-
Sal jy daar wees?Koninkryksbediening — 2002 | Oktober
-
-
Sal jy daar wees?
1 Iemand wat al lank ’n Getuie is, het eenkeer gesê: “As jy die eerste dag van die streekbyeenkoms nie bygewoon het nie, dan het jy net te veel misgeloop!” Waarom het hy so gevoel? Omdat die eerste dag die begin van ’n ryk geestelike feesmaal is wat Jehovah se organisasie vir ons berei het (Jes. 25:6). As ons van die begin af daar is, toon dit dat ons soos die psalmis voel wat gesê het: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Laat ons na die huis van Jehovah gaan.’”—Ps. 122:1.
2 Maar by party “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkomste wat verlede jaar gehou is, het heelwat minder Vrydag die byeenkoms bygewoon as Saterdag en Sondag. Dit beteken dat ’n groot persentasie van ons broers nie programdele gehoor het waarin lewensbelangrike inligting oor die profetiese woord bespreek is nie. Hulle het ook nie die geleentheid gehad om aangename omgang met medegelowiges te geniet nie.
3 Moenie toelaat dat sekulêre werk daarop inbreuk maak nie: Party was moontlik bekommerd dat hulle hulle werk sou verloor, en daarom was hulle nie Vrydag daar nie. Maar baie Getuies het al gevind dat hulle werkgewers bereid is om hulle in hierdie saak tegemoet te kom as hulle lank voor die tyd verlof vra. Een werkgewer was so beïndruk deur ’n pioniersuster se vasbeslotenheid om al die gemeentelike vergaderinge en byeenkomste by te woon dat hy ’n hele dag by die byeenkoms was!
4 Jy moenie sommer net aanneem dat jou werkgewer jou nie verlof sal gee nie, en jy moet ook nie tot die gevolgtrekking kom dat dit nie sal saak maak as jy ’n dag van die byeenkoms misloop nie. Berei met hartgrondige oortuiging voor om taktvol vir jou werkgewer uit die Skrif te wys waarom dit ’n belangrike deel van jou aanbidding is om die byeenkoms by te woon (Heb. 10:24, 25). Stel dan jou volle vertroue in Jehovah se beloftes, met die wete dat daar in al jou materiële behoeftes voorsien sal word as jy geestelike belange eerste in jou lewe stel.—Matt. 6:33; Heb. 13:5, 6.
5 Die hoofsaak is waardering vir “die belangriker dinge” (Fil. 1:10, 11; Ps. 27:4). Dit beweeg ons om reëlings te tref om ten volle baat te vind by hierdie lewensbelangrike voorsiening van Jehovah. Begin nou reeds definitiewe reëlings tref en wees vasbeslote dat jy al drie dae daar sal wees!
-
-
Waarom ons die hele gemeenskap van ons broers liefhetKoninkryksbediening — 2002 | Oktober
-
-
Waarom ons die hele gemeenskap van ons broers liefhet
Hoe kan ons in vandag se liefdelose wêreld ons liefde vir ons geestelike broers sterk hou? (1 Pet. 2:17). Hoe kan ons vir ander wys dat ons ware, wêreldwye broederskap werklik bestaan? (Matt. 23:8). Deur middel van die video Our Whole Association of Brothers. Dit toon waarom ons mekaar liefhet. Kyk of jy hierdie vrae kan beantwoord:
(1) Watter drie bedrywighede het ons met ons wêreldwye broederskap in gemeen? (2) Hoe toon ons broers hulle vasbeslotenheid om die predikingswerk te doen (a) in die Alaska-wildernis, (b) in die ontsaglike hawens van Europa en (c) in die digte woude van Peru? (3) Watter hulpmiddel is veral doeltreffend in die getuieniswerk? (4) Waarom moet ons nooit voel dat die predikingswerk net ’n gewone werk is nie? (5) Gee voorbeelde van hoe Jehovah se Getuies mekaar in tye van nood—aardbewings, orkane en burgeroorloë—vertroos en ondersteun het. (Sien die kommentare van Takao op bladsy 23 in die Ontwaak! van 22 Augustus 1995 en van Kotojo op bladsy 20 in die Ontwaak! van 22 Oktober 1996.) (6) Op watter praktiese maniere kan ons almal die hoofkenmerk van ons Christenbroederskap aan die dag lê? (Joh. 13:35). (7) In watter mate moet ons ons gemeentelike vergaderinge waardeer? (8) Hoe word diegene wat nie voorheen ’n Koninkryksaal gehad het nie, geraak deur die feit dat hulle nou wel ’n saal het om in te vergader? (9) Hoe het ons broers in Oos-Europa en Rusland geestelik staande gebly terwyl daar ’n verbod op ons werk was? (10) Watter merkwaardige poging wend baie Getuies selfs nou aan om byeenkomste by te woon, en waarom? Hoe het dit jou hart geraak? (11) Waarom is jy vasbeslote om in eenheid saam te aanbid, om ander in tye van nood te help en om die predikingswerk getrou te doen wanneer en hoe jy ook al kan? (12) Waarom sal dit goed wees om self hierdie video te hê en dit vir soveel belangstellendes moontlik te wys?
-