Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 6/1 bl. 14-19
  • ‘Red jouself en dié wat na jou luister’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Red jouself en dié wat na jou luister’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Let voortdurend op jouself”
  • ‘Let op jou onderrigting’
  • Help die student om Jehovah se vriend te word
  • Werk om jou kinders te red
  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Help ander om te gehoorsaam wat die Bybel leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 6/1 bl. 14-19

‘Red jouself en dié wat na jou luister’

“Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. . . . Deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 TIMOTEUS 4:16.

1, 2. Wat beweeg ware Christene om aan te hou met hulle lewensreddende werk?

’N EGPAAR wat Jehovah se Getuies is, beproef hulle vaardigheid in die taal wat hulle besig is om aan te leer op die lede van ’n afgeleë stam in die heuwels van noordelike Thailand. Dié egpaar het onlangs Lahu begin aanleer sodat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk aan die dorpenaars kan meedeel.

2 “Dit is moeilik om die vreugde en bevrediging te beskryf wat ons smaak terwyl ons onder hierdie interessante mense werk”, verduidelik die man. “Dit voel werklik vir ons of ons betrokke is by die vervulling van Openbaring 14:6, 7 omdat ons die blye tyding bekend maak ‘aan elke nasie en stam en taal’. Daar is ’n paar gebiede waar die goeie nuus nog nie verkondig is nie, en hierdie gebied is beslis een van hulle. Ons het amper meer Bybelstudies as wat ons kan behartig.” Dit is duidelik dat hierdie egpaar hoop om nie net hulleself te red nie, maar ook diegene wat na hulle luister. Is dit nie ook wat ons almal as Christene hoop om te doen nie?

“Let voortdurend op jouself”

3. Wat moet ons eers doen as ons ander wil red?

3 Die apostel Paulus het hierdie raad aan Timoteus gegee: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting”, en dit is op alle Christene van toepassing (1 Timoteus 4:16). As ons ander wil help om gered te word, moet ons inderdaad eers op onsself let. Hoe kan ons dit doen? In die eerste plek moet ons wakker bly wat die tyd betref waarin ons lewe. Jesus het ’n saamgestelde teken gegee sodat sy volgelinge kon weet wanneer “die voleinding van die stelsel van dinge” aangebreek het. Maar Jesus het ook gesê dat ons nie presies sou weet wanneer die einde sou kom nie (Matteus 24:3, 36). Hoe moet ons op hierdie feit reageer?

4. (a) Watter gesindheid moet ons aanneem ten opsigte van die oorblywende tyd in hierdie stelsel? (b) Watter gesindheid moet ons vermy?

4 Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Gebruik ek die tyd wat nog vir hierdie stelsel oor is om myself te red, sowel as dié wat na my luister? Of dink ek: “Aangesien ons nie presies weet wanneer die einde sal kom nie, sal ek my nie daaroor bekommer nie”?’ Hierdie laaste gesindheid is gevaarlik. Dit is heeltemal in stryd met Jesus se aansporing: ‘Betoon julle gereed, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie’ (Matteus 24:44). Dit is beslis nie nou die tyd om ons geesdrif vir Jehovah se diens te verloor of om op die wêreld staat te maak vir sekuriteit of bevrediging nie.—Lukas 21:34-36.

5. Watter voorbeeld het voor-Christelike getuies van Jehovah gestel?

5 Nog ’n manier waarop ons kan toon dat ons op onsself let, is deur getrou te volhard as Christene. God se knegte van die ou tyd het volhard, hetsy hulle onmiddellike verlossing verwag het of nie. Nadat Paulus die voorbeelde van voor-Christelike getuies soos Abel, Henog, Noag, Abraham en Sara aangehaal het, het hy gesê: “Hulle [het] nie die vervulling van die beloftes verkry . . . nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is.” Hulle het nie toegegee aan die begeerte na ’n gemaklike lewe nie, en hulle het ook nie geswig voor die druk van die mense rondom hulle om onsedelik te wees nie, maar hulle het gretig uitgesien na “die vervulling van die beloftes”.—Hebreërs 11:13; 12:1.

6. Hoe het die eerste-eeuse Christene se beskouing van redding hulle lewenswyse beïnvloed?

6 Eerste-eeuse Christene het hulleself ook as “vreemdelinge” in hierdie wêreld beskou (1 Petrus 2:11). Selfs nadat ware Christene gered is toe Jerusalem in 70 G.J. vernietig is, het hulle nie met die predikingswerk opgehou of in ’n wêreldlike lewenswyse verval nie. Hulle het geweet dat diegene wat getrou bly op ’n wonderlike wyse gered sal word. Trouens, selfs nog in 98 G.J. het die apostel Johannes geskryf: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17, 28.

