim. 4:15). Die skool sal jou help om jou vermoëns verder te ontwikkel.

Maak dit jou senuweeagtig om voor die gemeente te praat? Dit is normaal, al is jy al lank ’n student op die skool. Sekere dinge kan jou egter help om minder senuweeagtig te wees. Maak ’n gewoonte daarvan om dikwels by die huis hardop te lees. Lewer dikwels kommentaar by gemeentelike vergaderinge, en as jy ’n verkondiger is, moet jy gereeld velddiens doen. Dit sal jou ondervinding gee om voor ander te praat. Berei ook jou studentetoesprake lank voor die tyd voor, en oefen dit hardop. Onthou dat jy voor ’n vriendelike gehoor gaan praat. En voordat jy enige toespraak hou, moet jy tot Jehovah bid. Hy gee graag heilige gees aan sy knegte wat hom daarvoor vra.—Luk. 11:13; Fil. 4:6, 7.

Wees beskeie in jou verwagtinge. Dit neem tyd om ondervinding op te doen as ’n spreker en ’n bekwame onderrigter te word (Miga 6:8). As jy ’n nuwe student op die skool is, moet jy nie verwag om onmiddellik ’n volmaakte aanbieding te lewer nie. Werk eerder aan een raadgewingspunt op ’n slag. Bestudeer die deel in hierdie boek wat dit bespreek. Doen die voorgestelde oefening daarin, indien moontlik. Dit sal jou ondervinding gee om die raadgewingspunt te kan toepas voordat jy jou toespraak in die gemeente hou. As jy dit doen, sal jy vordering maak.

Hoe om ’n leestoewysing voor te berei

Voorbereiding vir openbare voorlesing behels baie meer as om net die woorde in die toegewese materiaal te kan sê. Probeer die materiaal goed verstaan. Sodra jy jou toewysing ontvang, moet jy die materiaal met hierdie doel in gedagte deurlees. Probeer om die punt in elke sin en die kerngedagte wat in elke paragraaf ontwikkel word, te verstaan sodat jy die gedagtes akkuraat en met die regte gevoel kan oordra. Gaan die korrekte uitspraak van onbekende woorde in ’n woordeboek na, indien moontlik. Raak goed vertroud met die materiaal. Ouers sal dalk hulle jong kinders hiermee moet help.

Moet jy ’n deel van die Bybel of die paragrawe van ’n artikel in Die Wagtoring lees? As oudiokassette van daardie materiaal in jou taal beskikbaar is, kan dit baie nuttig wees om na die voorlesing te luister en op dinge soos uitspraak, frasering, klem en modulasie te let. Probeer hierdie spraakhoedanighede dan in jou eie voorlesing inwerk.

Maak ’n punt daarvan om die les wat die spraakhoedanigheid bespreek waaraan jy moet werk, noukeurig te bestudeer wanneer jy aan jou toewysing begin werk. Hersien dit, indien moontlik, nadat jy die toegewese materiaal etlike kere hardop gelees het. Probeer daardie geskrewe raad so goed as moontlik toepas.

Hierdie opleiding sal jou in die bediening goed te pas kom. Terwyl jy velddiens doen, het jy baie geleenthede om vir ander te lees. Aangesien God se Woord die krag het om mense se lewe te verander, is dit belangrik dat jy dit goed lees (Heb. 4:12). Moenie verwag dat jy alle aspekte van goeie voorlesing ná een of twee toesprake sal bemeester nie. Die apostel Paulus het aan ’n Christen- ouer man met jare se ondervinding geskryf: “[Gaan voort] om jou toe te lê op openbare voorlesing.”—1 Tim. 4:13.

Hoe om ’n onderwerp en agtergrond te gebruik

Hoe moet jy te werk gaan wanneer jy ’n toespraak op die skool moet hou waar jy ’n agtergrond moet gebruik?

Jy moet drie belangrike dinge in ag neem: (1) jou toegewese onderwerp, (2) jou agtergrond en die persoon met wie jy gaan praat en (3) die raadgewingspunt waaraan jy moet werk.

Jy moet materiaal oor jou toegewese onderwerp insamel. Maar voordat jy te ver gaan daarmee, moet jy eers goed nadink oor jou agtergrond sowel as die persoon met wie jy gaan praat, aangesien hierdie faktore ’n invloed sal hê op die soort materiaal wat jy sal dek en die manier waarop jy dit sal aanbied. Watter agtergrond gaan jy gebruik? Gaan jy demonstreer hoe om die goeie nuus bekend te maak aan iemand wat jy ken? Of gaan jy toon wat ’n mens kan doen wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet? Is die persoon ouer of jonger as jy? Wat is moontlik sy gesindheid teenoor die onderwerp wat jy wil bespreek? Hoeveel weet hy waarskynlik reeds oor die onderwerp? Wat hoop jy om deur jou bespreking te bereik? Die antwoorde op hierdie vrae sal jou belangrike riglyne gee om te volg.

Waar sal jy materiaal oor die onderwerp vind wat aan jou toegewys is? Op bladsye 33 tot 38 van hierdie boek is daar ’n bespreking oor “Hoe om navorsing te doen”. Lees dit deur en gebruik dan die navorsingshulpe wat aan jou beskikbaar is. In die meeste gevalle sal jy gou meer materiaal vind as wat jy kan gebruik. Lees genoeg sodat jy kan sien watter moontlikhede daar bestaan. Maar terwyl jy dit doen, hou die agtergrond wat jy vir jou aanbieding gaan gebruik in gedagte sowel as die persoon met wie jy gaan praat. Merk punte wat gebruik kan word.

Voordat jy jou aanbieding begin saamstel en finaal besluit watter inligting jy gaan gebruik, moet jy tyd neem om die bespreking oor die raadgewingspunt waaraan jy moet werk, te lees. Die toepassing van daardie raad is een van die hoofredes waarom jy die toespraak ontvang het.

As jy jou materiaal in die toegewese tyd dek, sal jy die bevrediging hê dat jy jou aanbieding voltooi het, aangesien ’n teken gegee sal word wanneer jou tyd verby is. In ons veldbediening is tyd egter nie altyd ’n faktor nie. Terwyl jy voorberei, moet jy dus in ag neem hoeveel tyd jy het, maar jy moet die klem nog steeds op doeltreffende onderrigting laat val.

’n Woordjie oor agtergronde. Kyk na die agtergronde op bladsy 82, en kies een wat prakties sal wees in jou bediening en jou in staat sal stel om die toegewese materiaal op ’n realistiese manier te gebruik. As jy al ’n geruime tyd op die skool is, moet jy dit as ’n geleentheid beskou om te vorder en bykomende vaardighede in jou bediening te ontwikkel.

Aanvaar die uitdaging as die Teokratiese Bedieningskoolopsiener vir jou ’n agtergrond gee. Die meeste agtergronde hou verband met die getuieniswerk. As jy nog nooit onder die betrokke omstandighede getuig het nie, kan jy idees by verkondigers kry wat dit al gedoen het. Indien moontlik, probeer om jou toegewese onderwerp in ’n situasie te bespreek wat soortgelyk is aan die een wat jy in die skool gaan gebruik. Dit sal jou help om ’n belangrike doel van jou opleiding te bereik.

Wanneer jy ’n toespraak moet hou

As jy ’n man is, sal jy dalk gevra word om ’n kort toespraak voor die gemeente te hou. Wanneer jy hierdie toesprake voorberei, is die basiese punte wat jy in ag moet neem, soortgelyk aan dié wat reeds aangegee is vir studentetoesprake in die vorm van demonstrasies. Die belangrikste verskille is die gehoor en die manier waarop dit aangebied word.

Dit is gewoonlik raadsaam om jou materiaal voor te berei sodat almal in die gehoor daarby baat sal vind. Die meeste van dié wat teenwoordig is, ken reeds basiese Bybelwaarhede. Hulle is dalk goed vertroud met die onderwerp waaroor jy moet praat. Hou in gedagte wat hulle reeds oor jou onderwerp weet. Probeer hulle help om op die een of ander manier baat te vind by jou toespraak. Vra jou af: ‘Hoe kan ek my onderwerp gebruik om my en my gehoor se waardering vir Jehovah as persoon te vergroot? Wat is daar in die materiaal wat ons sal help om te leer wat God se wil is? Hoe kan hierdie materiaal ons help om wyse besluite te neem in ’n wêreld wat deur vleeslike begeertes oorheers word?’ (Ef. 2:3). Bevredigende antwoorde op hierdie vrae verg navorsing. Wanneer jy die Bybel gebruik, moet jy nie bloot tekste lees nie. Redeneer oor die verse wat jy gebruik, en toon hoe ’n mens op grond daarvan gevolgtrekkings kan maak (Hand. 17:2, 3). Moenie te veel materiaal probeer dek nie. Bied jou materiaal op so ’n wyse aan dat dit maklik onthou sal word.

Jy moet ook tydens jou voorbereiding aan jou voordrag werk. Moenie die belangrikheid hiervan onderskat nie. Oefen jou toespraak hardop. Die mate waarin jy jou inspan om te studeer en raad oor die verskillende spraakhoedanighede toe te pas, sal baie tot jou vooruitgang bydra. Hetsy jy ’n nuwe of ervare spreker is, berei goed voor sodat jy met die nodige oortuiging en gevoel kan praat wat by jou materiaal pas. Met elke toespraak wat jy op die skool hou, moet jy in gedagte hou dat die doel daarvan is om jou godgegewe gawe van spraak te gebruik om Jehovah te eer.—Ps. 150:6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel