Dodelike hongersnood in ’n tyd van oorvloed
“My knegte sal eet, maar julle sal honger bly.”—JESAJA 65:13.
1, 2. (a) Met watter probleem worstel die nasies tevergeefs? (b) Op watter realistiese hoop vestig die Bybel die aandag?
DIE donker wolk van hongersnood hang oor die hele wêreld! Waar ’n hoofartikel in The Boston Globe oor die krisis kommentaar lewer, het dit gesê: “’n Wêreld met feitlik ’n miljard mense wat op die randjie van verhongering lewe, moet maniere vind om die armste nasies te help om ’n bietjie van die oorvloed te geniet wat deur die rykste nasies gemaai word.” Maar selfs sogenaamd tegnies gevorderde lande kan nie daarop aanspraak maak dat hulle glad nie deur voedseltekorte geraak word nie. Ook hulle het in gebreke gebly om vorendag te kom met ’n program wat verseker dat al hulle burgers kos het. Besorgde humaniste worstel met die verergerende probleem. Is daar ’n oplossing?
2 Die voormelde hoofartikel het erken: “Die ontmoedigendste aspek van ondervoeding . . . is dat die wêreld duidelik die vermoë het om almal van kos te voorsien.” Hongersnood en verhongering neem nietemin steeds toe. Waarom is dit die geval? Ons liefdevolle Skepper het oorgenoeg vir al die aarde se krioelende miljarde voorsien. Toe hy die aarde as die mense se tuiste voorberei het, het hy dit in staat gestel om ’n oorvloed voort te bring, meer as genoeg vir almal (Psalm 72:16-19; 104:15, 16, 24). Selfs in hierdie veelbewoë tye word ons verseker dat ons Grootse Voorsiener genoeg voedsel sal voorsien vir diegene wat hulle tot die regte Bron wend. Deur die Een wat hy as die groot Voedseladministrateur gegee het, deel hy ons mee: “Soek eers die koninkryk van God en [God se] geregtigheid, en al hierdie dinge [materiële lewensbenodigdhede] sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33; 1 Johannes 4:14.
’n Dodelike hongersnood
3. Wat is die hongersnood met die grootste betekenis, en hoe is dit voorspel?
3 Dit is die betreurenswaardige geestelike hongersnood wat vandag van die grootste betekenis op aarde is. Dit hou regstreeks verband met die gebrek aan vrede. Die mensdom steier rond en soek wanhopig na ’n uitweg. Die almagtige God het sy profeet baie eeue gelede oor hierdie situasie laat skryf en laat sê: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.”—Amos 8:11, 12.
4, 5. (a) Waarom vind sommige God nie al soek hulle na hom? (b) Watter teenstelling was daar tussen Jesus en die godsdiensleiers van sy dag? (Mattheüs 15:1-14).
4 Is daar egter’n uitweg uit die impasse? Die apostel Paulus antwoord ja, en bemoedig ons met die woorde: “Die God wat die wêreld gemaak het . . . [het] bepaalde tye en die grense van [die mens se] woonplek vasgestel . . . sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.”—Handelinge 17:24-27.
5 As God “nie ver van elkeen van ons” is nie, waarom vind baie wat na hom tas hom dan nie? Dit is omdat hulle op die verkeerde plekke na hom soek. Hoeveel wat hulself Christene noem, raadpleeg persoonlik die leerboek van die Christelike godsdiens, die Heilige Bybel? Hoeveel sogenaamde “herders” gebruik God se Woord om die “skape” te leer? (Vergelyk Esegiël 34:10.) Jesus het vir die trotse godsdiensleiers van sy dag gesê dat hulle “die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mattheüs 22:29; Johannes 5:44). Jesus het egter die Skrifte geken en dit aan die mense geleer, mense wat hy jammer gekry het “omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie”.—Mattheüs 9:36.
In watter sin ’n tyd van oorvloed?
6. Hoe stel Jehovah sy knegte gerus oor geestelike oorvloed?
6 Jehovah stel diegene wat opreg daarna streef om hom te ken gerus en bemoedig hulle. Waar hy valse godsdiensherders teregwys, sê hy deur sy profeet Jesaja: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan” (Jesaja 65:13, 14). Maar hoe voorsien God ’n oorvloed vir sy knegte? Wat moet ons doen om blymoedig te deel in hierdie voorsiening vir die behoud van lewe ondanks die hedendaagse geestelike hongersnood?
7. Watter eertydse drama is liefdevol vir ons bemoediging vandag voorsien?
7 Omdat voortbestaan geheel en al daarvan afhang of ons God se vereistes ken en in geloof daarvolgens optree, moet ons met graagte na God se Woord gaan om te leer wat sy wil vir ons is en om te onderskei hoe hy met ons handel (Johannes 17:3). Te dien einde gaan ons nou ’n Bybelse drama bespreek wat ooreenkom met wat vandag gebeur. Die hoofkarakter in hierdie drama is die aartsvader Josef. Net soos Jehovah wyslik deur Josef vir Sy volk voorsiening gemaak het, lei hy diegene wat vandag na Hom soek liefdevol.—Vergelyk Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11 se voetnoot in die NW-naslaanbybel (*); Galasiërs 4:24.
Josef, die behouer van die lewe
8, 9. (a) Watter parallelle vind ons in latere tye vir Josef en vir Jakob en Farao? (b) Hoe kan die vervulling ons raak?
8 As ’n behouer van die lewe het Josef, die seun van Jakob, ’n treffende rol vervul. Beeld dit iets in latere tye af? Wel, dink aan hoe Josef onverdiende behandeling deur sy broers verduur het, hoe hy toetse en beproewinge in ’n vreemde land die hoof gebied het, sy onwrikbare geloof, hoe hy onkreukbaarheid gehandhaaf het en hoe hy verhoog is tot die amp van ’n wyse administrateur ten tyde van rampspoedige hongersnood (Genesis 39:1-3, 7-9; 41:38-41). Sien ons nie ’n ooreenkoms met Jesus se lewensweg nie?
9 Dit was deur swaarkry dat Jesus die Brood van die Lewe geword het te midde van ’n wêreld wat honger “om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11; Hebreërs 5:8, 9; Johannes 6:35). In hulle verhoudinge met Josef herinner Jakob sowel as Farao ons aan Jehovah en wat hy deur sy Seun tot stand bring (Johannes 3:17, 34; 20:17; Romeine 8:15, 16; Lukas 4:18). Daar was ook ander wat ’n rol gespeel het in hierdie drama in die werklike lewe, en ons gaan hulle rolle met belangstelling bespreek. Ons sal ongetwyfeld herinner word aan ons afhanklikheid van die Grotere Josef, Christus Jesus. Hoe dankbaar is ons tog dat hy ons gedurende hierdie verslegtende “laaste dae” van dodelike hongersnood bewaar!—2 Timotheüs 3:1, 13.
Die drama ontplooi
10. (a) Hoe is Josef voorberei vir die verantwoordelike rol wat hy moes speel? (b) Watter eienskappe het hy vroeg in die lewe aan die dag gelê?
10 In Josef se dag kon geen mens vooruit geweet het wat Jehovah vir Sy volk voorgehad het nie. Maar toe Josef geroep is om sy lewensbelangrike rol te vervul, het Jehovah hom reeds opgelei en hom vervolmaak wat sy kwalifikasies betref. In verband met sy vroeë lewe lui die verhaal: “Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring” (Genesis 37:2). Hy was lojaal teenoor sy vader se belange net soos Jesus sy Vader se kudde met onwrikbare lojaliteit opgepas het te midde van ’n “ongelowige en verdraaide geslag”.—Mattheüs 17:17, 22, 23.
11. (a) Waarom het Josef se halfbroers hom gehaat? (b) In watter soortgelyke situasie was Jesus?
11 Josef se vader, Israel, het hom liefgekry meer as al sy broers en het hom voorgetrek deur ’n lang, gestreepte, hempagtige kleed vir hom te laat maak. As gevolg hiervan het Josef se halfbroers “hom gehaat en kon [hulle] nie vriendelik met hom praat nie”. Hulle het nog rede gekry om hom te haat toe hy twee drome gehad het wat hulle vertolk het as iets wat beteken dat hy oor hulle sou heers. Die leiers onder die Jode het Jesus eweneens gehaat vanweë sy lojaliteit, sy oorredende onderrigting en Jehovah se duidelike seën op hom.—Genesis 37:3-11; Johannes 7:46; 8:40.