7. Hoe het Jehovah se Getuies in hedendaagse tye volharding getoon?

7 In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies ook in die Christelike werk volhard, al het hulle hewige vervolging verduur. Was hulle volharding tevergeefs? Beslis nie, want Jesus het ons verseker: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word”, hetsy dit die einde van die ou stelsel of die einde van ’n mens se huidige lewe is. In die opstanding sal Jehovah al sy getroue knegte wat gesterf het, onthou en beloon.—Matteus 24:13; Hebreërs 6:10.

8. Hoe kan ons toon dat ons die volharding van Christene van die verlede waardeer?

8 Daarbenewens is ons bly dat getroue Christene in die verlede nie net oor hulle eie redding besorg was nie. Ons, wat danksy hulle harde werk van God se Koninkryk geleer het, is ongetwyfeld dankbaar dat hulle daarin volhard het om Jesus se opdrag uit te voer: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Solank ons nog die geleentheid het, kan ons ons dankbaarheid bewys deur die goeie nuus aan ander te verkondig wat dit nog nie gehoor het nie. Maar om die goeie nuus te verkondig, is net die eerste stap in die dissipelmaakwerk.

‘Let op jou onderrigting’

9. Hoe kan ’n positiewe gesindheid ons help om Bybelstudies te begin?

9 Ons toewysing behels nie net dat ons die goeie nuus verkondig nie, maar ook dat ons mense onderrig. Jesus het ons die opdrag gegee om mense te leer om alles te onderhou wat hy beveel het. In party gebiede lyk dit weliswaar asof daar min mense is wat graag van Jehovah wil leer. Maar ’n negatiewe beskouing van die gebied kan ’n ongunstige uitwerking hê op ons pogings om Bybelstudies te begin. Yvette, ’n pionier in ’n gebied wat sommige as onvrugbaar beskou, het opgemerk dat ander wat die gebied besoek het en wat nie hierdie negatiewe gesindheid gehad het nie, tuisbybelstudies begin het. Nadat sy ’n positiewer beskouing ontwikkel het, het Yvette ook mense gevind wat die Bybel wou bestudeer.

10. Wat is ons basiese rol as Bybelonderrigters?

10 Party Christene huiwer dalk om belangstellendes ’n Bybelstudie aan te bied omdat hulle voel dat hulle nie ’n studie kan hou nie. Ons vermoëns verskil weliswaar, maar ons hoef nie uiters bekwaam te wees om suksesvolle onderrigters van God se Woord te wees nie. Die suiwer boodskap van die Bybel is kragtig, en Jesus het gesê dat skaapgeaardes die stem van die ware Herder sal ken wanneer hulle dit hoor. Ons taak is dus eenvoudig om die boodskap van die Voortreflike Herder, Jesus, so duidelik as moontlik oor te dra.—Johannes 10:4, 14.

11. Hoe kan jy ’n Bybelstudent op ’n doeltreffender manier help?

11 Hoe kan jy Jesus se boodskap op ’n doeltreffender manier oordra? Eerstens moet jy vertroud raak met wat die Bybel sê oor die onderwerp wat bespreek word. Jy moet ’n onderwerp eers self verstaan voordat jy dit vir ander kan leer. Probeer ook om die atmosfeer gedurende die studie waardig maar vriendelik te hou. Studente, insluitende klein kindertjies, leer beter as hulle ontspanne voel en die onderrigter hulle met respek en vriendelikheid behandel.—Spreuke 16:21.

12. Hoe kan jy seker maak dat die student verstaan wat jy hom leer?

12 As ’n onderrigter wil jy nie bloot feite oordra wat die student uit sy kop moet leer nie. Help hom om te verstaan wat hy leer. ’n Student se opvoeding, lewensondervinding en kennis van die Bybel sal ’n uitwerking hê op sy begrip van wat jy sê. Daarom sal jy jou dalk moet afvra: ‘Verstaan hy die betekenis van die tekste wat in die studiemateriaal aangegee word?’ Jy kan hom uitlok met vrae wat nie net met ’n ja of nee beantwoord kan word nie, maar ’n verduideliking vereis (Lukas 9:18-20). Aan die ander kant huiwer party studente om vir ’n onderrigter vrae te vra. Hulle sal dus maar verder gaan sonder om heeltemal te verstaan wat hulle geleer word. Moedig die student aan om vrae te vra en vir jou te sê as hy ’n sekere punt nie mooi verstaan nie.—Markus 4:10; 9:32, 33.

