-
DromeRedenering uit die Skrif
-
-
2 Tim. 3:16, 17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering . . . sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
1 Tim 4:1: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels [wat soms in drome oorgedra word] sal aanhang.”
-
-
DwelmsRedenering uit die Skrif
-
-
Dwelms
Definisie: Dwelms is nie-voedsel-, luimwysigende stowwe wat nie medies nodig geag word nie, maar wat gebruik word om lewensprobleme te ontvlug, om ’n dromerige gevoel of ’n gevoel van welsyn of verrukking te ervaar.
Verbied die Bybel regstreeks die gebruik van dwelms vir genot?
Dit meld nie stowwe soos heroïen, kokaïen, LSD, PCP (angel dust), dagga en tabak by name nie. Maar dit voorsien die nodige riglyne sodat ons kan weet wat om te doen en wat om te vermy om God te behaag. Die Bybel sê eweneens nie dat dit verkeerd is om ’n vuurwapen te gebruik om iemand dood te maak nie, maar dit verbied wel moord.
Luk. 10:25-27: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? . . . Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” (Het iemand God werklik uit sy hele siel en uit sy hele verstand lief as hy gedurig dinge doen wat sy lewe onnodig verkort en sy verstand verdoof? Toon hy naasteliefde as hy ander besteel om sy dwelmgewoonte te finansier?)
2 Kor. 7:1: “Terwyl ons dan hierdie beloftes [om Jehovah as ons God en ons Vader te hê] het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (Maar kan ons verwag om God se goedkeuring te geniet as ons opsetlik dinge doen wat ons liggame besoedel?)
Tit. 2:11, 12: “Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë [“met selfbeheersing”, NAV] en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.” (Strook die gebruik van dwelms wat ’n mens se oordeel aantas of ’n persoon sy selfbeheersing laat verloor met daardie raad?)
Gal. 5:19-21: “Die werke van die vlees is openbaar, naamlik . . . towery [“beoefening van spiritisme”, NW] . . . brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê . . . dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Die letterlike betekenis van die Griekse woord farmakiʹa, hier weergegee met “towery”, is “die gebruik van dwelms”. Waar An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, oor hierdie Griekse woord kommentaar lewer, sê dit: “In towery het die gebruik van dwelms, hetsy flou of sterk, gewoonlik gepaard gegaan met besweringe en beroepe op okkulte magte, met die voorsiening van verskeie gelukbringers, toormiddels, ens., kwansuis om die raadpleger of pasiënt teen die aandag en mag van demone te beskerm, maar in werklikheid om die raadpleger te beïndruk met die geheimsinnige vindingrykheid en magte van die towenaar” [Londen, 1940, Dl. IV, bl. 51, 52]. Baie wat vandag dwelms gebruik, is eweneens betrokke by spiritistiese gebruike of gaan om met diegene wat daarby betrokke is, daar ’n leë verstand of een wat hallusinasies ervaar maklik ten prooi val aan die demone. Vergelyk Lukas 11:24-26.)
Tit. 3:1: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte.” (Op baie plekke is die besit of gebruik van sekere dwelms ’n oortreding van die wet.)
Sommige dwelms laat ’n mens goed voel. Is hulle dan werklik so skadelik?
2 Tim. 3:1-5: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God [wees] . . . Keer jou ook van hierdie mense af.” (Die Bybel waarsku ons duidelik om nie genot dermate te begeer dat ons dit belangriker as die toepassing van die regverdige beginsels in God se Woord en sy goedkeuring ag nie.)
Sommige OPIATE verlig pyn en kan ’n gevoel van vergenoegdheid verskaf, maar hulle is ook gewoontevormend en ’n te groot dosis kan dodelik wees. Wanneer sommige OPLOSMIDDELS ingeasem word, kan dit ’n gevoel van opgewondenheid verskaf, maar dit kan ook onduidelike spraak, swak gesig, die verlies van spierbeheer benewens onherstelbare skade aan die brein, lewer en niere veroorsaak. HALLUSINOGENIESE MIDDELS laat ’n mens “bedwelmd” voel en raak oënskynlik ontslae van moegheid, maar hulle kan ook die waarneming van afstande en logiese denke belemmer, permanente persoonlikheidsveranderinge veroorsaak en neigings tot selfmoord of moord wek.
Is dagga onskadelik? Sommige dokters sê so
David Powelson, M.D., voormalige hoof van die sielkunde-afdeling, Cowell-hospitaal, Universiteit van Kalifornië, Berkeley, was eens ’n voorstander van die wettiging van die gebruik van dagga. Later, toe daar meer getuienis beskikbaar was, het hy geskryf: “Ek meen nou dat dagga die gevaarlikste dwelm is waarmee ons te kampe het. 1. Die vroeë gebruik daarvan is bedrieglik. Die gebruiker kry die indruk dat hy lekker voel; hy kan nie die afstomping van sy verstandelike en fisiologiese prosesse waarneem nie. 2. Die volgehoue gebruik daarvan lei tot bedrieglike denke. Na een tot drie jaar van volgehoue gebruik begin die patologiese denkwyses om die dinkprosesse oor te neem.”—Executive Health Report, Oktober 1977, bl. 8.
Dr. Robert L. DuPont, voormalige hoof van die Nasionale Instituut oor Dwelmmisbruik in die Verenigde State, wat in die verlede aangehaal is waar hy die gevaar van dagga kleineer, het onlangs gesê: “Die werklike geskil is die gesondheidsgevaar wat hierdie epidemie [van daggagebruik deur jongmense] inhou, ’n gevaar wat minstens tweërlei van aard is. Een is die uitwerking van die bedwelming, wat wissel van die gevaarlike uitwerking op bestuursvermoë tot groter sorgloosheid. Die ander gebied is suiwer fisies. Hier wissel dit van die gereelde voorkoms van chroniese brongitis onder daggarokers tot die groot moontlikhede van skadelike hormoonuitwerkings, uitwerkings op immuniteit en moontlik selfs kanker.”—Montreal se Gazette, 22 Maart 1979, bl. 9.
Science Digest het die volgende besonderhede verstrek: “Gereelde daggarokery kan op die lange duur die gapings tussen die senu-eindpunte in die brein wat nodig is vir lewensbelangrike funksies soos geheue, emosie en gedrag, vergroot. As senuwees hulle funksies moet verrig, moet hulle onderling kommunikeer.” Waar dit dan kommentaar lewer oor die resultate van toetse met diere sê die artikel voorts: “Die opvallendste uitwerkings het voorgekom in die tussenskotgebied, wat met die emosies geassosieer word; die seeperd, wat ’n rol speel by geheuevorming; en die mangels, wat verantwoordelik is vir sekere gedragsfunksies.”—Maart 1981, bl. 104.
Is die gebruik van dagga enigsins erger as die drink van sterk drank?
Alkohol is ’n voedsel en word deur die liggaam verwerk om energie te verskaf; die liggaam raak van die eindprodukte ontslae. ’n Psigofarmakoloog het egter gesê: “Dagga is ’n baie sterk dwelm, en die grootste fout wat ons kan maak, is om dit met alkohol te vergelyk.” “Molekule vir molekule is THC [in dagga] se vermoë om ’n ligte bedwelming te veroorsaak 10 000 keer sterker as dié van alkohol. . . . THC word baie stadig uit die liggaam verwyder, en dit duur baie maande om van die gevolge daarvan te herstel” (Executive Health Report, Oktober 1977, bl. 3). Die Skepper weet hoe ons gemaak is, en sy Woord laat die matige gebruik van sterk drank toe (Ps. 104:15; 1 Tim. 5:23). Maar hy veroordeel ook die onmatige gebruik van alkohol ten sterkste, net soos hy vraatsug veroordeel.—Spr. 23:20, 21; 1 Kor. 6:9, 10.
Waarom beskou Jehovah se Getuies die rook van tabak as so ’n ernstige oortreding?
Dit toon nie eerbied vir die gawe van lewe nie
Hand. 17:24, 25: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, . . . [gee] aan almal lewe en asem en alles.”
“Die getuienis dat sigarette die lewe verkort, is oorweldigend; die oorsaaklike verband is so deeglik bevestig soos enige ander in die geneeskunde.”—Science 80, September/Oktober, bl. 42.
Verslae toon dat die jaarlikse sterfte as gevolg van rook in die Verenigde State op 300 000 bereken is; in Brittanje, op 50 000; in Kanada, op 50 000. “Meer as eenmiljoen mense sterf jaarliks aan rookverwante kwale, en die Derde Wêreld, wat 52% van die wêreld se tabak verbruik, maak ’n vinnig
-