12. (a) Waarom was Jakob besorg oor die welsyn van sy seuns? (b) Watter ooreenkoms vind ons tussen Josef se optrede en dié van Jesus?
12 Mettertyd het Josef se broers skape naby Sigem opgepas. Josef se vader was tereg besorg omdat dit daar was dat Sigem Dina onteer het, met die gevolg dat Simeon en Levi, asook hulle broers, die manne van daardie stad om die lewe gebring het. Jakob het Josef versoek om na hulle welstand te gaan verneem en vir hom berig terug te bring. Ondanks sy broers se vyandigheid teenoor hom het Josef dadelik vertrek om hulle te gaan vind. Net so het Jesus Jehovah se toewysing hier op aarde met graagte aanvaar, al sou dit baie lyding beteken gedurende sy vervolmaking as die Bewerker van saligheid. Watter goeie voorbeeld het Jesus tog vir ons almal geword in die wyse waarop hy volhard het!—Genesis 34:25-27; 37:12-17; Hebreërs 2:10; 12:1, 2.
13. (a) Hoe het Josef se halfbroers uiting gegee aan hulle haat? (b) Waarmee kan Jakob se droefheid vergelyk word?
13 Josef se tien halfbroers het hom van ver af sien kom. Hulle toorn het dadelik teen hom ontvlam, en hulle het planne beraam om van hom ontslae te raak. Aanvanklik het hulle beplan om hom dood te maak. Maar uit vrees vir sy verantwoordelikheid as eersgeborene het Ruben hulle oorreed om Josef in ’n droë put te gooi omdat dit sy plan was om later terug te gaan en hom te bevry. Maar Juda het intussen sy broers oorreed om hom as ’n slaaf te verkoop aan ’n groep Ismaeliete wie se karavaan daar verbygekom het. Die broers het toe Josef se lang kleed gevat, dit in die bloed van ’n bokram gesteek en dit na hulle vader gestuur. Toe Jakob dit ondersoek, het hy uitgeroep: “Die rok van my seun! ’n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!” Jehovah het seker soortgelyke smart ervaar weens Jesus se lyding terwyl hy sy toewysing op aarde vervul het.—Genesis 37:18-35; 1 Johannes 4:9, 10.
Josef in Egipte
14. Hoe kan hierdie eertydse drama ons vandag tot voordeel strek?
14 Ons moet nie die gevolgtrekking maak dat die vervullings van die dramatiese gebeure waarby Josef betrokke was presies in chronologiese orde plaasvind nie. Ons vind daar eerder ’n reeks patrone wat ons vandag lêer en bemoedig. Dit is soos die apostel Paulus sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.”—Romeine 15:4-6.
15. Waarom was Josef en die huis van Potifar voorspoedig?
15 Josef is na Egipte geneem, en daar is hy aan ’n Egiptenaar met die naam Potifar, die owerste van Farao se lyfwag, verkoop. Jehovah was met Josef, wat voortgegaan het om volgens die goeie beginsels te lewe wat sy vader by hom ingeskerp het, selfs al was hy ver van sy vader se huis af. Josef het nie Jehovah se aanbidding versaak nie. Sy heer, Potifar, het Josef se voortreflike hoedanighede waardeer en hom oor sy hele huis aangestel. Jehovah het die huis van Potifar bly seën ter wille van Josef.—Genesis 37:36; 39:1-6.
16, 17. (a) Hoe is Josef aan ’n verdere toets van onkreukbaarheid onderwerp? (b) Wie het sake bestier, soos blyk uit Josef se ondervinding in die gevangenis?
16 Dit was daar dat Potifar se vrou Josef probeer verlei het. Hy het bly weier. Eendag het sy hom aan sy kleed gegryp, maar hy het gevlug en dit in haar hand laat agterbly. By Potifar het sy Josef daarvan beskuldig dat hy by haar probeer aanlê het, en Potifar het Josef in die tronk laat gooi. Hy was ’n ruk lank in ysterboeie. Maar dwarsdeur die swaarkry van sy tronkervaring het Josef bewys dat hy ’n beginselvaste man was. Die owerste van die gevangenis het hom gevolglik oor al die gevangenes aangestel.—Genesis 39:7-23; Psalm 105:17, 18.
17 Mettertyd het Farao se voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers hom mishaag en is hulle opgesluit. Josef is aangestel om hulle te bedien. Jehovah het sake weer eens bestier. Die twee hofamptenare het drome gehad wat hulle verbyster het. Nadat Josef beklemtoon het dat ‘uitlegging ’n saak van God is’, het hy vir hulle vertel wat die drome beteken het. En net soos Josef gesê het, is die skinker drie dae later (op Farao se verjaarsdag) in sy amp herstel, maar die voorman van die bakkers is opgehang.—Genesis 40:1-22.
18. (a) Hoe is dit dat Josef onthou is? (b) Wat was die inhoud van Farao se drome?
18 Hoewel Josef die skinker gesmeek het om om sy ontwil met Farao te praat, het twee jaar verstryk voordat die man Josef onthou het. Selfs toe was dit slegs omdat Farao twee keer op een nag verbysterende drome gehad het. Toe nie een van die koning se towerpriesters die betekenis daarvan kon uitpluis nie, het die skinker vir Farao gesê dat Josef drome kon uitlê. Farao het Josef gevolglik ontbied, en dié het nederig die aandag op die Bron van ware uitleggings gevestig deur te sê: “God sal Farao ’n gunstige antwoord gee.” Egipte se heerser het toe die drome aan Josef vertel. Hy het gesê:
“Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: dié het in hulle maag ingegaan, maar ’n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. . . .
“Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind, En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.”—Genesis 40:23–41:24.
19. (a) Hoe het Josef nederigheid geopenbaar? (b) Watter boodskap is deur die uitlegging van die drome oorgedra?
19 Watter eienaardige drome tog! Hoe kon enigiemand hulle uitlê? Josef het, maar nie vir selfverheerliking nie. Hy het gesê: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.” Toe het Josef die kragtige profetiese boodskap van daardie drome onthul deur te sê:
“Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. . . . En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.”—Genesis 41:25-32.
20, 21. (a) Hoe het Farao op die waarskuwing gereageer? (b) Watter ooreenkoms het daar op hierdie stadium tussen Josef en Jesus bestaan?
20 Wat kon Farao omtrent hierdie dreigende hongersnood doen? Josef het aanbeveel dat Farao voorbereidings tref deur ’n verstandige en wyse man oor die land aan te stel om die oortollige opbrengs van die goeie jare te berg. Farao het teen hierdie tyd Josef se voortreflike hoedanighede herken. Hy het sy seëlring van sy eie hand afgetrek en dit aan die hand van Josef gesit en hom sodoende oor die hele Egipteland aangestel.—Genesis 41:33-46.
21 Josef was 30 jaar oud toe hy voor Farao gestaan het, dieselfde ouderdom as Jesus Christus toe hy gedoop is en met sy lewegewende bediening begin het. Die volgende artikel sal toon hoe Josef deur Jehovah gebruik is om Jehovah se “Leidsman en Verlosser” in ’n tyd van geestelike hongersnood af te skadu, met spesiale verwysing na ons dag.—Handelinge 3:15; 5:31.
Wat is jou antwoord?
◻ Op watter tweevoudige manier is hongersnood vandag ’n bedreiging?
◻ Watter goeie eienskappe het Josef gekweek terwyl hy saam met sy halfbroers was?
◻ Wat kan ons uit Josef se vroeë ondervindinge in Egipte leer?
◻ Waarvan verseker Jehovah se besorgdheid oor Josef en die hongergeteisterde volk ons?
[Venster op bladsy 13]
’n Rubriekskrywer in The Sunday Star (Toronto, 30 Maart 1986) het van die sogenaamd gevestigde kerke gesê: “Die gebied waarop hulle ernstig faal, is om voeling te kry met die diepe geestelike honger van vandag se manne, vroue en jongmense”