13. Hoe kan jy die student help om ’n onderrigter te word?

13 ’n Belangrike doel van ’n Bybelstudie is om die student te help om ’n onderrigter te word (Galasiërs 6:6). Daarom kan jy, ter hersiening van jou studie, vir hom vra om ’n punt op ’n eenvoudige manier aan jou te verduidelik, soos hy dit sou verduidelik aan iemand wat dit vir die eerste keer hoor. Later, wanneer hy aan die vereistes voldoen om aan die bediening deel te neem, kan jy hom nooi om saam met jou in die veldbediening te werk. Hy sal waarskynlik op sy gemak voel om saam met jou te werk, en die ondervinding sal hom help om vertroue op te bou totdat hy gereed is om op sy eie in die bediening uit te gaan.

Help die student om Jehovah se vriend te word

14. Wat is jou vernaamste doelwit as ’n onderrigter, en wat sal daartoe bydra dat jy sukses behaal?

14 Die vernaamste doelwit van elke Christenonderrigter is om die student te help om ’n vriend van Jehovah te word. Jy sal dit nie net deur jou woorde nie, maar ook deur jou voorbeeld bereik. As ons ons studente deur ons voorbeeld leer, het dit ’n kragtige uitwerking op hulle harte. Woorde wek maar voorbeelde trek, veral wanneer ons sedelike eienskappe in die student wil inboesem en hom met ywer wil besiel. As hy sien dat jou woorde en dade uit ’n goeie verhouding met Jehovah voortspruit, sal dit hom dalk meer motiveer om self so ’n verhouding op te bou.

15. (a) Waarom is dit belangrik dat die student die regte beweegrede ontwikkel om Jehovah te dien? (b) Hoe kan jy die student help om aan te hou om geestelik vooruitgang te maak?

15 Jy wil hê dat die student Jehovah moet dien, nie net omdat hy nie by Armageddon vernietig wil word nie, maar omdat hy hom liefhet. As jy hom help om so ’n goeie beweegrede te ontwikkel, bou jy met vuurvaste materiaal wat die toetse van sy geloof sal deurstaan (1 Korintiërs 3:10-15). ’n Verkeerde beweegrede, soos ’n oordrewe begeerte om soos jy of iemand anders te wees, sal hom nie die krag gee om onchristelike invloede te weerstaan of hom die moed gee om te doen wat reg is nie. Onthou, jy sal nie altyd sy onderrigter wees nie. Terwyl jy die geleentheid het, kan jy hom aanmoedig om al hoe nader aan Jehovah te kom deur God se Woord elke dag te lees en daaroor na te dink. Sodoende sal hy lank ná julle klaar is met die studie nog aanhou om “die patroon van gesonde woorde” uit die Bybel en Bybelpublikasies in te neem.—2 Timoteus 1:13.

16. Hoe kan jy die student leer om uit die hart te bid?

16 Jy kan die student ook help om nader aan Jehovah te kom deur hom te leer om uit die hart te bid. Hoe kan jy dit doen? Miskien kan jy hom Jesus se modelgebed wys, sowel as die talle hartgrondige gebede wat in die Bybel opgeteken staan, soos dié in die psalms (Psalm 17, 86, 143; Matteus 6:9, 10). Ook wanneer jou student na jou gebed aan die begin en einde van die studie luister, sal hy jou gevoelens vir Jehovah kan aanvoel. Daarom moet jou gebede altyd van jou opregtheid en openhartigheid getuig, sowel as van geestelike en emosionele balans.

Werk om jou kinders te red

17. Hoe kan ouers hulle kinders help om op die weg na redding te bly?

17 Ons gesinslede is natuurlik onder dié wat ons graag wil red. Baie van die kinders van Christenouers is opreg en staan “vas in die geloof”. Maar ander het dalk nie die waarheid diep gewortel in hulle harte nie (1 Petrus 5:9; Efesiërs 3:17; Kolossense 2:7). Baie van hierdie jongmense verlaat die Christelike weg wanneer hulle volwassenheid nader of bereik. As jy ’n ouer is, wat kan jy doen om te probeer keer dat dit gebeur? Eerstens kan jy daaraan werk om ’n heilsame gesinsatmosfeer te skep. ’n Goeie gesinslewe lê die grondslag vir die regte beskouing van gesag, waardering vir goeie waardes en gelukkige verhoudings met ander (Hebreërs 12:9). Intieme bande in die gesin kan dus die beginpunt wees van waar ’n kind sy vriendskap met Jehovah kan ontwikkel (Psalm 22:11). Sterk gesinne doen dinge saam as ’n eenheid—al moet ouers tyd opoffer wat hulle andersins vir hulle persoonlike voordeel kon gebruik het. Sodoende kan jy jou kinders deur jou voorbeeld leer hoe om die regte besluite in die lewe te neem. Ouers, wat julle kinders die meeste van julle nodig het, is nie materiële dinge nie, maar julle tyd, energie en liefde—ja, hulle het julle nodig. Gee julle julle kinders hierdie dinge?

18. Watter soort vrae moet ouers hulle kinders help om te beantwoord?

18 Christenouers moet nooit aanneem dat hulle kinders outomaties ook Christene sal word nie. Daniel, ’n ouer man en vader van vyf, sê: “Ouers moet tyd neem om die twyfelgedagtes te verdryf waaraan hulle kinders ongetwyfeld by die skool en op ander plekke blootgestel gaan word. Hulle moet hulle kinders geduldig help om die antwoorde te vind op vrae soos: ‘Lewe ons waarlik in die tyd van die einde? Is daar werklik net een ware godsdiens? Waarom is ’n skoolmaat wat so gaaf lyk nie goeie assosiasie nie? Is dit altyd verkeerd om seks voor die huwelik te hê?’” Ouers, julle kan daarop staatmaak dat Jehovah julle pogings sal seën, want hy stel ook belang in julle kinders se welsyn.

19. Waarom is dit die beste dat ouers self met hulle kinders studeer?

19 Party ouers voel dalk onbevoeg om met hulle kinders te studeer. Maar jy hoef nie so te voel nie, want niemand is in ’n beter posisie om jou kinders te onderrig as jy nie (Efesiërs 6:4). As jy met jou eie kinders studeer, sal jy self kan uitvind wat in hulle hart en verstand is. Kom hulle antwoorde uit die hart of is dit oppervlakkig? Glo hulle werklik wat hulle leer? Is Jehovah vir hulle ’n werklike persoon? Jy kan slegs die antwoorde op hierdie en ander lewensbelangrike vrae vind as jy persoonlik met jou kinders studeer.—2 Timoteus 1:5.

20. Hoe kan ouers die gesinstudie aangenaam en nuttig maak?

20 Hoe kan jy met jou gesinstudieprogram volhou nadat jy dit begin het? Joseph, ’n ouer man en die vader van ’n jong seun en dogter, sê: “Soos met alle Bybelstudies moet die gesinstudie aangenaam wees, iets waarna almal uitsien. Om dit in ons gesin reg te kry, kan ons nie te tydsbewus wees nie. Ons studie is gewoonlik ’n uur, maar al het ons partykeer net tien minute, sal ons nog steeds die studie hou. Iets wat ons studie ’n hoogtepunt in die week maak vir die kinders, is dat ons tonele uit My boek met Bybelverhale opvoer.a Die indruk wat dit laat en die begrip wat hulle as gevolg daarvan het, is baie belangriker as die aantal paragrawe wat ons gedek het.”

21. Wanneer kan ouers hulle kinders leer?

21 Die onderrigting van jou kinders is natuurlik nie beperk tot formele studietye nie (Deuteronomium 6:5-7). Die Getuie in Thailand wat aan die begin gemeld is, sê: “Ek onthou nog goed hoe my pa my saamgeneem het in die predikingswerk en hoe ons op ons fietse na die afgeleë dele van ons gemeente se gebied gery het. Dit was beslis ons ouers se goeie voorbeeld en hulle onderrigting onder alle omstandighede wat ons laat besluit het om die voltydse bediening te betree. En die lesse moes ’n indruk gelaat het. Ek werk nog steeds in die afgeleë dele van die veld!”

22. Wat sal die gevolg wees as jy ‘op jouself en op jou onderrigting let’?

22 Binnekort, op presies die regte tyd, sal Jesus kom om God se oordeel aan hierdie stelsel te voltrek. Daardie groot gebeurtenis sal dan ’n deel van die universele geskiedenis word, maar Jehovah se getroue knegte sal aanhou om hom te dien met ewige redding in die vooruitsig. Wil jy graag onder hulle wees, tesame met jou kinders en Bybelstudente? Onthou dan: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 Timoteus 4:16.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Kan jy verduidelik?

• Wat moet ons gesindheid wees, aangesien ons nie presies weet wanneer God sy oordeel gaan voltrek nie?

• Op watter maniere kan ons ‘op ons onderrigting let’?

• Hoe kan jy ’n student help om Jehovah se vriend te word?

• Waarom is dit belangrik dat ouers tyd neem om hulle kinders te leer?

[Prent op bladsy 15]

’n Mens leer makliker in ’n waardige maar vriendelike atmosfeer

[Prent op bladsy 18]

Dit maak die gesinstudie aangenaam as Bybelverhale opgevoer word, soos die verhaal van Salomo wat die twee prostitute geoordeel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel